Gedagte vir die dag | Sondag 9 Januarie 2022
1 Kronieke 16:11. Soek hulp en beskerming by die Here, soek gedurig sy teenwoordigheid.
Is ek bewus van God se teenwoordigheid in my lewe? Selfs vir gelowiges voel dit soms asof God afwesig is in ons lewens. Daar is weer ander tye wanneer ons baie naby aan Hom voel. Ons is geneig om te oordeel of God by ons is deur ons omstandighede. As alles reg verloop en Hy antwoord ons gebede, is Hy naby aan ons. Maar as ons swaarkry, glo ons dat God afwesig is. Tog beloof God se Woord vir ons dat God nooit weg is van ons nie. Daar is maniere om meer bewus te word van God se teenwoordigheid in jou lewe.
Hier is ‘n paar wenke.
- Ontwikkel ’n lewensritme wat jou deur jou dag heen aan God en sy teenwoordigheid herinner.
- Stuur gereeld skietgebede op, soos Nehemia in die Ou Testament (Neh. 2:4).
- Stel jou daarop in om alles wat jy doen bewustelik, vir die Here, te doen.
- Oefen jou daarin om ander mense deur God se oë te sien. Hoe sou Hy reageer op die mens wat voor jou staan, of jou pad op die een of ander manier gekruis het?
- Doen moeite om na God te luister in die besonderhede van elke dag.
- Kies vir jou simbole, skilderye, beeldhouwerke, en so meer, wat jou aan God se teenwoordigheid herinner. Sit of hang dit op opsigtelike plekke en doen moeite om elke dag daarna te kyk.
- Hou rekening met die waarheid dat God werk deur alles wat met jou gebeur. Reageer daarom op alles wat met jou gebeur asof jy op God se betrokkenheid in jou lewe reageer.
- Memoriseer ’n vers of ’n gedagte uit die Woord wat jou deur die dag kan herinner aan God se teenwoordigheid in jou lewe. Herhaal dit gereeld.
GEBED
God is hier teenwoordig
Laat ons biddend nader
Hier waar ons voor Hom vergader
God is hier teenwoordig. Heilig is die Here
Buig in stilte Hom ter ere
Wie Hom roem. Wie Hom noem
Heer en hemel Vader
Kom nou almal nader
God is hier teenwoordig
Laat ons biddend nader
Hier waar ons voor Hom vergader
God is hier teenwoordig. Heilig is die Here
Buig in stilte
Hom ter ere
Gedagte vir die dag | Saterdag 8 Januarie 2022
Filippense 2:12-13. 12My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, 13want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.
Die mense van ons tyd wil hulle godsdiens eenvoudig hê. Hulle soek kort antwoorde op hulle geloofsvrae en hulle soek kitsoplossings vir hulle geestelike probleme. Dis eintlik effens vreemd: dieselfde postmoderne mens wat nou weet dat die hele wêreld baie ingewikkelder is as wat die mensdom in die voorafgaande eeue gedink het, stroom in groot getalle na godsdienstige groepe toe wat oorvereenvoudigde antwoorde op geloofsvrae en simplistiese oplossings vir geestelike probleme aanbied! Mense soek maklike, eenvoudige godsdiens. Dit moenie te veel van hulle vra nie.
Die Bybel roep egter God se kinders op tot ’n radikale anderste manier van lewe. Om juis nie tevrede te wees met gemaklike kort antwoorde en ’n eenvoudige gemaklike lewe nie.
Bekering is nie iets oppervlakkigs wat net so bolangs met jou gebeur nie. As jy jou in die Bybelse sin van die woord bekeer, beteken dit dat jy vir sekere dinge doodgaan – vir die sonde, en dat jy heeltemal van nuuts af vir ander dinge begin lewe – vir die Here se wil.
Nee. Bekering is radikale, diepgaande, hartgrondige verandering van jou hele manier van dink, van jou hele benadering van die lewe, van die trant van jou gesprekke van jou gedrag, jou gewoontes, jou alledaagse doen en late. Daarom roep Paulus die gemeente van Filippense op om werklik anders en gehoorsaam te leef. Dit is ook ’n oproep vir ons dat ons nie gelyk sal word aan hierdie wêreld nie, maar juis sal leef soos kinders van die Here. Dit vra van ons om gehoorsaam te wees en te leef as verloste mense.
GEBED
Hemelse God en Vader help my asseblief om gehoorsaam aan U te leef.
Amen
Gedagte vir die dag | Vrydag 7 Januarie 2022
Matteus 10:29: “Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie.
In die konsentrasiekamp, meer as 100 jaar gelede, sit Anette Marais op ’n stomp en skud die stof van haar verslete klere af.
Rondom haar sit die groepie bekende gesigte van moeë vrouens. Net ’n paar tree verder is die hoë draad van die konsentrasie kamp. Sy slaan haar Bybel oop en begin lees. Sy het in die donker ure van die nag geworstel met God en Hom gesmeek vir ʼn boodskap om hierdie vrouens te bemoedig, want wie weet hoe lank gaan dit nog wees.
Anette lees die woorde van Matt 10:29 – “Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie, en tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie.”
Terwyl sy besig is om hierdie woorde te lees, kom sit daar ’n vaal klein mossie op haar skouer.
Die groepie vrouens staar in verbasing na wat voor hulle gebeur, en so word die mossie, die teken van hoop in die onmoontlike omstandighede van die konsentrasie kamp in Bethulie. Dit was fantasties om in die maande wat volg te sien hoe die mossies van Bethulie ’n baken van geloof en hoop vir hierdie vrouens word.
Kyk vandag of jy nie dalk iewers ’n mossie raaksien nie. Hierdie klein voëltjies wil vandag vir jou herinner daaraan dat jy nie hierdie jaar allenig loop nie. Soos God vir hulle sorg so sal hy ook vir jou in dié nuwe jaar sorg.
GEBED
Here, dankie dat U vir die natuur sorg. Maar dankie ook Here dat U vir my sorg en saam met my hierdie nuwe jaar sal ingaan.
Amen
Gedagte vir die dag | Donderdag 6 Januarie 2022
Psalm 146:5 5Gelukkig is hy wie se hulp die God van Jakob is, wat sy hoop vestig op die Here sy God.
Ons hoop so baie gedurende ons lewens. As kind hoop jy om lekker saam jou maats te speel en in jou gunsteling sportspan te wees; as jongmens hoop jy om die meeste van elke situasie te maak en ’n lewensmaat te vind waarmee jy jou lewe, passie en drome kan deel en as volwassene hoop jy om eendag na jou lewe terug te kyk en trots te wees op dit wat jy gedoen het en seker te wees jou geliefdes is versorg. Ons het almal hoop nodig.
Hoop is niks anders as ’n verlengstuk van ons geloof nie. Hoop is ast’ware geloof in werking. Martin Luther het geskryf: Alles wat in hierdie wêreld gedoen word, wat die moeite werd is, word in hoop gedoen. Met ander woorde, hoop is daardie emosie wat die mens dryf om te beplan en om dinge te doen ten spyte van moeilike omstandighede. Daarom was Benedictus van Nirsia se lewensreël: Die belangrikste van alles is om nooit, nooit hoop te verloor nie. Hoop is om die melodie oor die toekoms te hoor. En geloof is om nou reeds op die maat daarvan te dans.
Deur hoop is jy in staat om aan iemand groter as jy, vas te hou. Hoop is daardie anker en ankertou wat jou vashou ten spyte van al die doodloopstrate waarin jy jou nou bevind, of die struikelblokke wat voor jou lê, of die stryd met jou gesondheid, of die werklas wat jou uitput. Dietrich Bonhoeffer wat vanweë sy Christenskap in ’n Nazikamp was, het die volgende geskryf: Hoop groei op die pad van swaarkry wat geduldig geloop word.
Sonder hoop stort die wêreld rondom ons in duie en ons sien geen toekoms, of enige rede om aan te gaan nie. Maar waarin plaas ons ons hoop? Of in wie plaas ons ons hoop? Vandag se Psalm is ’n uitnodiging om jou hoop op God te plaas. Ook vir 2022.
GEBED
Hemelse God en Vader ek plaas my hoop in U. Stap asseblief saam met my deur 2022.
Gedagte vir die dag | Woensdag 5 Januarie 2022
Jesaja 41:10. 10Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie ontsteld word nie, want Ek is jou God. Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek laat jou oorwin met my regterhand wat mense red.
In Jesaja 41 lees ons hoe die Woord van die Here na sy volk gekom het toe hulle moedeloos, bang en angstig was. Die volk van Israel was in ballingskap toe hulle hierdie woorde gehoor het. Hulle het alles verloor – hulle huise, besittings, beroepe, en moes ook van hulle geliefdes aan die dood afstaan. Die toekoms was vir hulle donker. Hulle het geen hoop gehad nie. Vir baie van hulle was die ballingskap boonop ’n geloofskrisis. Hoe kon dit tog gebeur? Was hulle dan nie die uitverkore volk van God nie? Het die Here dan vergeet van sy beloftes? Was die Babiloniese gode dan magtiger as die Here? Is God saam met die tempel verwoes? Waar is Hy dan?
Midde in hierdie mismoedige, ja, byna troostelose omstandighede, hoor hulle die bekende stem van God wat vir hulle sê: “Ek is die Here jou God” (Jes. 41:13). Ek is jóú God. In Jes. 41:10 hoor hulle, “moenie bang wees nie, Ek is by jou”, woorde wat dwarsdeur die Bybel weerklink. Deur dik en dun, was, is, en sal die Here altyd by sy kinders wees. Van die begin af was dit so. So was die Here by Abraham oral waar hy rondgetrek het. So was die Here by Moses van sy geboorte tot by sy dood. Soos ’n goue draad loop die belofte van die teenwoordigheid van die Here deur die hele Ou Testament. En in die Nuwe Testament lees ons dat Jesus, Immanuel, God by en met ons, is. Hy het self beloof dat Hy tot die voleinding van die wêreld altyd by sy kinders sal wees (Matt. 28:20). Hieraan mag ons nie twyfel nie. God is by ons ook in 2022.
GEBED
Ons Vader en ons God, waar ons aan die begin van die nuwe jaar staan en die toekoms in die gesig staar, bely ons ons behoefte aan u teenwoordigheid en leiding.
Ons het elkeen dinge waarop ons hoop en verwagtinge vir die jaar wat voorlê, maar U alleen weet wat die jaar vir ons sal inhou, en net U kan ons die krag en die wysheid skenk wat ons nodig het om die uitdagings die hoof te bied. Help ons om in hierdie komende jaar in nederigheid ons hand in u hand te plaas, om U te vertrou en u wil vir ons lewens te soek.
Amen
Gedagte vir die dag | Dinsdag 4 Januarie 2022
Filippense 4:13: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee”
Vers 19: “En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.”
Ek glo jy sal saam met my stem dat dit ’n opwindende reis is deur Filippense 4. So aan die begin van ’n nuwe jaar. Ons word aangemoedig, daar word beloftes gegee, uitnodigings waarop ons kan steun en vashou in 2022.
Ons sluit hierdie kort reeks af met seker die twee bekendste en mooiste teksverse in Filippense 4. Die eerste vers was nog altyd ’n groot inspirasie dwarsdeur my lewe. Ek het hieraan vasgehou as ‘n jong seun, in moeilike tye deur my studies, toe ek ‘n jong predikant was en ook deur moeilike tye in die polisie diens gegaan het. Ek het altyd net geweet ek is nie alleen nie. Dat God wat naby aan my is, vir my die krag gee en dat die krag my in staat stel om te doen wat ek moet doen.
Is dit vanoggend ook jou vashou-vers? Kan jy ook weet, dat ongeag alles wat oor jou pad mag kom, jy tot alles in staat kan wees . . . nie deur jou eie krag nie, maar deur Hom wat vir jou hemelse krag gee! Dieselfde krag waarmee God vir Sy Seun Jesus uit die dood uit opgewek het. Hiermee saam loop ook vers 19: “My God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.” Hy ken my behoeftes baie goed, en omdat Hy naby aan jou is, sal Hy in elke behoefte, nie net voorsien nie, maar ryklik voorsien! En hoe doen Hy dit? Hy kan dit doen op grond van Sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus. Daarom vriende, hou vas hieraan! Kom ons maak dit ons lewens-motto! Kom ons maak dit ons vaste oortuiging en geloof dat God in sy wonderbaarlike rykdom in Jesus Christus saam met ons is, en sal voorsien aan dit wat ons nodig het.
Maak 2022 ’n jaar van baie geloof in Hom, wat vir julle krag gee, en wat weet van elke behoefte wat julle mag hê.
Gebed
Here, dankie dat ek, wonderkrag van U af ontvang wat my in staat stel om te doen wat ek moet doen. Dankie dat U weet van elke behoefte van my, en ryklik voorsien daaraan uit die wonderbaarlike rykdom in Jesus Christus. Amen.
Gedagte vir die dag | Maandag 3 Januarie 2021
Filippense 4:6-7: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking, met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.”
Dit is darem baie lekker om iemand naby aan jou te hê. As ’n persoon of ’n vriend of geliefde vêr weg is, of aan die anderkant van die veldjie staan, dan kan ons nie so lekker met mekaar praat nie. Dan hoor ek nie vir hulle nie, en hulle nie vir my nie. As hulle egter by my kom staan, dan gebeur daar iets. Ek ervaar dat hulle naby my is, en die kommunikasie met hulle is soveel makliker en soveel lekkerder. Soveel te meer met God.
Gister het ons duidelik gehoor dat die Here naby ons is, en dat Hy Emmanuel is wat ons hand vat, en as die naby-God, saam met ons die nuwe jaar instap. Die volgende twee verse in Filippense 4 is aardskuddend en baie relevant vir vandag en vir ’n nuwe jaar in Suid-Afrika. Ek wil byvoeg by wat Paulus hier sê, dit stadig stel, en enkele opmerkings maak.
“Die Here is naby, daarom moet julle oor niks besorg wees nie.” Sjoe dit voel amper asof dit onwerklik is! Kan dit regtig wees? Kan ons regtig by daardie punt kom wat ons kan sê dat on oor niks bekommerd sal wees nie. Is bekommernis nie maar die tweelingsuster van die lewe self nie? Ook in ons vooruitkyk na ’n nuwe jaar in ons land en in ons wêreld. Die troos hier is, die nabyheid van God bring vir ons daardie sekerheid!
Die teks gaan voort: “Maar maak in alles julle gebede en smeking met danksegging aan God bekend.” Hier is ons weer by die naby-wees. Omdat Hy naby my is, kan ek met Hom kommunikeer, met Hom praat op verskillende manière. Ook in my besorgdheid, my kommer en angs en in my daaglikse uitdagings! Die uitnodiging hier is, om in alles, ook ons begeertes aan Hom bekend te maak. Let WEL: AL ons behoeftes. In die nuwe direkte vertaling staan dit: “Maak in alles julle versoeke aan Hom bekend.” Op watter wyse doen ons dit? Deur gebed, deur smeking en met danksegging.
En as ons dit gedoen het? As ons ons hart kon skoonmaak teenoor die God wat baie naby aan ons is. Wat gebeur dan met ons? Dan, ontvang ons en ervaar ons die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan. Die vrede wat die Vredevors gebring het, die vrede, gerustheid, vreugde wat my God meebring. Vrede, wat oor ons harte en gedagtes die wag hou in Jesus Christus. Vrede beskerm ons, hou ons vas, pantser ons teen die aaklige gevolge van realiteite wat rondom ons mag afspeel. Gebruik hierdie twee verse baie in die komende jaar! Gryp dit met hernuwe ywer aan.
Gebed
Here, dankie dat ek oor niks besorg hoef te wees nie, maar dat ek met U kan praat. Dat ek deur gebed, en smeking by U aan die tafel kan sit, en dat ek dit met danksegging kan doen. Amen.
Gedagte vir die dag | Sondag 2 Januarie 2022
Filippense 4:5b: “Die Here is naby”
2 Januarie 2022! Die splinternuwe jaar betree sy tweede dag, en ek hoop dat van die voornemens wat jy geneem het, het al begin realiseer. Veral die voornemens om in vreugde, blydskap, en vriendelikheid te leef. Die tweede gedeelte uit die pragtige vers in Filippense 4 moedig ons met ‘n belofte aan en ’n versekering wat ook geld vir ons in die nuwe jaar: “Die Here is naby.”
Dit was die Kersboodskap die afgelope paar weke: “Die Heiland is gebore, Hy het mens geword, Hy is Emmanuel, God is met ons!” Alles wat Paulus in sy brief aan die Filippense skryf is hieraan vasgemaak. Hy kan hoop hê, liefde vir sy medegelowiges, ongekende vreugde en vriendelikheid omdat hy vir God as naby ervaar. In sy naby teenwoordigheid vind hy die sin vir sy bestaan, en vind hy die bron van sy hoop en vreugde.
Vriende, 2022 lê voor ons. Ons het hierdie week al verskeie kere gesê dat daar onbekende horisonne is wat op ons wag. Ons weet nie wat gaan die ekonomie, die weerpatrone, die Covid-pandemie, aardverwarming, ens. vir ons gaan inhou nie. Ons weet nie of ons in hierdie komende jaar self gaan siek word, of langs die siekbed, of sterfbed van ’n geliefde gaan staan nie. Dis alles baie onseker. Een ding is egter seker en staan vas, Hy is Emmanuel, Hy is God by ons, soos Paulus sê: “die Here is naby.” Elke dag . . . oral . . . by ons!
Gebed
Dankie Emmanuel, God met ons, God naby ons.
Amen
Gedagte vir die dag | Saterdag 1 Januarie 2022
Filippense 4:5: “Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby.”
Ek wens julle ’n baie voorspoedige nuwe jaar toe! Ek hoop en vertrou dit was sommer ’n heerlike, feestelike tyd so met die nuwe jaar. My gedagtes gaan baie vêr terug na my kinderdae, en die opwinding wat in die oorgang van die ou jaar na die nuwe jaar gepaard gegaan het.
Noudat ek ouer geword het, en die hierdie jaar gaan aftree, dink ek ook aan my leeftyd in die bediening en hoe baie keer ek op die kansel gestaan het met oujaar. Ek dink aan hoe ons middernag die klokke laat lui het, en mekaar voorspoed toegewens het vir die nuwe jaar. Dit is altyd met opwinding en met verwagting gedoen. Vreugde was aan die orde van die dag, met Nuwejaarsfeeste, swem, vakansie, gemmerbier en waatlemoen!
Gister, op Oujaarsdag het ons gedink en gehoor hoe noodsaaklik dit is dat die vreugde van die Here ons lewenskwaliteit moet, en kan, bepaal. Vandag op Nuwejaar sluit ons daarby aan in hierdie vers wat Paulus dan direk aan die vreugde-emosie koppel. Hy sê duidelik vir ons, en dit staan so in die nuwe direkte Afrikaanse vertaling: “Julle moet julself verbly, verbly julle”, en dan daarmee saam vers 5: “Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word.”
Twee kante van die munt: eenkant vreugde, ongekende, Jesus gebaseerde vreugde, en die ander kant van die munt: vriendelikheid wat aan alle mense bekend word. Hoe absoluut noodsaaklik is dit nie in ons samelewing vandag nie! Vriendelike gesigte wat al die gesigte wat hang, en wat vol kommer is, ast’ware entoesiasties met hul vreugde aansteek en ophelder?
Hierdie jaar kan ‘n jaar wees waar ons toelaat dat neerslagtigheid en donker wolke weer ons emosies en lewenskwaliteit oorheers, of dit kan ’n ligjaar wees van God se kinders wat met vriendelikheid en vreugde leef, en so ook die lig in hierdie jaar laat skyn.
Kom ons maak dit een van ons grootste, sigbaarste voornemens vir 2022: Ons wil ons vriendelikheid laat bekend word aan alle mense. Nie aangeplakte, valse vriendelikheid nie, maar vriendelikheid as vrug van die Gees! Vriendelikheid wat in staat is om mense om ons ook te kan verlig en hoop te kan gee vir die nuwe jaar. Ek wens julle ‘n vreugdevolle, vriendelike 2022 toe.
Gebed: Here, baie dankie dat U vir ons alle rede gee met vreugde om met vriendelikheid ook in hierdie nuwe jaar te laat lewe. Amen.
Gedagte vir die dag | Vrydag 31 Desember 2021
Filippense 4:4: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!”
Die ou jaar het aangebreek! 2021 met al sy goed en sleg het uitgeloop! Ons kyk terug na ’n jaar waarin ons so baie beleef het, goed en minder goed. Maar ’n jaar wat ook gekenmerk was deur God se getrouheid in ons lewens, en hoe Hy tog, midde in ons uitdagings, elke dag vir ons opgedaag het, om ons te begelei, ons by te staan en lief te hê.
Voor ons is ’n nuwe jaar! Môre breek 2022 aan – ’n splinternuwe jaar met splinternuwe geleenthede.
In ons kuier in Filippense 4 hierdie week en het alreeds van Paulus gehoor oor die ongekende blydskap wat sy lewe in die tronk gevul het. Sy liefde vir ander mense, sy verlange na hulle, en waar hy ook, wanneer hy aan hulle dink, blydskap ervaar. Vandag se teks is seker een van die gewildste tekste in die Bybel. Ek onthou hoe ons as kinders gesing het: “Rejoice in the Lord, always, and again I say rejoice.” Dit is ’n inspirerende teksvers wat ons oproep tot een van die belangrikste voordele en erflatings van ons Christelike geloof. Ons is mense met vreugde! Ons het vreugde ontvang as ’n vrug van die Heilige Gees. . . vreugde wat gebaseer is op Jesus self! Ons ken almal die pragtige lied: “Jesus, Bron van al my vreugde.”
My gebed is dat hierdie absolute Jesus-gebaseerde, Gees-gedrewe blydskap jou lewe, en al jou dae wat voorlê, sal kenmerk. Dit help ons om die Oujaar, met al sy uitdagings, met groot vreugde te kan afsluit wetende dat die Heilige Gees werk in my om hierdie bevrydende vreugde ook in 2022 te kan beleef.
Mag dit ’n mooi jaar wees vir jou. . .van terugkyk met dankbaarheid, en vorentoe kyk met geloof en vreugde waar jy deurgans kan getuig dat die blydskap van Jesus Christus jou oorheersende emosie is.
Gebed: Here baie dankie vir hierdie jaar, 2021. Vir alles wat ons daarin kon beleef. Dankie dat U ook môre laat aanbreek, ‘n splinternuwe jaar waaroor ons in geloof en hoop en in liefde optimisties oor kan wees. Dankie dat U vandag hier is, maar dankie dat U ook môre hier sal wees, en tot in ewigheid, en dat U ons begelei op ons pad. Amen.