GEDAGTE VIR DIE DAG

Dagstuk | Saterdag 9 Maart 2024

Hierdie week reis ons binne teksgedeeltes en gedagtes oor die eerste gedeelte van ons gemeente se belydenis: Ons Glo Jesus ons Verlosser leef. Vandag staan ons stil by ons glo in die algemene kerk van Christus waarvan ons deel is en spesifiek deel van kerke wie se geloof verwoord word in die Drie Formuliere van Eenheid en in die Belydenis van Belhar.

Matteus 18:18-20

18“Dit verseker Ek julle: Wat julle ook al op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat julle ook al op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly. 19Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, 20want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”

Refleksie

Kerk is waar spesifieke mense bymekaarkom, in spesifieke kontekste, in die naam van die Here.

Twee hoofstukke vroeër in Matteus sê Jesus vir Petrus dat hy die rots is waarop die kerk gebou sal word en dat Jesus die sleutels van hemel en aarde aan Petrus toe vertrou. Wat ook al hy oopsluit op aarde, sal in die hemel oopgesluit word en wat ook al toegesluit word op aarde sal in die hemel toegesluit bly. Wat Jesus vroeër spesifiek net vir Petrus sê, word hier vir die groter gemeenskap van gelowiges waar, wanneer hulle in die naam van die Here bymekaarkom.

Jesus vertrou gewone gelowiges met die mag oor hemel en aarde. Jesus vertrou ons met sy kerk. Hoe voel jy oor die gedagte dat Jesus mense met die kerk toevertrou?

Die teksgedeelte herinner ons ook dat hoewel die kerk uit almal bestaan wat deel is van die liggaam van Christus, die kerk ook sigbaar word wanneer klein groepies mense in Jesus se naam bymekaarkom. Klein groepies mense wat op spesifieke plekke, op spesifieke tye, in spesifieke kontekste bymekaarkom en onderskei hoe die Here hulle lei vir daardie spesifieke konteks. Dit beteken dat hoewel die kerk algemeen is, die kerk ook spesifieke uitdrukkings het vir verskillende mense in verskillende kontekste. Dit beteken kerk lyk anders op verskillende plekke vir verskillende mense. Oor duisende jare het geloofsgemeenskappe op verskillende maniere verwoord wat vir daardie spesifieke gemeenskap belangrik is, in die vorm van belydenisse.

Dit beteken nie dat enige iets aanvaarbaar is nie, maar dat ons die Here vertrou om ons in ons spesifieke konteks te lei oor wat dit beteken om kerk hier op aarde te wees. Vir Stellenberg-gemeente beteken dit om deel te wees van die spesifieke groep van kerke wat hul storie saam met God verwoord binne die Drie Formuliere van Eenheid, asook die Belydenis van Belhar. Hierdie belydenisskrifte wil ons help met die taal om te verwoord wat ons glo – wat vir ons as geloofsgemeenskap belangrik is en wat nie.

Hoe beleef jy verskillende uitdrukkings van kerk in die wêreld? Is dit vir jou ’n bron van spanning of verwarring, of is daar vir jou iets mooi in verskillende maniere van aanbidding? Hoe kan die kerk inklusief wees teenoor verskillende maniere van aanbidding, sonder om die karakter van die kerk te verloor?

Neem vandag ’n oomblik om jou eie geloof te verwoord. Dalk in die vorm van ’n belydenis wat jy self skryf, of in die vorm van ’n lied waarmee jy identifiseer, wat jou help om jou geloof te verwoord.

Gebed

Here God, dankie dat U ons vertrou met u kerk. Mag U ons deur die Gees en in wysheid lei hoe om kerk te wees in ons spesifieke tyd en konteks. Dankie, dat ons mag weet dat waar ook al twee of drie bymekaar is, U ook daar teenwoordig is.

Amen.

 

Dagstuk | Vrydag 8 Maart 2024

Hierdie week reis ons binne teksgedeeltes en gedagtes oor die eerste gedeelte van ons gemeente se belydenis: Ons Glo Jesus ons Verlosser leef. Vandag staan ons stil by ons glo in die algemene kerk van Christus waarvan ons deel is.

Efesiërs 4:12-13

Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. 13So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ‘n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus.

Refleksie

Met al die duisende kerke in die wêreld kan ons maklik visie verloor dat ons almal, elke kerk, deel is van die liggaam van Christus. Dat ons een liggaam is, wat opgebou word, soos Paulus ons herinner tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Al is daar ’n magdom verskillende uitdrukkings van kerkwees, moet ons nooit vergeet dat ons almal deel is van iets groter nie. Die beeld van die liggaam en ’n beeld soos die wingerdstok, herinner ons dat ons nooit onsself kan los sny van mekaar, sonder om onsself los te maak van die hoof van die liggaam, van die ware wingerdstok nie. As ons deel is van die liggaam van Christus, is ons ook verbind aan mekaar. Die kerk is een.

Iemand het dit een keer aan my verduidelik deur die beeld van ’n bootjie op die see te gebruik. As die bootjie sou sink tot op die bodem, sou ons kon sê dat die bootjie vol van die see is. Dit sou wel belaglik wees as ons sou wou sê dat die see vol van die bootjie is. Dieselfde is waar vir die kerk. Ons is almal deel van die groot see van God, wat ons saambind tot ’n eenheid. Om deel te wees van die algemene kerk van Christus beteken dat ons besef dat ons nie die volle waarheid het nie, maar dat God groter is as wat ons besef en ons maar net ’n stukkie van die grootheid van God beleef. Dit beteken dat daar genoeg ruimte is binne die grootheid van God vir verskillende uitdrukkings van kerkwees. Ons besef ook dat elke spesifieke bootjie vol is van dieselfde see en dat die see al die bootjies aan mekaar verbind. Ons is almal deel van een kerk, wat deur Christus saamgebind word tot een liggaam, een kerk.

Dink vir ’n oomblik hoe dit sal voel om op ’n klein bootjie in die middel van die oseaan te dryf. Wat maak dit in jou los om te besef dat jy deel is van iets groter?

Dink vir ’n oomblik hoe die see al die kontinente en eilande aan mekaar verbind. Hoe ’n bottel wat in Suid-Afrika in die see beland, aand die ander kant van die wêreld kan uitspoel. Hoe voel dit vir jou om te dink dat jy deel is van een algemene kerk, die liggaam van Christus?

Luister weer na vandag se teks, mag dit ons inspireer om die kerk op te bou in eenheid:

Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. 13So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ‘n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus.

Gebed

Here, ons dink so maklik dat ons die enigste, volle waarheid het. Kom herinner ons vandag dat U groter is as ons idee of uitdrukking van kerk. Herinner ons ook dat ons deel is van een Kerk, die liggaam van Christus. Mag ons in die manier wat ons bid, dink en doen, die kerk opbou tot ’n eenheid in Christus.

Amen.

Dagstuk | Donderdag 7 Maart 2024

Hierdie week reis ons binne teksgedeeltes en gedagtes oor die eerste gedeelte van ons gemeente se belydenis: Ons Glo, Jesus ons Verlosser leef. Vandag staan ons stil by ons glo in die Bybel: die Woord van God in mensetaal.

2 Timoteus 3:16-17

16Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, 17sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.

Refleksie

Wat beteken dit dat die Skrif deur God geïnspireer is? Aan die een kant sou ons kon sê dat die Bybel net so uit die hemel geval het (gewoonlik nogal in ’n spesifieke vertaling), of dat daar ’n engel op die Bybelskrywers se skouer gesit en elke woord in hul oor gefluister het.

Aan die ander kant sou ons kon sê dat God Homself aan mense geopenbaar het, dat mense ervarings van God gehad het, wat hulle geïnspireer het om hierdie ervarings te verwoord, in stories, liedere, wysheid, wette, briewe en so meer. Amper soos wat iemand wat verlief is deur ’n persoon geïnspireer word om ’n liedjie te skryf, word mense geïnspireer om die Bybel te skryf.

Van die begin af leer leer ken ons vir God as ’n God wat in vennootskap met mense tree om sy verhaal te vertel en dat God ons as mens vertrou met sy storie. God inspireer mense deur die manier wat Hy betrokke is in die wêreld om die storie van God op verskillende maniere te vertel, wat in die Bybel wat ons vandag ken, versamel is. Die Woord van God wat nie direk uit die hemel uitgeval het nie, maar die Woord van God in mensetaal. In die taal van mense met foute, met wat ’n intens menslike ervaring van God verwoord.

Die woord inspireer beteken letterlik “ingeasem”. In dieselfde manier as wat God asem in die mens ingeblaas het, het God die Woord ingeasem. Ons sou kon sê die Woord is lewendig. En die Gees en die Woord het ’n manier om waarhede te openbaar en ons te inspireer op maniere wat die oorsponklike skrywers nie oor kon droom nie. Die Woord is lewendig vir ons vandag en ons word geïnspireer deur die geïnspireerde Woord.

Reflekteer vir ’n oomblik oor jou eie lewe: Wat gee vir jou inspirasie?

Hoe dink jy oor die Woord van God? Wat beteken dit vir jou dat die Woord van God geïnspireer is? Hoe laat dit jou voel as jy dink dat die die Bybel die Woord van God in mensetaal is? Dat God gewone mense geïnspireer het om sy storie met mense te vertel?

Hoe word jy ingenooi om hierin deel te neem? Hoe inspireer God jou vandag om sy storie te vertel?

Gebed

Here, dankie dat ons u Woord mag ken. Die Woord wat vlees geword het en onder ons kom woon het in die persoon van Jesus en ook die U Woord in die Bybel, wat deur U geïnspireer is. Mag U ons ook inspireer deur u Woord, sodat ons met inspirasie kan gaan leef en ook ander kan inspireer. Amen.

Dagstuk | Woensdag 6 Maart 2024

Hierdie week reis ons binne teksgedeeltes en gedagtes oor die eerste gedeelte van ons gemeente se belydenis: Ons Glo Jesus ons Verlosser leef. Vandag staan ons stil by In Christus, wat deur die geloof en in genade ons Verlosser is

Efesiërs 2:8-10

8Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. 9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. 10Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

Refleksie

Niks wat ons doen, kan ons red nie. Ek dink baie keer ek kan staatmaak op die gedagte dat ek ’n “goeie Christen” is, asof my dade vir my bonus punte by God kan verdien en my plek aan Jesus se regter en linkerkant kan verseker, soos Johannes en Jakobus. Efesiërs maak dit duidelik dat ons nie op grond van ons dade gered word nie, maar uit genade, deur geloof.

Nou die dag het ek ’n vreemde interaksie gehad terwyl ek vrugte by ’n padstalletjie wou koop. Terwyl ek wil uitvind wat die vrugte kos, is daar ’n tannie diep in gesprek met die verkoopsman agter die tafel oor geloof. Die volgende oomblik draai sy na my toe en vra: “is jy gered? Wat het jy gedoen om jou plek in die hemel te verseker?” Ek wou net weet wat die prys van ’n spanspek is en wou nie regtig in ’n gesprek betrokke raak nie en het gedink ek sal eerder nie vir die tannie sê dat ek ’n dominee is nie. Maar ek antwoord toe: “Ek weet ek is gered; en ek glo nie dat ek gered word op grond van wat ek gedoen het nie, maar op grond van wat Jesus gedoen het.” Ek is dankbaar dat die tannie my op ’n vreemde manier kon herinner dat daar niks is wat ek kan doen om gered te word nie. Net dit wat Jesus gedoen het, kan my red.

Philip Yancey het dit mooi gestel en gesê: “Niks wat jy doen, kan maak dat God jou minder lief het nie. Niks wat jy kan doen, kan maak dat God jou meer lief het nie.”

Reflekteer vir ’n oomblik hieroor. Maak jy staat op jou eie goeie dade? Of maak jy staat op Jesus se genade? Waarvan maak dit jou vry om te weet dat daar niks is wat jy kan doen om God se genade te verdien nie?

Die lewe van geloof is dan ’n reaksie op God se genade, wat ons vrymaak om ’n nuwe lewe te leef. Dit beteken nie dat ons maar kan doen wat ons wil nie. Dallas Willard stel dit mooi:

“If you would really like to be into consuming grace, just lead a holy life. The true saint burns grace like a 747 burns fuel on takeoff. Become the kind of person who routinely does what Jesus did and said. You will consume much môre grace by leading a holy life than you will by sinning, because every holy act you do will have te be upheld by the grace of God.”

Hoe word jy vandag uitgenooi om in genade te leef?

Gebed

Here Jesus, ons dank U vir U onverdiende genade wat ons redding bring. Daar is niks wat ons kan doen om dit te verdien nie. Ons kan net dankie sê. Dankie, Here. Help ons om in dankbaarheid en geloof en genade te leef. Amen

Dagstuk | Maandag 4 Maart 2024

 

Hierdie week het Stellenberg-gemeente ’n nuwe embleem gekry – ’n simbool wat ons help om die storie te vertel van hoe die Here met ons as gemeente besig is. Die simbool wil iets van ons gemeente se belydenis op ’n nuwe manier uitbeeld. Daarom reis ons vir die volgende paar weke binne teksgedeeltes wat iets van ons gemeente se belydenis vertel en word ons ingenooi om na te dink oor hoe ons nuwe simbool iets daarvan verwoord. Hierdie week staan ons stil by die eerste gedeelte van ons belydenis stil:

Ons glo: Jesus ons verlosser leef.

Romeine 6:9-11

Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie. 10Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. 11Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus.

Refleksie

Hierdie is die sentrale belydenis tot die Christelike geloof: Jesus Christus leef. As Jesus Christus nie lewe nie, maak niks anders eintlik saak nie. In Romeine 6 maak Paulus dit duidelik dat hierdie belydenis nie net oor Jesus gaan nie, maar oor ons – wat vir Jesus waar is, is vir ons ook waar. Ons het saam met Christus gesterf en is ook dood vir die sonde en ons het saam met Christus deel aan die nuwe lewe van die opstanding. Die belydenis dat Jesus ons verlosser leef, is nie net ’n stelling wat ons glo waar is nie, maar ’n belydenis wat ons nooi om deel te neem aan ’n nuwe lewe. As Jesus leef, is daar nuwe lewe vir ons en vir almal in Hom.

Een mooi manier hoe hierdie belydenis uitgebeeld is in die gereformeerde kerktradisie, is deur middel van ’n leë kruis. In Rooms-Katolieke kerkgeboue sal jy dikwels uitbeeldings sien van Jesus wat aan die kruis hang. Jy sal ook dikwels sien dat mense hangertjies dra waar Jesus aan die kruis hang. Die gereformeerde tradisie het doelbewus gekies om nie Jesus aan die kruis as simbool te gebruik nie, maar eerder ’n leë kruis – omdat Jesus nie meer aan die kruis hang nie, maar opgestaan het en leef. Net soos wat die graf leeg is, is die kruis ook leeg om te wys dat Jesus leef!

Daarom staan die kruis ook sentraal aan Stellenberg se embleem, om iets van ons belydenis uit te beeld dat Jesus ons verlosser leef en dat hierdie belydenis sentraal staan tot wie ons as gemeente is.

Vandag word ons uitgenooi om hieroor te reflekteer: Hoe neem ons deel in die belydenis dat Jesus ons verlosser leef?

Wat beteken dit vir jou dat Jesus gesterf het en jy daarom dood is vir die sonde?

Wat beteken dit vir jou dat Jesus leef en dat daar vir jou nuwe lewe in Christus is?

In Johannes 4 nooi Jesus ons uit: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; 14maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ‘n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.”

Wat beteken die woord “lewe” vir jou? Vra die Here om vir jou opnuut ook van hierdie water van ewige lewe te gee.

Gebed

Here God, dankie dat U vir ons nuwe lewe moontlik gemaak het in Christus Jesus, ons verlosser. Here Jesus, U leef en ons met U. Laat ons drink van die water van die lewe wat ons in U het en mag ons as Stellenberg-gemeente ’n fontein van lewe wees wat opborrel om ook lewe aan ander te bring. Amen.

Dagstuk | Dinsdag 5 Maart 2024

Hierdie week reis ons binne teksgedeeltes en gedagtes oor die eerste gedeelte van ons gemeente se belydenis: Ons Glo Jesus ons Verlosser leef. Vandag staan ons stil by Ons glo in die een God: Vader, Seun en Heilige Gees

Johannes 15:26-27

26“Wanneer die Voorspraak kom wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur, die Gees van die waarheid, wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig. 27En julle moet getuig, want julle is van die begin af by My.”

Refleksie

Johannes 15 is deel van ’n lang toespraak waar Jesus dit vir sy dissipels duidelik maak wie Hy is. Jesus maak dit duidelik dat Hy en die Vader een is, dat die Gees voortvloei vanuit hierdie dinamiese verhouding. Op verskillende plekke in die Bybel, maar veral hier in Johannes, leer ken ons God as ’n trinitariese God wat in ’n dinamiese verhouding leef tussen Vader, Seun en Gees. God is in beweging. Die Kappadosiese Kerkvaders het reeds in die vierde eeu na Christus hierdie beweging beskryf met die woord perichorese, wat praat van die dans van die Triniteit. Die drie persone van die Triniteit is in ’n dinamiese dans met mekaar, wat voortvloei in die wêreld in en ons uitnooi om daarin deel te neem. Richard Rohr verwoord hierdie gedagte op ’n mooi manier:

“They were saying that whatever is going on in God is a flow that’s like a dance. And God is not just the dancer; God is the dance itself! Then the Incarnation becomes a movement outward and downward (which is why we must never be afraid of these movements in our own lives). Jesus comes forth from the Father and the Holy Spirit to take us back with him into this eternal embrace, from which we first came (see John 14:3). The circle dance broadens; we are invited to join in and even have participatory knowledge of God through the Trinity.”

God is die dans self, wat uitgaan vanuit Homself om ons in te nooi om deel te neem in die dans. Om die nuwe lewe in Christus te leef, om vervul te wees met die Gees, is om deel te neem aan die dans van die Triniteit. Richard Rohr maak verder die opmerking dat dit duidelik word dat die hele skepping vanuit hierdie dinamiese verhouding verweef is:

“Scientists discover this reality as they look through microscopes and telescopes. They are finding that energy is actually in the space between atomic particles and between the planets and the stars—in the relationships more than the particles! This seems to mean that reality is relational at its core. When we really understand Trinity, however slightly, it’s like we live in a different universe—and a very good and inviting one!”

Een van die maniere wat hierdie dans uitgebeeld word, is met sirkels wat oorvleuel. Iets hiervan is sigbaar in Stellenberg se embleem. As jy na Stellenberg se embleem kyk, kan jy iets van die dans van die Triniteit en hoe ons daarin deelneem, raaksien?

Luister weer na die teks:

26“Wanneer die Voorspraak kom wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur, die Gees van die waarheid, wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig. 27En julle moet getuig, want julle is van die begin af by My.”

Hoe word jy vandag uitgenooi om deel te neem in die dans van die Triniteit?

Gebed

Here God, Drie-enig, Vader, Seun en Heilige Gees, U is vir ons die perfekte voorbeeld van ’n liefdevolle verhouding, wat in beweging is in die wêreld. Dankie, Here, dat U ook in beweging is in ons lewe en dat U ons innooi om deel te neem aan hierdie dans. Help ons om oor U te getuig, in alles wat ons doen. Amen.

Dagstuk | Saterdag 2 Maart 2024

Matteus 14:14. Toe Hy uit die skuit klim, het hy die groot menigte daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak.

Die hervormer Johannes Calvyn het gesê: Dat daar nie ‘n nasie of volk so ver of barbaars is dat hulle nie ‘n algemene bewusssyn van God het nie. Van die vroegste tye van die mens se geskiedenis getuig mense van die bewussyn van ‘n hoër mag. Vanuit hierdie bewussyn het mense probeer om van die wêreld sin te maak en gode te behaag om hulle goedgesind te wees. In hierdie bewussyn het mense egter altyd vasgehaak by die onoorbruglike afstand tussen die gode wat in die hemel en mense wat op die aarde gebly. Die verhaal van God in die Ou en Nuwe Testament was radikaal anders. Dit getuig van ‘n God wat hierdie afstand oorbrug deur in ‘n verbond met die mensdom te tree en dan nog verder gaan deur aan mense gelyk te word wanneer Jesus in die gestalte van ‘n mens verskyn. God was hierin nie net by mense teenwoordig nie – hy het hulle innig jammer gekry. Dit is hierdie ervaring wat daartoe aanleiding gegee het dat skares mense van oral na Jesus toe gestroom het om God se sorg en genade te beleef het. Die Switserse sielkundige, Carl Jung, het die volgende aanhaling bo sy voordeur aangebring: Invited or not, God is always present. Beleef vandag dat God nie net by jou is nie, maar jou vandag met ‘n diep begrip en sorg omring.

Gebed

Here, hoe die dinge waaroor ek vra, deur U voorsien sal word, dit weet ek nie. Maar dat U sál voorsien, dit glo ek, want U het dit belowe. U het my geleer om te bid; dan sal U mos sekerlik ook na my gebed luister? Here, dit is nie die verdienstelikheid van my gebed wat my oortuig dat U sal hoor en antwoord nie, maar die sekerheid van U trou. Amen.

Dagstuk | Vrydag 1 Maart 2024

Matteus 9:13. Gaan leer wat dit beteken: Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.

In hierdie gedeelte word Jesus deur die Fariseërs daarvan aangekla dat hy homself met mense bemoei het wat bekend was vir hulle slinksheid en reputasie van sonde. Die rasionaal was dat hierdie mense vermy moet word omdat hulle ‘n slegte invloed op die samelewing het. Deur saam met hulle te eet het Jesus, volgens die Fariseërs, homself aan hulle onreinheid blootgestel. Jesus kom draai die beginsel om. Ons toewyding aan God word nie gemeet aan hoe ons God vereer nie, maar eerder deur die wyse waarop ons met barmhartigheid teenoor ander optree. Jesus kom wys ons hoe ons dit wat stukkend en gebreek is deur barmhartigheid kan omdraai. Die wyse waarop ons soms sonde hanteer laat my dikwels aan die COVID 19-kiem dink. Mense oordeel dat indien hulle hulleself goed genoeg van sonde isoleer, sonde hulle nie sal infekteer nie. Dié dat ons kies om eerder van mense met ’n twyfelagtige reputasie weg te bly. Hoor wat sê 1 Johannes 1:8-9, “as ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie, maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid”. Die besef dat ons almal aan dieselfde kondisie ly maak ‘n groot verskil. Hoe bewerkstellig God hierdie verandering? Net soos wat God met met genade en in barmhartigheid na ons uitreik en ons lewens omkeer, so word ons ook geroep om teenoor ander op te tree.

Gebed

Here, open vandag my oë en hart vir die manier waarop U te midde van my eie skuld en sonde nooit ver van my is nie en altyd op maniere na my toe deurbreek. Laat hierdie barmhartigheid vandag my eie perspektief verander wanneer ek dikwels mense so verkeerd beoordeel. Laat my U liefde ervaar wat nie liggeraak is nie, maar wat altyd alles hoop, glo en verdra. Amen.

 

Dagstuk | Donderdag 29 Februarie 2024

Matteus 18:3. As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie.

Hierdie teks word soveel kere deur Christene gebruik om die punt te maak dat ons soos kinders moet glo en dat die God se koninkryk van God so vir ons gaan deurbreek. Die teks sê eintlik iets anders. Dit wil ons juis nie aanmoedig om as liggelowiges te leef nie, maar diep nadenkend oor wat dit beteken dat ons van God afhanklik is. Hierdie betekenis word baie duidelik wanneer Jesus dan in die volgende vers sê: “Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel”. Hierdie roeping van geringheid en afhanklikheid rym dikwels nie met die styl en pas van ons daaglikse strewe om suksesvol en assertief te wees nie. Ek lees iewers hierdie aanhaling: It all depends on me and I depend on God. Wat is die druk waaronder jy leef om dinge in die lewe te laat werk? Dink vir ‘n oomblik aan almal wat vandag van jou afhanklik is vir hulle inkomste, of bestaan en hoe die wyse waarop jy vandag besluite neem hulle lewens ingrypend kan verander. Hierdie druk word net so op jou eie vermoëns oorgeplaas en ons oorskat dikwels ons eie waarde en onderskat die bydraes van ander. Bely vandag jou afhanklikheid en geringheid voor God. Wees eerlik oor dat jy nie altyd in staat is om vanuit jou eie vermoë en krag alles te doen wat van jou verwag word nie. Mag daar vir jou vandag in hierdie gedagte ‘n diep vrede en eenvoud aanbreek wat jou van die druk en verwagtinge wat op jou skouers geplaas word, verlos.

Gebed (’n anonieme seënbede uit die 15de eeu)

Here, verlig ons verstand en ons begrip; Here, verlig ons oë en die manier waarop ons kyk; Here, verlig ons hart en dit wat ons bedink; Here, wees met ons waar ons nou hiervandaan vertrek. Amen.

 

Dagstuk | Woensdag 28 Februarie 2024

Matteus 16: 24-25. Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My wil aankom, moet Hy homself verloën, sy kruis dra en my volg, want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry.

Hoe kies ons ons lewenspaaie? Dit word baie dikwels bepaal deur die berekeninge watter pad ons die maklikste en vinnigste by ons doelwit of bestemming sal uitbring. In vandag se teksgedeelte kom daag Jesus hierdie gedagte uit wanneer Hy ons roep om hom te volg. Jesus se lewe was gekenmerk deur sy gesindheid van voortdurende opoffering. Wanneer Paulus in Filippense 2 hieroor skryf getuig hy van God wat homself as’t ware verneder het “deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word” waarna Hy homself nog verder verneder deur te ly en te sterf. En dan moedig Paulus ons aan om met hierdie selfde gesindheid te lewe. Ons lees gewoonlik vandag se teks en stel ons in om van tyd tot tyd die ongemak te ervaar wat ons verwag. Ons moet net vasbyt en daardeur leef. Ek dink ons mis die punt. Wanneer Jesus in Matteus en Paulus in Filippense vandag met ons praat gaan dit oor ’n keuse vir ’n leefwyse. Die boodskap is nie dat ons na die beste van ons vermoë lyding en ongemak vir kort tye moet probeer verduur nie. Eerder dat selfverloëning en kruis dra ons by ‘n diep vrede en nuwe lewensvooruitsigte uitbring. Wat is hierdie vurk in die pad waarvoor jy in die lewe staan? Moenie net die maklikste uitweg kies wat die minste van jou gaan vra, of vaskyk in die moeilike weg omdat jy nie kans sien om die lyding en uitdagings daarin te verdra nie. Dit is miskien juis hierdie weg wat vandag tot groot seën vir jou en ander kan wees.

Gebed

God, gee my die integriteit … om reg bo selfbelang te plaas; ander se nood bo my eie gerief; die dinge van die gees bo materiële belang. Here, leer my om nie altyd korttermyn plesier te soek ten koste van edeler doelwitte op die langtermyn nie. Here, leer my om die beginsels bo gewildheid te plaas, en, Here, o Here, vir U bo enigiets anders. Amen.

1 8 9 10 128