GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Vrydag 1 April 2022

Matteus 26:38.  “Ek voel doodsbenoud, bly hier en waak saam met my”

Wanneer ons vasgedruk voel, raak ons benoud. Jy het nie spasie of ruimte om asem te haal nie en dan voel dit mos asof jy gaan versmoor. Terwyl daar wel oorgenoeg spasie om jou is om asem te haal, is dit soms die sielkundige gevolg van omstandighede op ons. Dis kompleet asof jy deur die onsigbare mag van die situasie versmoor word.

Jesus is bewus daarvan dat sy dissipels se asems binnekort deur sy wrede kruisiging en dood weggeslaan gaan word en hy voel self vasgekeer deur die wete. Dié dat hy hulle leer om wakker te bly en te bid. Hy leer hulle . . . asemhaal. Daar is lewe in doodsbenoude situasies. Wanneer ons eendag gaan sterf gaan jy die kosbare lewensasem waaraan jy jou lewe lank vasgehou het uitblaas – sonder enige vrees, want die Here het ons geleer dat niks ons ooit van die Here se liefde kan skei nie.

Wat in jou lewe veroorsaak dat jy doodsbenoud voel? Ervaar hoe die Here in hierdie eenvoudige sin jou help om in die moeilikste en donkerste situasies asem te haal. Om deur te bid en te waak tot die besef te kom dat my lewe selfs in die lig van dood veilig is.

Gebed

Here, ek bid nie vir totale kalmte van gees, of selfs dat al my swaarkry dadelik moet end kry nie. Ek weet en aanvaar dat daar in hierdie wêreld altyd pyn en moeilikheid sal wees. Maar ek bid vandag dat u Gees, u liefde en genade my sal vul met soveel krag en uithouvermoë dat ek enige iets wat oor my pad sal kom, sal kan geniet of verdra. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus, die Here.

 

 

Gedagte vir die dag | Donderdag 31 Maart 2022

 

Markus 14:38. Julle moet waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig maar die vlees is swak.

Lydenstyd en die groot Lydensweek wat wag is ’n wonderlike tyd in ons kerkjaar om te volg. Baie gelowiges probeer om in hierdie tyd te vas, of om hulle daaglikse roetine te verander om hulself aan Jesus se lydensweg en die betekenis daarvan te herinner. In ons eie gemeente het ons die gebruik om rooi kruise voor ons huise vas te maak.

Vandag se teks praat met ons oor versoekings. Vir my gaan dit in die besonder oor ons fokus. Ons lewe saam met die Here se lyding en sterwe stel ons instaat ons ook ons eie en ander mense se lyding en sterflikheid op ’n ander vlak te beskou.  In die plek van vrees en ongelukkigheid bring dit insig en vrede.  Moenie hierdie volgende paar dae wat na die Groot Lydensweek opbou by jou laat verbygaan,  deur in jou daaglikse roetine vas te haak nie.  Neem tyd in die dag deur gebed, stilte en nadenke of deur ’n gedeelte uit die Bybel te lees waarmee jy jouself herinner dat Christus se lyding, sterwe en opstanding ons lewens ingrypend aanraak.

Gebed (liedboek 391 wat in 1627 geskryf is)

Vervul o Heer my hart met stille wyding, weer herdenk ek die diepte van U lyding. Hoe U daar aan die kruis vir my gesterf het, my heil verwerf het.

U lyding breek my trotse hart en rede; dit buig my neer en skep in my U vrede. Dit bring die heil wat my, Gods teëstander, tot vriend verander.

 

Gedagte vir die dag | Woensdag 30 Maart 2022

Markus 14:31. Maar Petrus het nadruklik gesê: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!” En al die ander het dieselfde gesê.

Oor eeue heen bely gelowiges saam hulle geloof in die Here. Ons hou vas waaraan ons glo en sou ook soos Petrus kon sê: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie”. Tog, loop ons eie lewens nie anders as dié van Petrus en die ander dissipels wat van Jesus gevlug het toe hy gevange geneem is nie. Vanoggend se teks wil ons nie veroordeel nie, maar help verstaan dat wanneer omstandighede ons geloof oorval, alles nie verlore is nie.

Ons glo in die Here wat die wêreld liefhet en wat ons kom leer oor vergifnis en genade. Maar in ons leef daar haat, vergelding en baie negatiwiteit oor ons omstandighede. Ons leef met die geloof dat die Here ons in staat stel om enige uitdaging of probleem om te keer, maar ons maak so maklik berge van molshope. Die woorde en gedagtes om te kritiseer en te baklei vloei dikwels sonder ophou . . . maar ons glo!  Ons verloën die Here!

Mag ons weer in hierdie dag diep onder die indruk kom dat die Here begrip het vir ons menslike reaksies, maar dat die besef ons ook vandag wil omkeer om nog steeds die Here na te volg en dat ons verwonder sal staan in hoe die Here ons verander.

Gebed

Here, laat ons met U saamloop, U vergesel. Gee ons lig uit u goedheid. Maak ons soos U – sodat ons waarlik mens kan word. Lewensmeester, in U sien ons wat menswees waarlik is. In U aangesig sien ons die aangesig van God. Waar U is, word die wêreld anders. Verander ons ook, Here! Maak van ons mense. Here, ons glo – kom ons ongeloof tot hulp (Jörg Zink).

Gedagte vir die dag | Dinsdag 29 Maart 2022

 

Psalm 131  ‘n Pelgrimslied. Van Dawid. “Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here. Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. 2Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. 3Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.”

Baie mense, veral toegewyde Christene, besef die belang en waarde van gebed aan die begin van hulle dag. Tog weet ons nie altyd wát of hóé om te bid nie. Ek self het die waarde van centering prayer ontdek. Willem Nicol noem dit “die gebed van die hart”.

Hierdie vorm van gebed vra nie baie tyd van ons nie, ongeveer 20 minute elke oggend voordat ons met ons dagtake begin. Dit vereis ook nie baie woorde nie. Wel net een woord, soos die Naam van God of Jesus. Of ʼn frase soos “Kom, Heilige Gees!” of “Here, my God” waarmee ons, ons verlange na God uitdruk. Dit is al.

Die belangrikste is dat ons ons gemoed tot kalmte sal bring en ʼn rukkie in stilte by God sal gaan rus, soos ʼn kindjie by sy ma. En wanneer ons gedagtes begin ronddwaal, soos gewoonlik gebeur, is die raad dat ons rustig sal terugkeer na die één woord, of frase waarmee ons voor God stil geword het. Ons herhaal dit saggies om só naby aan God te bly.

Natuurlik sluit hierdie vorm van gebed nie uit dat ons, soos Jesus ons geleer het, allerlei dinge van God kan vra nie. Ons behoort ook vir ander in te tree en die wêreld se nood voor God te bring. Maar dit is dikwels eers wanneer ons rustig geword het by God en toegelaat het dat God ons met liefde vashou, dat ons sal weet hoe en waarvoor ons behoort te bid. Beproef gerus hierdie gebed van die hart.

GEBED

Here dra my deur die diepe water, waar ek self nie meer kan staan

In U arms is ek veilig, wanneer U my dra as ek nie verder kan gaan.

Ek mag naby aan U bly, soos ‘n kind op die vader se skoot.

Ek mag naby aan U bly, dit is die plek waar ek hoort.

Amen

 

Gedagte vir die dag | Maandag 28 Maart 2022

Markus 6:31  “31Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen saam na ‘n stil plek toe en rus ‘n bietjie.”

In hulle boek First Things First van Stephen Covey and Roger and Rebecca Merrill vra hulle die vraag: “Wat is die een aktiwiteit wat jy weet as jy dit doen, het dit ’n baie goeie en positiewe invloed op jou lewe?” En as jy weet dat dit so ’n goeie invloed op jou lewe het, waarom doen jy dit meer nie?  Hulle skryf dan hoe ons dikwels die dinge doen wat ons beskou as dringend eerder as die dinge wat werklik belangrik is.

Hierdie selfde vraag kan ons van toepassing maak op ons geestlike lewe. Wat is daardie een belangrike aktiwiteit wat jy weet as jy dit gereeld en konstant doen dat dit werklik positiewe resultate in jou lewe sal hê?  En as jy weet wat dit is waarom doen jy dit nie gereeld nie? Een van hierdie aktiwiteite wat beslis ’n beduidende invloed in ons lewens het is tyd saam met God. Om in Sy Woord te wandel en tot Hom te bid.

God skep met rede die sewende dag as ‘n rus dag.  Nie dat Hy noodwendig rus nodig gehad het nie, maar Hy het geweet ons het. Om gebalanseerd te lewe moet daar tye van rus wees. Rus van dit wat ons elke dag doen, wat dit ook al is, maar ook tye van refleksie oor ons lewe en oor God. Sonder hierdie tye word ons soos rotte op ‘n wiel, ons hardloop al hoe vinniger maar kom nêrens nie. God het vir ons so ‘n dag vir elke week gegee – kom ons gebruik dit vir die doel waarvoor dit gegee is en tot ons eie welsyn. Kom ons kom elke dag in die ritme van stilword by die Here.

GEBED

Hemelse Vader, mag ek nooit so besig wees dat ek nie tyd maak vir rus by U nie.

Amen

Gedagte vir die dag | Sondag 27 Maart 2022

 

Markus 14:3  3Jesus was in Betanië in die huis van Simon die melaatse. Terwyl Hy aan tafel was, het daar ‘n vrou gekom met ‘n albaste fles egte, baie duur nardusolie. Sy het die fles oopgebreek en die inhoud daarvan op sy kop uitgegiet.

Jesus is ‘n gas by ‘n feestelike maaltyd in die huis van Simon. Tydens die maaltyd kom daar ‘n vrou na Jesus toe. Dit is Maria, die suster van Lasarus en van Marta. Markus noem nie haar naam nie, want dit gaan vir hom nie oor wie sy is nie, maar oor wat sy gedoen het. Sy het naamlik ‘n fles met nardussalf by haar. Nardussalf was ‘n baie duur parfuum wat vervaardig is van die blare van ‘n plantjie wat in Indië groei. Wanneer sy vervolgens die fles se breek, wys sy daarmee dat sy die hele inhoud gaan gebruik, en nie slegs ‘n paar druppels nie. Sy giet alles oor Jesus uit. Oor sy kop, en van daaraf vloei dit af oor die res van sy liggaam.

Met die eerste oogopslag is daar iets verkwistends in hierdie handeling, die disspels is daarom ook nie baie gelukkig nie. Parfuum het immers die doel om ‘n persoon lekker te laat ruik, en daarvoor het jy net ‘n druppel of wat nodig, beslis nie ‘n hele fles nie. En daarom lug hulle ook hul verontwaardiging – hier is ‘n klein kapitaal wat verlore gaan sonder enige nut. Wanneer die vrou die res van hierdie salf sou verkoop het, sou dit ‘n bedrag opgelewer het wat ‘n dagloner omtrent in ‘n jaar verdien het. Kan sodanige luuksheid teenoor die armes verantwoord word? Jesus het sy volgelinge dan juis geleer om vir die armes te sorg. Binne hierdie konteks lyk die optrede van die vrou onvanpas.

Maar Jesus oordeel anders: “sy het ‘n goeie werk aan My gedoen.” Volgens Jesus is die groot hoeveelheid salf wat sy gebruik geen verkwisting nie, maar eerder ‘n voorbereiding vir Sy begrafnis. Jesus kyk egter anders en nooi ons uit om anders te kyk.  Hy sien waarde in almal, selfs in Simon. Jesus sien waarde in dié vrou, teen die konvensies van sy tyd, en aanvaar haar liefde vir hom met grasie en genade. En haar lewe word daardeur verander. Dit nooi ons ook om met oë van liefde na ander mense te kyk.

 GEBED

Hemelse Vader dankie dat U ook al my sonde vergewe het. Help my om na ander uit te reik. Help my ook om met sagte oë na ander mense te kyk. Amen

Gedagte vir die dag | Saterdag 26 Maart 2022

 

Habakuk 3:17-18.   “17Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, 18nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.”

  • Al sou petrol styg tot by R40 per liter
  • Al sou jy in die volgende rondte afleggings by jou werk wees
  • Al sou jy aansoek doen vir vele poste en steeds nie werk kry nie
  • Al sou jou huweliksmaat jou net nie meer verstaan nie
  • Al sou jou kinders net meer uitdagend raak
  • Al sou die boelies by die skool jou snoepiegeld steel

Sal jy nogtans in die Here kan Jubel? Sal jy kan juig in God jou Redder?? . . . sal jy kan . . .  Habakuk sê hy sal.

In die boek Habakuk worstel hy met die Here oor al die slegte dinge wat met die volk gebeur.  Hy sit en huil voor die Here: “Hoe lank nog, Here? Ek roep om hulp … Twis ontstaan en rusie neem toe. Daarom het die wet sy krag verloor … goddeloses omsingel die regverdiges.” (Hab 1:2-4).

Die Here gee vir Habakuk ’n antwoord. Dit gaan nog baie slegter gaan voor dit beter gaan. Maar, sê die Here ook, daar kom wel ’n einde aan hierdie lyding. Die Here sal ’n uitkoms gee, maar Habakuk moet geduldig daarvoor wag. Dit is dan dat Habakuk die woorde in Habakuk 3:17-18 uitjubel. Al sou die heel ergste gebeur (sê Habakuk), sal hy nogtans in sy hart bly wees oor die Here, en dit ook met sy mond uitjubel. Let wel, hy sal nie bly wees oor die teëspoed nie, maar in die teëspoed sal hy bly wees in en oor die Here – hy sal bly wees omdat die Here daar is.

Ons amal raak somtyds bedruk, dit is tog normaal. Dan moet ons, ons kruis met blymoedigheid dra. Dit beteken nie dat ons dan net vrolik moet wees nie. Jy moet dan net soos Habakuk kan sê: “Nogtans sal ek jubel.” Jy moet in moeilike tye steeds kan sing, “It is well with my soul”. Daar is altyd rede om bly te wees en te jubel. Waaroor kan ons as gelowiges nog bly voel, selfs in moeilike omstandighede? Dink net, God sal altyd vir jou lief wees en altyd by jou wees.

Billy Graham het gesê: “Die onverdienstelikheid van genade en seën maak dat Christene die enigste mense is wat regtig iets het waaroor hulle permanent kan bly wees.”

GEBED

Hemelse Here, dankie dat ek kan weet dat U ook in my moeilike omstandighede by my is.

Amen

Gedagte vir die dag | Vrydag 25 Maart 2022

 

Psalm 91:1-2.  “Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, 2hy sê vir die Here: “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.”

Daar is baie dinge in die lewe wat ons bekommer en ontstel. Vat nou byvoorbeeld die oorlog tussen Rusland en die Okraïne. Al is ons nie direk daarby betrokke nie het dit tog ’n impak op ons lewens en is ’n mens bekommerd oor die uitloop van die gebeurtenis. Dit is dan so gepas om die volgende woorde in Psalm 91 te hoor: “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.”

Wat wil die Psalmis vir ons sê?  Dít – dat jy tot rus kan kom te midde van al die gevare en bedreigings van die lewe, omdat God by jou is; dat jy by die Here kan skuil wanneer die lewe rof raak; dat jy nie bang hoef te wees vir noembare en onnoembare bedreigings nie. God is immers daar. Hy red waar jy nie kan nie. Daarom hoef jy nie angstig rond te kyk nie, of te dink jy is op jou eie nie. Nee, God belowe dat Hy by jou sal wees in nood en dat Hy sal antwoord as jy Hom aanroep (vers 15).

Jou vertroue op God tel jou op, sodat jy elke aardse vrees, elke menslike twyfel en elke bekommernis kan agterlaat. Dit lig jou op tot bokant die neerdrukkende werklikhede van die alledaagse lewe, sodat jy met hoop kan leef – ’n sekerheid wat net geloof jou kan gee.

So bid gerus Psalm 91, soek skuiling by die Allerhoogste, en kom tot rus. Jy is veilig in God se hand. Hy bewaar jou op só ’n wyse dat daar selfs nie ’n haar van jou kop kan val sonder dat die Vader dit weet nie.

GEBED

Here, dankie dat ek onder U vleuels kan skuil. Vandag bid ons asb vir vrede waar daar oorlog is. Mag U asseblief ’n oplossing gee.

Amen

Gedagte vir die dag | Donderdag 24 Maart 2022

 

Markus 14:32-34 32Hulle kom toe by ’n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit julle hier terwyl Ek gaan bid.” 33Daarop neem Hy Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom. Toe pak ’n geweldige ontsteltenis en benoudheid Hom 34en Hy sê vir hulle: “Ek is benoud tot sterwens toe! Bly hier en waak!”

Het jy al ooit ervaar dat die angs jou keel toedruk en jy voel asof jy nie asem kan haal nie? Dit voel asof iemand op jou borskas sit en jou uiters benoud laat.  Ek het al baie gewonder of dit nie is hoekom Jesus daardie Dondagdagaand uit die stad weg geglip het om in die stilte van die Olyfberg, waar hy en sy dissipels dikwels bymekaar gekom het, te gaan sit nie. Hy was dalk net so benoud.

In Getsemane was Jesus werklik alleen en baie bang. En juis daarin lê die angs wat die sweet van Hom laat afdrup het en op die grond soos bloeddruppels geval het. Want onthou, Jesus wéét presies wat op Hom wag. Hy weet van die fisiese marteling wat wag, van die spykers wat hulle deur sy hande en voete gaan kap, van die dors en die spierkrampe wat gekruisigdes letterlik van hulle verstand af gedryf het. Hy weet dit alles. Maar vreemd soos dit klink, is dit nog die minste. Want wat Hom eintlik in die tuin van Getsemane benoud laat voel het, was die storm wat daar oor sy kop saampak. Die verskrikking wat die magte van die duisternis oor hom gaan losmaak, ’n storm waarin Hy stoksielalleen gaan staan. Hy het geweet dat binne dié duisternis gaan die Vader Hom nie help nie, want dis al hoe Hy vir ons sonde kan betaal.

Dis die duisternis wat sy keel toedruk en wat Hom die nag in Getsemane toevou.  Die verstikkende duisternis van eeue se goddeloosheid en sonde. En onthou, Hy ly as ’n mens. Hy kies om nie sy goddelike mag te gebruik nie. En juis daarin lê dan ook die wonder van Getsemane. Jesus kon op enige oomblik “Nee!” sê.  Nee, Ek gaan terug hemel toe waar Ek hoort, en laat hulle aan hulle lot oor. Hy kon dit doen, maar Hy het spesifiek gekies om dit nie te doen nie. Dis met ons in gedagte dat Hy tog die pad van die kruis gestap het.

GEBED

Hemelse Here, hoe kan ek ooit genoeg vir U dankie sê, vir die groot daad aan die kruis vir my. Vandag word ek maar net weer stil en sê ’n eenvoudige: “Dankie, my Heer!”

Gedagte vir die dag | Woensdag 23 Maart 2022

Johannes 13:14.   “As Ek dan, wat julle Here en Leermeester is, julle voete gewas het, moet julle ook mekaar se voete was.”

Ons vra die vraag: “Wie se voete moet ons was?”. Mense sê graag ons moet doen soos Jesus gedoen het. Kom ons kyk dan wie hierdie dissipels, wie se voete Jesus gewas het, was:

  • Dit was die manne wat probeer keer het dat Jesus die moeders en kindertjies te woord staan en seën – omdat hulle gedink het moeders en kindertjies is te onbelangrik vir Jesus en sy dissipels.
  • Dit was die dissipels van wie ons in Matteus 18 lees wat baklei het oor wie die belangrikste in die Koninkryk gaan wees – totdat Jesus ʼn kindjie nader geroep het.
  • Dit was Petrus, die rots, wat aangehou het om Jesus te verraai – totdat die haan gekraai het (Joh. 18:27).
  • Dit was Thomas, wat nie wou glo dat Jesus opgestaan het nie – totdat hy sy vinger in die wonde aan Jesus se hande en sy kon steek.
  • Dit was die vriende van Jesus wat nie eers een uur saam met Hom kon wakker bly nie terwyl Hy in angs bloed gesweet het en God gesmeek het om die beker by Hom te laat verbygaan – totdat Hy alleen Getsemané binne gegaan het.
  • En dit was ook Judas – Judas Iskariot – die verraaier.

Daarna sê Jesus : “Ek het vir julle ʼn voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen” (Joh. 13:15).

Wie se voete moet ons was as ons Jesus se voorbeeld wil volg?

Dit is:

  • Die persone wat reken jy is nie goed genoeg vir hulle geselskap nie.
  • Die ouens wat reken hulle is die belangrikste in die Koninkryk van God.
  • Vriende wat jou in jou diepste nood versaak het.
  • Die Thomasse in jou lewe wat reken jy is nie geloofwaardig nie.
  • Die Johannesse wat jou getroue vriende is.
  • Die Judasse in jou lewe wat verraai en moor.

Maar voordat jy hoef te buk om voete te was buk Hy, Jesus Christus, wat jou tot die uiterste toe liefhet, af en was jou voete. Hý ag jou waardig om jou voete te was nét soos jy is.

GEBED

Hemelse Vader, stuur mense op my pad wie U wil hê ek moet vergewe, liefhê en wie se voete ek moet was.

Amen

1 72 73 74 128