Gedagte vir die dag | Donderdag 21 April 2022
Johannes 20:26 Agt dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by hulle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!” 27Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.” 28En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!” 29Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” 30Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. 31Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, die lewe kan he, in sy Naam.
As jy dalk in ‘n plek in jou lewe is waar dit vir jou moeilik is om die vreugde van Paasfees te ontvang, rus in die wete dat Thomas ook sy tyd geneem het en dat Jesus hom toegelaat het om dit te doen. Ontvang die goeie nuus dat Jesus deur die merke van trauma vir Thomas ‘n weg gebaan het vir Thomas se eie genesing. Reflekteer oor die moontlikheid van ‘n geloofsgemeenskap wat ‘n ruimte vashou vir almal wat skepties en onseker is. Want so kon Thomas op sy eie tyd sy weg terug vind na geloof. Die storie wat ons vertel na Paasfees is ‘n storie van wonde en twyfel. Dit is ‘n geskenk sodat ons soos Johannes skryf, kan glo
Gebed van Padraig O Tuama
Surprising Son of God
You revealed the Truth to woman
who were not believed by men.
You are in the voices of the unbelieved
and the ignored.
So bring us towards each other
Bring us towards the truest truth
because here, if anywhere,
will we find you.
Amen
Gedagte vir die dag | Woensdag 20 April 2022
Karel Schoeman skryf in sy boek: Die herfs kom altyd as ‘n dreigement, die ligte karteling van die rand van ‘n blaar, die koelheid van die lug en die vergang van die blomme. Die dae word korter en killer en die ure van hulle samesyn verminder.
Hy herinner ons dat verandering nie staties is nie. Skakerings van rooi en bruin en oranje vertel die storie van oorgange maar ook van verganklikheid. Dis in die tyd wat ons intree in die Groot Lydingsweek. As gelowiges vertel ons mekaar die storie van Jesus se laaste paar dae en hoe sy lewe en dood ons ook laat nadink oor ons eie lewe, en ons eie verganklikheid.
Dis in hierdie dae wat ons ook reflekteer oor wat regtig saak maak en oor wat regtig belangrik is. Ons vrae vir onsself af wat dit is waarvan ons meer moet doen en meer moet vier. Ons vra ook vir onsself af waarvan ons minder moet doen en wat ons moet afhandel en wanneer ons moet aanbeweeg.
Mag jy met ’n oop hart en oop gemoed hierdie Lydingsweek ingaan en dalk vir die eerste keer in ‘n lang tyd nuwe ou vrae vra oor jouself. Mag jy ook in die voetspore volg van Hom wat kom sterf het sodat ons kan lewe.
Ek lees graag ’n gedig van Padarig O’ Tuama
Jesus,
person of privacy and publicity
popular — for a while — but not populist;
you held your centre,
based on what you understood to be your call.
Help us to hear a call,
not to greatness, or grandiosity,
not to position or prominence
but to the deepest call of all:
love, creativity and justice.
May this carry us, through
the lauds and lamentations
of our lives.
And may we be faithful to love, creativity
and justice, as you were.
Amen
Gedagte vir die dag | Dinsdag 19 April 2022
Die reaksie van die opstanding van die Here Jesus Christus was deur alle eeue baie dramaties en insiggewend. Dink onder andere aan die vroue by die graf en hul reaksie toe hulle by die leë graf aankom. Hul verbasing, hul vrees, maar ook hulle opgewondenheid waarmee hulle die ander dissipels gaan inlig het.
Dink byvoorbeeld aan die reaksie van die Emmaüsgangers nadat die Here Jesus vir ’n lang tyd saam met hulle was. Dink byvoorbeeld aan die dissipels van Jesus wat aan die een kant verbouereerd en bang toegesluit gesit het, totdat Jesus by hulle aangekom het en Jesus vir hulle gesê het: “Vrede vir julle.” Maar veral vandag, dink aan die reaksie van Tomas, die twyfelaar. Die ongelowige Tomas. In Johannes 20:24 lees ons: “Tomas, wat ook Didimus genoem is en een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. 25Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!” Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in Sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy Sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”
Ek het net vandag ’n baie interessante artikel van dr. Fritz Gaum in die Die Burger gelees. Die opskrif van die artikel is: “Is die opstanding van Jesus feit of fiksie?” Dan praat hy daarin oor interpretasies wat oor die jare heen oor die opstanding gevorm is en wat die opstanding van Jesus as onmoontlik en onwetenskaplik beskryf. Vir moderne mense van 2000 jaar na hierdie gebeure, het dit moeiliker begin raak om dit te glo. Daarom wou Tomas die twyfelaar al in die pro-moderne tyd al niks van Jesus se opstanding uit die dood weet nie, alvorens hy nie self sy vingers in sy wonde ingedruk het nie. Die artikel lei verder dat die bodem van ons Christelike geloof uitval wanneer ons Jesus se opstanding uit die dood ontken – ons sit dan met ‘n hand vol wind.
Die aanvaarding van die opstanding van die Here Jesus is nie ’n wetenskaplike aangeleentheid nie. Dit word onder leiding van die Heilige Gees deur die geloof aanvaar en so word dit die kern van die Christelike geloof, dit is waaraan ons vashou. Dit is wat ons nuwe lewe in Christus definieer en moontlik maak.
Wat is jou reaksie, op die opstanding van die Here Jesus? Weet jy bloot daarvan as ’n historiese feit, of het dit werklik ’n geloofsrealiteit vir jou geword? Dat jy dit met albei geloofshande aangryp as die hoogtepunt in jou geloofslewe in Jesus Christus omdat dit die deur oopgemaak het, vir my en jou, om op aarde as nuutgemaakte mense te leef, maar ook vir ’n ewige bestaan.
Here, vergewe my ook as ek so baie wil twyfel soos ’n ongelowige Tomas. Gee vir my die geloofsmoed om nie net u opstandingswerk te aanvaar nie, maar om dit ook elke dag te leef. Amen.
Gedagte vir die dag | Maandag 18 April 2022
Handelinge 1:1-3: “My eerste boek, Theophilus, het ek geskrywe oor alles wat Jesus gedoen en geleer het, van die begin af 2tot op die dag van sy hemelvaart. Voordat Hy in die hemel opgeneem is, het Hy deur die Heilige Gees bevele gegee aan die manne wat Hy as apostels uitgekies het. 3Ná sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe. In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat.”
Die dramatiese gebeure van Goeie Vrydag en Opstandingsondag is agter die rug. Jesus het opgestaan en verbasend genoeg, net weer voortgegaan met sy Godgegewe taak en roeping op aarde. In hierdie tydperk na sy opstanding sien ons hoe Hy baie pertinent die stokkie oorgee aan mense wie Hy vertrou het om die Jesus-proses in hierdie wêreld verder uit te rol. Lukas sê in hierdie gedeelte in Handelinge dat Hy dadelik, toe Hy aan hulle bewys het dat Hy lewe, begin het om aan hulle, sy apostels en gestuurdes bevele te gee. En waaroor sou hierdie bevele gaan? Nie net lesse oor lewenswyse en leerinhoud nie, maar oor hulle taak as verspreiders van die evangelieboodskap wat Hy kom gestalte gee het toe Hy op aarde was.
Lukas meld ook dat Hy in die verloop van 40 dae na sy opstanding intensief besig was om sy dissipels voor te berei vir hierdie taak. Hy het met hulle gepraat oor die dinge van die koninkryk van God. Toe Jesus met sy bediening begin het, was Sy eerste boodskap by die see van Galilea ook dit: die koninkryk het naby gekom! En nou, enkele dae voor sy hemelvaart, bevestig Hy dit weer, en lei hulle op om werklik die implikasie van die werk van die koninkryk te verstaan.
Wat is ons reaksie op die opstanding van Jesus Christus? Neem ons dit maar net aan as historiese gebeure wat die verbeelding van die wêreld aangegryp het, of energeer dit ons tot dienslewering, om uit te gaan en hierdie koninkryk wat Hy begin bou het tydens sy aardse optrede, uit te rol vir die wêreld met sy baie onvrede en konflik.
Mag ons as opstandingsmense, wat die nuwe lewe in Christus in ons ontvang het, sy bevele uitvoer en uitgaan om die koninkryk van God te verder uit te bou.
Here, dankie dat ek die voorreg het om aan te hou en u koninkryk op aarde uit te bou. Help my asseblief daarmee.
Amen.
Gedagte vir die dag | Sondag 17 April 2022
Die Here het opgestaan! Die Here het waarlik opgestaan!
Dit is Sondag 17 April 2022. Opstandingsondag en Paassondag. Wêreldwyd sing volgelinge van Jesus vandag: “Hoor jy die Paasfeesklokke? Hul lui van vroegdag af; hul jubel oor die wêreld: Die Heer is uit die graf! Hy, Christus, die oorwinnaar, is uit die donker uit! Die Heer, die sleuteldraer, sal ook my graf ontsluit.”
Ek deel vanoggend ’n paar kort gebede uit die Groot Gebedeboek rakende die aangrypende gebeurtenis wat vir ons die poort tot hierdie lewe én die ewige lewe is:
Uit die Oosters-Ortodokse kerk hoor ons die Paaslied:
“Hy wat die aarde teen die uitspansel gehang het, het nog eergister aan die kruis gehang. Hy wat die koning van engele is, het nog eergister ‘n doringkroon gedra. Hy wat die berge in wolke klee, het nog eergister die kleed van spot gedra.
Die Bruidegom wat sy kerkbruid gaan kom haal, was met spykers aan ‘n kruis genael. Die Wonderseun van ’n maagd, is met ’n spies deurboor. Ons wat gister en eergister u lyding beween het, juig vandag oor U stralende opstanding!
Gees van God, ons dank U dat U Christus se lewe uit die dood opgewek het. Ons wie se liggame nog sterwend is, ons smeek U, wek ons op tot nuwe lewe!
Here wat die dood oorwin het en tot in alle ewigheid lewe: Ons vier vandag die misterie van die ewige lewe, sowel as die majesteit van die opstanding.
Amen.
Gedagte vir die dag | Saterdag 16 April 2022
Dit is Saterdag na Goeie Vrydag!
Gedurende hierdie Groot Lydensweek verwys ons ook na vandag as die sogenaamde “Stil Saterdag.” Die dag na Jesus se kruisiging, waar daar net drie verlate kruise, op Golgota staan.
Jesus is dood. Hy is begrawe. Die aarde het Hom ingesluk in ’n graf wat geskenk is aan hierdie Seun van God wat Sy lewe vir ander gegee het. In Markus 15 lees ons alles oor Sy begrafnis. Vers 43: ‘Josef van Arimathea, ‘n vooraanstaande lid van die Joodse Raad en iemand wat self ook uitgesien het na die koms van die koninkryk van God, kom toe daar aan. Hy het dit gewaag om na Pilatus toe te gaan en die liggaam van Jesus te vra”. Vers 45: Toe hy van die offisier verneem dat dit wel so is, dat Jesus dood is, het hy die lyk vir Josef gegee. Josef het ‘n stuk linne gekoop, Jesus van die kruis gaan afhaal, Hom in die linne toegedraai en neergelê in ‘n graf wat in die rots uitgekap was. Hy het ‘n klip voor die ingang van die graf gerol. Vers 47: Maria Magdalena en Maria die moeder van Jesus het gestaan en kyk waar Hy neergelê word.”
‘n Mens kan jou net indink en inleef wat in die gemoedere van Maria Magdalena en Maria, die moeder van Jesus, moes plaasgevind het. Jesus is in die graf. Hulle hoop lê agter ’n graf wat met ‘n groot klip verseël is. Verward, hartseer, berouvol – dink hulle daaroor na dat hierdie mens, wat ook God was, hierdie kind wat klein was, maar ook groot geword het, hulle hoop in hul uiters benarde situasie was. Dit het intussen Saterdag geword, die Sabbatdag van die Jode. Jesus in die graf . . . en sy lyding was verby. In die Oosterse ortodokse tradisie, word die dag ook die Heilige Saterdag genoem. Op die sewende dag, wil hierdie benaming uitdruk: “die pyn is verby. Dit het stil geraak, die Seun is in die hande van die Vader.” Dit is egter nie net ‘n tyd vir berou nie, maar ook ‘n tyd vir verwagting. Vrydag was sleg, Saterdag was stil en donker, maar…. Sondagoggend lê voor!
Here, dankie dat U die groot prys betaal het vir elkeen van ons. Dankie dat U in die graf was, en self die dood ervaar het, sodat U vir ons die hoop kon skep dat ons dood nie die einde is nie, maar die begin van ‘n opwindende, nuwe lewe. Amen.
Gedagte vir die dag | Vrydag 15 April 2022
Goeie Vrydag!
Hoeveel keer het ons nie in die gees al teruggegaan na Jesus se helse ervaring op daardie somber Vrydag in Jerusalem nie. Ons hoor op hierdie dag, waarskynlik een van die mees betekenisvolle dae op ons geestelike kalender, weer die woorde uit Jesaja 53:2-5: “Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie.3 Hy was verag en deur die mense verstoot, ‘n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie. 4Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. 5Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom”.
Kom ons luister of lees vandag biddend na die aangrypende gebed van Pieter de Villiers:
Here, my Verlosser,
Op hierdie goeie dag staan ek voor U kruis, Deel van die skare wat met afgryse sien.
Hoe U u mag en heerlikheid gewillig prysgee, Vir ‘n bitter, eensame dood.
U het geen skoonheid of prag dat ek na U sou kyk nie, Geen voorkoms dat ek van U sou hou nie.
Voor my hang U as man van lyding wat uitroep sonder pyn. U verneder Uself om Dienskneg, ja, Vervloekte te word.
My hart verwerp dit, Want hoogmoedigheid en trots wil ek my eie lot bepaal. My onwilligheid en onvermoë om U te verstaan, My liefdeloosheid om na U uit te reik, Is ‘n teken van my skuld
En van die geweld van die kwaad in u skepping. En, tog in die verskriklike toneel, reik U na my uit, roep U, o Gees, in my hart uit dat U my Verlosser, my Heiland is.. Hoe kan ek dit verstaan dat U na my, verlore kind, so geduldig in liefde verlang?
Hoe kan ek deurgrond dat U bereid was om nie met my skuld op U te neem nie, maar ook die hoogste prys daarvoor te betaal?
Here, wanneer ek U nou aanbid as die Verlosser wat in my plek my sonde opneem, is dit omdat U in u stryd teen die kwaad, my hart uit suiwer genade aangeraak het en my liefdevol tuis bring. U skenk aan my vrede. Here, nou wil ek saam met U ‘n teken van vrede in hierdie pyn-wereld word. My daarom iemand wat soos U ander se wonde wil heel.
Here, nou wil ek saam met u ‘n teken van vrede in hierdie pynwêreld word. Maak my daarom iemand soos u wat iemand anders se wonde deel.
Amen.
Gedagte vir die dag | Donderdag 14 April 2022
Dit is vandag Donderdag in die Groot Lydensweek wat ons tans herdenk. Die betrokke Donderdag voor die kruisiging van Jesus, het daar geweldig baie dinge gebeur. Jesus het sy weg na Jerusalem gevind, die aand daar aangekom en saam met Sy dissipels in ’n bovertrek vergader. Hier het baie gesprekke en aktiwiteite plaasgevind, waarvan die belangrikste waarskynlik die instelling van die nagmaal was. Ons lees daarvan in Matteus 26:26 en verder: “Terwyl hulle geëet het het Jesus brood geneem en die seën gevra en aan Sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet, dit is My liggaam. Daarna het hy ‘n beker gevat en gesê: “Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed wat My verbond geseël en vir baie uigegiet word, tot vergewing van sondes.”
Ek wil graag vandag ’n stukkie aanhaal wat ds. Nioma Venter, namens die die moderatuur van die kerk, aan gemeentes uitgestuur het. Dis is pragtig gestel en ek deel dit vanoggend saam met hierdie dagstukkie met julle:
“Daar is ’n voetpad teen die westelike hang van die Olyfberg op pad na Jerusalem waar ’n klein Fransiskaanse kapel met vensters in die vorm van ’n traandruppel in 1955 deur die argitek Antonio Barluzzi gebou is. Die kapel staan bekend as Dominus Flevit, Latyns vir “The Lord wept”, en merk die plek waar pelgrims meen die gebeure in Lukas 19:28-44 afgespeel het. ’n Betekenisvolle mosaïekwerk op die vloer voor die altaar in die kapel beeld ’n hen uit wat beskermend oor haar kuikens waak. Dit is hier waar Jesus in tere besorgdheid oor Jerusalem ween, wetende dat die stad nie gereed is om die vrede en verlossing waarvoor Hy bereid is om te sterf, te ontvang nie.
In die dae wat volg, demonstreer Jesus iets van sy eerste boodskap op die berg van saligsprekinge. Tree vir tree onderweg na Golgota lei Jesus die koms van die Koninkryk van God in deur die broosheid van trane, ’n sagte gees, besorgdheid oor die mense rondom Hom en ’n dienswillige gelatenheid oor die onreg wat teen Hom gepleeg word.
Hoop en vrede en verlossing word volbring.
Tog vloei die bloed steeds vanweë huishoudelike geweld en misdaad en woed sinnelose oorloë voort. Die polarisasie tussen mense raak net groter en daarmee saam die vyandigheid en nyd. Sistemiese onreg ontneem mense van ’n kwaliteit-lewe en daar sterf sowaar nog in ons dag en tyd kinders van die honger in ons eie land! Vandag vertoef ons in die gees saam met Jesus teen die hange van die Olyfberg terwyl ons die omgewing rondom ons gadeslaan en smekend bid: Here, wees ons genadig! Herinner ons aan u gesindheid en die prys van verlossing en gebruik ons as instrumente van hoop en vrede tot U eer.”
Gedagte vir die dag | Woensdag 13 April 2022
Ons is tans in die Groot Lydensweek van Jesus Christus. Dit is enkele dae nadat ons Palmsondag gevier het, toe Jesus triomfantlik Jerusalem op die rug van ’n donkie binnegery het. Maar dit is ook enkele dae voor Goeie Vrydag, waar ons weet Jesus die hoogste prys betaal het ter wille van elkeen van ons.
In die gees stap ons die paadjie saam met Jesus na die kruis, en probeer dink aan sy bittere lydensweg en hoe dit elkeen van ons vandag steeds raak.
Ons lees vandag kortliks saam uit Matteus 26:1 en dan ook vers 6 & 7. “Nadat Jesus oor al hierdie dinge klaar gepraat het, het Hy vir Sy dissipels gesê: “Julle weet dat dit oor twee dae Paasfees is. Dan word die Seun van die mens oorgelewer om gekruisig te word. Dan ook in vers 6: “Terwyl Jesus in Betanië, by Simon die melaatse aan tafel was, het ‘n vrou by Jesus gekom met ‘n albaste fles met baie kosbare olie en dit op Sy kop uitgegiet het. Toe die dissipels dit sien, was hulle verontwaardig.. “Waarom so verkwisting”, het hulle gevra. “‘n Mens kon die reukolie vir baie geld verkoop het en aan die armes gegee het.”
Ons is nie seker wat presies die Woensdagaand voor die Paasfees in Jerusalem gebeur het nie. Jesus was waarskynlik in Betanië, waar Hy saam met Sy dissipels vertoef het . . . waarskynlik ’n bietjie gerus het, en kon beleef hoe ’n vrou ’n albaste fles met baie kosbare reukolie op sy kop uitgegiet het. Daar was ’n enorme reaksie daardie aand in die huis in Betanië. Baie was verbaas, ander was teleurgesteld, ander was onseker en angsbevange oor dit wat Jesus toe aangekondig het. Ander het hulle weer erg vir die vrou vererg wat die reukolie op Jesus se kop uitgegiet het.
As ons dit sou kon toepas op vandag . . . wat is ons reaksie op die aankondiging van Jesus se kruisiging? Hoe raak dit ons, en wat wil ons teruggee? Is ons dalk soos die dissipels wat terughoudend en skepties is, of is ons dankbaar soos Maria wat die kosbare reukolie uitgiet? Wat gee ons terug? Wat kom sit ons op die offertafel, in reaksie op Jesus se kruisiging?
Mag ons in ons reis hierdie week, onsself met hierdie vraag besig hou.
Here, dankie vir die waagmoed en die braafheid waarmee U, U laaste tree geloop het met u kruisiging. Help ons om ook ons beste aan U te gee uit dankbaarheid vir wat U vir ons gedoen het.
Amen.
Gedagte vir die dag | Dinsdag 12 April 2022
Vandag is Dinsdag, 12 April en ons is besig om oor die tafel en Jesus se tafelgesprekke met ander te reflekteer. Kom ons wandel vandag saam in Lukas 24:28-35.
28 Toe hulle by die dorpie aankom waarheen hulle op pad was, het Hy gemaak of Hy verder wou gaan. 29 Hulle het egter by Hom aangedring en gesê: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby.” Toe het Hy ingegaan om by hulle oor te bly. 30 Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. 31 Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn. 32 Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?” 33 Hulle het dadelik opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan. Daar kry hulle die elf en die ander mense bymekaar, 34 en dié sê: “Die Here het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn!” 35 Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het, en hoe Hy aan hulle bekend geword het toe Hy die brood gebreek het.
As daardie Emmausgangers maar net besef het hulle stap, praat, kuier en eet saam met Jesus. As hulle maar vroeër besef het – Jesus het opgestaan. Hulle sou sekerlik elke oomblik in sy teenwoordigheid waardeer en geniet het. Gelukkig het hulle dit later besef en sekerlik oor en oor beleef. Gelukkig weet ons Jesus het opgestaan. Gelukkig weet ons dat Jesus steeds teenwoordig is in ons lewens en dat ons sy stem kan hoor. In sy Woord en deur sy Gees. Maar dan moet ons ingestel wees daarop om Hom te hoor en Hom te sien. Ons moet naby God leef met die verwagting en afwagting om Hom te hoor. Ons moet besig wees met sy Woord en ons moet bid. Ons moet oorgegee aan die Heilige Gees lewe. Ons moet gehoorsaam wees en reageer op wat Jesus vir ons sê, leer en wys. God is hier teenwoordig. Op aarde en in ons elkeen se midde.
Refleksie
Watter emosie het die teks by jou losgemaak?
- Skep dit opsies?
- Bring dit hoop?
- Maak dit vry?
- Daag dit jou uit?
- Gee dit rigting?
Gebed
Stilgebed in refleksie op die teks