GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Dinsdag 31 Mei 2022

Van die vroegste tye af het gelowiges mekaar gereeld herinner om te rus in God se teenwoordigheid. Hierdie uitnodiging was gebore vanuit ‘n diep oortuiging dat God ons nooi om skuiling te vind, beskerming te vind en rus te vind in God se teenwoordigheid. Wanneer ons dit doen, doen ons dit vanuit ‘n geloofsoortuiging dat daar grense is wat ons nie verby kan steek nie, dat daar goed is wat ek nie vir myself kan doen nie. Om te rus in God se teenwoordigheid is om te erken dat ek ‘n beperkte kapasiteit het. Dis die ontdekking dat my krag en denke en lewensasem net so ver kan gaan, en nie verder nie. Dan aanvaar ons, ons menslikheid. Dis dan wanneer ons oorgee, en afgee en rus in ‘n groter teenwoordigheid as onsself. Ons gee dan beheer af, en laat God toe om ons vas te hou. Mag ons dit ook vandag doen

Grote God, in die begin was U.

Vandag is U nog steeds.

Môre sal U daar wees.

Wie kan probeer om ooit ‘n ware voorstelling van U te maak?

U het geen liggaam nie.

U is ‘n bietjie soos die woorde wat uit ons mond uit kom:

Ons sê dit, en dit is weg,

Maar wat gesê is, bly altyd lewe.

So is U, groot God.

U was altyd gister,

U is vandag,

U sal altyd more wees.

Amen

Gedagte vir die dag | Maandag 30 Mei 2022

 

Op ’n Maandag is dit maklik om oorweldig te word deur al die doendinge van die dag. Afsprake en e-posse en mense en ’n ritme wat ’n mens so maklik verswelg. Miskien wil jy iewers deur die dag net ’n paar oomblikke neem en vir ’n rukkie in stilte sit. Asem in en asem uit en herinner jouself dat God se Gees in jou is, en rondom jou is. Neem ’n paar oomblikke waar jy die gedagtes in jou kop eenkant skuif en die stilte omarm. Selfs al is dit net vir ’n paar minute. Haal net diep asem en ontvang die troos dat God se Gees in jou is. Jy hoef nie alleen te voel nie, jy hoef nie oorweldig te voel, God se Gees is in jou. Herinner jouself God se Gees is ook rondom jou. Wat ookal vandag gebeur, God se Gees is rondom jou om jou te dra en jou te lei.

Ek lees graag ’n gebed van Piet Naude

Here God

Ek staan voor U vandag, in stilte.

Maak my woorde minder, my gedagtes stiller en my gees oper.

Ek wil U hoor-

Nie my eie stem of die van ander nie.

Ek luister, Here.

Praat maar.

In stilte. . .

Amen

Gedagte vir die dag | Sondag 29 Mei 2022

 

Ek lees graag op hierdie Pinkstersondag ’n gebed van Dirkie Smit met ’n verwerking van die Disney lied-  It’s a small world

Ons loof U, o Pinkstergees

Vir die fees wat ons wêreld klein gemaak het en ons almal een.

 

Ons loof U, o Pinkstergees,

Vir die een doop,

Vir die een hoop,

Vir die een liggaam,

En die een geloof,

Vir die een Here

En ons een God en Vader -en vir die een wonderbare wêreld wat ons deel, ook al praat ons vele tale.

 

Ja, it’s a world of laughter,

A world of tears,

It’s a world of hopes

And a world of fears.

 

There’s so much that we share

That it’s time we’re aware

It’s a small world after all.

 

There is just one moon

And a golden sun

And a smile means friendship

To ev’ryone

Though the mountains divide

And the oceans are wide-

It’s a small world after all.

 

Ons dank U, o Pinkstergees, vir die liefde wat die band van die eenheid is-

En bid dat U ons steeds inniger aan mekaar sal bind, deur die bande

Van respek en omgee en sorg en ontferming en vergifnis en gemeenskap en liefde.

 

Gedagte vir die dag | Saterdag 28 Mei 2022

 

Ek lees graag ‘n gebed van Ferdinand Deist. Mag sy gebed ook ons gebed word en mag ons soos die skrywers van die Bybel geskryf het, die stad wees op die berg. Mag ons ook gewig gee aan hulle wat ons voorafgegaan het, ons medereisigers wat voor gestap het en ons inspireer om ‘n venster op God se Koninkryk te wees.

 

Vader in die hemel, ek glo aan die kerk,

Die gemeenskap van die heiliges.

Ek dank U vir die voorbeeld van duisende gelowiges uit alle eeue

Wat dit vir my lig maak voor my voete.

Here, laat my by hulle leer wat die moeite werd is

En wat om te vermy omdat dit skadelik is vir U Koninkryk.

Help my om, as deel van U kerk op aarde,

My beskikbaar te stel vir u werk

Sodat u kerk waarlik ’n stad op die berg en ’n lig op ’n maatemmer sal wees.

Here, gee dat die hele wêreld U sal sien deur die kerk-

Die venster op u koninkryk.

Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus, die Heer van die kerk.

Amen

Gedagte vir die dag | Vrydag 27 Mei 2022

Pinkster nooi ons uit om te droom en dink oor hoe ons saam met God die wêreld ‘n mooier en beter plek kan maak. Ek lees graag ‘n gedig van Nico Simpson wat miskien vir ons kan help om te begin sien hoe hierdie wêreld kan lyk:

Here, leer ons leef in ‘n stad sonder mure!

Ons wil lewe bring en nie doodmaak nie.

Ons wil mense se gees lig en nie belas nie.

Ons wil sensitiwiteit laat blom en nie smoor nie.

Ons wil ons sintuie verskerp en nie afstomp nie.

Ons wil mense meer hulself laat wees en nie hulle inperk nie.

Ons wil skoonheid geniet en nie vernietig nie.

Ons wil waarheid aan die lig bring en nie verberg nie.

Ons wil negatiewe stereotipes uitdaag, en nie versterk nie.

Ons wil empatie wys en nie afsydigheid kweek nie.

Ons wil skynheiligheid aan die kaak stel en nie oorsien nie.

Ons wil oortredings versoen en nie vemeerder nie.

Ons wil die gevolge van sonde uitwys en nie ontken nie.

Ons wil troos gee en nie ongeërg wees nie.

Ons wil verwondering bring en nie verveling nie.

Ons wil hoop skep en nie wanhoop nie.

Ons wil genade uitdra en nie gierigheid aanmoedig nie.

Ons wil liefde uitleef en nie wellus aanvuur nie.

Ons wil rondom U vergader en aandagtig luister na wat U vir ons sê oor hoe om so ‘n oop stad te bou.

Amen

Gedagte vir die dag | Donderdag 26 Mei 2022

Johannes 3:7-8. “Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. 8Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”

In die aanloop tot Pinkster kom die uitnodiging na ons toe soos soveel keer van te vore: Om ons aannames en vooropgestelde idees van hoe ons dink God is en wie God is, dalk eenkant toe te skuif en onsself oop te stel om verras te word deur God se Gees. Miskien is die ontdekking wat ons dan maak – dat God orals en in almal is. Die wind waai waar hy wil, jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. Mag ons in die oploop tot Pinkster ruimte in ons geloofslewe maak om deur God se Gees verras te word. Miskien sien ons dan mense rondom ons in ’n heel ander lig.

Terwyl ons strompel, sukkel, swoeg, leer ons sug, o Gees.

Terwyl ons strompel, sukkel, swoeg, leer ons sing, o Gees.

Ons eer U as Trooster.

Ons prys U as Sangmeester:

U is die Dirigent van lof.

Waai, ons, o Gees waar ons nie wou kom nie.

Brand in ons die wil van God.

Amen

Gedagte vir die dag | Woensdag 25 Mei 2022

Die antieke mense het geglo dat die natuur soms boodskappers is oor waar ons op die oomblik in ons lewe is. Die verandering in die seisoen herrinner vir ons aan die veranderinge wat ook in ons eie lewe plaasvind. Ons raak bewus van dit waarvan ons dalk meer moet doen, en waarvan ons minder moet doen. Ons raak bewus van nuwe geleenthede, nuwe verhoudings en die ongebekende oorgange wat in die tyd oor ons pad kom. Waarheen is dit waarna God ons roep en wat is die onverkende paaie wat ek nog moet loop. Dis die tipe vrae wat baie van ons in die tyd vir onsself afvra. En soos ons dae korter en kouer word, mag ons in die tyd leer om  dalk ‘n bietjie langer te reflekteer, langer te luister en miskien nuwe vrae te vra, want verandering en om oor te begin is geskenke van God. Net soos die lewe na die dood.

Gebed deur Richard Foster

Gees van die lewende God, wees die tuinier wat my siel laat blom.

Hoe lank wag ek nou al op U hier in die koue winter van my gees.

Maar vandag waag ek om U te smeek, in die kragtige naam van Jesus Christus:

Hark weg die dooie blare van die verlede, Heer.

Verdruis die harde kluite van my weerbarstige gewoontes en groewe.

Bemes my met die ryk kompos van nuwe visie en vreugde.

Plant diep in my siel u lewegewende Woord.

Versorg, gee water, koester my hart totdat die nuwe lewe in my ontkiem groei en blom.

Amen

Gedagte vir die dag | Dinsdag 24 Mei 2022

Ons het die afgelope week lekker gekuier by ‘n paar van die geloofshelde in die Bybel. Ons het in die geloofsgallery stilgestaan by mense soos Kaleb, Nehemia, Abraham en ‘n paar ander wat vir ons ‘n voorbeeld is van hoe ‘n mens, selfs in die diepste nood en onsekerheid, na God kyk en in geloof aan Hom vashou. Ons is vandag terug by, waarskynlik saam met Abraham, een van die grootste geloofshelde in die Bybel. Ja, ons is weer by Dawid, en dan spesifiek in Psalm 18, wat hy skryf nadat uit die mag van sy vyande en Saul gered is. In nadenke oor hierdie baie droewige en donker tyd in sy lewe, kon David in Psalm 18:30 en 31 sê: “U laat my lamp skyn, Here my God. U verlig my duisternis. Met U loop ek ‘n bende storm. Met my God spring ek oor ‘n muur.”

In die geloofsuitspraak van Dawid, sien ons nie net die hoop en verwagting vir die toekoms nie, ons sien ook durf en waagmoed vir die uitdagings van elke dag. En het Dawid nie baie uitdagings gehad nie! Ongeag dit alles, sê Dawid, God laat sy lamp skyn! God laat sy lewe skyn, en dan spesifiek skyn met hoop, vertroue en verwagting.”

Dit is hierdie geloofsmoed wat hom laat kans sien vir al onsekerhede en spanning van sy dag, die moeilikheid in sy eie familie, sy eie koninkryk en sy persoonlike lewe. Daarom kan hy sê: “Met my God!” “Saam met my God sien ek kans! Met my God kan ek ‘n bende storm en oor ‘n hoë muur klim!”

Ek deel vir oulaas met julle ‘n paar sinne van ’n lied wat geskryf is oor hierdie teksgedeelte. Die musiekgroep “Onbeskaamd” het dit die lig laat sien.

Dis Sy krag, nie myne nie

Dis Sy mag, nie myne nie

Hy is sterk

Wanneer ek nie sterk is nie

Hy maak my voete stewig staan

Op al die plekke waar ek gaan

Dis Sy krag

Wat my sterk maak waar ek gaan

Met my God loop ek ‘n bende storm

Spring ek oor ‘n muur

Met my God is al my vyande

Uitoorlê elke uur

Met my God aan my kant

Is daar hoop vir elke dag

Met my God

Met my God

Dis Sy krag, nie myne nie

Dis Sy mag, nie myne nie

Met my God

Met my God

Soos ‘n ribbok sal ek staan

Op plekke wat onveilig lyk

En oral waar ek gaan

Wil ek net in Sy rigting kyk

Soos ‘n ribbok sal ek staan

Op plekke wat onveilig lyk

En oral waar ek gaan

Wil ek net in Sy rigting kyk

Met my God loop ek ‘n bende storm

Spring ek oor ‘n muur

Met my God is al my vyande

Uitoorlê elke uur

Met my God aan my kant

Is daar hoop vir elke dag

Met my God

Met my God

Met my God

 

Gebed: Here, dankie dat ek ook kan se, en kan glo: “Met my God…!”

 

 

Gedagte vir die dag | Maandag 23 Mei 2022

“Of course you can!”

So het ons hierdie week al stilgestaan by verskeie geloofshelde wat dit onomwonde kon sê: “Ek kan, want God kan!”

Ons het ook die belangrike geloofsvers in Hebreërs 11:1 oordink: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. 2Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel lof getuig is.”

Ons onderstreep dit weereens om mekaar daarin te herinner dat geloof na die toekoms gryp. Dat dit ’n verwagting, ’n hoop, ’n vaste vertroue en ’n oortuiging is. Die karakter van geloof is dat dit nie net geloof vir vandag is nie, nie alleen net ’n geloofsverhouding met Jesus Christus is nie, (alhoewel dit baie belangrik is), maar dat dit ook ’n oortuiging en ’n sekerheid is oor ’n onsekere, ongedefinieerde toekoms. Geloof is om te spring . . . geloofspronge met die oortuiging . . . God sal ons vang!

Herbreërs 11 is die hoofstuk oor geloofshelde. Dis soos ’n gallery waardeur jy stap en kyk na die verskillende prente van geloofshelde en hoe hulle geloof gedefinieër het. In al hierdie geloofshelde, sien ons dat hulle geloof ’n vooruitgryp is na iets in die toekoms en dat dit deur hulle geloof gewaarborg is. Ek noem slegs ’n paar van die helde en hoe hulle geloof omskryf word.

Hoofstuk 11:7 “Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was ‘n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom.”

Wat ’n wonderlike getuienis oor die geloof van Noag. In die woestynwêreld, waar dit amper nooit reën nie, kry hy die opdrag om ’n reuse ark te bou, terwyl die mense hom uitlag oor sy getrouheid. Hy het egter vooruit gekyk en op God se belofte en opdrag gereageer. Daarom het hy in geloof die planke aan mekaar begin slaan om die ark tot redding van baie mense en diere te bou.

Vers 8: “Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom.”

Dit spreek vanself.  Alleen deur sy vertroue in God het hy die onbekende toekoms met sy enigste waarborg – die karakter en wese van God asook sy beloftes, ingegaan.

Vers 13: “Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is.”

Dit omskyf die geloof van hierdie helde pragtig.  Dit is mos geloof! Om dinge uit die verte te sien, om dinge te glo en daaroor te juig omdat God ook die God van die toekoms is!

Gebed: Here, help my om ook so te glo. Help my om vas te hou aan die toekoms, en my deur U daartoe te laat begelei.

Amen.

Gedagte vir die dag | Sondag 22 Mei 2022

Hebreërs 11:1 & 2: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel lof getuig is.”

Hierdie is waarskynlik een van die beste definisies van geloof wat ons in die Bybel vind. Geloof is om seker te wees van die dinge wat ons hoop. Om oortuig te wees van die dinge wat ons nie kan sien nie. Met ander woorde, geloof gryp vooruit en op ’n wonderlike manier, sluit dit vir ons die toekoms oop. Geloof is altyd toekomsgerig, nou verwant aan hoop en optimisme, soos ons die afgelope week gesien het by Kaleb en Nehemia.

Dit is natuurlik waar dat ons ’n voorreg en verantwoordelikheid het om ons kinders te leer. Om hulle te leer oor die lewe, maar ook oor geloof. Persoonlik het ek dit met my vier kinders na die beste van my vermoë oor die jare heen probeer doen. Ek vermoed egter dat ek baie meer van hulle geleer het, as wat ek hulle kon leer… ook oor geloof. Ek deel graag vandag ietsie hieroor:

Ek het moontlik al verwys na een van my kinders wat onverskrokke was in baie opsigte, ook om hoë bome as driejarige seuntjie uit te klim. Dan, as hy vashaak en voel hy is in die moeilikheid, wanner hy nie op of af kon klim nie, dan gryp hy na iets wat alreeds in sy binneste leef . . .  iets wat ek geloof wil noem. Hy ken sy pa!  Hy ken ook sy pa se hart en se toewyding om hom in alle omstandighede te help. Dan, in sy nood, roep hy so hard as wat hy kan: “Pappa!” Oomblikke nadat hy dit uitgeskree het, spring hy, byna roekeloos na onder in die vertroue dat sy pa hom gehoor het en hom sal vang. Gelukkig was ek elke keer baie naby, en kon ek my haas om hom te vang. Hy het op ’n baie skrikwekkende manier geïllustreer wat roekelose geloof is – roekeloos in die goeie sin van die woord.

Hy het blindelings geglo! Sy geloof was geanker in die feit dat hy sy pa se hart en vermoëns ken, en daaroor het hy met hoop en verwagting, en ook met oortuiging gespring. Dit is Hebreërs 11:1 – geloof. Om die toekoms in te spring sonder dat al die bewyse alreeds daar is, ’n hoop en verwagting, ’n vaste vertroue. En dit is geanker in die hart en karakter van ons Hemelse Vader.

Gebed:

Here, dankie dat ons in u arms kan spring met geloof, dat ons kan hoop op die toekoms omdat U in die toekoms is, en dat ons daarom geloofspronge na U toe kan maak.

Amen.

 

 

1 66 67 68 128