Gedagte vir die dag | Dinsdag 9 November 2021
Ek dink geluk is ’n keuse. Toe my pa oorlede is was ek nog op skool. Daar was ’n paar tieners in my graad wat ook hulle ouers verloor het. Nie almal van ons het die selfde lewenspaaie gekies nie en vir van ons was die verlies aan ’n ouer ’n breukpunt in ons lewens wat tot baie ander hartseer en pyn gelei het. Ek het as tiener vir myself gesê dat ek kan kies hoe my lewe uitdraai, dit wat met my gebeur is dit wat MET my gebeur. My lewensstorie gaan nie noodwendig deur die gebeure bepaal word nie.
Ek dink Jesus het iets rondom ons keuses probeer verduidelik in my gunsteling gelykenis, die gelykenis van die verlore seun.
Die gelykenis vertel van ’n seun wat weg van die huis af gaan, sy pa se geld mors, alles verloor en terug kom huis toe. Die pa ontvang hom weer met ope arms terwyl die oudste seun al die tyd nog by hom gebly het en gedoen het wat hy vra.
Lukas 15:25- 31
25“Sy oudste seun was nog in die veld. Toe hy terugkom en naby die huis was, hoor hy die musiek en die singery. 26Hy roep toe een van die bediendes nader en vra hom wat aan die gang is. 27Die bediende antwoord: ‘U broer het gekom, en u pa het die vetgemaakte kalf geslag omdat hy hom behoue en gesond teruggekry het.’
28“Toe het die oudste seun kwaad geword en hy wou nie in die huis ingaan nie. Sy pa gaan toe uit en praat mooi met hom; 29maar hy antwoord: ‘Kyk, al die jare werk ek soos ‘n slaaf vir Pa. Nog nooit het ek ‘n opdrag van Pa verontagsaam nie, en vir my het Pa nog nooit eers ‘n bokkie gegee sodat ek saam met my vriende kan feesvier nie. 30Maar nou dat hierdie seun van Pa, wat Pa se goed met prostitute deurgebring het, terugkom, het Pa vir hom die vetgemaakte kalf geslag!’
31“Toe sê die pa vir hom: ‘Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune. 32Maar ons kan tog nie anders as om fees te vier en bly te wees nie, want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry.’ ”
Die oudste broer weier om te aanvaar dat die pa die jonger broer sommer net so vergewe. Dit is asof Jesus hier probeer sê dat jy kies of jy deel van die partytjie gaan wees en of jy buite die partytjie gaan staan met jou hande gevou. Jesus vra in hierdie storie eintlik vir ons of jy soos die jonger broer, of die ouer een is? Want jou keuses is jou keuses en jy kies jou eie geluk.
Mag jy terugstaan en jou keuses krities bekyk, mag jy sien dat jy jou eie geluk in hierdie lewe kies. Mag jy nie soos die ouer broer kies om buite die partytjie met gevoude arms te staan nie.
Gebed:
Here dankie dat U vir ons beheer gee oor ons lewens. Dankie dat ons kan kies hoe ons die lewe wil benader en hoe ons daarna kyk. Here, mag ons oë oop wees om lewe en geluk te kies in hierdie onsekere tye wat ons beleef.
Amen
Gedagte vir die dag | Maandag 8 November 2021
Toe ons op universiteit was het ek eenmaal op pad na die teologie fakulteit toe ’n man met ’n bord en ’n megafoon gesien, wat skree: “ Die tyd is nou, draai om of jy gaan hel toe”. As studente het ons graag grappe gemaak oor die sogenaamde “turn or burn” teologie. Dié tipe teologie wat vir ’n mens vertel dat jy in die hel gaan brand as jy nie omdraai en jou lewe verander nie.
Dit is vir my interessant hoe ons graag die oordeel van God oor ander mense wil uitspreek. Dit is dalk juis omdat ons nie genoeg terugstaan en eerlik is oor wat in ons eie lewens aan gaan nie. Die rede waarom dit my nog altyd gepla het, is omdat Jesus ’n gelykenis gebruik het wat dit duidelik maak dat sy genade groter is as ons denke.
Matteus 18: 10-14
10“Julle moet nooit een van hierdie kleintjies minag nie, want Ek verseker julle dat hulle engele in die hemel gedurigdeur by my hemelse Vader is.
12“Hoe dink julle? As iemand honderd skape het en een van hulle raak weg, sal hy nie die nege en negentig daar in die bergveld laat staan en die een wat weg is, gaan soek nie? 13En as hy hom kry, verseker Ek julle, is hy blyer oor hom as oor die nege en negentig wat nie weggeraak het nie. 14So is dit ook nie die wil van julle Vader in die hemel dat een van hierdie kleintjies verlore moet gaan nie.”
Hierdie gelykenis vra my om terug te staan en vir myself te vra of ek God se genade so kan sien in ander. Kan ek aanvaar dat God die verlore skape wil huis toe bring, of voel ek dit is my plig om hulle te oordeel.
Mag God se genade groot wees in jou verhaal, soveel so dat ander dit mag beleef.
Gebed:
Here, dankie dat U ‘n genadige God is, dankie dat ons kan besef gee nie om wie ons is of waar ons is in ons lewens nie U kom haal ons soos ‘n verlore skaap. Here ek bid dat ons U genade sal uitleef sodat ander dit kan sien in ons verhaal. Amen
Gedagte vir die dag | Sondag 7 November 2021
Tieners het my al dikwels gevra waarom ons moet glo en waarom is geloof belangrik. Ek dink hierdie vraag is juis baie relevant in ons huidige omstandighede. Indien jy iemand tydens die pandemie verloor het, of jy het dalk iets anders verloor begin ’n mens dikwels vra waarom ons glo as dit geen voordeel vir ons inhou nie. Om te glo is om vanuit jou eie realiteit en omstandighede uit te styg en te besef dat dit wat nou met jou gebeur is nie al wat daar is nie.
Ek dink dit is wat geloof so waardevol gemaak het tydens die pandemie, om te besef dat hierdie realiteit is nie al wat ons het nie. Die liefdeloosheid wat ek voor my sien is nie die enigste realiteit wat bestaan nie, maar daar is iets dieper en meer.
Jesus het die Koninkryk van God probeer in ’n storie probeer vertel wat so kosbaar is dat jy jou verstaan van wat jy wil hê sal opgee om dit te kry.
Matteus 13: 44-46
44“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ‘n skat wat in ‘n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.
45“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ‘n handelaar wat op soek is na goeie pêrels. 46As hy ‘n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel.
Waarom sal jy geloof hê? Jesus se antwoord is: Want dit is meer kosbaar as die realiteit wat voor jou lê. Die vermoë om uit jou huidige omstandighede te kan dink is wat ons geloof vir ons kosbaar maak. Dit is die besef dat ons skatte wat ons hier voor ons het nie ons enigste skatte is nie, dit is die besef dat ons verhoudings wat voor ons is in staat is tot meer.
Mag jy terugstaan en die Koninkryk se waarde sien in jou lewe en in hierdie tyd.
Gebed
Here, dankie dat u Koninkryk ons kan laat droom, dat dit ons iets meer in die lewe laat raaksien. Mag ons die vermoë ontwikkel om terug te staan en die waarde van u Koninkryk raak sien. Amen
Gedagte vir die dag | Saterdag 6 November 2021
Verlede Maandag op stemdag het ek saam met my vrou by Gene Louw Laerskool gaan stem. Ons het vir twee ure in die ry gestaan om ’n geleentheid te kry om te stem. Deur die loop van ons toustanery het ’n ouer oom ingestap en die trappie na die saal mis getrap en baie hard geval. Hy het homself ernstig beseer en bloed het uit ’n sny op sy voorkop gestroom. Wat volgende gebeur het, het my weer hoop gegee vir die mensdom: ewe skielik het almal in die stemlokaal gehardloop om die oom te help, mense het badkamer toe gehardloop om papiersakdoeke te kry en ander het hom opgehelp en die bloed begin skoon vee.
Ek het weer iets van die Koninkryk van God beleef in ’n skoolsaal wat as ‘n stemlokaal ingerig is. Dit het my weer bewus gemaak dat die liefde van God breek deur as ons mekaar dra. Hierdie gebeurtenis het my weer laat vra: Sien ek die geleenthede raak om hierdie Koninkryk te laat deur breek of mis ek dit soos baie van ons maar doen.
Jesus vertel ‘n gelykenis van die Koninkryk van God, Matteus 13:31-33:
31Hy het nog ‘n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel is soos ‘n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy land geplant het. 32Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit ‘n boom, sodat die voëls in sy takke kom nes maak.”
33Hy het hulle nog ‘n gelykenis vertel: “Die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat ‘n vrou gevat en in ‘n groot skottel meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was.”
Jesus sê vir ons die Koninkryk is so klein soos ’n mosterdsaadjie, so klein en onverwags dat jy dit baie maklik kan mis kyk, maar wanneer jy dit laat groei raak dit so groot dat die voëls daarin kan nes maak, en almal dit kan sien en beleef. Die Koninkryk is soos deeg of klei waaroor ons beheer het en wat ons kan kniel en vorm.
Hierdie gelykenis laat my die vraag vra of ek ooit terug staan en die Koninkryk in my eie lewe raak sien. Gryp ek die geleenthede aan in my eie verhaal/storie om die Koninkryk te laat deur breek. Die geleenthede is in jou storie, jy moet dit net raak sien om dit te laat deurbreek.
Gebed:
Here, dankie dat u Koninkryk so groot is dat dit ons verander en dat dit ook mense verander. Ons bid Here dat u ons sal help om die mosterdsaadjies raak te sien sodat ons u Koninkryk kan laat deurbreek in ons verhale.
Amen
Gedagte vir die dag | Vrydag 5 November 2021
Simon Sinek die skrywer en spreker het op ’n tyd gesê dat jongmense in die post-moderne wêreld besig is om hulle vermoë om sosiaal wyse keuses te maak, te verloor. Volgens hom het sosiale media ’n groot invloed daarop. Ons kan deesdae net vir iemand ’n boodskap stuur, en ’n moeilike gesprek in persoon vermy. Ons keuse van vriende word ook beïnvloed deur wat hulle vir ons kan bied en hoe hulle lyk, eerder as die intieme band wat tussen ons bestaan.
Ek het al baie deur my Facebook-vriende geblaai en gewonder of al die mense enigsens ’n impak op my lewe het, of hulle werklik enige betekenis op my lewenspad het. Ek dink Jesus wou juis vir mense wysheid gee rakende die impake wat mense in ’n mens se lewe kan hê en die invloed wat hulle op jou persoonlike groei (of gebrek daaraan) kan hê.
Jesus vertel ’n gelykenis van onkruid
Matteus 13:24-30
24Hy het nog ‘n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel kan vergelyk word met ‘n man wat goeie saad op sy land gesaai het. 25Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. 26Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, het die onkruid ook sigbaar geword. 27Die slawe van die boer kom sê toe vir hom: ‘Meneer, het u nie goeie saad op u land gesaai nie? Waar kom die onkruid dan vandaan?’ 28Hy antwoord hulle: ‘Dit is ‘n vyand se werk.’ Die slawe sê toe vir hom: ‘Wil u hê ons moet dit gaan uittrek?’ 29‘Nee,’ sê hy, ‘as julle die onkruid nou bymekaarmaak, sal julle die koring saam uittrek. 30Laat altwee saam groei tot met die oes. In die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe.’ ”
Jesus wys hier vir mense dat onkruid tussen jou kan groei. Mense wat inhaak in jou lewe het tog ‘n impak op wie jy is en waarheen jou lewe gerig word. Ek dink Covid-19 het ons weer opnuut bewus gemaak daarvan dat ons werklik mense om ons nodig het – mense wat ons laat groei en ons ondersteun. Dit is half asof Jesus vir ’n mens probeer sê: Mag jou medereisigers jou dwing tot groei en jou nie versmoor nie.
Wie is die medereisigers in jou storie?
Gebed
Here, dankie vir ’n nuwe dag en ’n nuwe geleentheid om saam met mense te reis. Ons bid Here dat ons mekaar sal aanspoor tot groei, dat ons nie onkruid sal wees in ander se lewens nie, maar dat ons ook nie versmoor sal word deur onkruid in ons eie lewens nie.
Amen
Gedagte vir die dag | Donderdag 4 November 2021
Ons is vir hierdie reeks dagstukkies besig om te kyk na gelykenisse en ook ons eie stories. Die titel van hierdie reeks is my gelykenis, my storie. Gelykenisse help ons om terug te staan en eerlik te kyk na ons eie verhale saam met God.
Toe ek jonk en stout was het ek een middag my sussie se Hundai Accent geleen (as 15-jarige seun mag ek natuurlik nie bestuur het nie). Ek het gedink dit is cool om jou vriende op te laai en om voor te gee jy is meer volwasse as jou ouderdom. Ek en my vriende was op pad terug van die kuier geleentheid toe die kar snaakse geluide gemaak het en nie meer wou beweeg nie. Ons het toe nie meer petrol oor gehad nie en dit net omdat ons nie regtig geweet het waarmee ons besig was nie. Ons het petrolstasie toe gedraf en ’n 2 liter Coke Bottel vol petrol gemaak en dit in die kar gegooi net om weer terug by die huis te kom.
Tydens ons draffie na die petrolstasie het ek so skuldig gevoel oor wat gebeur het, omdat ek geweet het wat my ma en pa vir my geleer het oor vertroue en ek het dit toe verbreek. Toe ek by die huis instap was my ma net bly dat ek lewe, maar nogtans kwaad dat ek haar vertroue in my verbreek het. So ’n jaar later het ek weer sonder toestemming die Accent gevat en daarmee gery, hierdie keer om waarlik skade aan die kar aan te rig.
Hierdie is my gelykenis van ’n geleentheid waar ek gehoor het, maar nie geluister het nie. Ons kan dikwels dit hoor wat ons laat groei, dit wat goed is vir ons, maar nie werklik iets daarmee doen nie. Om te luister is om dit deel te maak van jou wese. Ek dink Jesus het iets hiervan probeer verduidelik deur die gelykenis van die saaier.
Matteus 13:1-9
1Dieselfde dag het Jesus van die huis af gegaan en by die see gaan sit. 2’n Groot menigte het so om Hom saamgedrom dat Hy in ‘n skuit geklim en daarin gaan sit het, maar die mense het almal op die strand bly staan. 3Hy het hulle baie dinge in gelykenisse vertel en onder andere gesê:
“’n Saaier het eendag gaan saai. Met die saai het ‘n deel van die saad op die pad geval, en 4die voëls het gekom en dit opgepik. 5’n Ander deel daarvan het op klipbanke geval, waar daar nie baie grond was nie, en dit het gou opgekom omdat die grond nie diep was nie. 6Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. 7’n Ander deel het tussen die onkruid geval, en die onkruid het opgekom en dit laat verstik. 8Die ander saad het in goeie grond geval en ‘n oes gelewer, party honderdvoudig, ander sestigvoudig en ander dertigvoudig.
9“Wie ore het, moet luister!”
As jy moes terug staan en na jou storie kyk sou jy kon sê dat jy luister, maar werklik luister. Met ander woorde, is jy besig om die wysheid van jou geloof deur jou wese deel te maak van wie jy is, of is jy soos Hanno toe hy ’n tiener was, die een wat ore het maar nie luister nie.
Elke geleentheid in ons lewens is geleenthede waar ons op die pad staan, op die klipbank, tussen die onkruid en op goeie grond. Hoe lyk jou storie?
Gebed
Here, ons bid dat die u wysheid sal deel word van wie ons is, dat dit op goeie grond sal val by ons. Ons bid dat ons sal kan terug staan en eerlik wees oor ons eie stories en waar ons is. Mag u wysheid groei in ons lewens.
Amen
Gedagte vir die dag | Woensdag 3 November 2021
My storie
Ek onthou hoe ek as kind verhale voor my sien afspeel het oor die gelykenisse wat Jesus gebruik het. Hoe Jesus omdraai op pad êrens heen, of met ’n groep mense gesels en dan ’n stuk wysheid deel. Ek het baie keer gewonder wat die doel is van gelykenisse, is gelykenisse maar net stories of is dit juis om ons te help om iets te leer.
Peter Rollins die Ierse teoloog het destyds ’n preekreeks saamgestel waarin hy sy eie gelykenisse vertel het. Verhale en stories van sy eie lewe wat hom iets geleer het oor wat dit behels om ‘n ander perspektief oor hierdie lewe voor hom te vind. Ek glo dit is die doel van gelykenisse om vir ons te wys dat ons uit ons eie storie kan klim en krities kan kyk na waar ons onsself bevind.
Jesus het die doel van gelykenisse uitgelê in Matteus 13:10-17
10Die dissipels het vir Jesus kom vra: “Hoekom gebruik U gelykenisse as U met die mense praat?”
11Hy het hulle geantwoord: “Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. 12Wie het, vir hom sal nog meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar wie nie het nie, van hom sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. 13Om hierdie rede praat Ek met hulle in gelykenisse: omdat hulle kyk maar nie sien nie, en hoor maar nie luister en verstaan nie. 14In hulle geval word die profesie van Jesaja vervul wat sê:
“ ‘Julle sal hoor en hoor en tog niks verstaan nie, en kyk en kyk en tog niks sien nie.
15Hierdie volk se verstand is afgestomp: hulle het hulle ore toegedruk en hulle oë toegemaak
sodat hulle nie met hulle oë kan sien en met hulle ore kan hoor
en met hulle verstand kan verstaan en hulle bekeer, en Ek hulle gesond maak nie.’
16“Maar julle oë is bevoorreg dat hulle sien, en julle ore dat hulle hoor. 17Dit verseker Ek julle: Baie profete en gelowiges wou graag sien wat julle sien, maar het dit nie gesien nie, en wou graag hoor wat julle hoor, maar het dit nie gehoor nie.”
Jesus lig drie goed in die gedeelte uit:
Daar is van ons wat kyk maar nie sien nie.
Daar is van ons wat baie het en ander wat weer baie min het.
Daar is van ons wie hoor, maar nie luister nie.
Om werklik krities te wees oor jou eie omstandighede en waar jy jouself bevind, moet jy uit jou omstandighede kan klim sodat jy krities daarna kan kyk. Om dit wat om jou gebeur werklik dit te sien en te luister moet jy die vermoë ontwikkel om terug te staan. Wanneer laas het jy jou lewe op ’n stoel voor jou gesit, wanneer laas het jy eerlik gekyk na wie jy is, wat jy doen en waarheen jy op pad is. Dit is waarom Jesus ons deur gelykenisse wil konfronteer. In hierdie sewe dagstukkies wil ek saam met jou kyk na verskeie gelykenisse en wat dit vir ons sê oor waar ons tans is.
Gebed:
Here, dankie dat U ons uitdaag om in hierdie tyd terug te staan en te luister. Ons bid Here en sê dankie vir u beskerming, genade en liefde in hierdie tyd van onsekerheid. Ons bid vir nuwe insig deur die stories en gelykenisse wat U met ons deel. Amen
Gedagte vir die dag | Dinsdag 2 November 2021
Filippense 3:13. Broers, ek verbeeld my nie dat ek alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en ek strek my uit na wat voor is.
’n Goeie CV en verwysing van werksondervinding is vir die meeste van ons baie belangrik. Om vordering in die lewe te maak, is van groot belang sodat jy vir ander kan wys wat jy al in die verlede vermag het. Dit gee vir jou ’n voordeel bo ander. Paulus begin Filippense 3 met sy CV – en dit skitter van prestasies. Hy was van geboorte reg onderrig en het die beste leerskole bygewoon, maar sê hy dan: “wat vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde”. Daarom maak hy hom los van wat agter, of verby is en strek hy hom uit na wat voor hom lê.
Dit is nie wat ons vermag het wat tel, of hoe hoog ons die leer van die bedryf waarin ons is, geklim het nie, maar liewer die mens wat die Here ‘n mens deur die hele proses gemaak het. Paulus deel met ons hoe die Here sy karakter kom vorm het. Mag hierdie gedeelte jou vandag help om nuwe betekenis te vind in wat jy doen en waar jy jouself bevind. Herinner jouself dat dit wat saakmaak nie soseer net jou vaardigheid is nie, maar jou menswees. Mag dit vandag jou gesindheid bepaal waar jy nuwe dinge aanpak.
Gebed
Heilige Gees, transformeerder van die wêreld, laat die helende krag van God se liefde my vandag só omvorm, nee, so geheel herskep dat ek ’n instrument sal word wat U kan gebruik. Wys my watter rol ek kan speel om die wêreld as ’n plek van lyding, korrupsie, verganklikheid te help transformeer tot ’n gebied waar u lig, vreugde en liefde die deurslag gee. Bied my gehoorsaam aan u Gees wat gevul is met nuwe moontlikhede.
AMEN.
Gedagte vir die dag | Maandag 1 November 2021
Galasiërs 5:25. Ons lewe deur die Gees, laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.
Elke liewe dag wat op ons wag is gevul met geleenthede waar ’n mens keuses moet uitoefen en besluite moet neem. Wat ’n mens op die einde kies en besluit is die gevolg van hoe ons voel en dink. Ons toets ons gevoelens en gedagtes deur raad van mense in te win, self na informasie te soek en die gevolge te oorweeg. Op die einde bly dit egter elke persoon se eie besluit. Ons teks help ons om te verstaan dat die Here se Gees deur hierdie maniere by ons is en met ons praat. Dit beïnvloed ons denke, temper ons emosies en verskerp ons intuïsie sodat ons besluite kan neem en dinge gedoen kry. Raak dus bewus daarvan dat die Here deur elke dag voortdurend by jou is en met jou praat. Ook in die tye wanneer ‘n mens miskien nie weet wat om op ‘n bepaalde oomblik te doen nie, herinner die Prediker daaraan dat daar ook hiervoor ’n tyd is. Om vir te wag op ’n antwoord vanaf God, is nie noodwendig God wat stil is nie, maar dit mag juis die tyd wees waarbinne die Here jou vir ’n oomblik tot stilstand wil dwing om in ’n ander rigting te kyk.
Gebed
Here, Prediker leer ons dat daar in die lewe ’n tyd vir alles is. Here, gee my die wysheid om in pas te kom met u Gees wat my lewe deurdring. Maak my sensitief vir wanneer om te praat en wanneer om stil te bly. Gee my die wysheid om informasie te kan onderskei en nie net altyd die voor die hand liggende antwoord te kies nie. Maar meer, Here dankie vir die wonder dat al hierdie dinge nie alleen op my afkom nie, maar dat u Gees my lewe deurspoel en lei na mense, plekke en keuses.
AMEN.
Gedagte vir die dag | Sondag 31 Oktober 2021
1 Korintiërs 3:16. Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie.
Paulus spreek hierdie woorde in die konteks van verdeeldheid. Alhoewel gelowiges in dieselfde Here en Gees geglo het, het hulle toegelaat dat veral godsdienstige idees en perspektiewe hulle onderlinge gemeensaamheid met mekaar versuur het. Dit is eintlik nie vir my nodig om enige iets verder te sê nie, omdat ons eie geloofsgemeenskappe vandag nog daaronder ly. Ons beoordeel mekaar binne die kerk op grond van irrelevante perspektiewe. Kan ons dus wel met verskillende perspektiewe met mekaar saamleef. Ja, beslis, maar dit gaan harde werk verg waarvoor mense nie altyd lus is nie, omdat ’n mens voel dat jy te veel in die proses moet prysgee. Dan oordeel sommige boonop dat godsdiens juis van jou verg om op jou standpunt en beginsels te staan. ’n Paar verse later vermaan Paulus ons dat dit die Here is wat ons beoordeel en dat ons daarom nie te vroeg, voordat die Here kom, mekaar moet beoordeel nie.
Gebed
Deur die ewige reg van u oordeel, deur die openbaarmaking van onreg, deur die oorwinning van u lig oor die duister, deur die genadige ontferming oor die weerloses en die ontsagwekkende oormag van u liefde vra ek Here – transformeer my eie onheiligheid tot goeie dade, herstel wat ek verwoes het en vergewe my oortredings. En gee ons vrede Here. AMEN