Gedagte vir die dag | Vrydag 10 Junie 2022
Psalm 23: Die Here is my herder
1’n Psalm van Dawid. Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. 2Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. 3Hy gee my nuwe krag.
In die 1953-vertaling staan dit so mooi: “Hy verkwik my siel”. Dawid skryf dat dit die Here is wat sy siel verkwik. Dit is so ’n mooi woord. Die HAT beskryf dit as “opfris, verfris, opbeur, troos, nuwe krag en moed gee”. Vir my laat die woord verkwik terug dink aan my dae toe ek nog in die Karoo gebly het. Na ‘n reënbui sou die karoobossies sommer net ’n dag later al klaar beter lyk. Die reën het hulle verkwik.
Miskien is jy nou op ’n plek wat jy aan die einde van jou krag gekom het en jy regtig voel dat jy nie meer kan aangaan nie. Veral in vandag se tye. Al die baie frustrasies van die lewe en die onsekerheid van die tye waarin ons leef en die seerkry wat ons ervaar en boonop alles wat so verkeerd en lelik in die wêreld is, maak ons moeg. Dit tap ons emosionele energie. Soms tap dit ons tot so ’n mate dat ons geen emosionele energie meer oor het nie en ons geestelike tenk by wyse van spreke leeg is. Dan kan jy vandag se boodskap ter harte neem. Die Here is ook jou Herder wat vir jou nuwe krag sal gee en jou siel sal verkwik. Ek het die mooi gesegde gelees: “As die Christen aan die einde van sy krag gekom het, het hy juis aan die beginpunt van God se krag gekom”. God se krag is onuitputlik en kan nooit opraak nie. God as jou Herder sal jou siel ook verkwik. So lees ons in Deuteronomium 32:2: “My onderrig kom na julle toe soos reënwater, my woorde verkwik julle soos dou…”.
Wanneer jy verkwikking nodig het, wy jou opnuut aan die Here toe. Laat Sy woorde toe om jou op te beur, te troos en vir jou nuwe krag en moed te gee. Gaan praat ook met jou Herder, en deel die dinge wat jou moeg en moedeloos maak met Hom. Dan sal jy na liggaam en siel verkwik wees.
GEBED
My Herder. Ek het U krag en nabyheid vandag baie nodig. Wees my asseblief naby.
Gedagte vir die dag | Donderdag 9 Junie 2022
Psalm 23: Die Here is my herder
1’n Psalm van Dawid. Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. 2Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is.
Skape het rus en vrede nodig. Hulle het ’n plek nodig waar hulle kan uitspan, waar hulle kan uitrus, waar hulle, hul krag kan herwin om weer verder agter die Herder aan te loop. Dit is ‘n herder se werk om sy skape by water en groen weivelde te kry sodat hulle genoeg kan eet en drink om te bly lewe. Dit is dan ook by die groen weivelde waar hulle rustig en tevrede kan wees. ’n Goeie herder waarborg rus en vrede vir sy skape. God wil vir jou ook rus en vrede gee soos die herder wat sy skape na groen weivelde en rustige waters lei.
Een ding wat ons as mense ook baie nodig het, is rus en vrede. Ons lewens is dikwels so gejaagd en daar is so baie sake wat ons aandag verg. So baie plekke waar ek moet wees en so baie afsprake om na te kom. Maar tog het ons ook rus nodig. ’n Baie spesiale plek om hierdie rus te vind is juis by God. Soos Dawid skryf in Psalm 62:6 “Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek”. Jesus het juis vir ons hierdie rus en vrede gebring. Hierdie rus en vrede is vir jou en my beskikbaar.
Indien jou lewe op die oomblik onrustig en gejaagd is, nooi God jou om by Hom te kom rus vind. Jy mag rustig raak in die teenwoordigheid van jou Herder. Hy sal vir jou sorg en jou veilig bewaar. Hy nooi jou juis om alles wat jou onrustig stem na Hom toe te bring. Augustinus skryf so ’n waar ding en sê dat God ons vir Homself gemaak het en dat ons harte onrustig sal bly totdat ons rus in Hom gevind het.
GEBED
God van vrede en genade. Skenk aan my asseblief ook U rus en vrede.
Gedagte vir die dag | Woensdag 8 Junie 2022
Psalm 23: Die Here is my herder
1’n Psalm van Dawid. Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.
Psalm 23 beeld vir ons ons verhouding met God uit soos die verhouding tussen ’n herder en sy skaaptrop. Die herder met sy skape was ‘n bekende beeld in die Ou Nabye Ooste. Dawid was self ’n herder en kon dus die beeld van die herder in hierdie Psalm baie goed toepas. Dawid het vir jare sy pa se skape opgepas en hy weet dus wat dit beteken om ‘n herder te wees. Dawid het geweet dat skape glad nie sonder hulle herder kon oorleef nie. Die skape het iemand nodig wat hulle van kos, water en skuilplek kan voorsien.
Net soos hierdie herders vir hulle skape gesorg het, was die Here vir Dawid sy Herder wat in al sy behoeftes voorsien het. Die Hebreeuse term Jaweh-Roï is een van die maniere waarop God aangespreek word en dit beteken ”Die Here is my herder” Een van die belangrikste betekenisse van die woord “herder” is om te versorg. Dit is presies wat die Here vir ons ook wil doen. Die Here versorg en bewaar ons soos wat ’n herder vir sy skape doen.
Die Here is jou Herder wat vir jou sorg, daarom hoef jy nie snags rond te rol en aan al jou bekommernisse te dink nie. Nee, jy mag rustig wees in die wete dat jy ’n Herder het wat jou sal versorg.
GEBED
Dankie Here dat U ook my Herder is. Dankie dat U my behoeftes ken en ek weet dat U vir my sal sorg net soos Dawid vir sy skape gesorg het.
Amen.
Gedagte vir die dag | Dinsdag 7 Junie 2022
Hierdie week het ons saam op reis gegaan met ’n roadtrip vol G’s. Ons het ’n Bybelverhaal van ’n man met die naam Naäman bestudeer. Hy moes padlangs leer dat moeilike situasies oplossings het.
God se plan hoef nie altyd ingewikkeld te wees nie. Baie dinge in die lewe is eintlik eenvoudiger as wat dit lyk – veral wanneer ons leer om die instruksies te volg. Ja, ons kry maar almal partykeer moeilikheid. Dan sal jy graag baie wil doen om dit reg te stel. Sommige mense is selfs gewillig om groot geld te betaal as hulle maar net die moeilikheid uit hulle pad uit kan kry.
Die vraag is of ons bereid is om te doen wat God van ons vra?
Die Bybel het baie antwoorde van wat ons moet doen – eenvoudige dinge, soos om gehoorsaam te wees aan die Here, soos om mekaar te vergewe, soos om mekaar lief te hê. Dit staan alles in die Bybel. Lees net die instruksies. . .
Iemand sê die volgende: “Wie nóg krag nóg moed het om te glo, die moet dit maar sonder krag en moed doen.” Want geloof is juis om radikaal af te sien van alles wat ons het en nie het nie, van elke bietjie mag waaraan ons nog vasklou.
Die evangelie behels dat ons sal glo sonder geloof; dat ons tot die Here sal kom sonder voete; dat ons Hom sal aangryp sonder hande en ons onsself aan Hom sal oorgee soos ons is. Die evangelie beteken dat ons Hom sal aanbid sodat Hy ons in ons ongeloof kan help, dat ons Hom sal vashou vir Wie Hy regtig is en wat Hy regtig kan doen.
Gebed: Dankie Here, dat U na ons omsien. U sien ons nood raak. U, Here is saam met ons elkeen op reis. Dankie dat U laasweek saam met ons as gemeente op reis was met die Ritmes van die lewe wat ons help om te behoort. Mag ons hierdie geloofsgewoontes en ritmes aanhou inoefen. In gehoorsaamheid, gevul met u Gees. Stuur ons Here, stuur my!
Amen.
Gedagte vir die dag | Maandag 6 Junie 2022
Hartlik welkom. Hierdie week gaan ons saam op reis met ’n roadtrip vol G’s. Ons kyk na ’n Bybelverhaal wat ons leer van ’n man met die naam Naäman. Hy moes padlangs leer dat moeilike situasies oplossings het. Kom ons luister padlangs saam en kyk wat gebeur…
Welkom by die avontuur. Sit jou veiligheidsgordel aan en kom geniet die reis.
Vandag sluit ons af met die laaste tema: Padlangs Genees en ons reis saam in vers 14: Hy het toe afgegaan na die Jordaan toe en hom sewe keer daarin gebad, soos die man van God gesê het, en sy vel het gesond geword soos dié van ‘n klein seuntjie en hy was weer rein.
Naäman moes God sonder voorwaardes gehoorsaam. Hy het homself sewe keer in die rivier gebad en is toe skoon gewas. Dit was nie die rivier wat hom genees het nie, maar God. Dit is net God wat ons kan genees en herstel. Melaatsheid is glad nie lekker nie, maar in die proses kon God die siekte as ’n geleentheid gebruik sodat Naäman vir God leer ken. In die proses kon Naäman leer wat dit beteken om padlangs gebruik te word soos met die jong diensmeisie. Hy kon leer wat dit beteken om gestuur te word en hoe om uitdagings te hanteer wat hom padlangs geskeur het. Hy het ontdek dat hierdie lewende God gehoorsaamheid van ons vra en dat net God die een is wat ware genesing kan bring. Nie net in die herstel van ons gesondheid nie, maar ook in die herstel en heelmaak van ons gees.
Gesels nou saam of dink na oor die volgende vrae. Julle kan na elke vraag die “pause” knoppie druk om tyd te gee sodat julle bietjie daaroor kan dink en daaroor kan gesels.
- In watter area van jou lewe sukkel jy om heelheid of genesing te beleef?
- Na watter heelheid of genesing smag jy?
- Hoe herstel God ons?
Kom ons bid saam.
Here, dankie dat U die groot geneesheer is. U ken ons seer en tekortkominge. Neem my lewe, laat dit Heer. Amen
Doen nou die volgende saam. Hier is drie voorstelle.
- Die eerste voorstel is vir families: Eet vandag ’n spesiale ete saam aan tafel. Vertel vir mekaar stories van God se voorsienigheid in julle lewens.
- Die tweede voorstel is vir tieners: Skryf vandag ’n loflied tot eer van God. ’n Lied wat Sy goedheid besing!
- Die derde voorstel is vir kinders: Was vandag jou kamervenster skoon, sodat jy weer mooi kan sien. Terwyl jy dit doen sê jy dankie vir God dat Hy padlangs saam met jou reis.
Vrede en Seën.
Gedagte vir die dag | Sondag 5 Junie 2022
Hartlik welkom. Hierdie week gaan ons saam op reis met ’n roadtrip vol G’s. Ons kyk na ’n Bybelverhaal wat ons leer van ’n man met die naam Naäman. Hy moes padlangs leer dat moeilike situasies oplossings het. Kom ons luister padlangs saam en hoor wat gebeur . . .
Welkom by die avontuur. Sit jou veiligheidsgordel aan en kom geniet die reis.
Vandag se tema is: Padlangs Gehoorsaam en ons reis saam in vers 13-14a: Sy amptenare het by hom gekom en mooi met hom gepraat: “Meneer, as die profeet iets moeiliks van u verwag het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy eenvoudig vir u gesê het: Was jou en jy sal rein wees?” 14Hy het toe afgegaan na die Jordaan toe en hom sewe keer daarin gebad, soos die man van God gesê het…
Alles maak nie altyd sin wanneer ons padlangs op reis is nie. Vir Naäman het dit nie sin gemaak dat hy gesond sou word deur homself in die Jordaanrivier te was nie. Kon hy nie maar net dan naby sy eie huis in ’n rivier gaan bad het nie? Hy moes baie ver padlangs reis om gesond te word. Dit het net nie vir hom enigsins sin gemaak nie, daarom luister hy nie en ry weg. Gelukkig vir hom het hy nie alleen gereis nie, maar het hy amptenare wat saam hom gereis het en hom toe kon reg help. Gelukkig reis ons ook nie padlangs alleen op hierdie lewenspad nie. Nee ons het mense wat vir ons omgee en wat saam met ons op reis is. Geliefdes wat vir ons omgee en ons kan aanspreek wanneer ons afdwaal en ongehoorsaam is. Geliefdes wat ons help om koers te hou, om gehoorsaam te bly en na die stem van die Here te luister selfs al vra dit van ons om iets nie net eenkeer te doen nie, maar selfs sewe keer te doen.
Gesels nou saam oor die volgende vrae, of dink daaroor na. Julle kan na elke vraag die “pause” knoppie druk om tyd te gee sodat julle bietjie daaroor kan dink en daaroor kan gesels.
- Hoekom luister ons nie altyd nie?
- Hoe weet ons wat God se wil vir ons lewens is?
- Vertel ’n storie, of dink na oor ’n tyd wat jy God gehoorsaam het, al het dit nie sin gemaak nie.
- Wie is die mense wat saam met jou padlangs reis en jou opkoers hou?
Kom ons bid saam.
Here, vergeef ons as ons nie altyd wil luister nie. Dankie dat ons hierdie lewenspad padlangs nie alleen hoef te stap nie. Dankie dat U saam met ons reis. Dankie dat U ander rondom ons plaas wat vir ons sorg en inspraak in ons lewens maak. Amen
Doen nou die volgende saam. Hier is drie voorstelle:
- Die eerste voorstel is vir families: Gaan was mekaar se hande onder ’n kraan en doen saam met dit ’n doopherinnering. Sê vir mekaar dat die Here jou liefhet!
- Die tweede voorstel is vir tieners: Skryf ’n persoonlike brief aan God as ’n gebed oor dit wat op jou hart is.
- Die derde voorstel is vir kinders: Speel “noughts & crosses” as ’n herinnering dat sonde deur ons ongehoorsaamheid gedurig probeer wen, maar sodra iemand met kruisies in ’n lyn wen, dien dit vir ons as ’n teken dat Jesus deur die kruis wel oorwinning behaal het.
Vrede en Seën.
Gedagte vir die dag | Saterdag 4 Junie 2022
Hartlik welkom. Hierdie week gaan ons saam op reis met ’n roadtrip vol G’s. Ons kyk na ’n Bybelverhaal wat ons leer van ’n man met die naam Naäman. Hy moes padlangs leer dat moeilike situasies oplossings het. Kom ons luister saam en luister na wat gebeur . . .
Sit jou veiligheidsgordel aan en kom geniet die reis.
Vandag se tema is: Padlangs geskeur en ons reis saam van vers 7-12: Toe die koning die brief gelees het, het hy sy klere geskeur en gesê: “Is ek dan God wat mense laat sterwe of aan hulle die lewe gee dat hierdie man iemand na my toe stuur om hom van sy melaatsheid gesond te maak? Dit moet vir julle duidelik wees hy soek net skoor met my.”
8Elisa die man van God het te hore gekom dat die koning van Israel sy klere geskeur het en het ‘n boodskap aan die koning gestuur: “Hoekom het u u klere geskeur? Laat Naäman na my toe kom, sodat hy kan besef dat daar ‘n profeet in Israel is.” 9Toe Naäman met sy wa en perde daar aankom, het hy stilgehou voor die deur van Elisa se huis. 10Elisa het ‘n boodskap na hom toe gestuur: “Gaan was jou sewe maal in die Jordaan, dan sal jy gesond word en rein wees.”
11Naäman het vererg weggery en gesê: “Ek het darem gedink hy sou uitkom en gaan staan, die Naam van die Here sy God aanroep, dan sy hand heen en weer oor die plek beweeg en so die melaatsheid wegneem. 12Is die riviere van Damaskus, die Abana en die Parpar, nie beter as al die waters van Israel nie? Kan ek my nie daarin was om rein te word nie?”
So het hy woedend daarvandaan teruggery.
Daar is soms dinge op hierdie lewenspad wat ons kwaad maak en dan vind ons dit moeilik om ons emosies in toom te hou. Kyk net hoe kwaad word die koning van Israel dat hy sommer sy klere uit frustrasie skeur. En dan Naäman wat self net so kwaad word omdat dit wat hy dink moet gebeur, nie gebeur nie. Leef jouself vir ’n oomblik in die situasie in … jy sien Naäman het verwag dat iets groots gaan gebeur en nou ontvang hy net die eenvoudige boodskap om homself te gaan was. Dit moes juis eers so in Naäman se lewe gebeur sodat hy eers nederig kan raak. Hy was maar as hoof van die leër baie vol van homself.
Gesels nou saam oor die volgende vrae, of dink daaroor na. Julle kan na elke vraag die “pause” knoppie druk om tyd te gee sodat julle bietjie daaroor kan dink en daaroor kan gesels.
- Wat maak jou so kwaad op die lewenspad dat dit jou skeur?
- Hou jy daarvan om jou sin te kry?
- Wat gebeur as jy nie jou sin kry nie?
- Waarin moet jy/ons nederig gemaak word?
Kom ons bid saam.
Here, help ons om nederig te bly. Help ons om nie teveel van onsself te dink nie. Amen
Doen nou die volgende. Hier is drie voorstelle:
- Die eerste voorstel is vir families: Was mekaar se voete vandag. Wees vandag die meeste vir mekaar deur die minste vir jouself te wees.
- Die tweede voorstel is vir tieners: Dink aan kere op skool waar dit van jou gevra word om meer van jouself te gee as dienskneg, eerder as om bedien te word. Skryf ’n paar moontlikhede neer hoe jy dit gaan doen.
- Die derde voorstel is vir kinders: Dink na oor die dinge wat jou kwaad maak by die huis tussen jou broers, of susters. Hoe gaan jy vandag terugstaan sodat julle mekaar kan help? Doen dit!
Vrede en Seën.
Gedagte vir die dag | Vrydag 3 Junie 2022
Hartlik welkom.
Ons kyk hierdie week saam hoe God ons padlangs vorm. ’n Roadtrip vol G’s. Welkom by die avontuur. Sit jou veiligheidsgordel aan en kom geniet die reis.
Vandag se tema is: Padlangs Gestuur en ons reis saam vanaf vers 4-6: Naäman het by die koning gekom en hom meegedeel wat die dogtertjie uit Israel gesê het.
5“Gaan gerus,” het die koning van Aram gesê, “ek stuur jou met ‘n brief na die koning van Israel toe.”Hy het vertrek en drie honderd twee en veertig kilogram silwer, ag en sestig kilogram goud en tien stelle klere met hom saamgevat. 6Hy het die brief na die koning van Israel toe gebring. Dit het só gelui: “Ek het my dienaar Naäman met hierdie brief na jou toe gestuur. Wanneer hy by jou uitkom, moet jy hom van sy melaatsheid gesond maak.”
Was jy al ooit iewers heen gestuur? Dalk om brood en melk te gaan koop of om vir iemand ’n boodskap te gaan gee? Wat het jy saamgevat? Om gestuur te word beteken dat ons moet opstaan. Gelukkig is ons mense van die opstanding. Die vraag is: Wat beteken dit om as mense van die opstanding te leef? Dit vra van ons om ’n boodskap van hoop te bring. Dalk moet ons eers vir mekaar vra, waar het ons die Here in ons lewens nodig? Waarvoor sou jy hulp vra? Wat sou jy van mense vra as jy siek sou wees? Of as jou fiets dalk gebreek het? Of as jy ’n toets moes skryf? Dalk moet ons mekaar herinner dat ons God altyd kan vra om ons te help, aangesien niks vir Hom te moeilik is nie. God stuur ook ander mense oor ons pad om ons te help. ’n Dokter as ons siek is, ’n pappa of mamma om jou fiets reg te maak, ’n juffrou om jou te help met die toets se leer. Die punt is . . . God stuur elkeen van ons iewers, of na iemand heen. Ons is immers gestuurde medewerkers in God se wêreld. Ons het mekaar nodig! Wat gee God in jou hand wat jy kan gebruik om tot seën te wees vir ander?
Gesels nou saam of dink na oor die volgende vrae. Julle kan na elke vraag die “pause” knoppie druk om tyd te gee om daaroor te dink of gesels.
- Wat beteken dit vir jou om gestuur te wees?
- Waarheen stuur God jou?
- Waarmee stuur God jou?
Kom ons bid saam.
Here, U is gestuur na hierdie wêreld om ons te red. Stuur ons nou as liggaam van u kerk om ’n verskil te maak om sodoende die koninkryk van God uit te bou. Amen
Doen nou die volgende. Hier is drie voorstelle.
- Die eerste voorstel is vir families en individue: Ry in jou of julle omliggende woongebied rond en kyk of jy/julle nood om julle kan identifiseer.
- Die tweede voorstel is vir tieners: Die doen-ding vir vandag is om ’n joernaal te hou met die volgende vrae: Wie stuur jou? Waarheen stuur Hy jou? Met wat stuur Hy jou?
- Die derde voorstel is vir kinders: Neem foto’s van mekaar en plak dit teen jou muur met die woorde: “Jy is ‘n gestuurde van God”.
Vrede en Seën.
Gedagte vir die dag | Donderdag 2 Junie 2022
Hartlik welkom.
Hierdie week gaan ons saam op reis met ’n roadtrip vol G’s. Ons kyk na ’n Bybelverhaal wat ons leer van ’n man met die naam Naäman. Hy moes padlangs leer dat moeilike situasies oplossings het. Kom ons luister saam en kyk wat gebeur . . .
Ons kyk hierdie week saam hoe God ons padlangs vorm. Sit jou veiligheidsgordel aan en kom geniet die reis.
Vandag se tema is: Padlangs gebruik en ons reis saam van vers 1-3: Naäman, die hoof van die leër van die koning van Aram, was ‘n gesiene man wat die agting van die koning geniet het. Deur hom het die Here ‘n oorwinning aan Aram besorg. Die man was ‘n dapper soldaat, maar hy het melaats geword.
2Op een van hulle strooptogte het die Arameërs ‘n jong dogtertjie uit Israel ontvoer wat Naäman se vrou se bediende geword het. 3Sy het vir die vrou gesê: “Ag, as Meneer net by die profeet in Samaria kon uitkom, dan sal hy vir Meneer van sy melaatsheid gesond maak.”
Naäman was ’n baie belangrike man. Hy was die bevelvoerder van die leër vir die koning van Aram. Hy het in materiële besittings alles gehad, maar hy was siek met ’n slegte velsiekte genaamd melaatsheid wat niemand, nie eers die dokter kon gesond maak nie. In die Bybelse tyd was die velsiekte ‘n baie slegte siekte om te kry. Dit het jou rooi kolle oor jou hele lyf gegee, en mense was baie bang dat dit hulle sou aansteek. As jy melaatsheid gehad het, het jy weggekruip en jouself met klere en komberse toegemaak sodat niemand jou kon sien nie.
Naäman se vrou het ’n diensmeisie gehad wat haar gehelp het met verskeie take rondom die huis en hierdie diensmeisie het Naäman vertel van Elisa en sy God wat genees!
Jy sien, God wil hê dat ons ander van Hom moet vertel. Wat besonders van hierdie verhaal is, is dat God ’n jong diensmeisie gebruik het. Dit maak nie saak watter werk jy doen, hoe jy lyk of hoe oud jy is nie. God wil ons gebruik. Ons hoef nie ’n groot leier of belangrike persoon te wees om deur God gebruik te word nie. Jy kan net jouself wees, want God het ’n belangrike werk vir elkeen van ons.
Gesels saam met iemand oor die volgende vrae, of dink op jou eie daaroor na. Julle kan na elke vraag die “pause” knoppie druk om tyd te gee sodat julle bietjie daaroor kan dink en daaroor kan gesels.
- Hoe laat dit jou voel dat God jou wil gebruik ongeag jou ouderdom of posisie in die samelewing?
- Waar en hoe dink jy wil God jou tans gebruik?
- Is jy oop daarvoor om deur God gebruik te word?
Kom ons bid saam.
Here, gebruik my waar U my benodig. Maak my oë, ore en gees oop om die nood rondom my raak te sien. Amen
Doen nou die volgende saam. Hier is drie voorstelle.
- Die eerste voorstel is vir families of individue: Maak ’n kreatiewe lys waar julle, of jy vir mense in nood kan help. Maak ook ’n gebedslys om sodoende vir mense en gebeure te bid.
- Die tweede voorstel is vir tieners: Die doen-ding vir vandag is om deur die koerant te blaai en opskrifte van nood te omkring. Bid dan vir elke opskrif dat God uitkoms sal gee deur die gebruik van mense om te help waar hulle kan.
- Die derde voorstel is vir kinders: Teken ʼn padkaart saam met ’n groot Suid-Afrikaanse landsvlag. Terwyl jy teken kan jy bid dat God jou sal gebruik waar Hy jou benodig.
Vrede en Seën.
Gedagte vir die dag | Woensdag 1 Junie 2022
Hartlik welkom.
Hierdie week gaan ons saam op reis met ’n roadtrip vol G’s. Ons kyk na ’n Bybelverhaal wat ons leer van ’n man met die naam Naäman. Hy moes padlangs leer dat moeilike situasies oplossings het. Kom ons luister padlangs saam en kyk wat gebeur…
Die lewenspad is somtyds vol slaggate en uitdagings. Soms reën dit so erg, dat ons nie eers die gate in die pad kan sien nie. Die pad waarop ons reis kan ook maar baie gevaarlik word, veral as ons ongeduldig raak en nie mooi die reëls wil navolg nie. Stop, ry stadiger, kyk rondom jou, versigtig, tel mense op, laai af, gaan iewers heen, papwiel, maak reg . . . Die lewe is ’n avontuur vol verskeie oppe en affe. Ons geestelike roetekaart kom ook met soortgelyke uitdagings langs die pad te staan. Gelukkig het God vir ons die Bybel vol stories gegee om ons te help en te begelei as handleiding op hierdie lewenspad, veral as ons die pad byster raak of ’n papwiel kry.
Kom ons lees die week se verhaal van Naäman om sodoende saam op reis te gaan met ons roadtrip vol G’s.
2 Konings 5:1-14 (AFR83):
1Naäman, die hoof van die leër van die koning van Aram, was ‘n gesiene man wat die agting van die koning geniet het. Deur hom het die Here ‘n oorwinning aan Aram besorg. Die man was ‘n dapper soldaat, maar hy het melaats geword.
2Op een van hulle strooptogte het die Arameërs ‘n jong dogtertjie uit Israel ontvoer wat Naäman se vrou se bediende geword het. 3Sy het vir die vrou gesê: “Ag, as Meneer net by die profeet in Samaria kon uitkom, dan sal hy vir Meneer van sy melaatsheid gesond maak.”
4Naäman het by die koning gekom en hom meegedeel wat die dogtertjie uit Israel gesê het.
5“Gaan gerus,” het die koning van Aram gesê, “ek stuur jou met ‘n brief na die koning van Israel toe.”
Hy het vertrek en drie honderd twee en veertig kilogram silwer, ag en sestig kilogram goud en tien stelle klere met hom saamgevat. 6Hy het die brief na die koning van Israel toe gebring. Dit het só gelui: “Ek het my dienaar Naäman met hierdie brief na jou toe gestuur. Wanneer hy by jou uitkom, moet jy hom van sy melaatsheid gesond maak.”
7Toe die koning die brief gelees het, het hy sy klere geskeur en gesê: “Is ek dan God wat mense laat sterwe of aan hulle die lewe gee dat hierdie man iemand na my toe stuur om hom van sy melaatsheid gesond te maak? Dit moet vir julle duidelik wees hy soek net skoor met my.”
8Elisa die man van God het te hore gekom dat die koning van Israel sy klere geskeur het en het ‘n boodskap aan die koning gestuur: “Hoekom het u u klere geskeur? Laat Naäman na my toe kom, sodat hy kan besef dat daar ‘n profeet in Israel is.”
9Toe Naäman met sy wa en perde daar aankom, het hy stilgehou voor die deur van Elisa se huis. 10Elisa het ‘n boodskap na hom toe gestuur: “Gaan was jou sewe maal in die Jordaan, dan sal jy gesond word en rein wees.”
11Naäman het vererg weggery en gesê: “Ek het darem gedink hy sou uitkom en gaan staan, die Naam van die Here sy God aanroep, dan sy hand heen en weer oor die plek beweeg en so die melaatsheid wegneem. 12Is die riviere van Damaskus, die Abana en die Parpar, nie beter as al die waters van Israel nie? Kan ek my nie daarin was om rein te word nie?”
So het hy woedend daarvandaan teruggery.
13Sy amptenare het by hom gekom en mooi met hom gepraat: “Meneer, as die profeet iets moeiliks van u verwag het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy eenvoudig vir u gesê het: Was jou en jy sal rein wees?”
14Hy het toe afgegaan na die Jordaan toe en hom sewe keer daarin gebad, soos die man van God gesê het, en sy vel het gesond geword soos dié van ‘n klein seuntjie en hy was weer rein.
https://www.bible.com/af/bible/6/2KI.5.AFR83