Gedagte vir die dag | Sondag 1 Mei 2022
Vandag is Sondag 1 Mei en ons is besig om deur middel van ‘n # StaanSaam-reeks te reflekteer oor wat dit beteken om te behoort aan mekaar.
Vandag is ons tema: Bly by die huis.
Josua 24:15 “Maar ek en my huis, ons sal die Here dien.” Dit is die besluit wat Josua vir hom en sy familie geneem het. Ons sal die Here dien! Die vraag is praat ons genoeg met ons man, vrou of kinders oor hulle redding? Doen ons genoeg om mekaar na Jesus toe te bring? Ons is so geneig om die Christelike opvoeding te verwaarloos. Ek glo met my hele hart dat ons in hierdie tyd terug geroep word na die tafel, waar ons saam tyd kan spandeer in God se Woord. Terug na die kerk as gemeenskap van gelowiges. Dis nie net ’n “ek” sal die Here dien nie, maar “ons” sal die Here dien. Ons behoort aan God en ons behoort aan mekaar. Ons het mekaar nodig. Woorde wek, maar voorbeelde trek. Ons moet voorbeelde vir mekaar wees in hierdie huis. In Psalm 122 sê David hy was bly toe hy hoor, kom ons gaan na die huis van die Here toe . . . Mag ons terugkeer na die Vaderhuis met lof en aanbidding. Herinner jouself vandag elke keer wanneer jy jou hande was daaraan deur te sê: Ons behoort aan God. Ons behoort aan mekaar.
Wat ’n vreugde om kinders van God genoem te mag word. Staan Saam en bly by die Vaderhuis.
Gedagte vir die dag | Saterdag 30 April 2022
Vandag is Saterdag 30 April en ons gaan die volgende sewe dae deur middel van ’n #StaanSaam-reeks reflekteer oor wat dit beteken om aan mekaar te behoort.
Vandag is ons tema: Vêr, maar kosbaar.
Psalm 42 begin: “Soos ’n wildsbok smag na waterstrome, smag ek na U, o God.” Ons is die beelddraer van God. Ons sal altyd ’n heimwee en verlange na God hê, want ons is deel van Hom. Ons is sy skepsel en in ons harte sal daar altyd ’n onrus wees. Die Suid Afrikaanse digter van Bruggen het ook altyd ’n heimwee beleef met sy skrywe… “My hart verlang na die stilte van die weiwende veld, vêr van die stadsgeluide en klinkende klank van geld. Ek is moeg van die rustelose lewe van mens dat hy kom en gaan. Ek wil terug na vrye ruimtes waar ’n siel woon wat verstaan.”
Ons hele lewe sal onvervuld en leeg wees sonder God, maar soms soek ons sondige harte ’n God wat beter in ons wêreld sal pas. Ons wil self in beheer wees van ons lewens, die hef in ons eie hande hê. Ons dink ons kan ons probleme self soveel beter oplos. Sonder God en sonder insig val ons vas in ’n swaarmoedige eensaamheid. Gevoelens van angs en vrees veroorsaak spanning. Kragteloos en moeg ontvang ons sieledors na iets of iemand. Soms voel dit of God en kosbare mense vêr van ons is en leef. Luister na die wyse woorde van Augustinus wat sê: “Gee my mense wat verlang. Wat honger, wat dorsigtige pelgrims in die wildernis is. Wat smag na verlange van fonteine in hulle tuisland. Gee my sulke mense, want hulle sal verstaan wat ek bedoel. Verlange is die skat van die hart.”
Staan vandag saam en maak kontak met iemand na wie jy verlang. Vriende is kosbaar!
Gedagte vir die dag | Vrydag 29 April 2022
Vandag is Vrydag 29 April en ons gaan die volgende sewe dae deur middel van ’n #StaanSaam-reeks reflekteer oor wat dit beteken om aan mekaar te behoort.
Vandag is ons tema: Praat met ons.
Psalm 121:1-2 “Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.” Hierdie Psalm vra ’n vraag wat die meeste mense al gevra het. Waarvandaan sal my hulp kom? Gelukkig maak God ook van mense gebruik om ander te help en daarom wil ons jou dan uitnooi om met mense kontak te maak. Indien jy voel dat jy hulp, of gebede nodig het, maak dan gerus kontak met een van ons geestelike leiers of leraars.
Ontvang hierdie woorde van bemoediging uit 2 Kor 4:16-17 “Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.”
Vriende daarom moet ons altyd vol moed wees. Staan vandag saam en praat met ons en mekaar, want jy behoort. Plant ’n spekboom as ’n simbool van suurstof. Laat dit ’n simboliese ruimte van spasie wees waarin jy uiting aan jou frustrasies en onsekerhede kan gee, sodat jy weer kan asem haal.
Staan saam en praat saam!
Gedagte vir die dag | Donderdag 28 April 2022
Vandag is Donderdag 28 April en ons gaan die volgende sewe dae deur middel van ’n #StaanSaam-reeks reflekteer oor wat dit beteken om aan mekaar te behoort.
Vandag is ons tema: Leef met vreugde.
Die belangrikste ding wat jy moet weet van blydskap is dat dit nie gekoppel is aan ’n spesifieke gebeurtenis nie. Ware geluk kom nie van buite af nie, maar van binne. Ek wil graag hê dat jy na jou eie lewe moet kyk en nadink of jy nie dalk kan doen met ekstra vreugde nie? Wat is vreugde en waar kan jy nog van dit vind? Indien jy ’n foto van vreugde kon neem, hoe sou dit lyk?
Wanneer jy die Bybel lees besef jy gou dat dit vol sketse van blydskap is. Neem Galasiërs 5:25 wat praat oor die vrug van die Gees en hoe blydskap deel is van hierdie pakket. In Filippense 4:4 wil Paulus ons aanmoedig om ons altyd in die Here te verbly. Ons moet bly wees oor die feit dat ons in Christus is en Hy in ons. Is God vir jou die vreugdevolste persoon in die heelal, of is dit vir jou moeilik om jou in te dink dat Hy ’n vreugdevolle, dansende God is?
In Sefanja lees ons dat Hy homself oor jou met blydskap verheug. Hy swyg in Sy liefde, Hy juig oor jou met ’n gejubel. As jy die rede kan vind hoekom God so bly is oor jou, dan kan jy ook soveel blydskap daarin vind. God is bly oor hoe Hy jou geskep het. Hy staan in verwondering oor jou en daar is vreugde wat in Hom opkom as Hy aan jou dink, want jy is syne. Hy is die bron van alle blydskap!
Staan vandag saam en leef met vreugde. Skoffel in die tuin, maak jou hande vuil en staan in verwondering oor God se skepping. Staan saam en leef met vreugde!
Gedagte vir die dag | Woensdag 27 April 2022
Vandag is Woensdag 27 April en ons gaan die volgende sewe dae deur middel van ’n #StaanSaam-reeks reflekteer oor wat dit beteken om aan mekaar te behoort. Vandag vier ons Vryheidsdag en vandag is ons tema: Deel Hoop.
Hoop verlos ons telkens van ons blindheid. Dis om elke oggend ’n bril op te sit en met nuwe oë na die wêreld te kyk. Hoop maak ons oë oop en laat ons verder sien en dit gee ons insig tot ons situasies waar dit dalk nou donker mag voel. Dit is hierdie lewende hoop wat gelowiges van die res van die wêreld onderskei. God nooi jou om jou vertroue in Hom te plaas en om in Hom vas te kyk en oorval te word met die wete dat God jou nooit sal verlaat nie. Selfs al sit jy binne die donkerste van donker, dit is wat hoop is. Ons wandel vandag in 1 Petrus 1:3-5 wat die volgende sê:
“Aan God die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.”
Hierdie hoop is ’n vaste en lewende hoop, omdat Jesus lewend is, omdat Hy die bron, die inhoud en die uiteinde van hoop is. ’n Mens sou selfs kon sê dat dit die kernboodskap van die Bybel is. Daar is hoegenaamd geen lewe, geen toekoms en geen hoop sonder Christus moontlik nie. Dit is iets wat ons lewens vashou. Dit is ’n gawe van God wat Hy keer op keer aan ons skenk, binne elke krisis en oomblik van wanhoop. En die wonder is – Sy ontferming is elke oggend nuut. Hy gee die hoop weer en weer aan ons! Dit is die wonder van hoop. Dit is wat Christelike hoop beteken. Dit is nie hoopvolle krag wat jou trane onmiddelik laat opdroog nie, maar wat dit vir jou afvee. Dit word nie van iemand ontvang wat jou pyn laat verby gaan en dit ontken nie, maar wat saam met jou daar deur gaan. Staan vandag saam en deel hoop, want jy is vrygemaak.
Bak en brou vandag iets in jou huis, selfs al is dit net lekker beskuit of smaaklike koekies. Eet en proe die smaak van hoop wat lewe. Eet en geniet! Staan saam en deel hoop.
Gedagte vir die dag | Dinsdag 26 April 2022
Ek lees as ‘n gebed vanoggend, ‘n verwerking van ‘n baie bekende Psalm deur Frieda van den Heever. Ontvang vanoggend hierdie woorde en mag dit vir jou vandag ‘n troos wees.
Al sou die foon nie lui nie en die werk nie meer instroom nie
Al sou my kar se tenk al lankal sonder petrol wees
Al sou ek voel of ek almal teleurstel en al die spieëls in woonstel afhaal dat ek net nie myself in die gesig hoef te staar nie
Al kyk ek op na die berge en wonder waar die ou se hulp dan vandaan gekom het of het hy sommer gepraat
Al is my vertroue in als wat regeer verskeur en ek is moeg baklei en ek is seer probeer
Nogtans sal ek . . . nogtans sal ek . . . my op God verlaat
Al sou ek een salaris van die straat af wees en ek vir my kinders se toekoms vrees en ek lankal nie meer die tekens van die tyd kan lees nie
Al sou ek niks meer besit en niks meer beheer
en die wie’s – wie my ignoreer
ek soos ‘n vreemdeling agter ‘n masker voel
Al kyk ek op na die berge en wonder waar die ou se hulp dan vandaan gekom het of het hy sommer gepraat
Al is my laaste vertroue in als wat regeer verskeur en ek is siek van stilbly, ek wil rebelleer
Nogtans sal ek in die Here juig
in Liefde wat bloei en bind en buig al is dit al wat ek het
Die Here my God gee my krag
Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok
op hoë plekke laat Hy my veilig loop
Sy liefde fluister diep in my dit is wel, dit is wel al voel dit nou soos hel,
nogtans is dit wel.
Gedagte vir die dag | Maandag 25 April 2022
Teks Filipense 2:1-2
“Aangesien julle die troos van Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing- maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe.”
Ek nooi jou graag uit om oor hierdie woorde van Paulus aan die eerste gelowiges te reflekteer. As Jesus ons uitnooi om vir mekaar te bid, dat ons eensgesind moet wees, een in liefde, een van hart, een in strewe, hoe ontvang jy Sy woorde? Waar in jou lewe het jy die ervaring dat jy hierdie uitnodiging opneem en uitleef? Waar in jou lewe is dit vir jou moeilik om dit te doen?
Ek lees graag vir ons ‘n gebed van Richard Rohr
God, Lord of all creation, lover of life and of everything,
Please help us to love in our very small way
What You love infinitely and everywhere.
We thank You that we can offer just this one prayer
And that will be more than enough,
Because in reality every thing and every one is connected,
And nothing stands alone.
To pray for one part is really to pray for the whole,
And so we do.
Help us each day to stand
For love, for healing, for the good,
For the diverse unity of the Body of Christ and all creation,
Because we know this is what You desire:
As Jesus prayed, that all may be one.
We offer our prayer together with all the holy names of God,
We offer our prayer together with Christ, our Lord,
Amen.
Gedagte vir die dag | Sondag 24 April 2022
Ek lees as oggendgebed Van Wyk Louw se bekende gedig, Herfsgebed. Mag sy woorde ons laat reflekteer oor hoe die seisoen waarin ons nou is ook ‘n boodskapper is van die seisoene van ons eie lewe. En soos met elke seisoen is daar dalk goed wat eindig sodat iets nuuts kan begin. Soos lewe uit die dood. Mag sy woorde ons hieroor laat nadink.
Vroegherfs
Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rook-vaal bos en laan
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en vér was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat U wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.
Gedagte vir die dag | Saterdag 23 April 2022
Dirkie Smit skryf oor die opstanding: Tussen optimisme en hoop lê daar ‘n hele wereld – al verwar ons dikwels die twee. Optimisme het te make met ons geaardhede, party mense is van nature meer so as ander. Hulle sien makliker die ligkant. Die silwer rant eerder as die donker wolk. Dinge kon veel erger wees, sê hulle. Die beste kom nog, wag net.
Te veel optimisme kan ons verblind, ons ligsinnig en oppervlakkig maak. Ons kan draers van goedkoop troos word. Natuurlik kan almal van ons leer om ‘n bietjie meer optimisties na die lewe te kyk en ons seëninge te tel. Depressie se angel is juis dat ons die vermoë verloor om die somme-van-die-lewe met oop oë te maak. Dat ons nie meer lig sien nie, net duister.
Maar met hoop het optimisme wienig in gemeen. Hoop is nie iets wat ons in ons het nie, dit kom van buite. Dit lê nie in ons geaardhede nie. Is ook nie ‘n uitvloeisel van die somme wat ons maak nie. Dit vloei nie uit ons anders-kyk of dink nie. Hoop word aan ons gegee. Ons ontvang dit. Dit kom na ons toe. Dis ‘n geskenk. Die bevrydende van Jesus se opstanding is dat hoop ons verras en ons oorbluf.
Daar is wel oomblikke van finaliteit wanneer positiewe denke nie verder help nie. Ons kom eenvoudig voor voor toe deure, klipgrafte en toe klipgrafte te staan. Dan sterf optimisme. Ek dink almal van ons was al daar, is dalk steeds daar. Dan verg dit ‘n gebeurtenis – iets nuuts, iemand wat die klip wegrol. Boodskappers wat sê ons hoef nie te vrees nie. Bevreesde vroue wat bevestig dit is waar. Dit kos ‘n vreemde tyding, wat in die hart van geen mens opkom nie, wat alle verstand te bowe gaan. ‘n Nuwe begin, soos lewe uit die dood
Mag vandag vir jou ‘n mooi en goeie dag wees
Gedagte vir die dag | Vrydag 22 April 2022
In 2004 tydens ‘n opstandingsdiens het Aartsbiskop Rowan Williams ‘n preek gelewer wat as oordenking wil ek graag ‘n gedeelte vir ons voorlees. Mag ons oor die woorde reflekteer en ons inspireer tot ‘n nuwe Hoop, ‘n nuwe Lewe en ‘n lewe in die Lig:
The goodness of the resurrection news is most evident for those who have lost people they love to any sort of incomprehensible evil – the tragedies of dementia, the apparent meaninglessness of accident, the horrors of violence or injustice. Think back for a moment to the days when death squads operated in countries like Argentina or El Salvador: the Christians there developed a very dramatic way of celebrating their faith, their hope and their resistance. At the liturgy, someone would read out the names of those killed or ‘disappeared’, and for each name someone would call out from the congregation, Present, ‘Here’.
“When the assembly is gathered before God, the lost are indeed present; when we pray during the eucharist ‘with angels and archangels and the whole company of heaven’, we say present for all those the world (including us) would forget and God remembers. With angels and archangels; with the butchered Rwandans of ten years ago and the butchered or brutalized Ugandan children of last week or yesterday; with the young woman dead on a mattress in King’s Cross after an overdose and the childless widower with Alzheimer’s; with the thief crucified alongside Jesus and all the thousands of other anonymous thieves crucified in Judaea by an efficient imperial administration; with the whole company of heaven, those whom God receives in his mercy. And with Christ our Lord, the firstborn from the dead, by whose death our sinful forgetfulness and lukewarm love can be forgiven and kindled to life, who leaves no human soul in anonymity and oblivion, but gives to all the dignity of a name and a presence. He is risen; he is not here; he is present everywhere and to all. He is risen: present.”