Gedagte vir die dag | Maandag 11 April 2022
Vandag is Maandag, 11 April en ons is besig om oor die tafel en Jesus se tafelgesprekke met ander te reflekteer. Die tafel is ’n simbool van die stukkende wêreld waarin ons leef. Jesus se verraaier was saam met Hom aan tafel! Dit is mos dikwels die mense naaste aan ons wat ons die seerste maak. Maar die tafel is ook die simbool van hoop, van vergifnis en versoening.
Kom ons wandel vandag saam in Lukas 22:7-23
1 Die dag van die ongesuurde brood, waarop die paaslam geslag moes word, het aangebreek. 8 Jesus stuur toe vir Petrus en Johannes vooruit met die opdrag: “Gaan berei die paasmaaltyd vir ons voor dat ons dit kan eet.” 9 Hulle vra Hom: “Waar wil U hê moet ons dit voorberei?” 10 Toe antwoord Hy hulle: “Kyk, net soos julle die stad ingaan, sal ‘n man wat ‘n kruik water dra, julle ontmoet. Gaan saam met hom tot in die huis waar hy ingaan, 11 en sê vir die eienaar van die huis: ‘Ons Leermeester vra u: Waar is die kamer waar Ek met my dissipels die paasmaaltyd kan eet?’ 12 En hy sal julle ’n groot bovertrek wys wat klaar daarvoor ingerig is. Daar moet julle dit voorberei.” 13 Hulle het gegaan en dit gekry net soos Jesus vir hulle gesê het, en die paasmaaltyd voorberei. 14 Toe dit tyd was, het Jesus aan tafel gegaan en die apostels saam met Hom. 15 Hy sê toe vir hulle: “Ek het baie daarna uitgesien om hierdie paasmaaltyd saam met julle te eet voordat Ek ly. 16 Ek sê vir julle: Ek sal dit nie weer eet voordat dit in die koninkryk van God sy volle betekenis gekry het nie.” 17 Daarna neem Hy ‘n beker, spreek die dankgebed uit en sê: “Neem dit en gee dit vir mekaar aan. 18 Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nie weer wyn drink voordat die koninkryk van God gekom het nie.” 19 Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.” 20 Met die beker na die maaltyd het Hy net so gemaak en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word. 21 “Maar kyk, die hand van die man wat My verraai, is saam met Myne hier op die tafel. 22 Met die Seun van die mens sal dit gaan soos dit voorbeskik is, maar wee die man deur wie Hy verraai word!” 23 Toe begin hulle mekaar uitvra wie van hulle dit kon wees wat so iets sou doen.
Refleksie
Watter emosie het die teks by jou losgemaak?
- Skep dit opsies?
- Bring dit hoop?
- Maak dit vry?
- Daag dit jou uit?
- Gee dit rigting?
Gebed
Stilgebed in refleksie op die teks
Gedagte vir die dag | Sondag 10 April 2022
Vandag is Sondag, 10 April en ons is besig om te oor die tafel en Jesus se tafelgesprekke met ander te reflekteer. Iemand het gesê: “Christene moet gasvryheid kies in ’n vyandige wêreld”. Hoe dink jy sal so ’n soort gasvryheid lyk? Dink aan wie die vreemdelinge in jou konteks of gemeenskap is, teenoor wie jy en ons saam meer gasvry kan leef? Een van die maniere om gasvryheid te betoon, is om juis saam met mense van wie ’n mens oor gebruike, opinies en oortuigings verskil, om die tafel te sit. ’n Mens kan wesenlik van mekaar verskil en tog saam wees. Ons hoef nie almal dieselfde te dink en te doen om tafelgemeenskap te deel nie.
Kom ons wandel vandag saam in Lukas 14:1-14.
1 Op ‘n sabbatdag toe Jesus na die huis van ‘n vooraanstaande Fariseër toe gegaan het om daar te eet, het hulle Hom fyn dopgehou. 2 Reg voor Hom was daar ‘n man wat aan water gely het. 3 Jesus praat toe met die wetgeleerdes en Fariseërs en vra: “Mag ‘n mens iemand op die sabbatdag gesond maak of nie?” 4 Maar hulle het stilgebly. Toe trek Jesus die sieke nader, maak hom gesond en laat hom gaan. 5 Daarna sê Hy vir hulle: “Sê nou ‘n seun of ‘n bees van een van julle val in ‘n put, sal hy hom nie dadelik uithaal nie, al is dit op ‘n sabbatdag?” 6 Hulle kon daar niks op antwoord nie. 7 Toe Jesus merk hoe hulle die voorste plekke aan tafel uitsoek, vertel Hy aan die genooides die volgende gelykenis: 8 “As iemand jou na ‘n bruilof toe uitnooi, moet jy nie sommer op die voorste plek gaan sit nie. Dit kan net wees dat die gasheer iemand uitgenooi het wat belangriker is as jy. 9 Dan sal hy wat julle albei uitgenooi het, na jou toe kom en sê: ‘Gee bietjie die plek af vir hierdie man.’ Jy sal dan tot jou skande die agterste plek moet gaan inneem. 10 Maar as jy uitgenooi is, gaan sit liewer op die agterste plek. Wanneer die gasheer kom, sal hy vir jou kan sê: ‘Vriend, kom sit hier voor.’ Dan sal jy in die agting van al die gaste styg. 11 Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.” 12 Hy het ook vir die gasheer gesê: “As jy in die middag of in die aand ‘n maaltyd gee, moet dan nie jou vriende of broers of familie of ryk bure uitnooi sodat hulle jou waarskynlik ook weer uitnooi en jou op dié manier vergoed nie. 13 Nee, as jy ‘n feesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes en blindes. 14 Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed nie, want God sal jou vergoed by die opstanding van dié wat reg gedoen het.”
Refleksie:
Watter emosie het die teks by jou losgemaak?
- Skep dit opsies?
- Bring dit hoop?
- Maak dit vry?
- Daag dit jou uit?
- Gee dit rigting?
Gebed:
Stilgebed in refleksie op die teks.
Gedagte vir die dag | Saterdag 9 April 2022
Vandag is Saterdag, 9 April en ons is besig om oor die tafel en Jesus se tafelgesprekke met ander te reflekteer. Kom ons wandel vandag saam in Handelinge 2:41-47.
41 Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg. 42 Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede. 43 Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. 44 Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. 45 Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46 Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, 47 en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.
Kan dit wees dat die manier hoe daardie eerste gelowiges onderling met mekaar om die tafel verkeer het, mense só geïnspireer het dat daar daagliks mense na hulle gestroom het om aan te sluit en ook deel te word? Mense se gesindheid, hulle entoesiasme en omgee vir mekaar, was meer deurslaggewend as die preek van die kansel af. Dink oor die gesindheid wat mense openbaar aan die tafel en hoe dit ander inspireer. Hoe gaan julle met mekaar aan tafel om en watter beeld of boodskap van julle stuur dit na buite? Waaraan moet ons werk om meer van hierdie gesindheid te openbaar?
Refleksie:
Watter emosie het die teks by jou losgemaak?
- Skep dit opsies?
- Bring dit hoop?
- Maak dit vry?
- Daag dit jou uit?
- Gee dit rigting?
Gebed:
Stilgebed in refleksie op die teks
Gedagte vir die dag | Vrydag 8 April 2022
Vandag is Vrydag, 8 April en ons is besig om oor die tafel en Jesus se tafelgesprekke met ander te reflekteer. Maaltye het in die eerste eeu van die Christelike era mense se status duidelik afgebaken. Vrae soos wie die ereplekke by maaltye kry, watter gesprekspunte ter tafel is en wie saam met wie eet, was aan die orde van die dag. Maaltye was immers een van die belangrikste sigbare uitdrukkings van groepverbondenheid, broederskap en lojaliteit. Jesus se etes is direkte vensters op God se koninkryk. Hier aan tafel het Hy God se gratis goedheid uitgedeel, bestaande godsdienstige stereotipes oorboord gegooi, aangrypende Godstories vertel en skynheilighede ontmasker.
Kom ons wandel vandag saam in Lukas 19:1-10
1 Jesus het in Jerigo gekom en was op pad deur die stad. 2 Daar was ‘n man met die naam Saggeus, die hooftollenaar, ‘n ryk man. 3 Hy het geprobeer om Jesus te sien, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy te kort was. 4 Hy hardloop toe vooruit en klim in ‘n wildevyeboom om Jesus te kan sien, want Hy sou daar verbygaan. 5 Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.” 6 Hy het toe gou afgeklim en Jesus met blydskap ontvang. 7 Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: “Hy gaan by ‘n sondige man tuis!” 8 Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.” 9 Daarop sê Jesus: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ‘n kind van Abraham. 10 Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.”
Refleksie:
Watter emosie het die teks by jou losgemaak?
- Skep dit opsies?
- Bring dit hoop?
- Maak dit vry?
- Daag dit jou uit?
- Gee dit rigting?
Gebed:
Stilgebed in refleksie op die teks.
Gedagte vir die dag | Donderdag 7 April 2022
Vandag is Donderdag, 7 April en ons is oor die tafel en Jesus se tafelgesprekke met ander te reflekteer. Hierdie Bybelse eetgeleenthede vertel ons nie net wie die mense was wat by rdie maaltye aangesit het nie, maar vertel ons meer van wie God is. Aan-tafel-gesprekke wil ons help om Jesus se tafelgewoontes beter te leer ken en dit self ook aan te leer en in te oefen sodat dit deel van ons lewens as navolgers van Jesus kan word. Dissipelskap gaan immers oor hoe ons as volgelinge van Jesus behoort te leef.
Kom ons wandel vandag saam in Lukas 7:36-50
36 Een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te kom eet. Hy het toe in die huis van die Fariseër ingegaan en aan tafel plek ingeneem. 37 ‘n Sekere vrou in die dorp, wat ‘n sondige lewe gelei het, het gehoor dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was. Sy bring toe ‘n albaste flessie met reukolie 38 en gaan staan agter Jesus by sy voete en huil, sodat haar trane op sy voete begin drup het. Daarna het sy sy voete met haar hare afgedroog, hulle gesoen en met die reukolie gesalf. 39 Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: “Hy, as hy ‘n profeet was, sou tog geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy ‘n sondares is.” 40 Maar Jesus spreek hom aan en sê: “Simon, Ek het iets om vir jou te sê.” “Meneer, sê dit maar!” antwoord hy. 41 Jesus sê toe: “Twee mense was in die skuld by ‘n geldskieter. Die een het vyf honderd rand geskuld en die ander een vyftig. 42 Omdat hulle niks gehad het om mee te betaal nie, het hy die skuld vir albei kwytgeskeld. Wie van hulle sal hom die meeste liefde bewys?” 43 Simon antwoord: “Ek veronderstel dié een vir wie hy die meeste kwytgeskeld het.” “Jou antwoord is heeltemal reg,” sê Jesus, 44 en Hy draai na die vrou toe om en sê verder vir Simon: “Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom — en jy, water vir my voete het jy My nie gegee nie, maar sy, met haar trane het sy my voete natgemaak en met haar hare het sy dit afgedroog. 45 ‘n Soen het jy My nie gegee nie, maar sy het vandat sy hier ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. 46 My kop het jy nie eens met olie gesalf nie; sy het my voete met reukolie gesalf. 47 Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.” 48 En Jesus sê vir haar: “Jou sondes is vergewe.” 49 Toe begin dié wat saam aan tafel was, onder mekaar sê: “Wie is hierdie man dat hy selfs sondes vergewe?” 50 Maar Jesus sê vir die vrou: “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.
Refleksie:
Watter emosie het die teks by jou losgemaak?
- Skep dit opsies?
- Bring dit hoop?
- Maak dit vry?
- Daag dit jou uit?
- Gee dit rigting?
Gebed:
Stilgebed in refleksie op die teks.
Gedagte vir die dag | Woensdag 6 April 2022
Gedagte vir die dag | Dinsdag 5 April 2022
Johannes 19:16 “Toe het hy Hom op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem.”
Dink vir ’n oomblik na oor wat Jesus se navolgers beleef het toe Hy gevange geneem is. Hulle sou in geloof kon redeneer dat God mos nooit so iets sou toelaat nie. Hulle het vasgehou aan die gedagte dat God binnekort met mag gaan optree en die mense wat hom gevange geneem het, sal laat boet. Dit moes ’n groot ontnugtering gewees het toe Pilatus hom aan die skare uitgelewer het om gekruisig te word. Dit kan mos nie wees nie!
So gebeur dit ook dat die lewe ons gereeld by plekke uitbring waar ons uitroep: “Maar dit kan mos nie wees nie!”. Ons het gehoop en geglo dat die Here se pad met ons, mense wat ons ken en hierdie wêreld anders sal loop en nou betwyfel ons skielik soveel dinge. Dis dan dat ons moet onthou – die verhaal eindig nie daar nie. Die Here het waarlik uit die dood opgestaan. Hoor wat sê Paulus hieroor in Fil. 3:10. “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, . . . in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood”. Dan sê hy verder: “Ek span my in die lewe in om dit alles myne te maak, omdat Christus my reeds Syne gemaak het – ek maak los van wat agter is en strek uit na wat kom . . . ons wat geestelik volwasse is moet hierdie gesindheid hê.
Mag jy beleef hoe hierdie realiteit intree en jou geloof vul waar die lewe jou telkens uitbring by dit-kan-mos-nie-wees-nie-ervaringe.
Gebed
O Here, heerser oor alles, selfs toe die aarde nog woes en vormloos was, was U die koning van die heelal en wanneer alles wat bestaan tot ’n einde kom, sal U nog steeds regeer. Ons denke is nie in staat om hierdie grootheid te begryp nie, maar die krag van U opstanding, wat elke dag in ons werk maak ons deel van die oorwinning wat U behaal het – dit spoor ons aan om elke stukkie lewe wat vir ons voorlê aan te gryp. Dankie dat ek vandag hierdie dag met hierdie wete kan ingaan en afsluit.
Amen.
Gedagte vir die dag | Maandag 4 April 2022
Markus 15:2. Pilatus het vir Hom gevra: “Is jy die koning van die Jode?” Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê”. Die priester hoofde het hom van baie dinge beskuldig. Pilatus het hom toe verder ondervra. Verweer jy jou glad nie? Het hy gevra. “Kyk waarvan beskuldig hulle jou alles”. Jesus het egter niks meer gesê nie, sodat Pilatus verbaas was.
Pilatus was bewus dat Jesus onskuldig was, en was baie beïndruk met hoe Jesus die situasie hanteer het. Jesus is gevange geneem omdat sy teenwoordigheid ’n bedreiging was vir Joodse godsdienstiges, maar ook vir die Romeine Ryk. Die Jode wou deur die aanwakker van opstande die Romeine onder politieke druk plaas en hulle het Jesus as speelbal vir hierdie doel gebruik. Maar Pilatus het onder die indruk gekom dat Jesus se koninkryk nie van hierdie wêreld was nie. Hou ons in hierdie lydenstyd daarmee rekening? Pilatus wou Jesus vryspreek, maar die politieke druk van die koninkryk waarin hy hom bevind het, het hom verhoed om dit te doen.
Ons geloof in die Here wil ons oor die grense van gevestigde politieke, sosiale en kulturele grense neem om mense daar te ontmoet. Dit vra nie van ons om dit prys te gee nie. Dit bring ons egter in Lydenstyd by die wonderlike plek van vryheid waar ons kan beleef dat ons as Christene aan iets groter behoort wat aan ons identiteit en betekenis gee.
Gebed
Grote God, aan U die eer! Heerlik is waar U regeer, hemels is u majesteit, heilig u geregtigheid, U wat alles onderhou, U is ewig en getrou. U, oor alles God en Hoof, open oë van geloof dat ons sien geen goed of kwaad word aan toeval oorgelaat: Bokant ons begrip en verstand, hou U al wat is in stand.
Gedagte vir die dag | Sondag 3 April 2022
Mark 15:14-15. “Waarom? Wat se kwaad het hy gedoen?” Vra Pilatus hulle.
Jesus het altyd met genade en barmhartigheid teenoor mense opgetree. Hy het nie mense gedreig, verkleineer, of veroordeel nie. Hoe is dit dan dat die skare Joodse godsdienstiges buite Pilatus se woning sy dood gesoek het? Watter kwaad het hy gedoen? Vandag se teks konfronteer ons met die kwaad wat alewig besig is om die goeie om ons te bedreig. Toe die soldate Jesus in die tuin van Getsemane gevangene wou neem het Petrus sy swaard uitgepluk en ’n soldaat se oor afgekap. Hy wou die regte ding doen deur die goeie te verdedig. Toe Jesus aan die kruis sterf, was sy laaste woorde: “Vader vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie”. Ons stryd teen wat ons as die kwaad sien en in ons verdediging van wat ons glo reg is, kan ons selfs besig wees om die verkeerde ding te doen. Dit is omdat die einste kwaad waarteen ons baklei ons dikwels gevange neem wanneer ons met vooroordele, haat, woede en ongeduld reageer. Terwyl ons reg wil laat geskied beoordeel mense en situasies dan verkeerd.
Jesus het geweet dat Lig uiteindelik oor die duisternis sal seëvier en dit aan God oorgelaat om die pad met hom verder te stap. Hoe reageer ons oor die kwaad om ons?
Gebed
Here, ons weet dikwels nie wat ons doen nie. Ons wil die goeie laat seëvier, maar laat toe dat vrese, selfsug en eiesinnigheid ons oorneem. Here, help ons om in die daaglikse realiteit van kwaad te leef sonder om self kwaad te word. Bedaar die emosies wat so sterk in ons leef sodat ons met wysheid en insig dit wat verkeerd is tegemoet kan gaan. Vergewe ons en help ons om uit die krag van u vergifnis die regte ding te doen.
Gedagte vir die dag | Saterdag 2 April 2022
Matteus 26:50. Maar Jesus sê vir hom: “Vriend, doen wat jy gekom het om te doen”.
Vandag se teksgedeelte bring ons uit by Judas wat Jesus verraai het en hoe Jesus homself dan sonder teëstand aan die situasie oorgee. Om in hierdie wêreld te oorleef moet jy jou plek vol staan. Jy moet baklei vir jou behoud en ons doen dit daagliks op allerhande maniere. Jy moet seker maak dat jy nie ingedoen word nie en naderhand kan alles om jou in ’n bedreiging verander. So ’n lewe bring voortdurend ongelukkigheid en konflik, waarvan die basis vrees is dat ek dit nie gaan maak nie. Daar is nie ’n manier waarop ons die uitkoms van daaglikse gebeure vooruit kan sien of vooruit kan verstaan nie. Dit is in hierdie lig dat die Here ons leer om soos ons teksgedeelte die onbekende wat op ons wag aan die Here, wat soewerein is, oor te gee. Dis nie dat ons op ’n fatalistiese of pessimistiese manier opgee nie, maar eerder oorgee. Gee vandag die onbekende wat vir jou voorlê aan die Here oor … en laat aan die Here oor om te waak oor dit wat moet gebeur. Ervaar hoe dit jou vandag inspireer om die beste te doen wat jy kan en in die lig van onsekerheid met selfvertroue te leef.
Gebed
Laat u lig my omring, O God; laat u liefde my omvou, laat u krag my beskerm, laat u teenwoordigheid my verbly, dit vra ek van U, God van liefde wat oral is waar ek vandag gaan wees.