Covid-19 en ’n mens se geloof

Deur: Ds. Breytenbach

Die uitdagings van die Covid-19-pandemie het ons almal se lewens op die een of ander wyse diep geraak. Sommiges het geliefdes aan die dood afgestaan, ander se werkomstandighede het ingrypend verander en baie van ons leef saam met ’n groeiende onsekerheid oor wat die toekoms vir ons inhou. Hoe het die pandemie en die omstandighede daaromheen jou geloof geraak?

Wanneer die Bybel oor geloof praat, word dit nie as iets staties, wat ’n mens iewers op een slag vind, uitgebeeld nie. Toe professor Willie Jonker in 1993 oor die Gereformeerde belydenisskrifte geskryf het, het hy juis dié gedagte in die titel van sy boek verwoord: “Bevrydende waarheid”. Geloof is dus iets wat – soos die lewe sy loop met ’n mens neem en God jou in daardie gebeure ontmoet – voortdurend bely en nuut verwoord moet word.  Al gebruik ons oor eeue heen dieselfde woorde in ons geloofsbelydenisse, bied dit voortdurend nuwe inhoud en gestalte. Dikwels, wanneer die Here Hom (in die Bybelse konteks) met mense bemoei het, was die ontmoeting onverwags en is die mense juis in rigtings, wat hulle nie andersins sou kies nie, gedwing.

Hoe het die Here jou pad gekruis tydens die vreemde omstandighede van die Covid-19-pandemie?  Wat binne-in jou het gedurende dié tyd verander? Voel jy nog deel van ’n groep mense wat glo en hulle geloof bely?

Covid-19 het beslis vir veranderinge in ons gemeente gesorg. Daar was vir enkele maande op Sondae nie ’n enkele mens in die kerk nie en die groepie wat wel na die verslapping van regulasies die dienste mag bywoon, is baie klein.  Maar wanneer ons die getal mense wat ons aanlyn dienste volg, bytel, asook diegene wat na die daaglikse stemboodskappe  luister, is ons meer as voorheen.  Mense het beslis nie in die krisistyd opgehou om te glo nie.  Inteendeel, soos wat ons in hierdie tyd verander is, of aangeraak is,  het ons die Here opnuut herontdek. Dit het nuwe ervarings en bewuswordings in ons wakker gemaak. ’n Mens kom diep onder die indruk hiervan wanneer daar met lidmate in ons gemeente in gesprek getree word.   Ons is opreg jammer vir die verliese wat mense in ons gemeenskap in hierdie tyd as gevolg van die pandemie gely het.

Die kerkraad is terdeë daarvan bewus dat ons gemeente verander het, maar ons is nie angstig oor Stellenberg-gemeente se voortbestaan nie.  Inteendeel, ons staan voor ’n wonderlike geleentheid om nou op ’n eenvoudige, maar relevante wyse die pad saam met gelowiges te stap.  Ons glo dat vanuit die vrug daarvan ’n nuwe toekoms sal realiseer. Deel saam in ons gemeente se visie en missie en help so bou aan ’n nuwe hede en toekoms in ons gemeenskap en land.

ONS GLO: Jesus, ons Verlosser, leef

  • In die een God: Vader, Seun en Heilige Gees.
  • In Christus, wat deur die geloof en uit genade ons Verlosser is.
  • In die Bybel: die Woord van God in mensetaal.
  • In die algemene kerk van Christus waarvan ons deel is en spesifiek deel van kerke wie se geloof verwoord word in die Drie Formuliere van Eenheid en in die Belydenis van Belhar.

ONS STREEF: Om met die liefde van Christus inklusief oor alle grense heen uit te reik  

  • Na mekaar in ons geloofsgemeenskap.
  • Na mense in ons werkplek, buurt en breër gemeenskap.
  • Na mense in ons land en die res van die wêreld.
  • Na Moeder Aarde en alle vorme van lewe.

ONS LEEF: As getuies en volgelinge van Christus

  • Nader aan God.
  • Nader aan mekaar.
  • Om ’n verskil in die wêreld te maak.
  • Om voortdurend te vernuwe.

Op berge en in dale en oral is my God; waar ons ook telkemale mag swerwe, daar is God! Waar ons gedagtes swewe of styg, ook daar is God;omlaag en hoog verhewe, ja oral is my God!  Liedboek 509