Gedagte vir die dag | Woensdag 11 Mei 2022
Met Jesus se opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees 50 dae daarna het die kerk soos ons dit vandag ken ontstaan. Dit is nou die tyd waarin ons onsself bevind. En in die volgende paar oggende se dagstukkies gaan ons die verhaal van die vroegste kerk in Handelinge volg. Terwyl jy in die volgende paar oggende oor dié gebeure nadink, vra jouself die volgende af: Wat beteken dit dat ek my geloof in die kerk bely?
Handelinge 2:43. Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaar gekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou en hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet.
Wat ’n mens weer van vandag se teks opval is die spontanïteit en eenvoud waarmee gelowiges teenoor mekaar opgetree het. Waar het dit vandaan gekom? Mense het diep onder die indruk van die Here se opstanding gekom. Die realiteit dat God by ons is tydens ons saamwees as gelowiges, kom op ’n geheimenisvolle manier na ons toe deur die kerk. En dit wat tussen ons gebeur kring uit na buite en verander die wêreld. Na die hemelvaart het Jesus se persoonlike verskynings aan mense tot ’n einde gekom. Maar in die plek daarvan het hy ons iets kragtig gegee: Die Heilige Gees wat mense inspireer om op bepaalde maniere in hierdie wêreld te leef. Dink net weer vanoggend aan die geweldige implikasies hiervan. Is dit die kerk waarin ons vandag glo en waarvan jy ook deel is? Hoe praat die Here vandag met jou oor jou deelwees van hierdie kerk?
Gebed
Here, dankie vir die spontanïteit van u Gees wat vanoggend in my lewe inspreek en my kom leer, troos en inspireer. Op ’n manier het die begrip van kerk vir ons versteen en net nog ’n ding geraak wat ons saam met ’n klomp ander goed, te midde van ’n besig week moet kom doen. Here, kom maak in hierdie volgende tyd van Paasfees en Pinkster ons oë oop vir mekaar. Gee ons die moed om soos die vroeë gelowiges spontaan te reageer op die gedagtes en gevoelens wat by ons opkom en ons glo U vandag in ons bring. Ons glo Here. Ons glo in die kerk.
Gedagte vir die dag | Dinsdag 10 Mei 2022
1 Petrus 1:160. “Daar staan immers geskrywe:“Wees heilig, want Ek is heilig.”
Die woord ‘heilig’, kan ook met woorde soos toewy, gewy, afsonder, geregtigheid, ensovoorts vergelyk word. Al hierdie woorde het basies dieselfde betekenis. Om ons vir God af te sonder.
Na aanleiding van ons teksvers vandag, fokus ons op die woord ‘heilig’. Heilig beteken gewy; om afgesonder te wees van dit wat onheilig is en afgesonder vir God te wees. Dit verwys daarna om toegewy te wees aan wat rein en heilig is.
In die eerste plek moet ons weet dat God heilig is.
In 1 Johannes 1:5 staan daar: “God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.” En in Mattheus 5:48 lees ons: “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.” Net uit hierdie twee verse kan ons sien dat daar niks in God is wat onrein, of sondig is nie. Hy is heilig en sal altyd heilig wees.
Ons word ook opgeroep om heilig te wees en heilig te leef. Hoekom? Daar is net een rede: God verwag dit van ons. God verwag dit van al sy kinders. Om heilig te leef is ’n opdrag aan alle Christene. Daar bestaan nie ’n klein groepie uitgesoektes wat as heiliges kwalifiseer nie. God roep al sy kinders op tot ’n heilige lewe.
Dit is duidelik dat God van sy kinders in Christus Jesus verwag om gedurig na volmaaktheid en heiligmaking te streef. “jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie” (Heb. 12:14). Die strewe na volmaaktheid en heiligmaking in Christus Jesus is geen geringe taak nie. Dit is nie iets wat ons maklik kan bereik nie, of ’n aspek van ons lewens wat ons sommer oornag kan afhandel nie. Om die waarheid te sê ons kan dit nie op ons eie doen nie. Dit is ’n opdrag van God wat vir ons as mense eintlik geheel en al onmoontlik is.
Daarom moet ek en jy ons elke dag oopstel vir God se genade en die werk van die Heilige Gees. Soos die pottebakker die klei vorm sal Hy ons ook elke dag vorm om meer heilig te word.
GEBED
Here, ek wil meer heilig wees. Vorm my al meer om gelyk te wees aan U heiligheid.
Amen
Gedagte vir die dag | Maandag 9 Mei 2022
Romeine 8:14. “Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.”
John Taylor noem die Heilige Gees, die “Go-between-God” in sy boek met dieselfde naam. Die Heilige Gees is die een wat tussen ons en Jesus staan, die een wat in ons bly sodat ons aan Jesus verbind kan bly. John noem die Gees die koppelteken in die U-ek verhouding – die een wat sy hand op my en op God lê om ons aan mekaar te verbind.
Maar, omdat Hy tussen ons staan en sy doel eintlik is om ons by Jesus en by God uit te bring, is Hy natuurlik ook die onsigbare God. Die verborge God. ’n Mens raak dus van die Gees bewus wanneer jy stil word en aan die verborge dinge dink, dinge waarvoor jy waardering het.
Wanneer die Heilige Gees by ons ingetrek het en wanneer Christus deur sy Gees in ons woon, dan gaan dit nie onopgemerk by ons verby nie. Deur die Gees is God by ons teenwoordig, die hoogheilige God by ons klein mensies. Dit is ‘n geweldige grootse gedagte en ons moet dit op ons laat inwerk. God woon deur sy Gees in ons hart.
Nou is die Heilige Gees wat in ons woon ’n werksame Gees. Hy is altyd besig. Hy werk aan ons. Hy wil ons omskep en omvorm sodat ons steeds meer soos Christus gaan lyk, sy beeld meer en meer gaan vertoon en sodat ander mense Jesus in ons kan sien. Die Gees bring ons steeds meer onder sy invloed, en ons ondervind dit ook in ons daaglikse lewe.
Soos wat ’n dirigent ’n orkes lei, so is die Heilige Gees daar om ons in elke noot of tree in ons lewe te lei mits ons Hom toelaat om dit te doen en ons na Hom kyk, of luister. Indien ons sy leiding volg kan ons lewe die mooiste musiek maak, maar wanneer ons kies om ons eie ritme, of note te speel loop dit uit op iets wat glad nie mooi is nie.
GEBED
Heilige Gees, vul my nou. Ek wil totaal op U leiding vertrou. Dan alleen kan ek vrugte dra, dan alleen kan ek doen wat U vra.
Amen
Gedagte vir die dag | Sondag 8 Mei 2022
Romeine 5:5 “en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”
Daar word ongelooflik baie oor hoop geskryf. Selfs op sosiale media gaan daar nie ’n week verby sonder dat jy een of ander boodskap van hoop ontvang nie. Mooi woorde of net ’n prentjie wat jou weer hoop gee. En tog, as jy met mense gesels en partykeer na jou eie hart luister is daar oor die algemeen maar min hoop in die omloop. Mense verval maklik in hooploosheid. Paul Valery stel dit so mooi: “Ons hoop vaagweg, maar ons vrees in fyn besonderhede.” Vrees, onsekerheid, hartseer en bekommernisse blaas baie maklik die vlammetjie van hoop in ons lewens dood. Want jy sien, ons almal beland van tyd tot tyd, miskien meer gereeld as wat ons wou, in situasies waarin ons sukkel om hoopvol te lewe.
Ek wonder of ek en jy vandag genoeg dans met die verwagting dat God môre dinge kan verander. Glo ons nog, hoop ons nog, leef ons nog, verwag ons nog dat God môre vir my uitkoms kan gee, genesing kan skenk, antwoorde en oplossings kan bied? Ek en jy kan vandag dans omdat ons weet God kan dinge in my lewe, dinge by die werk, dinge in ons land verander!
Christelike hoop is nie net ’n “pie in the sky when you die” nie. Christelike hoop is nie net ’n eendag hoop nie. Nee, Christelike hoop is ook ’n hoop vir vandag!
GEBED
Here, ek vertrou U. Ek hou aan U vas. Ek hoop op U.
Amen
Gedagte vir die dag | Saterdag 7 Mei 2022
Psalm 109:26. Help my, Here my God, red my in u troue liefde,
Was jy al daar? By die punt waar jy eintlik alle hoop om gehelp te word, laat vaar het. Daar waar jy voel: ek het nou aan alle moontlike oplossings gedink, alles probeer wat ’n mens kan probeer, en daar’s rêrig niks aan my probleem/nood te doen nie?
Daar’s baie mense in hierdie land en in ons samelewing wat waarskynlik by daardie punt is waar hulle eintlik alle hoop om gehelp te word laat vaar het, daar waar hulle voel: Ek het nou aan alle moontlike oplossings gedink en alles probeer en ek besef nou dat daar geen uitkoms vir my probleem/nood is nie. Teleurgestelde mense. Dalk is jy op hierdie stadium in jou lewe op so ’n plek.
En weet jy wat gebeur – wanneer die verwagtings in ons harte kwyn, word ons gebede ook al hoe kleiner en flouer. Wanneer ek iets nie meer as moontlik ag nie, gaan ek mos ophou bid daarvoor, of gaan ek met baie min entoesiasme en drif daarvoor bid!
Maar in vandag se teks hoor ons weer die intense gebed van die Psalmskrywer: “Here help my.” En nou weet ons ook dat die Here nie elke keer links en regs vir ons wonderwerke gaan doen as ons dinge van Hom vra nie – sommer net om ons te plesier ,of om die lewe vir ons makliker te maak nie. Maar ons weet ons kan Hom vertrou. Al is dit ook net vir krag om deur jou situasie te kom. Vetrou Hom. Hy is daar en Hy hoor elke keer as jy met Hom praat.
GEBED
Op U verlaat ek my, genadige Heer; die vrede wat U bring, is al wat ek begeer.
Ek het U nodig, Here, daagliks, talle kere!
Neem U my hand, o Heiland, ek kom na U.
AMEN
Gedagte vir die dag | Vrydag 6 Mei 2022
Handelinge 1:8 Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”
Wat beteken kerkwees vir jou? Daar’s mense vir wie kerkwees beteken dat jy jou kinders moet laat doop en elke drie maande nagmaal moet vier. Vir ander mense gaan kerkwees eintlik net oor die preek/boodskap wat hulle Sondae hoor. Vir ander weer is die groot saak van kerkwees die onderlinge liefde en of die mense van die kerk vir mekaar omgee.
En dan is daar mense vir wie kerkwees ’n saak van allerhande beskouings en sienings is. As hulle oor die kerk praat, is dit altyd in dié trant: – “Wat sê die kerk van hierdie saak? Wat is die kerk se standpunt oor daardie saak?“ Hulle is altyd besig om oor “kwessies” in die kerk of in die Bybel te praat.
Alles wat genoem is, is inderdaad belángrike fasette, van kerkwees: – die sakramente (doop en nagmaal); – die Woordverkondiging; – die gemeenskap van die heiliges (die onderlinge liefde); – die belydenis en die teologie.
Maar weet u watter faset van kerkwees het die Here Jesus uitgekies om vir oulaas voor sy hemelvaart op sy apostels se harte te druk? Hulle taak – dat hulle Sy getuies sal wees. Oor die werk wat hulle as kerk moes gaan doen. Jesus Christus vestig ons aandag op hulle taak.
Om te getuig oor Jesus is ons groot taak. Eintlik ons enigste taak. . . getuienis is essensieel. Dis die rede hoekom ons Jesus se dissipels is. Almal kan getuig. Die dissipels was ongeleerde en eenvoudige mense. Die Heilige Gees is aan ons gegee vir ons getuienistaak. (Hand.1:8). Tot watter mate is ek en jy nog besig met hierdie taak?
GEBED
Here U het my ook geroep om te getuig. Mag ek hierdie opdrag met liefde en genade uitvoer. Amen
Gedagte vir die dag | Donderdag 5 Mei 2022
Ek deel vandag met jou ’n aantal beloftes van God uit Sy Woord. Mag jy aan hierdie beloftes vashou.
- God hou sy beloftes – “God is nie ’n mens dat Hy sou lieg nie, ’n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie waar maak nie? ” (Num.23:19).
- God luister na ons gebede – “Die Here sorg vir die opregtes en luister na hulle hulpgeroep, maar Hy tree op teen dié wat kwaad doen ” (1 Pet.3:12).
- God antwoord ons gebede – “Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor” (Jes.65:24).
- Belofte oor verlossing – “God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word ” (Joh.3:17).
- Belofte oor vergifnis – “Maar as ons ons sondes bely -Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid” (1 Joh.1:9).
- Belofte oor die Heilige Gees – “As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie gawes te gee – die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra” (Luk.11: 13).
- Belofte oor verlossing van die Bose – “Die Here is getrou: Hy sal julle versterk en van die Bose bewaar” (2 Tess. 3:3).
- Belofte oor sy teenwoordigheid – “En onthou: Ek is by julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld ” (Matt.28:20).
- Belofte oor geestelike groei – “Ek is veral daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end uit sal voer en dit sal voleinding op die dag wanneer Christus Jesus kom” (Fil.1:6).
- Belofte oor God se liefde – “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin, dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was ” (Rom.5:8).
- Belofte oor die ewige lewe – “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe kan hê ” (Joh.3:16).
- Belofte oor die wederkoms van Jesus – “In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh.14:2-3).
GEBED
Here dankie vir al U beloftes wat ek vandag kon ontvang. Amen
Gedagte vir die dag | Woensdag 4 Mei 2022
Handelinge 2:1-4 “1Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Skielik was daar ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. 3Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. 4Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.”
Die uitstorting van die Heilige Gees is ’n eenmalige gebeurtenis wat ’n nuwe era, waarin God op ’n besondere manier gaan werk, aankondig. Min of meer tien dae na Jesus se hemelvaart was die dissipels in die bovertrek bymekaar toe die Heilige Gees uitgestort is, net soos Jesus belowe het (Handelinge 2). Daar is ’n geweldige rukwind, tonge van vuur en elkeen praat in ’n ander taal oor die groot dinge wat God gedoen het.
Die Heilige Gees se grootste werk is om dit wat Jesus gedoen, gesê en geleer het in mense se harte vas te maak, dit vir hulle te verduidelik en die praktiese implikasies daarvan vir hulle lewens uit te spel (Johannes 14:25). Met hierdie boodskap wek die Heilige Gees geloof in mense se harte, bemoedig, vertroos en versterk Hy ons.
Net soos ons Here Jesus se geboorte, kruisiging, begrafnis, opstanding en hemelvaart, is ook die uitstorting van die Heilige Gees, soos die Bybel daarvan praat in Joh. 20, Hand. 2, Hand. 10, Hand. 19, ’n onnaspeurlike genadedaad van God. Dit kom van Hom af na vore. Dit is onvergelyklik, onbegryplik, onnadoenlik – ’n genadedaad van God. Die Bybel sê Hy is uitgestort om ewig by ons te bly. Dus om gemeenskap,kameraadskap,geselskap en vriendskap met ons tot stand te bring. In een woord saamgevat: Asemrowend!
GEBED
Dankie Here dat U, u Gees vir ons gestuur het om ons te lei, te bewaar en aan te spoor om vir ander van U te vertel.
Amen
Gedagte vir die dag | Dinsdag 3 Mei 2022
Vandag is Dinsdag, 3 Mei, en ons is besig om deur middel van die #StaanSaam-reeks meer te reflekteer oor wat dit beteken om aan mekaar te behoort.
Vandag is ons tema: Spandeer jou tyd slim.
Miskien is dit ’n goeie tyd vir voorraad opname net so na Paastyd. Terugdink, herkou, wegpak, aankoop, weggee, weggooi, nuwe besluite neem. Wat bly agter en wat gaan saam vorentoe? Het jy die afgelope tyd die beste gebruik gemaak van dit wat jy tot jou beskikking gehad het? Die beste gemaak van elke geleentheid? Prediker 3 kom sê vir ons dat elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd. Daar is ’n tyd om gebore te word. ’n Tyd om te sterf. ’n Tyd om te plant. ’n Tyd om uit te trek. ’n Tyd om af te breek. ’n Tyd om te bou. ’n Tyd om te lag. ’n Tyd om te treur. ’n Tyd om te dans… ’n Tyd om klippe weg te gooi. ’n Tyd om hulle bymekaar te maak…
Prediker sê daar is ’n tyd vir alles, maar daar is nie altyd tyd vir alles nie. As jy vir mense vra hoe dit met hulle gaan, dan antwoord hulle altyd dit gaan besig. As ek in Prediker lees oor tyd, dan sien ek iets anders raak as horlosietyd. Ek sien tyd wat gaan oor prioriteite. Dis nie hoeveel tyd jy het nie. Die vraag is: hoe lyk jou prioriteite? Spandeer jy jou tyd slim? Tyd aan jou vrou? Tyd aan jou kinders? Tyd alleen met God? Hierdie bouwerk vra tyd.
Staan saam en spandeer jou tyd slim! Amen.
Gedagte vir die dag | Maandag 2 Mei 2022
Vandag is Maandag 2 Mei. Gister het ons Werkersdag gevier en ons is saam besig om deur middel van die #StaanSaam-reeks te reflekteer oor wat dit beteken om aan mekaar te behoort. Vandag is ons tema: Kreatief tydens afsondering.
Ons weet bitter min van Jesus se lewe voor sy openbare bediening. Ons weet dat Jesus by sy ouers in Nasaret gebly het, dat hulle as gesin Jerusalem tydens Paasfees besoek het toe hy omtrent 12 jaar oud was en dat Jesus en sy pa Josef dieselfde werk gedoen het. In Matteus 13:55 vra die mense: “Is Hy dan nie die timmerman se seun nie?” en in Markus 6:3 “Is hy dan nie die timmerman, die seun van Maria nie?” Die Boodskap vetaal dit met: “Is Hy nie ’n eenvoudige houtwerker nie?” Hoeveel vaardighede en gereedskap moes Jesus nie bemeester het toe Hy as timmerman gewerk het nie. Watter produkte en dienste het Hy moontlik aan die inwoners van Nasaret gelewer? En hoe het sy vroeë opleiding as ambagsman ’n invloed op Hom gehad?
Jy moet onthou as jy weer hout ruik, dat Jesus weet hoe ’n mens met hout kan sukkel. Jesus verstaan van ’n plank wat nie haaks is nie en iets wat geskaaf moet word. Jesus het die ervaring asook die geduld om met hout te werk. Onthou dan dat Jesus die skrynwerker ook besig is om met jou te werk. Tot vandag toe timmer Hy nogsteeds deur Sy Woord en Gees aan ons.
Fil 1:6 “Ek is varal daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.” Hierdie Timmerman maak nuut. Hierdie Timmerman maak mooi en Hy maak heel. Hierdie Timmerman is Jesus. Wees vandag op hierdie vakansiedag kreatief in afsondering en reflekteer oor hoe God besig is om aan jou te skaaf en te vorm. Reflekteer tydens afsondering hoe Hy jou wil gebruik tot die uitbou van die koninkryk van God. Staan saam en laat God toe om kreatief deur jou te werk.