Dagstuk | Dinsdag 10 Oktober 2023

Hierdie week stap ons ’n pad met die gedagte van ’n pelgrimstog. Die afgelope week het ’n groep mense van Stellenberg-gemeente en Klipheuwel saam op ’n staptog in die Outeniqua berge gegaan. Hierdie staptog is ingerig as ’n pelgrimstog, waar ons doelbewus op reis gaan om nader aan mekaar en nader aan God te kom. Elke dag in hierdie week staan ons stil by ’n ander teksvers rondom “op pad” wees.

Genesis 12:1. Die Here het vir Abram gesê: “Gaan weg uit jou land, weg van jou familie en jou ouerhuis, na die land wat Ek jou sal wys.

Refleksie

Ek wonder hoe ek sou reageer as ek in Abram se plakkies gestaan het. Ek kan my indink dat dit nie ’n maklike besluit sou wees, om sy land en sy mense te verlaat en in die onbekende wêreld in te gaan nie.

Dink vir ’n oomblik hoe Abram sou voel? Dink vir ’n oomblik wat jy sou doen as jy in sy plakkies gestaan het.

In die storie van Abram leer ken ons vir God as ’n God wat ons in die onbekende in roep. Vincent van Gogh het gesê: “Normality is a paved road: It’s comfortable to walk, but no flowers grow on it.”

Vir ons om te groei, moet ons bereid wees om in die onbekende in te gaan. Dit is ook waar vir ons geloofsgroei. ’n Pelgrimstog is in ’n klomp maniere altyd ’n reis in die onbekende in. En dit is dikwels juis in die onbekende, waar ons vir God ontmoet, of God ons ontmoet.

Die onbekende is dikwels ook nader aan ons as wat ons dink. Dit kan wees dat die onbekende so naby aan jou is soos jou bure, wat jy eintlik nie so goed ken nie. Ons is dikwels selfs onbekend aan onsself.

Die Here roep ons uit ons gemaksone uit, want Hy weet, dit is waar ons groei. Mag jou reis jou vandag in die onbekende invat en mag jy in die onbekende, die Here ontmoet.

Gebed

Here, soms roep U ons weg van alles wat vir ons bekend is. Ons raak so maklik vasgevang in die normale roetine van ons lewens. Help ons om dapper genoeg te wees om die tree in die onbekende in te gee, sodat ons U in die vreemdeling en die vreemde kan ontmoet.

Amen.