GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Saterdag 29 Januarie 2022

Ek lees graag vir ons ’n gebed van Dirkie Smit

Here ons God,
Gee ons tog afstand, gee ons tog ruimte, gee ons tog perspektief-
Alles voel so oorweldigend, te veel vir ons, te swaar, te seer,
Alles voel so moeilik, so belangrik, so dringend, so veeleisend.
Ons kan nie onderskei nie, ons voel oorvra,
Ons lewe word beheer
Deur alles wat ons begeer en deur alles wat ons vrees.
Ons staar ons so vas teen alles wat was
En teen wat nog wag,
Teen laste van gister en sorge van môre-

Gee ons tog afstand, gee ons tog ruimte, gee ons tog perspektief, Here.
Bevry ons. Help ons onderskei.
Leer ons wat van belang is- en wat nie.
Gee ons moed. Gee ons verbeelding. Gee ons geduld.
Gee ons die vermoë en die wil om nuut te begin,
Om voor te begin.
Gee ons die opwinding van ‘n nuwe aanvang, van ‘n nuwe dag.

Skenk tog aan ons die liefde- wat alles ander sien.
Vul ons tog met die hoop- wat alles nuut maak.
Laat ons iets van u hart verstaan, van u eie patos,
en laat iets daarvan ook weerspieël word in ons eie passies en ons prioriteite en ons planne.

Neem die oormag om ons weg, laat die donker plek maak vir lig,

Verlos ons van ons slegte drome- en laat ons U sien,
Elke dag, elke oomblik, ook vandag.

Here ons God,
Gee ons tog afstand, geen ons tog ruimte, gee ons tog perspektief

Gedagte vir die dag | Vrydag 28 Januarie 2022

 

Teksvers: Filipense 1:9.  “Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, 10sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, 11en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.”

Dirkie Smit, ’n teoloog skryf dat saam met perspektief oor die lewe kom prioriteite. Hoe ons na mense en dinge kyk, bepaal wat vir ons gewig dra, aldan nie. Wat en wie ons sien en nie sien nie, het baie te doen met ons prioriteite en die waarde wat ons aan dinge toeken – of ons dit besef, of nie.

Hy verduidelik verder en sê, priotiteite dui letterlik op volgorde, rangorde, voor-in-die-ry, of ver-en-onopmerklik-agter-in-die-tou.  Dit sê hy is juis waaroor alles gaan. Wie omloop en dinge vanuit ’n ander hoek of van ’n ander kant af bekyk, se volgorde word ook anders.  Laaste word dan eerste. Prioriteit is nie dit waarna gekyk word nie, maar na wie gekyk word. In wie ons is en waar ons staan. Ek dink dis ook so in die lewe. Veral so aan die begin van ’n jaar waar ons die geleentheid ontvang om net effe anders te leer kyk. Wat laasjaar dalk so gewigtig in ons lewens was, so allesoorheersend, hoef nie noodwendig meer so te wees nie.

Ek dink dis ook Paulus se bedoeling wanneer hy bid dat ons liefde sal toeneem, sodat ons kan onderskei wat regtig saak maak.  Dit is asof dit die liefde is wat perspektief bring, prioriteite verander en ons help om anders te kyk – na alles en almal. Mag ons hierdie uitnodiging ontvang en deelmaak van ons lewe.

Amen

Gedagte vir die dag | Donderdag 27 Januarie 2022

 

Romeine 8: Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat ‘n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? 25Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.

Die bekende teoloog Dirkie Smit het op ‘n stadium geskryf dat Hoop is die vertroue dat dit nie te laat is nie. Dat ons sorge gestil, ons vrese besweer, ons teleurstellings omskep kan word – ook al voel dit nie noodwendig so nie. Dat duister kan plek maak vir lig. Dat dinge wel nuut kan word, alles verander – al lyk dit tans hoe onmoontlik.

Daarom is die evangelie ‘n blye tyding van hoop, teen alle ellende en moedeloosheid in. Maar dit beteken vasklou aan wat ons nog nie sien nie.  Hoop teen alle hoop soos Paulus skryf.  Dit is nie blote optimisme nie – die gevoel dat dinge net kan beter word. Dit is die vertroue dat dit nooit te laat is nie, selfs in die donkerste nag, of tydens die diepste leed. Dis hoop.

 

In Epifanie word ons weer uitgenooi om dit te sien wat vandag nog onsienlik is. Om vandag ‘n huis te bou op beloftes waarvan die waarheid eers later sal blyk.  Epifanie nooi ons uit om daarvolgens te handel – teen alle sigbare ellende in, teen gruwelike misdaad en sinlose geweld, teen swaarkry, siekte en dood.

 

Amen

Gedagte vir die dag | Woensdag 26 Januarie 2022

 

Die bekende historikus Felipe Fernandez Armesto se bekende lewensleuse was dat als in die lewe afhang van hoe ons daarna kyk.  Met ‘n ander oog en uit ‘n ander hoek, lyk dinge heel anders.  In een van sy geskiedenisboeke vertel hy hoe hy die geskiedenis lees – alles binne perspektief.  Wat tans verskriklik belangrik lyk, gaan dalk in ‘n onbenullige vergetelheid verdwyn, en wat vir ons ongemerk verbygaan, gaan dalk in ‘n ander se lewe waarlik saak maak en blywende waarde hê.

Ek dink Armesto se uitkyk op die lewe het ‘n diep Bybelse oortuiging.  Dinge kan met tyd en afstand baie anders lyk as wat ons elke dag mag dink en voel. Die hart van die Christelike geloof het te doen met hierdie vermoë om vanuit ‘n ander oogpunt te leer kyk.  Miskien hier aan die begin van nog ‘n jaar, is dit ‘n goeie tyd om weer met ‘n ander perspektief na die gebeure om ons te kyk.  Met groter afstand, teen ‘n breër doek,  vanuit ‘n hemelse perspektief – dit wat ons begeer en vrees – hoe dit lyk word bepaal deur hoe ons daarna kyk.

Ek lees graag ‘n gebed van die Corrymeela gemeenskap

God van die nuwe jaar

God van ons aaneenlopende stories:

ons bid vir hulle wat intree in hierdie jaar met angstigheid

met moegheid

met hartseer.

Ons bid vir onsself

en ons bid dat hierdie ‘n jaar sal wees van restourasie

van lewens gevul met nuwe hoop,

Sodat in plaas daarvan dat ons bid vir iets om te eindig

ons opnuut sal ontdek die vreugde van ‘n nuwe begin

Amen

Gedagte vir die dag | Dinsdag 25 Janaurie 2022

 

Dit is belangrik dat ’n mens bewus is van jou denke, want dit is duidelik dat ons denke ’n groot deel van ons leefwêreld kan bepaal. Daarom wil ons in hierdie dagstukkies nadink oor hoe ons dink sodat ons kan nuut dink oor die lewe.

Die bekende skrywer Ralph Waldo Emerson skryf: “ ’n Mens is dit waaroor jy die hele dag lank dink”.

Hierdie stelling is waar, juis omdat ons besef dat ons denke ons tot ’n groot mate beheer.  Baie neurologiese wetenskaplikes het al die invloed van ons bewussyn op die res van ons menswees probeer ontleed.  Daar is een ding waaroor almal wel saamstem sonder ons denke kan ons nie beweeg nie.

Dit laat mens met die vraag: Hoe prioritiseer ’n mens jou  denke? Waaroor dink ons en hoe beïnvloed dit jou leefwyse?

Marcus Aurelius het gesê: “Die gedagtes wat jy normaalweg dink, sal die karakter van jou denke bepaal, want die siel word deur gedagtes gekleur”

Kolossense 3:5-13

Die ou en die nuwe lewe.  5Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is. 6Deur sulke dinge kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. 7Vroeër het julle ook aan dié dinge meegedoen toe julle nog daarin gelewe het. 8Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie, 9en moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek 10en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God. 11Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal. 12Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie liefhet. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. 13Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.

Die Kolossense skrywer skryf oor waarop ons ons denke kan rig vir nuwe lewe. Ons kan of kies om mense te wees wat fokus op afguns, woede, haat en nyd, of ons kan mense wees wat ons denke fokus op goedsgesindheid, nederigheid, sagmoedigheid en meelewendheid.

Die vraag is dus waarop fokus ’n mens? Indien jou denke gedomineer word deur ’n sekere stroom gedagtes moet jy jouself sover kry om die roetine te breek en iets anders raak te sien sodat jy nuut kan dink.

Ons denke kleur tog ons siel in.

Kom ons bid saam:

Here dankie vir nog ‘n dag wat ons U genade en liefde kan sien en beleef in die wêreld. Here ons bid vir vrede en herstel in die plekke waar dit nodig is. Ons bid vir nuwe denke en nuwe maniere om U Koninkryk te sien in hierdie wêreld. Dankie dat U vir ons die moed en die vermoë gee om nuut te dink sodat ons nuut kan leef. Amen

 

Gedagte vir die dag | Maandag 24 Januarie 2022

Gedagte vir die dag | Sondag 23 Januarie 2022

Gedagte vir die dag | Saterdag 22 Januarie 2022

Gedagte vir die dag | Vrydag 21 Januarie 2022

Dit is belangrik om ons denke te ondersoek, want dit is duidelik dat ons denke ’n groot invloed op ons leefwêreld het. Daarom wil ons in hierdie dagstukkies nadink oor hoe ons dink sodat ons kan nuut dink oor die lewe. Luister saam met ons en dink nuut oor jou lewe . . .

Om nuut te dink beteken dat ons ons gedagtewêreld moet reining van gedagtes wat ons leefwêreld negatief beïnvloed. Ons wêreld het met tegnologie, sosiale media en bemarking al baie verander en dit het al ons denke gevange begin hou.  Ons sien die wêreld deur die pen van die joernalis, of die rekenaarskerm van die skrywer.  ’n Onlangse studie deur The Economist het bepaal dat Amerika nog nooit so gepolariseerd was soos tans nie. Selfs Suid-Afrikaanse studies bevestig ook die tendens.  Wanneer ons dink aan die kerk weet ons ook dat binne ons eie kerktradisie is ons verdeeld.

Die media en sosiale media speel ’n groot rol.  Dit dwing ons om die vraag te vra: Waarna luister ons regtig?  Word ons gedagtes soms gevange gehou deur die denke van ander?

Paulus skryf in 2 Korintiërs 10 die volgende: “Natuurlik leef ons in ’n menslike liggaam, maar ons voer nie die stryd met menslike wapens nie. Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.”

Paulus skryf juis oor hoe gevaarlik dit is as ons gedagtes deur die verkeerde goed gevange gehou word.  Paulus beskryf dit in oorlogstaal deur te sê wapens is nie eens so kragtig soos die gedagtes van ’n mens nie.  Dit is duidelik dat ons versigtig moet wees dat negatiewe nuus nie ons gedagtes gevange moet hou nie.  Paulus sê dat ons gedagtes aan Christus gehoorsaam moet wees.

Paulus sê vir ons dat ons, ons gedagtes moet skoon maak sodat dit nie gevange deur verkeerde stemme gevange gehou word nie.

Dink na oor wat jy in neem, wat jy lees en waarna jy kyk.  Het dit dalk tyd geword dat jy dit wat  jou gedagtes gevange hou anders moet benader?

Gebed

Here, ons bid dat U ons gedagtes sal kom saamvat sodat ons nie sal luister na stemme wat ons lei om die koninkryk van God af te breek nie, maar eerder die stem wat die koninkryk op bou. Dankie Here, vir u liefde en genade.

Amen

Gedagte vir die dag | Donderdag 20 Januarie 2022

Dit is belangrik om ons denke te ondersoek, want dit is duidelik dat ons denke ’n groot invloed op ons leefwêreld het. Daarom wil ons in hierdie dagstukkies nadink oor hoe ons dink sodat ons kan nuut dink oor die lewe. Luister saam met ons en dink nuut oor jou lewe . . .

George Bernard Shaw, die Ierse toneelskrywer het gesê: “Vooruitgang is onmoontlik sonder verandering, en die wat nie hulle denke kan verander nie, kan niks verander nie.” Die groot vraag is: Hoe begin ’n mens om jou denke te verander? Kan dit net so maklik wees soos as om die teenoorgestelde denke te hê as wat jy verlede jaar gehad het – miskien is dit?

Ek is self ’n baie negatiewe mens en my vrou is weer die teenoorgestelde.  ’n Mens kan kies hoe jy die wêreld sien. Ek sien die glas half leeg en my vrou sien dit weer half vol en dit het verseker ’n impak op hoe ons wêrelde lyk.

Kenners sê dat om anders te dink begin by die gewoonte om jou fokuspunt te verander. Om beheer oor jou gedagtes te neem,  beteken soms dat jy beheer oor jou lewe moet prysgee.

Jesus laat ons verstaan waarop ons ons verstand en denke moet rig:

Matt:22:37 “ Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand.”  Jesus maak ons bewus dat ons , ons verstand moet rig op God.

Paulus skryf in Filipense 4:8 hoe die fokuspunt van ons denke ons kan verander:  “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig”

Rig jou gedagtes anders, skep ’n ander fokuspunt en so sal jy die wêreld om jou anders beleef.

Waarop gaan jy fokus vir die nuwe jaar? Waar gaan jou fokuspunt wees om jou realiteit te verander?

 

Gebed:

Here, dankie dat U vir ons ’n ankerpunt skep sodat ons gedagtes lewe kan gee. Here ons bid dat ons, ons fokus sal verander sodat ons u liefde, genade en vrede kan beleef.

Amen

 

1 78 79 80 128