Deur: Ds. René Potgieter
Ons almal beleef iewers gedurende ons lewe ’n vorm van verlies wat op verskillende wyses vir elkeen verloop. Net die aanbreek van die inperkingstyd tydens die aanvang van die Covid-19-pandemie, het al veroorsaak dat baie mense ’n onmiddellike gevoel van verlies ervaar het en die woord “verlies” het sinoniem met die Covid-19-inperkingstyd geraak.
Talle het geliefdes aan die dood afgestaan, of self die virus onder lede gehad. Die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperkingstyd het op ’n baie unieke manier veroorsaak dat verlies ’n werklikheid in ons lewens geword het en het ons almal se lewens verander.
Om enkele voorbeelde te noem:
- Daar is ’n gevoel van verlies aan die normale dinge waaraan ek gewoond was.
- Daar is ’n gevoel van verlies aan die bekende.
- Daar is ’n gevoel van verlies aan sekerheid op politieke, ekonomiese, sosiale en maatskaplike vlak.
- Daar is ’n gevoel van verlies want ’n mens mis om by jou vriende te kuier.
- Daar is ’n gevoel van verlies aan inkomste, werksekerheid en kollegas.
- Daar is ’n gevoel van verlies aan gesondheid wanneer mense om my begin siek word.
- Daar is ’n gevoel van verlies wanneer dood by kennisse of familie intree.
- Te midde van die Covid-19-pandemie en inperkingsregulasies kon mense nie noodwendig hul geliefdes in hospitale besoek, of vir hulle groet voordat hulle sterf nie.
Wat ’n mens in hierdie lys opmerk, is dat verlies nie net na fisiese verliese soos werkloosheid, siekte of die verlies aan inkomste verwys nie, maar ook na emosionele verliese soos die verlies aan vryheid, geleenthede, verbintenisse, fisiese aanraking, roetine en toekomssekerheid.
Verlies veroorsaak soms intense vrees en ’n gevoel van hopeloosheid, of bring ’n verlies aan beheer en totale ontwrigting mee.
Die trauma verbonde aan Covid-19 en die psigiese impak wat dit op mense se lewens het, sal waarskynlik nog vir baie jare met ons wees. Hoe beter ons die emosies rakende dié verliese nou bestuur en verwerk, hoe vinniger behoort ons vorentoe te kan beweeg.
Hier volg ’n paar praktiese wenke om verlies te hanteer:
- Wees eerlik oor jou gevoelens. Ontkenning van verlies gaan jou nie help nie.
- Soek betyds hulp indien jy hulp nodig het. Gesels met iemand wat jy vertrou, of met ‘n professionele berader, indien jou neerdrukkende emosies nie verbeter nie.
- Behou kontak met jou familie en kollegas.
- Treur oor die verlies.
- Fokus op ‘n gebalanseerde lewenstyl met ’n gebalanseerde dieet, genoeg slaap en oefening.
- Moenie groot veranderinge in jou lewe maak of besluite neem indien jy in die midde van verlies, of ’n rouproses is nie.
- Doen moeite om nie geestelik terug te sak nie. Gebed en jou geloofslewe is belangrik in tye van verlies, of dit oor dood, siekte, of die verlies van verhoudings gaan. God verstaan hoe ons voel, ook as ons in hierdie tyd sy liefde en trou betwyfel en selfs wonder of ons nog glo.
- Behou ’n positiewe lewensbeskouing. ’n Mens is geneig om wanneer jy ’n slegte situasie beleef, negatief na alles rondom jou te kyk. Daar is baie meer waarde daarin om positief na die dinge om jou te probeer kyk.
- Leer om ten spyte van die verlies wat jy beleef of ervaar, nie op te hou om te volhard in dit wat jy moet doen nie. Verlies is nie ’n verskoning om dit waarmee jy moet besig wees, te staak nie.
- Gee vir mekaar ruimte om verskillende gevoelens te ervaar. Mense ervaar ’n hele reeks emosies wanneer hulle trauma of verlies soos skok, ontkenning, irritasie, ongeloof, hartseer, woede, of selfs aggressie, verwerk. Sommige mense is bereid om daaroor te praat, ander sal verkies om hul te onttrek. Elkeen se emosies is egter geldig en eg. Maak ruimte vir mekaar en luister na mekaar se ervarings.
Ter afsluiting: Verlies en trauma het verskillende gedaantes – dit kan ’n skielike skok wees wat deur ’n ongeluk, siekte of dood veroorsaak word, maar soms is dit ’n uitgerekte ervaring van ontwrigting soos die voortslepende droogte, of soos, nou die Covid-19-tyd. Dit raak nie net diegene wat direkte verliese gely het nie, maar ook ’n uitgebreide gemeenskap. In tye van verlies en swaarkry kan ’n gemeenskap mekaar ondersteun om dit te oorkom. Dit is ’n tyd waartydens gelowiges God se liefde vir mekaar en ander kan bewys deur na mekaar te luister, geduldig te wees met mekaar en praktiese, diensbare take vir mekaar te doen.