Gedagte vir die dag | Vrydag 18 Februarrie 2022
Eksodus 3:7-8. Die Here sê toe vir hom: “Jy kan seker wees dat Ek gesien het hoe swaar my volk in Egipte kry. Ek het gehoor hoe hulle teen hulle slawedrywers om hulp roep. Ek is baie bewus van hoe swaar hulle kry. Daarom het Ek afgekom om hulle van die Egiptenaars te bevry en hulle weg te lei uit Egipte na hulle eie mooi, groot land.”
God se opdrag dat Moses die man is wat die Israeliete uit Egipte moes bevry, moes vir hom skokkende nuus gewees het. Hy bied toe ’n lang lys verskonings aan waarom hy dit nie kan doen nie. God verseker Moses egter toe dat hy saam met hom sal gaan. Met God se hulp, deur verskillende plae, haal hy die farao oor om die volk te laat trek. Maar met die Israeliete uit Egipte begin Moses se probleme toe eers – die volk is met niks tevrede nie en kla omdat daar nie vir hulle water of kos in die woestyn is nie. Elke keer onderhandel Moses met die Here en dan voorsien die Here in hulle behoeftes.
Onderwyl Moses op die Sinaiberg is, waar hy die kliptafels met die Tien Gebooie van God te ontvang, besluit die volk om vir hulle ’n goeie kalf te maak wat hulle as god aanbid. God se geduld met hulle raak op en Hy weier om verder saam met hulle te trek.
Weer tree Moses vir die ongehoorsame Israeliete in en weer luister God na Moses. Uiteindelik swerf die Israeliete vir 40 jaar deur die woestyn voordat hulle by die Beloofde Land aankom. Gedurende hierdie tyd het Moses daarin geslaag om sy verhouding met God lewend te hou en dit was ook die rede waarom hy al die uitdagings kon hanteer.
Dit is ook die boodskap vir ons vir vandag. God help ons met ons uitdagings. Hy dra ons wanneer ons sleepvoet deur die lewe gaan. Hy gee ons krag om die uitdagings van die lewe te kan hanteer.
Gebed
Hemelse Vader, help my om soos Moses my verhouding met U lewendig te hou sodat ek my probleme met U hulp kan oorkom.
Amen
(Geneem uit: Jy is Myne van Nina Smit)
Gedagte vir die dag | Donderdag 17 Februarie 2022
Genesis 45:4-5. “Kom nader na my toe,” sê hy. Hulle kom toe nader. Hy sê toe weer: “Ek is Josef, julle broer wat julle destyds verkoop het en na Egipte toe gebring is. 5Maar moenie julleself verwyt dat julle dit gedoen het nie. Eintlik is dit God wat dit bewerk het. Hy het my vooruit gestuur sodat julle lewens gespaar kon word.
Josef se jaloerse broers verkoop hom aan ’n groep slawehandelaars omdat hulle pa hom voorgetrek het. In Egipte word hy die slaaf van Potifar. Wanneer hy nie by Potifar se vrou wil slaap nie, beskuldig sy hom vals en die uiteinde is dat Potifar hom in die tronk gooi, waar hy vir jare moet bly.
Eers wanneer die Farao soek na iemand wat sy vreemde droom kan uitlê, onthou die Farao se skinker dat Josef sy droom in die tronk uitgelê het. Josef word uit die tronk gaan haal om die Farao se droom uit te lê. Josef verduidelik dat die Farao se droom beteken dat daar sewe jare van oorvloed kos en sewe jare van hongersnood vir die volk voorlê. Hy stel voor dat daar tydens die jare van oorvloed, kos gestoor word vir die hongersnood wat voorlê. Die Farao is so beïndruk met Josef dat hy hom aanstel om die land te berstuur.
Tydens die jare van hongersnood moes Josef se broers ook koring in Egipte gaan koop. Josef erken hulle dadelik, maar in plaas daarvan dat hy hulle straf vir dit wat hulle aan hom gedoen het, getuig hy dat God hulle gebruik het om lewens te red. Alhoewel Josef baie swaar gekry het, was God die hele tyd by hom.
Ons kan self daarvan getuig dat die lewe vir ons uitdagings bied en soms baie moeilik wees. Maar weet dat God ’n plan het en dat Hy jou nooit in jou storms alleen sal los nie.
GEBED
Here, leer my net weer dat ten spyte van al my eie negatiewe omstandighede U ook vir my positiewe dinge beplan.
Amen
(Geneem uit: Jy is Myne van Nina Smit)
Gedagte vir die dag | Woensdag 16 Februarie 2022
Ons gaan die volgende paar dae saam met ‘n paar karakters uit die Bybel wandel. Mag jy uit hulle inspirerende verhale ook krag vir jou eie lewe ontvang.
Gen 22:2. God sê vir hom: “Neem jou seun, jou enigste seun, ja, vir Isak wat jy so liefhet, en gaan na die land Moria. Offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal wys.”
Hierdie opdrag van God moes groot spanning by Abraham veroorsaak het. Miskien het hy eers gedink dat hy God verkeerd verstaan het. Hoe kan dit wees dat God van hom verwag om die seun waarvoor hy so lank moes wag te gaan offer? Maar Abraham praat nie teë nie. Sommer vroeg die volgende môre vertrek hy, twee slawe en Isak na die offerberg.
Op die derde dag, toe hule die berg in die verte sien, gaan Abraham en Isak alleen verder. Op Isak se vraag waar die offerlam dan is, antwoord Abraham dat God self sy eie offerlam sal voorsien.
By die plek wat God vir hom gewys het, bou Abraham toe ’n offeraltaar en maak sy seun bo-op die hopie hout op die altaar vas. Abraham se hart moes gebreek het, maar hy deins nie terug nie. Maar toe hoor hy God se stem: “Los jou seun, nou weet Ek dat jy My dien.” Toe Abraham rondom hom kyk, sien hy ’n ram wat aan sy horings in ’n bos vassit. Hy het die ram geneem en in Isak se plek geoffer.
Nou moet ek myself ook vandag afvra: “Hoe gehoorsaam is ek aan God?”
GEBED
Here, gee vir my die geloof en gehoorsaamheid van ’n Abraham dat ek bereid sal wees om U opdragte na te kom. Amen
(Geneem uit: Jy is Myne deur Nina Smit)
Gedagte vir die dag | Dinsdag 15 Februarie 2022
Welkom by Dinsdag, 15 Februarie se oordenking vir die dag. Mag jy vanoggend ware rus vind in die teenwoordigheid van die Here.
Ons is besig om as medepelgrims saam te reis. Die Psalms vanaf 120 tot 134 staan bekend as Pelgrimsliedere. Vandag sluit ons af en wandel saam in Psalm 134:
Kom! Prys die Here, julle almal, diensknegte van die Here, wat snags diens verrig in die huis van die Here. Hef julle hande op na die heiligdom en prys die Here. Mag die Here jou seën uit Sion, Hy wat hemel en aarde gemaak het.
Watter emosie het die teks by jou losgemaak en waar nooi God jou uit om diensbaar te wees?
- Skep dit opsies?
- Bring dit hoop?
- Maak dit vry?
- Daag die teks jou uit?
- Gee dit rigting?
Gebed
Here! Ons prys U Naam! Ons hef ons hande op na U! Mag U ons seën.
Amen
Gedagte vir die dag | Maandag 14 Februarie 2022
Welkom by Maandag, 14 Februarie se oordenking vir die dag. Mag jy vanoggend ware rus vind in die teenwoordigheid van die Here.
Ons is besig om as mede-pelgrims saam te reis. Die verskeie Psalms vanaf 120 tot 134 staan bekend as Pelgrimsliedere, wat gesing is terwyl mense na Jerusalem gereis het. Karl Barth sê die volgende: “When we are at our wits end for an answer then the Holy Spirit can give us an answer. But how can he give us an answer when we are still well supplied with all sorts of answers of our own?” Mag ons op ons geloofspad die kuns leer van luister en oorgee.
Vandag wandel ons saam in Psalm 133:
Kyk hoe goed, hoe mooi is dit as broers ook eensgesind saam woon. Dit is soos kosbare olie op die kop wat afloop op die baard van Aäron, wat afloop op die kraag van sy klere. Dit is asof die dou van Hermon afkom op die Sionsberge; want daar beveel die Here sy seën, lewe vir altyd.
Watter emosie het die teks by jou losgemaak?
- Skep dit opsies?
- Bring dit hoop?
- Maak dit vry?
- Daag dit jou uit?
- Gee dit rigting?
Gebed: Here, help ons om eensgesind te leef onder mekaar, want dit is vir U goed en mooi.
Amen
Gedagte vir die dag | Sondag 13 Februarie 2022
Welkom by Sondag, 13 Februarie se oordenking vir die dag. Mag jy vanoggend ware rus vind in die teenwoordigheid van die Here.
Ons is besig om as mede-pelgrims saam te reis. Labirinte word al vir honderde jare deur gelowiges ’n geloofsgewoonte gestap. Anders as doolhowe het labirinte ’n gedefinieerde paadjie wat die stapper na die middel van die labirint en weer daaruit lei. Die labirint is ’n metafoor van die lewe, asook ons eie geestelike reis. Gelowiges sien dit as ’n wandelende gebed wat vir ons die geleentheid skep om van God se teenwoordigheid bewus te word. Die proses nooi jou na die reis na binne om jou identiteit in Christus te ontdek en te ervaar hoe die Here jou reisgenoot deur die lewe is. Vandag wandel ons saam in Psalm 127:
As die Here die huis nie bou nie, swoeg die bouers tervergeefs daaraan. As die Here oor die stad nie wag hou nie, bly die wagte tervergeefs wakker. Tervergeefs dat julle vroeg opstaan, eers laat tot rus kom, kos eet wat moeisaam verkry is. Netsowel gee Hy dit aan sy geliefdes in die slaap. Kyk, seuns is ’n erfdeel wat van die Here kom; die vrug van die moederskoot is ’n beloning. Soos pyle in die hand van ’n krygsheld, so is die seuns van jou jeug. Gelukkig is die man wat sy pylkoker met hulle gevul het. Hulle sal nie beskaamd staan wanneer hulle met vyande in die stadspoort woorde wissel nie.
Watter emosie het die teks by jou losgemaak?
- Skep dit opsies?
- Bring dit hoop?
- Maak dit vry?
- Daag dit jou uit?
- Gee dit rigting?
Gebed
Here, U is die Een wat die huis instand hou. Mag U dit bou!
Amen
Gedagte vir die dag | Saterdag 12 Februarie 2022
Welkom by Saterdag, 12 Februarie se oordenking vir die dag. Mag jy vanoggend ware rus vind in die teenwoordigheid van die Here.
Ons is besig om as mede-pelgrims saam te reis. Die verskeie Psalms vanaf Psalm 120 – 134 staan bekend as Pelgrimsliedere. Ons weet dat gelowiges gereeld na Jesrusalem gereis het na die tempel, maar soos met enige reis het dit baie onveilig geword langs die pad en om iets van die reis te simboliseer is labirinte gemaak in kerke of buite in die gras ens. Hulle eindbestemming is nie ’n tempel, gebou of plek nie maar eerder ‘n oomblik op hulle lewensreis waar hulle die Here ontmoet (’n innerlike reis na binne). Elkeen van ons beleef hierdie ontmoeting op verskillende maniere en daarom is daar geen resep, metode of proses nie. Dit is ’n geleentheid vir ons om te oordink, te reflekteer, stil te wees en met die Here te praat en om leeg te raak van onsself en ons eie ego’s. En baie mense doen dit terwyl hulle stap. Vandag wandel ons saam in Psalm 126:
Toe die Here die lot van Sion verander het, was ons soos mense wat droom. Daarna is ons monde met gelag gevul, ons tonge met jubelkrete. Toe is onder die nasies gesê: “Die Here het iets groots gedoen aan hierdie mense.” Die Here het iets groots aan ons gedoen. Ons was verheug. Verander weer ons lot, Here, soos stroombeddings in die Negev. Die wat met trane saai, sal met jubelkrete maai. Die draer van die saadsak wat loop en huil, sal beslis terugkom met jubelkrete terwyl hy sy gerwe dra.
Watter emosie het die teks by jou losgemaak?
- Skep dit opsies?
- Bring dit hoop?
- Maak dit vry?
- Daag dit jou uit?
- Gee dit rigting?
Gebed
Here, vanoggend asem ons liefde in en blaas dankbaarheid uit!
Amen
Gedagte vir die dag | Vrydag 11 Februarie 2022
Welkom by Vrydag, 11 Februarie se oordenking vir die dag. Mag jy vanoggend ware rus vind in die teenwoordigheid van die Here.
Ons is besig om saam te reis as mede-pelgrims. Die verskeie Psalms van Psalm 120 tot 134 staan bekend as Pelgrimsliedere. Vandag wandel ons saam in Psalm 123:
Na U kyk ek op, U wat in die hemel woon. Kyk, soos die oë van slawe gerig is op die hand van hulle eienaar, soos die oë van ’n slavin gerig is op die hand van haar eienares, so is ons oë gerig op die Here ons God totdat Hy ons genadig is. Wees ons genadig, Here, wees ons genadig; want ons het meer as genoeg gehad van minagting; tot in ons diepste wese het ons meer as genoeg gehad van die spotlag van selfvoldane mense, van die minagting deur hooghartiges.
Watter emosie het die teks by jou losgemaak?
- Skep dit opsies?
- Bring dit hoop?
- Maak dit vry?
- Daag dit jou uit?
- Gee dit rigting?
Gebed: Here wees ons genadig en help ons om ons oë gerig te hou op U!
Amen
Gedagte vir die dag | Donderdag 10 Februarie 2022
Welkom by Donderdag, 10 Februarie se oordenking vir die dag. Mag jy vanoggend ware rus vind in die teenwoordigheid van die Here.
Ons is besig om saam te reis as mede-pelgrims. Die verskeie Psalms vanaf Psalm 120 tot 134 staan bekend as Pelgrimsliedere. Vandag wandel ons saam in Psalm 122:
Ek was bly toe hulle vir my gesê het: “Kom ons gaan na die huis van die Here.” Ons voete staan in jou poorte, Jerusalem – Jerusalem, gebou as ’n stad wat as ’n eenheid saamgebind is, waarheen die stamme optrek, die stamme van die Here, soos aan Israel voorgeskryf is, om die Naam van die Here te prys. Want daar staan trone vir regspraak, die trone van die huis van Dawid. Bid vir die vrede van Jerusalem: “Mag die wat jou liefhet, rustig leef; mag daar vrede wees by jou verdedigingswal, rustigheid in jou vestings.” Ter wille van my broers en vriende sê ek graag: “Mag daar vrede in jou wees!”Ter wille van die huis van die Here ons God wil ek die goeie vir jou nastreef.
Kom ons gaan na die huis van die Here om die Naam van die Here te prys. Mag ons daar bid vir vrede en mag ons die goeie nastreef ter wille van die huis van die Here ons God.
Watter emosie het die teks by jou losgemaak?
- Skep dit opsies?
- Bring dit hoop?
- Maak dit vry?
- Daag dit jou uit?
- Gee dit rigting?
Gebed
Mag ons na die huis van die Here gaan om u Naam te prys. Mag die wat jou liefhet, rustig leef, mag daar vrede wees! Ter wille van die huis van die Here ons God wil ons die goeie vir u nastreef!
Amen
Gedagte vir die dag | Woensdag 9 Februarie 2022
Welkom by Woensdag, 9 Februarie se oordenking vir die dag. Mag jy vanoggend ware rus vind in die teenwoordigheid van die Here.
Ek nooi jou graag uit om vir die volgende sewe dae saam te reis as ’n mede-pelgrim.
Pelgrimstogte het ontstaan in die tyd van die Ou-Testament. Die volk van Israel wat oor groot areas versprei was, was met gereelde tussenposes opgeroep na die Tempel in Jerusalem om ’n verskeidenheid van feeste by te woon. Ondermeer die Paasfees. Op pad daarheen het hulle dan liedere gesing. Hierdie liedere is toe daarna in die Psalms opgeteken en ons vind dit vanaf Psalm 120 tot 134. Daar word hierna verwys as die pelgrims Psalms. ’n Pelgrimstog of reis het in die lig van die Ou Testamentiese gebruik altyd ’n geestelike komponent en einddoel gehad.
So vir die volgende sewe dae reis ons saam in hierdie uitgesoekte Psalms wat as Pelgrimsliedere bekend staan. Kom ons wandel vandag saam met Psalm 121:
“Ek kyk op na die berge: Waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die Here, wat hemel en aarde gemaak het. Hy sal nie toelaat dat jou voet struikel nie; jou Beskermer sal nie insluimer nie. Kyk, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie. Die Here is jou Beskermer; die Here is jou skaduwee aan jou regterhand. Bedags sal die son jou nie skaad nie, en snags ook nie die maan nie. Die Here sal jou beskerm teen elke onheil; Hy sal jou lewe beskerm. Die Here sal jou uitgaan en jou terugkeer beskerm van nou af en vir altyd.”
Refleksie:
Watter emosie het die teks by jou losgemaak?
- Skep dit opsies?
- Bring dit hoop?
- Maak dit vry?
- Daag dit jou uit?
- Gee dit rigting?
Gebed:
Ek kyk op na die berge op my pelgrimstog, my lewenspad: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? Ek kyk in die geloof oor die berge, Here, na U wat hemel en aarde gemaak het. Van U kom my hulp: ek sal nie struikel nie. U beskerm my, U wat nooit insluimer of slaap nie. U beskerm my teen alle gevare, U beskerm my bedags sowel as snags. U beskerm my waar ek ook gaan, nou en vir altyd.
Amen.