Dagstuk | Dinsdag 2 April 2024
Vandag se tema: Sien God my?
Psalm 8:5 & 10. Wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? Here, ons Here, hoe wonderbaar is U Naam oor die hele aarde.
Die afgelope tyd het die gebeure rondom Elon Musk se Space X-program en die James Webb teleskoop ons weer in verwondering laat staan oor die omvang van die kosmos. Ook die gedagte dat ons deur ‘n ruimtesending dalk op die punt staan om die dieper geheimenisse daarvan vir ons te ontsluit. ‘n Mens kom daardeur net weer onder die indruk hoe klein die aarde binne die groter geheel van die kosmos is. Wat dan nog die bestaan van my eie lewe daarbinne! Elke keer wanneer ons na die naghemel opkyk oorval hierdie verwondering en ontnugtering ons weer opnuut. Weet die Here van my? Ek wil jou vandag nooi om anders daarna te kyk. Nie hoog bo na sterre en planete nie, maar na jou duimafdruk. Van al die mense wat ooit op aarde geleef het en nog gebore gaan word, is daar niemand wat ‘n afdruk van hulle teenwoordigheid op aarde kan los soos jy nie! Dit is hieroor dat die persoon in Psalm 8 homself opnuut oor verwonder. Luister mooi na wat die teks sê. Dit is die getuienis van ‘n gelowige wat in verwondering leef omdat hy die Skepper se sorg in sy lewe ervaar. Die Here het nie net sy lewe in die groot kosmos raakgesien nie, maar hy ervaar dat God na hom omsien. Kyk na jou duimafdruk. Sien die eenvoudige lyne en patrone wat oor jou uniekheid getuig en in jou dag die ervaring laat deurbreek dat God na jou omsien.
Gebed
Laat u lig my omring, o God; laat u liefde my omvou, laat u krag my beskerm, laat u teenwoordigheid my verbly, dit vra ek van U, o God van liefde, wat orals is waar ek is.
Dagstuk | Maandag 1 April 2024
In hierdie week se dagstukkies oordink ons die derde waarde van ons Stellenberg gemeente belydenis: Om met ‘n verskil te leef.
Vandag se tema: Waarvoor lewe ek?
Romeine 14:7-8. Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; as ons sterwe sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe of sterwe, ons behoort aan die Here.
Ons is betekenis soekende wesens. Ons soeke na betekenis is een van die mees essensiële elemente van ons welstand en ons hoop dat dit ons by plekke in die lewe uitbring waar ons geluk kan vind. Hierdie betekenis kan gou verdwyn wanneer omstandighede ons ongelukkig agter laat. Alhoewel ons betekenis en geluk met mekaar assosieer is dit in der waarheid twee verskillende realiteite. Geluk het te doen met hoe ons bronne, hulpmiddels en mense gebruik om by ons doelwitte uit te kom. Daar is altyd dinge wat in ons pad gaan staan en wat ons geluk bedreig. Die betekenis waaroor Paulus in ons teksgedeelte getuig is anders. Dit word nie bepaal deur ons gevoel van gelukkig, of ongelukkig nie, maar die feit dat ons lewens aan die Here behoort. Dit “be-teken” – met ander woorde dit staan as teken wat na iets groter wys. Dié dat selfs ons sterwe nie in die pad kan staan van hierdie betekenis nie.
Hoe praat die Here tans in die midde van die dinge wat in jou lewe gebeur met jou oor die betekenis dat jy in lewe en sterwe aan God behoort? Hoe inspireer dit jou om in enige omstandighede met ‘n verskil te leef.
Gebed
Here, breek vandag vir my die brood van die lewe. My hart is honger. Bewaar my daarvan dat ek dink ek my siel kan voed met dinge wat geluk bring maar geen werklike betekenis het nie. Bewaar my van die illusie dat die dinge waarmee ek myself gelukkig hou my blywend kan versadig. Bring vandag in my die perspektief dat my diepste geluk voortvloei uit die besef dat ek aan U behoort.
Amen.
Dagstuk | Saterdag 30 Maart 2024
In die kerklike wêreld word dit Stil Saterdag genoem, ’n dag van stille refleksie oor wat die omvang van Jesus se offer en sy liefde vir ons is. Ons het gister nagedink oor ons Here Jesus, wat aan ‘n kruis vir ons die ewige lewe verdien het. Hy het gesterf sodat ons kan lewe. Sy liggaam is voor sononder van die kruis afgehaal, want teen sononder, wanneer die eerste drie sterre sigbaar word, het die Joodse Sabbat aangebreek. Die Saterdag waarin Jesus heeldag dood was, was die Sabbatdag, en niemand kon reis om sy liggaam verder te versorg met al die sabbatsreëls van destyds nie.
Dit is nie maklik om die angs en smart van Jesus se volgelinge en familie die dag na sy kruisiging, te begryp nie. Stil Saterdag moes vir hulle ‘n dag van pynlike lament gewees het. Lament is die gebedstaal van diegene wat hul lyding na God toe bring. Lament roep uit tot God, vra God moeilike vrae en protesteer teen die onregverdige lyding rondom ons. Maar, lament is nooit ‘n doel op sigself nie. Omdat ons geloof in die lewende God is, bring lament ons altyd in die wete dat God ons geroep hoor en met goedheid en genade sal optree.
Ek wil jou nooi om vandag doelbewus tyd in stilte deur te bring. Dink diep oor Jesus se verlossingsdaad aan die kruis. Bid vandag jou eie woorde om vir God dankie te sê dat Jesus jou kom verlos het.
Dagstuk | Vrydag 29 Maart 2024
STEEK ʼn KERS AAN
GOEIE Vrydag
Vroeg die Vrydag oggend het die Sanhedrin ‘n haastige tweede vergadering gehou. Hulle moes vir Pilatus ‘n aanvaarbare klag formuleer en die doodsvonnis kon blykbaar net in die dag gevel word. Die klag word as volg geformuleer: “Ons het bevind dat hierdie man ons volk ophits: hy belet hulle om aan die keiser belasting te betaal en beweer dat hy die Christus, die koning, is.” Al drie was politieke aanklagte wat teen Jesus ingebring word. Jesus wou juis nie ‘n politieke Verlosser wees nie, maar mense van hulle sonde verlos.
Tydens Jesus se verhoor was daar nie een wat vir Hom kom getuig het nie. Nie een van die vele wat Hy genees het, wat Hy verlos het, het opgedaag om die onwaarhede wat oor Hom uitgespreek is, te weerlê nie. Maar interessant dat Judas dit besef het, maar toe dit te laat was. Toe Judas sien dat Jesus tot die dood veroordeel is, het hy baie spyt gekry oor sy daad. Hy is terug na die familiehoofde en priesterhoofde met die belydenis: “Ek het gesondig. Ek het ‘n onskuldige man verraai. Maar hulle is hom glad nie simpatiek en antwoord hom streng: “Wat het ons daarmee te doen? Dit is jou saak!” Judas het toe die geld in die tempel in gegooi, weggeloop en homself gaan ophang
Jesus word na Pilatus weggelei. Die manne van die Sanhedrin het ongetwyfeld verwag dat Pilatus hulle vonnis sonder meer sou bekragtig. Maar so glad verloop dit nie. Jesus se aanklaers moet buite wag en Hy word na binne geneem om deur Pilatus verhoor te word. Die aanklaers (Jode) kan nie tydens Paastyd in Pilatus se huis ingaan wat ‘n Romein was nie, want daar was moontlik suurdeeg in sy huis, want hulle wou vanaand nog die Paasfees vier en moet dan rein wees. Pilatus ondervra Jesus oor die aanklagte wat die Joodse volk teen Hom het. Pilatus gaan weer na die skare buite en dui aan dat hierdie Man, Jesus, onskuldig is. Maar die Jode bly by hulle aantuigings dat Jesus besig is om die land op te stook en dat Hy verdien om gekruisig te word. Hulle beweer dat Hy van Galilea af al met Sy oproering begin het. Hier sien Pilatus ‘n skuiwergat. Dan is Jesus mos ‘n Galileër en moet Herodes Antipas Hom dus eintlik verhoor.
So skuif die hele vergadering – en al die nuuskieriges wat aangegroei het – na Herodes se tuiste. Hier is Jesus heftig beskuldig, maar Herodes kon geen skuld teen Hom vind en stuur Hom net weer so terug na Pilatus om maar self te besluit wat om met Jesus te doen.!” Pilatus weet hy durf nie Jesus sonder veroordeling laat kruisig nie. Daarom redeneer hy met die priesterhoofde en lede van die Joodse Raad. Julle het hierdie man voor my gebring as ’n opruier van die volk. Nou het ek in julle teenwoordigheid die saak ondersoek, en ek het in hierdie man geen grond gevind vir die aanklag wat julle teen hom inbring nie. 15 Herodes het ook nie, want hy het hom na ons toe teruggestuur. Hy het beslis niks gedoen wat die dood verdien nie. 16 Ek sal hom dus laat gesel en dan loslaat.” Pilatus wou miskien tyd wen en laat Jesus oor om gegesel te word. Geseling was die mees pynlike ervaring denkbaar wat slegs enkelinge met hulle volle bewussyn enduit verduur.
Pilatus besef nou moet Hy ‘n plan maak. ‘n Plan wat moet slaag. Gewoonlik by Paasfees laat hy vir die volk ‘n misdadiger los. Dus laat Pilatus vir Barabbas haal en stel die keuse aan die volk. Wie wil hulle hê moet vrygelaat word. Die volk skree uit een mond: “Barrabbas”. Pilatus vra nog ewe en wat moet hy met Jesus dan doen. Weer laat die volk hulle stemme heftig hoor: “ Kruisig Hom! Kruisig Hom. Pilatus het verskeie kere probeer om Jesus los te laat, maar die volk wou dit nie hê nie. Maar oorverdowend volg dit: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” “Ons het ’n wet, en volgens dié wet moet hy dood, omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het.” Hulle wou Jesus aan die kruis sien. Ons lees dan in Johannes 19:16 “Toe het hy Hom op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem.”
Op die klein heuwel net buite die noordwestelike stadmuur wat weens sy besondere vorm die naam Kopbeenplek (Hebreeus Golgota) word die kruisiging voltrek. Jesus word vasgespyker saam met die ander twee misdadigers asof Hy een van hulle is. Dit was een van die gruwelikste maniere om te sterf. Aan die kruis het die slagoffer gewoonlik gehang voor die oë van elke spottende verbyganger. Onbeskut teen son en koue, ure soms selfs dae lank. Met pyn en koors en ontsteking die dood afgewag.
Die gesprekke rondom die kruis daardie Vrydagoggend was bitter van die omstanders: “Kom van die kruis af as jy die Seun van God is.” Van die Skirfgeleerdes “Ander het hy gered; homself kan hy nie red nie! Van die soldate: “As jy die Koning van die Jode is, red jouself.” Bitter woorde, bytend van sarkasme, Hatig en oneerbiedig. Was dit nie genoeg dat Jesus gekruisig word nie? Was dit die genoeg dat Hy as misdadiger beskaam word nie. Was die spykers en doringkroon nie genoeg emosionele en vernederende pyn nie? Maar Jesus skree nie terug nie. Ten spyte van die ontsettende pyn, verduur Hy nog die spot ook, maar Sy woorde spreek van liefde. Terwyl Jesus daar hang, spreek “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”
Toe Jesus Sy asem uitblaas skeur die swaar voorhangsel van die tempel. ‘n Soldaat erken met eerbied dat : ”Hierdie man was werklik die Seun van God.” En die woorde van Jesaja 53:5 Eggo oor die vlaktes Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom!
Vraag om oor te dink: Jesus het vir alle mense aan die kruis gesterf: Hoe bring dit ons juis nader aan ons vyande?
BLAAS DOOD DIE KERS: JESUS HET GESTERF
GEBED
Here, my hart is stil vandag uit diepe ootmoed vir al U lyding aan die kruis.
Dankie dat jy saam gestap het op die Via Dolorosa. Mag jy ‘n geseende Paasfees hê.
Dagstuk | Donderdag 28 Maart 2024
Donderdag VOOR GOEIE VRYDAG
Die dag van die ongesuurde brood en die dag waarop die paaslam geslag moet word, het aangebreek. Op hierdie dag word alle suurdeeg – as beeld van gistende sonde, uit die huise verwyder. ’n Geskikte lam moes gevind geword het en na die voorhof van die tempel geneem word waar dit geslag sou word. Dit is met dit in gedagte, dat daar so baie voorbereidings getref moet word vir die Paasfees, dat die dissipels vir Jesus die Donderdag oggend in Betanië vra: “Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die Paasmaaltyd te eet?” Jesus stuur vir Petrus en Johannes na Jerusalem waar hulle ‘n man sal kry wat ‘n waterkruik dra wat vir hulle na die vertrek sal lei waar hulle die Paasmaal gereed moet maak.
Die aand vertrek Jesus en die ander 10 dissipels na Jerusalem. Hulle kom almal in die bo vertrek saam waar Jesus vir hulle op ‘n baie spesiale manier wys wat dit beteken om dissipel te wees. Jesus trek self die bokleed uit en doen die werk wat gewoonlik deur ‘n slaaf gedoen word. Hy wat die Koning van die wêreld is, buk af en was die dissipels se voete. En nee Hy doen dit nie om hulle te beskaam nie, maar omdat Jesus hulle innig liefhet. Jesus was die twaalf pare voete een vir een. Selfs die paar voete van die een wie Hom sou verraai. Hieraan wys Jesus vir ons wat dit waarlik beteken om iemand anders lief te hê. Jesus het die slaaf geword wat vir al ons sondes aan die kruis sou sterf.
Dan kom die tweede verbysterende ervaring, toe Jesus na hulle kyk en sê: “Een van julle sal My verraai, die een wat saam met My eet” Onmiddellik wonder elke dissipel wie dit tog kan wees. Hulle elkeen is diep bewus van hul onbetroubare self Dan beantwoord Jesus hulle deur te sê: “Dit is die een van julle twaalf, die een wat saam met My sy hand in die skottel insteek.” Of soos Johannes dit stel: “Dit is die een vir wie Ek ’n stukkie brood wat Ek in die sous ingesteek het, sal gee.” Daarmee wou Jesus nie Judas verraai soos wat hy Jesus oor ‘n paar uur gaan verraai nie. Nee, Jesus wou daardeur net aan Judas te kenne gee dat Hy wat Jesus is presies weet wat Judas beplan. Nadat Jesus dit vir hom gegee het, skryf Johannes het die Satan in Judas ingevaar en daarom die woorde van Jesus aan Judas: “Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen!” Woorde wat nie een van die dissipels verstaan het nie. So het Judas sonder dat hy dit geweet het homself daar aan die tafel verraai nog voordat hy Jesus verraai het. Judas verlaat die vertrek, maar net Jesus weet waarom.
Dan volg nog ‘n baie spesiale gebeurtenis. Iets wat tot vandag vir ons betekenis het. Ons lees daarvan in Lukas 22 “Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.” 20 Met die beker na die maaltyd het Hy net so gemaak en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word.” Die Ou Testament en ou verbond is dus vervul. Die Lam van God gaan nou die offer wees wat betaal vir die mens se sonde. Dit bring die maaltyd in die bovertrek tot ‘n einde. Die uur waarna Jesus so dikwels verwys het tydens Sy gesprekke met die dissipels het aangebreek. Jesus sluit hierdie oomblik met ‘n gebed af. “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. “.
Hulle verlaat die bovertrek en stap deur die Kedronspruit na Getsemane. Dit is op pad na Getsamane waar Jesus ook Petrus vertel dat hy Jesus gaan verloon. Jesus waarsku vir Petrus dat voor die haan kraai sal hy Hom drie keer verloën het. Dit klink vir Petrus absoluut onmoontlik. Hy sal nooit so iets doen nie.
Intussen bereik hulle Getsemane. Dit was ‘n persoon se tuin waarin hy ‘n olyfpers gehad het. Getsemane beteken olyfpers. Hier in die tuin het Jesus baie benoud geword. Nou dat die lydensbeker ure ver weg is, nou dat die gevangeneming op hande is nou spreek Hy Sy hart teenoor Sy dissipels uit: ““Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.” Hy het ’n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Lukas vertel ons dat op daardie oomblik het Jesus se sweet soos bloed geword.
Hierdie gebed het Jesus drie keer gebid na die derde keer het Hy vir Sy aan die slaap dissipels gesê: “Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.” Terwyl Jesus nog praat kom Judas daar aan met ‘n hele gevolg wat bewapen is met swaarde en stokke. Judas gaan reguit na Jesus en soen Hom om aan te dui dat dit die Persoon is wie sy volgelinge gevange moet neem. Met onbegryplike kalmte stap Jesus na Judas se gevolg en vra hulle wie hulle soek. Hulle antwoord dat hulle Jesus van Nasaret soek en Jesus gee hulle die antwoord dat dit Hy is. Op hierdie oomblik oorval die vrees vir Petrus en hy ruk ‘n swaard uit en kap die oor van die slaaf van die hoëpriester af. Jesus berispe Petrus oor sy impulsiewe daad en wys daarom dat God Hom dadelik sal kan verlos uit hierdie situasie, maar dat die Skrif vervul moet word.
Jesus se dissipels hardloop weg en Jesus word sonder verset weggeneem. Interessant om te weet dat hulle Jesus gevange neem, maar op daardie stadium nog nie ‘n klag teen Hom het nie. Voordat hulle Jesus na Pilatus kan neem moet hulle eers ‘n offisiële klag teen Hom praktiseer. Daarom moes die Sanhedrin nog daardie nag ‘n sitting hou om ‘n geskikte aanklag en die nodige getuienis te soek. Jesus word na Kajafas geneem, die hoëpriester wat Jesus eers na sy skoonpa Annas stuur. Annas ondervra Jesus oor Sy dissipels en Sy leer asof Jesus ‘n ondergrondse beweging op tou gesit het. Annas kan egter nie die situasie na wense hanteer nie en stuur Jesus weer terug na Kajafas.
Die hele Joodse Raad, priesterhoofde, skrifgeleerdes en ouderlinge is daar byeen en hulle probeer baie ernstig om ‘n klag teen Jesus te kry. Uiteindelik kom daar twee vorentoe wat lyk of hulle die situasie kan red. Hulle dui aan dat Jesus gesê het: “Ek kan die tempel van God afbreek en in drie dae weer opbou.” Kajafas was moontlik seker dankbaar dat hier dalk iets is wat as getuienis teen Jesus kan tel. Kajafas vra vir Jesus wat Sy antwoord hierop is. Maar Jesus het niks gesê nie. Was daar ooit ‘n meer welsprekende stilte in die wêreld as hierdie een.
Daar was soveel onreëlmatighede by hierdie verhoor. Daar was so baie dinge wat teen hulle getel het. Hulle vergader onwettig in die nag in die paleis van die hoëpriester. In plaas van in die dag in die tempel. Hulle verhoor die gevangene op die dag van sy gevangeneming, wat nie toelaatbaar was nie. Die getuies wat vir die aangeklaagde moet getuig is nie eers ingeroep nie. Dit was dus inderdaad ‘n valse verhoor sonder enige grond om op te staan, maar Jesus swyg. As Hy sou spreek kon Hy Homself red, maar dan sou die ganse mensdom verlore gaan.
Kajafas probeer ‘n nuwe skuif en vra Jesus: “Is jy die Christus die Seun van God?” Dan praat Jesus die eerste keer tydens hierdie verhoor. “Dit is soos u daar sê” Dit beteken: “Ek is”. Die hoëpriester roep uit dat Jesus God gelaster het en daarom het hulle geen verdere getuies nodig nie. Die oordeel word gevel: “Hy verdien die dood”. Hulle het ‘n aanklag om Jesus na Pilatus te kan neem om die doodstraf oor Hom te fel.
Terwyl die kamstige hofsitting aangaan word Jesus deur een van Sy geliefde dissipels verraai. Drie keer word Petrus gekonfronteer met die vraag of hy Jesus ken en drie keer ontken Petrus dit. Dan hoor Petrus die geluid wat sy hart verskeur. Die haan wat kraai. Terwyl sy Here Leermeester onregverdig verhoor word, het hy ook sy rug op Hom gedraai en Hom verraai.
Vraag om oor te dink: In Jesus se donkerste uur staan Sy vriende/dissipels nie by Hom nie. Hoe kan ons mekaar meer bystaan in die uitdagings van die lewe.
GEBED
Here maak my oë oop dat ek kan sien wie my hulp nodig het.
Amen
Dagstuk | Woensdag 27 Maart 2024
Steek ’n kers aan
Inleidend
Die Via Dolorosa: die weg van smart en pyn. Gister het ons saam met Jesus gestap tot by Dinsdag en gekyk wat Hy alles gedoen het. Vandag stap ons verder en begin by die Woensdag.
Woensdag VOOR GOEIE VRYDAG
Op hierdie dag het die Sanhedrin alreeds in Kajafas se paleis vergader en saam raad gehou om Jesus gevange te neem. Maar hulle besluit tog om nie hulle plan tydens die Pasgafeestyd uit te voer nie, dit sou ’n te groot oproering veroorsaak. Die mens maak sy planne maar op die ou einde is dit God wat oor alles beskik. Ons weet dat Jesus wel tydens die feestyd gevang is, want God het dit so beskik.
Op hierdie Woensdag was Jesus nie in Jerusalem nie, Hy was in Betanië by sy vriende aan huis. Van die mense wat die dag saam met Jesus gekuier het was Simon, wie Jesus van sy melaatsheid genees het, Hy was ook saam met Lasarus, Martha en Jesus se dissipels. Almal Sy hartsmense wat met bande van liefde en dankbaarheid aan Hom verbind is.
Dan kom Maria die vertrek binne met ‘n baie besondere albaste fles vol suiwer nardusolie. Sy het hierdie hele fles kosbare olie op Jesus se hoof uitgegiet om Hom te salf as Messias en om Hom voor te berei vir Sy sterwe. Dadelik is die dissipels ontsteld oor die mors van hierdie duur olie. Hulle maak aanmerkings dat hierdie duur olie eerder verkoop kon word en die geld vir die armes gebruik kon word. Maria het Jesus so lief gehad dat koste vir haar ’n bysaak was. Die dissipels het nie ‘n idee gehad waaroor dit gaan nie en wat vir Jesus voorlê nie al het Hy hulle dikwels daarop voorberei. Daarom verdedig Jesus vir Maria en wys die dissipels daarop dat sy Hom gesalf het vir Sy begrafnis. Sy begrafnis wat net twee dae ver is.
Maar op hierdie dag is daar ook gebeure wat Jesus se kruisigingpad aan die gang sit. Een van die twaalf dissipels het na die priesterhoofde gegaan en gesê: “Wat sal julle my gee as ek sorg dat Jesus in julle hande beland?” Hulle het hom toe dertig silwermuntstukke betaal. Van toe af was Judas op die uitkyk na ’n geskikte geleentheid om Jesus te verraai. Die besluit is geneem deur Judas om Jesus oor te gee om gekruisig te word. Was die priesterhoofde nie dankbaar daaroor nie? Hulle soek al so lank ’n geleentheid om Jesus in hegtenis te neem. Nou kom een van Jesus se eie manne en bied aan om te help om Hom te vang.
Vraag om oor na te dink: Het iemand jou al in die rug gesteek en hoe het jy daardie persoon vergewe?
GEBED
Here, net soos Jesus verraai is is ek ook al verraai. Help my om die persoon volkome te vergewe.
Amen
Dagstuk | Dinsdag 26 Maart 2024
STEEK ʼn KERS AAN
DIE MAANDAG VOOR GOEIE VRYDAG
Die Maandagoggend is Jesus weer terug na Jerusalem waar Hy sy laaste take voor sy kruisiging sou doen. Jesus gaan in Jerusalem na die tempel. Met ’n skok besef Hy dat die tempel in ’n handelshuis verander is. Dit was ’n wet in Israel dat elke Jood elke jaar ses gram silwer as tempelbelasing moes betaal en wel tydens die Pasgafees. Dit was nie ’n groot offer nie, want dit was minder as twee dae se loon. Maar dit mag nie heidense munte gewees het wat in die offerkiste gegooi word nie. Daarom was daar dan geldwisselaars rondom die tempel waar mense heidense geld kon omruil vir die regte soort munte. Aanvanklik was die idee dat dit ’n nie-winsgewende bedryf moes wees, maar baie gou is mense uitgebuit. Baie gou het die geldwisselaars kommissie by die transaksies bygesit.
Op die Maandag stap Jesus die tempel binne. Hy veroorsaak taamlike chaos deurdat Hy al die handelaars daar uitjaag, want die woorde van die Psalms is van toepassing op Jesus Ps 69:10 “Want die ywer vir u huis het my verteer,” Nou moet ons onthou hierdie bedryf is deur die hoëpriester Annas goedgekeur. Annas die hoëpriester voor wie Jesus later as gevangene gebring is. Om die waarheid te sê het Annas ’n groot aandeel in hierdie winsgewende bedryf gehad. Met hierdie optrede het Jesus dit dus in die vyand se hok gewaag. Daarom wil die Fariseërs weet met watter krag en gesag tree Jesus dan op. Jesus antwoord hulle: ““Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.” Maar hulle het nie verstaan wat Hy bedoel het nie en hierdie opmerking sou ’n paar dae later as getuienis teen Hom gebruik word. Jesus se optrede die Maandag was dus inderdaad baie gevaarlik, want dit sou later teen Hom gebruik word.
DINSDAG VOOR GOEIE VRYDAG
Dinsdag was ‘n baie besige dag met onderrig aan mense. Hierdie dag het daar baie skerp vermanings uit Jesus se mond gekom. Jesus het Hom sterk uitgespreek teen die Fariseers wat ondraaglike swaar laste op ander se skouers geplaas het. Daarmee saam het hulle voorgegee om baie heilig te wees. Jesus spreek hulle baie skerp aan soos ons lees in Mat 23:13 :’ “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars!” Dit was ook ‘n dag van leringe. Van Sy grootste gelykenisse het Hy op hierdie dag uitgespreek. Ook die baie aangrypende leringe oor die laaste dae wat Jesus gee op die Olyfberg. Jesus se woorde: “Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit. 32 Al die volke sal voor Hom bymekaar gebring word, en Hy sal die mense van mekaar skei soos ’n wagter die skape van die bokke skei.”
Interessant genoeg ook dat op hierdie dag vele afvaardigings na Jesus gestuur is om Hom te ondervra. Die Jode het nie minder nie as vier na Jesus gestuur om te kyk of hulle Hom nie kan vastrek op iets wat Hy sê nie. Hulle wou Jesus juis uitvang wanneer Hy iets in ‘n onbewaakte oomblik sou sê wat hulle dan teen Hom kan gebruik. Dit sou hulle dan baie help om Jesus aan die owerheid oor te gee. Jesus word ondervra oor Sy gesag, oor belasting aan die keiser, oor lewe na die dood en oor die grootste gebod.
Vraag om oor na te dink: Die Fariseers het swaar laste op hulle naaste gelê: Waar plaas ek dalk druk op my naaste
GEBED
Here, U is my Verlosser. Help my om my naaste se las lig te maak. Amen
Dagstuk | Maandag 25 Maart 2024
Inleidend
Ons is in die tyd van die Groot Lydingsweek. Die paar dae voor Paasnaweek staan bekend as die Groot Lydensweek. Vrydag is dit Goeie Vrydag. Jesus het die Via Dolorosa (die weg van smart en pyn) gestap. Ek nooi jou uit om in hierdie paar dae saam met my hierdie weg te wandel. Dit is die week voor Jesus gekruisig sou word. Wat het alles in daardie week gebeur? Ons begin van dié Sondag af saam met Jesus stap. Ek wil jou nooi om elke dag die week ʼn kers aan te steek voor jy die gedeelte lees. Ek stap hierdie paar dae saam jou na aanleiding van die boekie wat Marray Janson geskryf het: Sewe dae sonder son: Herontdek die diepe betekenis van Jesus se lyding vir ons stukkende wêreld. Ons dink ook in die tyd hoe kan Jesus se lyding ons nader aan mekaar bring. Daarom sal daar elke dag ʼn vraag wees wat ons juis herinner aan ons gemeentebelydenis om nader aan mekaar te leef.
STEEK ʼn KERS AAN
DIE SONDAG voor Goeie Vrydag
Die Sondag was die eerste dag van die pasgaweek. Die stad Jerusalem was vol mense, almal wat gekom het vir die Paasfees. Jesus is op pad vanaf Betanië na Jerusalem. Op pad net voor Betfage stuur Hy sy dissipels om ’n donkie te gaan haal waarop niemand al ooit gery het. Die skare maak van hulle boklere vir Hom ’n saal en help Jesus om op die donkie se rug te gaan sit. Ander gooi hulle klere en palmtakke op die grond sodat almal kan weet hier kom hulle Koning. Die woorde van Sagaria word vervul: “Sê vir Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe; Hy is nederig en Hy ry op ’n donkie, op die vul van ’n pakdier.” Dit lees ons in Matteus 21:5.
Die skare is opgewonde. ’n Mens kry die gevoel van oorwinning wat in die lug hang. Die skare se Koning is hier die Een wat hulle gaan verlos van die Romeinse oorheersing. Daarom skree hulle: “Hosanna, Prys die Seun van Dawid! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom. Prys Hom in die hoogste hemel” Hier is hulle Koning die lank beloofde Messias. Matteus skroom nie om te sê dat die stad in opskudding en vervoering geraak het toe Jesus Jerusalem binne gegaan het nie.
Tog is Jesus nie bly daaroor nie. Die rede is duidelik. Omrede die skare Hom sien as ’n politieke verlosser. By hulle het dit nie gegaan oor die Koninkryk van God nie, maar om die koninkryk van die volk van Israel. Hulle wou sien dat Jesus hulle verlos van die Romeine, vir hulle het dit nie gegaan oor die verlossing van hulle sondes nie. Hulle dink Jesus kom met ’n swaard, maar Hy kom eerder met liefde. Die skare was dus opgewonde, maar Jesus het gehuil oor Jerusalem, want die stad het nie geweet wat regtig vir sy ware verlossing nodig is nie.
Jesus het geweet dat daar net een weg is om vir hulle die ware vrede te bring en dit was om die weg van die kruis te loop. Hierdie Sondag wat gelyk het soos ’n feesdag, met die skare wat opgewonde was, was eintlik vir Jesus ’n dag van smart. Hy was in die pylvak van die Via Dolorosa. Die Sondagaand is Hy weer terug na Betanië, waar Hy oornag het. Jesus het verkies om in Betanië te oornag eerder as in die oorvol Jerusalem.
Vraag om oor na te dink: Die feit dat Jesus ons Koning is: hoe bring dit ons nader aan mekaar?
GEBED
Here, U is my Koning en Verlosser.
Amen
Dagstuk | Saterdag 23 Maart 2024
Vandag is Saterdag 23 Maart en hierdie week reis ons verder in ons gemeentebelydenis van hoe ons leef as getuies en volgelinge van Christus. Ons fokus die week spesifiek op ons gemeentewaarde – nader aan God. Soos ons oor die bogenoemde nadink reflekteer ons vandag oor:
Die uitdaging om voortdurend te nader: Die reis van naderkom na God is ‘n lewenslange proses. Dit vereis voortdurende toewyding, gebed en gehoorsaamheid aan sy Woord.
Matteus 7:7-8 sê: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word”.
Die strewe om voortdurend nader aan God te kom, is ‘n edele en uitdagende reis wat altyd ‘n bron van groei en verandering in ons lewens is. Daarom moet ons oop wees vir die leiding van die Heilige Gees. Luister na die stille stem van die Heilige Gees in jou hart en lewe. Hy is ons leidsman en wil ons lei op die pad na God. Daarom moet ons ook leer vanuit elke situasie. Sien elke situasie in jou lewe as ‘n geleentheid om te groei en te leer. Selfs in die moeilike tye, kan God ons waardevolle lesse leer wat ons nader aan Hom bring. Die pad na God is ‘n lewenslange reis en verg geduld en volharding. Wees nie ontmoedig deur struikelblokke nie, maar sien elkeen as ‘n geleentheid om te groei.
Gebed: Here, ons vra vir wysheid om te leer uit ons foute en om voortdurend te groei in my verhouding met U. Mag U my vashou in tye van twyfel en onsekerheid, en my herinner aan U onwrikbare liefde en genade. Amen.
Dagstuk | Vrydag 22 Maart 2024
Vandag is Vrydag 22 Maart en hierdie week reis ons verder in ons gemeentebelydenis van hoe ons leef as getuies en volgelinge van Christus. Ons fokus die week op een van ons gemeentewaardes – nader aan God. Soos ons oor die bogenoemde nadink reflekteer ons vandag oor:
Die Vreugde van Gemeenskap met God. Wanneer ons nader aan God kom, ervaar ons die vreugde van gemeenskap met Hom. Ons vind troos, vrede en vreugde in Sy teenwoordigheid.
1 Johannes 1:3 NAV “Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus“.
Dat ons in gemeenskap met God kan lewe is ’n groot seën wat ons deur Jesus Christus ontvang. Ons daaglikse gemeenskap met God is ons enigste bron van krag. As gemeenskap met God dan die seën van die evangelie is, moet dit ook in ons daaglikse lewe met God na vore kom. Wanneer ons dit werklik uitlewe, sal ons die wonder en vreugde van hierdie ondervinding ook aan ander wil vertel.
Mag gemeenskap met die Vader en die Seun ons daaglikse ondervinding wees – in ons stiltetye, in ons daaglikse werk, in ons getuienis teenoor ander wanneer ons hulle uitnooi om deel te hê aan dieselfde roemryke verlossing.
Gebed: Here, ons dank U vir elke oomblik van gemeenskap met U. Mag ons vreugde in U nooit verflou nie, maar mag dit groei en bloei soos ons nader aan U kom. Ons vertrou ons harte en ons lewens aan U toe, in die naam van Jesus Christus, ons Here en Redder.