Gedagte vir die dag | Sondag 10 Oktober 2021
Haggai 1:4: “Maar nou, Serubbabel, skep moed, sê die Here, en jy Jesua seun van Josadak, hoëpriester, skep moed, en julle almal, burgers van die land, skep moed, sê die Here! Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here die Almagtige”.
Hierdie is ongelooflike, inspirerende woorde wat die Here tot moedelose mense, by monde van sy profeet Haggai, rig. Nadat die volk van Israel se tempel vernietig is en hulle in ballingskap weggevoer is, het hulle die taak ontvang om weer die tempel te herbou. Sommiges het begin om hard daaraan te werk, maar het spoedig spoed verloor . . . die knieë het begin lam word en het hulle gevolglik ander doelwitte begin najaag.
Die Here ag dit nodig om hulle by monde van Haggai sterk aan te spreek om voort te gaan met die werk om die tempel te herbou. Dit is baie insiggewend dat hy juis met die leiers begin praat het om hulle weer te inspireer en aan te moedig om hierdie uiters belangrike taak te voltooi.
Die woorde is gerig tot Serubbabel, die goeweneur van Juda. Serubabbel word ook beskryf as ’n dienaar van die Here en iemand wat opreg gelewe het. Maar selfs hy het begin moed opgee. Die uitdagings van die dag en die werk het vir hom net te groot begin lyk. Daarom hierdie aanmoediging om weer te fokus op dit wat vir die Here belangrik is, die opbou van die tempel as simbool van die volk se verhouding met Hom.
Vers 4 is een van daardie verse in die bybel wat ons gerus maar kan onderstreep. Dis ’n direkte oproep tot Serubabbel om moed te hou, ook Joshua, Seun van Josadak, hoëpriester, word aangemoedig om moed te skep. Nie net die leiers nie, maar ook die burgers van die land word pertinent aangemoedig om moed te skep en om weer die werk te hervat. Die troos en die aanmoediging is gesetel in die feit dat die Here by hulle is. Begin met die werk, want ek is by julle, sê die Here die almagtige.
Vriende, hoe nodig het ons nie ook die Here se aanmoediging nie? Ook daar waar ons so dikwels moed opgee wanneer alles vir ons te veel begin lyk – die verantwoordelikhede begin opstapel en dit begin voel asof ons niks daaraan kan doen nie omdat ons kragteloos is. Ook vir ons, met die verskillende vorme van opbouende werk wat ons in gemeenskappe en in ons land meot doen, geld die aangemoediging: “skep moed, want Ek is by julle.” Hierdie week dink ons aan hierdie grootste belofte dat God by ons is, langs ons is, en dat ons Hom kan vertrou om ons te bemoedig, te versterk en te help met dit wat ons moet doen.
Gebed:
Here, baie dankie vir U oproep tot ons, om moed te skep omdat U by ons is. Amen.
Gedagte vir die dag | Saterdag 9 Oktober 2021
Vriende, van al die geliefde Psalms uit die Psalmdigter se bundel, staan Psalm 23 waarskynlik kop en skouers bo die ander uit. Dis ’n vashou-Psalm! Dit is ’n Psalm van hoop, en inspirasie. ’n Psalm waarmee meeste van ons groot geword het en ons het kleintyd al geleer om dit uit ons kop uit op te sê.
Ek herinner my aan die tannie in die tehuis vir bejaardes wat ek besoek het, en wat vir weke nie kon praat met haar geliefdes nie. Toe ek die Psalm vir haar voorlees, het sy vir die eerste keer in weke haar lippe beweeg om te praat en die Psalm agter my aan te sê, of aan te bid. Die afgelope week, kon ek dit ook weer vir ’n ander persoon in ’n ander situasie voorlees, waar hy dan ook bevestig het, dat sy Bybel so te sê vuil gevat is, by Psalm 23.
Omdat ons hierdie week dink oor God se nabyheid aan ons, die feit dat Hy onder alle omstandighede by ons is, lees ek weer hierdie pragtige Psalm, en bid dat die Here dit opnuut sal gebruik om vandag aan jou te bevestig, dat Hy by jou is, waar jy ookal vandag mag wees en wat jou omstandighede of uitdagings ookal mag wees.
Psalm 23: Die Here is my herder
Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. 2Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. 3Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam. 4Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig. 5U laat my by ‘n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ‘n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid. 6U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.
Gebed:
Here, baie dankie vir hierdie Psalm, wat vandag weer nuut tot my gespreek het. Dankie vir die bevestiging van u teenwoordigheid by my, en dat u teenwoordigheid my bring by waters waar daar vrede is. Dat U vir my nuwe krag gee, dat U bevestig dat U by my is, en dat ek in U hande veilig is.
Amen.
Gedagte vir die dag | Vrydag 8 Oktober 2021
Vriende, ons het in die afgelope paar dae begin gesels oor God se nabyheid in ons lewens. Ons kon alreeds twee gedeeltes uit die Bybel met mekaar deel en beleef dat dit God se grootste beloftes aan ons is. Dit is ook een van die sake wat ons baie naby aan die hart lê; die feit dat God met ons is, dat Hy Immanuel is, en soos Hy vir Joshua belowe het, saam met hom, en ons, die onbekende toekoms ingaan.
Vandag wil ek eintlik niks sê oor die teks nie, maar gaan lees dit, of luister daarna, sodat jy dit stukkie vir stukkie kan oordink en toepas op waar jy op die stadium in jou lewe is. Dit is ‘n baie geliefde gedeelte uit Jesaja, waar die Here met sy platgeslaande volk praat, eintlik moed inpraat, belowe dat ongeag die haglike omstandighede, Hy langs hulle is.
Ons lees saam uit Jesaja 43:1-5: “Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder. Ek gee Egipte as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek. Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe. Moenie bang wees nie, Ek is by jou.”
Gebed:
Here, baie dankie vir hierdie ou bekende belofte in Jesaja 43. Ek wil vanoggend weer daarna gryp en vashou aan die belofte dat U hier, by my is. Dankie dat U sê, U is by my, omdat ek vir U kosbaar is, omdat U my hoog ag en my liefhet.
Amen
Gedagte vir die dag | Donderdag 7 Oktober 2021
Joshua 1:5-6: 5“Solank jy lewe, sal niemand bestand wees teen jou nie. Soos Ek by Moses was, so sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie. 6Wees sterk, wees vasberade, want jy moet hierdie volk die land in besit laat neem wat Ek met ‘n eed aan hulle voorvaders beloof het.”
“Praat van stres!” “Ek kan die druk nie meer hanteer nie!”
Hoe bekend het die woord nie in ons tyd geword nie? Elkeen word blootgestel aan situasies van druk en stres waar dit met tye voel of al ’n mens se kragte uitgemergel word om net gewoon met die lewe voort te gaan. Dit was ook van toepassing op Joshua in die Ou Testament. Ons ken die verhaal van hierdie brawe man, wat die groot skoene van Moses moes volstaan, en sy verantwoordelikhede op hom neem. Hy het skielik gehoor dat hy hierdie groot man, die man van God, in wie se skaduwee hy al ’n aantal jare geloop het, moet opvolg.
Dit was vir hom waarskynlik ’n moeilike situasie waaruit hy moontlik probeer uitkom het. Dalk het hy gevra: “Wie? Ek?” “Is daar nie dalk iemand anders wat sy hand wil opsteek nie? Ek weet nie of ek die druk sal kan hanteer om hierdie groot man op te volg nie!” Dan hoor hy boonop dat hy die weerbarstige volk deur die Jordaanrivier moet lei. Arme Joshua! Ons kan ons net indink hoe hy moes gevoel het met hierdie groot taak en verantwoordelikheid wat vir hom gewag het.
En dan, kom die wonderlike belofte van God direk aan hom, in sy benoudheid. Die Here belowe aan hom sy teenwoordigheid. Trouens, Hy sê dat Hy by hom sal wees, net soos wat Hy, God, by Moses was. Dit is sy mandaat. Dit is Sy krag. Dit is wat hom gerus moet maak oor die onbekende toekoms en al sy uitdagings wat voorlê. Die God wat Hom alreeds in die verlede bewys het en wat vir Moses ondersteun het, kom neem ook nou stelling in langs Joshua vir sy groot taak.
Hoeveel beteken hierdie belofte aan Joshua nie ook vir ons vandag nie? Ook te midde van die enorme druk van ons huidige omstandighede in Suid-Afrika en die wêreld, en die groot uitdagings waarvoor ons te staan kom. Om dan weereens hierdie belofte te hoor wat ook vir ons geld. “Ek is by jou. Ek neem stelling in langs jou, om jou te begelei, met my krag, wysheid, leiding, en troos. Altyd, orals, in alle omstandighede. Ek is langs jou, Ek is voor jou, Ek is bo jou, Ek is agter jou, en by jou.
Kom ons hou opnuut ook vas aan hierdie belofte, God wat met ons voorouers was, is die God wat nou by ons is. En ons kan in Sy teenwoordigheid ons druk hanteer.
Gebed:
Dankie Here dat U saam met ons is, soos U saam met Joshua en Moses was. Ons hou vas daaraan, en glo dat U die een is wat ons dag na dag versterk met u teenwoordigheid om ons druk te verlig.
Amen.
Gedagte vir die dag | Woensdag 6 Oktober 2021
Matteus 1:22-23: Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word: “Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons.
Gedagte: “Ek is met jou!”
Dit bly waarskynlik een van die wonderlikste beloftes wat ons as mense in alle omstandighede kan hoor. Dit kan vir my as ’n klein kindjie baie betekenis hê om te weet pappa of mamma is baie naby aan my, en loop die pad saam met my. Veral in tye van gevaar. Ek het met ’n vorige dagstukkie al verwys hoe ek as klein seuntjie, elke aand geroep het dat my pa by my moet kom lê. Dit was eers as hy stelling langs my inneem op my bedjie, dat ek rustig kon raak en dat ek kans gesien het vir die donker nag wat voorlê.
Elkeen van ons het sulke stories, elkeen van ons het sulke behoeftes, of ’n mens klein of groot is, of dalk al iewers in die lewe is waar ek oud geword het? Dit is een van ons mees basiese behoeftes.
God ken hierdie behoeftes van ons, baie beter as enige ander behoefte. Daarom kom bied Hy Hom aan in hierdie verband. Dit raak een van sy grootste beloftes in die Bybel, dat Hy saam met ons en by ons sal wees. Dit is iets waarna ons kan gryp, en aan kan vashou, ook as die nagte donker geword het, en as alleenheid en desperaatheid soos ’n vloedgolf oor my kom spoel het. Iewers is daar ’n sterk hand! Iewers is daar iemand wat groter is as mamma en pappa, wat langs my kon kom inkruip in my nood.
Dit is ook daarom dat God Sy Seun gestuur het om Immanuel te kom wees – God met ons.
As ons aan Jesus dink, dink ons aan ’n God wat ons behoeftes ken, en wat daaraan kom aandag gee deur sy geliefde Seun, Jesus Christus, wat in ons wêreld inkom, in my eie wêreld om by ons te kom wees. Ons wil die volgende paar dae bietjie hieroor nadink en ’n paar tekste in die Bybel met mekaar deel.
Het jy spesifiek ook vandag behoefte daaraan? Om weereens te besef en te ervaar dat iemand wat groter as ek en al my omstandighede is, by my is, naby my is en nader aan my is as my eie skaduwee. Gryp vandag na hierdie grootste belofte van jou hemelse Vader.
Gebed: Here, dankie dat U in Jesus Christus, Immanuel vir my geword het. Ek hou daaraan vas met my geloof en vertroue in U. Amen.
Gedagte vir die dag | Dinsdag 5 Oktober 2021
Ek lees graag ’n gebed voor wat deur Thomas Merton geskryf is:
My Lord God,
I have no idea where I am going.
I do not see the road ahead of me.
I cannot know for certain where it will end.
Nor do I really know myself,
and the fact that I think I am following your will
does not mean that I am actually doing so.
But I believe that the desire to please you does in fact please you.
And I hope I have that desire in all that I am doing.
I hope that I will never do anything apart from that desire.
And I know that if I do this you will lead me by the right road,
though I may know nothing about it.
Therefore will I trust you always
though I may seem to be lost and in the shadow of death.
I will not fear, for you are ever with me,
and you will never leave me to face my perils alone.
Vir baie van ons dit moeilik om ons verlorenheid, ons hoop en begeertes eerlik te verwoord. Dis nie altyd maklik om te erken wanneer ons die merk mis nie, of dalk die verkeerde besluit geneem het nie. Maar Merton se gebed, net soos die Psalmdigter se gebede, herinner ons dat ons ook met ons tekortkominge na God kan gaan en dat ons kan vertrou dat God ons weer sal lei op maniere wat ons nie altyd verstaan nie.
Mag hierdie gebed vir jou help om ook die volgende tree op jou geloofspad te neem
Gedagte vir die dag | Maandag 4 Oktober 2021
Ek lees graag vir julle ’n verwerking van ’n gebed wat die bekende teoloog Dietrich Boenhoeffer in die tronk geskryf het:
Wie is ek? Wie is ons?
Is ek regtig net wat ek in die spieël sien, van myself?
Die broosheid en swakheid,
Die aftakeling en ouderdom, die moegheid en die seer?
Is ek regtig net die somtotaal van alles wat vir my swaar weeg,
Die produk van alles waarvoor ek so lief is;
Van wat ek so graag nog wil doen en wil hê?
Is ek regtig so afgunstig op ander dat ek heimlik bly is oor hulle leed?
Gee ek werklik so weinig om dat ek kan wegkyk van ander se swaar?
Is ek regtig die een wat net ek self ken?
Is dit dan wie ons is, Gees van God?
Of is ek die een wat ander mense sien, en dink dat hulle ken?
Is ons dan regtig wat ander van ons dink?
Wat ander van ons sê?
Hoe ander ons ervaar?
Die stories wat hulle oor ons vertel?
Die name waarmee hulle ons noem?
Die gesindhede wat hulle by ons bemerk?
Die motiewe waarvan hulle ons verdink- en beskuldig?
Is dit regtig wie ons is, o Gees?
Ons dank U dat ons meer is.
Dat U ons ken, soveel beter as wat ons onsself ken.
Dat U ons al geken het toe ons nog in die moederskoot was- en ons toe al bemin het, soos wat ons is.
Dat U ons aanneem as u kinders, ons afwas, ons vernuwe- en ons ’n ander naam gee, o Gees, wat ons leer “Abba” sê –
Ons dank U
Gedagte vir die dag | Sondag 3 Oktober 2021
Die briefskywer Paulus het op ’n slag geskryf oor ons daaglikse stryd met die dood en die lewe. Hy skryf in Filipense 3 “Al wat ek wens, is om Christus te ken, om die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood. Vir Paulus was die krag van die opstanding en die deelname aan die lyding een. Ons ken nie die een sonder die ander een nie.
Wat ek dink ten diepste op die spel is, is die vraag na wat werklik nut, waarde en betekenis het. Wat die moeite werd is om na te jaag, aan vas te klou en uiteindelik voor te lewe. Paulus skryf op ’n ander plek dat die opstandingslewe te doen het met die losmaak van wat agter is en die uitstrek na wat voor is. Om te ontdek dat dit wat eers saak gemaak gemaak het, nou nie meer so belangrik is nie. Paulus skryf vir hom is dit om Christus te ken. So wat sal ons dan sê is die nut van die opstanding? Ek dink dit laat ons nuut dink oor nut en wat waarlik nut het en wat betekenisvol is.
Mag ons vandag diep reflekteer oor dit wat ons ook wil nalaat, agterlos en na wie ons wil uitstrek – na Hom wat voor ons is.
Gedagte vir die dag | Saterdag 2 Oktober 2021
Ek lees graag vandag vir julle ’n gebed van die Corrymeela gemeenskap in Ierland. Dit is ’n groep gelowiges wat saam dink oor hoe rekonsiliasie, vrede en dialoog binne gemeenskappe, wat verskil van mekaar, kan uitspeel. Mag jy vandag hierdie woorde ontvang. Miskien wil jy dan aan die einde, ’n paar oomblikke in stilte sit en vir God vra om ook vir jou bewus te maak van hoe God hierdie week op onopmerklike wyses by jou teenwoordig was. Mag dit dan vir jou ’n troos wees en mag dit vir jou die vrede gee waarna jy opsoek is.
God of the good news that spreads faster than fear,
God of the courage that comes from the heart:
Be with us as anxieties rise
and with us as uncertainty grows.
Be with us when children ask difficult questions,
And with us when parents seem farther away.
Remind us that to be a community does not always mean
to be physically present beside those we know well.
It also can mean being spiritually present
with those who feel very alone;
and that you as our God, the God made flesh,
are also the God who calls us from the tumult
and tells us to be still
and know
that you are God
with us.
Amen
Gedagte vir die dag | Vrydag 1 Oktober 2021
Psalm 8.
1Vir die koorleier: met musiek. ‘n Psalm van Dawid.
2Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!
3Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring het.
So word u teëstanders, die vyande en wraakgieriges, tot swye gebring.
4As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, 5wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?
6U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon,
7U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp:
8skape en beeste, alles; selfs die diere in die veld,
9die voëls in die lug, en die visse in die see
wat die oseane deurkruis.
10 Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!
Die hele gebed draai rondom hierdie vraag van die digter: Wie is die mens binne God se skepping? Watter waarde het die mens dat God aan ons dink? Hoe meet ons onsself teenoor die res van die skepping? Die digter vra hierdie vrae nadat hy opkyk na die hemel, soos baie van ons ook al gedoen het, en diep bewus geword het van sy plek in die skepping.
Die digter kom tot die gevolgtrekking dat ons maar klein en onbeduidend is binne God se skepping. Maar gelyktydig is ons ook waardevol, omdat God ons sien as toesighouers, as ’n mede skepper van alles wat God gemaak het. Ons is waardevol omdat God dink ons is waardevol. Die digter maak die ontdekking dat God ons met sy skepping vertrou. Dit is ’n geweldige verantwoordelikheid. Mag ons vandag onsself herinner aan hierdie roeping en mag ons nederig en respekvol bly oor die plek wat God ons gun.