# Connected church

Deur: Dirk Brand

Die jaar 2020 sal in geskiedenisboeke beskryf word as die jaar waarin die Covid-19-virus die wêreld verander het – ’n onsigbare vyand wat die wêreld tot stilstand gedwing het.  Mense is tot hul huise ingeperk en alle openbare byeenkomste van groepe mense is verbied, ten einde die verspreiding van die virus te bekamp.  Dit het natuurlik kerke ook ingesluit.  Geslote kerke as gevolg van ’n virus, was seker vir almal voor die uitbreking van hierdie pandemie ondenkbaar en toe word dit ’n realiteit.

Alhoewel mense skielik nie meer kon reis nie, het die inperking tog mense nader aan mekaar gebring.  Solidariteit met mense in nood wat deur dieselfde onsigbare vyand bedreig word, asook die spontane steun in verskillende gemeenskappe vir veral die gesondheidswerkers wat aan die voorpunt van die stryd teen die virus staan, het wyd oor grense heen weerklank gevind.  Kerkgeboue wat gesluit is, beteken egter nie dat kerke skielik ophou bestaan het nie.  Inteendeel, kerke het nuwe maniere gevind om te funksioneer en juis in die onseker tye ’n bron van hoop vir gemeenskappe geraak.  Kerke bestaan nie uit geboue nie, maar uit mense.

Stellenberg het soos baie ander kerke tegnologie kreatief benut om kontak met lidmate te behou en het daarom ons eie videokanaal op YouTube geskep om eredienste en ander geleenthede direk in mense se huise aan te bied.  Maar hoe lyk dit in ander kerke en ook elders in die wêreld?

My nuuskierigheid oor hoe ander kerke tydens die inperkingstyd funksioneer, is bevredig toe  #connectedchurch tot stand gebring is.  Ek het begin soek na die visuele stories van kerkgemeenskappe in verskillende dele van die wêreld, wat op samehorigheid tussen Christene dui en iets vertel van hoe geloof in verskillende kontekste in hierdie moeilike tyd uitdrukking vind.  Wie sal ooit die beeld vergeet van Pous Franciskus I wat die Paasdiens in ’n dolleë St.Petruskatedraal in Rome hou? Enkele dae later het die aangrypende video en foto’s van die konsert van hoop van Andrea Bocelli in die Duomo in Milaan, vir miljoene kykers regoor die wêreld troos en hoop uitgebeeld.

Ek het ’n klomp vriende in verskillende lande gevra om vir my foto’s te stuur van hul kerke tydens inperking en te vertel wat die kerke doen om steeds ’n baken van hoop vir mense te wees.  My versoek het heelwat positiewe kommentaar ontlok en ook ‘n paar interessante foto’s in my e-pos opgelewer.  Die stryd teen die virus gaan voort en baie van die aanpassings wat kerke moes maak, gaan deel van die nuwe werklikheid van kerkwees bly.  Die visuele storie is dus nog nie afgehandel nie en ek hoop dat meer mense hul ervarings van kerkwees in hierdie tyd met ons sal deel nadat ons #connectedchurch op verskillende mediaplatforms gevestig het.

Besoek die #connected church blog

 

Dirk Brand | Leierouderling