GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Donderdag 30 Desember 2021

 

Filippense 4:1b: “Ek het julle baie lief en verlang na julle. Julle is my blydskap en my kroon.”

Ons kuier hierdie week by Paulus in Filippense hoofstuk 4. ‘n Aangrypende getuienis van Jesus-gebaseerde geloof, hoop en liefde. Ons identifiseer daardeur met Paulus en word geïnspireer deur die wyse  hoe hy  hier met sy geliefde lidmate en vriende praat. Hierdie is waarskynlik een van die mooiste kwalifikasies van vriende, of van medegelowiges, wat jy kan kry.

Baie keer voel ons as predikante ook so oorweldig deur waardering, liefde en ander positiewe emosies teenoor mense wat ons lei en graag wil bedien. Maar dit is nie net predikante of die apostel Paulus wat so voel nie, ek glo dis ‘n algemene getuigskrif vir meeste gelowiges . . . hulle wat die genade en liefde van God ervaar.

Kom ons raak vandag hoorbaar  in waardering vir mekaar, as ons in die woorde van Paulus die volgende vir mekaar sê: “Ek het julle, my broers en susters, medegelowiges, gemeentelede, baie lief. My liefde word gedryf, nie deur wie ek is of wie julle is nie, maar deur die Heilige Gees wat hierdie God-gegewe emosie in ons binneste kom skep.  Gevestig, en gerig op Jesus Christus wat vir ons die toonbeeld van liefde was, en wat ons in staat stel om ook vir mekaar lief te kan hê. Paulus sê hy verlang na hulle, vanuit die tronk terwyl hy hom in die moeilikste omstandighede bevind. Juis daar het hy die behoefte, die verlange, om net by hulle te kan wees, om net uit te reik na hulle en die wonderlike ervaring van familie te mag beleef. Ek hoop dit is ook ons emosie wanneer ons aan medegelowiges dink! Dalk is hulle vêr van ons af, dalk baie naby maar onbereikbaar agv inperkings! Laat ons ook in die nuwe jaar 2022 vir mekaar boodskappe sal stuur: “Ek verlang na jou”

Dan die laaste deel van die teksvers: “Julle, my medegelowiges, my broers en susters, julle is my blydskap en my kroon. Blydskap in die Here is die algemene tema in hierdie pragtige boek of brief van Paulus. Hy sê hier, terwyl hy aan sy medegelowiges dink, dan is hy nie net oorweldig deur sy liefde vir hulle, en die feit dat hy na hulle verlang nie, maar dat hy kan getuig dat hulle sy blydskap en sy kroon is.

Gebed

Here, help ons ook om so mekaar lief te hê, na mekaar te kan verlang en daardeur U blydskap te kan ervaar. Amen.

 

 

 

 

Gedagte vir die dag | Woensdag 29 Desember 2021

 

Filippense 4:1: “Daarom, my broers, moet julle vas staan en getrou bly aan die Here”.

Dit is vandag 29 Desember 2021. Hierdie baie interessante, uitdagende jaar is vinnig besig om uit te loop en as ons klaarmaak met die jaar dan is daar verskeie emosies by ons. Dit is so veral  omdat ons steeds in die kake van ’n vreemde, wrede virus is wat ’n klomp aspekte van ons menswees en ons land se bestaan bedreig. Baie van ons voel ons moet net klaar kry met hierdie jaar!  Ander mense het weer ander emosies, miskien hartseer oor verliese wat gely is, miskien vreugdes wat beleef is. Hoe dit ookal sy, ons staan aan die vooraand van ’n splinternuwe jaar wat waarskynlik ook met baie uitdagings na ons kant toe gaan kom.

Dit is net noodsaaklik om bewus te wees van hoe ons dink oor die volgende jaar, 2022 wat eersdaags aanbreek. Gaan ons die jaar tegemoet met ongelooflike onsekerhede, angs, en vrees? Of is daar dalk ander emosies: hoop waaroor ons die afgelope paar maande so baie gesels het, ook hier in Stellenberg? Miskien ‘n optimistiese uitkyk en verwagting dat dit net beter kan gaan!  Dat daar vir ons baie vreugde en voorspoed in die nuwe jaar sal wees.

In die volgende paar dae wil ek graag stilstaan by een hoofstuk in Filippense, die bekende en geliefde hoofstuk 4. Dis ’n ongelooflike brief van Paulus en ons weet wat sy omstandighede was waaruit hy geskryf het . . . iewers in ’n tronk. In hoofstuk 4 sien ons baie pertinente gesigte en gestaltes van hoop, vreugde en van optimisme by hierdie gevangene, Paulus. Dit word die blydskapsbrief van Paulus genoem, en nie sonder rede nie, want Paulus was heeltyd in die direkte teenwoordigheid van Jesus Christus. Ongeag sy omstandighede, was dit sy dryfveer en sy bron van sy hoop en vreugde.

Ons teksvers vandag is ‘n aanmoediging vir mense vir wie hy hier geskryf het, maar ook vir ons, Suid-Afrikaners en gemeentelede wat gereed maak vir ‘n nuwe jaar. Kom ons gryp die boodskap en hou daaraan vas: “Daarom (omdat ons Jesus Christus as Verlosser verwag en Sy teenwoordigheid in ons lewe ’n realiteit is) moet julle vasstaan en getrou bly aan die Here.” Kom ons gaan 2022 binne met hierdie oproep om op grond van ons identiteit as volgelinge van Jesus Christus, getrou te bly aan Hom, getrou aan sy woord, vas te hou aan sy beloftes.  Dat ons daarom sal vasstaan en ons nie sal laat terugdruk deur enige vorm van uitdagings wat voor ons mag wees nie.

Gebed: Here baie dankie vir hierdie jaar waarin ons so baie kon leer. Vir baie van ons was dit ’n moeilike jaar, maar tog ’n jaar van u bystand, en van vreugde. Seën ons in hierdie laaste dae van hierdie Godgegewe jaar en laat ons onsself in geloof sal oriënteer vir die jaar 2022 wat eersdaags aanbreek. Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

Gedagte vir die dag | Dinsdag 28 Desember 2021

https://youtu.be/0I3tOXcK-7Q

 

In hierdie laaste paar dae van die jaar moet ons mekaar gereeld herinner dat net soos God by ons was, God ook by ons sal bly waarookal ons gaan en watookal gebeur. Mag dit vir jou ’n troos wees soos wat jy instap in die onbekende in. Mag jy dan meer lief hê, meer kanse waag, meer genade uitdeel en meer kere vergewe want ons is veilig in die hande van God.

Ek lees graag een van die eerste seëngebede van die vroeë kerk:

Die Here is voor jou om die pad gelyk te maak.

Die Here is langs jou om jou hand vas te hou.

Die Here is agter jou om die Bose te verslaan.

Die Here is onder jou om jou te dra as jy swak is en jou op te help as jy val.

Die Here is rondom jou om jou te beskerm.

Die Here is bokant jou om jou te seën.

Die Here is binne-in jou, want Hy lei jou deur sy Heilige Gees.

Die Here is vir jou, want Jesus pleit vir jou.

Die Drie-enige God is by jou, van nou af tot in ewigheid.

Gedagte vir die dag | Maandag 27 Desember 2021

 

Ek lees graag vanoggend Psalm 90. Mag die woorde van die digter jou help om te reflekteer oor die goeie goed wat die Here vir jou die afgelope jaar gegee het en om dit met dankbaarheid te ontvang.

 

Here, U was vir ons ‘n toevlug

van geslag tot geslag.

2Voordat die berge gebore is,

voordat U die wêreld voortgebring het,

ja, van ewigheid tot ewigheid is U God!

3U laat die mens sterwe:

U sê net: “Word weer stof!”

4Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is,

soos een enkele wagbeurt in die nag.

5U maak ‘n einde aan ‘n mens,

hy gaan die doodslaap in.

Hy is soos gras wat in die môre afgesny word:

6in die môre is dit nog groen, maar dit word afgesny

en teen die aand is dit verlep en dit verdroog.

7Ons vergaan onder u toorn,

ons gaan te gronde onder u gramskap.

8U sien ons oortredinge raak,

U bring die sondes wat ons wou wegsteek, aan die lig.

9Onder u toorn vlieg ons dae

en skiet ons jare verby soos ‘n gedagte.

10Ons lewe maar sewentig jaar,

of, as ons baie sterk is, tagtig,

en dié is vol swaarkry en leed.

Dit is gou verby,

ons vlieg na ons einde toe.

11Wie ken die krag van u toorn beter as u dienaars?

Wie ken u gramskap beter?

12Leer ons ons dae so gebruik

dat ons wysheid bekom.

13Hoe lank nog, Here, voordat U ons te hulp kom?

Ontferm U tog oor ons.

14Skenk ons elke dag u liefde in oorvloed,

dat ons ons lewe lank mag juig en bly wees.

15Soveel dae as dié waarin U ons verdruk het,

soveel jare as dié waarin ons gely het,

gee ons soveel jare van blydskap.

16Laat u werk vir ons duidelik word

en u grootheid vir ons kinders.

17Laat ons die goedheid van die Here ons God belewe:

hou die werk van ons hande in stand,

ja, die werk van ons hande, hou dit in stand.

Gedagte vir die dag | Sondag 26 Desember 2021

 

Teen die einde van die jaar ontvang ons ’n geskenk tussen Kersfees en Nuwejaar, ’n tussen-in-tydjie. Dit is heilige dae. Stadige dae waartydens ons terug reflekteer oor dit wat was en dit wat kon wees. Ons vier die goeie en die mooi maar ons treur ook oor dit wat ons verloor het, oor hulle wie ons verloor het. Tussen- in-tyd is ’n geskenk waar ons herinner word aan die poreusheid, die onvoorspelbare en die geskenk van lewe.

Mag ons in hierdie dae met sagte oë na onsself kyk, soos God ook na ons met sagtheid kyk. Mag ons stadig deur hierdie dae loop en al die mooi en al die sleg van die jaar met versigtigheid vashou. En mag ons dan ook in hierdie heilige tussen-in-tyd die liefde vier waarookal ons gaan.

Ek lees graag ’n gebed van die Corrymeela-gemeenskap in Ierland

God of those we’ve lost this year, God of what we’ve found: our grief speaks to the beauty of life and the toll that comes at the end of each connection. Death can offer a lesson to the lasting goodness of life, a pain that means that love is real. May we never forget that our grief gives proof of something that was and continues to be true: that our hope endures in being held by your undying love. Amen.

Gedagte vir die dag | Saterdag 25 Desember 2021

 

Op hierdie Kersoggend lees ek graag ’n Kersgebed van Joyce Rupp.

 

Bron van Lig, Immanual, God-met-ons,

U Herder liefde het ons wagtende wêreld kom verlig

met die verrassing van U Betlehemgeboorte.

Van toe af vier ons elke jaar hierdie

verbysterende gebeurtenis,

verbly ons in U nuwe koms, nie net as ’n pasgebore baba nie,

maar as die verborge Teeenwoordigheid van goddelikheid

Binne- in elkeen van ons.

Tot ons groot verwondering, het ons U

Woonplek geword.

Ons is nou U Betlehem.

Nou is jy Skat gebore in die geheime plek van ons siel.

Nou is jy Blydskap wat deurbreek in die donker grotte van ons seer.

Nou is jy Vrede wat stil-stil gloei in die krake van ons angs.

Nou is jy Liefde wat weerspieël word in ons meegevoel.

Christus, Lig van alle ligte, Ster van alle sterre,

Bewoner binne-in hierdie menshuise van ons,

maak ons wegloopkoppe, ons drosterdoppe en ons huiwerharte oop

dat U eindelose goedheid meer volmaak in ons kan woon.

Ons verwelkom jou weer en weer, met dank en vertroue,

Nie net in die Kersseisoen van onthou en feesviering nie

Maar deur die nuwe jaar wat ons inwag

 

Mag vandag vir jou en jou geliefdes ’n geseënde dag vol lig en liefde wees.

Gedagte vir die dag | Vrydag 24 Desember 2021

 

Op hierdie Oukersdag lees ek graag vir ons ’n Oukersdag gebed geskryf deur Frieda van den Heever. Mag vandag vir jou heilig en goed wees.

Die Woord het vlees geword

God uit God in ‘n mens uitgestort

Vannag kyk ’n ster na die aarde

Sing stof, jy’t ook nou waarde

Die Woord het vlees geword.

 

God giet God uit in ’n kind wat huil

God as verskuil in ’n suigeling wat weet hy gaan bloed sweet

In ’n baba, klein en bang wat gaan hang tussen hemel en aarde

Die Woord het vlees geword.

 

Die Woord het vlees geword

Lig uit lig in die donker neergestort

Tussen diere en doeke

Sonder kiekies en koeke

G’n dokters en boeke

En so skryf die Woord geskiedenis oor

 

Kom, weeskinders

Kom, wyse manne

Kom, woeste winde

Wat waai in die Noorde waar krismis wit is

En Krismis swart is

En Krismis bruin in

Op Kaapse vlaktes

 

Kom Vader Krismis, se my, mis jy ook die Christus

Jou slee is tjok en blok, maar ys smelt dwarsoor die wêreld

Die hele wêreld is op hol

 

Ons is keelvol

En kopvol

En gatvol

Die herberg is vol

Maar die stal in my siel is dolleeg

 

Ek is vol strooi en sweet en skape en oorskiet sterre

Wie sou wou kers opsteek by,

Lêplek vind in my

In my wou wees

 

Maar die Woord word bloed

En die Woord word vlees

 

Gedagte vir die dag | Donderdag 23 Desember 2021

 

Ek lees graag ’n Advent-gebed geskryf deur Dirkie Smit. Mag hierdie gebed ook iets verwoord van ons eie gebede.

Ons Vader wat in die hemel is,

Laat U Naam geheilig word,

U Koninkryk kom,

U wil geskied-

Soos in die hemel, so ook op die aarde.

 

Ons wag in hierdie dae, Here,

Soos altyd, soos elke jaar weer, op U koms-

om dit te onthou, om dit te vier, om ons daaroor te verbly,

om daaroor te gesels en te sing,

en opnuut na die verhale daaroor te luister.

 

Terwyl ons wag in hierdie dae, Here,

maak tog ons oë oop, elke dag,

vir u koms onder ons en tussen ons en by ons, soos altyd-

sodat u wil sal geskied,

onder ons en tussen ons en by ons

en u Naam sal geheilig word,

onder ons en tussen ons en by ons

en u koninkryk sal kom,

onder ons en tussen ons en by ons.

 

Gee ons vandag ons daaglikse brood.

Vergewe ons ons skulde

soos ons ook ons skuldenaars vergewe.

En lei ons nie in versoeking nie,

maar verlos ons van die bose.

 

Verlos ons van al ons radeloosheid,

van ons vrese en ons magteloosheid,

van ons versuim en van ons versaak,

van al ons onderlinge stryd en ons vele skeuringe.

 

Gee ons, gee ons tog-

Soos altyd weer-

al die geestelike gawes

van u Nabyheid en u Koms

En u Ryk.

Gedagte vir die dag | Woensdag 22 Desember 2021

 

Teks Matteus 1:18-25

Wanneer Matteus die eerste keer van Josef praat, vertel hy dat hy ’n man was “wat die wet van Moses gevolg het”.  Matteus sê dit nie in soveel woorde nie,  maar ’n mens kan aflei dat Josef ’n man was wat altyd die regte ding wou doen, wat nie golwe gemaak het en nie gehou het van kontroversie nie. ’n Man wat soos baie van ons net ’n normale ongekompliseerde lewe wou hê.

Sy hele lewe is omgekeer toe hy hoor sy verloofde is swanger en dis nie sy kind nie.  Ek dink dit sou verkeerd wees om die moeilikheidsgraad van die besluit wat Josef moes neem, te onderskat. Los hy vir Maria, of bly hy gehoorsaam aan hierdie droom.  Matteus brei nie vreeslik hierop uit nie, maar soos met enige moeilike besluit in die lewe, kon dit nie vir Josef maklik wees nie.  Wat God van hom gevra het, was om alles wat Josef gedink het reg, goed en heilig was, op te gee en ’n vrou lief te hê wie se storie hy nie geken het nie, en ’n kind te beskerm van wie hy nie die pa was nie.

Geen wonder Gabriël se eerste woorde aan Josef was ”Moenie bang wees nie”.  As ons in God se storie wil intree, ’n storie was soms deurmekaar en morsig is, moet ons ook mekaar aan hierdie woorde herinner. Moenie bang wees, as God se werk in ons lewens anders is en lyk as wat ons verwag het nie.  Moenie bang wees as God van ons vra om ons voorveronderstellings op te gee en om iets nuut te sien wat God vir ons wil wys nie. Moenie bang wees om iets, of iemand lief te hê, wat so anders is as wat ons is nie. Moenie bang wees vir dit wat broos, weerloos of onmoontlik is nie. Moenie bang wees vir die deurmekaarheid van die lewe nie, want dis in die morsigheid van lewe wat God gebore is.

Gedagte vir die dag | Dinsdag 21 Desember 2021

 

Ons sluit vandag hierdie reeks dagstukkies af met die besef dat Kersfees nie net ’n tyd van heel wees, goue geskenke, Kersvaders en Kersliedjies is nie. Dit is ’n tyd wat ons kom bewus maak van ons vrese, tekortkominge,  seer, die mense om ons en die vuil paaie waarop ons vlug.

Kersfees is die fees wat ons opnuut bewus maak dat God mens geword het, in ons konteks en lewens kom inklim het en nie vir goedkoop welvaart aan ons kom verkoop het nie. Maar vir jou kom groet soos Maria: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.”

By jou in die konteks en die situasie waar jy jouself bevind.

Ek sluit af deur om Maria se loflied in Lukas 1 :46-56 vir jou te lees

Mag jy ’n ware mensgebore Kersfees beleef:

46En Maria het gesê: “Ek besing die grootheid van die Here,

47ek juig oor God, my Verlosser,

48omdat Hy na my

in my geringheid omgesien het.

Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem,

49omdat Hy wat magtig is,

groot dinge aan my gedoen het.

Heilig is sy Naam!

50Hy bewys ontferming

van geslag tot geslag

aan dié wat Hom eer.

51Kragtige dade het Hy met sy arm verrig:

hoogmoediges in hulle eiewaan

het Hy uitmekaargejaag;

52maghebbers het Hy van trone afgeruk en geringes verhoog;

53behoeftiges het Hy oorlaai met goeie gawes

en rykes met leë hande weggestuur.

54Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom

deur te dink aan sy beloftes van ontferming

55soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders,

aan Abraham en sy nageslag

tot in ewigheid.”

56Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly en daarna teruggegaan huis toe.

AMEN

 

1 81 82 83 128