GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Donderdag 30 September 2021

2 Korintiers 12:9.  Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.

In tye van swaarkry en beproewings vra ons soms: Waarom en Hoekom? Ons verstaan nie altyd hoekom slegte dinge met ons gebeur nie, hoewel ons glo dat God met alles ’n doel het.

Behalwe vir die doring in die vlees, wat ons nie presies weet wat dit was nie, vertel die boek Korintiërs van die pyn wat Paulus beleef het, toe hy hierdie boek geskryf het. Hy was bedreig en aangeval deur vyande. Sy integriteit is bevraagteken, sy eerlikheid is betwis, sy gesag is uitgedaag en sy prediking is verwerp – en dit alles deur vals leraars wat na die kerk in Korinte gekom het met een doelwit, naamlik om valshede te verkondig.

Behalwe hiervoor het Paulus in sy bediening ook nog baie ander ontberings deurgemaak.

Ons lees daarvan in 2 Korintiërs 11. Hy was verskeie kere in die tronk waar hy geslaan en gemartel is.  Hy was dikwels in doodsgevaar – vyf keer is hy die gebruiklike straf van nege en dertig houe toegedien, drie keer het hy lyfstraf ontvang en een hy is selfs by een geleentheid met klippe gegooi. Hy het drie kere skipbreuk gely en het selfs ’n dag en ’n nag op die oop see deurgebring. Daar was vir hom dikwels nagte sonder slaap, honger, dors en vele nagte sonder skuiling of bedekking teen die koue. Boonop was hy ook daagliks bekommerd en besorg oor al die gemeentes.

Wat egter uitstaan in Paulus se bediening is dat hy al hierdie uitdagings altyd na God geneem het.  Dit is die antwoord wat Paulus in 2 Korintiërs 12:9 kry: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” God het geantwoord, maar God se antwoord was nie om die pyn weg te neem of die die swaarkry te verlig nie, maar om sy  genade meer te maak.

GEBED

Here, help my asseblief om my las te dra.

AMEN

Gedagte vir die dag | Woensdag 29 September 2021

Lukas 1:26-28.” In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na ‘n maagd in Nasaret, ‘n dorp in Galilea. Sy was verloof aan Josef, ‘n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria. Toe die engel by haar kom, sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.”

Die Bybel wemel van verhale van eenvoudige mense wat deur God geroep is, mense wat dikwels in hul eie oë glad nie kandidate was om deur God gebruik te word nie. Ons dink aan mense soos: Moses,Jeremia, Dawid, Gideon, Paulus en Maria.

Waarom het Maria die moeder van Jesus geword? Dit kan tog nie wees omdat sy iemand besonders was nie.  Sy kom uit die nederige Nasaret, ’n dorpie wat nie bekend was vir sy vooraanstaande inwoners nie.  Inteendeel, opgrawings het bewys dat dit maar ’n armoedige plekkie was.  Maria was verloof aan Josef wat ook nie ’n vooraanstaande persoon in die samelewing was nie.

Maria was dus doodgewoon en boonop bloedjonk. Sy het geen besondere invloed, vermoë of uitgelese familiegeskiedenis gehad nie. Nogtans gebruik die Here haar om die wonderlikste daad denkbaar te verrig. Sy word die moeder van Jesus. Deur haar word die Seun van God ‘n mens en kom in die gedaante van ‘n mens na die aarde. God gebruik die gewone, jeugdige Maria bloot op grond van sy genade. Dis hoe God met mense werk. Hy kies dikwels die mees onwaarskynlike mense.

Mense is dikwels oortuig daarvan dat God hulle eintlik nie kan gebruik nie. Ons glo God gebruik net die bekwames, geskiktes, aanvaarbares in sy diens. Ons dink God se keuse oor ons nuttigheid sluit aan by ’n bepaalde geestelike kwaliteit of vermoë waaroor ons moet beskik. Die gebrek hieraan diskwalifiseer ons dan om in diens van die Here te staan. Daarom is baie mense daarvan oortuig dat God hulle nooit kan gebruik nie.

Maar tog roep die Here roep vir jou en my. Juis as gewone mense om vir Hom tot diens te wees. Die vraag is of jy, ook soos Maria, tot beskikking van die Here is?

 

GEBED

NEEM MY LEWE, LAAT DIT HEER,

U GEWY WEES MEER EN MEER;

NEEM MY HANDE, MAAK HUL STERK –

DIENSBAAR IN U GOEIE WERK.

NEEM MY VOETE, SKOEI HUL, HEER,

MET BEREIDHEID TOT U EER !

NEEM MY STEM EN LAAT MY SING;

AAN U, HERE, HULDE BRING.

LAAT MY MOND DIE BOODSKAP DRA:

HUL SAL VIND WAT NA U VRA.

NEEM MY GOUD EN SILWER, HEER,

NIKS NOEM EK MY EIE MEER;

AL MY KENNIS EN VERSTAND

STEL EK IN U VADERHAND.

MAAK MY HART VIR U TOT TROON

DEUR U GEES WAT IN MY WOON.

RIG MY WIL, GEVOEL EN DAAD

ALTYD NA U WYSE RAAD. AMEN

Gedagte vir die dag | Dinsdag 28 September 2021

Gedagte vir die dag | Maandag 27 September 2021

Gedagte vir die dag | Sondag 26 September 2021

Gedagte vir die dag | Saterdag 25 September 2021

Gedagte vir die dag | Vrydag 24 September 2021

Gedagte vir die dag | Donderdag 23 September 2021

Gedagte vir die dag | Woensdag 22 September 2021

Gedagte vir die dag | Dinsdag 21 September 2021

 

Matteus 18:21-22.  Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer? Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer.

Hoe groot is ons kapasiteit om mense se foute wat ons lewens beïnvloed, te hanteer.  Ons spreek dikwels die volgende woorde: “Genoeg is genoeg” en “ek het jou al te veel kanse gegee”.  Ons sal dit miskien duld om iemand drie kanse te gee, maar sewe is hopeloos te veel.  Wat dan nog van sewentig maal sewe keer? Wat staan in ons pad om ander te vergewe? Hoe is dit dan dat ons dankbaar is dat God bereid is om ons sewentig maal sewe keer te vergewe, maar dat ons nie dieselfde voordeel tot beskikking van ander wil stel nie.

Is dit ons ego, trots, of hardkoppigheid?  Laat jouself toe om vir ’n oomblik verby die woede vir mense wat jou tenagekom het, te kyk. Wat is dit wat veroorsaak dat jy hierdie gedagte of wrok aanhou koester? Die ontnugtering is dat terwyl die ander persoon die skuldige is, is jy die een wat gevange gehou word.  Laat die Here jou help om vandag vry te kom.  Neem die besluit om ander te vergewe en deel hierdie vergifnis met hulle.  Ervaar daarin hoe jou dag met die wonder van God gevul word.

Gebed

Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

1 90 91 92 128