Gedagte vir die dag | Woensdag 11 Augustus 2021
Deur: Ds. Hanno Ackerman
In ’n artikel van Die Burger gedateer 29 Julie 2021 word die dataopname gedoen tussen Mei en Junie 2021 van die onderneming, Afrobarometer, vertoon. Daarin is bevind dat die helfte van Suid-Afrika se bevolking glo dat gebed meer doeltreffend as die Covid-19-entstof is. Dié artikel het my laat wonder hoe ons oor gebed dink. Wat is die rol van gebed, wat beteken dit en hoe moet dit lyk in hierdie tye van onsekerheid? As kind het ek geglo gebed is die tyd wat jy gebruik om met Jesus te praat, dit wil sê dat ek elke aand voor ek gaan slaap het, het ek my eie gebed opgesê. Ons het natuurlik as familie die ritueel van gebed voor ete ook gehandhaaf.
Soos ek ouer geword het, het gebed vir my meer as net ’n ritueel geword. Ek dink die meeste tyd wat ek in gebed spandeer het was as student terwyl ek in my motor was op pad na die universiteit toe. In hierdie week wil ek graag saam met jou oor gebed nadink asook die betekenis daarvan en ook ondersoek of ons nie anders oor gebed moet begin dink nie.
Jesus het in die bergrede vir die mense die volgende gesê oor gebed:
Matteus 6:5-7. 5“Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. 6Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon. 7“Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ‘n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. 8Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.”
Christus se verstaan van gebed was nie aan die ritueel daaraan verbonde gekoppel nie. Dit was ook nie ’n stortvloed van woorde nie, dit was meer as dit. Die bekende Anglikaanse Priester en skrywer Richard Rohr het geskryf: “Prayer is sitting in silence until it silences us, choosing gratitute until we ourselves are grateful and praising God until we ourselves are an act of praise.”
Gebed was vir Jesus woorde wat iets MET jou moet doen en nie noodwendig iets VIR jou moet doen nie. Ek dink ons sien gebed dikwels as ’n rympie vol versoeke. Christus sê vir ons dat gebed verandering in ons moet bewerkstellig.
Kom ons bid saam:
Here, ons dank U vir ’n nuwe dag, met nuwe uitdagings en gebeure. Ons bid Here dat die woorde wat ons gebruik in ons gebede ons sal skuif en sal verander sodat dit iets aan ons doen eerder as om te verwag dat hierdie woorde vir ons iets sal gee. Ons bid Here, mag ons die verandering wees wat in hierdie tyd nodig is hier en nou.
Amen.
Gedagte vir die dag | Dinsdag 10 Augustus 2021
Johannes 14:23. Jesus antwoord hom: As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.
Die afgelope tyd het ek deur debatte wat oor die kerk, geloof en godsdiens gevoer word besef hoe maklik gelowiges dit kan regkry om onderskeid tussen verskillende tipe gelowiges te tref. Die een groep probeer dan ook dikwels die ander na hulle kant toe oorhaal. Dit ontstel mense en hulle reageer dan daarop. En so word die gaping tussen gelowiges wat hulle geloof in die een Here bely al hoe groter. Dit raak makliker vir elke groep om die Here hulle God meer lief te hê, maar dikwels ten koste van hulle naaste. Hoe is dit dat ons liefde vir God ons dan so van medegelowiges verdeel? Om nie eens te praat van die mense buite ons geloofsgemeenskappe nie. Mag die Here ons help om in ons gedagtes en perspektiewe insig te kry hoe om ons verskille reg aan te pak.
Gebed
Here, ons word dikwels oorweldig deur hoe anders U elke mense gemaak het. Ons verskille is nie maklik om te hanteer nie, omdat ons in die vrees lewe dat ’n medemens my van dit wat vir my kosbaar is, kan beroof. Help my vandag met insig om verskille tussen mense in die lig te sien dat U mense geskep het om juis by mekaar te pas en mekaar aan te vul. Help my om vandag prakties die verskille tussen mense en die emosie daaragter op ’n volwasse manier te hanteer en nie uit vrees of met frustrasie nie.
Amen.
Gedagte vir die dag | Maandag 9 Augustus 2021
Hebreërs 6:12. Julle moet dus nie traag word nie, maar die voorbeeld navolg van die wat deur geloof en geduld deel gekry het aan die dinge wat God beloof het.
Die realiteit rakende Covid-19 waarmee ons al ’n tyd saamleef het ons lewens op verskillende wyses geraak. Ek self het beleef hoe dit ’n mens op ’n plek bring waar jy elke nou en dan weer van voor moet begin en dat dit baie uitputtend begin raak het. Ek het besef hoe belangrik dit is om juis in hierdie tyd kop te hou en jouself daaraan te herinner dat jy nie net in probleme en pessimisme moet vas kyk nie. ’n Mens het ’n keuse hoe jy in hierdie tyd wil leef. Die uitdaging om traag te word is groot. Geloof aan die ander kant inspireer ons om deur eenvoudige en praktiese maniere uitkomste te vind. ’n Groot deel van ons geloof het juis soos die teksgedeelte sê met geduld te doen. Bekyk vandag vir ’n oomblik jou lewe en omstandighede van ’n afstand af en beleef hoe die Here jou rustig en geduldig maak sodat jy dinge in perspektief kan sien.
Gebed
Vertraag my pas, Here. Maak my rustiger. Bring die wilde geklop van my hart tot bedaring deur my verstand met U vrede aan te raak. Dwing my om stadiger te beweeg deur my begrip te gee van die oneindige tyd tot u beskikking. Gee my, te midde van die verwarring van elke dag, die onverstoordheid van u ewige berge. Inspireer my met die begeerte om my wortels diep af te stuur in die vrugbare grond van blywende lewenswaardes.
Amen
Gedagte vir die dag | Sondag 8 Augustus 2021
1 Petrus 1:3. Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood.
Hierdie teks raak ons lewe op soveel verskillende maniere aan, maar ek wil vandag net een daarvan uitlig: Die realiteit dat ons almal iewers gaan sterf. Aan die een kant sien ons uit na die belofte van die hemelse – maar aan die ander kant baklei ons om vir so lank as moontlik aan die lewe te bly en sukkel ons om van die aardse lewe afstand te doen. Is dit nie vreemd nie?
In 2 Korintiërs 5 deel Paulus hoe hy tussen hierdie twee perspektiewe vasgevang leef. Leef jy ook in hierdie spanning? In Romeine, wat waarskynlik ’n refleksie is van sy gedagtegang aan die einde van sy lewe sê Paulus dan: “Of ek lewe of sterwe, ek behoort aan God” en ons almal ken die bekende Psalm 139 wat getuig dat die hoogte van die lewe of die diepte van die dood ons nie van God kan skei nie. Die lewe is nie eers eendag nie. Dit is ook nou en is reeds as geskenk vir ons gegee deur die opstanding van Christus uit die dood.
Alhoewel dit ons vandag op maniere omring wat ons nie verstaan nie kan ons in die krag en sekuriteit daarvan leef. Mag vandag vir jou so ’n dag wees. Mag jy die krag en vreugde ervaar om dit ’n dag van lewe te maak.
Gebed
God bo my en onder my, agter my en voor my, in my en om my, God orals en êrens; somtyds en altyd. God gister en môre en eendag. God hier by my nou.
Gedagte vir die dag | Saterdag 7 Augustus 2021
Psalm 94:19. Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring.
Onrustigheid is iets wat gedurig in ’n mens se lewe ’n opwagting maak. Dit is soos wanneer ’n dowwe hoofpyn jou nie wil los nie en gedurig in jou kop klop en die ritme van jou lewe versteur. Alles wat jy doen, of sê word op ’n manier daardeur beïnvloed. Die uitdaging rakende die gevoel van onrus is dikwels juis dat jy nie jou vinger op die oorsaak daarvan kan lê nie en dit dan nie soos in die geval van ’n hoofpyn met ’n Disprin kan behandel nie. Dit is wat ons onrustigheid in hierdie dae so uitdagend maak. Dit is ’n sameloop van onvrede, bekommernisse en selfs miskien ongegronde agterdog. Dit loop ook dikwels saam met ongeduld en hardkoppigheid. Dan is daar ook die onrus binne vrees en seerkry. Die feit is dat daar vandag ’n magdom dinge agter jou onrus kan skuil.
Bring die kraaines van jou onrus vandag na die Here toe. Wat presies is dit wat jou onrustig maak? Wat is die regte manier om die simptome daarvan aan te spreek? Ervaar hoe die Here jou vanoggend ontknoop om jou siel tot rus te bring.
Gebed
Here, my onrus klop in my soos ’n hoofpyn en die emosies wat in my leef is soos die kraaines van ’n vislyn. Ek weet nie waar en hoe ek dit gaan uitsorteer nie en alles lyk net vir my na ’n groot gemors. Maak my nou rustig om iewers te kan begin om die knope in my lewe te ontknoop.
Amen.
Gedagte vir die dag | Vrydag 6 Augustus 2021
Romeine 3:23-24. Almal wat gesondig het is ver van God af, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus
Hierdie twee verse het 500 jaar gelede tydens die Reformasie die wêreld en die kerk op ’n radikale wyse verander. Dis ingrypend omdat dit handel oor God se karakter wat ons nie los as ons die pad byster geraak het nie. ’n Mens wonder dan hoe dit is dat gelowiges hierdie teks, wat meer as ’n duisend jaar voor die Reformasie in die Bybel gestaan het, misgekyk het? Vergifnis word dikwels deur ’n klomp ander realiteite in ons eie lewens oorheers en skuif dan na die agtergrond. Dit word met ander woorde die laaste oorweging en word selfs glad nie oorweeg nie. Lees weer die teksgedeelte en vra jouself wat in die pad staan van die Here se vergifnis in jou lewe?
Is dit dalk dat jy nie eerlik is oor foute wat jy gemaak het nie en dit bly ontken? Of oorheers jou suksesse dalk die foute? Is dit vir jou moeilik om God se vergifnis doodeenvoudig te aanvaar? Hoe gaan ons dit ooit regkry om ander genadig te wees en te vergewe wanneer ons dit self nie kan aanvaar nie? Begin vandag by jouself en beleef hoe God se vergifnis spontaan in jou vloei om vandag ’n groot verskil in mense se lewens te kan maak.
Gebed
Here, skryf u Heilige Naam op my hart. Graveer dit so diep daarin dat geen welvaart my kan weglok, of teëspoed my aan u liefde laat twyfel nie. Wees vandag vir my ’n vesting by wie ek skuil. Wees my Trooster wanneer my hart breek. Wees my Helper wanneer die gevaar dreig. U was nog altyd bereid om te help in nood . . . wees bowenal my Gids wat my langs al die versoekings en gevare van die lewe veilig na my ewige bestemming lei.
Gedagte vir die dag | Donderdag 5 Augustus 2021
1 Kronieke 16:11. Soek hulp en beskerming by die Here, soek gedurig sy teenwoordigheid.
Ons is gedurig in ons gedagtes besig om probleme en uitdagings uit te sorteer. Net soos jy op ’n punt kom om vir die een probleem ’n oplossing te vind, is daar weer ’n nuwe een in sy plek. Waar sal jy vandag jou hulp vandaan kry? Of eerder, van waar sal jy antwoorde ontvang? Kinders en jongmense sal waarskynlik vinnig hulle selfone te voorskyn bring en op die internet begin rondsoek, of sommer vir “Siri” vra. Binne sekondes ontvang ’n mens dan ’n reeks opsies en antwoorde daar boonop nog gewoonlik ’n video ook wat ’n mens presies wys wat om te doen.
Toe Dawid as deel van ’n loflied hierdie teks gesing het, het hy iets anders in gedagte gehad as ’n paar antwoorde. Vir hom was dit belangrik om tyd in sy dag aan God te wy. Dit het in hom gedagtes en gevoelens na vore gebring wat gehelp het om besluite te neem. Ons eie uitkoms lê dus nie soseer om by die regte antwoorde uit te kom nie, maar om in ons soeke reg te begin: Soek hulp en beskerming by die Here, soek gedurig sy teenwoordigheid. Ons glo dat die Here dan self die pad verder met ons sal stap.
Gebed
Here daar is in hierdie tyd so baie dinge wat ek moet hanteer en besluite wat ek moet neem. Ek vertrou op my en ander mense se oordeel en probeer ingeligte besluite neem. Ek besef egter dat al hierdie dinge my net meer gespanne en onrustig maak. Daarom wil ek vanoggend, ja elke oggend eerder by U begin. U wat my hart en gedagtes deurgrond en in my gemoed rus en vrede bring. Wanneer ek dus nou tyd neem en hierdie dag se take en realiteite voor U kom lê bid ek Here dat U my insig gee oor wat om te doen en wat om te sê. Dankie dat ek hierdie dag met ’n verwagting kan ingaan.
Gedagte vir die dag | Woensdag 4 Augustus 2021
“Wat is die antwoord”
Prediker 11:6: “Hou aan met werk, moet nie net in die oggend saai nie, maar saai tot in die aand toe. Jy weet nooit wat jou werk gaan oplewer nie. Dit mag net ’n deel wees wat suksesvol is, of dit mag alles wees.”
Ek het hierdie verhaal weer raakgelees in my voorbereiding. Daar was eenmaal ’n koning wat met sy groot en sterk leër talle buurstate aangeval het en hulle by sy eie ryk ingelyf het. Later het hy egter besluit om nie verder uit te brei nie. Sy ryk was groot genoeg en hy het die leër opdrag gegee dat vrede en orde in die land gehandhaaf word.
Na ’n paar maande het die hoof van die leër saam met ’n paar senior offisiere die koning gaan spreek om te sê: “die soldate is verveeld en ongelukkig. Ons vra toestemming om nog ’n ander ryk, of land aan te val, ons wil oorgaan tot aksie.”
Die koning het belowe om die saak met sy persoonlike raadgewers te bespreek, en die raadgewers het die koning afgeraai om weer oorlog te maak. Die hele volk het rus nodig na jare se oorlog en bloedvergieting. Maar soos dit gaan met manne wat graag oorlog wil maak, het hulle die raad verwerp en toestemming gevra om by die hoofraadgewer sy wysheid te toets.
Die koning het ingestem en by die ontmoeting met die generaal sy hand uitgesteek en die wyse raadsman gevra. Wat het ek hier binne in my toe hand? Die raadsman het dadelik geantwoord: “’n voël?” Die generaal het sy volgende vraag gevra: Is dit ’n dooie of ’n lewendige voêl? Dit was ’n strikvraag, want as die raadsman sou sê dis ’n lewendige voel sou die generaal net sy hand oopmaak en die voël laat vlieg, maar as hy sou sê dis ’n dooie voël, sou hy die voël met sy hand vergruis en voor die raadsman se voete neergooi. Die wyse man het dit besef en geantwoord: “Waarom vra u dit vir my as u die antwoord in u hand het?” En dié antwoord het vrede vir die land verseker.
Die Here ook aan Moses gevra in Eksodus 4:2: “Wat het jy in jou hand?” Dit was ’n kierie wat ’n slang geword het.
Daar word baie in hierdie tyd gevra oor die toekoms van ons land, en ons kinders se toekoms binne die land. Ek het vandag oor die verskillende redes hoekom mense uit die land emigreer, gelees. Ons kan saam praat, baie van ons se kinders is ook al daar, ekself het ook kinders in die buiteland. Maar die antwoord oor hoe ons reageer en wat ons doen, lê in my en jou hande. Alleen as my en jou hand in God se hand kan rus, kan ons saam met Dawid sê: “Ek is veilig, want ons weet wat uiteindelik uit ons hande uitkom.”
Gebed
Here dankie dat ons veilig in u hand is. Wat ookal vir ons in die toekoms voorlê.
Amen.
Gedagte vir die dag | Dinsdag 3 Augustus 2021
“Die twee paaie”
2Korintiërs 6:2: “Luister nou mooi, dit is juis nou die tyd om mense te verwelkom wat na Hom toe kom. Vandag is die dag wat Hy mense wil red.”
Hier in ons huis het ek ’n tekening van die breë en smal weg wat ek seker langer as 40 jaar oud is. Iemand vertel my onlangs na aanleiding van die skets, dat sy pa baie sterk gevoel het oor bepaalde gedrag wat vir Sondae gegeld het en wat kinders spesifiek toegelaat was om te doen. Hy vertel hoe hy een Sondag ewe vrolik die liedjie Sarie-Marais gefluit het en toe is hy ernstig deur sy pa betig. Sy pa het hom toe aangesê om voor die skildery van die breë en smal weg, wat in hul gang gehang het, te gaan staan sodat hy homself kan vergewis van hoe hy hom op ’n Sondag moet gedra. Baie van julle wat hier luister, of lees sal die streng voorskrifte vir ’n mens se gedrag op Sondae kan onthou.
Die tekening hang in ons huis en die teologie is dalk nou so ’n bietjie omstrede, maar aan die linkerkant van die breë weg staan daar: “welkom, ryk van die wêreld, dood en verdoemenis”. En dan volg al die sondes waarmee jy op die pad te doene kan kry, asook al die gepaste Bybeltekste. Onder ’n deftige sambreel vlak by die poort, sit ’n paar opgewekte manne wat lekker sit en drink en dan daarby die waarskuwende woorde van Jesaja 5:21: “ellende wag vir die wat helde is by wyndrinkery, dapper by die meng van drank.”
Verder langs die breë weg is ’n tekening van ’n man wat ’n dier wreed doodslaan, ’n danssaal, ’n loterytafel, ’n skouburg en dan onder andere ’n trein wat in die Paarl gery het. Op die einde die vreeslike vuur en weegskaal wat verdoemend na die een kant toe oorhel. En aan die ander kant die van die tekening is die smal weg met God, die kerk, Sondagskool, ’n kinderhuis en dan later ’n kroon en die Godstad.
En dit is so, vandag glimlag ’n mens eintlik oor die vergelyking en die uitbeelding van die twee paaie. Miskien lyk die moraliteit en die toepassing daarvan en ’n hele paar ander dinge oor hoe ons die Bybel interpreteer vandag anders, maar een ding kan nie verander nie, daar is ’n breë pad, en daar is ’n smaller pad.
Elkeen van ons moet ons elke dag posisioneer en vra: “Op watter pad bevind ek my?” Matteus 7:13-14. Gelukkig is daar langs die smal pad van die tekening, een afbeelding wat nie verander nie – die kruis. Die simbool van die Christelike kerk. Die kruis van Jesus. Dit is die baken van ons pad. Kom ons maak seker, dat hierdie baken elke dag op ons pad staan.
Gebed:
Ons dank u vir Jesus Christus, wat ons kan rig, deur Sy gees in ons lewe. Amen.
Gedagte vir die dag | Maandag 2 Augustus 2021
“Ek kom niks kort nie”
Psalm 16:5. Here, u is my erfenis en u red my. U is die deel wat ek vir altyd gekry het. Ons sluit ook af met die baie bekende Psalm 23.
’n Werker vanuit Zimbabwe wat tans hier in Suid-Afrika werk, vertel van die kroniese gebrek aan baie voedselsoorte, kos en gebruiksmiddels in daardie land. Hy noem die een woord wat ’n mens baie in sy land hoor is “hapana” wat beteken daar is niks, of nothing. Beteken dit dat die voorrade bloot opgeraak het? Nee, sê die persoon, dit het gewoonlik beteken dat daar niks was en nogsteeds niks is nie.
“Hapana, hapana!” daar is niks, nothing. Dit moet vreeslik wees om dit gedurig te hoor. Ek dink dis die ervaring wat mense nou in Kwazulu-Natal ook gehad het. “Napana,” is weer die Shona woord wat beteken dat daar niks is nie.
En hoe bemoedigend klink Dawid se woorde dan in Psalm 23:1: “Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.” Die gevaar is dat ’n mens Dawid se woorde vergeestelik en dink dit het net met hemelse dinge te doen. Dit gaan egter vir hom ook oor die daaglikse, noodsaaklike behoeftes en daarvan getuig hy, God sorg vir hom. Hy sê daar is niks wat hy kort nie. Hy sê nie daar is vir my niks beskikbaar nie, in teendeel, ek kom niks kort nie.
Dawid maak staat op sy hemelse Vader. Maar onthou ook dat God vandag na herders op aarde soek, mense wat as werktuie van sy hand kan omsien na die deel van sy kudde wat weens omstandighede moet hoor: “daar is niks vir jou nie, nie kos, klere of werk nie, of niks waaraan jy tekort kan skiet nie.”
Daarom is dit ’n wonderlike voorreg om ook ’n voorsiener vir jou huisgesin te kan wees, of om vir ander werk te gee. Of byvoorbeeld iemand wat in die onderwys staan en wat leerders met kennis kan toerus wat vir hulle in bepaalde omstandighede van waarde kan wees.
Ek lees van ’n voordrag kunstenaar wat gereeld oor Psalm 23 in sy optredes gepraat het. Nadat hy dit een aand gedoen het, het hy gevra of daar miskien iemand in die gehoor is wat ook die Psalm ken. ’n Gryse ou vader het navore gekom en met ’n bewende stem begin sê: “Die Here is my Herder.” Aan die einde van die Psalm was die hele gehoor diep geroer en die kunstenaar het verklaar: “u sien, ek ken die Psalm, maar ek ken ook die Herder.” Mag jy Hom ook so ken, en deel in sy oorvloed om niks te kort nie. Om nie “hapana” die Shona-woord hoef te sê nie, maar om te sê: “ek kom niks kort nie, ek het genoeg in oorvloed.”
Gebed
Here dankie vir die oorvloed, ja die geestelike om aan u te behoort. Maar eerstens vir die oorvloed dat U so baie vir ons gee. Help dat ons u seëninge in ons lewe sal raaksien en waardeer, maar boonop om aan U te kan behoort.
Amen.