Gedagte vir die dag | Saterdag 21 Augustus 2021
Ek wil graag vanoggend vir julle ’n gebed lees wat ’n verwerking is van Frieda van den Heever. Dit is ’n verwerking van ’n antieke teks en ’n ou Psalm in die Bybel.
Ontvang vanoggend hierdie woorde en mag dit vir jou troos bied.
Al sou die foon nie lui nie en die werk nie meer instroom nie
Al sou my kar se tenk al lankal sonder petrol wees
Al sou ek voel of ek almal teleurstel
en al die spieëls in woonstel afhaal dat ek net nie myself in die gesig hoef te staar nie
Al kyk ek op na die berge en wonder waar die ou se hulp dan vandaan gekom het
of het hy sommer gepraat
Al is my vertroue in als wat regeer verskeur en ek is moeg baklei en ek is seer probeer
Nogtans sal ek . . . nogtans sal ek . . . my op God verlaat
Al sou ek een salaris van die straat af wees en ek vir my kinders se toekoms vrees
en ek lankal nie meer die tekens van die tyd kan lees nie
Al sou ek niks meer besit en niks meer beheer
en die wie’s-wie my ignoreer en soos ‘n vreemdeling agter ‘n masker voel
Al is my laaste vertroue in als wat regeer verskeur
en ek is siek van stilbly, ek wil rebelleer
Nogtans sal ek in die Here juig
in Liefde wat bloei en bind en buig
al is dit al wat ek het
Die Here my God gee my krag
Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok
op hoë plekke laat Hy my veilig loop
Sy liefde fluister diep in my
dit is wel, dit is wel
al voel dit nou soos hel, nogtans is dit wel.
Gedagte vir die dag | Vrydag 20 Augustus 2021
Ek lees graag vir julle ’n baie ou gebed. Mag jy hierdie gebed ontvang as jou eie en terwyl jy oor die woorde reflekteer, vashou aan die troos dat God op somtyds onopmerklike wyses in ons lewe teenwoordig is. Waar ons ookal gaan, en watookal met ons gebeur.
Psalm 139:1-12
Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit,
U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.
Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend.
Daar is nog nie ‘n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees.
U omsluit my van alle kante, U neem my in besit.
Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.
Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug?
Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?
Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.
Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste,
ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas.
Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander,
maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig.
Gedagte vir die dag | Donderdag 19 Augustus 2021
Iemand het onlangs hierdie wysheid neer geskryf: “This moment that humanity is living through can be considered a door or a hole. The decision to fall into the hole or go through the door is yours”.
Dis vir baie van ons moeilik om nie deur al die uitdagings en verliese, wat ons tans beleef, oorweldig te word nie. Miskien kan hierdie wysheid ons help om hierdeur te navigeer. Want wanneer ons kies om 24 uur per dag konstant negatiewe informasie te absorbeer, wat ons heeltyd angstig en pessimisties maak, dis dan wanneer ons in hierdie gat sal val. Indien ons eerder hierdie tyd gebruik om weer opnuut na onsself te kyk, oor die lewe en die dood na te dink, en na ons self en ander om te sien, raak hierdie tydperk in ons geskiedenis ’n deur waardeur ons kan stap.
Ek dink ons moet onsself gereeld hieraan herinner. Want as ons kies om deur die deur te stap, kies ons om ons vrees en ons angstigheid en ongemak in die oë te kyk. Ek dink dit is dan wanneer ons anders na die wêreld om ons begin kyk.
Die eerste gelowiges het geglo dit is klein geloofsgewoontes wat ons hiermee kan help. Sien om na jouself en die mense om jou. Wees sagter met almal rondom jou want vir almal van ons, is hierdie nou ’n vreemde en nuwe omgewing. Neem tyd om daagliks vir ’n paar minute net te sit en diep asem te haal. Net dit, totdat jou lyf begin ontspan. Bel mense, stuur boodskappe en vra hoe dit gaan. Ons almal is uitgehonger vir kontak met ander, dalk omdat ons almal so ontsaglik gedaan is. Maak ’n punt daarvan om meer bewustelik deur jou dag te gaan en so die Heilige rondom ons te ervaar.
Skeppergod
Maak my wakker sodat ek kan opstaan om U te ontmoet soos wat elke gewone dag ook opstaan om die sonsopkoms tegemoet te kom.
Amen
Gedagte vir die dag | Woensdag 18 Augustus 2021
Lukas 1: 26-38. 6In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na ‘n maagd in Nasaret, ‘n dorp in Galilea. 27Sy was verloof aan Josef, ‘n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria. 28Toe die engel by haar kom, sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.” 29Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken. 30Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. 31Jy sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. 32Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, 33en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.” 34Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met ‘n man gehad het nie?” 35Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God. 36Kyk, ‘n bloedverwant van jou, Elisabet, het in haar ouderdom self ook ‘n seun ontvang, en sy wat as onvrugbaar bekend was, is nou al in haar sesde maand. 37Niks is vir God onmoontlik nie.” 38Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” Toe het die engel van haar af weggegaan.
Ons gesels die afgelope paar weke in ons preekreeks oor wat dit beteken om in geloof te groei en om deur God gevorm te word en te verander. As Frederick Buechner, ’n bekende teoloog skryf oor Maria, die ma van Jesus, speel hy met die gedagte dat Maria dalk nie die eerste vrou was, na wie God, Gabriel gestuur het met die boodskap nie – sy was dalk net die een wat ja geantwoord het. Soms kan ons hele wêreld deur ons keuse van ’n antwoord verander word. Min van ons sal ooit ’n antwoord hoef te gee op ’n boodskap van Gabriel, maar almal van ons word wel daagliks uitgenooi om ja te se vir liefde, ja vir vergifnis, ja vir die hoop wat in ons leef en ja vir waarheen God ons roep.
Ek dink om ja te sê, skep soms ’n ruimte waarbinne ons die meeste gevorm word, groei en verander. Dit was ook waar vir Maria op al die draaie van haar lewe. Sy herinner ons dat groei soms beteken om ook ja te sê vir die volgende tree in jou lewe, vir die groot goed maar ook vir die klaarblyklike alledaagse normale dinge. Maria se lewe herinner ons dat om ja te sê vir waarheen God ons roep, is om te vertrou dat God alreeds aan die ander kant van die antwoord vir ons wag. Daarom kon Maria dit elke keer waag om ja te antwoord. Sy het dit gewaag om die volgende tree in haar lewe te neem want sy het geglo dat God alreeds daar was. Dit was vir haar ’n troos.
Mag dit ook ’n troos wees waaraan jy vashou soos jy die volgende tree in jou lewe neem.
Gedagte vir die dag | Dinsdag 17 Augustus 2021
Gebed en bepeinsing:
Gebed moet iets MET ons doen en nie iets VIR ons doen nie. Ons het in die afgelope week saam gedink oor wat gebed in hierdie tyd vir ons beteken. Die Anglikaanse priester Richard Rohr het gesê dat gebed is vir hom die grootste vorm van bepeinsing. Gebed moet nie noodwendig vir ons iets gee nie, maar ons lei om te besef wie en wat ons moet wees. In hierdie tyd, waar ons God dikwels vra om ons van Covid-19 te genees asook ’n hele aantal ander dinge in die wêreld te herstel moet ons besef dat God ons gebruik om die verandering te bring.
Ons moet in hierdie tyd dink oor hoe ons moet verander sodat ons self die antwoorde op ons gebede kan word.
In die Onse Vader het Jesus vir ons kom wys dat gebed nie moet gaan oor iets wat in die hemel gebeur nie, maar eerder iets wat hier aan die gebeur is.
Matteus 6:9-14.
9“So moet julle bid: “Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word;
10laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.
11Gee ons vandag ons daaglikse brood;
12en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;
13en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.
14“As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. 15Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”
Wanneer Jesus vir ons leer om te bid, leer Hy ons dat dit nie net oor die hemel gaan nie, maar oor die koninkryk wat hier gebeur. Gee ons, ons daaglikse brood, so sê Jesus vir ons gebed gaan nie oor vra vir meer nie, maar eerder om hier te leef met wat jy nou nodig het. Jesus leer vir ons dat ons moet vergewe soos ons vergewe word en dat ons iets moet doen uit gebed en nie net moet terug sit en wag nie.
Gebed is om te bepeins oor dit wat ons kan doen sodat ons God se hande en voete kan wees.
Mag jy in hierdie tyd nie sit en wag vir gebed om iets vir jou te doen nie, maar mag jy toelaat dat gebed iets met jou sal doen sodat jy ’n verskil kan maak.
Kom ons bid saam:
Here mag ons u hande en voete wees, mag ons in hierdie tyd die verskil wees wat U in die wêreld wil sien. Ons bid Here dat gebed ons sal lei na verandering sodat ons die wêreld kan herstel.
Gedagte vir die dag | Maandag 16 Augustus 2021
Gebed en Woorde:
Verskeie vertalings wys vir ons dat Jesus vir 40 dae en nagte gebid het toe Hy in die woestyn beweeg het en deur die duiwel versoek is. Die vraag is het Jesus vir 40 dae en nagte woorde gebruik om te bid, of is gebed iets anders?
Ons is van kleins af geleer dat gebed net in die vorm van woorde gedoen kan word. Die Anglikaanse priester en skrywer Richard Rohr het egter gebed as ’n staat van bewustheid beskryf. Toe Jesus in die woestyn beweeg het, was sy gebede nie net woorde nie, maar hy het in ’n staat van bewustheid beweeg.
Matteus 4:1-11
Die versoeking in die woestyn (Mark. 1:12-13; Luk. 4:1-13)
1Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word. 2Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie en naderhand het Hy honger geword.
3Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: “As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.”
4Maar Hy antwoord: “Daar staan geskrywe: “’n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.”
5Daarna neem die duiwel Hom na die heilige stad toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan 6en sê vir Hom: “As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe: “Hy sal sy engele oor jou opdrag gee en: “Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ‘n klip sal stamp nie.”
7Jesus sê vir hom: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.”
8Toe neem die duiwel Hom na ‘n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag 9en sê vir Hom: “Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid.”
10Maar Jesus sê vir hom: “Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.”
11Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar het engele gekom en Hom versorg.
Die versoeker versoek Jesus, maar Hy word nie deur die versoekings beïnvloed nie. Juis omdat Hy in ’n staat van bewustheid met God leef. Dit is omdat Jesus bewus is van wie Hy is en wie God is, dat hy nie ingee nie. Wat beteken dit om in ’n staat van bewustheid te bid? Dit beteken dat gebed meer moet wees as woorde. Die mense waarmee jy in aanraking kom vandag is deel van die gebed, die gesprek wat vandag by die werk het is ook gebed. Die gedagtes wat jy het as jy die nuus lees is gebed. Dit beteken dat enige sekulêre nuus of gebeure deel van ons verhouding met God kan wees. Ons moet bewus wees dat alles deel is van ons gebede, nie net ons woorde nie. Mag jy bid soos Jesus bid, in ’n staat van bewustheid.
Kom ons bid saam:
Here, ons wil vanoggend daarvan bewus word dat U deel is van ons hele lewe. Ons wil vandag in gebed leef – gebed wat nie net woorde is nie, maar gebed wat deel is van alles wat ons doen. Mag ons vandag bewus wees van U teenwoordigheid.
Amen.
Gedagte vir die dag | Sondag 15 Augustus 2021
Gebed en vra:
As kind het ek altyd gebid: “Here dankie vir die lekker dag, MAAR kan ek asseblief môre die volgende kry . . .” Die idee van vra en jy sal kry is al vir jare deel van ons gebedslewe. Is dit nie interessant hoe ons God vra om vir ons iets te doen nie, maar in dieselfde asem glo ons tog dat God reeds weet wat ons nodig het. Die vraag is dan: Waarom moet ons enigsins bid en vir iets vra as God reeds weet wat ons nodig het?
In die res van Psalm 22 hou David aan om te kla en dit neem hom 20 verse om vir God een ding te vra, naamlik: “Red my”. Dit blyk vir Dawid belangriker te wees om te praat oor wat hy beleef as om vir God te vra om vir hom iets te doen.
Psalm 22:12-22
“12Moet tog nie so ver van my af weg bly nie, want die nood is naby en daar is niemand wat help nie.
13’n Wreedaardige klomp mense het my omsingel, soos beeste uit Basan staan hulle my toe.
14Soos verskeurende, brullende leeus storm hulle met oop bekke op my af.
15Ek is soos uitgestorte water, al my bene het uitmekaar geval, my hart het soos was geword, dit smelt weg in my.
16Ek is so min werd soos ‘n potskerf, my tong kleef aan my verhemelte, U laat lê my asof ek dood is.
17Soos honde omsingel hulle my, die bende misdadigers sak op my toe, hulle bind my hande en voete vas.
18Al wat been in my is, kan ek tel; hulle kyk na my met leedvermaak.
19Hulle verdeel my klere onder mekaar en trek lootjies oor my mantel.
20En U, Here – moet tog nie so ver bly nie, Bron van my krag, help my tog gou!
21Red my van die swaard, my kosbare lewe uit die mag van die honde.
22Red my uit die bek van die leeu en tussen die horings van die wilde beeste uit.”
Gebed vir Dawid is duidelik nie daar om vir God te vra vir ’n beter werk, beter omstandighede of ’n beter lewe nie. Gebed is daar om ons te dwing tot introspeksie sodat ons sal begin nadink waarom ons vir God vra wat ons vra.
In hierdie tyd kan jy dink oor die goed wat jy vir God vra? Dalk is dit vrae waarop jy reeds die antwoorde het, of kan jy gebed gebruik om die antwoord te ontdek.
Mag gebed vir jou die ontdekkingsreis op jou vrae wees, soos dit vir die antieke mense was.
Kom ons bid saam:
Here ons bring in hierdie tyd ons diepste vrae en onsekerheid na U toe, nie om noodwendig die antwoord te ontvang nie, maar om dit te ontdek. Dankie dat U die God is wat saam met ons werk eerder as die God wat ons beheer. Amen.
Gedagte vir die dag | Saterdag 14 Augustus 2021
Gebed en klagtes:
Op 13 April 2005 het die bestuur van Continental Airlines in Amerika ’n brief in die stoel genommerd 29E ontdek. Die brief het ’n klomp klagtes rakende die spesifieke stoel waarin die passasier gesit het, bevat. Die skrywer het vir die personeel verduidelik dat die stoel te naby aan die badkamer is en dat al sy sintuie tydens die vlug gemartel is. Hy het ’n drie bladsy lange klagtebrief geskryf met een sin aan die onderkant: “Skrap asseblief stoel 29E vanaf die vlug ter wille van die mensdom”.
Toe ek hierdie brief van die stoel 29 E lees het ek besef dat ons gebede selde soos hierdie brief lyk. Ons persepsie van gebed bly dat ons nie behoort te kla nie, baie keer sê ons vir mekaar ons mag nie kla nie want dinge kon erger wees as wat dit tans is. In Psalm 22 lees ons hoe Dawid kla, hierdie gebed is geskryf om soos ’n lied gesing te word deur gelowiges in die tempel. Dit is interessant om te dink dat die antieke mense het klagtes as ’n gebed beskou.
Psalm 22:1-9
“1Vir die koorleier: op die wysie van “Die wildsbok van die daeraad”. ‘n Psalm van Dawid.
2My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep?
3My God, ek roep bedags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie.
4U is tog die Heilige wat woon waar die lofsange van Israel weerklink!
5Op U het ons voorvaders vertrou. Hulle het vertrou en U het hulle gered.
6Hulle het na U om hulp geroep en hulle is bevry; op U het hulle vertrou en hulle is nie beskaam nie.
7Maar ek is ‘n wurm, nie ‘n mens nie. Ek word deur die mense bespot en deur die volk verag.
8Almal wat my sien, spot my, hulle steek vir my tong uit en knik met voldoening die kop en sê:
9“Laat dit aan die Here oor! Laat Hý hom red, laat Hý hom bevry as Hy dan so baie van hom hou.”
Meeste van Psalm 22 is klagtes van Dawid, soos wanneer Dawid vir God vra waarom Hy hom verlaat het, is hy besig om oor sy situasie te kla. Hy is besig om die sleg van wat hy beleef in die vorm van ’n gebed op die tafel te plaas. Dit is hierdie klagtes wat Dawid se persepsie dan later in die Psalm verander. Dit is vir my interessant dat ons nie meer gebede as klagtes gebruik nie en dit het moontlik vanuit die persepsie dat ons dink dat God reeds weet wat ons nodig het, ontstaan. Om net te sit en kla gaan volgens ons dus nie help nie. Dawid wys vir ons dat gebed ook klagtes kan wees. Om te kla help ons om ons persepsies te skuif en te verander.
Kom ons bid saam:
Here, dankie dat ons deur hierdie Psalm kan sien dat ons ongelukkig mag wees oor die slegte goed wat met ons gebeur, maar ook dat ons besef dat ons met U oor hierdie goed kan en mag praat. Here ons bid dat ons oop sal wees oor die goed wat ons pla sodat ons kan skuif in ons persepsies.
Amen.
Gedagte vir die dag | Vrydag 13 Augustus 2021
Gebed en trots:
Ons almal ken die bekende gedeelte uit Spreuke 16:18: “Op hoogmoed volg ondergang, op selfverheffing volg die val.” Ek dink die mensdom sukkel baie met selftrots. Op sekere gebiede is ons so trots dat ons eerder sal voortgaan om argumente te ondersteun, selfs al glo ons nie meer daarin nie, net omdat ons nie bereid is om om te draai en sê: “Ek was verkeerd nie”.
Toe ek Kaap in 2015 Kaap toe verhuis het, het ek iemand raakgeloop wat ek as 15-jarige kind laas gesien het. Die betrokke persoon het baie sterk opinies oor ras en geregtigheid gehad. Dit was vir my interessant om te sien hoe die wêreld om ons verander het, maar dat die persoon se denke en persepsies onveranderd gebly het. Ek dink dit is juis omdat so ’n persoon te trots is om te erken dat sy/haar denke tog wel geskuif het. Sulke stereotipiese denke sien ‘n mens dikwels in ons eie geloofstradisies.
In Psalm 3 sien ons hoe Dawid vlug van sy seun, maar in Samuel 1 en 2 lees ons ook hoe Dawid die pad as koning byster geraak het. Die verhaal met Batseba is een waar die Koning faal en vir ons wys hoe feilbaar hy is. Dit is hier waar hy aan die vlug is en hy besef dat hy sy trots in sy sak moet steek. Die Hebreeuse woord vir eer/gewig is “Kavod”. Dawid het sy eer verloor deur die foute wat hy gemaak het en vir Dawid het eer by homself gelê – in dit wat hy doen en wat hy ontvang. In die Psalm bid Dawid dan tot God en gee die eer aan God terug.
Psalm 3:1-9
1’n Psalm van Dawid toe hy vir sy seun Absalom gevlug het.
2Ek het so baie vyande, Here! Baie kom in opstand teen my.
3Daar is talle wat van my sê: “Van God kom daar vir hom geen hulp nie!” Sela
4Maar U, Here, beskerm my aan alle kante, U herstel my eer en aansien.
5As ek na die Here roep, antwoord Hy my van sy heilige berg af. Sela
6As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my.
7Ek is nie bang vir tienduisende mense wat van alle kante af op my toesak nie.
8Kom tog, Here, help my, my God! U het nog altyd my vyande se mag verbreek, U het die aanval van die goddeloses afgeslaan.
9Hulp kom net van die Here af. U laat dit goed gaan met u volk.
In die gebed sien ons hoe Dawid vir God sê dat die mense hom as iemand beskou wat sy eer verloor het. Hulle sien selfs nie eers meer dat God hom help nie. Maar dit is in die woorde van vers 4 waar ons sien hoe Dawid besef waar sy eer vandaan kom: “ 4Maar U, Here, beskerm my aan alle kante, U herstel my eer en aansien.” Die Hebreeuse woord Kavod word hier gebruik om te sê dat Dawid se Kavod (gewig en eer) is nie meer afhanklik van homself nie maar van God.
Eerlike gebed gebeur nie wanneer ons nie ons trots kan sluk nie. Ons moet bereid wees om te sê: “ek was/is verkeerd”. Dit is gebed sonder trots wat vir ons help om verandering te bring in die omstandighede waarbinne ons is.
Kom ons bid saam:
Here, mag ons soos Dawid bereid wees om ons trots te laat vaar. Mag ons verander in so manier dat die wêreld ’n beter plek raak. Dankie vir u liefde en genade, dankie dat U ons beskerm van alle kante en ons eer herstel.
Gedagte vir die dag | Donderdag 12 Augustus 2021
Gebed en emosie:
Dit is soms snaaks om te dink hoe die wêreld al verander het. Toe ek ’n kind was het ’n mens nie jou feilbaarheid en emosies op jou mou gedra nie. Ons het as jong seuns baie vir mekaar gesê dat om emosioneel te raak is ’n bewys van swakheid. Toe my pa oorlede is, het ek my trane terug gehou en net in my kamer probeer huil, want ’n mens moes vir die wêreld wys dat jy sterk is. Hoe het die wêreld nie al verander nie?
Vandag leef ons met die uitdaging om vir ons kinders te leer om emosionele volwassenheid te bereik. Dit is soms ’n uitdaging indien ons nie self geleer het wat dit beteken om jou emosies wat op die oppervlak lê, te hanteer en konfronteer nie. Die Psalms bly vir my een van my gunsteling Bybelboeke. In die boeke het die skrywers emosies in die middel van ons gebedslewe geplaas. Dit was amper asof die Psalmskrywers vir ons wou sê: Gebed gebeur nie sonder emosie nie. Psalm 3 is een van die gebede wat met die lewe van Dawid verbind word. As ’n mens 1 en 2 Samuel lees sal jy sien hoe Dawid se lewe gelyk het en hoe die konteks lyk waarbinne hy gebid het.
Psalm 3 begin deur vir ons te vertel dat Dawid besig is om te vlug van sy seun, Absalom. Absalom wou vir Dawid as Koning vervang en het reeds baie ondersteuning ontvang. Dawid vlug en is bang, hy vrees vir sy lewe en sy identiteit. Dawid bid dus uit ’n plek vol emosie, waar hy eerlik is oor wat hy voel en waar hy is. En dit is waar hy die Here se beskerming ontdek.
Psalm 3:1-5
“1’n Psalm van Dawid toe hy vir sy seun Absalom gevlug het.
2Ek het so baie vyande, Here! Baie kom in opstand teen my.
3Daar is talle wat van my sê: “Van God kom daar vir hom geen hulp nie!” Sela
4Maar U, Here, beskerm my aan alle kante, U herstel my eer en aansien.
5As ek na die Here roep, antwoord Hy my van sy heilige berg af.”
Dawid spreek sy vrees vir sy vyande eerlik uit. Gebed moet nie iets wees waar ons net woorde sê om dit te sê nie. Gebed moet vir ons ’n stukke eerlikheid oor onsself – waar ons is en hoe ons is – gee. Dit is in hierdie rou emosionele gebed waar Dawid weer vir God ontdek. Dit is juis omdat Dawid sy emosie van vrees identifiseer dat hy sien dat God wel by Hom is.
Mag jy in hierdie tyd met emosie bid – nie om jou bekommernisse en vrese weg te steek nie, maar om dit voor God te bring sodat jy God daarin kan sien.
Kom ons bid saam:
Here, ons is bang en onseker. Ons weet nie waarheen U in hierdie tyd met met ons en ons land op pad is nie. Here, maar ons weet dat U ook met ons werk te midde van ons vrees en angs. Mag U ons in hierdie tyd gebruik om die verskil te wees te midde van die onsekerheid.
Amen.