GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Donderdag 22 Julie 2021

Deuteronomium 6:4-5. “Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel , met al jou krag.”

Die Jode het wonderlike gebruike vir die uitlewing van hulle geloof.  Een daarvan is ’n besonderse gebed wat hulle baie gereeld bid – die Shema.  Die Shema kry ons in Deuteronomium 6:4-5 “Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.”   Die Jode het geglo as jy die Shema bid dan erken jy dat God die heerser van jou lewe is.  Dan is geen gedagtes of gevoelens vir God meer weggesteek nie.  Dan is jy verseker dat God die hele dag en nag oor jou die wag sal hou.

Wie is die Here vir jou? Is Hy jou God, die enigste Here?  Die meeste Christene sal dit as ’n onnodige vraag beskou.  Hulle weet immers dat die Here hulle God is.  Maar soms is dit nodig om onsself weer te vra: “Hoe belangrik is God vir my in my lewe?” Is Hy nog soos die Jode van ouds bely het,  jou enigste Here?

Enigiets groot of klein wat dreig om belangriker in jou lewe te wees, dui op gevaar.   Daarom is dit nodig dat ek myself weer ondersoek en seker maak dat God steeds my eerste prioriteit is.  En dat daar nie dinge in my lewe is wat my verhouding met Hom skade sal aandoen nie.

 GEBED

Here ek wil vandag weer kom bely en erken dat U my Here en my God is.  Ek het U oneindig lief en wil my hele lewe aan U toewy.

AMEN

 

 

Gedagte vir die dag | Woensdag 21 Julie 2021

Jesaja 41:10.  10Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.

Ek wil vandag met julle gesels oor bekommernisse. Die slim mense sê dat 99% van al die dinge waarvoor ons bang, of bekommerd is uiteindelik nooit gebeur nie!  Kom ons kyk na wat die Bybel hieroor sê.

In Jesaja 41:10 sê die Here vir ons: “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God.  Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.”

Met Israel so lank in ballingskap, het hulle al begin glo dat God hulle vergeet het.  Die omstandighede was nie altyd maklik nie.  So is dit in vandag se lewe ook, want baie ervaar dieselfde gevoel van verlatenheid wanneer ons deur donker dieptes van benoudheid moet gaan; dan pak vrees en angs die mens toe.

God gee ons daardie versekering dat Hy met ons is, dat Hy ons nooit sal begewe of verlaat nie.  In sy teenwoordigheid is ons veilig, daarom hoef Israel nie te vrees nie, want dit was juis die doel om Israel hierdeur bewus te maak dat te midde van ballingskap, God hulle hand neem en hulle met sy reddende regterhand ondersteun.

Waarom vrees ons dan?  As Kinders van God is die Here met ons elke minuut van elke dag!  Die Bybel gee ons hierdie versekering in die laasgenoemde vers!  Daar is regtig niks om voor bang te wees nie!  Niks waardeur God ons nie kan lei nie!

GEBED

Here ek is op die stadium moedeloos.  Die lewe is uitdagend en ek is sommer net nie meer lus hiervoor nie.  Skenk my asseblief ook die krag en moed om voort te gaan.

AMEN

Gedagte vir die dag | Dinsdag 20 Julie 2021

Spreuke 17:22: ” ‘n Vrolike mens is ‘n gesonde mens, ‘n neerslagtige mens raak uitgeput.”

Die afgelope week het ons met mekaar gedeel oor die groot voordeel van vreugde en blydskap in ons lewens. Ons het dit onderstreep dat sulke vreugde en blydskap die resultaat is van ’n verhouding wat ons met ons Hemelse Vader het. Ons het ook met mekaar gedeel dat vreugde, ten spyte van omstandighede, ongeag die donker tye wat ek mag beleef, tog moontlik is.

Hiervoor moet ons daaglikse keuses maak.   Ja, baie keer word ons in die moeilikste omstandighede ingegooi, en reageer ons as mense met hartseer, en met kommer en met neerslagtigheid. Dit is menslik. Ons moet egter elke dag probeer om doelbewus te kies tussen ’n gees van neerslagtigheid, of ’n gees van vreugde en blydskap.

Dit is ongelukkig so dat baie mense elke dag opstaan met ’n groot donker wolk oor hulle.  Ek praat nie van ’n akute depressie wat soos ’n siekte is nie, maar ek praat van ’n lewensingesteldheid en uitkyk op die lewe.  As ons die kuns kan aanleer om die mooi te soek, as’t ware ons geloofslewe en lewensuitsig  te “reset”, dan kan dit vir ons ’n lewe van vreugde bring. Die Spreuke-digter stel die uitkoms van hierdie twee lewens ingesteldhede teenoor die lewe duidelik in ons teksvers: Hy sê: ” ‘n vrolike mens, is ’n gesonde mens.” Dit spreek vanself. Dit raak jou lewenskwaliteit. Dit raak jou hoop vir die toekoms, en bo alles het dit ook ’n baie positiewe uitwerking op jou fisiese gesondheid. Daarteenoor, sê die Spreukedigter: “ ’n neerslagtige mens raak uitgeput.” Weereens spreek dit vanself. Ek kan myself in ’n baie negatiewe lewe in bekommer, as ek altyd net die negatiewe raaksien. Dit raak later soos ’n spiraal wat my afsuig na baie donker plekke.

Na hierdie week se oordenkings, kom ons neem die besluit, dat ons elke dag met nuwe oë, nuwe vreugde en blydskap na alles rondom ons sal kyk. Dis ’n lewensingesteldheid waaroor ek self herhaaldelik kan besluit, maar wat veral aangehelp word deur die Heilige Gees, wat in my gees, ’n gees van vreugde bring. Ek wil hierdie week se oordenkings afsluit met ’n ou gesang uit die Psalm en Gesangeboek van 1944: “Die môre gesang, verwerk deur GG Cilliers. Dis dan ook ons gebed vir hierdie dag.

“Vervul my hart met dankbaarheid, waar ek nou tot U nader; verkwik deur U weldadigheid, kom ek tot U, my Vader. Hoe juig my hart sy danklied uit vir U goedgunstighede! My eerste lied is dankgeluid, U lof my eerste skrede”!

Amen.

 

Gedagte vir die dag | Maandag 19 Julie 2021

Ons gaan vanoggend bietjie die orde omkeer. Voordat ek die teksgedeelte lees, net eers ’n opmerking. Ek wil ’n bietjie afwyk van ons normale patroon, deur ’n kort teksvers met jou te deel, en om dan iets daaroor  te deel.  Vandag wil ek eers met jou iets deel, en dan toelaat dat hierdie ongelooflike teks Sefanja 3 self met jou praat. Ons is hierdie week besig met vreugde en blydskap, en hoe groot ’n realiteit hierdie gawe van God se Gees in ons lewe is. En of ons dalk van hierdie grootste bate in ons Christelike lewe beroor word.

Een van die gedeeltes in die Bybel wat my die meeste tref, is die laaste klompie verse van Sefanja. Gister het ons uit die vorige boek, Habakuk, gelees en drie woorde gesien wat uitgestaan het: “Nogtans, jubel en juig.” In die volgende boek, volg ’n volgende profeet dieselfde patroon. Hulle kyk na die tragiese omstandighede van mense wat vreugde en blydskap ervaar.  Dan, op ’n wonderlike manier, evalueer hulle hul vreugde, omskryf waar hul eie vreugde vandaan kom en dan ook die verrassende insluiting van God, wat self ook vreugde en blydskap ervaar: Oor ons! Ongelooflik!.

Ek lees net hierdie verse, luister daarna en mag God julle seën:

Sefanja 3:16: “Daardie dag sal daar vir Jerusalem gesê word: Moenie bang wees nie, Sion, moenie jou hande moedeloos laat hang nie.” Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou: Ek maak dié bymekaar wat treur, ver van die feestelikheid af, dié wat uit jou uit kom en ter wille van jou die smaad gedra het, Ek gaan nou optree teen almal wat jou verdruk het, Ek gaan die kreupeles help, die verstrooides bymekaarmaak en die vernedering wat hulle moes ondergaan, in eer verander, in roem oor die hele aarde.”

Gebed

Here, dankie vir hierdie wonderlike wete, dat U self die mosie van blydskap en jubel ervaar as U aan my en ons dink.

Amen

 

 

 

 

 

Gedagte vir die dag | Sondag 18 Julie 2021

Habakuk 3:17-19: “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.”

Ons het  reeds in die afgelope paar dae genoem dat uitbundige vreugde en blydskap dikwels deur musiek uitgedruk word. Dink maar net aan die groot musiekskrywers van alle eeue, Beethoven, Bach, en andere wat selfs simfonieë hieroor geskryf het. Die lied wat ons vandag gelees het, is baie bekend by elkeen van ons. Ons sing dit baie lekker in die kerk, en tydens ander byeenkomste. “Al sou die vyeboom nie bot nie.”

Ons wil vandag ’n oomblik stilstaan by hierdie laaste gedeelte van Habakuk 3. So bekend as gevolg van hoofsaaklik die volgende drie woorde:  “Nogtans, jubel en juig”.

Nogtans: Die “nogtans” is so belangrik deur die loop van ons lewe. Soos Habakuk en die volk van destyds kom ons by baie donker plekke in ons lewe aan. Ons sien dit in die vorige verse, (vers 16), dat Habakuk gebewe het, sy hele lyf het lam geword toe hy hierdie dinge gehoor het. Dit het hom aan sy gees gegryp. En dan, hierdie  woorde “ongeag” en “nogtans”. Nogtans – al sou die vyeboom nie bot nie, geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou alles misluk, die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie, en die beeskrale sonder beeste wees. NOGTANS, ongeag, ten spyte van die omstandighede van waar hulle, en ons is, kan iets anders gebeur. Dan die volgende twee woorde: “Nogtans, ongeag en ten spyte van, sal ons jubel en juig in God.

Wat vir my opval in hierdie teksvers, is die woord “in.” Die jubel en die juig vind plaas in verbondenheid – in die Here, in God my redder raak dit moontlik. In hierdie spesifieke noue verbintenis, tussen die persoon wat in die donker is, en die een wat sy Redder is, sy Here en God is, vind hierdie blydskap wonderwerk plaas.

Ons het al baie gepraat oor ons huidige situasie, waar ons in ’n vlak 4 van inperking is. Ons weet baie mense beleef dit baie, baie sleg met al die gepaarde gevolge. Kom ons sê dit ook vandag soos Habakuk: nogtans, ongeag, ten spyte van dit, sal ons juig en jubel in ons Here, in ons verbondenheid met Hom, want daarin weet ons lê ons waarborg van vreugde, en dit is die uitkoms van ons verdriet.

Gebed

Here, dankie weereens vir hierdie woord van vanoggend. Dankie dat ongeag en ten spyte van  alles wat ek beleef in my lewe, ek deur my verbondenheid in U kan jubel en juig. Amen.

 

 

 

 

 

 

 

Gedagte vir die dag | Saterdag 17 Julie 2021

Galasiërs 5:22: “Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. “

’n Boom sal aan sy vrugte geken word.  Dit is waar van vrugtebome, maar dis veral ook waar van die lewens van kinders van God.  Daar is unieke eienskappe wat uitstaan in iemand wat ’n pad met die Here loop, en wat aan Jesus Christus verbonde is.

Een van hierdie kenmerke of vrugte, soos in die teksvers omskryf, is vreugde.  Hier word dit beskryf as ’n vrug van die Gees, met ander woorde ’n logiese uitvloeisel wat deur die Gees van die Here bewerk word.  Ten diepste kom dit weer daarop neer dat God se Heilige Gees, die wonderlike opwekker van blydskap in my lewe is.

Hy is die genereerder van vreugde wat dan uiteindelik ook sigbaar word vir ander mense as deel van die eienskappe of vrugte wat ek dra. In die teksgedeelte sien ons dat hierdie belangrike eienskap van vreugde gepaard gaan met ’n paar ander krities belangrike vrugte  in die lewe van ’n gelowige.  Dit is ten nouste verbind met liefde, vrede, geduld, vriendelikheid, en goedhartigheid.  Dit is amper sinoniem met mekaar.  As ek hierdie ander vrugte in my lewe ervaar, dan hou dit ten nouste verband met die vrug van vreugde wat deur die Gees van die Here aan my gegee word.

Laat ons aanhou en volhard om ook in ons droefgeestige tye, die vrugte te dra soos hier omskryf, om ons wêreld ’n beter plek te maak.  Mag jy vandag ’n vreugdevolle dag beleef omdat die Heilige gees hierdie Godsgawe in jou ’n werklikheid maak.

Gebed

Here dankie dat u Heilige Gees wat in my werk, ook die een is wat die vreugde diep binne in my genereer.

Amen.

 

Gedagte vir die dag | Vrydag 16 Julie 2021

Handelinge 16:25: “Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing.  Die ander gevangenes het na hulle geluister.

Ons het gister verwys na Paulus in die tronk, waar hy skryf aan die gemeentelede in Filippi, en waar sy vreugde telkens baie sigbaar is.  In die teksgedeelte wat ons vandag gelees het, tref ons vir Paulus aan in die tronk in Filippi. Gaan lees gerus hierdie gedeelte en sien onder watter haaglike omstandighede Paulus en Silas hulself bevind het.  Hulle is gevange geneem, en met boeie gebind, hulle is in die buitenste sel opgesluit, en hul voete op ’n houtblok vasgeklem.

Vir seker nie ’n lekker posisie nie en nie ’n goeie vooruitsig vir hulle op daardie stadium nie.  Dinge het beslis baie, baie donker gelyk.

En hulle verstommende reaksie hierop? Iets wat eintlik ons verstand te bowe gaan, dat dit wel kon gebeur.  Hy en Silas sit en sing!  Wat sing hulle?  Die weemoedige gevangenisliedjies van wanhoop en desperaatheid?  Nee, hier staan baie duidelik: “hulle is besig om tot lof van God te sing”.  En wie kan tot lof van God sing?  Alleen hy wat vreugde, vrede, in die hart het en wat die nabye teenwoordigheid van God in sy situasie ervaar.

Weereens ‘n goeie aanmoediging vir ons, om midde ons omstandighede, wel nog steeds met harte vol dankbaarheid en lof te leef.  Jare terug was daar ’n boekie: “From prison to praise” Ek het dit gelees toe ek ’n jong seun was en was beïndruk met die feit dat al is jy in jou donkerste en moeilikste tyd van jou lewe, jy steeds lof kan sing omdat jy dit in jou hart ervaar.

Gebed

Dankie Here, dat toe Paulus en Silas tot lof van U gesing het, ander mense geluister het. Gee tog dat ander mense rondom my, ook sal sien hoe dat ek bly en vol vreugde is, te midde van moeilike omstandighede. Amen

Gedagte vir die dag | Donderdag 15 Julie 2021

Filippense 4:4-7: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”

Ons het gister begin gesels oor die wonderlike voorreg wat ’n kind van God het om in vreugde en blydskap te kan lewe.  Ons het toe van Petrus gelees wat in die tronk, ongeag die donker wolke van gevangenisskap om hom, uitbundig hierdie brief kon skryf om sy vreugde en liefde op verskillende vlakke uit te druk.  Ons is aangemoedig as volgelinge van Jesus Christus, net soos die gemeentelede in Filippi destyds, om ons te verbly in die Here, onder alle omstandighede.

In die teksvers, wat ons vanoggend verder gelees het, sien ons waarin lê hierdie vreugde werklik, wat die bron hiervan is.   Baie duidelik stel Paulus dit – dat ons bly moet wees omdat die Here naby is! Ons moet ons lewe in die teenwoordigheid van die Here en omdat Hy saam met ons in hierdie donker tyd van byvoorbeeld die Covid-19-pandemie is, moet steeds  nie besorg wees nie!  Ons moet eerder alles in gebed, smeking en danksegging aan God bekend maak. Dis is die oplossing!  As ons dit so doen, deur al ons sorge en bekommernis op Hom te laai, sal ons hierdie vreugde, hierdie absolute blydskap ervaar, omdat ons ontdek hoe ons getroue, nabye Hemelse Vader vir ons sorg. Die uitkoms hiervan is dat die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, ons harte en gedagtes in Christus Jesus sal oppas.

Dink vandag aan die vlakke van jou vreugde en jou blydskap.  Omdat jy ’n kind van God is, kan jy verseker wees van Sy teenwoordigheid  . . . dat Hy baie naby aan jou is.  Sy teenwoordigheid wat ook sy vrede meebring, en dat dit sal jou lei tot ’n ware dankbare, vreugdevolle lewe.

Gebed

Here, dankie dat U baie naby aan my is, ook in my heel donkerste tye van my lewe.  Dankie dat ek daarin my vreugde en blydskap kan vind.

Amen.

 

 

 

Gedagte vir die dag | Woensdag 14 Julie 2021

Filippense 4:4: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!”

“Neerdrukkende tye! Min rede tot vreugde en blydskap”

“Covid-19 beroof ons van baie dinge”, hoor ek iemand sê, maar veral van vreugde en blydskap.  Dit blyk asof ons vreugde- en blydskapsvlakke baie, baie nadelig getref is deur die aanhoudende, verwoestende pandemie!

Maar, ter gelyke tyd is dit ook ’n baie ideale geleentheid om te vra: “Maar wat is dit dan nou wat eintlik ons vreugdevlakke bepaal . . . wat ons werklike blydskap gee?”

Ons kom baie gou agter dat ware blydskap en vreugde nie in fisiese goed gesetel is nie, maar in verhoudings.

Vreugde en blydskap is amper sinoniem met ons verhouding met die Here!  Dit is die vreugdevolle oorloop van ’n dankbare hart!  Die Bybel loop oor van tekste waarin vreugde en blydskap aangemoedig en geaksentueer word.  Sulke blydskap en vreugde is die logiese reaksie op die genade en die liefdevolle handelinge van ons Hemelse Vader.

Ons het vanoggend gelees uit Filippense 4.  Een van die bekendste tekste in Paulus se briewe, waar hy die gelowiges aanmoedig tot uitbundige vreugde en blydskap: “Verbly julle in die Here, ek herhaal, verbly julle.”

Ons weet ook dat hierdie brief onder moeilike omstandighede geskryf is (in die tronk), en staan dan ook bekend as Paulus se vreugdesbrief, aangesien die begrip van vreugde en blydskap telkemale na vore kom.)

Ons gaan in die komende paar dae ’n bietjie by vreugde en blydskap stil staan.  En ons wil onsself kom evalueer oor hoe diep en innig is ons vreugdesvlakke op hierdie stadium.  Kom ons stel onsself weer oop om dit te ondersoek, en indien nodig, terug te keer na hierdie aanmoediging van Paulus in Filippense 4:4.

Gebed

Here, help my om verby al die neerdrukkende dinge rondom my te kyk, en om weer my ware vreugde in my verhouding met U te vind.

Amen.

 

Gedagte vir die dag | Dinsdag 13 Julie 2021

Gebed, het die eerste gelowiges geglo is wanneer ookal die stilte tussen ons en God onderbreek word.  Jesus se dissipels het op ’n stadium vir Hom uitgevra oor gebed.  Hy verduidelik toe vir hulle dat hulle hele lewe ’n gebed moet wees en gee toe vir hulle ’n gebed wat ons vandag ken as die Onse Vader.  Ek lees graag vir julle ’n verwerking van hierdie gebed deur Frieda van den Heever:

Ons Vader, wat nêrens woon en oral bly

Laat u naam wyd en gewyd bly, hoe dit ookal sy

Laat U Ryk ons kom en gaan bepaal

U nuwe wêreld ons stukkie vir stukkie kom haal

Soos in die hemel, so ook op die aarde

Leer ons om een dag op ’n slag te leef

En vergewe ons as ons die punt mis, nes ons

ander vergewe wat die punt mis

laat ons soeke nie in versoeking ontaard nie

en ons vind nie die van die Bose wees nie

want niks is soos U Is nie

en U is al en alles in ons wat Is

U Is, en Is, en Is

Vir ewig en ewig

Amen

1 97 98 99 128