Gedagte vir die dag | Saterdag 30 Oktober 2021
2 Korintiërs 5:5-7. Hy wat vir ons hierdie oorgang voorberei het, is God. As waarborg hiervan het Hy ons sy Gees gegee. Daarom is ons altyd vol moed. Ons weet dat, solank ons nog in die liggaam bly, ons nog nie by die Here woon nie, want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.
Ek bevind myself nou toenemend in die lewensfase waar ’n mens begin besef dat jou lyf nie gemaak is om vir altyd te hou nie. Die dag wanneer ’n mens se oë, geheue en liggaamskrag minder word, lê onvermydelik vir almal van ons voor. Jy moet afskeid neem van dinge wat nog altyd vanselfsprekend was en nou nuwe maniere vind om dinge gedoen te kry. Die dag wanneer die grysheid deurslaan bekruip jou soos ’n dief in die nag. Tog is daar soveel seën in oud word. Paulus beskryf dit mooi as hy in dieselfde gedeelte van ons teks die volgende sê: “terwyl ons by die dag uiterlik vergaan word ons innerlik vernuwe”. Moenie toelaat dat die moedeloosheid van ouderdom en die realiteit van gepaardgaande agteruitgang in jou pad staan om vandag met betekenis te leef nie. In elke fase wat vir ons voorlê, lê ook die seën van nuwe geleenthede opgesluit en die voorreg van dankbaarheid oor die verlede.
Gebed
Here, as die herfs van my lewe, net so diep en ryk sal raak soos die goud en rooi van die herfsblare; dan is die verlies van lente- en somerjare niks in vergelyking met die wins van hersfjare nie. Maak dit in my ’n tyd van geestelike verdieping van rus, groei en voortgesette diens.
AMEN.
Gedagte vir die dag | Vrydag 29 Oktober 2021
Johannes 8:31-32. Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak”.
Die woorde is in ’n radikale konteks deur Jesus gespreek. ’n Vrou wat van owerspel beskuldig was, word voor Jesus gebring en Hy word dan gevra om haar te oordeel. Die wet van Moses was baie duidelik oor die waarheid wat in hierdie geval moes geld. Sy moes gestenig word, maar Jesus tree anders op! In plaas daarvan om haar te veroordeel, lei hy haar tot vergifnis en ’n nuwe lewe. Die ironie is dan dat diegene wat haar op grond van ’n Bybelse waarheid wou veroordeel, self nie verander het nie.
Wat is die waarheid wat in hierdie verhaal na ons toe deurdring en ons kom vry maak? Wat beteken dit vir ons om vandag aan die Here se woorde getrou te bly? Mag vandag se gedeelte jou help om moeilike en komplekse sake met ’n ander ingesteldheid te beoordeel. Mag die insig van U unieke ingesteldheid tot die lewe ons help om te kan onderskei wat die regte en waar ding is om vandag te doen.
Gebed
Here, die lewe is so kompleks en ons beoordeling daarvan dikwels so impulsief en oppervlakkig. Ons leer dat U vandag meer van ons vra as ’n wetgehoorsame beoordeling. Help ons om met liefde en ’n fyn ingesteldheid na mense en omstandighede om ons te kyk sodat ons die waarheid in elke gegewe situasie kan onderskei en dit sal laat seevier. ’n Waarheid wat nie net tot ander deurdring en wat ek wil terregwys nie, maar my ook in die proses kom verander.
Amen.
Gedagte vir die dag | Donderdag 28 Oktober 2021
1 Petrus 1:16. Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig”.
Waartoe moedig die Here ons aan wanneer hy vra dat ons heilig moet lewe?
’n Mens kan dink dat die Here van ons verwag om perfekte lewens te lei – wat tog onmoontlik is. Godsdiens kan in hierdie opsig streng en onvergeeflik raak, omdat daar net altyd “onheilige” goed is wat ons met afgryse in ander kan uitwys. En dan is daar ook die skuldgevoel oor onheilige goed wat stilweg en in die loop van ’n lewe in jou ophoop. So ’n ingesteldheid kan maklik ’n mens se geestelike en kerklike lewe oorneem.
Wanneer Petrus die teks begin om ons te waarsku om verstandelik wakker en nugter te wees, gaan dit oor iets anders as die strewe na ’n perfekte lewe en die uitwys van spesifieke onheilighede. Dit is eerder ’n oproep tot heiligmaking. Dit wil ons herinner dat, danksy die genade van God, ons deur ons en ander mense se foute leer, groei en verander. Heiligheid sonder ons nie van ’n bose en slegte wêreld af nie. Dit is immer tog ook deel van die Here se skepping. Dit wil ons eerder inspireer tot ’n leefwyse van insig en verandering waarin ons ervaar dat die Here dit wat seer en gebreek is kom heel- en mooimaak. Mag “om heilig te leef” jou vandag inspireer tot ’n toewyding wat nie net sondes uitwys nie, maar eerder ’n wysheid en fyn aanvoeling om die lewe te verander.
Gebed
Here, skep in my die wil om U te soek. Draai my om sodat ek in U rigting sal kyk. Ek bly voortdurend bewus dat U my nie in my onheiligheid verlaat nie. Ek weet dat U wat my gemaak het my telkens weer kan oormaak. Vorm my voortdurend Here. Gee my die insig en die wysheid om hierdie hede te kan beoordeel en nie sommer impulsief ander te beoordeel of te veroordeel nie. Wys my die weg wat ek met ander moet stap.
AMEN.
Gedagte vir die dag | Woensdag 27 Oktober 2021
Johannes 11:25-26. Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”
Die teks was aan Marta en Maria gerig toe hulle lewens in duie gestort het met die afsterwe van hulle broer Lasarus. Wat is jou enigste troos in die lig van die grootste uitdagings wat oor jou pad in die lewe kan kom? Ons is Sondagskool geleer om te antwoord: “Dat ek met my hele wese nie aan myself nie, maar aan Christus my Verlosser behoort”.
Dit is vir ons moeilik om daagliks in onsekerheid te leef, onwetend van dit wat dalk vandag ons lewenspad mag kruis en alles in duie laat stort. Dit verhinder ons dalk om ’n lewe van oorvloed te lei. Dat ons in lewe en sterwe aan die Here behoort is verseker ’n groot troos te midde van die tragedie van dood en die onsekerheid wat dit in ons lewens meebring. Mag jy ervaar hoe dit jou ook vandag inspireer om die geskenk van lewe, wat die Here jou gegee het, ten volle te leef.
Gebed
Here, sedert u hemelvaart is ons u liggaam op aarde. Ons hande is nou die hande waarmee U werk wil doen. Ons voete is die voete waarmee U in hierdie wêreld wil rondgaan. Ons oë is die oë waarin mense deernis en ontferming kan sien uitstraal na ’n hartseer wêreld. Here, ons is nou U liggaam om aarde. Dankie vir die troos dat ons aan U behoort. Laat hierdie gedagte vandag my hele wese vul en inspireer om met ‘n selfvertroue hierdie dag in te gaan. AMEN
Gedagte vir die dag | Dinsdag 26 Oktober 2021
Agtergrond: Koning Agab het gehuiwer om die Arameërs aan te val en die Here het deur die profeet aan hom die oorwinning beloof.
1 Kon. 20:14 “Agab vra toe: wie moet die geveg aanknoop? En die profeet antwoord: U.”
Ek het onlangs die reeks “Das Boot” gekyk wat handel oor die Duitse inval in Frankryk. Tydens die Eerste Wêreldoorlog was daar ’n aantal Franse wat nie meer kon glo dat die Duitsers oorwin kon word nie. En daarom wou hulle tot elke prys vrede sluit. Die Franse staatsleier, Clemenceau, ook bekend as die Tier, kon hierdie klomp wat nie die moed gehad het om op te staan teen die Duitsers nie, nie verdra nie en hy het hulle uitgeskel as die défaitiste. Die Franse woord défate beteken nederlaag en défaitste was daarom mense wat voor die stryd verby was alreeds getwyfel het aan oorwinning en die handdoek ingegooi het.
Wanneer ’n mens in ons tyd luister oor hoe moedeloos mense is en hoe negatief mense praat, beleef ons ook hoe mense in ons omgewing en land moed opgee. Prediker 2:17 sê ook dan soek mense ook gewoonlik ’n sondebok. Dis hierdie een of daai een se skuld en dis hoekom dit so sleg met ons gaan. Die skryfster Dorothy L Sayers het aan die begin van die laaste Wêreldoorlog sewe briewe in ’n bekende Britse blad geskryf waarin sy en ’n Engelse familie gesels het oor die haglike toestande in Brittanje. Die korrupsie, die voedselrantsoenering, behuisingsnood en dies meer. Sy wou met haar briewe die lesers bemoedig en rigting gee en sy skryf onder meer: “Sê aan die mense dat hierdie ’n nuwe soort stryd is en dat dit wat hulle moet stry, hulle self en alleen moet stry. Hulle moenie gedurig vra vir leierskap nie maar self leiding neem. Ek het die oë van mans gesien wat vra om leierskap en hulle oë is die oë van slawe. Dis nie genoeg om die owerheid wakker te maak om dit of dat te doen nie. Jy moet die mense laat verstaan dat hulle redding in hulself lê – in elke afsonderlike man en vrou.”
Ons gaan binnekort vir die plaaslike owerheid stem, maar uiteindelik lê die oplossing in die rol wat elkeen van ons speel. En dit is wat vir die profeet Agab gesê is – jy is die man. Jy is die een wat moet opstaan. Wat ’n rol moet speel in jou huis, jou geloofsfamilie of in jou werk. Jy is die een wat moet vasstaan en die koers moet aangee met ’n positiewe en ’n sterk bydrae. So mag ons as gelowiges nooit ons verantwoordelikheid afskuif en projekteer op ander wat dinge moet doen nie, maar liewer kyk waar ek en jy as kerk, as gelowiges ’n verskil kan maak. Waar kan ons diens onmisbaar maak deur ons waagmoed maar ook gehalte van diens in die werkplek, of waar dit ook al mag wees.
Gebed
Here, dankie dat ons die geveg spreekwoordelik kan begin waar U ons ook al plaas.
Amen
Gedagte vir die dag | Maandag 25 Oktober 2021
Ps. 118:24 “Dit is op hierdie dag wat die Here gewerk het. Laat ons dan die dag met vreugde vier.”
Op ’n dag het Robert Schuler, bekende Amerikaanse predikant van Kalifornië, ’n oproep van sy sekretaresse Louise ontvang. “Robert,” het sy met ’n bewende stem gesê, “ek het slegte nuus, ek het pas gehoor dat ek agressiewe kwaadaardige kanker het.” Schuler het dadelik na haar huis toe gery en toe hy voor haar huis parkeer het hy by homself gewonder wat hy vir haar moet sê. Hy kon maar net vir haar bid en haar aan die Here opdra. Jare later het sy hom herinner aan sy gebed wat sy nooit sou vergeet nie. “O Here, ons is so dankbaar dat die kanker op so ’n vroeë stadium ontdek is”, het hy gebid. “Ons dank U dat ons in ’n tyd leef waarin daar reeds soveel vordering in die behandeling van die siekte gemaak is. Ons is dankbaar dat Louise omring is deur ’n groot aantal mense wat haar kan bemoedig: ’n eggenoot, familie, vriende, bure. Dankie Here, vir hulle almal. Veral is ons dankbaar dat Louise die gawe het van ’n vaste geloof al weet sy nie wat die toekoms gaan bring nie. Sy weet in wie se hande haar toekoms is.”
Ek onthou hoe ek eenkeer by iemand se siekbed was. Die persoon was al volgens die familie sterwend en hulle het my versoek om ’n gebed te kom doen. Die gesinslede het aanvaar dat hy binnekort sou sterwe. In my gebed het ek hom aan die Here opgedra en gevra dat die Here die pad saam met hom tot by die dood sal loop. Tot my verbasing het ek die volgende dag by hom gekom en daar sit hy opgewek en regop in sy bed. Toe kon ek ’n gebed doen en my kleingeloof bely. Soms is ’n mens in die teenwoordigheid van die weeklaers en jy besef nie dat ons in ’n Here glo wat kan verander en nuut maak nie. Soms staan ’n mens voor die werklikheid en alhoewel ons nie in ontkenning moet leef nie, moet ’n mens elke saak vir die Here oorgee. Want hy maak nuut, Hy maak anders en Hy kan ook vandag wonders doen. In Lukas 8 lees ons van die mense langs die bed van Jaïrus se dogtertjie. Die mense het gehuil en oor haar gerou en vergeet dat Jesus in ’n krisisoomblik kan ingryp.
Markus 10:27 “Vir God is alles moontlik” Hou ons nog daaraan vas? Indien wel, kan jy elke nuwe dag ingaan en saam met die Psalmdigter uitroep: “Dit is die dag wat die Here gemaak het, laat ons juig en bly wees daaroor.” (Ps.118:24) Kom ons maak dit vandag ons leuse. As ’n dankbare en positiewe Christen gelowige.
Gebed
Here, gee dat ons nie so gou moed sal verloor nie. Dat ons perspektief sal hou oor die werklikheid maar ook perspektief op dit wat U nuut maak en verander bo wat ons kan bid of dink. Amen
Gedagte vir die dag | Sondag 24 Oktober 2021
Markus 10:27 “Jesus het hulle reguit aangekyk en sê toe: “As dit van mense afgehang het, sou dit onmoontlik gewees het om gered te word. Maar omdat dit van God afhang is dit moontlik want God kan enigiets doen.”
Ek wil nog kyk hoe die weervoorspelling vir volgende Sondag die 31ste lyk met die oog op ons buitelugdiens en ek nooi julle vroegtydig daarna uit. Deesdae is die weervoorspelling wat ons op ons fone kry taamlik akkuraat en dit het my laat dink aan die ou dae en die weerberigte van daardie tyd. Ek het iets gelees oor een van die destydse weerberigte wat lui: “dit spyt ons dat ons nie in staat is om u die weerberig te gee nie, omdat ons staatmaak op weerberigte vanaf die lughawe wat tans as gevolg van die weer, gesluit is. Of ons môre aan u die weerberig sal kan gee, hang van die weer af”.
Hierdie weerberig is destyds in 1979 vanaf ’n Arabiese nuusstasie in Jedda uitgesaai. En wat ons ook al van hierdie weerberig mag dink, een ding staan vas, by luisteraars het dit groot twyfel gelaat oor die verwagte weerstoestande. Twyfel is die groot vyand van ons almal se gemoedsrus. Dit raak elke aspek van ’n mens se lewe. Twyfel en onsekerheid oor jou gesondheid as jy ’n kankertoets moet laat doen en jy weet nie of dit positief gaan wees nie. Twyfel oor die sukses van ’n nuwe onderneming wat ’n mens aanpak. Die uitslag van ’n eksamen, die opbrengs van ’n oes. Twyfel oor jou finansiële posisie as dinge nie reg loop nie. Die afgelope meer as ’n jaar het ons juis hierdie onsekerheid oor baie goed beleef. Dit geld ook in ons geloofslewens en ons verhouding met God.
Blaise Pascal, die Franse wetenskaplike en wysgeer van die 17de eeu het blykbaar ’n rowwe en wilde lewe in Parys gelei. Hy was glo diep ongelukkig voor die nag van 23 November 1654 toe hy tot bekering gekom het. Na sy dood is ’n handgeskrewe weergawe van dié ondervinding in die soom van sy baadjie gevind. In die notas wat hy altyd by hom gedra het vertel hy hoe hy van die lyding van Jesus gelees het. En van Petrus wat vir Jesus drie maal verloën het en tog het Petrus vergifnis ontvang en dit het ’n lig vir Blaise Pascal laat opgaan. Hy het besef daar is ook vir hóm hoop. Daarom skryf hy in sy notas: sekerheid, sekerheid, sekerheid. Vreugde van Jesus Christus. Vreugde, vreugde, vreugde. Trane van vreugde skryf hy. Die sekerheid wat ons in Jesus Christus het wat uit die dood opgestaan het.
Later het Pascal ’n kampvegter vir die evangelie geword wanneer hy skryf dat Jesus nie net gekom het om die mense te oortuig van hulle sonde nie, maar gekom het om hulle te verlos. Om vir hulle lig te bring en hulle te heilig. Dit klink nie na ’n onsekere weerberig nie maar na ’n boodskap waaroor niemand hoef te twyfel nie. Daarom kan ons vanuit die sekerheid van ons geloof vir Jesus Christus leef. Die gedeelte wat ons gelees het getuig daarvan en ook Hebreërs 10:23 sê ondermeer laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou, Hy doen wat hy beloof het. Wat Hy beloof is nie onsekerheid nie, maar ’n sekerheid. Daarom kan ons vanuit hierdie sekerheid leef.
Gebed
Here, dankie dat ons vanuit u oorvloed en teenwoordigheid, elke dag kan aanpak.
Amen
Gedagte vir die dag | Saterdag 23 Oktober 2021
Lukas 23:46. “Toe het Jesus hardop uitgeroep: “Vader, ek vertrou my Gees aan U toe. En toe hy dit gesê het sterf hy.” Luk. 24:1 – “Die Sondagmôre baie vroeg het die vroue na die graf gegaan met die reukolie wat hulle reggemaak het”
Die vroue het net ’n leë graf gevind. Die gewilde Skotse sanger, sir Harry Lauder het aan die begin van ’n sanguitvoering in ’n kerk gesê dat hy iets op die hart het. Hy het aan die gehoor vertel van sy seun, sy enigste kind, wat twee jaar gelede as jong soldaat gesneuwel het. My hart was stukkend en ek het besluit om nooit weer te sing nie. Ek het my spoedig op ’n baie afdraande pad bevind. In ’n poging om van my verdriet weg te kom het ek dit probeer wegdrink. Ek het later besluit om liewer die ander, moeiliker pad te kies wat my op die berg sou uitbring.
Dit was ’n ruwe en hobbelrige pad, maar ek het enduit volgehou. Eindelik het ek by my seun se graf gekom en daar ’n kruis gevind en skielik het ’n swaar las van my afgerol. En op ’n bonatuurlike manier het die begeerte om weer te sing by my opgekom. Want met ’n groter sekerheid as ooit het ek besef dat my seun lewe deur die een wat aan die kruis gesterf het. En ek het net geweet dat ek hom weer sal sien.
Dit is nie so eenvoudig om net by ’n kruis te arriveer en skielik val alles in plek nie. Môre is Sondag, maar afgesien dat ek jou wil uitnooi na die erediens is dit belangrik om te weet hoekom ons Sondae bymekaar wil kom. Daar is ’n kruis in die kerk. Die kruis sluit aan by die teksgedeelte wat ons in hoofstuk 24 gelees het. Die klip wat weggerol is. Ons kniel by die kruis maar ons kyk op na Jesus wat opgestaan het. Daar is die nuwe lewe en die Here kan soms op ’n bonatuurlike manier heel maak en gesond maak. Vir seker hou ons vas aan vele hulpmiddels wat ons kan gebruik om heel te kom, soos die mediese wetenskap bied. Dokters, sielkundiges en psigiaters wat ons tydens krisisse kan help.
Die digter, William Blake, het voor sy dood in 1827 verklaar dat die betekenis van dood vir hom is om net van een kamer na ’n ander te beweeg. Op sy sterfbed het Blake selfs lofliedere gesing wat sy buurman later laat verklaar het: “Ek was by die sterfbed – nie van ’n mens nie, maar van ’n engel.” Miskien verstaan ons nou die onbegryplike vers van Blake nog beter: “To see a world in a grain of sand and a heaven in a wild flower, hold infinity in the palm of your hand and eternity in an hour.”
Kom ons herinner mekaar elke Sondag dat dit die dag is wat Jesus opgestaan het, wat hy die dood oorwin het en dat ons nou met moed en hoop kan lewe omdat ons kniel by die kruis wat uitgeloop het op die klip wat weggerol is.
Gebed
Here, dankie vir u opstandingskrag as ’n werklikheid in ons lewens. Dankie, dat U ons elke Sondag daaraan herinner dat U uit die dood opgestaan het.
Amen
Gedagte vir die dag | Vrydag 22 Oktober 2021
Ps.131:2,3. “Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.”
Een van my kinders woon in Londen en ek dink gereeld na oor die verhaaltjie van die terneergedrukte Engelsman wat eenkeer vertel het dat hy op ’n aand in Londen gevoel het asof alles net te veel word. Sy huislike omstandighede was sleg, hy het probleme by die werk ondervind en boonop ‘n oortrokke bankrekening gehad. Hy het toe besluit om ’n einde aan sy lewe te maak. Die maklikste uitweg was om van die Victoriabrug in die Teemsrivier te spring. En so het hy toe teen middernag tot in die middel van die brug geloop en daar langs die tralies gereed gemaak vir die groot sprong. Maar die volgende oomblik het ’n vriendelike Londense polisieman hom aan die arm aangeraak en hom gevra waarom hy ’n einde aan sy lewe wil maak?
Die polisiebeampte sê toe vir hom dat hy bereid is om vir vyf minute na sy redes te luister, maar dan moet hy bereid wees om weer vir vyf minute na die redes, hoekom hy dit nie moet doen nie, te luister. Die terneergedrukte ou het ingestem en oor al sy beproewings en moeilikhede gepraat en bygevoeg dat sy politieke party boonop ook die verkiesing verloor het. Hy het sy droewige lot met soveel oorgawe vertel dat die polisieman hom aan die hand gevat het en sommer saam met hom in die Teems gespring het. Dit is net ’n storie, maar hierdie is ’n bewys van hoe ons mekaar in die afgrond en moedeloosheid kan inpraat.
Net deur voortdurend te praat oor hoe treurig dit met jou, die land of die toestand van ons paaie gaan. Daar is talle voorbeelde hiervan in die Bybel. Dink net aan Dawid se neerslagtigheid toe sy seun Absolom teen hom in opstand gekom het. In 2 Samuel 15:30 lees ons: “Dawid het die Olyfberg huil-huil uitgeklim en as teken van sy droefheid was sy kop toegemaak en het hy kaalvoet geloop. Almal wat by hom was, het ook hulle koppe toegemaak en huil-huil die helling uitgeklim.” Baie van die seer en die swaar is eg.
As predikant is ’n mens bevoorreg om by mense se lewens betrokke te wees en saam met hulle swaarkry en moeilike tye te beleef. Die vraag bly steeds – hoe beïnvloed ons mense wat saam met ons is. Miskien moet ons weer oor Jesus se woorde, wat hy tydens die storm aan die dissipels gesê het, nadink: “Waarom is julle so bang? Het julle dan nie geloof nie?” Ek is lief vir die gesegde: “I am part of everybody I meet”.
Hoe smeer ons aan mekaar af? Met geloof, hoop en positiewe denke. Met ons geloof in God en ons positiewe gesindheid kan die wêreld en mense om ons verander. Daar kan vrede posvat te midde van onrus en selfs ’n glimlag waar daar trane is. Mag die Here vir my en jou die genade bied om mense met deernis en liefde te omarm en vir hulle met moed te vul.
Gebed
Here, dankie dat ons in die soms donker, pessimistiese wêreld u lig kan bring. Gee dat ons dit vandag sal doen.
Amen
Gedagte vir die dag | Donderdag 21 Oktober 2021
Psalm 39:2 “Ek het my voorgeneem om versigtig te lewe en niks verkeerd te sê nie.”
Benjamin Franklin: “As jy lof wil oes moet jy die saad daarvoor saai – sagte woorde en goeie dade.”
Dis ’n ou verhaal uit die Egiptiese geskiedenis wat vertel van die broers Horus en Sobek. Hulle was twee jong heersers wat sowat 34 eeue gelede langs die Nylvlak, by die plek waar die Aswandam later gebou is, hul koninkryk gehad het. Hulle het saam ’n tempel vir hul onderskeie gode daar gebou. Die ruïnes van hul aanbiddingsplek is blykbaar vandag nog daar te sien.
Maar toe raak Sobek jaloers op sy broer wat met sy krygsvernuf en gedissiplineerde optrede die bewondering van almal afgedwing het. Met behulp van sy trawante het Sobek uiteindelik daarin geslaag om vir Hores uit hul koninkryk te verban en so het Sobek toe alleenheerser geword. Nadat Sobek van Horus ontslae geraak het, het hy ontdek dat al sy getroue werkers op die landerye sy broer lojaal gevolg het. In sy nood het hy die hulp van bose geeste ingeroep om die saad op sy (Sobek) se landerye te saai. Later het hy tot sy ontsteltenis ontdek dat hulle nie saad nie, maar sand op sy landerye gesaai het. Daar was uiteindelik geen oes nie en so het sy heerskappy tot ’n val gekom. Hierdie mag ’n ou verhaaltjie wees, maar dit bewys weer dat ons altyd maai wat ons gesaai het.
Ons weet daar is ’n baie nou verband tussen harde werk en die vrug en seën wat daarop volg. En daarom het Jesus in sy gelykenis gewaarsku teen die vyand wat in die nag kom en die onkruid tussen die koring gesaai het. Matt. 13:25. As gelowiges mag ons nooit aan die slaap gevang word nie. Of nog erger, soos die jaloerse Sobek wat saam met gevaarlike bondgenote gewerk het. Wie dit doen bou sandkastele wat spoedig inmekaar tuimel. ’n Inwoner van Springfield in Amerika het baie jare gelede op ’n dag kinders in die straat voor sy huis onbedaardelik hoor huil. Toe hy by die voordeur uitkyk, was dit Abraham Lincoln se twee seuns wat so huil. En toe vra hy vir Lincoln maar wat is fout met die twee kinders? Lincoln, die latere president, het geantwoord: “Net wat fout is met die hele wêreld”. Ek het drie okkerneute en elkeen wil twee daarvan hê. In hul begeerte om altyd die meeste wil hê, sal mense soms alle ander beginsels prysgee. En tog sal hulle eendag alles moet agterlaat wanneer hulle na hul graf gaan, soos Sobek moes doen.
Gebed
Here, gee dat ons vandag toegewyd, volhardend, eerlik en verantwoordelik sal werk. Dankie vir die gawe om te kan werk en vir die sin en betekenis wat dit kan gee. Dankie vir die vrug wat daar is op dit wat vandag gedoen word. Ons vra dat U ons handewerk seën.
Amen