GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Woensdag 2 Maart 2022

Op hierdie Aswoensdag nooi ons mekaar in lydenstyd in. Ons raak bewus van ons eie seer, skaamte en gebrokenheid en ook dat God by ons is.

Ek lees graag vir julle ‘n gebed, spesifiek vir die mense van die Oekraïne.

Lord Jesus, humble ruler of the universe

Our older brother Paul knew full well that we would find it almost impossible to pray in times of deep darkness. He tried to reassure us that the Spirit will intercede for us when our words fail us.

We know this feeling: the inadequacy of words.

But right know, the people of Ukraine know it better.

Holy Spirit, please pray for them and with them. And us.

For the old man who has signed up to fight to save his grandchildren.

For the woman lifting mattresses to cover the windows.

For the soldiers who confidently greeted their children.

For the office workers patting their pets in underground train stations, hoping that the electricity stay on.

Lord have mercy.

Lord Jesus, we don’t want to remember that you told us to love our enemies and pray for evil governments. But we do.

So while we don’t want to, we pray for those: the power-hungry, the mad, the evil.

Lord have mercy on them too but stop them in the meantime, please.

Our list is long this morning, and will be for quite some time.

Thank you for not only hearing our long pleas, but for translating our fears into sentences that make sense.

Lord Jesus, humble ruler of the universe, we believe and trust in you.

You are the Savior, and no one else.

Amen

Gedagte vir die dag | Dinsdag 1 Maart 2022

Johannes 6:20.  “Dit is Ek, moenie bang wees nie.”

Ons almal ken die storie toe Jesus se dissipels tydens ’n hewige storm op die see van Galilea gevrees het vir hulle lewens en hoe Jesus op die water na hulle toe gestap het. Dit is toe dat Hy hierdie woorde gespreek het: “Dit is Ek, moenie bang wees nie.”

Net ‘n tydjie later, toe Jesus saam met hulle aan wal kom en ‘n aantal mense ontmoet wat hom soek, sê hy die volgende: “Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het.”  Ons soek dikwels net vir God in die wonders en vergeet dat hy ook in die normale uitdagings van die lewe, by ons is. Ek dink aan daardie baie bekende sin in die Onse Vader gebed. “Gee ons vandag ons dag se brood”. Nie ’n maand se broodvoorraad nie, net genoeg vir vandag, want more is Hy weer daar om my genoeg te gee vir dié dag wat voorlê. Raak vandag bewus dat, alhoewel jy nie weet waarvan jy môre gaan leef nie, die Here elke dag in jou lewe verskyn om jou te gee wat jy daardie dag nodig het. Mag dit vandag die vrees en onsekerheid in jou tot bedaring bring. Maar meer nog dat dit jou juis in staat stel om vandag ‘n goeie en produktiewe dag te beleef.

Gebed

Here, die storms in my lewe oorweldig my. Ek voel vasgevang in wat ek om my sien en hoe mense om my oor die gevare van die hede praat. Bring vandag die rus van hierdie teks in my totstand. Om U in my alledaagse te ontmoet en kom maak die storm in my stil sodat ek kan fokus op wat hierdie dag belangrik is.

AMEN.

Gedagte vir die dag | Maandag 28 Februarie 2022

Hebreeuse 2:18.Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy die help wat versoek word.

Ons gaan nou ’n tyd van die jaar binne wat ons lydenstyd noem en wat oor sewe weke uitloop in die gebeure in Jerusalem toe Jesus gely het, gekruisig is en uit die dood opgestaan het. Die bedoeling van dié tyd is nie net om ons gedagtes in ’n rigting te lei nie, maar dat ons die lydenstyd op ’n manier aan ons lywe voel.  Dit is wanneer jy die fisiese en psigiese seer en swaarkry aan jou lyf voel dat vanoggend se teks vir jou diep betekenis kry.  Die Here kan jou help, want Hy weet hoe dit voel om aan omstandighede uitgelewer te word.

Wat dra jy in hierdie jaar se lydenstyd met jou saam?  Wat is die seerkry en swaarkry wat jou in die afgelope tyd oorweldig het en jy voor die Here wil bring. Reis saam met ons in die gemeente in die volgende paar weke van lydenstyd waarin daar ’n klomp aktiwiteite plaasvind. Sien ons weeklikse afkondigings daaroor.  Raak in hierdie tyd bewus van die eenvoudige realiteit dat God jou hulp is. Hy weet hoe jy voel en dit is Hy wat vir jou in hierdie tyd vrede bring.

Gebed

Here, die jaar het sopas op spoed gekom en ons is almal besig met ons vaste roetines. Help ons om in hierdie lydenstyd van rat te verwissel.  Breek ons roetines sodat ons in eenvoud saam met ander u lydensweg kan beleef en ook daarin kan ontdek hoe U die pad saam met ons elkeen stap. Maak hierdie woorde van ‘n baie ou lydingslied in die volgende paar weke deel van jou asemhaling.

Vervul, o Heer, my hart met stille wyding waar ek herdenk die diepte van u lyding. U lyding breek my trotse hart en rede; dit buig my neer, en skep in my u vrede . . .  vrede wat my verander”.

Gedagte vir die dag | Sondag 27 Februarie 2020

1 Johannes 2:2.Hy is die versoening vir ons sondes; en nie net vir ons sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld

Ons praat dikwels daarvan dat ons as gelowiges moet getuig. Wat sou dit beteken? Moet ons ’n tipe gedrag wat deur moraliteit gekenmerk word, promofeer? Is dit wat Christene vandag kenmerk? Moet ons mense probeer oortuig om meer godsdienstig te wees en gereeld kerkdienste by te woon? Wat is Christene se getuienis en wat hoop ons om daardeur te bereik?

Een van Paulus se diepste insigte wat sy lewe verander het was dié gedagte in Romeine 3:23, “almal het gesondig en is ver van God af, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing van Jesus Christus”. Oral waar Paulus gekom het, het hy eenvoudig hierdie realiteit, wat hy self beleef het, met mense gedeel. In 2 Kor. 5:18 sê Paulus dat hierdie boodskap van versoening aan ons toevertrou is en dat ons dus as gesante van Christus optree.

Om dus te getuig beteken om eerstens die genade van die Here vir ons eie onvolmaaktheid te ontdek en hierdie vergifnis wat ons van God ontvang het ook met ander te deel. Die Here maak reg wat stukkend en seer is. Dit moet ons in woord en daad verkondig. Wat het jy om vandag te getuig?

Gebed

Neem my lewe laat dit Heer
U gewy wees meer en meer
Laat my hart gedurig juig
En van dankbaarheid getuig

Neem my hande, maak hul sterk
Diensbaar in U goeie werk
Neem my voete skoei hul Heer
Met bereidheid tot U eer

Neem my stem en laat my sing
Aan U Here hulde bring
Laat my mond die boodskap dra
Hul sal vind wat na U vra

Gedagte vir die dag | Donderdag 24 Februarie 2022

Jeremia 18:5. Toe kom die woord van die Here tot my: Kan ek nie met julle doen wat hierdie pottebakker met die klein gedoen het nie, Israel? vra die Here. Soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in my hand, Israel.

Dit is nie vir ons vandag maklik om na die sosiale en politieke omgewing om ons te kyk en te dink dat die Here ook daardeur besig is om ons land en sy mense te vorm nie. Ek onthou goed die einste Februariemaand in die Paarl toe Nelson Mandela uit die Victor Verster gevangenis vrygelaat is. Ek was toe in matriek in die Paarl op skool en het op die besondere warm somersdag gesien hoe helikopters in die verte oor die gevangenis sirkel.  Alhoewel die naam Nelson Mandela bekend was, het min mense voor sy vrylating sy gesig gesien en die feit dat ‘n gevangene nou vry was het mense in my eie omgewing baie onrustig gemaak. Dit was ‘n angstige tyd en toe moes ons landsvlag en volkslied ook nog boonop verander. Ek dink vandag voel ons baie anders oor die verlede. Hoe presies die Here besig is om nasies te vorm sal ons nooit regtig kan verstaan nie. Ons begrip en insig daarvoor is te beperk. Daarby is ons by tye soos ’n stuk harde klei wat nie altyd gewillig is om gebrei te word nie.  Wanneer ons vandag weer na ons land se sosiale en politieke omgewing kyk is ’n mens geneig om op dieselfde manier as die verlede te reageer. Daarom die gebed – Here brei en vorm ons om in hierdie tyd van nut te wees.

Gebed

Seën ons Here God, seën Afrika.

Laat sy mag tot aan die Hemel reik,

Hoor ons as ons in gebede vra

Seën ons in Afrika

Kinders van Afrika.

Daal neer Gees,Heilge Gees kom woon in ons

Lei ons, O Heilige Gees

Lei ons, O Heilige Gees

Gedagte vir die dag | Woensdag 23 Februarie 2022

 

Johannes 10:10Ek het gekom sodat julle die lewe kan hê, en dit in oorvloed. Ek is die goeie herder.

Hoeveel keer moes jy al in jou lewe op pak en verhuis om elders ’n nuwe fase van jou lewe te begin.  Alhoewel ons in ’n leeftyd net ’n paar maal hoef te verhuis, bring die lewe ons voortdurend voor nuwe lewensfases waar jy iets van die bekende moet prysgee en die onbekende van die toekoms in moet reis.  As jy nog jonk is klink hierdie tipe verandering lekker en opwindend, maar saam met die ouderdom raak dit al moeiliker.  Vir sommige mense vul die blote gedagte van ’n onbekende toekoms hulle met angs en vrees. Ons vind sekuriteit in die bekende en wil nie toelaat dat iets ons roetine, perspektiewe, of denke kom deurmekaar krap nie.

Vanoggend herinner die teksgedeelte in Johannes ons dat ons in elke nuwe tuiste en fase van die lewe oorvloed in die lewe kan geniet. Dit is waartoe die Here ons lei. In watter plek of fase van die lewe bevind jy jouself? Jou tuiste vandag is dat die Here jou herder is. Mag Hy jou vandag in die onbekende, by plekke en mense bring wat nuwe betekenis gee.

Gebed

Here, ek gaan hierdie dag baie broos in. Daar is geen manier om te weet hoe dit gaan verloop en wat oor my pad gaan kom nie. Ek kyk dikwels vas in my vrese en frustrasies. Elke dag is vol daarvan en dit vul my gedagtes, gesprekke en dag. Lei my vandag Here om in hierdie dag die oorvloed lewe te kan beleef wat U belowe. Verander my perspektiewe oor die plekke en mense wat ek vandag gaan besoek. Laat my tuiskom in die onbekende wat vandag op my wag.

Gedagte vir die dag | Dinsdag 22 Februarie 2022

Lukas 8:41-42.  41’n Man met die naam Jaïrus, ’n leier van die plaaslike sinagoge, het gekom en voor Jesus se voete neergeval en Hom gesoebat om saam met hom na sy huis te gaan. 42Sy enigste kind, ’n dogter van twaalf, was sterwend.

Wanneer Jairus se 12-jarige dogtertjie terminaal siek word. Smeek hy Jesus om na sy huis te kom en haar gesond te maak. Terwyl hulle op pad daarheen is, drom die mense soos gewoonlik om Jesus saam. Jairus moes baie gespanne gewees het, want hoe langer Jesus talm, hoe groter is die kans dat sy dogtertjie kan sterf. Jesus bly egter doodkalm.

By Jairus se huis was ’n klomp mense reeds besig om oor die dogtertjie te rou. Maar Jesus verseker hulle dat sy net slaap. Hulle het Hom uitgelag. Toe stuur Jesus hulle almal weg, behalwe  drie van Sy dissipels en Jairus en sy vrou. Jesus neem die dogtertjie se hand en sê vir haar: ”Dogtertjie, staan op”. Haar lewe het teruggekom en sy het onmiddelik opgestaan.

Dis moes ’n moeilike opdrag gewees het vir Jairus toe Jesus vir hom sê om om nie te ontstel nie, maar net te bly glo.  Indien jy weer ‘n baie traumatiese situasie beleef, volg Jesus se raad aan Jairus.  Moenie ontsteld word nie bly net glo.

Gebed

Here, maak dit asseblief vir my moontlik om in krisissituasies nie ontsteld te raak nie, maar net in U te bly glo.

Amen

(Geneem uit: Jy is Myne van Nina Smit)

 

Gedagte vir die dag | Maandag 21 Februarie 2022

Johannes 4:17-18.  Die vrou het dadelik reageer: “Ek het nie ’n man nie.” Jesus beaam dit toe: “Jy het tereg gesê: ‘Ek het nie ’n man nie.’ 18Want jy het reeds vyf mans gehad en die een wat jy nou het, is eintlik nie jou man nie. Dit wat jy gesê het, is die waarheid.”

Wanneer Jesus vir die Samaritaanse vrou by die put water vra, skend Hy omtrent al die Joodse gebruike van die tyd. Die Jode het die Samaritane as ver benede hulle beskou.  Die vrou moes groot geskrik het, toe ‘n Joodse man skielik met haar begin praat het.  Toe Hy haar vertel dat Hy die langverwagte Messias is en vir haar van Sy lewende water aanbied, los sy haar waterkruik  net daar by die put en gaan vertel die mense van haar dorpie van Jesus.

Indien jou verlede nie onbesproke is nie, kan jy soms ongemaklik en gespanne daarvoor voel. Jesus laat egter nie jou verlede teen jou tel nie. Hy is altyd bereid om jou te vergewe.  Hy sal ook jou sondes van die verlede vergewe en vir jou die water van die lewe aanbied

Gebed

Hemelse Here, ek loof U dat U, u lewende water ook vir my aanbied en my sondes van die verlede vergewe. Amen

(Geneem uit: Jy is Myne van Nina Smit)

 

Gedagte vir die dag | Sondag 20 Februarie 2022

Lukas 1:30-31 “Moenie bang wees nie, Maria,” het die engel gesê, “want God het besluit om jou te seën! 31Jy sal swanger word en ’n seun hê en jy moet Hom Jesus noem.

Wanneer die jong ongetroude Maria die nuus kry dat sy swanger gaan raak en ‘n seun in die wêreld bring, moes dit vir haar ’n geweldige groot skok gewees het. Die engel het toe ook nog bygevoeg dat haar baba die Seun van God is. Toe sy by die engel wou weet hoe dit hoegenaamd moontlik is dat sy swanger kan raak, sê die engel dat niks vir God onmoontlik is nie. Maria het seker gewonder of haar verloofde en die mense van Nasaret hierdie vergesogte nuus sou glo. Tog is Maria onmiddelik bereid om God se opdrag uit te voer en stel sy haarself volkome tot beskikking van God.

Soms kry jy ook ‘n opdrag van God wat vir jou aan die begin dalk onuitvoerbaar lyk. Ontdek dan soos Maria dat niks vir God onmoontlik is nie, As jy bereid is om Hom onvoorwaardelik te vertrou en vir Hom “ja” te sê soos Maria, sal Hy jou ook in Sy koninkryk gebruik.

Gebed

Hemelse Here, maak my bereid om soos Maria onvoorwaardelik vir U ja te sê sodat die plan wat U vir my lewe het deur U uitgevoer kan word. Dankie dat ek vir seker weet dat alles vir U moontlik is. Amen.

(Geneem uit: Jy is Myne van Nina Smit)

 

Gedagte vir die dag | Saterdag 19 Februarie 2022

1 Konings 19:3-4  3Elia het baie bang geword en vir sy lewe gevlug. Hy het na Berseba, ’n dorp in Juda, gegaan en sy dienaar daar agtergelaat.  4Hy self het die woestyn ’n dagreis ver binnegegaan. Hy het toe onder ’n besembos gaan sit en gewens dat hy liewer maar moet sterf.

Die profeet Elia, wat so onverskrokke ’n hele leër Baalprofete gekonfronteer het, se moed het hom begewe toe hy ’n doodsdreigement van koningin Isebel ontvang.  Hy vergeet skoon hoe God hom by Karmel gehelp het en vlug toe eerder die woestyn in.  Daar gaan sit hy onder ’n besembos en wens dat hy eerder dood gaan.  “Nou is dit genoeg, Here,”  kla hy by God.        God versterk toe die moedelose Elia met roosterkoek en water.  Hierna kry hy genoeg krag om 40 dae lank te loop tot by Horeb.  Daar skuil hy in ’n grot en kla by die Here dat Israel hulle verbond met Hom gebreek het en dat al die profete doodgemaak is, dis net hy wat oorgebly het.  Maar God praat met Elia in ’n sagte windfluistering.  Hy kry ’n nuwe opdrag om Gasael as die koning van Aram en Jehu as die koning van Israel te gaan salf.  Hy moet dan ook vir Elisa salf om hom as profeet op te volg.

Juis wanneer Elia sielsmoedeloos meen dat sy enigste opsie die dood is, ontdek hy dat God nog belangrike take het wat hy moet verrig.  As jy dalk op die oomblik moedeloos is en jammer voel vir jouself, luister of jy nie dalk God se stem met jou in die stilte hoor praat nie.  Dalk het hy ook vir jou ’n opdrag.

Gebed

Here, vandag voel ek soos Elia onder die besembos-moedeloos en jammer vir myself. Vergewe my asseblief. Ek wil nou stil word sodat ek U stem kan hoor. Amen

(Geneem uit: Jy is Myne van Nina Smit)

1 75 76 77 128