Gedagte vir die dag | Saterdag 21 Mei 2022
Nadat ons die afgelope week bietjie gewandel het deur ’n hoofstuk in Numeri, glo ek, die woorde van Kaleb het ons sterk aangespreek, ook in die situasie waarin ons onsself in Suid-Afrika bevind. Met groot oortuiging, het ons gehoor, sê Kaleb tussen die koor van pessimiste: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kan dit doen!”
Daar is verskeie ander groot geloofsuitsprake in die Woord. Mense wat midde in hulle moeilike omstandighede vorentoe kyk, met hoop en oortuiging bekend maak dat hulle God ken en dat God die sleutels van die toekoms in Sy hand hou.
Dink maar aan Dawid, wat in geloof sê hy sal die reus aanpak. Dieselfde Dawid wat gesê het: “al storm 10 000 mans hom, nogtans sal hy bly glo, en vashou aan die God wat hy vertrou. Nehemia, nog ’n geloofsheld uit die Ou Testament se hart is gebreek oor sy land en tempel wat tot ruïnes verwoes is. Hy het egter nie net bly sit in sy depressie en swaarmoedigheid nie, hy het opgestaan en die bul by die horings gepak . . . gelyktydig gehuil en gebid en die koning gaan vra vir goedkeuring om na sy land terug te keer en om te begin met die ophou daarvan.
Ons ken die verhaal van Nehemia verder. Hierdie geloofsheld wat niks ontsien het om die eer van God te herstel en die tempel te herbou nie. Alhoewel alles teen hom was, en teen hulle as volk, het hy bly vashou aan die beloftes van God, en het hulle met die werk begin. Nadat hy hulle geïnspireer het, volg daar ook ’n aangrypende geloofsuitspraak deur ’n paar van sy volksgenote. Ons lees uit Nehemia 2:18: “Ek het hulle toe vertel hoe my God sy goeie hand oor my gehou het en wat die koning vir my gesê het. Hulle het gesê: “Kom ons bou!” en hulle het die goeie werk aangepak.”
Vers 20: “Ek het hulle geantwoord en vir hulle gesê: “Die God van die hemel sal ons laat slaag in wat ons doen. Ons, sy dienaars, gaan bou!”
Soos in Kaleb se situasie, moes hierdie geloofsvriende besluit: “Ons gaan nie in die hoekie bly sit en sanik oor die gebreekte toestand van ons land nie. Ons gaan in geloof begin met die werk, ons gaan begin bou!
Spreek dit ook tot jou hart soos dit tot my hart spreek? Ook ten opsigte van ons eie land, gemeenskappe en huise wat baie keer ook maar stukkende ruïnes is? Dat ons ook met geloof ’n besluit kan neem om met oortuiging uit ons hoekie te kom, en skouer aan die wiel sit, en om in geloof te begin herbou. Ons land het Kalebs nodig! Ons land het Nehemia’s nodig! Mense wat, omdat hulle vir God ken, en sy vermoëns ken, hande uit die moue steek en begin met die bouwerk aan ons gebreekte land en al die aspekte daarvan…. om dit weer tot eer van God te herstel.
Is jy ’n bouer? Of ’n wegkruiper vir wat rondom ons gebeur?
Gebed: Here, gee dat ek soos Nehemia op U vertrou, en begin met die broodnodige opbouwerk van die gebreekte omstandighede rondom my. Amen.
Gedagte vir die dag | Vrydag 20 Mei 2022
Numeri 13:30: 30Kaleb het egter die manne wat met Moses praat, stilgemaak en gesê: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.”
In opvolg op gister se dagstukkie, waar die negatiwiteit en vrese van die meeste van die verkenners hul verslag aan Moses oorheers het, waai daar nou ‘n vars briesie van geloof en optimisme in en deur die verslag van Kaleb. Nadat die res gesanik het oor die gevare en die groot reuse, wat hulle gesien het wat hulle so bang maak, en wat die toekoms in duister dompel, praat Kaleb woorde van geloof! Ja hy het dit ook alles gesien . . . die goed en die sleg, die mooi en die uitdagings, maar hy het besluit dat die sleg nie die goed gaan oorheers nie. Hy dink aan die toekoms as ’n moontlikheid van geluk, vreugde en oorwinning. Tussen “veg of vlug” kies hy beslis om te veg, nie omdat hy dink hulle is goed of meerderwaardig nie, nie vanuit arrogansie nie, maar met geloof en optimisme. Hy het gekies vir die half vol glas water.
In sy optrede sien ons ook die belangrikste eienskap van optimistiese leierskap: ’n beslistheid, en ’n besluit om ongeag die uitdagings en die reuse, tog vorentoe te gaan en in geloof aan God se beloftes vas te hou. Dis nie ’n hoogmoedige, oorversekerde uitspraak nie. Dit is gesetel in die feit dat hy vir God ken en weet wie en hoe God is. Dat hy aan God se beloftes vashou. Sy geloof in wie God is, open die weg vir die toekoms en vul hom met hoop, entoesiasme en sekerheid. Daarom kan hy met groot oortuiging sê: “Ons moet beslis optrek, en die land in besit neem. Want ons kan dit doen!”
Ja, daar is verseker ook groot en reuse uitdagings in ons land en in ons wêreld. Dit is verseker bedreigend, en laat ons baie met ’n gevoel van pessimisme. Geloof laat ons egter hierdeur breek, soos ons by Kaleb leer. Dit is geloofswoorde wat gepraat kan word, en gepraat moet word om die toekoms vir ons oop te sluit. Ek het Sondagaand met die jeug gepraat oor die tema: “Of course you can!” Dit is wat Kaleb hier sê en dit is wat ons ook kan sê in ons eie konteks oor ons land. Omdat ons glo in God se vermoëns en karakter kan ons dit ook sê ten opsigte van ons toekoms. Laat ons beslis optrek! “Of course we can, because God can!”
Dankie Here, dat U ons harte met hoop en optimisme vir die toekoms vul. Dankie dat ons kan weet U is daar en nou alreeds in die toekoms, en dat ons ons hoop op U kan vestig. Amen.
Gedagte vir die dag | Donderdag 19 Mei 2022
Numeri 13:27 & 28: “27Hulle het aan Moses gerapporteer en gesê: “Ons het in die land gekom waarheen u ons gestuur het. Dit loop oor van melk en heuning, en hier is van sy vrugte. 28Maar die mense wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot. Ons het ook die nasate van Enak daar gesien.”
Gister het ons gesien hoedat Moses ’n aantal leiers kies en hulle stuur om die beloofde land, Kanaan, te gaan verken. Hulle het deur verskillende woestyne getrek, in die land aangekom, waargeneem wat daar aangaan en uiteindelik teruggekeer om aan Moses en Aäron verslag te kom doen.
Aanvanklik het almal waarskynlik hande geklap toe hulle verslag doen van die land. “Dit is baie mooi. Die land loop oor van melk en heuning, dis ’n paradys.” Daar is so baie goed, soos onder andere hierdie vrugte wat ons vir julle saamgebring het. Maar dit is ook net daar, sommer vroeg in die verslaggewing, wat die pessimisme, angs en onsekerheid die gesprek oorneem. Al hierdie positiewe dinge waaroor hulle rapporteer, word summier van die tafel afgevee, en opgevolg met ’n baie betekenisvolle “MAAR!” Dit is alles goed en wel, MAAR daar is ook groot reuse, groot en sterk mense en sterk stede.
Dit het my baie laat dink aan die baie bekende vergelyking met die half leë glas. Die glas wat half vol is met water, met die vraag: ”Wat sien jy raak? ’n Halwe leë glas, of ’n halwe vol glas?” Dit is presies wat hier gebeur, al die mooi, positiwiteit word summier afgemaak met ’n pessimistiese “MAAR”.
Is dit nie ook waar in ons eie lewens nie? Daar is so baie mooi en positiewe dinge wat ons raaksien wanneer ons ons eie land gaan verken . . . sy mense, die natuurskoon, die weer, en so baie ander positiewe elemente. Ons kyk ongelukkig baie vinnig verby dit, en kom vinnig by die “MAARS” wat ons gesprekke en gedagtes oorheers. Die negatiewe, die slegte, die dinge wat onseker is, en dit begin ons hele perspektief oorheers. Het jy ook “MAARS” in jou lewe? Ja daar is mooi goed wat jy waarneem, maar die “MAAR” oorheers jou lewe en jou visie. Maak die mooi plek vir swartgalligheid, pessimisme, omdat jy jou deur “MAARS” laat oorheers.
Gebed: Here, dankie vir die mooi dinge wat U oor ons lewe bring, ook in ons land. Help ons asbs om ons brille skoon te maak, om die mooi en positiewe dinge te sien, en nie vas te haak by ons MAARS nie. Amen.
Gedagte vir die dag | Woensdag 18 Mei 2022
Ek was baie bevoorreg om twee keer hierdie jaar ’n brugleraarskursus by te woon by die Andrew Murray Sentrum in Wellington. Vir ses keer tydens hierdie twee modules, het ons by een gedeelte in die Bybel stilgestaan in ons wandel-deur-die-woord-sessies. Aanvanklik kon ek nie glo dat ons vir ses keer by een onbekende hoofstuk uit ‘n onbekende boek gaan stilstaan in ons bespreking en Bybelstudie nie. Die hoofstuk was uit een van die onbekende boeke in die Bybel (waaruit ons maar min lees en preek) naamlik, Numeri. En dan spesifiek hoofstuk 13.
Ek wil tydens drie van ons dagstukkies hierdie week ’n paar keer stilstaan by hierdie aangrypende hoofstuk. ’n Stukkie geskiedenis van die volk van Israel wat deur die woestyn trek, oppad na hul beloofde land toe. Ek hoop en glo dat baie van toepassing gemaak kan word op ons situasie vandag in Suid-Afrika.
Numeri 13:1: 1Die Here het vir Moses gesê: 2“Stuur manne om Kanaän, wat Ek aan die Israeliete sal gee, te verken. Uit elke voorvaderlike stam moet jy een stuur wat ‘n leier onder hulle is.17Moses het hulle gestuur om Kanaän te verken, en vir hulle gesê: “Trek deur die Suidland en op na die bergwêreld toe. 18Bekyk die land, hoe dit is, en of die mense wat daar woon, sterk of swak, min of baie is.
Hierdie stukkie geskiedenis is baie bekend aan ons. Vir vele jare trek Moses al met ’n weerbarstige volk onder moeilike omstandighede deur die woestyn, oppad na ’n land wat God aan hulle beloof het. Hy en Aaron staan aan die hoof van hierdie sending of te wel trek. Waarskynlik nie baie ver van die beloofde land af nie, besluit hy om mense, verkenners en leiers uit die groep, vooruit te stuur en die land te gaan verken. Onder hulle is onder andere Joshua en Kaleb. Die res verteenwoordig die ander stamme van Israel. Hul opdrag is om uit te gaan, te gaan kyk en waar te neem waarheen hulle oppad is. Party mense noem hulle verspieders, ander verkenners. Die feit is, hulle is geïdentifiseer as leiers, en uitgestuur vir ’n baie belangrike en ’n bepaalde taak. Hulle moes gaan kyk na die land waarheen hulle oppad is.
Ek het die afgelope paar dae baie hieroor nagedink. Dit is so belangrik dat daar leiers in plek moet wees wat uitgaan om te verken. Om waar te neem wat in die land aangaan en hulself te vergewis met die situasie, ook soos Nehemia destyds gedoen het, toe hy gaan ondersoek instel het oor die toestand van sy land na die ballingskap.
Ek glo die Here stuur steeds vandag mense uit na alle verskillende uithoeke van die wêreld, ook in ons eie land,gemeenskappe, skole, werksplekke, om waar te neem wat is besig om aan te gaan. Hoe gaan dit in ons land, hoe gaan dit met ons mense? Leiers het hierdie taak om waar te neem, om in te neem, en hulle te vergewis met wat aangaan, sodat aksie geneem kan word. So, glo ek, is ek en jy ook gestuurdes, in ’n sin verkenners, om uit te gaan en waar te neem en ons te vergewis van wat aangaan in ons wêreld, sodat aksie geneem kan word en baie spesifiek gebid kan word, en om medeverantwoordelikheid te aanvaar vir wat aangaan.
Mag die Here ons help om verkenners te wees, ook in ons eie tyd.
Gebed: Here, dankie dat u ook vir my wil stuur om my te vergewis met wat in ons wêreld en land aangaan, sodat ek meer doelgerig kan bid en ’n verskil kan maak.
Amen.
Gedagte vir die dag | Dinsdag 17 Mei 2022
Handelinge 11:24-26. ’n Aansienlike groep mense is tot geloof in die Here gebring en Barnabas is na Tarsus toe om vir Saul te gaan soek. Toe hy hom kry, het hy hom na Antiogië toe gebring, en hulle het ’n volle twee jaar lank saam in die gemeente gewerk en baie mense onderrig. In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem.
Wat sou dit beteken om die naam Christen te dra? Die kerk soos ons dit vandag ken, is nie van dag een na Jesus se opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees in een vorm gegiet nie. Dit leer ons teksgedeelte en die geskiedenis van die vroeë kerk ons. Alhoewel die boodskap van God se genade en liefde in die kerk onveranderlik bly – verander die kerk. Die Heilige Gees is voortdurend besig om ons te vervorm deur dinge wat met ons in die wêreld gebeur. Ek hoor so dikwels dat mense die opmerking maak dat die kerk soos die wêreld geword het en daarin haar unieke getuienis verloor het. Die Here het nie bedoel dat die kerk en die realiteit daarbuite twee verskillende werklikhede moet wees nie. In Fil. 3 lees ons dat God nie homself nie aan sy gestalte as verhewe voorhou nie, maar “die gestalte van ’n slaaf aangeneem … om aan mense gelyk te word”. Dit is wat ons waardig maak om die naam Christen te dra. Ons leef in die harde realiteite van die wêreld wat ons nie moedeloos maak nie, maar aanspoor om dag na dag verander te kan word.
Gebed
Here, dit is so maklik om elke dag wanneer ons die nuus lees en daarna luister weer ons koppe te skud oor alles wat weer in hierdie wêreld gebeur het. Dit is maklik om dan vingers te wys na die mense wat dit ’n slegte en onbewoonbare plek maak. Maar Here, ons dra die naam Christen. Nie net hoop ons op ’n ewige lewe nie, maar ’n lewe waar ons hede gedurig verander word om nuwe betekenis te gee. Help my vandag om dit in vandag se nuusgebeure te lees.
Amen.
Gedagte vir die dag | Maandag 16 Mei 2022
Handelinge 10:34-35. Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, maar uit enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is. Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus bring. Hierdie Jesus is Here van almal.
Dit was vir Petrus geweldig moeilik om tot die besef en insig te kom dat God se genade nie beperk is tot net ’n geselekteerde groepie godsdienstige mense nie, maar op enige mense in hierdie wêreld van toepassing is. Dit is die goeie nuus wat die kerk die voorreg het om te verkondig. Die Evangelie dat God vrede bring. Tussen my en God, tussen my en ander sowel as tussen my en die natuurlike geskape wêreld waarin ek leef. Die veronderstelling is dat mense van buite na die kerk en na ons moet kyk en kan sien hoe hierdie vrede in aksie lyk. Dit was hierdie moment wat Petrus as te ware vir ’n tweede keer in sy lewe tot bekering gebring het. Hy het die impak van ’n klein groepie gelowiges wat vrede gebring het in aksie gesien en self tot insig gekom en God se vrede beleef. Hoe is hierdie vrede besig om deur te breek waar jy tussen ander gelowiges in die kerk leef? Hoe kan jy vandag deel daarvan wees om hierdie vrede met ander te deel.
Gebed
Here, bring my dwarrelende en onrustige gedagtes vandag tot rus. Help my om soos Petrus geraak te word daar waar ander se optrede u vrede in die midde van konflik bring. Maak my oë oop om as’t ware weer tot bekering te kom en ook u vrede vandag met ander te deel. Help my vandag verstaan dat U regtig al die mense wat vandag my pad kruis, lief het – en bewaar my om gedurig tussen mense onderskeid te maak. Laat u vrede vandag deur my vloei.
AMEN.
Gedagte vir die dag | Sondag 15 Mei 2022
Handelinge 6:2. Dit is nie reg dat ons die verkondiging van die woord van God verwaarloos om die versorging te kan behartig nie. [Daarna vertel die teks hoe mense in die kerk aangestel is om verskeie take te verrig].
Waar en hoe pas jy in vandag se kerk in? Ons sou kon antwoord en sê: Ek is ’n lidmaat van ’n gemeente. Dink mooi oor hierdie woorde waarmee die meeste van ons vandag kan identifiseer. Dit moet mos eintlik ‘ledemaat’ wees! Want dit is wat die Here in gedagte gehad het. Elkeen van ons wat iewers in die Here se groot wysheid aan mekaar haak en so deel is van ’n groter geheel wat ’n verskil maak. Dis die kerk. God se liefde en genade kom prakties na ons toe deur mense wat die Here oor ons pad stuur, of dat ons ander se paaie kruis. In kort, ’n belangrike deel van kerk het te doen met luister, leer en dink wat met Sondag kerk te doen het. Maar ’n wesenlike deel het ook te doen met ons verbintenisse met mense binne en buite die kerk waar ons prakties tot diens kan wees en waar ons kan help om ander aan te vul. Hoe laat vandag se teks jou dink oor 1) jou eie deelwees van die kerk in hierdie tyd en 2) die mense tussen wie jy jouself bevind.
Gebed
Here, verlig vandag my verstand en begrip vir my deelwees aan U kerk. Here, verlig ons oë en die manier waarop ek na ander om my kyk. Here, verlig my hart oor wat ek oor ander dink. Here, wees met ons elkeen waar ons hierdie dag ingaan.
AMEN.
Gedagte vir die dag | Saterdag 14 Mei 2022
Handelinge 5:38-39. In vandag se teks is Gamaliël, ’n invloedryke Fariseër in gesprek met ‘n aantal geleerde Joodse godsdienstiges oor wat hulle te doen staan rakende die vroeë gelowiges wat Jesus nagevolg het.
Wat die huidige geval betref, my raad aan julle is: Laat staan hierdie mense en laat hulle los, want as wat hulle wil en wat hulle doen, mensewerk is, sal daar niks van kom nie. Maar as dit van God kom, sal julle hulle nie keer nie. Moenie dat dit dalk later blyk dat julle selfs teen God gestry het nie.
Gelowiges kan maklik bedreig voel deur die kragte en magte wat in ’n demokrasie op hulle inwerk, veral as jy by die punt kom waar jy voel dat die Christelike kerk nie meer ’n plek, of invloed in ons land het nie. ’n Mens hoor gereeld Christene ontsteld praat dat godsdiens nie meer soos in die verlede in die skole geleer word of deur die staat erken word nie en dat dit lyk asof die kerk al hoe meer verwêrelds raak. Hoe behoort ons in sulke omstandighede op te tree? Dit was nie veel anders vir die klein groep gelowiges in die tyd van die vroeë kerk nie. Alhoewel hulle min was en nie ’n sê gehad het in die regering van daardie tyd nie, het dit waarin hulle geglo ’n groot invloed gehad.
Vandag se gedeelte herinner dat ons nie in vrees en frustrasie hoef te leef dat God en die kerk deur die wêreld oorweldig word nie. “As dit waarmee ons besig is werklik van God kom, sal niemand ons kan keer nie”. Moet dus nie dat jou pessimisme oor hoe jy vandag ervaar oor jou die oorhand kry nie. Maar dan is daar egter ook ‘n belangrike waarskuwing vir ons in die kerk. Moenie onderskat hoe God juis op ’n wêreldse manier besig is om in ons tye te werk nie. In ’n poging om God te laat geld kan ons met ons eie godsdienstige sieninge in die pad staan van Sy grootheid, wat ons bely.
Gebed
Heilige God, Skepper van alles wat bestaan, U is gedurig besig om die gesig van die wêreld te verander; in Jesus Christus vernuwe U ook in die proses vir ons, u kinders. Laat daarom U kreatiewe energie in my lewe invloei om dit te transformeer tot ’n instrument waarmee U, u koninkryk hier op aarde kan uitbrei. O, dit gee aan my lewe ’n doel en sin wat alle ander vreugdes waaraan ek kan dink verreweg oortref.
AMEN.
Gedagte vir die dag | Vrydag 13 Mei 2022
Handelinge 5:12-14. Al die gelowiges het gereeld saamgekom in die Pilaargang van Salomo, maar van die ander mense het niemand dit gewaag om by hulle aan te sluit nie al het die volk hulle hoog geag. Tog is baie mense wat in die Here geglo het, mans sowel as vroue, algaande by hulle getal gevoeg.
Die eerste groepie gelowiges of dan die kerk van die antieke tyd was baie klein. Hulle het na Jesus se opstanding gegroei van 72, tot 128 tot 5000. Wat het mense aangetrek om by hierdie gemeenskap, waarvan ons vandag deel is, aan te sluit? Die geheim van die kerk was relevansie. Die Heilige Gees het mense geïnspireer om op ’n opbouende en betekenisvolle manier in hulle samelewing te leef en so het die kerk gegroei. Die Heilige Gees het gelowiges ’n aanvoeling gegee om dit wat skeef en verkeerd loop reg te maak. Om vir mense in te staan op wie daar neergekyk word. Dit was die manier waarop die eerste gelowiges getuig het. Hulle het nie hulle geloof vir mense verduidelik nie, maar geleef. Sommige was daardeur afgeskrik omdat hulle nie bereid was om hierdie grense oor te steek nie. Die wese van die kerk waarvan ons vandag deel is, is bedoel om relevant te wees vir die kwessies, geleenthede en uitdagings van ons wêreld. Hoe is jy deel van hierdie gemeenskap waardeur die Here betekenis vir ander wil gee? Wat is die grens waarvoor jy vandag staan en hoe praat die Here met jou om daardeur te beweeg?
Gebed
Here, soos die klei in die hand van die pottebakker, so is ek vandag in u hande. Vorm my en maak my om van nut en betekenis te wees vir die tyd en omstandighede waarin ek my vandag weer bevind. Here, ons is geleer dat ons ander oor U moet vertel. Bewaar ons tog om nie net altyd oor U te praat nie, maar beskikbaar te wees dat U deur ons praat. Gee my vandag ’n dieper sin van waarmee U in die lewe met my op pad en mee besig is.
Amen.
Gedagte vir die dag | Donderdag 12 Mei 2022
Handelinge 4:2 en 13. Die priesters en die ander was onthuts omdat die apostels die mense geleer het en verkondig het dat die opstanding uit die dood deur Jesus se opstanding ‘n werklikheid geword het. 13. Die Joodse Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien, want die Raad het geweet dis maar ongeleerde en eenvoudige mense.
In vanoggend se teks kom eenvoudige vissermanne van Galilea te staan teen volksgenote van Jerusalem in die Joodse Raad. In Jesus se tyd is alle kinders tot op die ouderdom van dertien godsdienstig onderrig. Die wat slim, intelligent en begaafd was, is dan daarna weggestuur om in godsdiens verder onderrig te word en posisies soos die van ’n rabbi of priester te beklee. Die res, wat waarskynlik ook die meerderheid was, moes gaan werk. Jesus en sy dissipels het tot hierdie laaste groep behoort. Hulle moes inval by die familie se besigheid as vissers en skrynwerkers. Vandag se gedeelte herinner ons aan die kragtige maar eenvoudige en werklike wyse waarop die Here se opstanding in mense werk. God se Gees wat in ons gedagtes en perspektiewe ’n vrymoedigheid bring wat die lewe, uitdagings en probleme vir mense kom oopsluit. Wat is die Here vandag besig om in jou gemoed te doen? Wat is die vrymoedigheid wat die Here se Gees in jou wil ontsluit?
Gebed
Here, ek glo in die Heilige Gees. U teenwoordigheid wat, op maniere wat ek nie aldag verstaan nie, in my lewe idees, gedagtes en perspektiewe kom oopsluit. U wat die gevoel in my kom verander. Wat vandag my angstigheid, vrees, geïrriteerdheid en woede kan verander – Here kom verander my gemoed vandag. Help my om eenvoudig vrymoedig te wees en vandag in die lewe nuwe betekenis te vind.