GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Vrydag 10 September 2021

Gedagte vir die dag | Donderdag 9 September 2021

Gedagte vir die dag | Woensdag 8 September 2021

Gedagte vir die dag | Dinsdag 7 September 2021

Markus 1:40-41. 40Daar kom toe ’n melaatse man na Hom toe wat smekend op sy knieë voor Hom neerval en vir Hom sê: “As U wil, kan U my gesond maak.” 41Jesus het hom jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak. Hy sê toe vir hom: “Ek wil. Word gesond!”

Ai, kan jy jouself hierdie toneel voorstel. Hierdie melaatse man waag dit om in die openbaar te verskyn. Die mense het seker rondgehardloop om weg te kom van hom af. Melaatsheid was baie aansteeklik. Saam met sy siekte is hy ook onrein verklaar. Daarom word melaatses uit die samelewing gedwing. Toe hy hoor dat Jesus daar is, waag hy dit om na Jesus te gaan.

Jesus skarrel nie.  Hy wys ook nie die man daarop dat hy onverantwoordelik is om in die openbaar te verskyn nie.  Jesus raas nie met hom omrede hy ander mense se lewens in gevaar stel nie.

Dit tref my hoe die smeking van die melaatse man die deernis van Jesus ontlok het – let op hoe Hy vat aan die man – en Hy hom genees; ook die geloof van die melaatse man wat volledig aanvaar dat Jesus kan genees.  Hoe pragtig ontmoet Jesus hom nie op daardie punt deur te sê: “Ek wil.  Word gesond.”

Ek dink ons het nodig om weer te begin glo soos die melaatse.  Dit sal ons met oorgawe laat vra vir genesing totdat ons hoor wat Jesus wil.  Die feit dat Hy soms nee sê, moet ons nie by voorbaat kleingelowig laat nie.

Guelich sê hieroor: “By addressing Jesus at the level of his will rather than his ability, the supplicant believingly acknowledges that Jesus’ ability or power correlates with his will. Thus, his request arises out of his confidence rather than doubt in Jesus’ ability to heal him.”

Daarom moet ons vandag ook hoor dat Jesus deernis het met mense en hulle omstandighede. Jesus verstaan hulle krisis en verleentheid. Laat ons God weer nader met volle vertroue dat Hy vandag steeds kan genees.

 GEBED

Weesasseblief genadig Heer en dink aan almal wat siek is. Bring asseblief genesing.  AMEN

Gedagte vir die dag | Maandag 6 September 2021

Klaagliedere 3:25-26. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; 26dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here.

Ons het almal hoop nodig. Sonder hoop stort die wêreld rondom ons in duie en ons sien geen toekoms, of enige rede om voort te gaan nie. Maar waarin, of in wie plaas ons, ons hoop? Daar is verskeie dinge waarin ’n mens jou hoop kan plaas. Sou jy egter jou hoop op sommige van dié dinge plaas, gaan jy bitter teleurgestel word.

Die eerste ding waarop baie mense hulle hoop plaas, is op rykdom en geld. Geld en rykdom kan baie onseker wees. Dan is daar ook diegene wat hulle hoop op ander mense plaas. Die  mense kan die regering, of die maatskappy se bestuur waarvoor hulle werk wees. Dit kan ook ’n familielid, of ’n vriend wees. Dit maak egter nie saak wie die mens, of mense is op wie jy jou hoop plaas nie, die Bybel waarsku ons dat dit nie ’n goeie idee is nie. Mense is feilbaar en kan jou maklik teleurstel.

Die Bybel het ‘n beter voorstel – plaas jou hoop op God.  Daar is net een persoon wat ons ware hoop kan gee – God.  Anders as mense, sal Hy ons nooit teleurstel nie. Hy maak nooit ’n belofte wat Hy nie nakom nie, want Hy is getrou.  Hy is ewig en sal steeds daar wees selfs na alles anders in duie gestort het.  Plaas jou hoop op God. Hy is die bron van hoop.

GEBED

Vader, ek bid vandag vir een en almal wat probleme het, wat die oorsaak mag wees van hulle hartseer en verdriet. Vader, U sien al die hartseer en pyn raak.  Here tans voel dit of ons in ’n bodemlose put rondswem.  My gebed is dat U een en elkeen wat vandag bodemloos rondswem uit daardie put sal uitlig, deur U sterk kragtige arms onder hulle in te druk en hul op te tel. Vader, sodat hul weer sal kan hoop, glo en vertrou.

AMEN

Gedagte vir die dag | Sondag 5 September 2021

Genesis 1:27.  27God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.

’n Paar jaar gelede het ’n groep universiteitstudente op ’n forum gedebateer oor die onderwerp: “Wat is die mens?”  Vier professore is genooi om as sprekers op te tree. Die eerste was ’n professor in Zoölogie.  Hy het met selfvertroue verklaar: “Die mens is ’n dier.  Die mens is die hoogste spesie in die evolusionêre ketting, net ietwat hoër as die bobbejaan.” Die professor in Sielkunde het beweer: “Die mens is ’n wese met ’n vlak van intelligensie wat hom ver bo die diere plaas. Hy kan aanpas en homself laat ontwikkel en selfs sy omgewing verander.” Die professor in Engels het gesê: “Die mens is ’n wese wat instaat is om buite homself uit te reik. Hy kan groot kunswerke skep. Hy kan selfs met God praat.” Toe het die professor in Filosofie aan die beurt gekom: ”Die mens is geskep na die beeld van God. Dikwels skend hy daardie beeld deur sonde te doen. Maar die mens kan berou toon. Hy bereik sy hoogste potensiaal wanneer hy nederig in skuldbelydenis aan die voete van die kruis kniel en Jesus hom nuut maak.”

Dit is vandag se wonderlike nuus. Jy is na die beeld van God geskape. Jy is dus kosbaar.

GEBED

Dankie Here dat U my wonderlik gemaak het. Vergewe my dat ek soms hierdie beeld skade aandoen deur sonde. Maak my nuut. Herstel die beeld asseblief. Help my om tot eer van U te leef.

AMEN

Gedagte vir die dag | Saterdag 4 September 2021

1 Johannes 5:11. En die getuienis behels dít: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun.

Ons ken die hashtags #YOLO (You Only Live Once) en #FOMO (Fear Of Missing Out).  Daarmee beaam ons dat daar net een lewe is en dat ons soveel as moontlik moet in hierdie een lewe moet regkry en doen.  Volgelinge van Jesus glo egter aan ’n ewige lewe.  Die ewige lewe is vir ons ’n moeilike konsep om te verstaan. Die manier hoe ons oor tyd dink, het tot gevolg dat ons die lewe as ’n lyn met ’n begin- en eindpunt beskou.  Ons kan nie ’n lewe verstaan wat nooit ’n einde het nie. ’n Lewe sonder einde maak dat ons nie met #FOMO hoef te lewe nie, want daar sal nog ’n geleentheid wees om saam met spesiale mense spesiale geleenthede te beleef.

Het jy geweet dat jy reeds hier en nou al die ewige lewe het? Die ewige lewe begin nie eers die dag as jy sterf nie. In die Bybel lees ons dat wanneer ek God die Vader deur Jesus Christus leer ken en in Hom glo, dat ek die ewige lewe dan reeds ontvang. Met ander woorde wanneer ons ’n persoonlike verhouding met God het, kan ons reeds die ewige lewe beleef. Augustinus stel dit so mooi: “Sluit ’n verhouding met die ewige God en jy sal vir ewig lewe.”  Die ewige lewe word dus al hier op aarde verkry wanneer ek ’n geloofsoorgawe aan Jesus maak.

Die wonderlike nuus van die ewige lewe is dat ons eendag saam met God in die hemel gaan wees. In die hemel sal ons nie hartseer, siekte of dood ken nie. Nee, daar sal ons net vreugde, vrede en liefde ervaar. Hoe wonderlik om te dink dat ons hier op aarde al iets daarvan kan ervaar.

 GEBED

Here, dankie dat U my die ewige lewe skenk. Mag ek nou terwyl ek hier op aarde is iets daarvan beleef. Mag ek ook leef tot eer van U Naam.  AMEN

Gedagte vir die dag | Vrydag 3 September 2021

Markus 11:25. “En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.

Een van die hoogste eise wat aan ons as Christene gestel word, is om mekaar te vergewe.  Mense wat weier om te vergewe soek en kry altyd redes hoekom die onreg wat hulle gely het, te groot is, om te vergewe.  Maar wat hulle nie besef nie, is dat die pyn van hul weiering om te vergewe hulle self veel meer skade berokken. Wanneer ons mekaar nie vergewe nie begin ons wraakgedagtes koester en dit maak ’n mens fisiek en geestelik siek.

Jerry Sittser het sy gesin in ’n ongeluk verloor wat deur ’n dronkbestuurder veroorsaak is. Hy het maande lank geworstel om die man te vergewe. Eers nadat hy dit met God se hulp reg gekry het, kon hy met sy lewe voortgaan. In sy boek A Grace Disguised sê hy dat die proses van vergifnis begin wanneer die slagoffer ontdek dat niks die onreg wat hulle aangedoen is, kan regstel nie. Maar slagoffers kán die lewe kies; hulle kan besluit om te vergewe.

Vergifnis is ’n keuse wat ons maak. Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teenoor die ander gedoen het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe (Kolossense 3:13).  Vergifnis is nie iets wat ons doen as ons so voel nie, maar dit is iets wat ons doen omdat ons Christus se voorbeeld navolg – omdat ons genade ontvang het, moet ons gewillig wees om genade aan ander te betoon.

Wat beteken die woord vergewe? Letterlik beteken dit om die rekord skoon te vee, om vry te stel, om skuld af te los. Niemand word vergewe omdat hy, of sy dit verdien nie.  Vergifnis is ’n daad van liefde en genade. Vergifnis is ’n besluit om iemand nie verantwoordelik vir ’n daad te hou nie, ongeag wat daardie persoon aan jou gedoen het.

Jesus stel vir ons so ’n mooi voorbeeld. Hy het nie alleen al sy vervolgers vergewe nie, maar ook vir elkeen van ons.

GEBED

Vader, ek kies nou om die persoon teenoor wie ek so lank ’n wrok in my hart saam dra, te vergewe. Dankie vir die wete dat vergifnis my sal heelmaak.

AMEN

Gedagte vir die dag | Donderdag 2 September 2021

1 Korintiërs 13:13.  En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!

1 Korintiërs 13 moet eintlik verstaan word uit die hoek van 1 Korintiërs 12 en veral die laaste vers waar verwys word na die gawes van die Gees.  Gawes van geloof, woorde van kennis, genesing, wonderwerke, om in tale te praat, profesieë, die verkondiging van God se boodskap, die onderskeiding van geeste, hulpverlening, ens. . .  dan aan die einde van die hoofstuk  staan daar: “Lê julle toe op die beste genadegawes”!  Wat is dit?  Van al die gawes, is die beste waarop jy jou moet toelê – die liefde.

”Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is …” LIEFDE (1 Kor. 13:1).  Van al die gawes, waarvan sommige groot bonatuurlike wonders is, wys ek julle wat die beste is!  Want dit is die liefde waarom alles draai!  Waarom sê Paulus die liefde is die grootste? Waarom nie die geloof en hoop nie? Die antwoord lê in die tipe liefde waarna Paulus verwys: die onvoorwaardelike liefde soos die liefde wat God aan ons openbaar het deur sy Seun aan die kruis te laat sterf wat ons oorwinning van die ewige dood geskenk het. God neem hierdie liefde verder deur sy Heilige Gees te stuur om by jou te wees van nou af tot in ewigheid, sonder om dit te betwyfel. Dit is hierdie liefde wat ek en jy ook moet uitleef.

Hoe lyk hierdie liefde? Dit is nie afgunstig nie, nie grootpraterig nie, nie verwaand nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie en verbly hom nie oor die onreg nie. Kan ons dit saamvat in een woord? Ware liefde is onvoorwaardelik. 1 Korintiërs 13 sê, dis is geduldig, vriendelik en verheug hom oor die waarheid.  Dit bedek alles, glo alles, hoop alles en verdra alles. Die liefde vergaan nooit, want dis ook al wat in die hemel sal oorbly.

Nee, ware liefde is nie pronkerig nie. Dis nie flambojant of uitspattig nie. Dis nie bloot ’n emosie nie en dit kan nie sommer op Instagram vasgevang word, of op Facebook verwoord word nie. Ware liefde is die klein, bedagsame dingetjies wat deurlopend en oor ’n lang tyd aan ’n ander mens gedoen word. “Ware liefde,” sê die Deense filosoof, Søren Kierkegaard, “is liefdes-werke.”

GEBED

“God is Liefde!” juig ons harte, en bedink wat liefde doen:

Dat Hy ons sy Seun gestuur het om ons sonde te versoen.

Hy wat eerste liefgehad het, het in liefde ons vergeef – nou kan ons, uit God gebore, uit dié bron van liefde leef!

AMEN

Gedagte vir die dag | Woensdag 1 September 2021

Psalm 121:1-2. Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? 2My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.

Aanvanklik was Psalm 121 bedoel vir mense wat op reis was.  Ons lees dit in die opskrif wat aandui dat hierdie ’n pelgrimslied is. ’n Pelgrimslied vir die Israeliete oppad na Jerusalem.  Die pad wat hulle moes loop was moeilik en gevaarlik.  Die grootste gedeelte van die pad was maar woestyn- en bergagtig.  Daar was ’n hele klomp gevare waarvan hulle kennis moes neem op hierdie pelgrimstog na Jerusalem toe.  Die berge was ondermeer skuilplekke vir rowers en bendes.  Inderdaad ’n gevaarlike pad. Dit is dan dat die digter opkyk en sy hulp van die Here afbid vir hierdie gevaarlike reis wat voor hom lê.

Die Psalm se begin, word soos ’n vraag gestel.  Waarvandaan sal daar vir my hulp kom?  ’n Baie aktuele vraag vir vandag ook – is dit nie?  My hulp kom van die Here af.  Hoekom?  Want Hy is die Skepper God.  Hy is die almagtige. Die een wat beskerm en bewaar.

Ons wat hierdie Psalm vandag lees weet dat ons ook pelgrims op reis deur die lewe is. Die gevare en die bedreigings lyk anders as die waarvan die Psalm praat.  Ons beleef ook uitdagings en probleme.  Ons pelgrimsreis deur die lewe is ook nie aldag maklik nie.  Daarom is Psalm 121 ook vir my en jou geskryf.  Ook vir ’n tyd soos hierdie.

God se belofte van hulp, bewaring en beskerming kom nie minder as vyf keer hier voor nie.  “Hy sal jou beskerm, Hy sal jou bewaar.  By Hom kry jy jou hulp.  Hy slaap nie, hy sluimer nie in nie.”  Hy rig sy oë altyd op ons.

Daarom kan jy die pelgrimsreis van die lewe met gerustheid aanpak.  Jou Here reis saam met jou.  Wanneer daar uitdagings oor jou lewenspad kom, is Hy by jou om jou daardeur te lei. Psalm 121 wil ons leer dat swaarkry, gevare, siektes, hartseer, moedeloosheid en angs ongelukkig altyd deel van ons lewensreis as pelgrims sal wees, maar dat ons mekaar op hierdie lewenspad moet herinner aan ons Here wat saam met ons die pad loop!

GEBED

Almagtige God, ek bevestig met dankbaarheid dat my hulp van U af kom, Here. Die Here wat hemel en aarde gemaak het.

AMEN

1 92 93 94 128