Gedagte vir die dag | Woensdag 19 Januarie 2022
Dit is belangrik dat ons na ons denke kyk, want dit is duidelik dat ons denke baie van ons leefwêreld kan bepaal. Daarom wil ons in hierdie dagstukkies kyk na hoe ons dink sodat ons kan nuut dink oor die lewe. Luister saam met ons en dink nuut oor jou lewe. . .
Stan Toller skryf in sy boek Total Quality of Life: “Gedagtes word gesindhede, gesindhede word gedrag. Gedrag word gewoontes. Daarom is die sleutel tot beheer oor jou lewe om jou gedagtewêreld te beheer.”
’n Hospitaalstudie wat in Boston, Amerika onder sielkundiges gedoen is, het interessante resultate meegebring. Hulle het gekyk na die impak van denke op pasiënte se gesondheid. Verpleegsters is gevra om vir pasiënte wat nie in kritieke toestand is nie met ’n negatiewe ingesteldheid te behandel. ’n Ander groep verpleegsters is weer gevra om met ’n positiewe ingesteltheid teenoor kritieke pasiënte op te tree. Die bevindings was dat die kritieke pasiënte gesonder geword het en die nie-kritieke pasiënte sieker geword het. Dit bewys aan ons dat ons denke ons leefwêreld kan domineer en selfs ons gesondheid beïnvloed. Die antieke mense het iets hiervan verstaan, Paulus praat dikwels in sy briewe oor hoe ons anders moet begin dink oor die evangelie om die volheid van God te beleef.
In sy brief aan die Romeine skryf hy die volgende:
Romeine 12:1-2. En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. 2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.
Paulus skryf dat God ons denke wil vernuwe, juis sodat ons anders dink om anders te kan leef. Hoe moet jy jou denke vernuwe om anders te leef in die nuwe jaar?
Die pandemie het ons met negatiewe ingesteldhede gelaat, ons moeg gemaak en ons miskien honger gemaak vir ’n lewe wat anders is. Dit is duidelik dat wanneer ons ons denke verander ons ook die samelewing anders kan benader en verander.
Gebed:
Here dankie dat ons vandag hier in die begin van die jaar weer kan besef dat ons die realiteit waarin ons leef kan verander. Dat ons anders kan dink om ander te leef. Here, die gebed van ons harte is dat U ons denke sal kom vernuwe sodat ons in 2022 kan leef soos U ons roep.
Amen
Gedagte vir die dag | Dinsdag 18 Januarie 2022
Romeine 12:9 Julle liefde moet ongeveins wees. Verafsku die kwaad; hou vas aan die goeie.
Te midde van ons liefde vir mense is daar dikwels ’n klomp dinge wat ons onderliggend in verhoudings grief, of frustreer en waarmee ons sukkel om saam te leef. Ons goeie maniere kondisioneer ons om dit diep binne in onsself weg te bêre – daar waar niemand dit kan sien nie. Alhoewel ons dus aan mense liefde bewys, is dit nie altyd ’n refleksie van wat werklik binne ons aan die gang is nie. Uiteindelik bou die druk van hierdie gevoelens en emosies binne ons op. Dit glip wel deur in ons gesigsuitdrukkings, houding en opmerkings. In vandag se teks vra Paulus dat ons liefde vir mense “ongeveins” moet wees. Die woord beteken eerlik, opreg en eenvoudig. Dit herinner ’n mens aan die bekende gedeelte in 1 Kor. 13 “die liefde hoop alles, glo alles en verdra alles”. Is daar iets van iemand wat jou irriteer, of frustreer en wat jy diep agter goeie maniere wegsteek en in jou spanning bring?
Die Here het ons lief net soos ons is. Wat sou dit beteken dat ons vandag ander mense ook so sal liefhê? Beleef vandag dat die Here jou van pretensie en die spanning wat daarmee saamloop kom bevry sodat jy mense ongeveins lief kan hê.
Gebed
Here, U ken my diepste gedagtes en gevoelens oor mense. Ek probeer my goed gedra en probeer dit alles agter goeie maniere wegsteek, maar die druk en spanning wat daaroor in my woed is soos ’n storm. Kom maak my vandag asseblief vry daarvan sodat ek soos U mense ongeveins kan liefhê. Gee my daarom vandag die moed om eerlik met myself te wees en wys my hoe om verby die dinge in mense te kyk wat nie tel nie en die mooi in elke mens raak te sien.
AMEN
Gedagte vir die dag | Maandag 17 Januarie 2022
1 Tessolosense 5:16: Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie. 20Moenie profesieë geringskat nie, 21maar toets dit alles, behou wat goed is, 22en bly weg van alles wat sleg is.
Ek sit vroegoggend hier op die stoep by my huis en uitkyk oor my tuin terwyl ek met die oordenking besig is. Ek dink daaroor na dat ek vandag net ’n gevoel van dankbaarheid het wat oor my spoel. Ek kyk terug oor my loopbaan as predikant en dink na oor die laaste erediens wat ek hier in die kerk gaan behartig. Teen die einde van die maand is ek nie meer ’n voltydse predikant in die gemeente nie, alhoewel ons steeds in die gemeente gaan aanbly.
Ek kyk terug oor ’n klomp jare, seëninge wat ek ontvang het en ook in die besonder oor waar ek tans in my persoonlik lewe is. Ek is gesond met soveel seëninge om my, en toe het ek hierdie teksvers weer gaan soek: “Wees in alle omstandighede dankbaar.” Wees dankbaar as dit met jou goed gaan. Maar ek dink dit wat die Bybel sê, is juis om in alle omstandighede die vermoë te hê om dankbaar te wees vir dit wat ons het, ten spyte van die omstandighede. Ons is dikwels geneig om met die witbrood onder die arm te kla.
Ek het gedink aan die verhaal wat ek jare terug gehoor het, dat daar in sommige dele van Meksiko spruite is, waar warm en koue water baie naby aan mekaar is. Weens die gerief wat die natuurverskynsel bied, bring die arm vroue wat nie wasmasjiene het nie, hul wasgoed daarheen. Hulle laat die klere dan so deurkook in die warm water, en spoel dit dan uit in die koue water. Op ’n dag het ’n toeris wat die proses dopgehou het teenoor sy Meksikaanse gids opgemerk: “Die dames moet seker baie dankbaar wees teenoor God wat so goedhartig is om vir hulle ’n onophoudelike bron van vars koue en warm water gee en dat hulle vrye gebruik daarvan kan hê.
Die Meksikaanse gids het geantwoord: “Moenie glo nie, mense is maar mense. Hierdie vroue kla vreeslik omdat hulle self die seep moet saamsleep.”
En soms gaan dit so met ons ook. Ons het baie dinge waaroor ons so geseënd is, en dan is dit die klein krapperigheidjies waaroor ons ontevrede en ongelukkig is. Ons teksvers sê: “Wees in alle omstandighede dankbaar.” Miskien moet ek en jy gaan sit en neerskryf (en my lys is so lank) waaroor ek vir die Here innig dankbaar kan wees. Mag ek en jy die vermoë hê om die warm en koue water wat oor ons spoel raak te sien en nie geïrriteerd te raak met die seep wat nie vir ons gegee word nie.
Gebed:
Here, dankie vir u seëninge, op soveel vlakke. Gee dat ons u goeie guns sal raaksien in ons lewens.
Amen
Gedagte vir die dag | Sondag 16 Januarie 2022
Teks: Romeine 8:31: Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
Ek dink die meeste van ons, is bewus van die bekendste Baptiste predikant, Charles Spurgeon in die 19de eeu. Hy het op ’n dag saam met ’n vriend in die Platteland gaan stap toe hulle ’n weerhaan met die woorde “God is liefde”, by ’n kerkkantoor gesien het.
Spurgeon het vir sy vriend gesê dat ’n weerhaan eintlik ’n onvanpaste simbool of medium vir so ’n boodskap is, omdat weerhane eintlik baie veranderlik is, terwyl God se liefde altyd dieselfde bly. Hy het eintlik bedoel dat dit nie heeltemal is wat God is nie.
Charles se vriend het vir hom gesê: “Miskien verstaan jy die woorde van die weerhaan net halfpad? Die weerhaan sê ook vir ons, na watter kant die weer ookal waai, God is liefde.” Spurgeon kon nie anders as om saam te stem nie, en het blykbaar die volgende Sondag die boodskap van God se trou, en sy teenwoordige liefde in sy preek gebruik.
God spreek ons vry, niks kan ons skei van die liefde van Jesus nie – nie honger, swaarkry of gevaar nie. Daaroor praat Romeine baie duidelik. Hierdie gedeelte het soveel gelowiges oor eeue heen vertroos. Dit maak nie saak in watter krisisse ons die beleef, of watter bekommernisse ons het nie, dit sal ons nie skei van God wat in daardie omstandighede reeds teenwoordig is nie. Hy sal ons miskien nie red van ’n siekte, of bose mag, of moeilike situasies verwyder nie, maar God is daar, al draai die wind na watter kant toe.
Gebed:
Here, dankie vir u teenwoordigheid, of dit nou in die ooste, weste, noorde of suide gewaai word, maar dat U daar is in die wind en vuur – altyd teenwoordig.
Amen
Gedagte vir die dag | Saterdag 15 Januarie 2022
Kan jy glo die eerste maand van 2022 is al in die helfte?
Teks: Johannes 16:5: “En nou gaan Ek na Hom wat My gestuur het; en niemand van julle vra My: Waar gaan U heen nie? 6Maar omdat Ek dit vir julle gesê het, het droefheid julle hart vervul. 7Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; 12Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nou nie dra nie. 13Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.
Gedagte: In die vakansietyd, op Nuwejaarsdag lees ek van die bekende vlootoptogte in Pasadena, Kalifornië in Amerika. Dit staan bekend as die “Tournament of the Roses”. ’n Pragtige vlot wat deel was van die optog, het op ’n stadium so ’n paar rukke gegee en toe gaan stilstaan. Die voertuig, of groot vragmotor se diesel was op. Die hele optog het tot stilstand gekom, omdat die voertuig die parade geblokkeer het, maar iemand het toe wel later met ’n kannetjie diesel opgedaag.
Die ironie in die storie, is egter dat die vlot deur ’n oliemaatskappy, “Standard Oil”, geborg is. Ondanks hul reuse olie voorraad,het hulle vlot weens swak kommunikasie en beplanning op die groot geleentheid sonder diesel gaan staan. Ons as gelowige is toegerus met, ’n ander soort diesel of petrol. Ons is toegerus met krag van bo! As ons nie innig verbonde bly aan hierdie bron van krag nie, sal ons hierdie jaar ook tot stilstand ruk – nie in staat om ’n tree vorentoe te gee nie en so sal ons dan ook die verkeer blok. In die gedeelte wat ons gelees het, kom Jesus en sê Hy sal hulle nie as wese agterlaat nie. Sy Heilige Gees sal onder julle kom woon en sy Gees sal julle in die waarheid lei. Ons mag nooit sê dat die Here nie by ons is nie, of dat Hy nie die pad saam met ons loop nie. In die doopformelier is dit altyd so mooi as ons van die Vader en die Seun, maar ook in die besonder van die Heilige Gees praat wat vir elkeen wat aan God behoort gegee word. God het dit so mooi gesê: “Hy sal ons in die waarheid lei, en ons troos. Daar is so ’n mooi gebed wat beskryf hoe God bo, onder en langs ons is en ook die pad vooruit saam met ons loop. Ons het die diesel, die petrol van God se gees, wat vir ons gegee word. Hy is in hierdie dag by ons en Hy sal dié jaar elke tree saam met jou loop.
Gebed:
Here, dankie vir u teenwoordigheid, die bonatuurlike teenwoordigheid van u Gees, in ons lewens, en in ons uitgebreide familie. Ons verstaan daarvan so min, maar dankie dat ons hierdie eenvoudige waarheid aan onsself kan toeëien.
Amen.
Gedagte vir die dag | Vrydag 14 Januarie 2022
Gedagte vir die dag | Donderdag 13 Januarie 2022
Gedagte vir die dag | Woensdag 12 Januarie 2022
Ek lees graag vir julle ‘n baie ou gebed. Mag jy hierdie gebed ontvang as jou eie en terwyl jy oor die woorde reflekteer, vashou aan die troos dat God op somtyds onopmerklike maniere teenwoordig is in ons lewe. Waar ons ookal gaan, en watookal met ons gebeur
Psalm 139:1-12
Here, U sien dwarsdeur my,
U ken my.
Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit,
U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.
Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit,
U is met al my paaie goed bekend.
Daar is nog nie ‘n woord op my tong nie
of U, Here, weet wat dit gaan wees.
U omsluit my van alle kante,
U neem my in besit.
Dié wete oorweldig my,
dit is te hoog vir my begrip.
Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug?
Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?
Klim ek op na die hemel, is U daar,
gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.
Vlieg ek na die ooste,
of gaan woon ek in die verre weste,
ook daar lei u hand my,
hou u regterhand my vas.
Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek,
of die lig rondom my om in nag te verander,
maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie
en die nag so lig soos die dag,
duisternis so goed soos lig.
Gedagte vir die dag | Dinsdag 11 Januarie 2022
Jesaja 55:8-9. “8My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; 9soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.”
God se manier van dink en doen verskil dikwels drasties van ons eie gedagtes en idees. Die planne wat ons maak lyk vir ons logies, werkbaar en na die beste oplossing, maar tog ervaar ons dikwels tot ons teleurstelling dat God se planne anders is as ons eie. Ons verstaan dit nie, waarom kies God soms ’n ompad en ’n moeiliker weg as wat ons self bedink het?
‘Vandag se teks moet ons eers teen die agtergrond waarin die profeet Jesaja met die volk Israel praat, verstaan. Hulle is in ballingskap in ’n vreemde land onder vreemde oorheersing. Jerusalem en die tempel is verwoes. Hulle is moedeloos en hopeloos, want dit lyk of die God van die verbond hulle in die steek gelaat het. Wat het geword van sy beloftes aan Abraham en sy nageslag; wat het geword van sy beloftes aan koning Dawid? Hulle is dan sy uitverkore volk aan wie die beloofde land toegesê is. Nou lyk dit asof al God se planne en gedagtes misluk het, van sy verbond en beloftes het niks oorgebly nie. Die profeet bring egter die boodskap van verlossing aan die volk.
Die verrassende nuus is dat God hierdie verlossing op ’n totale ander manier gaan bewerk as wat hulle gedink en beplan het. God rig hom tot koning Kores van die Perse. Hy gaan die instrument in God se hand word waarmee hy sy doel bereik. Hy wat oor baie volke regeer, word nou God se dienskneg. Die volk kan terugkeer na Jerusalem, die tempel sal herbou word, maar dit gebeur nie deur middel van ’n groot militêre leier en die vernietiging van hulle vyande nie. Hulle sal steeds in hulle land onder vreemde oorheersing wees met die goedgunstigheid van hulle oorheersers.
Daar is ’n groot verskil tussen God en mens. God is God, en mens is mens. Met ons beperkte menslike verstand kan ons sy gedagtes en optrede nooit verstaan nie. Sy gedagtes is so ver verhewe bo ons gedagtes, soos wat die hemel hoër is as die aarde. Die teksvers roep ons as gelowiges op tot ’n heilige eerbied vir God in die wete dat ons sy gedagtes nooit sal kan verklaar nie. Hierdie gedeelte wil ons juis daarvan verseker dat al kan ons God se gedagtes nie verstaan nie, weet ons dat sy optrede nooit sal misluk nie.
GEBED
Hemelse God en Vader. Dankie dat U in beheer is. Al verstaan ons nie altyd u besluite en oordele nie, weet ons dat alles ten goede vir ons sal meewerk.
Amen
Gedagte vir die dag | Maandag 10 Januarie 2022
Psalm 8
‘n Psalm van Dawid.
2Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!
3Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring het. So word u teëstanders, die vyande en wraakgieriges, tot swye gebring.
4As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, 5wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?
6U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, 7U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp: 8skape en beeste, alles; selfs die diere in die veld,9die voëls in die lug, en die visse in die see wat die oseane deurkruis.
10Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!
GEDAGTE
Lina Spies verwoord dié Psalm as volg:
- O, Here God, u Naam is groot op aarde!
U hemelruim strek tot die verste einders:
Waar menseoë geen stippel meer gewaar,
daar straal en skyn nog steeds u majesteit.
- Na U, die God so hoog bo ons verhewe,
styg daar ‘n lied van dank, u Naam ter ere!
U lof uit kindermonde klink alom:
U haters swyg, U lasteraars verstom.
- Sien ek die maan, die sterre in hul bane,
weet ek, o Heer, hul dra u vingermerke:
hul skryf u Naam al glinst’rend in hul gang;
hoe klein voor U die mens, hoe sonder rang.
- Hoe is dit dan dat U tog na ons omsien,
die brose mens omstraal met u nabyheid?
U maak ons sterk, U kroon ons met u glans:
Ons hoort by U en word deur U omskans.
- U stel ons aan oor al u werke, Here,
oor als wat vry en selfs verborge lewe:
die voëls wat in die ruim hoog oor ons sweef,
die vis wat speel in dieptes van die see.
- O, Here God, u Naam is groot op aarde!
U hemelruim strek tot die verste einders:
Waar menseoë geen stippel meer gewaar,
daar straal en skyn nog steeds u majesteit!
GEBED
Abba, Vader, Skepper van die heelal, ons aanbid U, U is heilig, Heer.
Jesus, Christus, Lam van God, Verlosser, ons aanbid U, U is heilig, Heer.
Gees van Waarheid, Trooster en ons Leidsman, ons aanbid U, U is heilig, Heer.
Amen