Gedagte vir die dag | Maandag 29 November 2021
1 Tes 4:1. 1Ten slotte, broers en susters, vra ons julle en spoor ons julle aan om as deel van julle verhouding met die Here Jesus julle leefstyl in te rig volgens die voorskrifte wat julle van ons ontvang het oor hoe julle moet lewe om God gelukkig te maak. Julle doen dit ook, maar lê julle nóg meer daarop toe.
Jesus sê in Lukas 6:43-45 dat ’n boom aan sy vrugte geken word. Net so word ware wedergebore kinders van die Here geken aan hulle Christelike leefwyse en die karaktereienskappe (vrugte) wat dit voortbring. Onthou dat ’n Christelike Leefwyse beteken dat ons in alle opsigte die karaktereienskappe wat pas by ’n Christelike leefwyse met entoesiasme moet uitleef. Ons moet geken word aan die vrugte wat ons dra en uit die gesprekke wat ons voer.
Die Westminster Shorter Catechism sê, “Man’s chief end is to glorify God and to enjoy Him forever.” ’n Lewe wat vir God geleef word, verheerlik God. Ons volg God met ons hele wese na – hart, siel, verstand en krag. Ons bly in Christus en daarom tree ons soos Hy op, deur mekaar lief te hê. Deur dit te doen, vereer ons Sy Naam. Die grootste uitdaging vir elkeen van ons, is om volgens die wil van God te lewe.
Die vraag wat ek dus vandag vir jou wil vra is: “Tot watter mate leef jy volgens die wil van God?” Kan mense in jou lewe sien dat jy God se kind is en dat daar ’n verandering in jou lewe plaasgevind het? Vandag se teks roep ons weer op om ’n leefstyl te leef wat God gelukkig maak. God se woord is duidelik daaroor oor hoe so ’n leefstyl lyk.
GEBED
Neem my lewe laat dit Heer
U gewy wees meer en meer
Laat my hart gedurig juig
En van dankbaarheid getuig
Neem my hande, maak hul sterk
Diensbaar in U goeie werk
Neem my voete skoei hul Heer
Met bereidheid tot U eer
Neem my stem en laat my sing
Aan U Here hulde bring
Laat my mond die boodskap dra
Hul sal vind wat na U vra
Neem my goud en silver Heer
Niks noem ek my eie meer
Al my kennis en verstand
Stel ek in U Vaderhand
Maak my hart vir U tot troon
Deur U Gees wat in my woon
Rig my wil gevoel en daad
Altyd na U wyse raad
Neem my lewe laat dit Heer
U gewy wees meer en meer
Laat my hart gedurig juig
En van dankbaarheid getuig
Gedagte vir die dag | Sondag 28 November 2021
Johannes 2:7. Jesus sê toe vir die kelners: “Maak die kanne vol water!” Hulle het dit tot heel bo vol gemaak.
GEDAGTE
Troues in die ou nabye Ooste was ’n ongelooflike belangrike geleentheid net soos in ons moderne tye vandag. Vir Jode was ’n troue ’n feestelike geleentheid.
Toe die wyn in Kana opraak, is die voortgang van die fees in gedrang. Dit is ’n groot krisis. Wyn was immers die drank van feesviering in die antieke wêreld. Jesus se moeder vestig sy aandag op die gebrek aan wyn.
Merkwaardig genoeg gebruik Jesus die reinigingswater by die fees om die wyn van te maak. Die water was nodig vir die Joodse rituele reiniging. Die hande en voete word gewas voordat mense kan aansit vir die feesmaal. Dit was nodig omdat mense van ver gekom het. Dink maar aan die oop sandale en die stofpaaie van Israel.
Die reiniging het ook godsdienstige betekenis gehad. Die Jood berei hom ook voor om God in die feesmaal te ontmoet. Die Ou Testamentiese lering het voorgeskryf dat iemand rein moes wees, om naby God te kom. Vir die Jode het alles oor reinheid gegaan. Voor jy kon eet, moes jy eers ‘rein’ wees. Voor jy aan ’n troue kon deelneem, moes jy eers ‘rein’ wees. En om ‘rein’ te wees, moes jy jou met ‘rein’ water was.
By Kana vat Jesus egter die reinigingswater weg, en omskep dit in ‘n wyn vir feesviering. Dit het diep simboliese betekenis. Jesus neem self verantwoordelikheid vir die reiniging van mense. Deur Hom word ons gereinig en kan ons voor God verskyn. Nou is daar nie meer die fisiese reinigingswater in die klipkanne by die ingange nodig wat mense rein maak voor God nie. Dit is Jesus self wat ons deur Sy bloed rein maak.
Dit gaan dus nie meer daaroor of jou hande skoon is nie, maar of jou hart skoon is. Die ingang tot die bruilof is nie meer skoon hande nie, maar skoon harte.
GEBED
Here, skep vir my ’n rein hart o, Here. Vernuwe my gees en mag ek skoon gewas voor U staan.
Amen
Gedagte vir die dag | Saterdag 27 November 2021
Psalm 97:1. 1Die Here regeer! Laat die aarde juig. Laat die talle eilande bly wees.
Die staatsekretaris Oliver Cromwell was eenkeer op ’n belangrike seereis en kon een nag nie slaap nie. Hy het om een of ander rede ’n voorgevoel gehad dat iets verskriklik op die seereis sou gebeur. Hy het toe een van die ander amptenare wakker gemaak om sy vrees met hom te deel. Die amptenaar het hom gevra of hy hom drie vrae kan vrae, waarop die sekretaris geantwoord het dat dit goed is. Die amptenaar se drie vrae was:
“Eerstens, het God regeer voor ons gebore is?” Die sekretaris antwoord: “Ja!” Die amptenaar vra: “Tweedens, sal God regeer nadat ons dood is?” Weer antwoord die sekretaris: “Ja!” Die amptenaar vra: “Derdens, moet ons dan nie God vertrou vir nou nie, op hierdie skip, in hierdie nag, en met die res van ons reis nie?” Die bekommerde sekretaris kon die sin van die vrae insien. Hy het rustig geraak en gaan slaap.
Wie regeer oor jou en my verlede, hede en toekoms? Die Bybel het net een antwoord: God! Glo jy dit van harte? Hierdie Psalm juig dit ook uit. God sit op die troon! God regeer! Hy regeer as Koning van die konings en Here van die here! Hy is die middelpunt en skepper van die heelal. Ons Verlosser, Jesus Christus, is ook op die troon, sê Openbaring 5:7. Wees dus rustig, ons God is in beheer en Hy regeer.
Junita du Plessis sing so mooi:
Wie regeer?
Wie is in beheer?
Wie’s die Begin en die Einde
Die Een wat is, wat was en wat kom?
My hart wil sing
Alle eer wil ek bring
Hy’s die Weg en die Waarheid
Daar’s niemand, niemand soos Hy
Gebed
Ek aanbid U as die Almagtige, Heilige God wat regeer. U regeer hoog bo alle nasies en U regeer oor my lewe ook. Amen
Gedagte vir die dag | Vrydag 26 November 2021
Kolossense 3:12. 12Julle is die mense wat God uitgekies het wat Hy geheilig het en wat Hy liefhet. Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: liefdevolle deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld.
Ons trek elke dag skoon klere aan. Die vuil klere word in die aand uitgetrek en in die oggend met skones vervang. Dit is amper soos ’n ritueel wat ons outomaties uitvoer sonder vreeslik ernstig daaroor na te dink. Paulus pas die eenvoudige alledaagse taak op ons geestelike lewens toe. Paulus meen soos ons die ou vuil klere in die aand uittrek, so moet ons ook die ou sondige gewoontes aflê en net soos ons weer skoon klere aantrek moet ons die nuwe manier van lewe volgens Christelike beginsels aanleer.
Iemand wat sy lewe aan die Here toevertrou het se lewe het verander en hy/sy kry ’n nuwe identiteit en as’t ware nuwe en skoon klere. Met ‘n nuwe identiteit moet daar ‘n sigbare verandering in sy lewe wees. Die ou sondige mens moet soos vuil klere uitgetrek word. Wanneer ons die ou vuil klere uittrek moet ons ook die nuwe klere van Christenwees aantrek. Wat behels hierdie nuwe klere, of hierdie nuwe identiteit? Ek noem net ’n paar:
- Dit beteken dat ons sal breek met die sonde
- Om eerlik te wees
- Nie kwaad, ongeduldig en onbeskof wees nie
- Nie steel nie
- Nie vloek
- Soos ons teks sê liefdevolle deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld.
- Jesus som dit op as lief wees vir God en lief wees vir ons naaste.
Dit is nie iets wat ons sommer op ons eie kan regkry nie. Ons het die hulp van die Here daarvoor nodig. Daarom moet ons elke dag bid dat die Here ons sal help om die ou vuil klere uit te trek en die nuwe skoon klere aan te trek. Klere wat pas by ’n nuwe identiteit in Jesus.
Gebed
Almagtige Here God. Ek wil my ou vuil klere voor U kom uittrek en ’n nuwe kleed wat gewas is in die bloed van Jesus Christus aantrek. Help my om asseblief te lewe soos U wil hê.
Amen
Gedagte vir die dag | Donderdag 25 November 2021
Habakuk 3:19. Die oppermagtige Here is my krag! Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok; op hoë plekke laat Hy my veilig loop.
Ons word deesdae oorval met slegte nuus. Elke dag hoor ons van misdaad, korrupsie en verval. Dan is daar nog die gewone uitdagings ook wat ons daagliks in ons lewens ervaar. Hoe kry ’n mens dit reg om aan te hou lewe, ten spyte van al hierdie slegte nuus.
Die profeet Habakuk moes ook ’n klomp slegte nuus op sy dag hanteer. Die ergste is dat hy selfs beleef het dat God teen die volk gedraai het as gevolg van hulle sonde. Wat doen Habakuk tydens hierdie uitdagende tyd? Hy gaan na die Here en hy stort sy hart uit voor die Here.
Hoe vind ’n mens weer vastrapplek in die lewe as die mat onder jou uitgeruk word. Die uitdagings van die lewe gaan nie weg deur dit net te ignoreer nie. Om in sak en as te gaan sit gaan nie regtig help nie. Ons kan wel Habakuk se voorbeeld volg en op die uitkyktoring gaan staan en met die Here daaroor praat. Dit is juis dan ook Paulus wat skryf in Fil. 4:6: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en met smeking en danksegging aan God beken.”
Bid, worstel, wag, want God sal antwoord. Al is dit net om jou krag te gee soos die van ’n ribbok om oor die hoë plekke te loop.
Habakuk kon in die Here jubel, want hy het geweet dat die Here hom op hoë plekke sou beskerm. Net so is die Here ook by ons as ons op hoë gevaarlike plekke moet loop. Hetsy dit siekte, dood, lyding, swaarkry, bekommernis, of teleurstellings is. Dit is die Here wat vir my en jou ’n stewige vastrapplek gee.
GEBED
Here Jesus, U wat swaarkry ken, wees met elkeen van U kinders, omvou hulle met U liefdevolle teenwoordigheid. Voorsien asb in elkeen se behoeftes, en herstel hulle omstandigheide, net U alleen ken elke huis se kruis.
Hulle wat nie werk het nie, ook nie kos het nie, die wat nie ‘n dak oor hulle kop het nie. Elkeen wat ly agv van eensaamheid of siekte.
Raak hulle aan en laat goedheid en guns hulle volg al die dae van hulle lewe.
Maak van ons ‘n dankbare vreugdevolle mense, ten spyte van alles wat ons in hierdie lewe op aarde moet deurgaan.
Laat elkeen vandag rustig raak Here, en laat ons nooit ophou om U te vertrou nie.
Amen
Gedagte vir die dag | Woensdag 24 November 2021
Jakobus 4:11. Moenie lelike goed van mekaar sê nie, broers en susters. As julle lelike dinge van ’n medegelowige sê of ’n medegelowige kritiseer, dan kritiseer julle die wet. En as julle die wet kritiseer, is julle nie daders van die wet nie, maar regters.
Ons het ons sekerlik al almal aan skinder skuldig gemaak, of lelike goed van iemand anders gesê het. Wat beteken dit om kwaad te spreek van medemense? Dit is om voor hulle, of veral agter hulle rug, slegte dinge oor hulle te sê, of te vertel – of dit waar is aldan nie. Dit is om só oor medemense te praat dat jou woorde hulle in die opinie van ander verkleineer. Dit is om een van die kosbaarste besittings wat daardie mens op hierdie aarde kan hê – ’n goeie naam – voor ander af te breek. Johannes Calvyn, die groot hervormer het gesê: Daar is geen groter onreg wat mense aangedoen kan word as om hulle reputasie te skend nie.
Skinder is seker een van die mees vernietigendste tydverdrywe wat bestaan en tog hou mense so baie daarvan. Die gevaar van skinder is dat dit seermaak en afbreek. Die bedoeling met skinder is nooit goed nie
- Skinder is agterbaks. Dink mooi… dit is om iemand agter sy rug seer te maak en af te kraak. Die persoon is nie eers self daar om homself te verdedig nie.
- Skinder is ook gewoonlik ʼn bietjie van ʼn gelieg. Omdat die persoon nie daar is nie, kan jy mos sê wat jy wil sonder om bang te wees dat jou leuens gaan uitkom of dat iemand jou gaan teëgaan. Wie sal nou weet as jy so bietjie aandik?
- Skinder is ook venynig, want gewoonlik skinder ʼn mens nie om te vertel hoe goed iemand is nie! Eerder die teendeel.
Daar word vertel dat Augustinus ’n kennisgewing op sy lessenaar gehad het wat sê: “Enigiemand wat hierdie kantoor binnekom om sy broer te beskuldig, sal hier uit begelei word.“ Die Here is duidelik in Sy opdrag: “Moenie van mekaar kwaad praat nie.” Ons lees ook in Spreuke 10:18. “Wie skinderstories versprei is ‘n dwaas..”
Gebed
Mag elke woord wat uit my mond kom wees soos heuning
En mag gedagtes uit my hart wees soos die môredou
Elke onuitgesproke woord en elke saak wat ek bedink,
Mag dit aangenaam en sinvol wees voor u aangesig o Heer
Want U’s my God, U’s my Redder U’s my vrede.
U’s die rots waarop ek bou en waar ek skuiling vind
U is my kompas, u Woord gee rigting wanneer ek verlore raak.
Daarom is dit my gebed dat wat ek dink of wat ek praat
Welbehaaglik voor U aangesig sal wees. Amen
Gedagte vir die dag | Dinsdag 23 November 2021
Gedagte vir die dag | Maandag 22 November 2021
Erkenning aan Benescke Janse van Rensburg: Vers-’n-dag
Skrifgedeeltes: In Jeremia 30:17 sê Hy: “Ek sal jou gesond maak, jou wonde genees . . .” In 1 Petrus 5:10 lees ons: “God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, weer self oprig en julle moedig, sterk en selfstandig maak.”
Tydens die oproer vroeër die jaar in KwaZulu-Natal is ’n blou San Pablo-leerbank uit ’n meubelwinkel in Springfield gesteel. ’n Paar dae later het die winkeleienaars geskok op sosiale media gesien hoe hulle bank, ter waarde van R70,000, in stukke op ’n sypaadjie in ’n informele nedersetting staan. Bo-op ’n gedeelte van die bank het twee vroue gesit en gesels – totaal onbewus van die waarde van die bank.
Met moeite kon die eienaars al die stukke van die San Pablo-leerbank terugvind. Die skeure in die leer en die gebreekte pote is reggemaak en alhoewel die bank nie meer te koop aangebied word nie, kom mense spesiaal na die winkel om die bank te sien en selfs om ’n foto daarop te neem.
Alhoewel God ons elkeen met ontsettende waarde geskep het – net soos hierdie San Pablo-leerbank, tref slegte situasies, of teleurstellings soms ons lewens wat ons laat voel soos die bank wat verlate op ’n sypaadjie staan met skeure aan ons leer en gebreekte pote. Dit beroof ons van ons selfvertroue en selfwaarde en los ons met gebroke harte.
God is egter stééds in staat om ons tot ons oorspronklike glorie te herstel.
Die oorspronklike blou San Pablo-leerbank is vandag selfs méér waardevol weens die ervaring waardeur dit gegaan het. Net so kan God ons slegte ervarings gebruik om ons te vorm om selfs ’n groter impak in ander se lewens te hê. Hy wil ons genees, oprig, moedig, sterk en selfstandig maak. Kom ons gee Hom ’n kans om dit te doen.
Gebed:
Vader God, baie dankie dat U my ken en lief het. Help my asseblief om opnuut my waarde te besef waar ek dit begin verloor het. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Gedagte vir die dag | Sondag 21 November 2021
Met erkenning aan Benescke Janse van Rensburg: “Vers-’n-dag”
Teks: God wil ons kom ontmoet en kom genees in ons seerste seisoene. Hy weet wat ons benodig en Hy kan ons seer kom wegneem. In 1 Petrus 5:7 lees ons: “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.” Ook in Jesaja 41:10 praat God self en sê: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.”
Verlede week het ’n 41-jarige vrou, sonder ’n draad klere, by ’n bank in die Strand ingestorm. Al skreeuend het sy verwoesting begin saai. Dít het veroorsaak dat klante geskok uithardloop en werknemers ongemaklik rondstaan. ’n Video van die voorval het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei. Die kommentaar uit die publiek was ongenaakbaar. “Die vrou is mal,” skryf een. “Ek het nou so lekker gelag,” skryf ’n ander. En nog een beskryf die gebeurtenis as “lagwekkend en totaal ongehoord”.
In Sondag se koerant deel die vrou se broer haar kant van die storie. Vier jaar gelede was die vrou ’n suksesvolle entrepreneur. Sy het ’n wassery gehad, geld uitgeleen vir die publiek teen rente en sy het kamers in haar huis verhuur vir ’n ekstra maandelikse inkomste. Elke Sondag was sy in die kerk en dit was sy wat haar broer na die kruis gelei het waar hy sy drinkery laat staan het.
Êrens het dinge egter vir haar begin skeefloop. Die geldleners het nie hulle uitstaande skuld betaal nie. Uit woede het die vrou een van hulle met kookwater bestook. Dít het veroorsaak dat sy vir waarneming na ’n psigiatriese hospitaal gestuur is. In die tyd wat sy weg was, het haar vervreemde man die uitstaande geld van geldleners ingevorder en hy is daarmee fort. Sy het alles verloor. Kort hierna het haar ander broer en ma gesterf. Die skok en teleurstelling van al hierdie dinge het die vrou emosioneel geknak en sy het totaal buite karakter begin optree.
’n Mens kyk maklik na ’n ander persoon se optrede – in die werkplek, in die gemeenskap of selfs soos hierdie vrou in die bank – en lewer ’n opinie of fel ’n oordeel. Dít totdat ’n mens die volle storie ken. Was die vrou reg? Nee. Het ek empatie vir haar? Ja. Ek dink daar is heelwat mense wat soos sy rondstap met ’n gebroke hart en nie weet waar om hulp te kry nie. Die gevaar met onverwerkte trauma is dat dit tot ’n uitbarsting kan lei wat nie net ander se lewens beskadig nie, maar ook jou eie.
God genees en herstel. Kom ons gee Hom ’n kans.
Gebed
Vader God, baie dankie dat ek elke seer en teleurstelling na U kan bring. Lei my asseblief vandag met (noem jou situasie). Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Gedagte vir die dag | Saterdag 20 November 2021
Erkenning aan Benescke Janse van Rensburg: “Vers-’n-dag”
In Psalm 139 lees ons: “Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem – hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.” In Jesaja 49:16 lees ons: “Ek het jou naam in my handpalms gegraveer. . .”
104 jaar – dít is hoe lank adellike juwele wat tydens die rewolusie in 1917 uit Rusland gesmokkel is, in bewaring gehou is. Die diamante word volgende week in Genève opgeveil. Die pienk diamantring van 25.62 karaat is die ster van die versameling en kan moontlik vir tussen R60 en R90 miljoen verkoop word.
Soms voel ons geïsoleerd soos die diamante. Rondom ons skarrel mense, maar dit voel asof niemand van ons bestaan weet nie. Dalk is ons ook in bewaring? Dalk is God besig om ons te bewaar vir die regte oomblik waarvoor Hy ons wil gebruik?
Dawid was eens ’n skaapwagter in die veld. Josef was ’n gevange in die tronk. Ester was ’n weeskind. Al drie hierdie mense het nodig gehad om in die sogenaamde stiltyd uit te vind wie hulle is en die karaktertoetse te slaag sodat hulle die druk kon dra om teen ’n reus te gaan veg, om ’n land vir ’n hongersnood voor te berei, of om haar lewe te waag deur vir haar volk se oorlewing te gaan pleit.
God weet van ons. Hy ken ons toekoms. Hy bepaal ons lewensdae. En net soos die diamante se waarde in isolasie gegroei het, groei ons waarde en karakter ook! Hy bewaar en beskerm ons.
Gebed:
Vader God, baie dankie dat U van my weet – selfs al voel ek alleen en geïsoleerd! Help my om getrou te bly wetende dat U in beheer van my lewe bly! Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.