Gedagte vir die dag | Vrydag 19 November 2021
Met erkenning aan Benescke Janse van Rensburg: “Vers-’n-dag”
In Jakobus 4:8a lees ons: “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.” Ook in Hebreërs 11:6 lees ons: “Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.”
God sien ons raak, maar sien ons Hom nog raak?
Dit is iets wat maklik gebeur. Dit is ’n strik waarin ’n mens maklik in trap. Die Israeliete in die woestyn het daarin getrap. Ook nege van die tien melaatses wat Jesus genees het. En selfs ’n magtige koning soos Salomo was nie bestand daarteen nie.
Wat is hierdie strik? Ondankbaarheid, onvergenoegdheid en trots.
Die Israeliete het beleef hoe God hulle uit Egipte bevry het. Hy het vir hulle ’n pad deur die Rooi See oopgemaak. Hy het hulle bygestaan in die veldslag teen die Amalekiete en Hy het daagliks vir hulle manna en kwartels voorsien. Hulle het egter nie God se voorsiening raakgesien nie. Hulle het begin kla en na Egipte terug verlang.
Tien melaatse mans is genees. Net een het na Jesus teruggedraai om Hom vir sy genesing te gaan bedank. Waar was die ander nege?
En Salomo wat alles gehad het en God intiem gedien het, het mettertyd saam met sy buitelandse vroue afgode begin aanbid en van God weggestap. Hy het God nie meer raakgesien nie.
God sien ons in moeilike tye raak. Hy hoor ons gebede. Die vraag is: Sien ons Hom nog raak? Luister ons na wat God vir ons tydens gebed wil sê, of het ons bloot ’n lysie wat ons aframmel voordat ons opstaan en aangaan met ons dagtaak? Onthou ons om vir Hom dankie te sê vir deurbrake waarvoor ons gebid het? Is God steeds ons eerste prioriteit, of het ons soos Salomo geword wat iets anders bó God in ons lewens begin plaas het?
Gebed
Vader God, ek is jammer vir elke keer as ek iets anders as U eerste in my lewe geplaas het. Maak my asseblief bewus as daar enigiets is wat ek in my lewe moet verander. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Gedagte vir die dag | Donderdag 18 November 2021
Met erkenning aan Benescke Janse van Rensburg
In 2 Kronieke 16:9 lees ons: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.” Ook in Matteus 21:22 lees ons: “As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.”
’n Gewone oggend in September het vir Alicia Lamprecht van Kaapstad in ’n nagmerrie ontaard toe haar voertuig gekaap is met haar 7 maande oue seuntjie, Henco wat steeds in sy karstoeltjie vasgegespe was.
Alicia en ’n vriendin het rondom 10:00 die oggend buite haar voertuig gestaan en gesels. Sy was op pad om te ry. Die vriendin se hondjie het by die hekkie uitgehardloop en beide vroue het probeer keer sodat die hondjie nie in die straat beland nie. Meteens het Alicia se voertuig met skreeuende bande weggejaag. ’n Kaper het ongesiens in die voertuig ingespring. “Dit is moeilik om daardie oomblik aan enigiemand te probeer beskryf,” vertel Alicia oor die oomblik waarin sy besef het dat die kaper met haar voertuig en haar kind weg is. Terwyl Alicia agterna gehardloop het om te sien in watter rigting hulle ry, het haar vriendin in die huis ingehardloop om die gewapende reaksie-eenheid, die polisie en die buurtwag te ontbied.
Die gewapende reaksie-eenheid was eerste daar. Alicia, wat intussen besef het dat sy haar voertuig op haar selfoon kon volg weens die nasporingsisteem in haar voertuig, het by die reaksie-eenheid se voertuig ingespring en hulle het haar motor begin volg. Op ’n stadium het die sein gewys dat die voertuig stilstaan. “Toe het ons het hoop gehad,” vertel Alicia. Teleurgesteld het hulle egter haar voertuig verlate in die veld gevind – sonder haar kind! “Al wat ek in skok kon uitkry was: “Jesus help!” Sê Alicia. Sy het na die gewapende reaksie-eenheid se man gedraai en gevra: “Glo jy in God?” Toe hy ja, antwoord, het sy sy hande geneem en hulle het saam gebid dat God haar kind sou beskerm en dat Hy hulle sou lei om Henco te vind.
Alicia het ook haar ma gebel wat by ’n gemeente betrokke is en haar gevra om hulle gebedspanne te aktiveer. Ook haar skoonma en ’n ander vriendin wat in bediening is, het dieselfde gedoen. Gou was gebedsgroepe regoor Suid-Afrika besig om vir klein Henco se veiligheid te bid.
Vir drie ure lank het Alicia en ’n span mense asook haar man Coenie en ’n groep mense wat hom bygestaan het, alles in hulle vermoë gedoen om Henco op te spoor. Toe kom Coenie se oproep: “Liefie, ek het hom. Hy is ok!” Almal was in trane. Die verligting was groot. ’n Wonderwerk het plaasgevind.
’n Paar dae later in die Sondagkoerant het Emelda, die weldoener aan wie Henco toevertrou is, haar kant van die storie vertel. Sy bly in ’n gevaarlike woonbuurt wat bekend is vir bendegeweld en ander donker gebeure. Daardie oggend was sy op pad winkel toe om ’n brood te gaan koop, toe die kaper skielik langs haar stop, die baba in die karstoeltjie in haar hand druk en sê: “Kyk na die kind”. Hierna het hy weggejaag. In die artikel sê Emelda: “Ek sidder om te dink wat sou gebeur het as die baba in die verkeerde hande beland het. . . dit kon baie bad geëindig het. Die Here het daai dag gesorg dat ek die baba moes vind.”
God sien ons in noodsituasies raak. Hy hoor ons gebede. Hy stuur sy engele om ons te beskerm. Was dit Hy wat die kaper gelei het om klein Henco af te laai op die plek waar Hy reeds iemand geposisioneer het wat Hom ken? Geen duisternis kan oorwin wanneer ons opstaan en bid nie! Sterkte.
Gebed
Vader God, baie dankie dat ons kan weet dat U nooit sluimer, of slaap nie en dat U ons gebede hoor. Beskerm asseblief vandag my kinders en geliefdes. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus.
Amen.
Gedagte vir die dag | Woensdag 17 November 2021
Skrifgedeelte | Jesaja 40
Een van die oudste klagtes, wat alreeds in die Ou Testament na vore kom, is dat God my nie raaksien nie. Die volk het dit in Jesaja 40 uitgeroep, na aanleiding van hul haaglike omstandighede.
“Sien die Here dan nie meer raak wat van ons word nie? Kyk Hy verby ons?” Ook hier in Stellenberg kyk ons na hoop en praat ons oor hoe ons hoop kry in die feit dat God ons raaksien in ons unieke omstandighede.
Vir die volgende paar dae, wil ek graag fokus op hierdie tema of vraag: “Sien God ons nog raak? Sien God my raak?”
Ek is geïnspireer deur dagstukkies van Benescke Janse van Rensburg op die webtuitste “Vers-’n-dag”. Ek gaan iets van hierdie dagstukkies, met erkenning aan haar en haar webtuitste, aanhaal in die volgende paar dae rondom hierdie bepaalde tema.
Daar is ’n baie interessante Zulu woord: “Sawubona” wat beteken “ek sien jou” As hierdie woord gebruik word, sê die een vir die ander: “Rk sien jou, ek erken jou vir wie jy is, en ek kyk nie verby jou nie.” Dit is asof die Here veral in ons omstandighede ook hierdie Zulu woord aan ons wil rig. “Ek sien jou raak”.
Ja, dit is traumatiese tye waarna ons telkens verwys. Ons weet egter ook dat in hierdie doringdraad-ervarings van ons tyd, daar tog ook blomme op die doringdraad kan verskyn. Simbole van hoop, inspirasie, en ons hoop is gevestig op die feit dat God ons raaksien.
Hier is drie teksverse wat dit bevestig:
Psalm 33:13: “Die Here kyk uit die hemel en sien al die mense. Van die plek waar Hy as koning sit, sien Hy almal wat onder op die aarde woon. Dit is Hy wat hulle verstand gevorm het, wat al hulle werk deurgrond.”
Matteus 10:30: “Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”
Spreuke 15:3:” Die Here sien oral; Hy hou slegte en goeie mense dop”
God sien ons raak, Hy weet van al ons verknorsings, ons hartseer in verhoudings, ons uitdagings met ons gesondheid en druk in die werksomgewing. Wat gaan ons daaraan doen? Dit alleen dra? Of gaan ons dit in die geloof aan God oorgee, met die wete dat Hy vandag, gister en tot in ewigheid dieselfde God is.
Gebed
Vader God, baie dankie dat ek nie alleen is nie. Dankie dat U my raaksien en van my en my omstandighede bewus is.
Amen.
Gedagte vir die dag | Dinsdag 16 November 2021
Psalm 127
As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs.
As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs.
2Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ‘n bestaan te maak.
Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap.
Ek dink psalm 127 is ’n uitnodiging dat ons in ons werk, vreugde kan vind. Dit is nie te sê dat ons werk altyd lekker, maklik of bevredigend is nie, maar dit sê wel dat as ons werk, is God teenwoordig en in dit kan ons vreugde vind. Die Psalm herinner my ook dat my waarde as ’n mens nie gelykstaan aan my produktiwiteit nie, maar my waarde staan gelyk aan God wat vir my rus bring.
Die Psalm laat ’n vraag in ons midde – ’n vraag waaroor ons ons hele lewe lank kan reflekteer. Wat is dit waaraan ek bou, en hoekom bou ek dit? Mag ons die antwoord op die vraag vind in die storie van God sodat dit waarde en betekenis aan ons werk en ons lewens gee. In alles wat ons doen – in ons werk en in ons rus – mag ons die weg vind na die Een wie se juk sag is en wie se las lig is.
Gedagte vir die dag | Maandag 15 November 2021
Aan die begin van hierdie nuwe week, voordat ons oorval word deur die soms oorweldigende eise Maandag tot Vrydag inhou, wil ek jou nooi om ’n paar oomblikke van stilte vir jouself te gun. Haal ’n paar keer diep asem en probeer om te ontspan. Doen dit ’n paar keer totdat jy voel jou lyf ontspan. Hoor dan hierdie baie ou gebed: Wees stil en weet, Ek is die Here. Wees stil en weet Ek is. Wees stil en weet. Wees stil. Wees. Waar jy ookal gaan en watookal gebeur, weet dat die Here met jou is.
Ek lees graag ’n gebed van die Corrymeela gemeenskap in Ierland wat tans baie hard deur die Covid19-pandemie getref word. Dalk is hulle gebed ook jou gebed:
God of the one and God of the whole, be with those who are working from home today and those whose work keeps them from home. Be with those who won’t go beyond the front porch, and those who stay on the front line. Be with those who must choose between doing a job they know they can do and being the parent only they can be. May we each in our private worry hear your universal call to come, to lay down heavy burdens, and find a welcome rest. And then with our burdens lightened, may we help to hold the whole.
Amen.
Gedagte vir die dag | Sondag 14 November 2021
Ek lees graag vir ons ‘n geloofsbelydenis van Wilhelm Jordaan wat verwerk is deur Elna Mouton van die Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington:
Ek glo in ’n Ouer – God wat Liefde en Warmhartigheid is
wat ons gevorm het uit stof en vul ons met Sy Gees
sodat gewone mense soos ons – soos God –kan liefhê sonder vrees.
Ek glo in hierdie God wat geopenbaar is in Jesus Christus
die Mens wat tussen ons kom woon het – Waarheid en Lig!
Ek glo in Jesus Christus – die Mens na God se hart, wat gekies het
om deur die haat en klein begrip van mense ’n doringkroon te dra,
en van God geskei te word in die verlatenheid van Golgota,
wat die doderyk deurgrond het, en daaruit opgewek is
sodat ons onvervreem van God, verby die dood ewig vry kan lewe.
Ek glo in hierdie Jesus wat as Heer opgevaar het na die hemel
wat in liefde en trou my naam en adres ewiglik voor God onthou.
Ek glo in die Heilige Gees – die Wind van God wat oor die leegheid van my lewe waai
en in my ingewande – soos God se moederhart – ’n beroering bring
oor die onsêbare sugte van hulle wat my pad kruis.
Ek glo in die kerk wat uit Christus groei tot nuwe skepping
om alle mense met geregtigheid, liefde en hoop te verbind aan die Ryk van God se Kind;
Ek glo aan die gemeenskap van stukkende sondaars
Wat kniel voor die heiligheid van God;
Ek glo in God se vergiffenis wat die strerkste helende krag in die wêreld is.
Ek glo aan die ewige lewe, wat hier begin en na die dood hierdie belydenis – hierdie blydenuus, sal bly sing.
Gedagte vir die dag | Saterdag 13 November 2021
Ek lees hierdie week ’n gedeelte van Henri Nouwen, ’n bekende teoloog wat sê: “The great secret of the spiritual life, the life of the beloved Sons and Daughters of God, is that everything we live, be it gladness or sadness, joy or pain, health or illness, can all be part of the journey toward the full realization of our humanity” Mag sy woorde ons inspireër om die geskenk van lewe wat God vir ons elkeen gee, te ontvang en te koester.
Ek nooi jou uit om jou oë toe te maak en hierdie gebedswoorde te ontvang:
God in ons waagmoed, God in ons versigtigheid, op hierdie dag groet ons mekaar as medereisigers wat saam oppad is. Ons gee erkenning aan dit wat elkeen van ons met ons saamdra: dankbaarheid en hartseer, opgewondenheid en angstigheid, innerlike wroegings en gesamentlike hoop. Soos ons die volgende tree op die groot pad van die lewe neem, mag ons onthou dat ons nie alleen reis nie, maar saamstap.
Gedagte vir die dag | Vrydag 12 November 2021
Ek lees graag vir julle uit Numeri 6:24.
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Dis ’n baie ou seëngebed van meer as 3000 jaar gelede wat glo dat God aan ons sal gee wat ons nodig het. God sal met deernis na ons kyk. Hy sal sag met ons werk en God sal simpatie met ons hê. God sal goed wees vir ons waarookal ons sal gaan. Die volk was in die woestyn op ’n baie moeilike reis en dan sê die Here die priesters om die volgende vir sy volk te sê:
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Dit is die seën wat die Here oor en oor oor sy volk uitspreek. Die Here sê: Ek is daar, Ek weet van jou, Ek sal my seënende hand oor julle hou. Die Here sal op ’n stil, stadige, amper onopmerklike manier vir ons elke dag goed wees. Dis ’n seën wat sê dat as dinge verkeerd loop kan jy weet dat God sal ingryp en sy guns oor jou uitstort. En as jy die rowwe kant van die lewe ervaar kan jy weet dat die Here met ’n sagte gesig en sagte oë na ons kyk.
Dis ‘n seën wat sê dat die Here ook vir ons geleenthede skep en met ’n verwagting na ons lewe kyk. Mag jy ook vandag soos gelowiges deur die eeue, rus in God se seën.
Gedagte vir die dag | Donderdag 11 November 2021
Daar bestaan ’n baie ou konsep wat die antieke mense gebruik het, om oor die lewe te reflekteer. Ons is almal reisigers saam oppad – het hulle gereeld gesê. As gelowiges glo ons dat ons nie alleen op die groot pad van die lewe stap nie, maar dat God elke tree saamstap. God is die medereisiger wat langs ons loop, maar wat ook alreeds by die eindpunt vir ons wag.
Gebed van ‘n reisiger
Sny vir my, o Heer, ’n wandelstok of twee
uit die woud by Tsitsikama en loop met my mee oor die vlaktes van die Groot Karoo,
oor die berge van Natal, langs die kus af tot by Vleesbaai
tot by die groen van Riversdal.
Brand die hemel van die Vrystaat tot in my hart se dagboek in,
laat my nooit die lug vergeet nie wat aan die horison begin.
En Heer is dit dieselfde son wat by my reis se einde skyn?
Behou mens steeds die reuk van reën as jou geheue dalk sou kwyn?
Want ek vrees mos nie die vreemde nie, selfs die afstand laat my koud.
By U is daar geen leemte nie, U bly steeds my behoud.
Al reis ek oor die sewe see, skuif kontinente stil verby,
sal ek my voetval op U rig, my in die reis verbly.
Maar ek vrees tog wel die eensaamheid, ek skrik die groot alleen.
Dis dan wanneer U my moet dra want U weet ek gaan daarheen.
Laat die sterre dus my kompas wees en U steeds my ware Noord,
lei elke voetstap voor my reis, o Heer
Want dit is soos dit hoort
Gedagte vir die dag | Woensdag 10 November 2021
Baie van ons het soms die ervaring dat die lewe oorwedigend kan wees. Daar is soveel goed wat ons tyd en energie steel en wat ons tot laat in die aand wakker hou. Van ons voel uitgebrand en ander vind dit moeilik om tussen verantwoordelikhede en verwagtinge ’n balans te vind. Baie van ons se dieperliggende behoefte is om dit wat swaar op ons rus, af te skud, en dalk vir die eerste keer in ’n lang tyd, asem te haal en te rus in die Here se teenwoordigheid. Miskien wil jy vandag iewers ’n paar oomblikke van stilte neem en dit wat swaar op jou druk, na die Here bring. Ontvang dan die seën en die wete dat die Here vir jou rus wil gee. Rus wat niks van jou vra nie en sag op jou lê.
Ek lees graag vir jou ’n gebed van Henri Nouwen
O Lord, Life passes by swiftly.
Events that a few years ago kept me totally preoccupied have now become vague memories;
conflicts that a few months ago seemed so crucial in my life now seem futile and hardly worth the energy;
inner turmoil that robbed me of my sleep only a few weeks ago has now become a strange emotion of the past;
books that filled me with amazement a few days ago now do not seem as important;
thoughts that kept my mind captive only a few hours ago have now lost their power and have been replaced by others. . . .
Why am I continuously trapped in this sense of urgency and emergency?
Why do I not see that you are eternal, that your kingdom lasts forever, and that for you a thousand years are like one day?
O Lord, let me enter into your presence and there taste the eternal, timeless, everlasting love with which you invite me to let go of my timebound anxieties, fears, preoccupations, and worries. . . . Lord, teach me your ways and give me the courage to follow them.