GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Woensdag 20 Oktober 2021

Joh.4:23 “Maar daar kom ’n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in die waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat hom aanbid, dit so moet doen.”

Ek het in die laaste tyd heelwat nagedink oor eredienste in die kerkgebou juis omdat ons in ’n tyd is waar die inperkingsmaatreëls effens verlig is en meer getalle in die kerkgebou bymekaar mag kom.  Dit het my aan die Mosellerivier, waar langs een van die oudste stede in Duitsland genaamd Trier, lê en spog met meer kerkgeboue as enige ander stad van dieselfde grootte in Europa. Een van die geboue in Trier is die Basilica wat aan die begin van die vierde eeu as ’n troonsaal vir Konstantyn die Grote gedien het.  Die Basilica is later omskep in ’n kerkgebou. Maar Trier is vandag eintlik meer bekend as die stad waar Karl Marx, die geestelike vader van die kommunisme op 2 Mei 1818 gebore is.  Alhoewel sy voorouers Jode was, het sy pa die Lutherse geloof aangeneem.  Tog staan daar in die kommunistiese manifes wat Karl Marx help opstel het dat die mens as arbeider die slagoffer is van godsdienstige misleiding en ekonomiese uitbuiting.  Wat het tog in Trier, die stad met sy kerke en teologiese kweekskole verkeerd geloop dat daar so ’n groot weersin in godsiens by Karl Marx onstaan het sodat hy ’n ateïstiese ideologie verkondig het wat soos ’n veldbrand destyds oor die hele wêreld versprei het?  Kenners beweer dat ondanks al die kerkgeboue en godsdienstige aktiwiteite Trier geestelik dood was.  Die predikante en teoloë het hulle net beroem op hul kritiese geskrifte oor die Bybel en mettertyd het vrae oor onbenullige sake die eenvoudige geloof in Jesus se kruis, die leë graf, liefde, genade, deernis en al hierdie dinge wat deel is van ons geloof, verdring. En wie sal tog waag om te sterwe vir teologiese besinnings en geloof waar daar nie liefde en deernis is nie.  Ek het dit aan die begin gelees maar wil jou herinner aan Jesus se woorde aan die Samaritaanse vrou wat allerhande vrae oor hulle plek van aanbidding gehad het. Maar daar kom ’n tyd dat jy sal sê, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in die waarheid sal aanbid. Want die Vader wil juis hê dat die mense wat hom aanbid, dit so moet doen.

Met dié woorde roep Jesus ons op om die geloof te leef en om doodgewoon net Christene te wees, om nie vas te val in al die goed waaroor die kerk en gelowiges so met mekaar stry en baklei nie.  Maar Christenwees in die markplein van die lewe beteken dat ons moet uitgaan met geloof en op die markplein van die lewe leef omdat Jesus opgestaan het vir my en vir jou. Kom ons wees doodgewoon Christene en gee op die wyse gestalte aan die kerk van Jesus deur elke dag dit te leef, waar ons onsself ook al bevind. En die Here plaas jou op ’n spesifieke plek waar jy dit kan doen.

 

Gebed

Here, gee dat ons in die markplein van die lewe gestalte sal gee aan u liefde, deernis en omgee en dit  elke dag sal uitleef.

Amen

Gedagte vir die dag | Dinsdag 19 Oktober 2021

Psalm 31:2. “By U, Here, skuil ek. Laat my tog nooit teleurgestel staan nie! Bevry my, want U is getrou.”

Baie van ons voel onseker of dalk benoud in hierdie tyd. Met goeie reg. Ons weet nie wat voorlê nie. Wat gaan van die ekonomie word? Hoe lank gaan ons finansies dit nog hou? Gaan daar anargie in die land uitbreek? Gaan hierdie virus dalk vir my en my huisgesin ook tref? Wat gaan van ons word?

Dis net by die Here waar ons kan skuil in sulke tye. Dis net Hy wat werklik tyd maak en genoeg omgee om af te buk, ons hand te neem en ons weer regop te trek. Sy liefde en deernis help ons deur die moeilikste tye. Gee ons die krag en wil om die stof, van gister se val, af te skud en weer voort te gaan.

Wat beteken dit om by die Here te skuil. Dit beteken om Hom te vertrou. Vertrou op die Here; Hy is getrou om Sy beloftes na te kom. Hy sal jou nie in die steek laat nie. Hy hoor as jy roep en is gereed om te help.

God, wat al die mag het, sal jou nooit in die steek laat nie. Hy sorg vir mense wat swaar sleep. Is jou probleem dalk te groot om uit te sorteer? God sal jou dan daarmee help. Voel dit of jou siekte jou oorrompel? God is daar!  Lê jy platgeslaan op die vloer? God het jou só lief. Hy sal jou daar kom optel. Elke keer. Gee vir God hierdie swaar gewig wat jy so saam met jou dra. Skuil by Hom.

 GEBED

Skuil by die Vader. Hy is genadig.  Daar is niemand soos Hy. Hy is altyd getrou. Hy is vol deernis. Hy ken jou onrus. Sy iefde beskerm jou. Hy is altyd getrou.

Amen

Gedagte vir die dag | Maandag 18 Oktober 2021

Psalm 100:5. “Dien die Here met blydskap. 1’n Dankpsalm. Juig tot eer van die Here, almal op aarde! 2Dien die Here met blydskap! Kom voor Hom met gejubel! 3Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak en ons is Syne, ons is sy volk, sy eie kudde. 4Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange, dank Hom, prys sy Naam, 5want die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag.”

Die Westminster-kategismus begin met die woorde: “What is the chief end of man?” Die antwoord is: “Man’s chief end is to glorify God, and to enjoy him forever.”

Dit klink soos Psalm 100.

Ons bestaan en die rede hoekom ons hier op aarde is, is om God te verheerlik en Hom vir altyd te eer. Dit ons hoogste en belangrikste doel.

Prof Dirkie Smit skryf: “Lofprysing vorm die hart van die Christelike lewe. Die hele Christelike lewe gaan oor lof aan God, die eer van die Here se Naam, die verheerliking van sy Naam, die erkenning van sy heiligheid. Die Christelike lewe is lofprysing. Lofprysing staan absoluut sentraal in die Christelike lewe. Daar is niks belangriker nie.”

Die Griekse woord wat veral vir ‘lof’ gebruik word, kan so omskryf word: “om goeie woorde te praat”.  Maar lof is nog veel meer.  Dit is om goeie woorde te wil praat, te moet praat. Om die Here dus te loof en te prys beteken om in ’n rykdom van goeie woorde met en van Hom te praat.  Dit is egter nie woorde wat op die punt van die tong ontstaan nie.  Dit is woorde wat uit die diepte van die hart vloei.

Die Here moet geprys word omdat Hy die almagtige Skepper is.  Hy het met sy Woord die heelal geskape en alles in plek gesit.  Elke sterretjie, die aarde en die son – alles is perfek.  Hy moet geprys word omdat Hy God is, omdat sy Naam verhewe is bo alles en almal.  Hy regeer oor alles en hou alles in stand, sy majesteit strek oor die hele aarde, Hy is Koning.  Hy gee krag aan die wat Hom dien,  Hy sorg vir ons.  Hy is naby aan ons.  Hy het ons gemaak en ook nuut gemaak deur ons te verlos van die dood en die sonde.  Niemand en niks is magtiger as Hy nie.  Hy is naby aan ons en is lief vir ons en sorg dag na dag vir ons, omdat Hy God is en omdat Hy goed is.

 GEBED

Ek wil U lof verkondig, my God en Koning, ek wil U naam altyd loof. Die Here help almal op wat geval het, Hy ondersteun die wat bedruk is. Die Here is regverdig in al sy handelinge, getrou in alles wat Hy doen. Die Here is naby almal wat Hom aanroep. Laat al wat leef sy heilige naam vir altyd prys! (Dele uit Ps. 145)

Gedagte vir die dag | Sondag 17 Oktober 2021

Handelinge 1:8 “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

In Engeland het daar twee broers gewoon.  Al het hulle in een huis grootgeword was die een “goed” en die ander “sleg”.  Almal in die gemeenskap het geweet dat die verskil tussen hulle in hulle geloof in Jesus Christus gelê het.  Die een was ’n gelowige en die ander ’n ongelowige.  Een namiddag was die goeie broer met die Bybel onder sy arm op pad na een van sy vele kerklike verpligtings. Op die dieselfde oomblik het die slegte broer al slingerend en onder die invloed by die tuinhekkie ingestrompel. Toe hulle bymekaar kom staar die slegte broer sy goeie broer aan en vra met ’n sleeptong en dronkmanswysheid: “Glo jy wat in daardie Bybel staan?”

“Natuurlik” sê sy broer, “ek glo elke woord daarvan!”

“Glo jy dat die Bybel sê dat ook slegte mense gered kan word?” vra die slegte broer.

“Ja, Jesus is magtig om enigeen te red” antwoord sy broer.

“My liewe broer” sê die half besope broer met pyn in sy oë. “Ek en jy woon nou reeds 22 jaar onder dieselfde dak en jy het dit nog nooit vir my gesê nie.  As ek sulke goeie nuus gehad het en ’n slegte broer soos ek gehad het, sou ek op my knieë op stukkende bottelstukke oor die breedte van Engeland gekruip het om dit vir hom te gaan sê. En jy het dit nog nooit vir my gesê nie!”

Ons Here Jesus Christus het na sy opstanding baie seker gemaak dat sy dissipels die implikasies van sy sending na die aarde verstaan. Vele kere het Hy vir hulle en ons verduidelik: Soos die Vader my na die wêreld gestuur het om die mense te kom red en hulle na God toe te lei, so stuur ek julle!  Keer op keer het Hy dit vir hulle gesê!  En hier, pas voor sy hemelvaart is dit weer hierdie belangrike opdrag wat vir oulaas beklemtoon word: Julle sal my getuies wees!

Ek en jy is geroep om God se getuies te wees hier op aarde. Waar ons ookal kom moet ons lewe en woorde van God se genade en liefde getuig.

GEBED

Almagtige Here, maak my asseblief ’n gewillige getuie. Dat waar ek kom ek sal getuig van u liefde en genade vir alle mense.

Gedagte vir die dag | Saterdag 16 Oktober 2021

Spreuke 15:13.  Blydskap laat ’n mens se gesig straal; smart maak ‘n mens terneergedruk.

Daar is net twee soorte mense: dié wat altyd ontevrede is en met gesigte soos donderwolke deur die lewe gaan, en dié vir wie elke dag ’n vreugde is. Is jy ’n sonskynmens, of ’n klakous? Die sonskynmense se lewensvreugde hang nie af van hul omstandighede nie – hul lewens is vol blydskap omdat hulle aan God behoort. By Hom is daar altyd oorvloedige blydskap. Hy is ’n Vader wat vir sy kinders sorg. Uit sy hand kom net wat mooi is. Ek het een van hierdie sonskynmense gevra wat haar geheim is. Sy het ’n rukkie vantevore haar lewensmaat verloor en kort daarna ook een van haar kinders. Hoe kry sy dit reg om elke dag nog te straal van blydskap, wou ek by haar weet. Sy het ’n bietjie gedink. “Ek tel my seëninge elke keer as ek hartseer wil word,” het sy gesê. “Die Here is so goed vir my, ek kan nie anders as om blymoedig te wees nie.”

Vriendelikheid en ’n glimlag kan nie met geld gekoop word nie, maar jy kan ’n verskil in iemand anders se lewe maak wanneer jy met opregte warmte en vriendelikheid na hom/haar kyk, maak nie saak wie die persoon is nie.

Straal jou gesig van God se liefde en genade, of frons jou gesig van die swaarkry van die lewe.

 GEBED

Almagtige Here. Dankie vir al u seën en genade in my lewe. Ek kies om met vreugde te lewe. Mag my gesig straal van u liefde en genade.

Gedagte vir die dag | Vrydag 15 Oktober 2021

Johannes 10:10. ” ‘n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”

Die woord “oorvloedig” is in Grieks “perisson” en beteken “oorvloediglik, baie hoog, uitermate, meer, oortollig, of ’n hoeveelheid só oorvloedig en om aansienlik meer te wees as wat iemand sal verwag of voorstel.” In kort, Jesus belowe ons ’n baie beter lewe as wat ons ooit onsself kan voorstel,

Voordat ons begin om visioene te kry van luukse huise, duur motors, wêreldwye seevaarte en baie meer geld as wat ons weet wat om daarmee te doen, moet ons stil word en dink wat Jesus leer aangaande die oorvloedige lewe. Die Bybel sê dat rykdom, aansien, posisie en mag in hierdie wêreld nie God se prioriteite vir ons is nie. Dit is dan duidelik dat die oorvloedige lewe nie bestaan uit ’n oorvloed van materiële dinge nie. Wat word dan met ’n oorvloedige lewe bedoel?

Alhoewel ons van nature begerig is na materiële dinge, moet ons as Christene se perspektief op die lewe totaal hervorm word. Net soos ons nuwe skepsels word wanneer ons by Christus uitkom, so moet ons begrip van “oorvloedig” getransformeer word. Die werklike oorvloedige lewe bestaan uit ’n oorvloed van liefde, blydskap, vrede en die res van die vrug van die Gees. Nie noodwendig ’n oorvloed van besittings nie. Dit bestaan uit ’n lewe wat ewig is en dus is ons belangstelling gerig op die ewige, nie die tydelike nie.

Die Here begeer ’n persoonlike verhouding met elke mens op aarde. Dit is die oorvloedige lewe waarvan Hy hier praat. Hierdie oorvloedige lewe is beskikbaar vir elkeen wat dit begeer. Al wat jy moet doen is om te sê: “Hier is ek Here, ek besef ek is ’n sondaar en dat ek ’n Redder nodig het. Ek bely dat Jesus Christus aan die kruis ook vir my gesterf het en opgestaan het op die derde dag en opgevaar het na die hemel.  Ek nooi U nou om in my hart te kom en vra dat U Koning sal word van my lewe.  Vul my met u Heilige Gees en lei my van hierdie dag verder.”

So, ’n oorvloedige lewe begin met ’n persoonlike verhouding met God. Die oomblik wanneer jy jou hart vir die Here gee, word jou gees vernuwe en erf jy die oorvloedige lewe waarvan Jesus praat.

GEBED

Almagtige God, skenk aan my die lewe in oorvloed waarvan Jesus die bron is.

Gedagte vir die dag | Donderdag 14 Oktober 2021

Johannes 14:27.“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.”

Kan jy jou dit voorstel hoe dit moet wees om in ’n wêreld te leef waar daar geen bekommernisse, geen hartseer, geen vrese, geen aanvalle en geen onsekerheid is nie. Dit klink byna onmoontlik, want ons weet die meeste van ons bekommer ons oor een of ander aspek van die lewe. Hetsy werk, ouers, finansies, skoolwerk, ’n huweliksmaat, uitslae van ’n mediese toets, of die toekoms van ons land is. Ons lewe in ’n dolle gejaagde lewe waar daar nie plek is vir mense wat wil asem skep en ’n behoefte aan vrede het nie.

In die gedeelte wat ons gelees het, het Jesus se leringe met sy dissipels einde se kant toe gestaan. Natuurlik moes daar vrees en onsekerheid by die dissipels gewees het.  Hulle Leermeester en vriend gaan hulle verlaat. Jesus het besef dat die tyd nader kom vir sy lyding aan die kruis en dat Hy daarom nou die geleentheid moet gebruik om die dissipels van die toekoms te vertel. Hy het geweet dat hulle hartseer en verward sou wees oor die gebeure (sy kruisiging en die hemelvaart) wat sou plaasvind.

Jesus het nie veel gehad om vir sy dissipels agter te laat nie. Hy beloof hulle egter twee kosbare geskenke: die Voorspraak (vers 26) en sy vrede (vers 27). Hy gee die vrede wat Hy self besit.

God se vrede verryk die siel en is ’n innerlike vrede wat nooit van ons af weggeneem kan word nie.  Die vrede wat Christus nagelaat het, is baie meer werd as die vrede wat die wêreld aan ons bied. Jesus gee SY vrede. Ons lees in Joh 16:33: “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” Die vrede wat Jesus gee is nie afhanklik van uiterlike wêreldse omstandighede nie. Dit is afhanklik van Jesus se kruis en die totale vertroue op God.

GEBED

Here gee my asseblief U kosbare vrede.

Amen

Gedagte vir die dag | Woensdag 13 Oktober 2021

 

Johannes 13:5. “Daarna het Hy water in ‘n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het.”

Mense het destyds iets soos plakkies aan hulle voete gedra (m.a.w. ’n velsool met riempies om die sool aan jou voet vas te maak). Jou voete was dus gewoonlik stowwerig as jy van buite af kom.  Aangesien hulle destyds op banke rondom ’n tafel gelê en eet het, was dit onafwendbaar dat jou voete naby die gesig van die persoon wat langs jou gelê het sal lê en wie wou nou met vuil voete langs iemand anders lê en eet? Die gasheer wat die ete aanbied moes gewoonlik reël vir die voetewassery. Die onbelangrikste persoon in die huis (soos ’n slaaf) moes gewoonlik hierdie werkie verrig.  As deel van die voetewas is daar dikwels ook parfuum oor die voete gegooi, sodat die voete nie alleen skoon was nie, maar ook lekker geruik het. Dan was die ete sommer ook baie aangenamer.

Op ’n keer terwyl Jesus en sy dissipels besig was om te eet, het Hy van die tafel af opgestaan. Hy het sy bokleed uitgetrek en ’n doek om sy lyf vasgemaak. Jesus het water in ’n bak gegooi en begin om die dissipels se voete te was. Nadat Hy hul voete gewas het, het Hy dit afgedroog met die doek wat om sy lyf was. Die boodskap is dat Jesus sy volgelinge twee goed wou leer: nederigheid en ’n bereidheid om te dien.

Dit gaan nie net oor die verstommende handeling waarin Jesus Sy dissipels se voete gewas het nie, maar ook oor wie se voete Hy gewas het.  Hy het hulle almal se voete gewas al het Hy reeds geweet dat Judas Hom gaan verraai en aan sy moordenaars gaan oorgee. Hy het klaar geweet dat Petrus Hom sou verloën en drie keer sou ontken dat Hy nie Jesus se dissipel is nie.

Is ons bereid om die handdoek op te neem en ons medemens se voete te was?  Die keuse berus by ons self. Deur ons medemens te bedien, word ons roeping vervul. Jesus het vir ons die voorbeeld gestel, tesame met die opdrag; “en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook gaan doen.” As Jesus vandag iemand na jou toe stuur wat hulp nodig het, wat sal jou besluit wees? Sal jy nederig neerkniel voor jou medemens se voete, en hulle was? Of sal jy ’n verskoning soek om dit nie te doen nie?

GEBED

Dankie my Vader vir die voorbeeld wat U vir ons gestel het deur u dissipels se voete te was. Help my om elke dag nederig en leersaam te kan wees in u Koninkryk. Stuur vir my mense op my pad wat ek in liefde en nederigheid kan bedien. Laat ek nie net hulle voete was nie, maar ook hulle hande en hoofde. Help my om nooit  te dink ek is beter as my medemens nie. Gee my krag om elke dag ’n skoon handdoek saam met my te dra.  Dankie dat ons kan leer by U, ons Leermeester.

Amen

 

 

Gedagte vir die dag | Dinsdag 12 Oktober 2021

Ons het die afgelope week gedink aan een van die grootste beloftes van God aan ons naamlik dat Hy met ons is. Gister het ons ook weer gehoor dat Jesus belowe dat Hy met ons sal bly tot die voleinding van die wêreld. Dit het  ons bemoedig, soos hierdie belofte ook telkemale mense in die Bybel bemoedig het.

Dink aan Moses, Joshua, aan Dawid, aan Zerubbabel, aan sy dissipels wat die groot opdrag ontvang het! Telkens hoor verskillende mense op verskillende plekke in verskillende tye die blywende waarheid – dat God Hom nie onttrek het van ons nie, maar dat Hy by ons is.

’n Wonderlike waarheid is ook dat Jesus vir ons sy Gees gestuur het om sy teenwoordigheid by ons te kom bevestig en ’n beslisde realiteit te maak. Johannes se evangelie beskryf dit baie mooi dat Jesus ons nie as weeskinders nalaat nie, maar dat Hy juis sy Gees stuur om by ons te wees en Jesus se teenwoordigheid ’n lewende werklikheid te maak.

Johannes 14:15-17: “As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. 16Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17naamlik die Gees van die waarheid.” Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”

Vriende kom ons hou ook aan hierdie grootste waardheid vas: Die Heilige Gees is met ons . . .  is in ons om ons te bekragtig en te vertroos, maar ook om Jesus se “bly-by-ons” te ervaar.

Gebed

Here ons dank U vir u Heilige Gees wat U vir ons  gestuur het, die Gees van waarheid! U het ons nie as weeskinders agter gelaat nie, maar bly by ons deur die Gees wat in ons is!

Amen.

Gedagte vir die dag | Maandag 11 Oktober 2021

Matteus 28:18-20: “Jesus kom toe nader en sê vir hulle: Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Jesus se groot opdrag aan sy dissipels destyds, maar ook aan sy kerk van alle tye, is hier opgeteken. Nadat Hy ’n hele aantal jare saam met sy dissipels rondbeweeg het, gee Hy hierdie opdrag aan Sy dissipels heel aan die einde van Sy bediening voordat Hy opvaar na die hemel toe.

Die Jesus-proses moet voortgaan. Die Evangelie van verlossing, die goeie nuus van die Seun van God wat mens geword het, moet uitgerol word in ’n wêreld wat Hom nie ken nie. Die uitvoerders van hierdie opdrag is ’n paar vissermanne wat Jesus geroep het vir hierdie groot taak.  Hulle was waarskynlik baie verbaas en ook benoud oor hierdie uiters groot en belangrike taak wat op hulle rus.  Dink net daaraan; hulle moet Jesus se werk hier op aarde doen en voorsit.  Soos Hy hulle dissipels gemaak het, moet hulle ook ander mense dissipels maak.  Maar dan, volg die woorde van Jesus, die laaste woorde van Jesus wat Matteus opteken in sy evangelie.  Dis ’n bemoediging!  Vir Sy benoude dissipels destyds, maar ook vir Sy kerk van alle tye, ook vir ons: “Gaan, en verkondig die goeie boodskap van verlossing!”  En dan weereens ons tema van die week, die aanmoediging en die mandaat wat hulle het vir hierdie groot taak: “Onthou, Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Vriende, is dit nie die wonderlikste vertroosting wat ons het, direk uit die mond van Jesus nie? Al voel ons soms ons bereik niks hier op aarde nie.  Al voel dit of ons misluk in die taak wat Jesus ons gegee het!  Of ons voel dalk soos dissipels, verlate en baie eensaam!  Hoor dan weereens hierdie belofte van Jesus, ook aan elkeen van ons; “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Ek hoop julle word ook weer vandag opnuut daardeur bemoedig, en bekragtig, wetende dat God saam met ons is.

Gebed:

Here baie dankie vir die groot voorreg wat ons het, om in u diens te mag staan as geroepenes op aarde wat u werk verder moet voortsit. Help ons om ons taak in hierdie verband met waardigheid te voltooi, wetende dat U met ons is, tot by die voleinding van die wêreld.

Amen. 

1 88 89 90 128