GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Donderdag 9 Desember 2021

 

Prediker 12:13. Die slotsom van alles wat jy gehoor het is dit: Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word.

Prediker het baie diep nagedink oor die sin van die lewe. Hy deel met ons ’n klomp onsinnige dinge waarmee ons kan identifiseer en kom dan aan die einde tot die slotsom dat elke sekonde van tyd – goed of sleg – uiteindelik deel is van dieselfde geskenk van lewe. Die pad na hierdie insig beskryf hy dan aan die einde van die boek Prediker as sogenaamde “gehoorsaamheid aan God”.

Ons geloof in God is nie ’n teoretiese troos en hoop nie. Dit kry gestalte wanneer ons onsself toewy daaraan om in elke omstandigheid van die lewe na die wil van die Here te vra en dit op ’n praktiese manier te laat gestalte kry.  Dit is juis in hierdie ‘doen’ of dan gehoorsaamheid waarin die Here dikwels die lewe vir ons ontsluit.  Wat vra die Here vandag van jou? Is dit wat jy vandag moet doen so onduidelik?  Dink mooi daaroor na, dit is waarskynlik nie iets buite jou bereik is nie. ’n Mens kan vir lank bly vashaak by die onsinnigheid van die lewe. Dien die Here deur eenvoudig dit te doen wat hy vandag op jou hart lê.  Mag die Here dan in hierdie daad die lewe wat sin gee vir jou en ander kom oopsluit.

Gebed

Here, ons word deur so baie onsin omring wat ons denke en optrede bepaal. Ons kan vir lank in die lewe bly vashaak by gedagtes wat ons nêrens anders bring as om te kritiseer, of pessimisties te wees nie. Gee my in hierdie dag ’n sin vir die lewe wat op my lê en wag.  Lê in my gedagtes hoe ek vandag behoort te dink en te reageer en help my om elke situasie te kan onderskei, sonder dat die vrees en frustrasie in my oorneem.  Aan U Here, wat die lewe elke dag vir my nuut kom oopbreek kom die lof toe.

AMEN.

Gedagte vir die dag | Woensdag 8 Desember 2021

 

Johannes 1:1 en 4In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. In Hom was daar lewe, en die lewe was die lig vir die mense.

Hoe presies lewe en die aarde ontstaan het is iets wat die slimste mense laat kopkrap. Ten spyte daarvan, kan die eenvoudigste mens diep onder die indruk van die betekenis daarvan kom. Is hierdie gedagte nie wonderlik nie!  Lewe op aarde is nie ’n verhaal ter wille van oorlewing nie, maar van “beleef” en “herleef”. Daar is telkens nuwe dimensies en geheime van die lewe en skepping wat vir mense oopbreek. Ons ervaar dit in oomblikke van insig, vergifnis, dankbaarheid en liefde soos die alledaagse lewe met ons gebeur. Dit is waaroor Johannes in ons teksgedeelte beskryf.

Moenie toelaat dat moedeloosheid oor jou spoel as jy sukkel om van jou hede en lewe sin te maak nie. Die God wat bo menslike verstand in die begin alles gemaak het is vir jou lig. Sien dit vandag weer raak in die gebeure wat jou pad kruis. In elke oomblik van die allesdaagse ontsluit die Here die diep geheimenisse van die skepping vir ons.

Gebed

O genadige en heilige Vader, gee my die wysheid om iets van U raak te sien; die intelligensie om iets van U te verstaan; die ywer en geduld om op U te wag; ’n hart wat oor u liefde en heiligheid nadink en ’n lewe wat u grootheid verkondig. Ek vra dit deur die krag van die Gees van Jesus Christus. AMEN.

Gedagte vir die dag | Dinsdag 7 Desember 2021

 

Ek wens ek kon die hele gedeelte lees, maar die agtergrond is die vlug van die gesin van Josef, Maria en Jesus. Dan die opvolgende vlug na Egipte, die kindermoord, die terugkoms uit Egipte, die gedeelte wat ek lees is Matteus 2:13. “Nadat hulle vertrek het, het daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan Josef verskyn en gesê: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte toe en bly daar totdat ek jou sê om terug te kom, want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.”

Ek dink baie oor hoe dit in die huishouding van Maria en Josef gegaan het, met die klein Jesus. Maar ook met die uitgebreide familie. Soms verromantiseer ons hierdie familie. As ons kyk hoe dit gegaan het ten tye van Jesus se geboorte dat die kinders doodgemaak moes word, en toe gevlug op ’n donkie. Dan die hele verhaal van hoe dit met hulle in Egipte gegaan het, en hoe hulle meer moes hervestig. Jesus het gekom en Hy het met ons kom identifiseer in ons menswees. Hy het gekom as ’n klein eenvoudige kind.

Ek het gedink aan Sheila Cussons se gedig: “Klein ballade”

Ek soek die huis van ’n timmerman

Ek soek die tafel, die eenvoudige gedekte,

en die bêreplek van die botterspaan

Van Maria die Onbevlekte.

 

Ek soek die dinge van hulle elke-dag,

Ek soek die praat en die maklikste lag

in daardie gebenedyde huis:

 

Neem hierdie pad, klop aan die deur,

na buite toe dwaal ‘n varsbroodgeur

En sê nou hulle is tuis?

 

My moed begeef my en ek vlug,

Maar iets sê in my gaan trug, gaan trug;

Sy staan reeds in die deurkosyn…

 

Toe draai ek om en ek vind verstom

Ek het my voor my eie deur gekom;

My huis is Hare, my huis is Syne!

Nou ken ek die huis van die timmerman,

Ek ken die tafel, die eenvoudige gedekte,

En die bêreplek van die botterspaan

Van Maria die Onbevlekte.

Jesus het in ons kom woon. Hy het kom woon deur sy Heilige Gees in ons, Hy is nie vêr nie. Hy woon in my en jou huis. Hy sit saam met ons om die Kersfeestafel. Hy sit saam met jou kinders wat vêr is. Hy sit saam om die tafel wanneer jy swaar kry. Hy lag saam met ons as ons bly en dankbaar is, wanneer ons hartseer en eensaam is. Nou ken ek die huis van die timmerman, ek ken die tafel. Die eenvoudige, gedekte. Want dit is my en jou tafel wat gedek word. Hy is daar by die braaivleisvuur. Hy is daar as ons saam is met ons geliefdes, en ook wanneer ek eensaam is, is Hy teenwoordig.

Gebed:

Here, dankie dat die huis van die timmerman, ons eie huise is en dat U daar teenwoordig is.

Gedagte vir die dag | Maandag 6 Desember 2021

Matteus 1:18: “Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus. Toe sy moeder Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom.”

Soms wonder ek oor die dag, in Nasaret, toe Maria vir haar verloofde Josef vertel het dat sy ’n baba verwag wat nie syne is nie. Sou haar ouers toe al geweet het? En het hulle haar bygestaan? Was dit ’n soort wegsteek bekendmaak met die geskokte familie wat vrae gedemp fluister en wat oor ’n vervroegte huweliksdatum praat en oor die twee jongmense wonder?

Selfs in ons premisiewe dag skep ’n baba onverwagte probleme. Hoe sou ’n arme Galilese meisie in dié tyd stralend, met die feite voor ’n dag gekom het. Vertel het dat ’n engel aan haar verskyn het, en dat haar kind die Messias is? Sou haar huismense haar dadelik geglo het? En haar omhels het? Of sou sy dit eers stilgehou het en gewag het dat die tyd reg en ryp is? Ek neem aan sy het dit eers ’n tydjie stilgehou en op ’n dag moes sy daaroor praat.

“Josef, daar is iets wat ek jou moet vertel, ek verwag ’n baba oor ’n paar maande!” Hoe sou Josef reageer het? Ek sou dink hy sou reageer deur te sê: “Wat? ’n Baba?” Jy is verspot, jy weet mos ons het nie . . . dis onmoontlik? Of hoe kon jy dit aan my doen? Of dalk was hy meer bedaard? “Ek verstaan, miskien is daar iemand anders, totsiens Maria,”  of het hy haar net verstom aangekyk? Dalk het sy probeer verduidelik dit is God se kind Josef, ons moet bly wees!  Daar was ’n engel, hoe sou jy in Josef se skoene so ’n verduideliking aanvaar?  Die gedeelte wat ons gelees het, het hom nie eintlik oortuig nie. Maar dis nie myne nie, ons sal eers daaroor moet dink. Ek sal later met jou familie in aanraking kom. Miskien het hy uitgestorm en Maria laat huil aan uitskree, maar dis God se kind?” Haar ma het haar heel waarskynlik getroos.

Ons lees in Matteus een stukkie verder, in vers 19: “Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was, maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek. Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar ’n engel van die Here in ’n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef, seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees.

Later in vers 24: Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het en met haar getrou.” Soms verromantiseer ons die stal, die krip en die wiegie en alles rondom die verhaal wat met Jesus te make het. Josef het seker reeds vir Maria vroeg ontval.  Aan die kruis moes Jesus vir Maria sorg, Johannes die geliefde moes haar saggies weglei na sy huis. Vrou van smart, sy het dit alles gesien, gevoel.  God wat Sy Seun gegee het dat ons nie verlore mag gaan nie. God se kind.

Gebed:

Here, dankie vir U wonderbare werking van U Heilige Gees in twee onskuldige Joodse jongmense. Amen.

Gedagte vir die dag | Sondag 5 Desember 2021

 

Lukas 2:7: (selfde as gister).  “Maria het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.”

Walter Purling (Wally) vertel die ou verhaal. Hy was 10 jaar oud, en steeds in Graad 2. Die meeste mense in die dorp het geweet hy sukkel intelektueel en liggaamlik om by die res van sy klasmaats te hou. Die verhaal speel af teen die baie Kerskonserte wat ons kinders in hierdie tyd doen. Wally was groot, lomp en stadig, en van beweging ook verstandelik nie so skerp nie. Party kinders het van hom gehou, ander het hom as ’n irritasie ervaar,  omdat hy stadig was, en nie aan speletjies wou deelneem nie. Hulle het gewoonlik ’n manier gevind om hom uit te sluit.

Een jaar was dit Wally se ideaal om in die kerk se Kersspel die skaapwagter met ’n fluit te wees. Maar die toneelafrigter het ook besef dat Wally se musiektalent nie waffers is nie. En toe eerder die rol van die herbergier aan hom toegeken. Wally se groot lyf sou lekker krag gee aan die rol in die toneel waar hy vir Josef en Maria moet wegwys en die rol het nie veel dialoog geverg nie. Hy hoef dus nie te veel woorde te leer nie, en Wally was in die wolke oor sy belangrike rol. Die groot aand het aangebreek, en daar staan Josef en Maria voor Wally. “Wat wil julle hê,” vra die herbergier kortaf by die deur. “Ons soek slaapplek”, het Josef gesê. “Gaan soek vir julle ander slaapplek,” het die herbergier met groot oortuiging soos sy woorde aan hom geleer is, gesê. Hy kyk hul egter nie in die oë nie, en staar net reg voor hom uit toe hy sê: “Die herberg is vol.” Maar meneer, vra Josef dringend, ons het oral gevra? Ons het ver gereis en is uitgeput.”

“Dit maak geen verskil nie. Hier is geen plek in hierdie herberg vir julle nie. Gaan nou!“  Asseblief herbergier vra die klein Josef, meegevoer deur die toneelstuk. “Dit is my vrou die, en die tyd is naby dat sy geboorte moet gee aan die kindjie, jy moet tog iewers ’n ou plekkie hê waar ons kan gaan rus?” Vir die eerste keer kyk Wally af na Maria toe, hy sien haar gesig is moeg, swanger lyfie, en daar is ’n lang stilte. Lank genoeg om die gehoor gespanne te maak van verleentheid. “Nee, gaan weg!” fluister Wally vir hulle. Hartseer sit Josef sy arm om Maria en begin wegloop. Wally staan in die deur en sy mond hang oop, sy voorkop is op ’n plooi getrek van bekommernis en sy oê blink van die trane. En skielik is daar ‘n wending in die Kersspel. “Josef, wag moenie loop nie!” skree Wally, roep vir Maria terug. ‘n Glimlag breek oor sy gesig. “Julle kan mos my kamer kry”

Daar was mense wat gedink het hy het die Kerspel verwoes, maar die meeste het gereken dit was die heel mooiste een wat hulle al ooit gesien het!

Gebed

Here, gee dat ons U sal raaksien, as U verby ons gaan. Nie net in hierdie tyd nie, maar elke dag.

Amen.

 

Gedagte vir die dag | Saterdag 4 Desember 2021

Lukas 2:7. Maria het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.

Julle is seker bewus van die Apokriewe boeke. Dit is die boeke wat die “onegte boeke” was. Daar is onder andere een wat baie bekend was, die “oerevangelie van Jakobus.” In die boek was daar legendes, een was Maria, om haar te eer. Die verhale is nie waar nie, dit is oneg, maar die spesifieke een is vir my vreeslik mooi as jy na die beeld hiervan kyk.

In een daarvan word vertel van Josef wat dringend na ’n vroedvrou gesoek het toe Maria dringend die lewe aan die kindjie moes skenk. Toe hy buite kom, het hy tot sy verbasing gevind dat alles en almal in hul spore vasgesteek het. ’n Voël wat wou opvlieg, het op die tak bly sit met sy vlerke uitgesprei.

Die arbeiders het rondom hulle bak kos versteen. Party van hulle het met hul hande na die kos uitgesteek gesit, ander was besig om die kos in hul monde te sit, en ander was besig om te kou. Die skape wat oor die bult gekom het, het net daar tot stillstand gekom, en die skaapwagter wat hulle aangejaag het, is in sy gang gestuit, met sy een voet in die lug, en sy hand op die grond soos wat hy keer.

By die water, wou die bokke begin drink, maar hulle het bewegingloos met hul bekke bo die water bly staan. Vir ’n oomblik het alles in die groot wêreld, rondom Josef tot stilstand gekom, soortvan gestol. Dit was so kort dat niemand buiten Josef dit agtergekom het nie.

Meteens was alles weer normaal, soos dit voorheen was. Die voël het weggevlieg, die arbeiders het aangegaan met hul ete. Die skape is deur die skaapwagter oor die bult gejaag en die bokke het hul dors geles. Die mooi in hierdie Apokriewe verhaal is dat toe die Christus Kind gebore is, was daar ’n oomblik van stilte en stilstand gewees.

Al weet ons dit was nie regtig so nie, kan ’n mens verstaan waarom die skrywer van die ou Aprokriewe verhaal dit by al die ander wonders van die geskiedenis van Jesus wou byvoeg. Want, dit was die grootste gebeurtenis in so klein dorpie.

Ek weet jy ken die Kersverhaal al van kleins af, jy ken dit so goed dat jy regtig nie meer luister as dit vertel word nie, of dat jy nie meer daaroor nadink in hierdie tyd nie. Maar as alles vir jou oorbekend is, en daarom niksseggend geword het, moet ons dalk in ons spore vassteek.  Amper soos die oerevangelie van Jakobus vertel dat daardie dag gebeur het.  Ons moet tot stilstand kom, asof ons dit vir die heel eerste keer hoor.  Ons moet daaraan dink dat God Sy Seun ’n mens laat word het, sodat ek en jy nie verlore sal gaan nie, maar dat ons die ewige lewe sal kan ontvang, en bo alles saam met Hom kan lewe.  Elke dag ten spyte van al die eise van die lewe waarin ons staan. Ons moet stilstaan, en ons terugtrek van al die werkskaf van elke dag, en nadink oor die betekenis van Jesus Christus, vir my en jou. Dan kan vandag, of môre, of oormôre vir my en jou ’n groot dag word.

Gebed:

Here dankie dat U vir ons in ons spore kan laat stop, om oor die betekenis van hierdie wonder na te dink. Gee dat dit met ons in hierdie tyd sal gebeur, in ’n bo-natuurlike manier.

Amen

Gedagte vir die dag | Vrydag 3 Desember 2021

Teks: Johannes 1:14: “Die woord het mens geword en onder ons kom woon”

Ons weet Johannes skryf onder andere oor Jesus se koms, en die woord wat mens geword het.  As ’n mens daaroor nadink, en baie van ons het daarmee grootgeword, maar dan besef ’n mens die vreemdheid van God wat mens word, is eintlik bokant ons begrip en verstand soos die lied dit ook sê.

Ek het weer gedink aan die Amerikaanse joernalis, Louis Cassels, wat soort van ’n moderne gelykenis vertel, om ’n onverstaanbare saak verstaanbaar te probeer maak. Hy vertel van ’n gelowige vrou wat op Oukersaand kerk toe wou gaan, soos haar gewoonte nog altyd was. Maar soos elke jaar, met ander kerkbyeenkomste wou haar man nie saamgaan nie, nie eers op hierdie spesiale aand nie.

Hy is ’n goeie pa, en baie lief vir hulle, maar die kerk en vir die storie van geloof kry jy hom nie oorreed nie. Die vrou en haar kinders is toe kerk toe, dit was ‘n yskoue aand met sneeu, en die pa het by die kaggel gesit en wag vir hulle. Hy het skaars daar gaan sit, toe hy ’n dowwe stampgeluid vanuit die sitkamer venster hoor en hy skrik. Toe hy ondersoek gaan instel, het hy gesien dit is ’n klompie voëls, wat in die sneeu verdwaal het, en nou na die lig van die venster koers gekry het en teen die ruit vas vlieg. Hy het hulle vreeslik jammer gekry, en sy jas aangetrek en sneeuskoene, en die staldeur gaan oopmaak waar die kinders se ponies slaap.

So het hy probeer help om die voëls in die stal in te lok dat hulle ten minste nie van die koue sou verkluim nie. Hoe hy ookal probeer het, die voëls kon nie in die stal inkom nie. hulle vlieg orals maar wil niks van die stal weet nie. Hy waai met sy arms, en gooi broodkrummels maar als verniet. Die voëls is te dom, en later in die koue is hy amper natgesweet onder sy dik jas. “Ek wil hulle help maar hulle steek vas, hoe kan ek nou maak?” Al wat oorbly, brom hy byhomself, is dat ek ’n voël moet word, en voor hulle kan uitvlieg en wanneer ek in die stal kom, sal hulle my volg. As ek net vir .n oomblik lank ’n voël kan wees, terwille van die arme voëls.” Net toe, is dit          middernag en hy hoor die kerklokke deur die sneeunag lui. Dis Kersfees, dis Kersfees! Meteens kry hy nog kouer. Die woord, het mens geword. God, het mens geword. – Johannes 1:14

Dit kon hy nog nooit aanvaar, of glo nie. Dit was vir hom onnodig. Onwetenskaplik. Maar nou met die voëls, het dit vir hom verstaanbaar geword. Hy het gewens dat hy ter wille van hulle vir ‘n oomblik lank ’n voël kon word, sodat hy hulle na die warmte van die stal kon begelei.

Dit is wat die Seun van God gedoen het. Hy het mens geword, ter wille van die arme mense, wou Hy hulle help. So kon Hy hulle na die warmte en redding bring van sy teenwoordigheid. Die verhaal lei, dat die man neergesak het in die sneeu en warm trane oor sy wang gespoel het. Nou verstaan ek Here, nou verstaan ek hoekom U dit moes doen. Dit is genade om te kan verstaan, en te kan glo.

Gebed:

Here, dankie dat U mens geword het, en onder ons kom woon het. Amen.

Gedagte vir die dag | Donderdag 2 Desember 2021

 

Ons is steeds by die lied : Stille Nag.

Ek lees die 2de vers van hoe dit in ons liedboek 348 opgeteken is.

Stille nag, heilige nag

Hemelvors, ons gee ag

op die lied van die engelekoor

Herders het dit eerste gehoor

Juig die Redder is daar!

3de vers:

Stille nag, heilige nag

Jesus Heer, voor U mag,

voor U ryk moet die duisternis swig;

tot in ewigheid bly U die lig

Heer, gebore vir ons!

Die storie loop dat hierdie lied selfs die kanonne van die eerste wêreld oorlog in 1914 kon stilmaak. Die Duitsers het ’n boodskapper oor die niemandsland na die Engelse gestuur met ‘n uitnodiging om saam met hulle Kersliedere te sing.  ’n Sekere manskap, Dawid Hatchings van die Regiment van Hampshire, het saam met hulle uit die loopgrawe geklim en die boodskapper tegemoet geloop. Hoe groot was Hatchings se verbasing toe hy agterkom die Duitser was Engels magtig. Hy het tevore in Glasgow as ’n kroegman gewerk.  Terwyl hulle gesels het, het ander soldate by die twee manne aangesluit.  Ander het later ook uit die loopgrawe geklim. Stille Nag is gesing, en trane het vrylik gevloei. Daar is blykbaar ooreengekom op ’n skietstaking van ’n week lank.  Aan die einde van die sewe dae, het die Duitsers laat weet dat die geveg moes voortgaan, maar dat hulle kanonskote eers aspris hoog sou hou. Die Britse bevelvoerder het boodskapper met ‘n doos Engelse sjokolade na sy linnies teruggestuur.

Izak de Villiers, vertel baie mooi oor die gesprekke wat daar in die hersieningskomissie was oor die woorde en tekste van hierdie lied. Hy het vertel dat die oorspronklike Duitste teks plaas die klem op die rustigheid en stilheid van die Bethlehem-kind. Die kind Jesus wat slaap, en Maria en Josef wat wag hou. Die beswaarlikheid van die sogenaamde soetlikheid, wat nie eintlik deur die kommissie gedeel was nie, maar om dit te omseil is die woorde van die beroemde geloofsbelydenis, in die Afrikaanse weergawe gebruik: “Lig uit lig, uit die Vader se ryk, word uit liefde aan mense gelyk. Loof die Hemelse kind!”

Ons almal gaan dit in hierdie tyd saamsing. Ons gaan miskien ouers, oupas en oumas, hê wat gemis gaan word wat dit altyd saamgesing het. Ons het miskien ’n stuk nostalgie en heimweë van mense wat weg is, maar by wie ons dit geleer het.  Ons kan hierdie tradisie dan voortsit, deur dit steeds te sing.

Ons sal hulle die Kersfees mis. Ons eie familie gaan kinders mis wat a.g.v. die nuwe Covid-variant nie die jaar by ons kan wees nie. Miskien sing almal wat deur die jaar van ons weg geneem is in die groot koor van die hemel voor die troon van die Lam. Miskien sing jou geliefdes saam, of neurie die lied saam waar hulle ookal is. Miskien is dit kinderagtig? Miskien is dit Heilig? Stille nag, heilige nag. Jesus kind, lank verwag, ook in my en jou lewe. Maar wat ook vir ons hoop op die toekoms kan gee.

Gebed:

Here dankie dat ons in hierdie tyd, in die besonder aan hulle kan dink wat vir ons die lied geleer het. In die omgewings en plekke waar ons hierdie lied kon sing wat ons gevorm en gemaak het. Dit het amper deel van ons DNA geword om in die Jesuskind te kan glo ten spyte van allerhande stemme van ongeloof om ons. Dankie vir die Jesuskind wat ons in hierdie tyd kan herdenk, en dat Hy opnuut in ons harte weer gebore kan word.

Amen.

Gedagte vir die dag | Woensdag 1 Desember 2021

Die jaar is nou regtig besig om einde se kant toe te staan. Die afgelope Sondag het ons die Kerssangdiens gehad, en die lied “Stille Nag” het by my vasgesteek. Ek wil dit vandag as teksvers gebruik:

Liedboek 348:

Stille nag, heilige nag

Jesus kind, lank verwag

lig uit lig, uit die Vader se ryk

word uit liefde aan mense gelyk

Loof die hemelse Kind!

Wanneer ’n mens na die lied luister, dink ek roep dit by ons almal herinneringe op. Ek deel graag myne met julle. Op Ou Kersaand, het al die werkers van al die plase bymekaar gekom en hulle kon so mooi in stemme saam sing. Dan het hulle voor my pa-hulle se kamer op die plaashuis kom sing en hierdie hierdie ongelooflike mooi lied in stemme gesing. Ek dink ook aan Kerssangdienste in Calvinia in die ou kerk, waar ek groot geword het.

Izak de Villiers het ’n boek daaroor geskryf, en dan kom mens agter hierdie lied was eintlik ‘n omstrede lied, en toe hulle uiteindelik besluit het om dit in die gesange boek te sit, het almal na die lied verwys as iets anders, of Rooms, of ongerefermeerd  en dit behoort geskrap te word, en uiteindelik het die ou gesange boek dit met een stem gehaal.

Maar oor die geskiedenis van Stille Nag is daar baie verhale vertel. Op ’n Kersaand in 1818, het twee virende, Joseg Mohr, (priester van Obersforf in Tirool) en die orrelis Frand Grűber, hulle vir die midderrnagdiens voorberei, toe hulle agterkom dat muise het die binnewerke van die orrel stukkend geknaag!  Die diens sou dus sonder musiek moes voortgaan.  Mense vertel dat Grűber van teleurstelling sommer sy kitaar gegryp het en ’n wysie begin tokkel het, ’n slaapliedjie, om hul gemoedere te kalmeer.  Skielik het Mohr opgespring en soos Archimedes van oudts uitgeroep: Ek het dit! Ek het dit!  In blykbaar ’n halfuur het hy die woorde van Stille Nag geskryf.  Die middernag diens, met kitaar en al het voortgeggaan, en die gemeente het Stille Nag gesing dat dit dreun. Ons kan sê dat kersfees se kenwysie gebore is.

’n Ander weergawe lui dat Grűber en Mohr die gemeente wou verras met iets nuut, koppe bymekaargesit het, en op die ou end met Stille Nag navore gekom het. Dokter Gaeie Cillie gee in die boek: “Waar kom ons Afrikaanse gesange vandaan?” ’n baie minder romantiese weergawe hiervan. ’n Groepie mense was in ’n dorpie Arendsdorf bymekaar om voor te berei en reëlings te tref vir die Kersversierings.  Joseg Mohr het tydens die vergadering in die buitelig gaan sit, en toe hy terug kom het hy ’n papiertjie in sy hand gehad, met die woorde “Stille Nacht” daarop. Dit was ’n Kersgeskenk aan Frans Grűber. Later die aand was hy in sy kamer toe hy skielik hoor hoe mense sy gedig sing. Die pragtige melodie het hom aangegryp en hy het hom na die lokaal gehaas waar Grűber en sy vriende byeen was. “Ja, het jou gedig nie ’n mooi lied geword nie?” het Grűber blykbaar gesê. “‘n Mens kan nie anders as om dit te sing nie. Die klanke het spontaan na my toe gekom, en terwyl jy weg was, het ek dit vir my vriendinne, die Stracht Susters gespeel, en ons het dit saam afgerond.”

Die Tiroolse sanggroep het die lied verder in Oostenryk en Duitsland bekend gemaak. “Lig uit Lig, uit die Vader se ryk, word uit liefde aan mense gelyk. Loof die hemelse Kind!”

Gebed:

Here dankie dat woorde, musiek, taal, vir ons dit moontlik maak om hierdie lied in hierdie tyd wêreld wyd te kan sing. Gee dat ons nie by die sentiment sal vashaak nie. Dankie vir mense op wie se skouers ons kan staan en ’n belewing kan hê oor Jesus Christus wat mens geword het. Dankie vir die Gees van Kersfees.

Amen.

 

Gedagte vir die dag | Dinsdag 30 November 2021

 

Psalm 63:7-8.As ek op my bed lê en aan U dink, oor U nadink in die nag, 8onthou ek hoe U my gehelp het. Dan wil ek sing in die skaduwee van u vleuels.

Ek soek U, o God, my God

Hierdie Psalm is vir baie van ons bekend deur die lied van Rhe Janse soos onder andere opgeneem deur Willie Joubert en Louis Britzz (FLAM 22):

  1. Ek soek U, o God, my God,
    ek dors na U, God.
    Soos ‘n land sonder water,
    wil ek tot u nader
    om by U te wees,
    om by U te wees.
  2. As ek saans aan U dink, my God,
    oor U peins in die nag,
    dan weet ek U help my,
    U hand ondersteun my.
    Ek wil naby U bly,
    ek wil naby U bly.

Koor

Want U liefde is meer werd as die lewe,
daarom sal ek U vir altyd prys;
my hande ophef om u Naam te eer,
want U is die Heer vir wie ons lewe, lewe, lewe

As jy die lied ken, kan jy dit sing, of as jy dit op CD het, speel dit terwyl jy die Psalm lees, sodat dié Psalm jou die hele dag kan dra.

 Gebed

Almagtige God. Dankie dat U vir my ‘n anker is om aan vas te hou. ’n Rots by wie ek kan skuil.

Amen

1 83 84 85 128