Gedagte vir die dag | Maandag 12 Julie 2021
Johannes 4: 5-10. 5Hy kom toe by ‘n dorp in Samaria met die naam Sigar, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. 6Die fontein van Jakob was daar, en Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, sommer by die fontein gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag. 7Daar kom toe ‘n Samaritaanse vrou water haal, en Jesus vra vir haar: “Gee My ‘n bietjie water om te drink.” 8Sy dissipels was intussen weg dorp toe om te gaan kos koop. 9Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe vra jy, wat ‘n Jood is, vir my, ‘n Samaritaanse vrou, water om te drink?” Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie. 10Jesus het haar geantwoord: “As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: ‘Gee My ‘n bietjie water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.”
Water is lewe. Die Bybelse mense het dit goed verstaan. In ’n woestynklimaat word jy aan jou afhanklikheid herinner. Jesus ontmoet die Samaritaanse vrou by die put. Skielik is die put nie net meer ’n plek nie; Jesus word die put. Hy word vir die vrou die bron van lewende water. Jesus is die fontein waaruit ons leef en die water waarna ons smag. Daar is ’n gebed van Pierre Talec wat die volgende sê:
Lord, help us find the well
Where you await us
At every stage of our life
God, wat met ons elkeen ’n pad stap, stap nie net saam nie; Hy wag reeds vir ons by die volgende put om ons te voed vir ons reis vorentoe. Hy wag nie net vir ons nie; Hy is die put, die fontein waaruit ons lewenswater drink.
Mag jy soos die Samaritaanse vrou ook kom rus, kom herstel en kom leef vanuit die bron van lewende water.
Gedagte vir die dag | Sondag 11 Julie 2021
Daar is ’n oomblik in die dag, net voor die son opkom wat antieke mense genoem het- die oomblik van heilige stilte. Dit is ’n oomblik vol afwagting. Mag ons vandag intree in hierdie heilige stilte, en al die gawes wat God vandag aan ons skenk, met dankbaarheid ontvang.
Ek lees graag vir ons ’n oggend refleksie:
Here ons God
Vroeg in die oggend, toe die wêreld nog jonk was,
Het U geboorte gegee aan alles wat goed is.
Vroeg in die oggend,
Toe almal nog slaap en niemand dit verwag,
Word U een van ons – ’n kind wat huil in ’n krip.
Vroeg in die oggend,
Omring deur leiers, politiek en godsdiens,
Omring deur massas en stil, bang dissipels,
Word u misken as God, as goed, juis goed.
Vroeg in die oggend,
Met olie in die hand,
Ontdek die bange vroue God is getrou,
Ook aan die wat spot en haat.
Ons vier lewe, getrouheid, hoop.
Herskep ons tot ware mense,
Skepsels van U,
Ingeweef in u groter skepping,
Alles in almal
Gedagte vir die dag | Saterdag 10 Julie 2021
Die Woestynvaders en moeders was ’n groepie gelowiges wat ’n paar jaar na Jesus se dood in ’n klooster in die woestyn gewoon het en hulle lewe aan gebed gewy het. Een van die gebedsrituele wat hulle elke oggend ingeoefen het, was ’n ritueel wat hulle gehelp het om bewus te word van God wat oral rondom hulle is. Hierdie ritueel was genoem ’n asemhalingsgebed. Ek wil jou nooi om dit vanoggend saam met my te doen. Vir die volgende paar oomblikke maak jou oë toe en haal rustig asem in en uit. Probeer om dit wat swaar op jou skouers rus en dit wat jou gedagtes vol maak eenkant toe te skuif en in jou gedagtes vir jouself te sê – Ek gaan nie nou daaraan tyd spandeer nie, ek sal dit later doen.
Terwyl jou oë toe is en jy rustig inasem sê met elke inaseming in jou gedagtes vir jouself – “God se Gees is in my”. En elke keer as jy uitasem, wil ek vir jou vra om in jou gedagtes vir jouself te sê – “God se Gees is by my.”
Terwyl ons so in gebed bly lees ek graag vir julle ons oggendgebed:
Here, God, U is oral;
In lig en donkerte,
In volheid en pyn,
In hoop en onsekerheid.
U is soos ’n mantel om my:
Alles wat met my gebeur, gebeur eers met U;
Daarom is ek nooit alleen nie.
U loop voor, U loop saam,
U dra en U huil.
Here God, U is oral
En U “wees” is altyd dienend en vol deernis.
Daarom kan ek my altyd in u hande oorgee.
Amen
Gedagte vir die dag | Vrydag 9 Julie 2021
1 Tess 5:18. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.
As goeie goed met ons gebeur is dit vir ons makliker om dankbaar te wees. As Henri Nouwen, die Katolieke geestelike skryf oor dankbaarbaarheid herinner hy ons dat dankbaarheid ’n lewenshouding is. Dit is ’n dissipline om elke dag te erken dat alles wat ek is en wat ek het, aan my gegee word as ’n gawe van liefde wat gevier moet word. Maar om so na die lewe te kyk en dit met dankbaarheid te ontvang is nie vir ons almal altyd maklik nie. Wanneer die harde kant van die lewe aan ons skuur voel dit nie altyd soos ’n gawe nie en dit kan ons laat twyfel aan God se liefde.
Ek dink die kuns van die lewe is dan om te doen dit waarvoor Paulus ons uitnooi. Om in alle omstandighede nogsteeds dankbaar te wees vir alles wat God ons skenk.
En dít omdat ons steeds die groot onsienlike misterie bly glo dat daar ’n God is wat oor ons waak. ’n God wat na ons omsien. Ook dat hierdie God, soos die Duitse teoloog, Helmuth Thielicke dit eenmaal gestel het: hoër gedagtes oor ons lewe koester wat ons vanuit ons aardse perpektief en verwagtinge nie altyd kan verstaan nie. Sodat ons op ’n dag ontdek dat ook die slegte en swaar in my lewe ten goede gegee is. Dat ons dit sal ervaar waarvan broer Roger van Taize vertel:“That in the same wound where the pain of anxiety festers, the energy for loving is also born.”
Sodat ons ook vir ons wonde dankbaar begin raak. Miskien selfs nog meer as vir al die goeie dinge wat ons besit.
Mag ons hierdie dissipline bly inoefen om in alle omstandighede en vir alle dinge dankbaar teenoor die God te bly.
Gedagte vir die dag | Donderdag 8 Julie 2021
Van die begin af het gelowiges geloofstaal op verskillende maniere gebruik om hulle geloof en vetroue in God te probeer verwoord. Deur die geskiedenis het ons ’n klomp voorbeelde van hierdie pogings- of geloofsbelydenisse. In ons eie tradisie is ’n geloofsbelydenis ook ’n poging om iets wat ons verstaan van God in woorde te vertaal. Ek lees graag vir julle as ’n gebed ’n geloofsbelydenis van Lina Spies. Mag ons vandag ons eie geloofsbelydenis in ons harte skryf, mag dit ’n wordende woorde versameling wees van ’n God wat nie in woorde gereduseer kan word nie
Geloofsbelydenis van ’n afvallige
Ek glo in die skeppende God
van die wordende heelal
wie se naam te heilig was
om uit te spreek:
Jahwe, die God van Israel,
wat ‘n vader geword het
vir Jesus van Nasaret,
die wonderskone boodskapper
van die onmoontlike liefde,
deur wie God my vader
maar ook my moeder is.
Ek glo in die Heilige Gees
wat mense in alle tye
inspireer tot werke
wat die stempel dra
van die ewige.
Ek glo dat omdat ek lewe
ek aan alle lewendes
sorg en deernis verskuldig is
en ek glo dat as ek sterf
ek opgeneem sal word
in die durende siklus
van vernuwing en verval
en dat die lewe triomfeer
in elke geboortekreet
omdat die lewe magtiger is
as die dood.
Lina Spies
Gedagte vir die dag | Woensdag 7 Julie 2021
2 Korinthiërs 12:9. “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. 10Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.”
Eberhard Busch, die Switzerse teoloog was vir jare lank die wêreld bekende teoloog Karl Barth se persoonlike assistent. Barth het ’n ongelooflike impak op Eberhard se lewe gehad, soveel so dat hy self later ’n professor in teologie geword het en boeke vol geskyf het oor Karl Barth se intellek en besondere insigte. Daars twee stories wat by my bly.
Die eerste was oor hoe Barth, soos almal wat ouer word, ook gesukkel het om hierdie fase van sy lewe te aanvaar en te verwerk. In sy laaste jare, so het Busch vertel, was hy erg verswak, maar steeds sou hy vasklou aan die lewe. Sy woorde aan Busch in dié tyd was dikwels: “Eberhard ek wil nie nou al sterf nie – ek wil nog léwe.”
Die tweede storie vertel van hoe Barth enkele maande voor sy dood uitgenooi was om as spreker by ’n byeenkoms vir jonger teoloë en predikante op te tree. Op pad daarheen het hierdie groot geleerde egter skielik onseker geword en teenoor Busch gekla dat hy nie weet wat om te sê nie. Waarop Busch hom getroos en voorgestel het: “Kalmeer nou eers. Kom ons gaan sit buite in die tuin en rook saam ons pype voor jy ingaan. Dit sal help.” Wat Barth toe ook gedoen het. Kort daarna het hy sy gehoor soos altyd mee gevoer met sy verstommende kennis en insigte.
Albei stories herinner ons daaraan dat ons niemand moet oorskat nie, selfs nie eers die slimstes of beroemdstes nie. Ons is almal menslik. Ons lewe is deurweek van swakheid, broosheid en sterflikheid. Ook met al die angs en frustrasies wat daarmee saamgaan.
Maar soos Paulus vir ons herinner werk God juis in dié tye die kragtigste. Laat ons dit ontvang as ’n troos en vind vandag daarin rus.
Gedagte vir die dag | Dinsdag 6 Julie 2021
Lukas 15: 25-31. Toe het hulle begin feesvier. 25“Sy oudste seun was nog in die veld. Toe hy terugkom en naby die huis was, hoor hy die musiek en die singery. 26Hy roep toe een van die bediendes nader en vra hom wat aan die gang is. 27Die bediende antwoord: ‘U broer het gekom, en u pa het die vetgemaakte kalf geslag omdat hy hom behoue en gesond teruggekry het.’ 28“Toe het die oudste seun kwaad geword en hy wou nie in die huis ingaan nie. Sy pa gaan toe uit en praat mooi met hom; 29maar hy antwoord: ‘Kyk, al die jare werk ek soos ‘n slaaf vir Pa. Nog nooit het ek ‘n opdrag van Pa verontagsaam nie, en vir my het Pa nog nooit eers ‘n bokkie gegee sodat ek saam met my vriende kan feesvier nie. 30Maar nou dat hierdie seun van Pa, wat Pa se goed met prostitute deurgebring het, terugkom, het Pa vir hom die vetgemaakte kalf geslag!’ 31“Toe sê die pa vir hom: ‘Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune. 32Maar ons kan tog nie anders as om fees te vier en bly te wees nie, want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry.’ ”
As kind het ek nie Sondagskool geniet nie. Na my pa se dood het die dominee in ons gemeente byna elke Sondag vir my probeer sê hoe daar ’n plan vir hierdie ding wat met my gebeur het, is. So asof God Homself in die hartseer van my pa se dood, verlekker, want dit is alles deel van die groter prentjie van my lewe. Na hierdie belewenis het ek opgehou om Sondagskool toe te gaan. Ek en my ma het begin om in ’n sekulêre ruimte kerk by te woon (’n pubkerk). Ek het by myself gedink dat ek nie na ’n “skool” toe wil gaan waar die genade, eerlikheid en kwesbaarheid so weggepraat word nie.
Die bekende skrywer Brené Brown skryf dat ons, ons kinders moet leer om kwesbaar te wees vir hulle om in hierdie wêreld te kan leef. Kwesbaarheid is nie noodwendig iets wat ons as deel van ons geloof wil hê nie. Vir jare was die kerk en ons geloof juis die ruimte waarbinne jy alles onder beheer moet hê. Mense het hulle mooiste voorkoms by die kerk kom wys en eintlik vir mekaar kom wys dat alles nog met hulle goed gaan. Dit is om hierdie rede wat die meeste van ons met konkrete idees groot geword het oor wie in die kerk se ruimte behoort asook wie mag en wie mag nie deel wees van die groep nie.
Jesus het eintlik ongelooflik baie spasie kom skep binne die koninkryk van God. Die Jode en selfs Jesus se volgelinge het vaste idees gehad oor wie behoort en wie nie. Jesus vertel ’n gelykenis, wat vir my persoonlik die mooiste gelykenis in die Bybel is. Die gelykenis van ’n seun wat verlore is. Hy het alles wat sy Pa vir hom gegee het weg gedobbel, op prostitute spandeer en uiteindelik saam met die varke opgeeindig. Die seun het toe bedink hoe hy huis toe sal terugkeeren vir sy Pa om verskoning sal vra en dan vir hom sal werk. Hy gaan toe terug huis toe en sy Pa ontvang hom met ope arms, maar sy broer is nie so gelukkig nie.
Die oudste seun staan buite die partytjie met sy arms gevou en die vraag: Waarom behoort my broer nog tot die gesin nadat hy al hierdie foute gemaak het? Maar dit is juis die punt, Jesus probeer vir die mense wys dat ons soos hierdie twee broers kan wees. Aan die een kant kan ons die spasie skep in ons verhoudings, aksies, gedagtes en omgewings om meer genadig te wees, oop te wees om ander te aanvaar en anders op te tree. Of ons kan buite die feesviering sit met ons arms gevou, met spasies wat geslote is en verwagtings wat dit bind.
God daag ons uit om Christene te wees wat meer spasie in ons menswees het.
Gebed:
Here, dankie dat ons geloof vir ons nooi om meer oop te wees vir die wêreld daar buite. Dankie dat ons iets kan beleef van hoe u koninkryk deurbreek met die spasie wat ons skep om ander deel te maak van ons menswees. Mag ons meer spasie in ons gedagtes, aksies, verhoudings en omgewing hê.
Amen.
Gedagte vir die dag | Maandag 5 Julie 2021
Die breër spasie van my omgewing:
Binne die integrale lewe besef mens dat jy spasies skep waarin ander ook beweeg. Ek dink aan die kerk en hoe die kerk 50 jaar terug gelyk het. Vrouens het nog met hoede kerk toe gekom, sekere banke was uitgesit vir ouderlinge en diakens. Spasies was geskep waar sekere persone binne die kerk mag wees en daar was spasies waartoe sommiges eers toelating in die kerk moes kry. Vandag is die kerk natuurlik nie meer so ’n tipe plek nie, die fokus het meer en meer geword soos wat Christus met sy volgelinge gewerk het – ’n spasie waar mense welkom en veilig moet voel.
Die bekende skrywer Simon Sinek vertel die verhaal van Generaal Swanson wat tydens ’n skietery in Afghanistan terug gehardloop het en ’n klomp van sy troepe wat gewond was na die helikopter toe gedra het. Swanson het vir elke troep ’n soen op die kop gegee soos hy hulle in die helikopter gelaai het. Sinek vra: “ Wat is dit wat hierdie leiers doen wat anders is?” Die antwoord is natuurlik dat hulle skep omgewings wat die beste uit hulle mense haal. Ons moet besef dat ons ook beheer het oor die spasies en omgewings wat ons skep. Die Kolossense skrywer het iets hiervan probeer sê:
Kolossense 3:5-9. “5Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is. 6Deur sulke dinge kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. 7Vroeër het julle ook aan dié dinge meegedoen toe julle nog daarin gelewe het. 8Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie, 9en moenie vir mekaar lieg nie.”
Die skrywer praat van goed wat omgewings sleg maak: onsedelikheid, onreinheid, wellus, begeertes, gierigheid, woede, haat en nyd. Die skrywer se opinie is duidelik: Ons het beheer oor die omgewings wat ons skep, ons kan kies om dit sleg te verpak of om dit veilig en vol ruimte te skep. God daag ons uit om groter ruimte vir ander in ons omgewings te skep. Waar kan jy ruimte binne jou omgewing vir ander skep?
Gebed:
Here, dankie dat U ons vandag weer kom uitdaag om meer spasie te skep binne die omgewings waaroor ons beheer het. Mag ons meer spasie skep sodat ons die Koninkryk van God kan sien deurbreek in die hier en die nou.
Gedagte vir die dag | Sondag 4 Julie 2021
Die breër spasie van my verhoudings:
Die bekende skrywer Steven Covey het geskryf: “Most people do not listen with the intent to understand; they listen with the intent to reply.” Ek vang myself baie keer dat ek mense hoor, maar nie behoorlik na hulle luister nie. Dit is juis omdat ek weet dat ek ’n terugvoer moet gee op die vraag wat hulle vra of die storie wat hulle vertel. Luister is dus nie die vermoë om net te hoor en dan te reageer nie, maar dit is om werklikwaar in iemand anders se skoene te staan en om hulle spasie te gee om plek in jou gedagtes te kry.
Om spasie te skep binne verhoudings is sterk gekoppel aan die vermoë om te luister. Ons is geneig om net te luister na stemme wat vir ons bekend is, of stemme wat ons vertrou. Jesus se metodiek was juis om die buitestemme ruimte te gee om te praat en Hy het self ook dan na hierdie stemme geluister.
Markus 4:21. Hy het vir hulle gesê: “’n Lamp kom mos nie onder ‘n emmer of onder ‘n bed nie? Is dit nie bedoel om op ‘n staander gesit te word nie? 22Daar is geen geheim nie, of dit moet openbaar gemaak word; en daar word niks geheim gehou nie, of dit moet aan die lig kom. 23As iemand ore het en kan hoor, moet hy luister!”
24Hy het ook vir hulle gesê: “Gee aandag aan wat julle hoor! Want met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word en daar sal vir julle nog toegevoeg word. 25Wie het, vir hom sal daar nog meer gegee word; en wie nie het nie, van hom sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word.”
Jesus sê hier vir die mense dat om te luister is om verlig te word en bewus te word van wat om jou aan die gebeur is. As iemand kan hoor moet hulle luister. In ons verhoudings kan ons baie maklik die persoon wees wat hoor en praat, maar ons is selde die persoon wat spasie skep sodat ander stemme ook die ruime betree. Jesus nooi ons om integraal te lewe om ruimte te skep in ons verhoudings deur te luister. Om te luister nie net na stemme wat vir ons bekend is nie, maar ook na die onbekende stemme.
Gebed:
Here, mag ons leer om te luister. Mag ons meer en meer soos U word deur nuwe stemme in ons lewe die geleentheid te gee om te praat. Mag ons oop wees sodat ander kan deel word van ons lewe. Dankie Here, dat U vir ons uitdaag om spasie te skep in ons verhoudings.
Gedagte vir die dag | Saterdag 3 Julie 2021
Die breër spasies van my aksies
Die fenomeen van sosiale media het die verkondiging van ons aksies vergroot. Dink ’n bietjie na aan hoe baie ons deesdae sien hoe goed, of gelukkig mense is deur die dinge wat ons op Facebook en op ander sosiale media platforms sien. Daar is niks fout daarmee nie, maar aksies wat meer ruimte het en jou laat groei in jou menswees is aksies wat jou amper dwing in ongemaklikheid in. Die Ierse Teoloog, Peter Rollins sê dat mense geloof in iets verander het wat vir ons sekerheid en satisfaksie moet gee. Ons hou nie daarvan as geloof ons los met onsekerheid of ontevredenheid nie. Rollins argumenteer dat dit is juis wat Christus vir ons aan die kruis gedoen het. Jesus het ons kom konfronteer met die onsekerheid van hoe groot die koninkryk van God werklik is, maar ook met die dissatisfaksie van die kontak met die uitgestote mense van die samelewing.
Die skrywer van Jakobus het iets hiervan verstaan toe hy gepraat het van geloof wat moet oorloop in dade.
Jakobus 2:14-17. 14. Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ‘n geloof ‘n mens red? 15Sê nou daar is ‘n broer of ‘n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16. en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? 17. So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.
Ons kan selfs sê dat dit help nie ons dade is mooi, maar daar is geen geloof nie. So asof die skrywer ons wil dwing na meer ruimte in die manier hoe ons, ons geloof in dade omsit. Die Bybel dwing ons eintlik om ruimtes binne ons aksies te skep. Ons moet op so ’n manier optree dat dit ons konfronteer met die ongemak en die onsekerheid waarmee Jesus ons kom konfronteer het. Hoe lyk daai ongemak en onsekerheid tydens die pandemie?
Gebed:
Here, dankie dat ons geloof ons kom konfronteer met die rou realiteit van die lewe. Nie met valse persepsies van hoe goed alles is nie, maar hoe stukkend en ongemaklik dit soms kan wees. Dankie dat U ons nooi om die spasie in ons aksies te verbreed sodat ons meer en meer soos U kan wees.