GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Sondag 10 Julie 2022

 

Rut 3:9 9 Hy vra toe vir haar: “Wie is jy?” en sy antwoord: “Ek is Rut, ek is van u afhanklik, en u is my losser; neem my nou onder u beskerming.”

Rut vra vir Boas om as haar losser op te tree. Maar na regte is daar ’n ander losser en Boas neem die saak met hom op. ’n Losser in die tyd van die verhaal was ’n familielid van die oorlede man en was verantwoordelik om met die weduwee te trou as sy nie kinders gehad het nie. As hy en die weduwee dan ’n seun gehad het, is die kind as die oorledene se erfgenaam beskou sodat die oorledene se grond en besittings in die familie kon bly. Daar was altyd meer as een losser, ingeval die eerste losser nie sy verpligting kon nakom nie.

Daarom belowe Boas om namens Rut en Naomi met die eerste losser by die stadspoort te onderhandel. Die stadspoort was die hof van daardie tyd. Boas stel die vroue se saak so goed dat die ander losser besluit om sy lossersreg op te gee. Naomi se plan het gewerk. Boas en Rut kan trou. Boas sal die plig as losser opneem.

Die verhaal van Rut is uiteindelik ’n uitnemende verhaal van God se getrouheid, maak nie saak in watter situasie jy jou bevind nie. En wat veral van betekenis is, is dat hierdie kort verhaal van Rut se lojaliteit en Naomi en Boas se waagmoed ook God se groter plan met hierdie wêreld insluit.

Dat Naomi en Rut ‘n losser in Boas gevind het, is wonderlik. En dit is ‘n woord vir my en jou vandag. Dat God vir ons ook op ‘n baie praktiese wyse dinge sal laat meewerk, ‘n losser vir ons sal gee. ‘n Losser wat ons van ons sonder verlos. Dit is die breër en dieper boodskap van hierdie boek. Ons verhale is ingebed in die groter verhaal van God se betrokkenheid in hierdie wêreld.

GEBED

Hemelse God en Vader ek plaas myself in u hande. Dankie dat Jesus Christus my kom verlos het van al my sonde.

Amen

Gedagte vir die dag | Saterdag 9 Julie 2022

Rut 2:8 8 Boas sê toe vir Rut: “Luister, my dogter, moenie op ‘n ander land gaan are optel nie; moet ook nie hier weggaan nie. Bly hier by die meisies.”

God praat nie een keer in die boek Rut nie. Tog is God die hele tyd waarneembaar in die tonele wat hulle afspeel in die Bybelboek. God is die hele tyd aktief, aan die werk en besig om goed in plek te laat val.

Dit is dan ook hoe God dit bewerk dat Rut op Boas se lande begin are optel. Ons sien hoe God werk in dinge wat ons as toevallig sal beskryf. “Toevallig” eindig Rut toe op Boas se veld. “Toevallig” kom Boas daar aan terwyl sy daar is. In die gewone dinge wat “toevallig” oor ons pad kom, of in ons lewens gebeur,  is God ook besig om te werk

Die boek Rut is so ’n skitterende voorbeeld van die voortgaande openbaring van die karakter van die God van liefde in verskillende tye. Die Here voorsien vir Rut en Naomi. As Rut, soos die armes van daardie tyd en kultuur die koringare op die land gaan optel wat uit die gerwe uitgeval het, beland sy op ’n familielid van Naomi se grond. Die manlike held van die storie, Boas.

Onthou tog hoe kwesbaar ’n jong Moabitiese vrou in ’n vreemde land sou wees. Boas het volgens die wet geen ander verantwoordelikheid teenoor die armes as om hulle net toe te laat op sy grond nie, maar hy laat Rut saam met die werkers eet en water drink. Hy gee ook sy werkers opdrag om ekstra graan te laat val sodat sy meer as genoeg optel.

Glo jy in toeval? Of glo jy dat God alles beskik? Ek wil met my hele hart glo dat God dinge in plek laat val vir sy kinders . Soos ons lees in Rom 8:28 “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is “ Dalk moet jy vandag weer hierdie belofte lees en daaraan vashou.

GEBED

Hemelse God en Vader ek glo dat U in beheer is en dat nie eers ’n haar van my kop sal laat val sonder dat U daarvan sal weet nie. So beskik U ook oor die ganse wêreld.

Amen

Gedagte vir die dag | Vrydag 8 Julie 2022

Rut 1:20-21 20 Hierop het Naomi vir hulle gesê: “Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara, want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak. 21My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom noem julle my nog Naomi? Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het ‘n ramp oor my gebring.”

So Naomi besluit toe om terug te gaan na haar eie land, haar eie plek. Sy het steeds geen heenkome nie, maar dalk staan sy in Bethlehem ‘n beter kans. Ten minste treur sy nie in ‘n vreemde kultuur met vreemde gewoontes nie. Naomi is bitter. Wanhopig, hartseer, dalk selfs woedend.

Naomi is oortuig dat God teen haar gedraai het. God kan vir mense sorg en voorsien, maar oor haar het hy ‘n ramp en ellende gebring. Maar Naomi is nie soos Job, wat wil weet hoekom hierdie goed met haar gebeur het nie. Sy is ook nie soos die Psalmdigter, wat kla en huil nie. Ons lees nie dat sy vir God gevra het om haar omstandighede te verander nie. Sy is net bitter, so gebroke, dat sy verby die punt van gebed is.

Was jy al op moedverloor se vlakte soos Naomi? Was jy ook eens op ’n tyd vol, maar is nou leeg omdat dit vir jou voel dat selfs die Here teen jou gedraai het? Was jy ook al so alleen en moedeloos dat jy soos Naomi jou lot wil bekla. Dalk sit jy ook op die oomblik in ’n noodsituasie, en dit voel vir jou jy gaan dit nie deurleef nie. Is die uitdagings van die lewe vir jou net een te veel? Dalk is dit ’n siekte waarmee jy baklei, en jy vrees dat jy die stryd gaan verloor.  Of is dit ’n verhoudingskrisis waarin jy vasgevang is?  Jou finansiële posisie is dalk benard en jy sien geen uitkoms nie.

Wat maak ’n mens as jy in ’n krisis beland? Die maklikste is natuurlik om by almal wat wil hoor en nie wil hoor nie, daaroor te kla. Of te sug en te sê dit lyk vir jou God stel nie eintlik meer  in jou nood belang nie.

Doen dan eerder wat Naomi gedoen het. Sy het geweier op haar bitter situasie te aanvaar. Sy weet dat haar situasie nie strook met wat sy van die Here weet nie, dat die Here sekerlik vir haar die uitkoms sal bring. Sy het opgestaan en vorentoe beweeg. Sy het nie in sak en as bly sit nie. Kyk die lewe vierkantig in die oë en stap daardeur met God se genade. Hierdie hartseer en moeilike tyd sal ook verby gaan.

GEBED

Here help my asseblief in my huidige situasie. Ek voel ek kan nie meer nie. Trek my asseblief op en gee my die moed en krag om vorentoe te gaan.

Amen

Gedagte vir die dag | Donderdag 7 Julie 2022

Rut 1:16-17 16Maar Rut het geantwoord: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; 17waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ‘n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei.”

Ons ontmoet vir Naomi wanneer sy en haar familie weens hongersnood – ‘n gebrek aan brood – vlug van Betlehem, daardie plek wat se naam letterlik “huis van brood” beteken. Al wat Naomi ken, is swaarkry en bitterheid. Eers gaan haar man dood. En die lot van ‘n weduwee in daardie dae was skrikwekkend. As ‘n vrou nie ‘n man, of ‘n pa gehad het om vir haar te sorg nie, was sy geheel en al sonder heenkome. So hier was Naomi, ‘n weduwee, in ‘n vreemde land. Gelukkig het sy darem nog twee seuns gehad – totdat hulle ook gesterf het.

‘n Vreemde vrou in ‘n vreemde land, sonder enige heenkome en geen manier om vir haarself te sorg of te voorsien nie. Met die pyn van verlies van ‘n eggenoot wat sterf. En dan nog boonop die pyn van ‘n kind wat sterf en dan boonop nog ‘n kind wat sterf. Daar is geen woorde om sulke pyn te beskryf nie.

Eendag besluit Naomi om op die lang reis terug na haar eie volk toe te gaan. Rut en Orpa wil by haar bly, en daarom gaan hulle saam. Maar nadat hulle ’n ent weg gereis het, sê Naomi vir die meisies: ‘Gaan terug huis toe en gaan woon by julle ma’s.’ Naomi groet hulle met ’n soen. Dan begin hulle huil, want hulle is baie lief vir Naomi. Hulle sê: ‘Nee! Ons sal saam met jou na jou volk toe gaan.’ Maar Naomi antwoord: ‘Julle moet teruggaan, my dogters. Dit sal beter met julle gaan by julle huis.’ Toe gaan Orpa terug na haar huis toe, maar Rut het besluit om by Naomi te bly.

Naomi sê nou vir haar: ‘Orpa het omgedraai. Gaan saam met haar huis toe. Maar Rut antwoord: ‘Moenie my probeer wegstuur nie! Laat my saam met jou gaan. Waar jy gaan, sal ek gaan, en waar jy woon, sal ek woon. Jou volk sal my volk wees, en jou God sal my God wees. Waar jy doodgaan, sal ek doodgaan, en dit is waar ek begrawe sal word.’ Wanneer Rut dit sê, hou Naomi op om haar te probeer ompraat om na haar huis toe te gaan. Saam stap die twee vroue toe terug na Bethlehem.

Hoe heg is jou gesins- en familiebande. Is daar vrede tussen julle? Gee julle genoeg vir mekaar om. Sal jy by hulle staan soos Rut by Naomi gestaan het. Neem jou selfoon en bel hulle. Ons familie moet daar wees vir mekaar.

GEBED

Here, Naomi en Rut is vir my so ’n mooi voorbeeld van omgee vir mekaar. Mag ek ook soveel omgee vir my familie en vriende.

Amen

Gedagte vir die dag | Woensdag 6 Julie 2022

 

Rut 1:1 1In die tyd van die leiers was daar op ‘n keer hongersnood in die land, en ‘n man met sy vrou en sy twee seuns het uit Betlehem in Juda weggetrek om ‘n heenkome te soek in die gebied van Moab.

GEDAGTE

In die Bybel sal jy ’n boek met die naam Rut kry. Watter plesier is dié pragtige kortverhaal van Rut nie.

Dit is ’n verhaal oor ’n gesin wat gelewe het in die dae toe Israel rigters gehad het. Dit is aan die een kant ‘n uitsonderlike liefdesverhaal geplaas binne ‘n ontvouende intrige tussen Naomi, Rut, en Boas teen die agtergrond van Naomi se emigrasie na Moab weens droogte en Rut se immigrasie saam met haar terug na Israel nadat sy ’n weduwee geraak het.

Die verhaal van Naomi en Elimelek begin in Betlehem tydens ’n hongersnood. Om sy familie te red, is die enigste opsie vir Elimelek om oorkant die Jordaan, in die land van ’n vyandige volk te gaan bly.  So het dit gekom dat Naomi en Elimelek en hulle twee seuns, Maglon en Kiljon, vir 10 jaar gelukkig in Moab gewoon het.  Die seuns  het groot geword en hulle het elkeen met Moabitiese meisies, Rut en Orpa getrou.  Maar dan gebeur die hartseer –  eers sterf Elimelek en dan sy een seun en daarna die ander seun ook.  Dit laat die drie vroue sonder sorg en in ’n baie benarde posisie.  En daar is Naomi alleen in ’n vreemde land.  En dan besluit sy dat dit die beste vir haar sal wees om terug te gaan Bethlehem toe waar daar nog ’n stukkie grond was wat aan haar behoort het en waarop sy dan in haar bejaardheid ’n nuwe lewe kon begin.

Ons lewens is ook nie altyd maklik nie. Daar is baie uitdagings. Hierdie week gaan die petrolprys weer op en dan kan ons verwag dat kospryse ook sekerlik sal styg. Hoe oorleef jy? Daar is net een antwoord en dit is om vas te hou aan die Here. Net soos Hy vir Rut en Naomi versorg het en deur hulle krisisse gelei het sal Hy vir ons ook lei en versorg. Ja die lewe is nie altyd maklik nie, maar ons het ’n Here waaraan ons kan vashou.

GEBED

Hemelse God en Vader ek plaas my hoop op U. Stap saam met my deur die lewe.

Amen

Gedagte vir die dag | Dinsdag 5 Julie 2022

 

Vandag is Dinsdag, 5 Julie en ons is besig om na te dink oor die vrug van die Gees en hoe dit juis in ons lewens gestalte kan vind tydens hierdie koninkrykstyd waarbinne ons in die kerklike jaar leef. Vandag kyk ons na selfbeheersing:

Hoeveel keer het jy dit nie al vir jouself gesê dat jy nie kan glo dat jy dit alweer gedoen het nie? Ons probeer om ons woorde en aksies te beheer, maar daar is altyd daardie een ding wat ons irriteer en dan gee ons toe aan die versoeking.  Alle mense – Christene en nie-Christene, voer lewenslank hiermee ’n stryd.  Maar die van ons wat Christus se geskenk van verlossing aangeneem het, beskik oor die krag om ons situasie te verander – aan ons is die krag bo alle menslike vermoëns gegee.

Selfbeheersing is gewortel in ’n diep respek en liefde vir jouself en ander mense as deel van die skepping van God.

2 Petrus 1:5-7 sê vir ons iets oor selfbeheersing: “En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense”.

Gebed

Here, verryk my met die deugsaamheid van selfbeheersing. Mag wat ek sê en wat ek dink en doen tog vir U aanneemlik wees.

Amen.

Gedagte vir die dag | Maandag 4 Julie 2022

 

Vandag is Maandag 4 Julie en ons is besig om na te dink oor die vrug van die Gees en hoe dit juis in ons lewens gestalte kan vind tydens hierdie koninkrykstyd. Vandag kyk ons na nederigheid:

Galasiërs 6:1 “Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ’n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom.”

Baie keer kan ons in wat ons hoogmoedigheid noem verval. So asof ons dink ons is beter as ander en sal nie self foute maak nie. Nederigheid begin eerstens by ’n ware verstaan van wie God is. Indien ons verstaan wie God is, dan verstaan ons ook wie ons is, en wie ander is. Ons besef dan dat ons eintlik self tot niks in staat is nie. Dit is net God se genade wat ons maak wat en wie ons is. Ons ontdek ook dat God se krag juis tot volle werking kom wanneer ons swak is. Daarom roem ons nie op ons eie prestasies en vermoëns nie, maar gee ons altyd erkenning aan God. Dit is juis Hy wat ons gewys het hoe om te leef.

Gebed

Here, help my om nie selfsugtig te wees nie. Wys my eerder hoe om ander hoër as myself te ag. Laat die gesprekke wat ek met ander het gevul wees met nederigheid en respek.

Amen.

 

 

 

 

 

Gedagte vir die dag | Sondag 3 Julie 2022

 

Vandag is Sondag 3 Julie en ons is besig om na te dink oor die vrug van die Gees en hoe dit juis in die koninkrykstyd in ons lewens gestalte kan vind. Vandag kyk ons na geduld en vriendelikheid:

Efesiërs 4:2 “Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde”.

Die dinge of situasies wat jou ongeduldig maak, word soms snellers van ongeduld genoem. Wat laat jou ongeduldig raak? Is daar spesifieke persone wat jou geduld beproef? Moontlik is dit jou huweliksmaat, ouers, kollegas, of kinders wat jou geduld die meeste beproef. Of is jy geneig om ongeduldig te raak wanneer jy vir ander moet wag? Raak jou geduld op wanneer jy moeg, honger, vaak of gespanne is? Raak jy makliker ongeduldig by die huis of by die werk? Om vriendelikheid aan ander in die wêreld te toon, verminder ongeduld en verhoog geluk.

Gebed

Here, help my om my omstandighede vanuit u perspektief te sien en geduld te kan betoon wanneer dit nodig is. Verander asseblief hoe ek dink en optree. Wys my hoe om vriendelikheid aan ander te betoon.

Amen.

Gedagte vir die dag | Saterdag 2 Julie 2022

 

Vandag is Saterdag, 2 Julie en ons is besig om na te dink oor die vrug van die Gees en hoe dit juis gestalte kan vind tydens hierdie Koninkrykstyd waarbinne ons tydens die kerklike jaar leef. Vandag kyk ons na vrede:

Die Here sê in Johannes 14:27 “Vrede laat ek vir julle na, my vrede gee ek vir julle. Die vrede wat ek vir julle gee is nie die soort wat die wêreld gee nie”.

Jesus se koms na die wêreld bring vir ons vrede. Hy is nie verniet die Vredevors en die Koning van Vrede nie. Wanneer Hy na die wêreld toe kom maak Hy vrede tussen ons en God en maak Hy dit vir ons moontlik om in vrede met mekaar te leef. Wanneer Jesus weg gaan, belowe Hy om sy vrede vir sy kinders agter te laat. En hierdie vrede verskil van die wêreldse soort vrede. Jesus se vrede behels innerlike rustigheid en ’n absolute vertroue wat vrees uit ons lewens neem en ons met krag vul om vredemakers te wees. Sonder God in jou lewe is hierdie tipe vrede onmoontlik. God is die enigste een wat ware vrede kan gee.

Gebed

Jesus, U is die Skepper van vrede en ek kan tot u vredevolle teenwoordigheid toegang verkry wanneer ek tot U nader. Help my om in my hart en gedagtes ruimte te maak om die vrede te ervaar wat U gee.

Amen.

 

Gedagte vir die dag | Vrydag 1Julie 2022

 

Vandag is Vrydag, 1 Julie en ons is besig om na te dink oor die vrug van die Gees en hoe dit juis gestalte kan vind tydens hierdie Koninkrykstyd waarbinne ons inbeweeg en in die kerklike jaar leef. Vandag kyk ons na vreugde:

’n Prentjie wat die Bybel vir ons skets oor vreugde vind ons in Habakuk 3 waar die boer sê dat al sou sy vyebome nie bot nie, en sy wingerd uitgedroog wees, sy oes misluk het en hy geen beeste het nie – sal hy hom steeds in die Here verbly. Hierdie skrif sê dat as jy jou vreugde in die Here vind, kan moeilike omstandighede nie daardie vreugde steel nie.

Dan nog ‘n skets van vreugde is te vinde in Filippense 4:4 waar Paulus ons aanmoedig om ons altyd in die Here te verbly, maak nie saak wat nie. Ons moet bly wees oor die feit dat ons in Christus is en Hy in ons!  

Ons word nie met sulke vreugde gebore nie, en dit kom nie vanself nie. Hoekom nie? Want ware vreugde is deel van die vrug van God se Heilige Gees. God se Gees kan ons help om “die nuwe persoonlikheid” aan te kweek, wat vreugde insluit. En wanneer ons vreugde aankweek, sal dit vir ons makliker wees om die spanning van die lewe te hanteer.

Gebed

Here, omdat U altyd by my is, kan ek te alle tye ware vreugde ervaar. Vul my met u vreugde, sodat ek deur die krag van u Heilige Gees te alle tye vol hoop kan wees.

Amen.

1 62 63 64 128