Gedagte vir die dag | Dinsdag 31 Augustus 2021
Ek wil graag vandag met ‘n storietjie wat ek onlangs gelees het begin. Julle is welkom om dit met veral kinders te deel, wat dit waarskynlik baie sal geniet en daardeur kan leer.
Daar word vertel dat twee jong paddas op ’n dag in ’n groot emmer met melk geval het. Altwee het dadelik begin om verwoed te spring om hul vryheid te bekom, maar die kante van die emmer was baie hoog en daar was geen vastrapplek vir hulle om van te spring nie. Terwyl hulle gespring het, het die een padda ewe skielik tou opgegooi omdat daar geen ander moontlikheid sigbaar was dat hulle uit die melk kan ontsnap na vryheid toe nie. Na ’n rukkie het die arme padda opgehou spring en stadig aan tot by die bodem van die emmer gesak en verdrink. Die tweede padda het eintlik ook nie ’n uitkoms uit die krisis gesien nie, maar het steeds aanhou spring en aanhou spring! Met elke sprong het dit gelyk asof hy amper bo uitgekom het, maar hy kon net nie die rand van die emmer bereik nie. Hy het egter aangehou om te sukkel en volhardend te spring. Uiteindelik, deur al sy volharding en vasbyt, het die melk geleidelik in botter verander, van al die beweging in die emmer. Skielik het hy (of dalk sy!) vastrapplek op die harde botter gekry en het hy daarin geslaag om uit hierdie emmer bevry te word.
Dit gaan oor vasbyt! Dit gaan oor aanhou en aanhou! Soos Winston Churchill ook gesê het: “Never, never, never give up!”
Paulus het vir ons ’n goeie voorbeeld gestel om so aan te hou, uit te hou en vas te byt ongeag die moeilikste omstandighede. Daarom kan hy aan die einde van sy lewe die volgende bekende verse skryf: 2 Timoteus 4: 6-8: “Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur. Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig enduit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.”
Paulus het aangehou en aangehou tot by die punt wat hy aan die einde van sy lewensreis kan getuig: “Ek het die goeie wedloop afgelê.” Ek het gelowig, enduit, volgehou! Ek het volhard.
Vriende, soos die padda in die emmer wat aangehou het ongeag die dreigende gevaar, soos Winston Churchill mense aangemoedig het om nie op te hou, of moed op te gee nie, en met Paulus se voorbeeld: Kom ons volhard! Kom ons druk deur midde-in ons moeilike omstandighede, wetende dit is God wat ons die krag daarvoor gee. Sodat ons uiteindelik ook soos Paulus kan getuig: “Ek het end-uit, gelowig volgehou!”. Ook wat ons geloofslewe en ons betrokkenheid betref – laat ons nie ophou nie, laat ons gelowig volhou.
“Bly volhard soos atlete, dis God wat ons wedloop bepaal”
Gebed
Here, met U aan ons sy, sal ons volhard!
Amen
Gedagte vir die dag | Maandag 30 Augustus 2021
2 Petrus 1:5-7: “En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.”
Ek wil vandag die vrymoedigheid neem om iets persoonlik met julle te deel. Vandag 30 Augustus 2021, is dit my en Zandra se 41ste huweliksherdenking. Op 30 Aug 1980 het ons in Krugersdorp die knoop deurgehaak. Dit was die eerste treë van ’n huwelikreis en ’n saamloop van 41 jaar lank. Dit was nie sonder moeite en baie sakke sout wat ons saam moes eet nie. Alhoewel dit ’n opwindende reis was waaroor ons die Here baie dankbaar is, moes ons verseker ook self deur ’n paar uitdagings gewerk het. Met elke uitdaging – hetsy finansieel, of kinders se eie uitdagings, het ons besef dit is soos ’n lang wedloop waarmee ons besig is. Daar was geen moontlikheid dat ons kon tou opgooi nie, want ons het geweet ons het onsself verbind aan ’n lewenslange reis.
Gedurende die lewensreis het ons aan ’n paar waardes vasgehou, wat vir ons ook gehelp het om saam met mekaar vas te byt, maar ook met die uitdagings wat oor ons pad gekom het.
Dit is die waardes wat uitgespel word in die teksgedeelte van 2 Petrus, wat deurgaans vir ons gehelp het om deur te druk en vas te byt en te kom tot waar ons nou is. In die gemeente het ons die afgelope jaar al dikwels by hierdie teksgedeelte stil gestaan, en ons kan dit maar net weer herhaal as die waardes wat vir ons, en ek glo vir so baie ander, deur moeilike tye gedra het. Petrus sê ons moet alles in die stryd werp, om ons geloof met deugsaamheid te verryk. Die waarde van geloof in mekaar, in ons omgewing, in ons familie en in ons land, maar veral ook in God, wat met deugsaamheid, kennis insig en oortuiging verryk moet word. Hierdie insig en oortuiging moet met selfbeheersing verryk word. Selfbeheersing op alle vlakke, hetsy finansieel of talle aspekte van die huwelik, moet verryk word met volharding. Volharding is die sleutelwoord in lewenslange verbintenisse soos die huwelik. Petrus sê dat hierdie volharding dan verryk moet word met Godsvrug, en Godsvrug met liefde.
Waar daar vasgehou word aan hierdie paar waardes, raak die grootste uitdaging die geleentheid om daardeur te groei. Mag dit ook vir jou help in alle aspekte van jou lewe, ook in die moeilike tye, soos jy daaraan vas hou.
Gebed
Here, dankie dat U vir ons vashouplekke gee wat ons deur die lewe dra, die geloofslewe, en ons huweliksreis.
Amen.
Gedagte vir die dag | Sondag 29 Augustus 2021
Romeine 5:3-5: “Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”
Ons het gister stilgestaan by die teksvers in Jakobus oor volharding. Daaruit het dit duidelik geblyk dat uitdagende situasies, swaarkry en lyding tog ’n vreemde uitkoms kan lewer. Dit is soos loutering wat plaasvind wanneer ek dit die minste verwag. Elkeen van ons het waarskynlik ’n verhaaltjie oor hoe ons by moeilike omstandighede baat gevind het sonder dat ons dit noodwendig agtergekom het. Dit was soos ’n slypingsproses van my persoonlikheid, my karakter, maar veral ook van my geloof.
By verskeie plekke in die Bybel word die woord “loutering” gebruik. Daar word dan verwys na vuur wat goud of silwer kan louter. Dit moet juis deur die vuur gaan, om suiwer aan die anderkant uit te kom. Steve Green, ’n bekende gospelsanger, het ’n baie bekende lied geskryf met die titel: “The Refiner’s fire.” Daarin verwys hy ook na hierdie vuur van loutering waardeur ons gaan, en dan uiteindelik ook die positiewe, vreemde gevolg wat dit in ons lewens kan hê. Hoe dit ons as’t ware kan suiwer tot iets beter as voor die vuur. Die koor gedeelte van die lied van Green is soos volg: “The Refiner’s fire has now become my soul desire. Parched and cleansed, and purified, that the Lord be glorified. He is consuming my soul, refining me, making me whole, no matter what I loose.”
Paulus, soos Jakobus sien dit ook in, en weet dat die vasbyt, die volharding midde in die moeilikste omstandighede, bring iets suiwer en mooi na vore. Die teksgedeelte van vandag stel dit baie duidelik: “Ons verheug ons in swaarkry, (sjoe kan dit moontlik wees?!), want ons weet, swaarkry kweek volharding. En volharding kweek egtheid van geloof. Dit het ’n uitwerking op die kwaliteit en egtheid van ons geloof. Dit suiwer dit uit. Dit maak dit baie gefokus. Dan nog die wonderlike uitkoms uit hierdie gesuiwerde geloof: Paulus sê: “en hierdie egte(gelouterde) geloof, dit is wat hoop in ons kweek.”
Vriende, kom ons hoor dit en hou opnuut daaraan vas. Dit is nie lekker om swaar te kry nie! Dit is nie lekker om deur ’n klomp uitdagings en negatiewe goed te werk nie. Maar kom ons soek die positiewe daarin deur te ervaar hoe dit ’n impak op ons geloof het en hoe ons gesuiwerde geloof, ook hoop kan bring!
Gebed
Here, ons dank u vir die moeilike tye. Help ons om in dit alles te besef dat U besig is met ons, dat ons geloof gelouter word om vir ons die hoop te bring.
Amen.
Gedagte vir die dag | Saterdag 28 Augustus 2021
Jakobus 1:2-4: “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, 3want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. 4En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.”
Ek het alreeds voorheen gedeel oor hoe ek as ’n jong hoërskoolseun ’n wonderlike geestelike verdieping by ’n CSV-kamp aan die Natalse Suidkus ondergaan het. Met groot opwinding het ek terug gegaan skool toe en was ek dadelik weer gekonfronteer met allerlei situasies wat my nuutgevonde geloofsverdieping uitgedaag het. Ek onthou dat ek destyds dadelik begin het met Bybelstudie uit hierdie brief waaruit ons vandag gelees het. Jakobus was toe vir my ’n inspirasie, veral deur hierdie eerste verse van hierdie baie spesiale brief.
Dit het my uitgedaag om deur ’n klomp versoekings en beproewings te werk, om uiteindelik te volhard in hierdie koers wat ek met my geloofslewe ingeslaan het. Ek het tot die wonderlike ontdekking gekom, soos vers 2 sê: dat ek eintlik bly moet wees as allerlei beproewinge na my kom, want, as my geloof die toets weerstaan het, stel dit my in staat om te volhard. Gewoon dit: Ek het op ’n vroeë leeftyd agtergekom dat my geloofslewe nie net “plain sailing”, of ’n gemaklike reis, sal wees nie.
As jong gelowige sou ek uitgedaag word om hierdie geloofspad te verlaat, om toe te gee aan versoekings en aan te pas by dinge wat nie reg is nie. Jakobus het dit op my en ek glo op jou hart kom druk dat my volgelingskap van Jesus Christus met die kruisdra gepaard gaan. Dat ek moet volhard, aanhou en vasbyt want die resultaat daarvan, soos Jakobus en die teksgedeelte sê, is dat ek daardeur tot volle geestelike rypheid sal ontwikkel. Dat my bene sterker in die geloof sal raak.
Vriende, ons volharding bring twee interessante aspekte navore soos ons hier lees: Dit help ons om in die moeilike tye tog onsself te kan verbly, om baie bly te wees wanneer beproewinge oor my pad kom. Maar dit leer ook vir my dat die swaarkry en die struikelblokke my help om my bene te versterk en dat volharding my help om geestelike rypheid te bereik.
Gebed
Here, dit is nie maklik om dit te sê nie, maar ek wil U tog dank vir die beproewinge wat oor my pad kom, wat ek weet dit lei my na ‘n verdieping van my geloof. Help my om daagliks midde-in my omstandighede te volhard. Amen.
Gedagte vir die dag | Vrydag 27 Augustus 2021
Filippense 4:12-14: “Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. Nietemin het julle goed gedoen deur my in my moeilike omstandighede by te staan.”
Deur die geskiedenis was daar baie inspirerende verhale oor mense wat vasgebyt het, wat volhard het en deurgedruk het om uiteindelik groot sukses te behaal. Dit is almal mense wat hulle nie deur struikelblokke laat onderkry het nie.
’n Paar name skiet by my op: Die stigter van Starbucks, Howard Schultz, het deur ’n klomp verskillende krisisse en struikelblokke gegaan voordat hy uiteindelik die wêreldbekende Starbucks koffiewinkel begin het, wat tans aan ongeveer 137 000 mense wêreldwyd werk verskaf. Hy het onder andere meer as 200 banke genader vir lenings voordat hy uiteindelik daarin geslaag het om die nodige fondse te bekom om Starbucks op die been te bring.
Ek dink ook aan iemand soos Abraham Lincoln, ’n vorige Amerikaanse president. Hy het verskeie kere vir verskillende politieke posisies in Amerika, selfs vir president gestaan, sonder enige sukses. Waar ander mense maklik sou tou opgee om hierdie droom te verwesenlik, het Lincoln keer op keer deurgedruk, vasgebyt en uiteindelik een van die bekendste presidente van die Verenigde State van Amerika geword. Of Thomas Edison, wat vir talle kere nie suksesvol was om die elektriese gloeilamp te ontwikkel nie. Uiteindelik het hy geseëvier; hy het met volharding voortgegaan om ’n revolusionêre verandering in die wêreld te maak.
Ons ken ook almal die stories van atlete wat tydens groot byeenkomste a.g.v. beserings uitgeval het. Wat net nie kon klaar maak nie, maar tog, met besering en al, deurgedruk het om mank by die wenpaal aan te kom, net om te kan sê: “Ek het deurgedruk, volhard en die wedloop voltooi!”
Een van die bekendste figure in die Bybel, die apostel Paulus, was ook ’n uitstekende voorbeeld van iemand wat volhard en vasbyt. Ons ken al sy uitdagings – die lyding wat hy moes deurgaan as ’n apostel van Jesus Christus, die verskeie kere wat hy in die tronk was, aan skipbreuk gely het, ens. Dit is hierdie selfde Paulus wat vasgebyt het en deurgedruk het om uiteindelik ook hier in die teksgedeelte te kon sê: “Ek weet van armoede, van swaarkry en honger ly. Maar ek het my nie daardeur laat onderkry nie, ek het steeds vasgehou aan die wete dat ek deur alles in staat is deur Christus wat my krag gee.”
Vriende, dit is deel van die vasbyt in die Christelike geloof. Om deurgaans deur die krag van die Gees, energie en stamina te ontwikkel, wetende dat dit die krag van Christus is wat ons deur die moeilike tye dra. Dit is sy krag, wat in wese opstandingskrag is, wat ons help om aan te hou en ons wedloop te voltooi. Miskien is jou geestelike bene op die stadium lam, en ervaar jy jouself as ’n verloorder omrede jy te oorweldig is deur omstandighede om jou. Hou dan opnuut weer vas aan hierdie grootste waarheid : Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee – wat my laat opstaan, vorentoe laat gaan en help om struikelblokke te oorkom.
Gebed: Here, ons dank U vandag weereens vir u krag wat ons instaat stel om te volhard. Wees met ons, wees met my, help my om my oë op U gevestig te hou, wetende dat U die bron van my krag, en my geestelik stamina is.
Amen.
Gedagte vir die dag | Donderdag 26 Augustus 2021
Ons het gister dieselfde teksvers gelees waaroor ons vandag weer gaan nadink. Ons het verwys na die belang van “vasbyt” in ons geloof, en om die geloofswedloop te voltooi, midde in, baie uitdagende omstandighede. Ons wil graag hierdie week by verskillende aspekte van Christelike volharding stilstaan en deur die Woord bemoedig word om te volhard, en in die geloof vas te byt.
Hebreërs 12: 1-3: “Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.”
“Hou Hom voor oë wat so ’n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.”
Ons weet nie wie hierdie brief geskryf het nie, maar dit blyk asof hy iets van die Christelike wedloop verstaan het. Dalk was hy ook ’n atleet wat waarskynlik aan kompetisies deelgeneem het en daarom die uitdagings van so ’n wedloop goed geken het. Hy besef ook dat “vasbyt” van die grootste belang is, veral in dié tye wat ’n mens by die punt van tou opgooi kom!
Vandag wil ons ’n verdere belangrike saak in hierdie teksgedeelte onderstreep, naamlik die fokus tydens die wedloop. In enige wedloop, of sportitem, is fokus van die uiterste belang! Om doelgerig vooruit te kyk en te konsentreer op die doel van die wedloop, die wenstreep, of doellyn! Daarna strewe ons, en daarop hou ons ons oë gevestig. In ons geloofsreis, of wedloop, is dit ewenens geweldig belangrik om gefokus te bly. Ons teksgedeelte omskryf dan wat, of wie, hierdie fokus, of rigting is en hoe dit ons motiveer om te volhard.
Julle moet die wedloop met volharding voltooi met die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ja, dit is die fokuspunt. Dit gaan oor Jesus, oor wie Hy is, wat Hy vir ons gedoen het en oor die feit dat Hy ons verlede, toekoms en hede is. Hy is vir ons die Alfa en die Omega, die begin en eindpunt van ons lewens, en ook van ons geloofsreis. So dikwels kan ons die oog van Jesus afhaal, soos Petrus gedoen het toe hy op die water na Jesus geloop het, en na die golwe rondom hom gekyk het . . . eerder as om sy oog op Jesus te hou!
Ons raak so oorweldig deur die omstandighede en situasies rondom ons, dat ons maklik fokus verloor. Ja, dat ons die Jesus-fokus verloor. Die teks moedig ons aan: “Hou Hom voor oë, wat so vyandige optrede van die sondaars verdra het, dan sal julle nie geestelik moeg word, en uitsak nie.”
Vriende, word bemoedig terwyl jy nou hierdie gedeelte lees! Bly gefokus op Jesus en beleef weer hoe sulke fokus ons help om nie geestelik moeg te word en uit te sak nie.
Gebed
Here, help ons vandag opnuut om verby al die uitdagings en woeste golwe rondom ons te kyk deur ons oog op Jesus gevestig te hou, die Begin en Voleinder van ons geloof.
Amen.
Gedagte vir die dag | Woensdag 25 Augustus 2021
Hebreërs 12:1-3: “Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.”
“Hou Hom voor oë wat so ‘n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.”
Vasbyt – ek kan nie aan ’n meer beskrywende woord in Afrikaans is as vasbyt, dink nie!
As mens dit hoor, dan weet jy dadelik hier is deursettingsvermoë ter sprake. Aanhou, uithou, deurdruk en om jou nie te laat onderkry nie. Ek het vroeër die week, tydens ons gebedsbyeenkoms vir manne, ook oor vasbyt gesels. Omdat daar ’n paar Engelse vriende saam met ons is, het ek nogal gesukkel om hierdie woord in Engels vertaal te kry. Die naaste wat ons daaraan gekom het, was: “endurance” of “perseverance.”
Dit het my laat dink aan die afgelope Olimpiese spele, waar ons die beste voorbereide atlete gesien het, besig om hul sport op die grootste sportbyeenkoms te beoefen. Deurgaans, by alle sportsoorte was dieselfde “vasbyt” nodig! Om nie tou op te gooi nie, maar om te probeer aanhou en uithou tot die einde. Tot by die wenpaal. Tot hulle die item voltooi het.
Daar was natuurlik ongelukkig diegene wat dit nie kon doen nie. Dink bv. aan die moordende maraton aan die einde van die Olimpiese Spele, wat moes plaasvind in die uiterste uitdagende weersomstandighede in Japan. ’n Paar van die atlete, insluitend van ons eie Suid-Afrikaanse atlete, kon net nie klaarmaak nie. Die omstandighede en toestande was net te uitmergelend. Daarom het hulle afgetrek en nie die wedloop voltooi nie.
Natuurlik weet julle nou waarna ek mik as ons die spesifieke teks vandag deel. Dit gaan oor ons eie wedloop, of die item waaraan ons deelneem, naamlik ons geloofslewe. Ons geloofsreis, of soos die Bybel dit ook beskryf, die wedloop van die geloof. Dit is veral relevant in ons tyd met sy eie unieke en baie uitdagende omstandighede en uitdagings. Dikwels is die uitmergelende situasies waarin ons onsself bevind, persoonlik maar ook in ons gemeenskappe en die land. Ons voel dalk gereeld dat ons by daardie stopteken beland waar ons net nie verder kan gaan nie. Ons wil ophou, tou opgooi en die wedloop laat vaar.
Die skrywer van hierdie brief was baie direk hieroor wanneer hy gelowiges van alle tye aanmoedig om vas te byt! Te volhard en deur te druk, met dit waarmee ons begin is naamlik die goeie pad van die geloof.
Dalk is jou bene ook vanoggend lam en moeg van sukkel om deur ’n klomp breekpunte in jou lewe te kom. Miskien is dit ook veral op geloofsvlak, ’n persoonlike geloofsreis waarmee jy sukkel. Waar dit soms so moeilik is om die geloof te behou! Weet dan dat ons daar is vir mekaar. As groot skare geloofsgetuies, wat rondom ons is, waar ons bymekaar is op die pawiljoen, en ook saam met ons op die baan! Waar ons saam moet deurdruk en klaarmaak terwyl ons mekaar ondersteun.
Mag die Here deur sy gees aan elkeen van ons, die stamina gee om ons eie wedloop van geloof te voltooi.
Gebed
Here, help my om te volhard, in die geloof. Help my om my wedloop met hoop en verwagting en oorwinning te hardloop, gesteun deur u Gees en ondersteun deur medegelowiges. Amen.
Gedagte vir die dag | Dinsdag 24 Augustus 2021
Teks: 1 Konings 17
Die woord van die Here het tot Elia gekom en gesê: 3“Gaan hiervandaan af ooswaarts en gaan versteek jou in Kritspruit, anderkant die Jordaan. 4Jy kan water uit die spruit drink, en Ek het die kraaie beveel om daar vir jou te sorg.” 5Hy het gedoen soos die Here aan hom opgedra het. Hy het daar in Kritspruit gaan bly, anderkant die Jordaan. 6Die kraaie het vir hom soggens brood en vleis gebring en hulle het vir hom saans brood en vleis gebring, en hy het water uit die spruit gedrink. 7Uiteindelik het die spruit opgedroog omdat die land nie reën gekry het nie.
Daar langs die spruit het Elia net die kraaie gehad om mee te praat, en natuurlik vir God. In die kerk is daar ’n ou tradisie van woestyn, berg en ruwe landskappe. Die landskap word plekke van ontmoeting met God. Mense soek dit op, want hulle besef daar is afleidings in hulle daaglikse leefwyse wat hulle verhoed om stil te word en te luister: Stilte word die plek waar jy jouself weer ontmoet en dalk is dit waarvoor ons bang is.
Dit was ook vir Elia waar, want dit was dieselfde Elia wat later vir God in ’n “fluistering in die windstilte” gehoor het. In ’n ander vertaling word gepraat van ’n “gesuis van ’n sagte koelte”. By die spruit en onder die besembos was Elia nie op plekke waar hy op daardie oomblik graag wou wees nie. Hy het nie doelbewus die stilte opgesoek nie. Tog word dit plekke van versorging en ontmoeting. Miskien moet ons ook so nou en dan die stilte kies. Ek lees graag ’n gebed van G Norris:
When we make room for silence, we make room for ourselves . . . silence invites the unknown, the untamed, the wild, the shy, the unfathomable- that which rarely has a chance to surface within us”.
Gedagte vir die dag | Maandag 23 Augustus 2021
Marinda Strydom skryf onlangs dat een van die pragtige paradokse van ons menslike bestaan is dat ons lewe in die groter prentjie amper heeltemal irrelevant is, soos ’n enkele doudruppel, maar dat ons lewe ook ongelooflik belangrik is, want elke druppel is nodig om die oseaan te vorm.
Een van die tekste wat ons help met hierdie paradoksale besef, naamlik dat ek net ’n spikkel is, maar dat ek ’n belangrike rol en verantwoordelikheid het, is Psalm 90.
Al besef ons dat ons lewens verganklik, is ons lewens steeds in God se hande en daarom vergaan wie ons en was nie sommer nie – God hou dit in stand. Weglaatbaar klein, en tog . . .
Psalm 90
Here, U was vir ons ‘n toevlug van geslag tot geslag.
2Voordat die berge gebore is, voordat U die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God!
3U laat die mens sterwe: U sê net: “Word weer stof!”
4Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is, soos een enkele wagbeurt in die nag.
5U maak ‘n einde aan ‘n mens, hy gaan die doodslaap in. Hy is soos gras wat in die môre afgesny word:
6in die môre is dit nog groen, maar dit word afgesny en teen die aand is dit verlep en dit verdroog.
7Ons vergaan onder u toorn, ons gaan te gronde onder u gramskap.
8U sien ons oortredinge raak, U bring die sondes wat ons wou wegsteek, aan die lig.
9Onder u toorn vlieg ons dae en skiet ons jare verby soos ‘n gedagte.
10Ons lewe maar sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig, en dié is vol swaarkry en leed.
Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe.
11Wie ken die krag van u toorn beter as u dienaars? Wie ken u gramskap beter?
12Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom.
13Hoe lank nog, Here, voordat U ons te hulp kom? Ontferm U tog oor ons.
14Skenk ons elke dag u liefde in oorvloed, dat ons ons lewe lank mag juig en bly wees.
15Soveel dae as dié waarin U ons verdruk het, soveel jare as dié waarin ons gely het, gee ons soveel jare van blydskap.
16Laat u werk vir ons duidelik word en u grootheid vir ons kinders.
17Laat ons die goedheid van die Here ons God belewe: hou die werk van ons hande in stand,ja, die werk van ons hande, hou dit in stand.
Gedagte vir die dag | Sondag 22 Augustus 2021
Die eerste gelowiges het nog altyd geglo dat die Sabbat ’n oomblik in ons week is waar ons die ritme van ons lewe onderbreek. Hulle het mekaar herinner dat dit ’n geskenk van God is, ’n oomblik waar ons asem kan skep, tot rus kan kom in ons liggame, harte en in ons gemoed. Dis in hierdie oomblik, het hulle geglo, dat ons onsself moet herinner aan wat was en onsself moet uit strek vir dit wat kom. Die tree wat ons neem na die volgende week, is ’n tree van vertroue dat God wat elke dag by ons is, ook môre by ons sal wees.
Mag jy vandag asemskep, mag jy bewus wees van God wat in elke oomblik van jou week was, en waarheen jy ookal gaan, dat God by jou sal wees. Ek lees graag ’n gedig van die Corrymeela gemeenskap:
God of the Sabbath, on this newest first day of creation, your people gather in creative ways to bear the image of God together.
As we worship and worry, as we praise and pray, let us pause and acknowledge all that happened this week.
And as we bring our fears and release our tears let us see more clearly that the world you have made is still good.
Amen.