Gedagte vir die dag | Maandag 20 Desember 2021
Ek het altyd gehou van die Kersfeesopvoerings wat by kerke en skole in die laaste kwartaal van die jaar aangebied is. Omdat ek self nie ’n goeie akteur was nie het ek gewoonlik maar die rol van ’n kameel of een van die sterrekykers vertolk – verkieslik een van die sterrekykers wat nie iets gesê het nie, maar moes help om die sak te dra. Waarvan ek gehou het was die uitbeelding van Jesus wat gebore word in ‘n stal tussen diere, in ’n krip. Dit is die ware boodskap van kersfees. Die idee dat Jesus na ons toe kom op hierdie vuil en onbelangrike manier.
Kersfees is die verhaal van hoe Jesus na ons toe kom, onmiddellik na Jesus se geboorte moet Maria en Josef met Jesus vlug. Kom ons lees saam:
Matteus 2:16-18. 16Toe Herodes agterkom dat die sterrekykers hom in die steek gelaat het, het hy woedend geword. Hy stuur toe soldate en laat in Betlehem en die hele omgewing al die seuntjies van twee jaar en jonger doodmaak, ooreenkomstig die tyd wat hy noukeurig by die sterrekykers uitgevra het. 17Toe is die woord vervul wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het: 18“’n Gekerm word op Rama gehoor, ‘n gehuil en groot gejammer: Ragel treur oor haar kinders en wil nie getroos word nie, omdat hulle nie meer daar is nie.”
As ek dink aan ’n fliek wat waarlik die geboorte en koms van Jesus moes uitbeeld sou hierdie die toneel wees wat jou koud laat. Herodes vrees vir sy koningskap oor hierdie nuwe Verlosser wat op die toneel verskyn en beveel sy soldate om al die kinders onder twee jaar te vermoor. Hierdie toneel is egter waaroor Kersfees gaan, Jesus wat kom na ons toe as mens, te midde van die moord, sonde en seer van ons wêreld. Jesus het nie na ons toe gekom op ’n wit wolk met goue klere nie, maar in ’n krip, tussen diere, met bloed wat gestort word, met kinders wat vermoor word.
God kom klim in ons lewens in NET SOOS DIT IS. Waar jy jouself ookal hierdie Kerstyd bevind, wat ookal die seer en stukkende konteks is wat jy beleef weet dat jou Verlosser kom klim in daardie konteks in. Hy gee nie om hoe morsig dit is nie.
Gebed:
Dankie Here, dat U deel raak van ons baie seer en brutale kontekste. Dankie dat U dit doen om vir ons gerus te stel dat U by ons is selfs in die donkerste tye van ons lewens. Mag ons in hierdie tyd weet dat U hier is in ons seer en lyding.
Amen.
Gedagte vir die dag | Sondag 19 Desember 2021
Ek dink ons is vandag bietjie meer oop daarvoor dat onmoontlike dinge moontlik kan wees. Ek is seker dat pre 1969 het niemand ooit gedink dit is moontlik om ’n mens se voet op die maan te plaas nie en toe het dit wel gebeur. Deesdae dra ’n mens ’n rekenaar so groot soos die palm van jou hand, in jou broeksak rond. Die voorheen onmoontlike is vandag meer moontlik danksy vele innovasie. As ons dink aan wonderwerke het ons ook al gehoor van wonders wat gebeur. Ek wonder somtyds of die onmoontlike vir die antieke mens juis gesetel was in die feit dat Jesus deur Maria gebore is. Dit was ’n onmoontlike situasie met ongelooflike tekortkominge. Tog kies God om binne hierdie onmoontlike situasie iets moontlik te maak. Kom ons lees saam:
Lukas 1:34-38. 34Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met ‘n man gehad het nie?” 35Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God. 36Kyk, ‘n bloedverwant van jou, Elisabet, het in haar ouderdom self ook ‘n seun ontvang, en sy wat as onvrugbaar bekend was, is nou al in haar sesde maand. 37Niks is vir God onmoontlik nie.” 38Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” Toe het die engel van haar af weggegaan.
Ek is tot beskikking van die Here, hierdie woorde van Maria resoneer met my in Kerstyd. Ons dink dat die onmoontlike moontlik word net deur God. God kies egter om ons in die Kerstyd weer bewus te maak daarvan dat Hy juis vir ons gebruik om die onmoontlike te laat gebeur. In die Kerstyd sit ’n mens terug en dink na oor die jaar. ’n Mens dink dalk by jouself dat jy hoop iemand gaan met ’n oplossing vir armoede vorendag kom, of ’n uitweg vir jou finansiële krisis, jou seer, of jou gebroke verhoudings bied. Maar dit help my om in die Kerstyd te besef dat God ons nooi om tot sy beskikking te wees, sodat ons kan deelneem aan die proses waarin die onmoontlike moontlik gemaak word. Dit was Maria se rol in Jesus se geboorte.
Mag jy in Kerstyd weer besef dat God jou nooi om deel te neem sodat die onmoontlike, moontlik gemaak kan word.
Gebed:
Here, dankie dat U ons uitnooi om deel te neem aan u wêreld. Dankie dat ons kan deel wees daarvan om die onmoontlike moontlik te maak. Dankie Here, dat U vir ons net soos Maria uitnooi in die Kerstyd deel te raak van die oplossings vir die probleme.
Amen.
Gedagte vir die dag | Saterdag 18 Desember 2021
Ek weet nie of jy veel kan onthou van die tyd toe jy 13 jaar oud was nie? Die lewe wat nog voor jou lê, hoërskool wat nuwe moontlikhede vir jou oopmaak. Maar kan jy onthou waaroor jy jouself die meeste bekommer het toe jy 13 jaar oud was? Ek onthou dat my grootste bekommernisse was rakende sport en rapporte wat onder my ouers se oë moes deurloop.
Maria was 13 jaar oud toe die engel na haar toe gekom het. Sy was in ’n beplande verlowing met Josef en het ’n basiese antieke bestaan gevoer. Ek wonder somtyds of ek die moed sou hê om te spring as die Here vir my sou vra om te spring soos Maria gedoen het. Kom ons lees saam:
Lukas 1:26-30. 26In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na ‘n maagd in Nasaret, ‘n dorp in Galilea. 27Sy was verloof aan Josef, ‘n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria. 28Toe die engel by haar kom, sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.” 29Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken. 30Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou.
Dit is interessant hoe Lukas fokus plaas op hierdie 13-jarige meisie se vrees te midde van hierdie groot wonderwerk. Ek dink God wou opsetlik na ons toe kom binne die vrees wat Maria beleef het. Dit is amper asof God vir jou vra wat maak jou bang? Want binne in daardie vrees, is Ek ook saam met jou. Binne die goed wat jou bekommerd maak en die stukkende wêreld kom Ek en Ek word in dit gebore. God doen wonders binne die seer en vrees van ons lewens.
Kersfees is einltik ‘n geleentheid waar ons om die tafel kan sit en vir mekaar kan sê wat ons bang maak, want God kom gee weer geboorte aan nuwe geleenthede in ons wêreld.
Ek dink dikwels aan aardverwarming en die klimaat wat verander. Ek raak bang as ek dink wat die toekoms inhou vir ons as mensdom, maar Kersfees gee my weer hoop omdat ek weet dat God nuwe moontlikhede binne hierdie stukkende sitasies kom moontlik maak.
Mag jy eerlik wees oor dit wat jou bang maak hierdie Kersfees, mag jy besef dat God binne hierdie omstandighede aan nuwe moontlikhede geboorte gee.
Gebed:
Here dankie dat ons, ons vrese met U kan deel. Dankie Here, dat ons weet U is by ons en gee nie om waar ons, onsself bevind nie. Mag U vir ons in hierdie Kersfees weer kom bewus maak hoe U nuwe moontlikhede kom lewendig maak binne ons omstandighede.
Amen.
Gedagte vir die dag | Vrydag 17 Desember 2021
Ek wonder baie keer of ons ouers geweet het wat ons name beteken voordat hulle dit vir ons gee. Ek weet dat ek my pa se familienaam dra en dat daar iets van my pa se naam in my naam is. Ek het my naam nageslaan en gevind dat Hanno beteken God is genadig.
Nou of dit werklik die stam betekenis van my naam is, sal ek nie weet nie. Maar die naam wat die engel vir Maria gee om die verlosser van die wêreld te noem is “Immanuel” kom ons lees saam:
Matteus 1:22-25. 22Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word:23“Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons. 24Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het en met haar getrou. 25Hy het egter nie met haar omgang gehad voordat sy haar Seun in die wêreld gebring het nie. En Josef het Hom Jesus genoem.
Die naam Jesus kom van die Hebreeuse stam Yeshua af, wat beteken om te red. Dit bly altyd vir my spesiaal dat God kies om na ons toe te kom as die een wat SAAM MET ONS IS. Met ander woorde die een wat in ons situasie kom inklim, die een wat mens word en in ons skoene kom klim. En dan boonop die naam Jesus kry om as die redder gesien te word wat die wêreld op hierdie manier sal kom verlos.
God wys eintlik vir ons dat verlossing net gebeur as ons BY MEKAAR IS. Ons kan nie ander help as ons nie bereid is om BY HULLE te wees nie. Ek voel dat Kersfees ons juis moet nooi om SAAM MET ANDER te wees, om juis met die wat nie het nie, of wat sukkel, wat worstel asook die wat het saam te wees want so bring dit ’n stuk verlossing.
Kersfees is nie een boom nie, maar eintlik ’n woud wat saam gewortel is.
Mag jy in hierdie Kersfees nie alleen vier wie God is nie, mag jy besef dat verlossing kom na ons toe en is MET ONS en gebeur wanneer ons SAAM MET ander is.
Gebed:
Here, dankie dat U by ons is. Dankie dat ons U verlossing in ons eie skoene kan beleef. Dankie dat ons nie iemand anders hoef te wees, te word of voor te gee om U verlossing te beleef nie. U genade is grooter as wat ons kan besef.
Amen.
Gedagte vir die dag | Donderdag 16 Desember 2021
In hierdie reeks dagstukkies fokus ons op Kersfees en hoe Jesus Christus die Kersboom kom omkeer sodat die ster wat gewoonlik op die bokant van die boom is, nou aan die voet sit. Jesus Christus het vir ons kom wys dat God ons met ons menslikheid kom konfronteer het.
Ek het onlangs weer ’n welvaart prediker gehoor wat vir sy gemeente gesê het dat God vir ons wil ryk maak, gesond maak en die beste weergawe van onsself wil maak. Ek dink baie aan hierdie woorde as ek in Kerstyd deur die winkels loop. Ons sien produkte wat skree: Jy kan beter wees, jy kan meer geld maak en jy kan heel wees of voel. Ek dink dit is eintlik ’n nogal ironies wanneer ons nadink waaroor Kersfees waarlik gaan. Die verlosser wat in gebroke toestande en in totale menslikheid na ons toe gekom het, nie om heelheid aan ons te verkoop nie, maar om vir ons te wys wat menswees beteken.
Kom ons lees saam: Matteus 1:18-21
18Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus. Toe sy moeder Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom. 19Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek. 20Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. 21Sy sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.”
Binne die antieke kultuur was hierdie nie ’n koninklike geboorte nie, dink net aan die skande wat aan Maria moes kleef omdat sy ’n buite-egtelike-kind in die wêreld ingebring het. Dink aan Josef wat verloof is aan Maria om te trou en dan word sy deur ’n wonderwerk swanger. Hoe verduidelik ’n mens dit?
God kies om in hierdie gebroke en skandelike manier na ons toe te kom, om gebore te word as ’n buiteeegtelike wonderwerk. Hierdie Kersfees kan ons nadink aan dié buite-egtelike wonderwerk as ons in kontak kom met dié op straat, die wat honger ly, wat siek is, wat stukkend is. Jesus is in daardie skandelike situasie gebore, nie in welvaart nie.
Mag Kersfees vir jou kom rus gee in jou eie skandes en seer, juis omdat die verlosser van die wêreld uit daardie situasie na ons toe kom.
Gebed:
Here ons dank U vir U genade en liefde. Ons sê dankie dat U, U seun vir ons gestuur het in die skandelike situasies van die lewe, sodat ons ook eerlik kan wees oor ons eie skandes en tekortkominge in hierdie tyd. Amen.
Gedagte vir die dag | Woensdag 15 Desember 2021
In hierdie reeks dagstukkies fokus ons op Kersfees en hoe Jesus Christus die Kersboom kom omkeer sodat die ster wat gewoonlik op die bokant van die boom is, nou aan die voet sit. Jesus Christus het vir ons kom wys dat God ons met ons menslikheid kom konfronteer.
Ek is baie lief vir Kersfeestyd. Kersfees is vir my ’n tyd van familietradisies. By die Ackermans het ons elke jaar ’n tradsie wat op die kinders en kleinkinders in die familie gefokus is. Die kinders versier die Kersboom en op Oukersaand het ons ’n groot familiebraai. Iemand trek dan soos Kersvader aan en deel die geskenke aan die kinders uit. Die jongstes onder die kinders glo nog dat die ou man met die wit baard bestaan, al verander sy figuur elke jaar.
Die tradisie van Kersfees het vir my as kind lank gedraai rondom geskenke en die familie wat saamkom. Dit is ’n tyd van feesfiering vir almal van ons. Nou dat ek ouers is, het die ware verhaal van Kersfees vir my ’n dieper betekenis.
Kom ons lees saam Matteus 1:1-17
Die geslagsregister van Jesus Christus
(Luk. 3:23-38)
1Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die seun van Abraham: 2Abraham was die vader van Isak, Isak van Jakob, en Jakob van Juda en sy broers; 3Juda was die vader van Peres en Serag by Tamar, Peres van Gesron, en Gesron van Ram; 4Ram was die vader van Amminadab, Amminadab van Nagson, en Nagson van Salmon; 5Salmon was die vader van Boas by Ragab, Boas van Obed by Rut, Obed van Isai; 6Isai was die vader van koning Dawid. Dawid was die vader van Salomo by die vrou van Urija; 7Salomo was die vader van Rehabeam, Rehabeam van Abia en Abia van Asa; 8Asa was die vader van Josafat, Josafat van Joram, en Joram van Ussia; 9Ussia was die vader van Jotam, Jotam van Agas, en Agas van Hiskia; 10Hiskia was die vader van Manasse, Manasse van Amon, en Amon van Josia; 11Josia was die vader van Jojagin en sy broers. Toe is die volk weggevoer na Babilonië toe. 12En na die Babiloniese ballingskap was dit so: Jojagin was die vader van Sealtiël, en Sealtiël van Serubbabel; 13Serubbabel was die vader van Abihud, Abihud van Eljakim, en Eljakim van Asor; 14Asor was die vader van Sadok, Sadok van Agim, en Agim van Elihud; 15Elihud was die vader van Eleasar, Eleasar van Mattan, en Mattan van Jakob; 16Jakob was die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word. 17Altesaam was daar dus veertien geslagte van Abraham af tot by Dawid, veertien van Dawid af tot by die Babiloniese ballingskap en veertien van die Babiloniese ballingskap af tot by Christus.
Geslagsregisters is iets wat ons hier in 2021 dalk nie lekker verstaan nie. In die Antieke tyd het dit egter baie waarde gehad, juis omdat dit iets van jou identiteit weerspieël het. Jou vader en moeder en jou stam het saak gemaak. Wie in die register aangeteken is vertel vir die mense iets van die tipe Koning wat jy byvoorbeeld is. Matteus lê opsetlik die register van Jesus uit in Matteus 1, en kyk wie is daarin.
Die vrouens wat genoem word is merkwaardig: Tamar, Ragab, Rut asook Dawid die groot koning wat vir Salomo gehad het by die vrou van Urija. Die vrouens in dié register was almal gebroke, prostitute, agteraf en egosentries. Is dit die geslagsregister van die Koning van die Konings?
Matteus wys vir ons dat Christus kom na ons toe in gebrokenheid. Nie as ’n figuur wat welvaart weerspieël nie, maar die koning wat binne ons stukkende lewe met ons kom vereenselwig.
Mag jy in Kerstyd dink aan die koning wat in gebrokenheid kom eerder as welvaart, mag jy Jesus beleef as die een wat saam met jou kom sit in die seer van die lewe.
Gebed:
Here, dankie dat U nie gekom het as ’n figuur wat vir ons ’n illusie oor ’n heel wêreld wil skep nie. Dankie dat U saam met ons kom sit in ons seer en ons menswees. Ons aanbid U as die mensgebore Koning van die Konings. Amen
Gedagte vir die dag | Dinsdag 14 Desember 2021
2 Korintiërs 8:8-9. “Ek gee nie ’n opdrag nie, maar ek wys julle op die ywer van ander om daardeur die opregtheid van julle liefde te toets. Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur Sy armoede ryk kon word.”
Die kwessie waaroor Paulus in hierdie teks met ons praat is vrygewigheid. Die woord sê dit mooi – om uit vrye wil en nie uit dwang nie jou tyd, geld en bates met ander te deel. Die grond daarvan sê Paulus lê in die Here se vrygewigheid aan ons wat na ander toe oorspoel. Paulus se gedagte dat “die opregtheid van ons liefde getoets moet word” het my getref. Soveel dinge wat ons deesdae gedoen moet kry sien ons as ’n opdrag wat so gou moontlik afgehandel moet word. Probeer om vandag anders daarna te kyk. In die kleinste en geringste daad van diens is ons besig om die Here se genade te deel. Hierdie gedagte toets ons! Is ons net besig om werk af te handel en op ander te laai, of gebruik ons die geleentheid om iets mooi en goed te bou? Die teks daag my uit om nie net altyd in die probleme van take vas te kyk nie, maar elke taak as ’n geleentheid te sien waarmee ons kan probeer om probleme op te los en daardeur mense se lewens kan aanraak. Voor watter geleenthede bring die Here jou vandag waarin jy probleme kan help oplos?
Gebed
Here, help my om my lewe oop te maak om ander binne te laat wat hulp en bestand nodig het. Breek deur my trots, frustrasie en geïrriteerdheid wat my so dikwels in my lewe vergesel. Wanneer ek probleme moet hanteer, maak my bewus van die oorvloed genade wat ek van U ontvang en wat my in staat stel om enige uitdaging, of probleem te bowe te kom. Dankie dat dit take waarna ek opsien kom verander en ’n nuwe geleenthede wat ywer in my wakker maak, bied.
Amen
Gedagte vir die dag | Maandag 13 Desember 2021
Matteus 1:23. Die maagd sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring en hulle sal hom Immanuel noem. Die naam beteken God by ons.
Dat God mens kom word het is ‘n groot gedagte. Dit is maklik om God se menswees met jou eie menswees te verbind, maar nie so maklik om te aanvaar dat dit ook die menswees insluit van mense van wie jy nie hou nie. Dit is wonderlik dat ons die voorreg het om op hierdie manier in ’n persoonlike verhouding met God te staan, maar dit is ook ’n groot uitdaging, omdat ek ook moet aanvaar dat God se manier en paaie nie met almal dieselfde is nie. Dat God dus mens kom word het vra dus van ons om die ruimte van ons menswees so te kan vergroot en nie toe te laat dat ooglopende verskille ’n streep deur hierdie groot gedagte kom trek nie. Immanuel beteken nie net God by my is nie – dit beteken God is by “ons” en die “ons” lyk baie anders as wat ons dink. Mag die groot gedagte van “God by ons/ Immanuel” in hierdie Kerstyd ons help om meer verdraagsaam, inskiklik en vriendelik te wees om die wonder van God ook vanuit mense wat anders is te kan beleef.
Gebed
Here, leer my wat nederigheid is. Leer my die gesindheid van menswees waarmee U op aarde geleef het, met respek teenoor almal, hoe eenvoudig, armoedig of onbelangrik ook al. Dankie dat u menswees in my eie menswees resoneer, maar ook my in staat stel om met ander mens te kan meeleef.
Amen.
Gedagte vir die dag | Sondag 12 Desember 2021
Jesaja 9:2. Die volk wat in donkerte geleef het, het ‘n groot lig gesien, oor die wat in die donker land was, het ‘n lig geskyn.
Hierdie teks gaan oor die Here se pad met mense in ‘n politieke onseker tyd in Israel se geskiedenis. Daar was tekens van oorlog en die vooruitsig was vrees en onsekerheid. Jesaja word in hierdie tye geroep om die boodskap te bring dat God aan die volk rigting wil kom gee. Die kern van dié boodskap was dat God nie by die foute en sondes van die verlede stilstaan nie, maar deur gebeure plaaslik en op internasionale front mense deur insig sal hervorm. Hierdie boodskap het later weer met Jesus se geboorte by mense geresoneer. Dit bly vir ons moeilik om sin te maak van gebeure wat ons lewens kom verander en van ons vra om aan te pas. Tog, is dit ook waar ons redding lê. God is altyd ook besig om vanuit die donkerte insig te bring wat ons verander. Die lig van God is nie ‘n kop-ding nie. Dis ‘n doen-ding wat ons by nuwe plekke, mense en omstandighede uitbring. Dit mag wel vir ons voel of dit vir ons nag is as ‘n mens na die wêreld om jou kyk. Weet dan dat God se lig jou in hierdie tyd prakties help om verandering te hanteer en daarin nuwe geleenthede te realiseer.
Gebed
Wat is nou eintlik die werklikheid Here? Is dit die gereelde nuusbulletins? Waar lê die werklikheid? Diep in my weet ek natuurlik dat ek net die regte antwoord sal weet wanneer ek u gedagtes dink en na vandag se wêreld deur u oë kyk. Maak my daarom immuun teen die aanslag van die skynwerklikheid, en laat u waarheid my hart verlig.
Alleen in u lig sien ons die lig.
Gedagte vir die dag | Saterdag 11 Desember 2021
Psalm 119:81. Ek smag na U redding, ek vertrou op U woord.
Dit is elke dag ’n besondere ervaring om vroeg in die oggend op die sonsopkoms te wag. Om te sien hoe die stikdonker al hoe ligter word en hoe die eerste strale van die son oor die horison kruip. Dit is opmerklik om te sien hoe vinnig die son oor die horison uitklim en dan is dit mos asof die spoed daarvan afneem as jy met jou dagtaak aangaan. Dit bly iewers in die hemelruim bo jou. Dié beeld laat my aan die teksgedeelte dink. Op tye sit ons op een plek stil en probeer stip na God kyk – ons wonder wanneer die strale van sy teenwoordigheid oor ons gaan val. Ons roep en vra daarvoor en beleef dan besondere geestelike oomblikke. Om op God te vertrou is om te weet dat selfs wanneer ons in die dag of nag sig van hom verloor, is hy steeds daar. Konstant soos die sonsopkoms en ondergang. Alhoewel jy hierdie dag wat vir jou voorlê beplan het, weet jy nie wat gaan gebeur nie. Vertrou op die Here ook in die tye waarin jy druk besig is met jou dagtake.
Gebed
Hemelse Vader, ek loof en dank U vir die vrede van die nag. Ek loof en dank U ook vir die lig van elke nuwe dag . . . en vir al u goedheid en trou dwars deur my lewe. Here, U het my in die verlede so oorvloedig geseën, laat my nou ook die hardheid van die hede aanvaar. Laat my glo dat u nie meer op my sal lê as wat ek kan dra nie. Ek bly glo dat U vir my sorg en dat U alle dinge vir u kinders ten goede laat meewerk.
AMEN.