GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Dinsdag 8 Februarie 2022

Romeine 12: 13 en 14: “Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid. Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie.”

Ons kom vandag by die laaste oordenking oor hierdie baie besondere gedeelte uit die Woord van God. Ek glo elkeen is met groot entoesiasme gelaat oor die aanmoediging wat ons hieruit vir ons daaglikse lewe en wandel saam met God, ontvang het.

In die vorige teksgedeeltes was die riglyne baie op ons persoonlik gerig, op ons eie persoonlike omstandighede, ons “interne” gevoelens en denke. Op daardie vlak is ons toe aangemoedig om vol entoesiasme die padtekens te volg.

Dit is egter nie net alleen ten opsigte van onsself wat hierdie aanmoedigings geld nie.  Dit is ook vir ons kontak met ander mense, medegelowiges en almal anders wat ons pad kruis. Dit is baie interessant dat Paulus ook hier sommer dadelik melding maak van mense in nood en gelowiges aanmoedig om baie spesifiek op hulle te fokus. Om hulle in hul noodsituasie, wat dit ookal mag wees, by te staan. Dit is ’n kenmerk van die Jesus-gemeenskap, om om te gee en om armes en hulle wat in nood is, te versorg. Ons het dit alreeds in die eerste Christelike gemeente in Handelinge gesien hoe alles daarop ingestel was om die weduwees, en ander in nood, by te staan.  Hiermee saam, kom die appél op ons as gelowiges om ons toe te lê op gasvryheid.  Die Lewende vertaling stel dit baie mooi: “maak ’n gewoonte daarvan om gasvry te wees, maak nie saak of dit oor kos of slaapplek gaan nie.”

Dit is baie maklik om kospakkies vir mense in nood uit te deel. Dit is waarskynlik baie moeiliker om ook teenoor hulle gasvry te wees en na hulle om te sien volgens hulle behoeftes vir verblyf en hul algehele welsyn. Gasvryheid is nie net om koppies tee te skink vir gaste of om ons gastekamer vir mense oop te maak nie. Dit is spesifiek gerig op mense in nood en die wat nie het nie. Vir ons as gemeente, kerk, geloofsgemeenskap, is hierdie ’n baie groot uitdaging , maar ook ’n geleentheid!  Ook waar ons nou soveel haweloses, en ander noodbehoewende mense rondom ons sien. Of ons daarvan hou of nie, ook teenoor hulle moet ons gasvry wees.

Laastens moedig Paulus ons in vers 15 aan: “Wees bly saam met die wat bly is, en treur saam met die wat treur.” Ja, een riglyn vir ons wat ons sterk aanspreek is om gefokus te wees op mense se gevoelens en emosies. Om regtig daarmee te kan identifiseer, asof dit ons eie emosies is. Daarom die versoek: identifiseer julle met die wat bly is, wees bly saam met hulle, en treur saam met die wat treur. Op so ’n wyse, raak ons ‘n venster van God se hart.

Gebed

Here, help ons om elke dag gasvry te wees teenoor mense wat ons nie eintlik as ons gaste wil aanvaar nie. Gee vir ons die gesindheid van Jesus Christus om ook met hulle te identifiseer en hulle te hanteer as waardige skeppinge van God.

Amen.

 

 

Gedagte vir die dag | Maandag 7 Februarie 2022

Romeine 12:12: “Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed.”

Ek hoop julle is so geïnspireerd deur hierdie stukkie juweel in die nuwe testament, soos ek.  Romeine 12 is vir my een van die hoogtepunt-hoofstukke in die hele nuwe testament. Ons het vroeër gesê dit gaan hier spesifiek oor riglyne, padaanwysings om as gelowige mense te reis, oppad na ons ewige bestemming toe. Waarvan ek hou is dat dit nie net toekoms gerig is nie, maar dat dit ons vandag help, in al ons omstandighede waarin ons tans leef en reis.

Vers 12 is weereens ’n wonderlike aanmoediging vir ons in hierdie proses, nog ’n praktiese direkte aanmoediging vir elkeen van ons. Hierdie vers gee weer “interne” aanmoediging. M.a.w. dit wat ’n persoonlik raak en wat my in my en deur my moet gebeur. Hier is dit gefokus op myself en nie op ander nie. Paulus noem weer drie sake, en die een vers waarin ons ook kan vashou vir aanwysings en padtekens – allereers, verbly  julle in die hoop!  Ons weet dat hoop saam met geloof en liefde, is een van die groot drie pilare van ons geestelike lewens wat Paulus onomwonde in al sy briewe verkondig.  Hoop, wat ons toekoms oopsluit en ons die geleentheid bied om uit te sien na ’n positiewe uitkoms. Dit sluit aan by ons entoesiasme, ons optimisme en blydskap oor die lewe. Daarom sê Paulus pertinent dat ons, ons in die hoop moet verbly. Dit moet ons lewe vreugdevolle sin gee omdat ons toekomsgerigte mense is, en glo in die toekoms van mense.

Die Lewende vertaling sê dit weereens baie mooi: “Wees bly oor die wonderlike toekoms wat God vir julle beplan.” Die tweede saak in hierdie vers is ’n aanmoediging om vas te byt, ook in tye van verdrukking en wanneer dit moeilik gaan. Dat ons nooit moet toelaat dat ons deur uitdagings en teenstand teruggedruk moet word in die skrum van die lewe nie.

Derdens: die belangrike aanmoediging: Volhard in gebed. Moenie dit begin afskeep nie, moenie met sleepvoete in jou gebedslewe leef nie, want dit is wat jou geesteskrag dinamies ontwikkel en wat jou gefokus hou op die wenstreep – die lewe by God.

Gebed

Dankie Here, dat ons ‘n toekoms het, en dat U in ons toekoms teenwoordig is. Help ons om ons te verbly in die hoop, om vas te staan in verdrukking en om aan te hou bid.

Amen.

 

Gedagte vir die dag | Sondag 6 Februarie 2022

Romeine 12:11: “Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here.”

Een van die mees beskrywende woorde in Afrikaans is, waarskynlik die woord geesdriftigheid of geesdrif.

Sommer by die aanhoor van die woord, word ’n mens al geïnspireer deur blydskap en opgewondenheid en lewensenergie! Dink gou aan wat deur jou gedagtes gaan wanneer jy die woord hoor en dit in jou eie lewe toepas. Wanneer en waar is jy regtig geesdriftig? Wanneer laas het jy werklik geesdrif beleef oor iets wat met jou gebeur, of iets wat jy gesien het?  In my gedagtes sien ek die beeld van ’n opgewonde skare langs die atletiek- of rugbyveld waar ’n span ’n drie druk,  of ’n atleet ’n rekord opstel en die skare soos een man in geesdrif juig en jubel.

Eintlik moet ’n mens ’n koppelteken tussen “gees” en “drif” plaas.  Die woord sê dit self. Ons raak so entoesiasties omdat ons gees-gedrewe is. Ja, dit kan ons eie geesdrif wees, ons emosies of ons gevoel wat ons aanmoedig en entoesiasties maak, maar ons wil dit ook beklemtoon dat dit die Gees is wat ons in die lewe tot entoesiasme kan aanvuur. Daarom is gelowiges in hul reis op aarde, mense wat gees-driftig is, met ander woorde gees-gedrewe.

In hierdie teksvers moedig Paulus sy lesers en gelowiges aan tot sulke geesdriftigheid. Hy besef egter dat ons geesdrif maklik in die verloop van ons lewens kan kwyn,  veral as ons teëspoed beleef. Ons kan by die punt kom waar ons toewyding verslap, ons liggie flouer begin brand en ons lewenslus gedemp word. Hy moedig gelowiges aan om nie in hul toewyding in God te verslap nie. Waarskynlik het dit dalk in die gemeente van Korinte gebeur, soos wat dit gebeur het in die gemeente van Effese waarvan ons in Openbaring 1 lees.  Hulle het hul eerste liefde verlaat.  Die lewende vertaling omskryf dit baie mooi: “moenie sleepvoet wees in jul toewyding nie”.  Die teenpool daarvan is juis wees gees-driftig, entoesiasties, opgewonde en gedrewe oor dit wat met my as gelowige gebeur. Gedrewe deur die hoop wat in my lewe is wanneer ons so geesdriftig en entoesiasties is, ook in ons toewyding aan die Here.  Dan kom die derde aspek in hierdie teksvers navore – dan sal ons geesdriftig wees in ons diens aan die Here, ons sal dit wat ons vir Hom moet doen, elke dag, met entoesiasme en ywer doen, omdat dit die Gees is wat ons aanmoedig en dryf daarnatoe.

Mag jy geesgedrewe bly in hierdie jaar!  Moenie sleepvoet raak in jou toewyding aan God nie, doen dit wat jou hand vind om te doen vir die Here, en doen dit met entoesiasme en ywer.

Gebed

Here, help my vandag ook om nie in my toewyding aan U te verslap nie, maar om altyd geesdriftig te bly en U met ywer te dien.

Amen.

 

Gedagte vir die dag | Saterdag 5 Februarie 2022

 

Romeine 12:10: “As broers en susters in God se huisgesin, moet julle mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer (Lewende Vertaling)

Weereens liefde! Liefde! Liefde!

Paulus, wat liefde uitgesonder het as die hoogste gawe en emosie, beklemtoon dit weer as die riglyn wat tussen mense – alle mense, moet dien.  Veral die wat saamgebind is in die huisgesin van God  . . . die gemeente, of geestelike gemeenskap. Nadat hy in die vorige vers reeds gesê het dat die liefde opreg en ongeveins moet wees, gaan hy voort om gelowiges aan te moedig om dit tussen mekaar praktiese gestalte te gee. Dit is baie interessant dat die Lewende vertaling daarna verwys as liefde waarmee ons mekaar koester.  Koester – is vir my persoonlik een van die mooiste woorde in die geestelike gemeente en kerk. Ons is mense wat mekaar koester en omgee vir mekaar om dan uiteindelik geïnspireer te word om ook alle mense met hierdie liefde te koester.  Dit is ’n riglyn vir ons vir die lewe, maar weereens ook ’n riglyn vir ons as gelowiges wat deel in die nuwe lewe wat Christus vir ons gegee het.

Paulus kwalifiseer hierdie koestering, of broederliefde verder as hy sê dit moet reflekteer in die eerbied wat ons vir mekaar het!  Sjoe!  Hierdie koesterende liefde veroorsaak, en lei daartoe, dat ons mekaar kan respekteer.  Dat ons eerbied vir mekaar kan hê en mekaar kan respekteer ongeag ons verskille. Tydens Callie Visagie se afskeidsboodskap op die 30ste Januarie het hy ook verwys na hoe  ons ’n ruim huis moet wees waar ons mekaar kan akkommodeer en met eerbied en respek kan koester. Mag die hartlike en opregte liefde ons elke dag die rigting wys, ook hoe om mekaar met eerbied en respek te hanteer.

Gebed:

Here help ons vandag, en in hierdie dae, om werklik as broers en susters mekaar te koester en voor in die ry te staan om mekaar met respek te hanteer.

Amen.

Gedagte vir die dag | Vrydag 4 Februarie 2022

Romeine 12:9b: “Verafsku wat sleg is, en hou vas aan wat goed is”

Gedagte: Die stryd tussen goed en sleg. . . tussen goed en kwaad, is seker een van die mees algemene uitdagings waarmee elke mens op aarde, maar veral ook gelowige mense, daagliks sukkel en worstel. Enkele ander vertalings werp ook goeie lig op hierdie teksvers: die direkte vertaling sê “julle moet die kwaad verafsku en vashou aan die goeie.” Die lewende vertaling vertaal dit as volg: “haat alles wat verkeerd is, kies kant vir dit wat goed is.”

Ons het die afgelope paar weke baie geseënde kampe vir ’n verskeidenheid kinders aangebied by Llandudno op die Apostel Battery kampterrein. Een van die aktiwiteite was toutrek op die strand!  Dit het in ’n groot stryd tussen twee groepe ontaard. Elkeen het gebeur na sy kant toe, om uiteindelik die oorwinning te behaal oor die ander een.  Die tou het uiteindelik gebreek tydens die intense spanning en stryd, met die gevolg dat die twee groepe lekker in die sand beland het!

Is dit nie maar hoe die lewe ook is nie? ’n Voortdurende stryd tussen reg en verkeerd, tussen sleg en goed.  Ons is midde in dit, elke dag moet bepaalde keuses gemaak word, veral waar ons voor sekere versoekings en uitdagings gestel word.  Baie verwys ook daarna as die etiese stryd, met etiek as die leer oor die regte verstaan oor wat reg en verkeerd is, wat goed en kwaad is met die gevolglike aanmoediging om altyd die goeie te kies.  Maar wat is goed,  en wat is sleg?   As ons by “sleg” mag begin, kwaad of verkeerd, glo ek dit is daardie situasies wat nie voldoen aan enige goeie standaard wat vir mense goed en aanvaarbaar is nie.  Dit wat afbrekend is, en nadelig is vir elkeen wat die keuse uitoefen.  As gelowiges kan ons ook na “sleg” verwys as dit wat teen die standaard van die Woord is, teen die standard van wat ons nuwe lewe in Christus van ons vereis. Ons hoef nie vandag ’n lysie te maak van kwaad en slegte goed nie – elkeen van ons ken dit en word elke dag daarmee gekonfronteer!

Daarenteen, is “goed” ’n aanduiding van dade en gedagtes wat positief en konstruktief is en aan die standaarde wat God aan sy kinders stel, voldoen. Iemand het op ’n stadium gesê die woordjie “good” kom van God se naam af.  Goed wil ’n afbeelding wees van wat God is, sy wil en sy standaard.

Vriende, soos nooit van tevore is ons besig met ’n toutrek kompetisie. Dit wat kwaad en sleg is, word op ’n skinkbord vir ons aangebied en dit word aanvaarbaar gemaak en raak geleidelik deel van ’n kultuur . . . dis hoe dinge nou maar gedoen word!  Daarom die direkte padaanwyser vir ons vandag,as mense wat dit wat sleg is verafsku en vashou aan dit wat goed is.

Mag die Here vir elkeen van ons help om elke dag die “sleg” te identifiseer en dit te vermy, maar ook help om  om te doen wat volgens sy standaard reg en goed is.

Gebed:

Here, lei my op die regte pad, die pad van goed. Amen.

 

Gedagte vir die dag | Donderdag 3 Februarie 2022

 

Romeine 12:9: “Die liefde moet opreg wees.”

Die eerste riglyn wat ons in hierdie week oordink, gaan oor die grootste opdrag volgens Jesus en ook die grootste gawe volgens Paulus en dit is die liefde!  Ons kan nie oor die Evangelie van Jesus Christus dink en praat as ons nie oor liefde dink en praat  nie. Hy is immers die beligaming van hierdie grootste saak wat Sy Vader gedryf het om Hom na hierdie wêreld te stuur.

Dit is baie interessant dat Paulus dit ook in hierdie gedeelte as ’n belangrike riglyn of rigtingaanwyser van ons lewe deur gee –  vir ons gedrag,  houding en daaglikse verhoudings. Dit moet ten alle tye die toets van ware opregte liefde kan deurstaan.

Dit is baie betekenisvol dat Paulus die liefde hier kwalifiseer as opregte liefde.  Ander Afrikaanse vertalings verwys hierna as “ongeveinsste liefde”.  ’n Engelse vertaling verwys daarna as “sincere love.”  Dit is nodig om liefde so te kwalifiseer aangesien liefde so maklik voorgegee kan word. Sogenaamde “fake or pretended love” – voorgee liefde.  Dit is wanneer liefde voorgegee word, en nie regtig bestaan nie. Liefde wat vals is, oneg! Liefde met oneerlike motiewe, altyd  met die vraag” “wat is daarin vir my?”

Selfliefde kan so maklik verwar word met Bybelse liefde. “Sincere love” is daarom ’n baie goeie beskrywing. Die woordjie “sincere” beteken eintlik oorspronklik “without wax.” Iets wat nie aangeplak of vals is nie.  Dit kom uit tradisie van pottebakkery waar gebreekte potte of potte met krake met “wax”(byewas) reggemaak is en krakge toegeplak is.  Dit is dan geverf en voorgesit as ’n goeie, heel pot om te verkoop.  Mense het baie gou agtergekom dat dit vals is, of met byewas reg gemaak is en nie die oorspronklike produk was nie. Paulus se verduideliking is dan dat ons met liefde “without wax”, eg en onvervals, moet wees.

Deurstaan jou liefde die toets van opregtheid?

Gebed:

Here, help my dat my liefde elke dag opreg sal wees. Amen

Gedagte vir die dag | Woensdag 2 Februarie 2022

 

Die teksvers vir die volgende paar dae kom uit Romeine 12:9-21. Gaan lees dit gerus solank deur ten einde om die geheel prentjie te kry. Ek sal dan by verskillende tekste in hierdie week stilstaan.

Kan jy jou voorstel dat jy op ’n reis gaan sonder enige padtekens langs die pad!  Padtekens of rigtingaanwysers teen die pad is krities belangrik om uiteindelik veilig by jou bestemming uit te kom. Ek het op ’n stadium gehoor iemand op die platteland verwys daarna as “pad-predikante!”

Uiteraard het ons ook padtekens nodig, rigtingaanwysers vir ons reis deur die lewe.  Dit is veral ook waar ten opsigte van ons geestelike reis, die pad wat ons loop as gelowiges deur die wêreld.  In die gedeelte waarna ek verwys in Romeine 12:9-21, vind ons verskeie sulke “padtekens” of rigtingaanwysers.  Ons het die afgelope paar weke by die mannegebedsgroep ook  by hierdie gedeelte stil gestaan. Iemand het toe daar opgemerk dat hierdie paar verse die riglyne vir ons hele geestelike reis baie mooi opsom. Die Bybel verwys daarna as riglyne vir die “Christelike lewe.” Ja, riglyne is uiters belangrik in verskeie aspekte van die lewe. Dit begelei jou, rig jou en lei jou.

Die aantal verse van Paulus in Romeine 12 voorsien aan ons uiters noodsaaklike riglyne. Maar WIE  is ons? Dit is ons wat graag in die spore van Jesus Christus, as sy volgelinge en sy dissipels wil volg.  Ons wat op reis is deur ons lewe en in hierdie wêreld. Ons wat reis op die pad na ons ewige tuiste. Ook vir ons is daar baie ander alternatiewe, afdraaipaaie, stoptekens en ander padtekens waarmee ons elke dag te doen kry.  Paulus praat in ’n ander gedeelte oor nuwe riglyne vir ’n nuwe lewe.  Die lewe wat ons as gelowiges leef is die NUWE LEWE! Ons is nuutgemaak deur Jesus Christus en daarom as nuwe mense op weg! Die padtekens in die Skrif, soos ook in hierdie gedeelte, help ons om op koers te bly op hierdie geestelike reis.

Mag die oordenkinge van hierdie week ons regtig inspireer om daarvolgens te lewe en dit toe te pas in elke fase van ons lewe.

Gebed

Here, wys my die pad, rig my, lei my.

Amen.

Gedagte vir die dag | Dinsdag 1 Februarie 2022

 

Aan die begin van nog ‘n maand wil ek jou vra om vir ‘n paar oomblikke terug te kyk oor die maand wat verby is en bewus te raak van die mense,  oomblikke, of geleenthede waarvoor jy dankbaar is.  Terwyl jy die oomblikke in jou gedagtes vashou, lees ek graag ‘n gebed van Dirkie Smit.  Ek hoop dat sy gebed jou sal help om bewus te raak van al die goeie gawes wat die Here vir jou gee:

Dankie vir die rolmodelle in ons lewe, Here.

Vir ouers, onderwysers, familie, vriende, vir sovele op ons pad –

Ons sien nog hulle gesigte,

Ons onthou nog hulle woorde,

ons hoor nog hulle stemme.

En ons dank U

 

Dankie vir die wonder van kennis;

Vir skole, vir wetenskap, vir tegnologie, vir denke, insig, verstand –

Ons ontvang die gawes van al die kennis, elke dag,

Ons ervaar die seëninge, ons proe, smaak, geniet die vele vrugte

Van al die groei, al die rykdom, al die wasdom.

En ons dank U.

Dankie vir beloftes van vernuwing;

Dat niks hoef te bly soos dit nou is nie,

Ook nie ons self, en ons eie lewe nie.

Dankie vir oë van hoop

Wat nuwe moontlikede vir môre kan sien;

Vir harte wat verander en vernuwe kan word-

Ons verheug ons dat ou dinge kan verbygaan,

En dat alles nuut kan word.

En ons dank U.

 

Dankie vir alle hemelse teenwoordigheid-

Onder ons, by ons, in ons, rondom ons.

Gee ons tog ook die fyn aanvoeling,

Die geestelike onderskeidingsvermoë

Om te kan hoor en sien en waarneem en herken, o Here.

Amen

Gedagte vir die dag | Maandag 31 Januarie 2022

Gebed vir die wêreld: ’n Gebed van Sheila Cussons

Dat ons leef omdat U leef is die eerste
van alles wat wonderlik is.
’n Wisselvloei is daar tussen U en ons.
U vloei in ons in en ons in U, en in U word
ons arme vog gesuiwer en vernuwe,
en ons self keer uit U terug en in ons in
deur die membraan wat tyd en wêreld is.
Membraan of illusie, so dun is dit, so nie,
so nêrens vir u begenadigdes –
Dankie dat ons wat onsself versteek vir ons naastes
gans oop is vir U en U oop.
Dankie vir die gladder as asemhaling heen en weer
tussen U en ons; dat tyd en ewigheid
mekaar deurdring, nie twee is nie maar een.
Dankie, God, vir die wonder, waarin die harde seer
wat wêreld is, sagter as asem oplos en verdwyn.

Gedagte vir die dag | Sondag 30 Januarie 2022

 

Ek wil jou graag uitnooi om vir ’n paar oomblikke vandag jou oë toe te maak en terug te reflekteer oor die week wat verby is en al die mense wat jou week gekruis het. Hou hulle in jou gedagtes vas en raak bewus van die konneksies wat daar was tussen jou en bekendes of vreemdelinge.

Vra jouself af waar het jy die ervaring gehad dat mense jou dalk welkom laat voel het. Was daar oomblikke waar jy gasvry was met nuwe vriende? Waar het jy die ervaring gehad dat mense jou laat voel het, dat jy jouself kan wees.

Mag jy hierdie week diep bewus word van hiedie oomblikke van verbintenisse met mense. Mag jy dit ontvang as geleenthede om iets van iemand te leer, en ook ’n geleentheid om iets vir iemand te beteken. Mag ons dankbaar wees vir elke konneksie en so die heligheid van alle mense raaksien

Ek lees graag ’n gebed van die Corrymeela-gemeenskap

God in a stranger’s hello,

God in a raised hand of greeting:

those simple gestures,

be it a glance toward a passer-by who looks back with a nod

or the friendly question about what breed of dog you’ve got there,

give us moments of connection

and remind us of days to come when instead of passing by or getting only as far as small talk,

we will be able to draw close and learn more from each other.

Until then, we give thanks for that stranger’s hello

and the greeting we offer in kind.

Amen.

 

1 77 78 79 128