GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Maandag 20 Junie 2022

 

Lukas 12:15.  Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.

 Het jy vandag genoeg om van te lewe? In die lig van mense wat hulle werk verloor en brandstof- en kospryse wat aanhou styg is soveel mense besorg dat hulle inkomstes nie vir lank met hul uitgawes gaan tred hou nie. Alhoewel die ekonomie sukkel is daar interesant genoeg nou meer mense wat weekliks ’n lotto of powerball-kaartjie koop. Dink net hoe ’n paar miljoen rand jou lewe vandag kan verander! Maar wanneer is genoeg, genoeg? Onvergenoegdheid het die vermoë om in elke sel van ons liggaam te gaan sit en ons hele bestaan oor te neem. Die perspektief wat dan in ons begin leef is die van skaarsheid. Die Here gee egter deur sy Gees aan ons ’n perspektief van oorvloed en ’n besef van dankbaarheid. Moet jouself dus nie voortdurend finansieel aan ander meet, of jouself onder die indruk bring dat jy nie deur die Here geseën is nie. In 1 Kor 9:8 sê Paulus: “God kan vir julle baie goeie dinge gee, sodat julle meer as genoeg sal hê. En dan sal julle altyd genoeg hê van alles wat julle nodig het. Maar dan sal julle ook meer as genoeg hê om te gee vir mense wat nie genoeg het nie.”

Gebed

Here, bewaar ons almal vandag daarvan dat onvergenoegdheid nie in ons oorneem, omdat daar dinge is wat ons kort of wat ander mense nodig het, nie. Maak ons deur u Gees daagliks opnuut bewus van hoe U ons elke dag seën, sodat ons vanuit dié oorvloedigheid van dankbaarheid ons omstandighede in ‘n nuwe perspektief kan beskou. Dankie vir soveel goeie dinge in my lewe. Ook vir dié wete dat alhoewel ek onder finansiële druk is U ook in my ’n vrygewigheid kan losmaak.

Gedagte vir die dag | Sondag 19 Junie 2022

Kolossense 1:9-10Ons vra God dat julle, deur al die wysheid en insig wat God gee, tot volle kennis kan kom van wat sy wil is. Ons bid dat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God.

Die kennis wat ons deur die lewe opdoen help ons vandag om besluite te neem. Ons kennis is egter beperk en daarom nader ons kundiges wanneer ons dit nodig ag. Ons raadpleeg ’n dokter as dit by siekte kom, ’n finansiële adviseur as dit met geld te doen het en ’n werktuigkundige as iets aan jou motor gebreek het. Alhoewel ons kennis beperk is, het ons almal egter toegang tot wysheid, want dit is iets wat God aan ons almal bied. Wysheid is ’n dieper insig in die voorhandliggende en help ons om God se wil op ’n totaal ander en verrassende manier raak te sien. Laat toe dat die Here jou ook weer vandag verder as die voorhandliggende neem om die dieper betekenis van gebeure en mense te ontdek. Mag dit jou vandag help om jou besluite so aan te pas dat dit wat jy doen vrugte sal dra.

Gebed

Here, ons neem elke liewe dag soveel besluite en daar gebeur elke dag soveel goed wat ’n impak maak op hoe ons kies. Dankie dat u Gees by ons is om ons hierin te begelei en te keer dat ons nie selfsugtig of bevooroordeeld optree nie. Om te help dat ons emosies nie die oorhand neem nie en ons nie oorhaastig en impulsief reageer nie. Bring deur U Gees vandag in my die rustigheid om dinge in perspektief te sien en dié sake te sien wat dieper daaragter verskuil lê. Dankie dat U in ons ’n begrip en fyn aanvoeling bring wat vir hierdie dag nodig is. AMEN.

Gedagte vir die dag | Saterdag 18 Junie 2022

Esegiël 37:14

Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe en Ek sal julle in julle land laat woon. Dan sal julle besef dat ek die Here is. Ek het dit gesê en ek sal dit doen, sê die Here.

Toe die Here hierdie woorde teenoor die profeet Esegiël gespreek het, het was dit juis gemik op ’n volk wat ’n tragedie beleef het. Hulle is deur die koning van Babilonië uit hulle land weggeneem en het terug verlang na die goeie ou dae toe hulle in Jerusalem tuis was. Hulle kon vashou aan die belofte dat die Here belowe het om hulle weer terug te neem. Die vraag was egter: Wanneer? Die belofte het toe eers vir ’n volgende generasie gerealiseer. Maar in hierdie teks lê ’n tweede belofte verskuil wat ons nie sommer raaksien nie. “Ek sal (vandag) my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe”. Hierdie teks is deel van die baie bekende hoofstuk waar die Here belowe dat hy weer lewe in droë bene kan blaas. Dit gebeur so maklik dat ons die Here se beloftes aan toekomsgebeure koppel wat waarskynlik nie in ons eie leeftyd gaan realiseer nie. En dan kyk ons dié belofte mis dat God vandag lewe aan droë bene kan gee en juis daarom kan ons anders na vandag kyk. Sien die wonder van hoe die Here deur jou en ander lewe bring. Goeie dae lê nie in verre verledes, of die toekoms nie, maar word ook waar in die hede.  Hier waar die Here nou besig is om aan ons ’n nuwe toekoms te bied.

Gebed

God van oneindigheid, beweeg my hart met die diep, kalm stroom van u genade. Laat die riviere van u liefde deur my vloei na die wye woestyn van hierdie wêreld wat dit so nodig het. Rek my eng hart met u krag, soos u die lug bo die aarde uitstrek. Stryk uit die rimpels van haat en bedrog wat in my hart leef, sodat ek u liefde en waarheid in volle maat kan smaak.

Amen.

Gedagte vir die dag | Vrydag 17 Junie 2022

Efesiërs 3:16-17. Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, 17dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. 

Hoe antwoord jy wanneer mense jou vra: “Hoe gaan dit?” Ons almal reageer klokslag met: “Goed dankie”. Die antwoord is dikwels ver verwyder van die realiteite van ons daaglikse bestaan. Terwyl ons uiterlik sterk voorkom leef ons innerlik onder die druk en spanning van dinge waarmee ons worstel en waarvan mense om ons onbewus is. Paulus herinner ons dat die Heilige Gees vanuit God se rykdom in ons werk om ons innerlik sterk te maak. Hierdie is ’n wonderlike troos omdat niks vandag eers om jou hoef te verander alvorens jy deel kan hê in hierdie krag nie. Beleef vandag hierdie realiteit van jou geloof wat jou angstigheid en frustrasie omvorm sodat jy met liefde tussen mense kan leef.

Gebed

Here, U wat Noag oor die diepe waters begelei het, hoor my. U wat Jona uit die dieptes gered het, verlos my. U wat u hand na Petrus wat in die water weggesink het uitgesteek het, help ook vir my. Dit voel of ek vandag innerlik besig is om onder die druk van dinge in my lewe te verdrink. Blaas vandag deur u Gees in my die lewensasem om te midde van dinge wat om my gebeur met vrede en liefde tussen ander te leef.

Amen.

Gedagte vir die dag | Donderdag 16 Junie 2022

Spreuke 17:14. Om rusie te begin, is om ’n damwal te breek; staak liewer die getwis voor die vloed jou tref.

Vandag se teks tref ‘n mens diep en ons het nie nodig om dit uit te lê of te verduidelik nie. Dit mag voel of ons in konfliksituasies die argument of geveg gewen het, maar daar is altyd nagevolge wat ons nie voorsien nie. En die skade wat aangerig is, is altyd soos ’n vloed wat ons en ander meesleur. Konflik en rusie het altyd hierdie nagevolge. Niemand wen nie. Die antwoord is nie so eenvoudig as dat ’n mens net alle konflik moet vermy nie. Verskuil in rusie lê ’n magdom ander destruktiewe emosies wat in ons bly voortleef. Dink aan die konflik tussen jou en ander mense. Wat lê agter die woorde en argumente verskuil? Watter wysheid bring die Here vandag by jou hieroor?

Gebed

Here, U aanvaar die dinge in ons wat ons nie eers aan onsself kan erken nie. U gee dié dinge ’n naam wanneer ons nie die moed het om daaroor te praat nie. U hou in u geheue die dinge wat ons probeer vergeet. Here help ons om hierdie realiteite, wat groot skade kan aanrig, raak te sien en bied ons die insig om dit anders te hanteer.

Amen

Gedagte vir die dag | Woensdag 15 Junie 2022

Galasiërs 2:20Ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nog hier lewe, lewe ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.

Daar is soveel goed wat in die lewe met ’n mens gebeur wat onsinnig is en ons van ons vermoë om met hoop te leef, beroof. Lyding, seerkry en swaarkry staan hier voor in die tou en ons worstel lank met hoekom- en waarom-vrae waarop daar nie eenvoudige antwoorde is nie. Dit is nie maklik om by ’n plek van aanvaarding en vrede uit te kom nie. Dis hier waar Paulus se getuienis ons help en hy verwoord dit so akkuraat . . . “ek het saam met Christus gely en gesterwe”, maar ook in dié proses die krag van die Here se opstanding beleef. Die ervaring is soos om op die rand van ’n gevaarlike afgrond te loop en te ervaar dat vrees nie oor jou die oorhand moet kry en jou verhoed om die volgende tree te gee nie. Inteendeel, dis juis wanneer dit vir ons voel ons sterf wat die lewe in ons oorneem. Hoe resoneer Paulus se ervaring vandag met jou? Wat beteken dit dat jy saam met Christus gekruisig is, maar ook juis daarin saam met hom lewe?

Mag jy ervaar hoe die Here se opstanding vandag vir jou die moed gee om deur die lyding, seerkry en swaarkry wat jy tans beleef, te loop.

Gedagte vir die dag | Dinsdag 14 Junie 2022

 

Psalm 23: Die Here is my herder

1’n Psalm van Dawid. Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. 2Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. 3Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam. 4Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.  5U laat my by ‘n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ‘n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid. 6. U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here  tot in lengte van dae.

Die pragtige laaste vers van hierdie bekende Psalm is ‘n opsomming oor die lewe en dood. Wat die lewe betref maak Dawid hierdie kragtige geloofsuitspraak, ten spyte van die feit dat hy ook baie teëspoed geken het: NET GOEDHEID EN GUNS SAL MY VOLG AL DIE DAE VAN MY LEWE.

Dawid het die Here as sy Herder geken en vir al die dae van sy lewe gevolg. Soms was dit groen weivelde, soms donker dieptes. As hy dan kyk na die pad wat voor hom lê is daar een vaste sekerheid wat hoop gee. Die Here se goedheid en liefde sal vir altyd by hom wees. God self deel dit uit – Hy is met ons vir die res van die ewigheid. Wanneer ons aardse reis dan klaarmaak, dan word ons, die kinders van die Here, teruggeneem na ons Vader se huis, tot in lengte van dae. Ons weet reeds wat ons eindbestemming is. Jesus het in Johannes 14:2 gesê dat daar baie woonplek in sy Vader se huis is, wat Hy gereed gaan maak het. Omdat ons eindbestemming bekend is, het ons altyd hoop. Die reis mag moeilik wees, maar die Vader se huis wag, daar sal ons rus vind.

GEBED

Here stap saam met my op die pad van die lewe. Dit is goeie nuus om te weet dat ek na al die aardse seerkry en swaarkry kan uitsien na ’n ewige tuiskoms by U. Amen

Gedagte vir die dag | Maandag 13 Junie 2022

Psalm 23: Die Here is my herder

1’n Psalm van Dawid. Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.  2Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is.  3Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.  4Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig. 5U laat my by ‘n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk.  U ontvang my soos ‘n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid.

“U laat my by ’n feesmaal aansit”, sê Dawid. “U ontvang my soos ’n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid. U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly . . . “. Dit was seker maar omdat Dawid ’n man na God se hart was, dat hy dit kon sê. Hy was immers die koning van Israel. Vir so iemand is die lewe seker ’n fees. Maar vir ons gewone mense is dit ’n ander storie. Ons het met die harde werklikheid van die lewe te doen. Ons het beslis nie ’n feesmaal van ’n lewe nie.

Maar – en dit is belangrik dat ons dit sal onthou – alles het nie altyd net voorspoedig vir Dawid geloop nie. Dink maar aan die jare wat hy tydens koning Saul se bewind vir sy lewe moes vlug en as ’n balling in die land van die Filistyne moes woon. Dink maar aan die hartseer toe sy en Batseba se seuntjie dood is, of die tragedie in sy huis, toe sy oudste seun Amnon sy halfsuster Tamar verkrag het.

Maar Dawid het een ding geweet: God is in beheer van sy lewe. Hy sorg vir hom, en daarom hoef hy hom nie te bekommer nie. Dawid het gesien dat die Here met hom besig is, dat niks wat met hom gebeur, toevallig is nie.  Dit is die rede waarom Dawid die lewe as ’n feesmaal uit God se hand beleef het: Omdat dit vir hom heerlik was om deel te wees van God se wêreld, omdat dit vir hom heerlik was om te beleef hoe God met hom besig is.

Dit kan jy ook weet. God is in beheer van jou lewe. Hy wil jou in hierdie lewe met al sy hartseer en probleme soos ’n eregas ontvang en oorlaai met sy liefde en genade.

GEBED

Dankie Here. Ek neem my plek as eregas in by die tafel wat U vir my voorberei het.

Amen.

Gedagte vir die dag | Sondag 12 Junie 2022

 

Psalm 23: Die Here is my herder

1’n Psalm van Dawid. Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. 2Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. 3Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam. 4Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.

Die lewe is uitdagend. Ja, ons almal beleef tye waar die mat onder ons uitgeruk word. Ons almal gaan soms deur tye wat ons donker dieptes kan noem. Dalk gaan jy nou deur so ‘n moeilike tyd. Dan is vandag se vers juis vir jou bedoel.

Hierdie is ’n aangrypend stukkie troos “al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie” reg in die middel van die Psalm, so tussen die beloftes van voorspoed ingeskryf, asof dit die eintlike punt van die Psalm is. Hier leer Dawid ons iets van die lewe. Daar is slegte tye, tye van onsekerheid, siekte, dood, seer, vrees en dinge wat ons bang maak. Maar wat ons daardeur neem is die verhouding met ons Herder. Ons hoef nie bang te wees nie, want Hy is by ons en in sy hande is ons veilig.

Psalm 23 stel dit so mooi, dat God altyd by ons is en dat Hy ons nooit in die steek sal laat nie. Hy bly altyd by ons en ondersteun ons. Wanneer Jesus jou Herder is, hoef jy nie bang of paniekerig te voel nie, want Hy sal jou vashou, maak nie saak wat die omstandighede is nie. Plaas jou hande in jou Herder se hande. Sy beskermende liefde maak die hardste teëspoed sag en Hy gee jou weer nuwe perspektief. Al gaan dit ook hoe sleg met jou, God is met jou!

GEBED

Here, ek het U so nodig. Hierdie las is eenvoudig vir my te swaar. Ek kan nie meer nie. Help my asseblief om deur hierdie doodskaduwee pad te kom.

Gedagte vir die dag | Saterdag 11 Junie 2022

Psalm 23: Die Here is my herder

1’n Psalm van Dawid. Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. 2Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. 3Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.

Dit is bekend dat herders in die Bybelse tyd nie hul kudde van agter af aangejaag het nie, maar dat hulle vooruit geloop het om seker te maak dat daar geen gevare is nie, en dat die kudde hulle agterna gevolg het. Om dit te kon doen moes die skape hulle herder se roepstem baie goed geken het. Die herder het as’t ware vir die skape die regte en veilige pad gewys waarop hulle kon loop.

God wil ons ook op die regte paaie lei, maar dan moet ons Hom gehoorsaam volg soos die skape hulle herder gevolg het. Dit sluit aan by wat Jesaja skryf in Jesaja 30:21”Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ’n stem hoor sê: Hier is die pad loop hierlangs”

Indien jy op die oomblik besef dat jy ver weg van jou Herder weggedwaal het, kan jy net na Hom roep. Hy sal jou weer op die regte pad laat loop. Ons kan Hom vertrou om ons te lei in die rigting wat vir ons reg is. Ons kan Hom vertrou om ons te korrigeer wanneer ons die pad byster raak en ons dan na die regte pad terug te lei.

Volg die Heilige Gees se leiding, want Hy ken die pad en Hy sal altyd met jou wees. Vertrou Hom om jou te lei na al die goeie dinge wat Hy vir jou lewe beplan het lank voor jy nog gebore was. En geniet die reis.

GEBED

Dankie Here dat U my Leidsman is. Lei my asseblief op die regte pad. Hou my asseblief op die veilige pad wat U vir my beplan het.

1 64 65 66 128