Ons stel graag vir Charlotte Schoeman, die kantoor se nuwe ontvangsdame, bekend. Haar naam het ’n Franse oorsprong en word nie soos die meer bekende Engelse weergawe uitgespreek nie. Foneties klink dit soos Sjarlot.
Charlotte behartig sedert die begin van November die kantoor se ontvangs en alle lokaalbesprekings, en is ook behulpsaam met adminstratiewe take by die Stellenberg Terapiesentrum.
Charlotte, wat in die pragtige Ceres-vallei grootgeword het, was voorheen die praktykbestuurder by ’n groot mediese praktyk. Sy vertel dat sy twee groot passies in die lewe het waarvan die een is om as deeltydse lewensafriger, mense wat om verskillende emosionele of psigiese redes in ’n ongesonde leefstyl verval het, te begelei en motiveer om weer gesond te leef. Haar tweede passie is diere en sy het veral ’n groot liefde vir honde.
Charlotte is met Kobus getroud en saam het hulle ’n viervoetige kind, Nala.
Hartlik welkom by die span, Charlotte. Ons werk reeds baie lekker saam met die vriendelike en vaardige nuweling op die personeel. Red.