Gedagte vir die dag | Sondag 1 Augustus 2021
Spreuke 15:15: “’n Neerslagtige soort mens kry elke dag swaar, maar vir ’n mens met ’n opgeruimde geaardheid, is die lewe ’n fees.”
Die digter John Buiteman, het in sy gedig oor die lot van ’n kerkmuis wat hom in ’n donker vergete kamertjie van ’n kerk in Engeland tuisgemaak het, geskryf. Die ou muis kla steen en been oor sy skamele voorraad saagsels asook die strooi en vloerpolitoer wat net een maal per jaar afgewissel word. Hy is ontvevrede oor die bietjie wat hy kry, terwyl daar ’n oorvloed van kos in die sogenaamde Herfsoesfees is.
Die ou kerkmuis se groot probleem was onwelkome besoekers. Hy kla oor twee ongedoopte veldmuise, en ’n ongelowige, groot onvriendelike rot wat gereeld kerk toe kom en sy kos steel. Dan sê hy verder in die gedig: “Die soort ding gebeur nie by mense nie”. Hulle lees hulle Bybel en bid, en net soos hy, elke week in die kerk. Tog val dit hom op hoe vol die kerk soms kan wees met mense wat hy nog nooit gesien het nie, behalwe dan nou by die Herfsfees.
Ons is nou weer in ’n tyd waar toegang tot die kerk nie toegelaat was nie en vandag is dit weer die eerste keer wat ons ’n erediens met 50 persone kan aanbied. Ons mis dit dat mense na die kerk toe stroom. Ons weet nie wat die toekoms inhou nie, en hoe dit vorentoe sal werk nie.
Ongelukkig was dit in die verlede so dat ons kerk toe gegaan het, maar dat ons nie die waarde daarvan besef het nie. Dawid roep in sy bekende pelgrimslied, die bekende Psalm 122:1-2: “ek was bly toe hulle vir my gesê het kom ons gaan na die huis van die Here toe, en nou is ons hier binne in Jerusalem.”
Ek dink dit is baie kosbaar vir gelowiges om saam te kom, nie net op spesiale dae nie, maar in ons eie tradisie gaan ons nie op ’n Sondag sinagoge toe nie, ons gaan op Sondae kerk toe, omdat dit die dag is wat Jesus uit die dood opgestaan het. Die simboliek daarvan om op Sondae bymekaar te kom, is om te sê ons leef vanuit die opstanding van Jesus, en dan teen die agtergrond van die tradisie waaruit ons staan as ’n voorskrif om eer aan die Here te bring.
Dit is so mooi waar die swemmer Tatjana Schoenmaker die medalje gewen het, onderaan haar tweede keppie het sy geskryf, in haar lewe gaan dit om aan God die eer te bring, ek laat my nie definieer deur die prestasies of die Olimpiese spele nie, maar ek laat my denifinieer deur ’n lewe tot eer van God te lei. En dit is wat ons elke Sondag doen.
Ons saamwees is nou op ’n ander manier, maar dit bly steeds ’n blye ontmoeting met God en met ons naaste. ’n Geleentheid waaruit elkeen nuwe moed en lewensvreugde kan put, om huis toe te gaan. Op die oomblik gaan ons dit nie in die kerk evaar nie, want ons kan nie bymekaar kom nie, maar daar is tog iets van die saamwees, as jy vandag na die erediens kyk wat ons aanlyn aanbied.
Gebed
Here, dankie dat U in ons midde is, en dankie dat ons uit u oorvloed nie uit ’n skamelike kosvoorraad hoef te leef nie, maar uit die oorvloed wat U vir ons gee, van ons liefde aan U.
Gedagte vir die dag | Saterdag 31 Julie 2021
1 Petrus 4:16: “Maar wanneer iemand ly omdat hy ‘n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie. Inteendeel, as draers van daardie naam moet hy God verheerlik.” In ’n ander vertaling: “hy moet God prys, omdat hy ’n Christen genoem mag word.”
Ek wil sommer nadink oor wat dit beteken om ’n Christen te wees. Dis nou nie of jy ’n leeu, of springbok ondersteuner is soos wat jy in vandag se toets gaan beleef nie, maar dat jy jou identifiseer met christenskap.
Ek het gehoor van ’n vrou wat verskriklik bang was voor ’n operasie. Sy het gevrees dat sy nie na die narkose haar bewusyn sou herwin nie. Toe die narkotiseur met sy teaterklere haar staan, het sy hom versoek om haar wakker te maak as sy nie gou genoeg bykom nie. Toe sy na die operasie ’n teken van lewe toon, het die narkotiseur sonder sy masker haar liggies aangeraak en gesê: “Kom nou, kom nou.” Sy het haar oë oopgemaak en gekyk na die dokter se gesig wat nou noodwendig die mooiste beeld was nie, en verskrik uitgeroep: “Nee gaan weg, ek is een van die Here se kinders!” Al was dit nou onder vreemde omstandighede, is dit tog goed as ’n mens dink, dat jy sommer direk uit narkose prontuit kan verklaar dat jy ’n kind van die Here is!
In die ou Klementynse liturgie vind ons die pragtige gebed wat lui: “Ons dank U dat ons U kan noem na die naam van Christus. En daarom gereken word as U eie”
In die nuwe testament word die term “Christen” drie keer gebruik. In Handelinge 11:26 staan daar: “dat daar gelowiges vir die eerste keer in Antogië “Christene” genoem is. Dan kry ons dit ook in Handelinge 26:28: Agripa sê vir Paulus: “Jy dink sommer dat jy my gou gou ‘n Christen kan maak?”
Paulus beklemtoon dat ’n Christen ’n ere naam is, as hy skryf in 1Petrus 4:16: “Wanneer iemand lei omdat hy ’n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie. As draer van daardie naam moet hy God verheerlik, vers 16.
Daar word gereeld verwys na die hoë persentasie mense wat gelowiges, of Christene in Suid-Afrika is. Dis ’n realiteit, maar sê ’n belydenisskrif: “Ek is ’n Christen omdat ek Christus se naam kan belei, en myself as ’n lewende dankoffer aan Hom kan toewy. As ons dit in perspektief sien, as ons, ons Christenskap uitleef, uit dankbaarheid gee ’n Christen hom aan Christus. Polycarpus van Smyrna, wat een van die eerste Christen martelare was wat op die brandstafel gesterf het, se laaste woorde was: “Ek is ’n Christen.”
Kom ons bid dat gelowige mense in hierdie uiters uitdagende omstandighede, swart wit en bruin, in ons onrustige land, openlik sal leef en belei: “Ek behoort aan die Here, ek is ’n Christen.”
Gebed
Here, help vir ons in alle kante van die politieke spektrum, die inkomste spektrum, dat ons as u kinders, as Christene sal leef en optree.
Amen.
Gedagte vir die dag | Vrydag 30 Julie 2021
Ons is diep in die winter! Ek wil graag na aanleiding van die Olimpiese Spele, waar mense wat die wenpaal, of eindstreep haal, ook nadink oor mense wat ons deur die dood in die Covid-tyd verloor het. Elkeen van ons ken iemand, of ’n familielid wat aan Covid-19 blootgestel is, of oorlede is.
Ek lees uit Spreuke 10:7: “’n Eerlike mens se nagedagtenis kan vir ander ook voordele inhou, waar ’n slegte mens se aansien verdwyn gou.”
Ek dink in dié tyd baie na oor mense wat ons geken het en wat aan Covid-19 oorlede is. As predikant is ’n mens dikwels in situasies betrokke waar jy na die dood van ’n geliefde by die familie sit en luister na wat almal van die oorledene vertel. Toe onthou ek weer ’n jong dame wat jare gelede aan kanker gesterf het. Sy was in die fleur van haar lewe met ’n sprankelende persoonlikheid, sonnige glimlag, baie talente en ’n sterk akademiese ingesteldheid. Ek onthou die woorde wat sy geskryf het – die pad wat sy geloop het met kanker en chemo. Sy het haar herinnneringe oor die lewe, oor pyn, oor eensaamheid, chemo, familie, vriende, afskeid, verlies, en dan ook oor die dood – alles neer geskryf. Onder andere skryf sy: “hoe voel ek oor die dood, ek wat ’n kankerleier is? My siel is rustig, want my verhouding met God is reg. As ek nou sterf, aanvaar ek dit. Tog is ek dankbaar en bly dat ek nog baie dinge kan ervaar en kan doen, maar ek is nie bang om te sterf nie, nie ek nie. Daar wag ’n lewe sonder pyn en leiding op my, maar God het sy tyd en ek sal nie vroeër of later gaan nie.”
In Prediker 3, selfs die dood kan mooi wees, ondanks trane, afskeid, hartseer en verlies aan ’n stem wat ’n mens nooit weer sal hoor nie. Tog vra ’n mens: “Waarom is die lewenswedloop waarvan Paulus skryf soms so gou afgeloop?” In 2Tim4:7: “waarom is die wenstreep vir sommige so naby?”, maar dit kan ook soos ’n cliché klink wanneer ’n mens wil sê die lengte van die wedloop is nie so belangrik nie, maar wel hoé ons hardloop.
Kom ons herinner ons aan wanneer ons deelneem, dat hoé ons deelneem belangrik is. Ek en jy hardloop elke dag die wedloop, maar ons moet gereed wees vir die wenstreep soos die dame skryf in haar laaste deel: “Dis waarom mense wat bang is om dood te gaan, dadelik iets daaraan doen, vandag nog. Bid nou en maak jou verhouding met die Here reg, dan sal jy die wonderlikste verhouding en kalmte in jou gemoed ervaar. Dis die verplasing na ’n wonderlike lewe sonder pyn en lyding. “Soek eers die koninkryk van God,” sê Matteus so mooi. Kom net terug na hierdie fondament, hierdie basis, om eers ’n verhouding met Hom te hê, dan val die ander dinge maklik in plek. So kan God alles vir my en jou op sy eie tyd mooi maak.
Gebed
Here, help ons om so te bou aan ons nagedagtenis, dat dit met U as fondament begin.
Gedagte vir die dag | Donderdag 29 Julie 2021
Matteus 25:36b: “En toe ek nie iets gehad het om aan te trek nie, het jy vir my klere gegee.”
Die oorsake van die onlangse plundering is velerlei. Ek het verlede Sondag gepreek en onder andere verwys na die vonk en die kruit wat die staat omver wou werp, en die oppurtuniste wat sommer net toegeslaan het. Maar dan ook die groot stroom kritiek en ook die moontlike oorsake soos: armoede en honger mense wat net desperaat is om items in die hande te kry. Mense wat televisiestelle steel is nie noodwendig honger nie, maar die realiteit van armoede en honger in ons land is ’n groot werklikheid.
Ek het gedink aan die verhaal, waar vertel word hoe ’n bedelaar sy hande uitgesteek het na ’n sekere heilige man, genaamd Martin. “Asseblief meneer dis bitter koud en ek het nie klere om aan te trek nie, kan u my asseblief help, voor ek van die koue sterf,” het hy vir Martin gesê. Martin het blykbaar afgekyk na sy eie dik wol jas, en gesê: “Ek het nie nog ’n warm wol jas nie, maar ek sal jou die helfte van hierdie een gee.” En blykbaar die daad by die woord gevoeg. Hoe presies weet ek nie, of hy dit nou in die middel deurgesny het is ek nie seker nie.
’n Hele paar dae het verby gegaan en telkens wanneer Martin gebibber het in die koue, het hy gewonder of dit verstandig was om die helfte van sy warm jas weg te gee. En toe droom hy een nag dat hy in die hemel is. Tussen baie gesigte het hy ook vir Jesus gesien. Jesus het ’n halwe jas oor sy skouers gehad. “Meester, waar kry U hierdie jas?” het Martin nuuskierig gevra. “Ek het hierdie jas by Martin gekry, hy het die helfte van sy warm jas vir My gegee,” het Jesus geantwoord. Toe onthou Martin die bekende woorde van Jesus uit Matteus 25:36: “Ek was sonder klere, en julle het vir my klere gegee. Sover julle dit aan die geringste broers vir my gegee het, het julle dit aan my gedoen.”
Ek was onlangs in die Oos-Kaap, en dit maak ’n mens soms moedeloos wanneer jy sien hoe mense swaar kry. Ons het verby gebiede gery waar mense sonder kos en klere is. En hulle kry koud in die winter. Dit gryp ’n mens aan die hart om te sien hoe talle mense werk soek, werkloos is en hoe tente ook in Durbanville opgeslaan word. Daar is gesinne wat dikwels sonder kos is, en honger gaan slaap. Daar word gesê dat die huidige nood tans groter is as in die Groot Depressie en ons is bewus van hoe dit toegeneem het. Die regering het onlangs weer die R350 ingestel om mense te help in nood.
Onthou wat het dr. Anton Rupert gesê: “Hoe kan ek rustig slaap, as my buurman vanaand honger gaan slaap?” Hoe ons dit gaan oplos, weet ek nie? Daar is ongeveer 40 dames in die gemeente wat sop by hulle huise kook omrede hulle nie tans by die kerk kan bymekaar kom nie. Ons kan as organisasie by plekke help en betrokke wees en daar is so baie plekke om by in te skakel. Ons sê vir julle dankie dat julle bydrae in ’n poging om die nood aan te spreek. Op een of ander manier is byna elkeen van ons betrokke, of bewus van iemand wat minderbevoorreg is en wat baie minder as jy het. Miskien sukkel jy om met jou geld uit te kom, maar miskien kan jy wel iets afknyp, en sê hier is my gedeelte om nood aan te spreek. Martin het die helfte van sy jas vir iemand gegee. Dit sal vreeslik wees as ons eendag by Jesus hoor, “ek was honger, en jy het my nie iets gegee om te eet nie. Ek was sonder klere, en jy het nie vir my nie iets gegee om aan te trek nie.”
Gebed
Here, gee vir ons die genade en insig om te weet waar ons met ons oop hande moet lewe, elkeen in sy eie omstandighede.
Amen.
Gedagte vir die dag | Woensdag 28 Julie 2021
Gedagte vir die dag | Dinsdag 27 Julie 2021
1 Samuel 30:6. Dawid was in die nood, want die manne het daaraan gedink om hom met klippe dood te gooi. Almal was verbitterd, elkeen oor sy seuns en dogters, en toe het Dawid hulp gevra by die Here sy God.
Dinge was op dié oomblik maar baie sleg vir Dawid. Sy vyande het sy stad afgebrand. Sy twee vroue is gevange geneem en sy onderdane was in opstand en het gedreig om hom te stenig. Al hierdie dinge kon Dawid sekerlik ontsteld, bekommerd en bevrees gemaak het. Wat het Dawid in hierdie omstandighede gedoen? Hy het om die hulp van die Here gevra. In sy oomblik van nood het hy geweet waarheen om te draai vir bemoediging.
As jou lewe jou sleg behandel of begin onderkry. In watter situasie jy ookal op die oomblik mag verkeer moet jy Dawid se voorbeeld volg. Toe dinge op hulle ergste was, het Dawid die Here se hulp aangeroep. Die Skepper van alle dinge sal nie toelaat dat jou voet wankel nie. Jou Bewaarder sal nie sluimer of slaap nie.
Een ding kan ons verseker weet die Here hoor wanneer ons bid. Ons gebede word soms anders beantwoord as wat ons verwag het. Maar die Here vergeet ons nie, Hy ignoreer ons nie. Hy is daar om te help. Soms op ongewone en unieke maniere en dikwels op sy eie tyd. Maar altyd getrou.
GEBED
Here ek is op die stadium moedeloos. Die lewe is uitdagend en ek is sommer net nie meer lus om voort te gaan nie. Skenk my asseblief ook die krag en moed om aan te gaan.
AMEN
Gedagte vir die dag | Maandag 26 Julie 2021
Filippense 2:12-13. My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.
Dit was Ghandi wat gesê het: Die Christus van die Christendom is aanbiddingswaardig, maar sommige Christene van die Christendom is afstootlik omdat hulle nie leef na die voorbeeld van Christus nie.
Mense kyk nie net na hoe ons as Christene lyk nie hulle kyk ook hoe ons optree. Hulle kyk wat ons doen, wat ons praat en wat ons dalk nie doen nie. M.a.w. hulle kyk watter voorbeeld ons stel. Vandag lees ons ook van Paulus wat die gemeente in Filippi oproep om ’n goeie voorbeeld te wees. Om te lewe as verloste mense.
Nou vra ’n mens jouself af: Wat is my voorbeeld as ‘n Christen? Ek dra die naam van Christen. Die vraag is of ek soos ’n Christen lewe? Watter voorbeeld sien ander in my lewe? Watter voorbeeld stel ek dalk vir my kinders, die leerlinge in my klas, of aan diegene wat nog as sondaars lewe? Watter voorbeeld stel ek vir my vriende, of vir my man of vrou? Wat sien mense in my lewe raak? Sien hulle die voorbeeld van Jesus Christus?
God vra van ons om die voorbeeld van Jesus Christus in hierdie wêreld uit te leef. Ek moet Jesus se voorbeeld in my huis uitleef, in my klaskamer, tussen my vriende, oral waar ek kom. Maar die enigste manier hoe ons dit sal regkry is met die genade van God. Paulus skryf in vers 13 “want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer”.
GEBED
Here help my asseblief om deur die manier wat ek lewe Jesus Christus as voorbeeld te volg.
AMEN
Gedagte vir die dag | Sondag 25 Julie 2021
Prediker 3:1. Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd:
Tyd is darem ’n snaakse ding. As jy jonk is voel dit mos of tyd baie stadig verby gaan. Dan neem dit lank voordat jy verjaar en ’n mens moet baie slapies aftel voordat dit weer Kersfees is. Dit is lank voordat jy skool toe gaan en lank voordat jy skool klaar maak. Jy wens die tyd om. Maar soos ’n mens ouer word, verander jou begrip van tyd. Ek dink tyd raak al hoe meer kosbaar hoe ouer jy word.
Tyd speel ’n groot rol in ons lewens. Dink net hoeveel woorde, sinne en gedagtes het in jou lewe met tyd te doen:
- Hoe laat is dit?
- Maak vir my tyd.
- Iets is tydloos.
- Ek gaan laat wees.
- Jy is betyds.
- Hoe lank gaan dit neem?
- Jou tydsberekening is sleg.
- Môre bring sy eie bekommernisse…
Die Prediker het ’n bepaalde idee oor tyd en ’n bepaalde siening oor die lewe en die sin van die lewe gehad. Sy slotsom was dat alles ’n bepaalde tyd het.
Hoe ek dus my tyd benut is nogal belangrik. Maak tyd vir dit wat noodsaaklik is. Ek en jy het net soveel geleende tyd hier op aarde en ek is nie so seker of ons genoeg nadink oor die vraag, hoe jy jou tyd hier gebruik nie? Ons sal almal kla dat ons te min tyd het, en dat tyd te vinnig verby gaan. Ons sal almal met spyt terug dink – ja miskien moes ek meer tyd hieraan spandeer het en minder aan iets anders. Daarom moet ’n mens die tyd wat die Here aan jou leen met wysheid benut.
GEBED
Here ek het net soveel tyd. Help my om dit sinvol te gebuik tot die eer van u Naam.
AMEN
Gedagte vir die dag | Saterdag 24 Julie 2021
Deuteronomium 1:31. Julle het in die woestyn ondervind hoe die Here julle God julle die hele pad waarlangs julle tot hier toe gekom het, gedra het soos ‘n man sy seun dra.
Israel staan gereed op die punt om die beloofde land in te neem. ’n Hele opstandige geslag het in die woestyn omgekom. Nou was hulle kinders en kleinkinders bereid om die erfenis wat God aan hul vaders belowe het, op te eis. Maar eers het Moses die volk ‘n laaste keer toegespreek. Hy wou hulle herinner aan alles waardeur hulle gegaan het en die volk daartoe lei om hul verbintenis tot die verbond te hernu. Terwyl hy praat, herinner hy die volk daaraan dat God hulle deur hul lang reis in die woestyn gedra het soos ’n vader sy seun dra.
En God dra ons ook. Soos Israel, besef ons dalk nie altyd dat God ons te midde van ons probleme en tydens ons stryd dra nie. Hy onderhou ons met sy krag. Hy sorg vir ons met sy hand. Op elke oomblik, in elke situasie, is God se teenwoordigheid daar – selfs wanneer ons dit nie ervaar nie.
As jy vandag deur jou eie woestyn dwaal, weet dan dat God jou dra. Ek weet nie hoe daardie wildernisreis vir jou lyk nie. Miskien het jy pas ’n vernietigende diagnose ontvang, of wag jy op ’n lang uitgestelde droom. Dalk huil jy oor ’n verlore kind, of is jy bedroef oor die verlies van een vir wie jy lief is. Jy beleef tans die woestyn. Moenie hoop verloor nie. God is naby. Hy sal jou nie verlaat en alleen deur die woestyn laat reis nie. Hy is by jou. Soos ’n vader sy seun dra, sal hy jou dra.
GEBED
Here hou my asseblief vas. Dra my asseblief deur hierdie lewe.
AMEN
Gedagte vir die dag | Vrydag 23 Julie 2021
Psalm 146:5. Dit gaan goed met die mens wat sy hulp van die God van Jakob ontvang, die mens wie se hoop gevestig is op die Here, sy God.
Psalm 146 raai die geloofsgemeenskap aan om op die Here te vertrou en nie op mense nie. Die rede waarom ons eerder God bo mense moet vertrou lê in God se stabiele karakter. Jy kan daarop staatmaak dat Hy is en doen soos Hy Hom in die Skepping en die lewe openbaar.
As ’n mens ’n nuwe onderneming begin, ondervind jy dikwels oomblikke van twyfel en vrees. Dit is verstaanbaar dat wanneer ’n mens die onbekende aandurf jy bekommernis en twyfel sal ervaar. Die grootste onderneming wat jy ooit as mens kan aanpak is die lewe self. Elke dag is iets nuuts en jy weet glad nie wat op jou wag nie.
Die Here nooi jou uit om Hom as vennoot te neem in die lewe. Hy verseker ons op verskeie plekke in die Bybel dat Hy altyd met jou sal wees. Hy sal nooit van jou af wegdraai, of jou in die steek laat nie. Met hierdie wete kan jy die lewe aandurf en vorentoe beweeg.
Ek het hierdie gedagte raakgelees:
Laat ons ons vertroue in God stel, en laat ons troos vind in die wete dat alles wel sal wees, as dit geskied volgens die wil van God. Want Hy weet die beste wat goed is vir ons tydelike én ewige welsyn .(Outeur onbekend)
GEBED
Here ek vertrou my lewe aan U toe. Stap asseblief die pad van die lewe saam met my . AMEN