GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Dinsdag 22 Maart 2022

Vandag is Dinsdag, 22 Maart en ons reis saam in gebed oor gebed. Matt 6:13. “Laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die bose . . .”

Die Bybel, kan ’n mens amper sê, is ’n boek van versoekinge, een lang aaneengerygte verhaal van versoekingsgeskiedenisse. Ons lees van talle soorte van versoekingsverhale: van verhale waar mense vir God versoek, van verhale waar God mense versoek, van verhale waar mense mekaar versoek, van verhale waar die verskrikkinge van die lewe gelowiges versoek en van Jesus se eie versoekinge. Waarom is versoekinge so ’n verskriklike ernstige saak? Omdat dit in versoekinge, in aanvegtinge gaan om die moontlikheid dat ons van God losgeruk kan word, dat ons alles kan wen terwyl ons aan God skade ly, dat ons selfs, ongemerk en onbewus, die belangrikste wat daar is, kan mis. En dit kan op soveel maniere gebeur. Dikwels gebeur dit juis deur die onskuldigste, oënskynlik goeie dinge in die wêreld; deur die gawes van die lewe wat vir ons belangriker word as die Gewer. Mag die week van gebed wat verby is, jou in inlei in hierdie lydenstyd, sodat jy die Onse Vader BID, GLO en LEEF.

Gebed: Here, laat ons nie in die versoeking kom nie, maar verlos ons van die bose. Amen.

Gedeeltelik geneem uit: Woord teen die Lig – Dirkie Smit

 

Gedagte vir die dag | Maandag 21 Maart 2022

Vandag is Maandag 21 Maart.  Ons vier Menseregtedag en ons reis saam in gebed oor gebed. Matt 6:12.” Vergeef ons ons oortredings soos ons ook die vergeef wat teen ons oortree . . .” 

Ons weet die Here wil ons vergewe, Hy kan ons vergewe, Hy het alles klaar gedoen, Jesus het die prys betaal, sodat God ons kan vergewe – maar ons moet ook ons skuld bely. Ja, die Here kan en wil ons vernuwe, ons verander en ons heelmaak en ook alles daarvoor is klaar gedoen en betaal. Maar skuldbelydenis, skulderkenning en gebrokenheid is die smal poort waardeur die Gees van die Here inkom in ons lewe om sy werk daar te doen. As ons Hom nie hier laat inkom nie, kan ’n klomp van die goed wat die Here in ons lewe wil doen, net nie gebeur nie. Die Here druk hierdie saak op ons hart en staan daarby dat ons ons sondes sal bely – nie omdat dit ’n voorwaarde vir vergifnis is, of omdat Hy kwaai is, of omdat Hy ons wil verneder nie, maar omdat sonde-erkenning en gebrokenheid die plek, die enigste plek, is waar hartsvernuwing en lewensverandering begin. Mag die week van gebed jou inlei in hierdie lydenstyd, sodat jy die Onse Vader kan BID, GLO en LEEF.

Gebed: Here, vergeef ons ons oortredings soos ons ook die vergeef wat teen ons oortree. Amen.

Gedeeltelik geneem uit: Soos Jesus ons leer bid het van Coenie Burger.

 

 

 

 

Gedagte vir die dag | Sondag 20 Maart 2022

 

Vandag is Sondag, 20 Maart en ons reis saam in gebed oor gebed. Matt 6:11 Gee ons vandag ons daaglikse brood…

Wat hoor ons in die bede: “Gee ons vandag ons daaglikse brood”? Ons hoor ’n God wat weet dat ons fisieke behoeftes in die lewe het en wat ons graag daarmee wil help. Dit is interessant dat van die vroeë kerkvaders hierdie ding nie so goed verstaan het nie en dat baie van hulle die bede vergeestelik het deur “brood” te sien as ’n verwysing na die nagmaal. Hulle bedoelings was seker goed, maar ons het geen ondersteuning daarvoor nie. Dit gaan in die bede oor ons fisieke behoeftes – en dit word hier voor ons geestelike behoeftes genoem! Die Here weet dat ons soms so bekommerd kan raak oor ons daaglikse, tydelike benodigdhede dat Hy daaraan aandag gee voordat ons by ons geestelike behoeftes kom. Dit is regtig so dat ons na die Here kan kom met al ons bekommernis en sorge. Die waarheid oor God is dit: Hy het ons liewer as wat ons Hom het. Hy gee meer vir ons om as wat ons vir Hom omgee. Hy is meer gereed om ons te antwoord as wat ons dikwels is om met Hom te praat. Hy is meer gereed om ons te help as wat ons dikwels is om Hom om hulp te vra. Dit is die God wat ons dien. Mag die week van gebed jou in inlei in hierdie lydenstyd, sodat jy die Onse Vader kan BID, GLO en LEEF.

Gebed: Here, gee ons vandag ons daaglikse brood. Amen.

Gedeeltelik geneem uit: Soos Jesus ons leer bid het van Coenie Burger.

 

Gedagte vir die dag | Saterdag 19 Maart 2022

 

Vandag is Saterdag, 19 Maart en ons reis saam in gebed oor gebed. Matt 6:10. “Laat u koninkryk kom; Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.”

Origenes het van hierdie bede (“Laat U wil geskied, soos in die hemel, net so ook op die aarde”) gesê: As die wil van God op aarde gedoen word soos in die hemel, sou die aarde nie langer aarde gewees het nie, maar sou ons almal in die hemel gewees het. En omgekeerd het CS Lewis gesê dat die wese van die hel ten diepste niks anders is nie as dat ons onophoudelik ons eie wil soek en dit wil laat geskied. Hel is dat God ons oorgee aan ons eie wil en sê: Nou goed, doen dit, en dra die gevolge. Hel is dat ons vasgemaak word aan, gehou word by, ons eie opstandigheid en eiewilligheid. Alle gevolge van ons eie wil sluit altyd ook ’n stukkie vloek en hel in, vir onsself, maar ook vir ander. Reflekteer vandag oor God se wil in jou lewe. Mag die week van gebed jou inlei in hierdie lydenstyd, sodat jy die Onse Vader kan BID, GLO en LEEF.

Gebed: Here, laat U koninkryk kom, laat U wil geskied. Amen.

Gedeeltelik geneem uit Woord teen die Lig – Dirkie Smit

 

 

 

 

 

Gedagte vir die dag | Vrydag 18 Maart 2022

 

Vandag is Vrydag 18 Maart en ons reis saam in gebed oor gebed. Matt 6:9 “Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word.”

Van al die bedes in die Onse Vader is die bede “Laat U Naam geheilig word” die moeilikste een om goed te verstaan. Ons ken die uitdrukking en sê dit maklik wanneer ons bid, maar wat beteken dit presies dat God se Naam geheilig word? Om die bede te verstaan, moet ons mooi kyk na die twee woorde “naam” en “heilig”. In die Bybel was ’n naam baie belangrik. Iemand se naam het in daardie tye gewoonlik vir mense iets van die persoon self gesê. So beteken Adam “mens”, en Eva “lewensmoeder”. Vir Israel was God se Naam, wat aan hulle bekend gemaak is, daarom ’n saak van groot erns. Die Naam het vir hulle gesê wie God is: die God wat hulle tegemoetgekom en hulle sy volk gemaak het. Wat meer was: hierdie Naam was op ’n manier al wat hulle van hierdie God gehad het. Vir Israel was God se Naam geassosieer met God self; as jy oor die Naam gepraat het, het jy oor God gepraat – Hy was sy Naam. As jy gevra het dat sy Naam geheilig word, het jy gevra dat Hy self – God, geheilig sou word.

Die tweede belangrike woord in die bede is die woord “heilig”. Die woord “heilig” beteken in Matteus 6 iets soos geëer word, erken word, gesien word vir wat dit in werklikheid is. Om daarom te bid dat God se Naam geheilig word, beteken om te vra dat God self geëer word, dat Hy gesien, erken en eerbiedig sal word vir die groot, magtige en wonderlike God wat Hy is. Mag die week van gebed jou inlei in hierdie lydenstyd, sodat jy die Onse Vader kan BID, GLO en LEEF.

Gebed: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word. Amen.

Gedeeltelik geneem uit: Soos Jesus ons leer bid het van Coenie Burger.

Gedagte vir die dag | Donderdag 17 Maart 2022

 

Vandag is Donderdag, 17 Maart en ons reis saam in gebed oor gebed. Lydenstyd wat ’n tyd van vas, gebed, eenvoud en refleksie is wil ons lei oppad na die kruis. Mag die KRUISHOUTKLANKE van GENADE – KRUISKUNS van GEBEDE in ons lewe word.

Kom ons bid saam:

Ons Vader wat in die hemel is, Laat u Naam geheilig word; Laat u koninkryk kom; Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. AMEN

Iemand sê: “If we understand the Lord’s Prayer, all our questions we have in life will be answered.” Reflekteer vandag oor hierdie spesifieke gebed en dink na oor jou eie gebedslewe. Mag die week van gebed jou begelei in hierdie Lydenstyd, sodat jy die Onse Vader kan BID, GLO & LEEF.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Gedagte vir die dag | Woensdag 16 Maart 2022

Vandag is Woensdag, 16 Maart en ons gaan die volgende sewe dae met die oog op die gebedsweek wat die week aangebied word ’n bietjie meer oor gebed reflekteer. Daar is ’n Latynse gesegde in die kerk wat lui: Lex orandi, lex credendi, lex vivendi.

Dit beteken: soos mense bid, so glo hulle en so lewe hulle ook. Met ander woorde hoe jy bid en hoe jy glo en hoe jy lewe, staan alles in direkte verband met mekaar. Dit is dus duidelik dat hoe ons bid dikwels veel meer verklap van ons lewe saam met God en met mekaar in hierdie wêreld as wat ons moontlik besef. Toe die dissipels Jesus eendag gevra het om hulle te leer bid, het Hy vir hulle die Onse Vader-gebed geleer. In die volgende sewe dae gaan ons die Onse Vader-gebed as basis gebruik om ons te help om met God te praat oor sy teenwoordigheid, heiligheid, sy wêreld, sy wil, behoeftes, begeertes, vergifnis, boosheid en broosheid. Die doel van die proses is om as individue, maar ook as gemeente, saam dieper te groei in ons verhouding met God. Iets wat die afgelope jare al meer ontdek is, is dat Bybelse geloof nie primêr gaan oor kennis van God nie, maar oor die ken van God. Mag hierdie sessies met God ons help om ons geloof te vorm, sodat ons God beter kan ken, en mag dit ons lewens verander, sodat ons vir God ’n Rivier van Lewende Water in hierdie wêreld kan wees.

Gebed:

Ons Vader wat in die hemel is, Laat u Naam geheilig word; Laat u koninkryk kom; Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.

AMEN

 

Gedagte vir die dag | Dinsdag 15 Maart 2022

Lukas 23:46 “Vader, in U hande gee ek my Gees oor.”

Hierdie gebed van Jesus word tradisioneel beskou as die sewende en laaste kruiswoord van Jesus voordat Hy sterf. Die afgelope week kon ons stilstaan by die sewe woorde wat vir ons die gordyn ’n bietjie oopgetrek het op die ware hart van Jesus Christus.  Baie kon geleer word uit die evangelies oor wat Jesus gesê het en oor hoe Hy mense geleer het. Op die kruis kry dit ’n nuwe dieptepunt. Ons sien iets baie spesiaal van die hart van Jesus! Dit terwyl Hy in die ergste vorm van pyn verkeer. Ons sien ’n hart wat omgee en wat  pleit vir mense wat self in nood is. Dit is gesprekke, gebede, pleitbedes en kreuninge van pyn en nood.

Gedurende hierdie Lydenstyd wil ons juis hierby stilstaan, en daarmee identifiseer om weer die waarde van die kruisiging van Jesus Christus vir onsself te onderstreep. Plaasvervangend in ons plek het Hy daar gehang. Hy het die volledige prys betaal, en soos ons kon sien uitgeroep: “Dit is volbring!”

Hierdie sewende kruiswoord is die finale gebed of uitroep van Jesus. Sterwend sê hy nogeens vir Sy Vader: “In U hande gee ek my gees oor.”  Hy besef dat Sy aardse werk goed en volledig voltooi is, en Hy gee homself  nou terug in die hande van sy Vader.

Dit is ’n gebed van kinderlike vertroue. Om dit alles in sy Vader se hande oor te laat, ongeag die feit  dat Hy nakend aan ’n kruis hang en gespoeg en bespot word. Maar Jesus gee nie in, of op nie, Hy gee oor.  Hy gee oor aan Sy vader.

Ons besef dat Jesus se Vader, ook ons Vader is, en dat ons ook ons hele lewe aan Hom kan oorgee, en Hom daarmee vertrou.

Ons sluit hierdie paar oordenkinge oor Jesus se kruisiging af deur ’n vers uit die pragtige aandgesang aan te haal: “Ek weet aan wie ek my toevertrou het, al wissel dit ook dag en nag, ek ken die rots op wie ek gebou het. Van wie ek al my heil verwag. En aan die einde van my lewe, vir al u seën en goedheid Heer, u dank en eer.”

Here, in u hande gee ek ook my lewe oor. Dankie dat ek so baie van u kon leer, in dit wat u op daardie dag op Golgota, uitgeroep het. Amen.

Gedagte vir die dag | Maandag 14 Maart 2022

Goeiemôre!  Dis vandag Maandag, en ons is steeds besig om te reis deur die sewe kruiswoorde van Jesus terwyl Hy aan die kruis op Golgota gehang het, net voordat Hy Sy laaste asem uitgeblaas het.

Ons lees vanoggend saam uit Johannes 19:30: “Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring.”

Enkele maande gelede het ek die wonderlike ervaring gehad om die laaste paaiement van my huisverband af te betaal. Vir ongeveer 20 jaar het ek maandeliks geworstel om hierdie groot skuld te vereffen. Toe ek by die laaste betaling kom, kon ek oorwinnend uitroep: “Dit is klaar!”. Ek het my volledige skuld vereffen. Wat ’n ongelooflike bevryding was dit nie. . . my skuld is volledig afbetaal. Die rekening is skoon! Die verband kan afgelos word en ek het die aflosbrief ontvang!

Die sesde kruiswoord van Jesus is eintlik ’n oorwinningskreet! Dit gaan ook oor die aflos van skuld. Die volledige klaarmaak van ’n bepaalde taak – aflos. Jesus, het voordat Hy die laaste asem uitblaas geroep: “Dit is volbring.” Die Griekse woord is Tetelestai, wat eintlik die kwitansie is dat al jou skuld afbetaal is. Jesus het Sy aardse reis voltooi en uiteindelik daarby gekom om hierdie groot uitspraak te kon lewer, nadat Hy al sy verlossingswerk en versoeningswerk afgehandel het. Tetelestai!  Dit is volbring!

Die rekening van die opgestapelde sonde, wat ons teen God het, is nou ten volle deur Jesus betaal, daar is geen meer skuld teen ons nie. The slate is clean!

Ons kan in vreugde deel in hierdie sesde kruiswood van Jesus, omdat ons die direkte begunstigdes is, eintlik meer as begunstigdes. . . ons is die vrygespreektes deur hierdie volledige versoeningswerk van ons Verlosser. Hy wat dit deur sy kruis moontlik gemaak het. Is dit nie ook vir jou inspirerend dat Jesus nie halfpad opgehou het nie? Hy het deurgedruk deur bittere lyding en ’n onmenslike kruisiging en dit inspireer my om alles in my vermoë te doen om alles wat ek doen, klaar te maak! Vas te byt, al gaan dit baie moeilik, sodat ek ook aan die einde van my lewe kan sê: “Dit is volbring.” Ek het die goeie stryd gestry en nou wag daardie oorwinningskroon!

Here, dankie dat U nie halfpad opgehou het met die moeilijke werk nie. Dankie vir hierdie kruiswoord.. TETELESTAI!

Amen

 

Gedagte vir die dag | Sondag 13 Maart 2022

 

Dis is die dag van die Here… die dag waar ons as kerk ook die opstanding vier. Mag dit vir jou ’n baie geseënde Sondag wees.

Ons staan vandag stil by Jesus se vyfde kruiswoord. Voordat Hy Sy laaste asem op Golgota uitgeblaas het, lees ons in Johannes 19:28 : “Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”

Ek is dors. Het jy al ooit iemand desperaat hoor uitroep “Ek is dors!”  Kan jy terugdink wanneer jy die dorste in jou lewe was, waar jy alles sou gee om net ’n slukkie water te kan kry? So tref ons vir Jesus aan. Na 16 ure van hengse pyn aan die kruis op Golgota, sê Hy: “Ek is dors”

Dors, of om dors te wees, is immers die mees menslike, mees fisiese behoefte. Dit geld vir alle lewende organismes, mense, diere, plante, ens. Dat Jesus ook dors word en daardeur  Sy volledige menswees  bewys, sien ons alreeds in die gesprek met die Samaritaanse vrou in Johannes 4. Hy sit  by die put  en vra vir die vrou: “Gee vir my ’n bietjie water om te drink.”

En dan ook weer hier aan die kruis waar Hy in menslike nood, gedehidreer deur die intense ervaring, uitroep en uitroep: “Ek is dors, gee my asseblief iets om te drink.” Met die vorige kruiswoord, toe Jesus uitgeroep het: “My God, my God waarom het U my verlaat?”, het ons iets gesien van Jesus se alleenheid, sy Godsverlatenheid.  Dit was ’n intense emosionele en  geestelike uitroep van die een wat volledig mens en God was. Hier hoor en sien ons iets van Jesus se menslikheid. Hy is volledig mens met menslike behoeftes soos pyn, lyding en  emosionele laagtepunte.  Juis daarom verstaan Hy ons menslikheid, gebrokenheid, pyn en nood so goed.

Hy kan juis, omdat Hy volledig mens is, daarmee identifiseer en ons met volle begrip daarin bystaan. Maar ook op geestelike vlak, Hy weet ook baie goed van ons geestelike dors. Van ons dors na God, ons dors na ’n dieper wandel saam met God, van ons behoefte aan geestelike bevryding en ’n vol geestelike lewe. Daarvoor hang Hy aan die kruis, om ook ons geestelike dors te les. Soos Hy ook op geestelike vlak, die dors van die Samaritaanse vrou kon les, Johannes 4:13: “Maar Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ‘n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.”

In ons liedboek is ’n pragtige vers in lied 399: in die pyn, daar aan die kruishout, klink sy woorde sewe keer – woorde van vergifnis, liefde en aanvaarding deur die Heer.  Ook die woorde van alleenheid: “Ek het dors!” Dis is volbring, ek gee my gees oor en sy hoof sak op sy bors.

Here, dankie dat U my dors verstaan, omdat U self dors was.

Amen.

1 73 74 75 128