GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Woensdag 20 Julie 2022

Kolosense 1:15

Vir die volgende week gaan ons tyd in Kolossense 1 deurbring. In Kolossense 1:15 lees ons:  Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste,  verhewe bo die hele skepping.

Refleksie

Hierdie gedeelte openbaar vir ons iets van die verhouding tussen God en die Seun. Ons sien dat God hierdie onsigbare misterie is, buite ons sintuie, groter as wat ons kan beleef of verstaan. Tog word ons in ons lewe op verskillende maniere bewus van die misterie van God. Hoe beleef jy die misterie van God in jou lewe?

Soms kan ons wonder hoe ons ooit vir God kan ken, as ons Hom nie met ons sintuie kan beleef nie. Maar dan sien ons dat God sigbaar word, tasbaar word in die Seun –  die Seun is die beeld van God, wat deel word van die skepping om God sigbaar te maak. As ons wonder wie God is, hoe God se karakter lyk, hoef ons net te kyk na hoe Jesus hier tussen ons geleef het. Wat beteken dit vir jou dat God bereid was om mens te word, sodat ons Hom kan ken?

Christus word hier as die beeld van God beskryf. Dit is dieselfde woorde wat in Genesis 1 gebruik word om die mensdom te beskryf. Wat waar is vir Christus, is ook waar vir ons. Maar ons sien ook dat die Seun die eerste is, verhewe bo die hele skepping. Christus is vir ons die voorbeeld van wat dit beteken om die beeld van God te wees.

So vandag wil ek jou uitnooi om bewus te word van die onsigbare misterie van God rondom ons. Word bewus van hoe ons God leer ken en hoe God sigbaar word in Christus. Word bewus van hoe jy ingenooi word om ook God se beeld te wees en hoe God ook in jou lewe sigbaar word.

Gebed

Here, U is soveel groter as wat ons ons ooit kan verstaan of beleef. Die werke van U hande bly ’n misterie wat ons al hoe meer ontdek. Dankie dat U sigbaar geword het in die Seun, u beeld, sodat ons U ook mag ken. Vorm ons al hoe meer na u beeld, sodat ons ook u beeld vir die wêreld mag wees.

Gedagte vir die dag | Dinsdag 19 Julie 2022

1 Korintiërs 7:17. Hoe ook al, laat elkeen leef in ooreenstemming met wat die Here aan Hom toegedeel het, soos God elkeen geroep het. En so reël ek ook in al die gemeentes.

Net soos by ons vandag was daar in die eerste gemeentes te midde van hulle geloof in dieselfde God ’n groot diversiteit in mense se godsdienstige opinies en praktyke. Ook dan in hoe mense verskillend oor sekere kwessies en die hantering van lewe dink. Soos Paulus van gemeente tot gemeente gereis het, het die neiging keer op keer onder sy aandag gekom saam met die besef dat dit konflik in die gemeentes gebring het. In vanoggend se teks praat Paulus met ons om sulke situasies te respekteer. Wat van belang is, is ons geloof in dieselfde Here. Die manière waarvolgens ons die Here aanbid en waarvolgens ons leef verskil van mekaar, want ons roepings verskil. En hierin lê ’n groot geheimenis wat ons nie aldag verstaan nie. Moet dus nie toelaat dat ooglopende verskille in jou eie gemeente ’n plek kry bo jou geloof in God, wat wel veel meer ruimte bied nie. Dink veral hoe jy in die lig van die gedeelte teenoor spesfieke mense in jou gemeenskap behoort op te tree.

Gebed

Here, ons aanbid U as die Here van kennis en wysheid wat so dikwels ons eie kennis en wysheid oorskry. Ons besef vandag weer hoe U in die lig van elke mens se omstandighede en persoonlikheid ’n pad met ons elkeen stap waarin mense geroep word. Help ons om nie by onbenullighede, wat ons self hoog op prys stel,  vas te haak nie. Help ons om so met mekaar saam te leef dat ons mekaar nie voortdurend kritiseer en beskuldig nie, maar eerder die vreugde kan ervaar van die uniekheid van elke persoon in ons midde.

Amen.

Gedagte vir die dag | Maandag 18 Julie 2022

 

Romeine 5:1  Omdat ons dan nou op grond van geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur ons Here Jesus Christus.

Lê jy ook dikwels snags wakker oor dinge wat jou onrustig laat voel? Ervaar jy ook dat terwyl jy deur die dag besig is met dinge wat jou aandag verg, jy nie gedurig in elke oomblik van die dag nadink oor dié sake wat nie afgehandel is nie? Hoe maak ’n mens jouself vry van die onrustigheid wat rusie, foute en spanning in jou lewe veroorsaak? Logies gedink moet die probleem of kwessie eers uit die weg geruim word voor jy enige vrede kan ervaar. Paulus bring vandag vir ons ’n ander perspektief daaroor. Voor die probleem of kwessie nog opgelos is en ons letterlik nog in die moeilikheid sit word ons reeds deur God regverdig. Hierdie geloof breek deur die harde dop van ons eie onwilligheid om vir vergifnis te vra en ook vergifnis uit te deel. Dit buig ons wil om te kan verander. Wat is die onrus wat jou lewe oorheers en dikwels voel of dit te kompleks is vir jou om te hanteer? Onthou dan juis dat God se vrede vir oomblikke soos hierdie bedoel is.

Gebed

Here, daar is geraas in my hart. Alhoewel dit soms rondom my stil raak, hou die geraas in my nooit werklik op nie. Ek voel magteloos om dit hier binne in my stil te maak. Here, U wat eens die storm op die see aangespreek het en dit stilgemaak het, maak dit nou so ook in my stil. Spreek net ’n woord en u vrede sal in my hart kom heers. Ek wag . . . stil . . . geduldig om U stem te hoor sê: “Wees stil en weet – ek is die Heer”

AMEN

Gedagte vir die dag | Sondag 17 Julie 2022

Filippense  4:6  Julle moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend.

Daar is in elke liewe dag altyd iets waaroor ons onseker is en wat kommer in ons lewe veroorsaak. In hierdie sin het bekommernis te doen met die vrees, spanning en onrustigheid wat die onsekerheid bring. Ek is bekommerd want ek is nie fisies by my ouers of kinders om te sien hoe dit met hulle gaan nie. Ek is bekommerd oor my, of iemand anders se gesondheid want ek weet nog nie wat die dokters se prognose gaan wees nie. Ek is bekommerd want ek weet nie of ek die mas by die werk gaan opkom nie, en hoe goed ek toekomstige krisisse gaan hanteer nie. Kan jy ’n oomblik neem en dié sin in jou eie woorde voltooi … “ek is bekommerd want ek weet nie …”?

Dit is nie moontlik om van alle bekommernisse ontslae te raak asof hulle nie in jou lewe bestaan nie. Bekommernis bly in elke fase deel van ons bestaan en dis juis oor ons hantering daarvan dat Paulus in vandag se teks met ons praat. Kom ek verwoord die teks ’n bietjie anders. Moenie dat bekommernisse in jou lewe oor jou die oorhand kry nie. Wanneer dit wel jou lewe oorweldig, kanaliseer dit na jou gebede. Moenie jou ontsteltenis en onsekerheid vir God wegsteek nie –  sê dit vir die Here met dieselfde intensiteit van die harteer en blydskap wat in jou leef. Wat is die woorde en emosie waarvan jou hart vandag vol is? Mag jy beleef hoe die Here se Gees vandag die warboel gedagtes wat in jou leef en emosies waarvan jou hart vol is kom bedaar en jou die krag gee om dit te hanteer.

Gebed

O Hemelse Vader, ek loof en dank U vir die vrede van die nag wat op my wag. Ek loof en dank u ook vir die lig van elke nuwe dag en vir al u goedheid en trou deur elke moment van my lewe. Here, U het my in die verlede al so geseën, laat my dan nou ook die hardheid van die hede aanvaar en dit wat my bekommer. Laat my glo dat U nie meer op my sal lê as wat ek kan dra nie. Ek bly glo dat U vir my sal sorg en dat U alle dinge vir u kinders ten goede laat meewerk.

Gedagte vir die dag | Saterdag 16 Julie 2022

Johannes 15:4.  Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot nie uit sy eie vrug kan dra as dit nie in die druiwestok bly nie, so julle ook nie as julle nie in My bly nie .

Ons het elke dag nodig om te eet en te drink vir energie om aktief te kan wees. Dan het ons ook nog boonop die kapasiteit om ekstra kilojoules te verband deur oefeninge te doen. ’n Lekker entjie se stap, draf of swem laat .n mens asemskep en verlig die spanning van die dag. In vandag se teks praat Paulus nie net met ons oor hoe God ons voed nie, maar ook oor die wyse waarop hierdie voeding in fisiese krag omgesit word, wat nie soos in die geval van oefening net jouself bevoordeel nie, maar tot vrug van ander kan wees. Wat sou dit dus beteken om soos die teks sê, “in die Here te bly”. Ek dink dit gaan nie net oor die dissipline om geestelike oefeninge (gebed/studie) deel van jou lewe te maak nie, maar juis om te beleef dat jy in God as lewensbron geanker is. Ons self is nie die vrug nie, maar die loot – die kanaal waardeur die Here vandag lewe bring. Dink weer hieroor na wanneer jy by die etenstafel sit en daarna wanneer jy die voeding in energie omsit.

Gebed

Here, ons bid elke dag dieselfde gebed voor ons eet. “Here, seën hierdie voedsel en die mense wat minderbevoorreg is”. Tog dring dit wat ons bid dikwels nie tot ons deur nie. Dankie dat U in alle opsigte die bron van ons voeding is. En dat wanneer ons eet, dit tot ons deurdring dat dit U is wat ons die krag gee om van hierdie dag iets besonder te kan maak.

AMEN.

Gedagte vir die dag | Vrydag 15 Julie 2022

 

Efesiërs 4:15

Paulus begin Efesiërs 4 met die volgende gedeelte: “Ek spoor julle aan om so te leef dat julle die roeping waarmee julle geroep is waardig is”. Wat hy sê is dat God se roeping moenie net by ons ’n gedagte bly nie, maar prakties toegepas word. Dan gaan Paulus voort om gelowiges aan te moedig om hulle nie van stryk te laat bring deur die kragte en magte wat om hulle afspeel nie. Hy beskryf dit mooi deur die beeld van ’n boot te gebruik wat deur die kragte en magte van ’n storm heen en weer geslinger word. Hy moedig hulle dan aan tot ’n standvastige lewe. ’n Lewe wat deur God se liefde voortdurende gevorm word en groei in insig.

In die gedeelte praat Paulus hard en duidelik met ons oor die gesindheid waarmee ons leef te midde van die magte en kragte van die lewe om ons en hoe dit ons beïnvloed. Voel dit vir jou dat jy in hierdie tyd soos ’n boot sonder rigting deur omstandighede buite jou beheer, heen en weer geslinger word? Hoe is die Here in die midde daarvan besig om jou te vorm, sodat jy nie met ontsteltenis en vrees daarop te reageer nie, maar juis deur God se liefde na geloofsvolwassenheid te groei? Waartoe roep die Here jou in hierdie tyd? Hoe gee dit jou perspektief rakende die gebeure wat om jou afspeel? Watter stabiliteit wil die Here vandag deur jou aan ander bring?

Gebed

Here, soos die klei in die hand van die pottebakker, so is ons in u hand, Here. Help ons om te midde van die kragte en magte wat ons voel alles oorheers, u vrede en stabiliteit te ondervind. Gee my perspektief in u roeping vir my. Dit wat U binne my vermoëns geplaas het om in hierdie dag wat voorlê ’n beter plek te maak. .n Plek waar vrede, liefde, genade en vergifnis heers.

Gedagte vir die dag | Donderdag 14 Julie 2022

Spreuke 16 handel oor die wysheid van goeie gedrag. In vers 20 staan die volgende: “Wie hom toespits op ’n saak sal sukses behaal, wie op die Here vertrou is gelukkig”. Die gedeelte praat vandag met ons oor twee baie belangrike sake in die lewe wat in balans met mekaar moet staan. Eerstens, om met ’n gefokusde aandag geleenthede, uitdagings en probleme te hanteer en tweedens om vir die uitkoms daarvan op die Here te vertrou. Ons kan so maklik in die lewe net by een van die twee vashaak. Aan die een kant die oordrewe spanning om in eie krag iets gedoen te kry en weer aan die ander kant om passief te wag en hoop dat die Here dinge sal kom verander.

Hoe lyk hierdie balans tans in jou lewe? Wat is dit waarop die Here vandag jou aandag wil fokus? Hoe help die Here jou om vandag wesenlike sake van minder belangrike sake te onderskei? Beleef hoe die Here vandag vir jou nuwe perspektiewe gee en waarop Hy jou aandag wil laat fokus, maar besef ook dat alles nie net afhang van jou eie krag en pogings nie. Vertrou dat die Here ook op ’n veel groter wyse besig is met die saak waarop jy fokus. Moet dus nie dat irritasie en moedeloosheid in jou oorneem wanneer dinge nie uitgewerk het soos wat jy gehoop het, of self geglo het nie. Mag hierdie stukkie wysheid vandag die lewe wat voor jou afspeel kom oopbreek.

Gebed

Here, ek kom gee vandag die gedagtes en gevoelens wat oor die lewe in my maal in u hande oor. Ek wil nie toelaat dat frustrasies en moedeloosheid my weerhou om vandag iets te kan doen wat ’n groot verskil kan maak nie. Maar ek wil ook nie toelaat dat my aksies in die pad staan van iets veel groter waarmee U tans besig is nie. Ek bid daarom vir wysheid. Die wysheid om my gawes en vaardighede nuttig te kan gebruik. Wys my daarom vandag wat ek kan doen. Maar gee my ook insig in my eie beperkinge en die vrede om U te vertrou vir die uitkomste wat moet realiseer.

AMEN

Gedagte vir die dag | Woensdag 13 Julie 2022

Psalm 27:11.Here, leer my U pad, lei my op ‘n gelyk pad vanweë my vyande.

Hoe hanteer ’n mens onreg in die lewe? Dit maak ’n mens kwaad en het tot gevolg dat ’n mens met alles in jou daarteen baklei.  Heel dikwels lei dit ons ook ironies genoeg tot gedagtes en dade van meer opregtheid en tot meer vyandskap. Om impulsief teen onreg te baklei is op sig self nie die antwoord nie en het nie God se vrede tot gevolg nie. Die Here wil ons juis help om tot insig te kom in die dieper realiteite wat in die onreg verskuil lê. Daarom die waarde van vandag se teks: “Here, leer my vandag U pad en bewaar my om vanweë onreg die pad vir myself en ander net nog moeiliker te maak.” Hoe lyk die gelyk pad waarop die Here jou vandag wil lei? Wat is die vermoeiende opdraandes en gevaarlike steiltes wat ons van nature kies en wat ons vandag eerder moet vermy? Hoe lyk die gelyk pad wat vrede bring waarop die Here jou vandag wil begelei?

Gebed

Ek wil vandag vir ons Psalm 139 bid. Here, U ondersoek my en U ken my. Van agter en van voor omsluit U my, U plaas U handpalms op my. Om dit vandag te verstaan, is ‘n te groot wonder vir my, dit is te hoog, ek kan dit nie begryp nie. Maar tog wys U my prakties die regte pad om vandag te stap. Deurgrond my Here, sien my onrus raak. Kyk of ek nie op ‘n pad van verdriet is nie, en lei my op die beproefde en ewige pad.

AMEN.

Gedagte vir die dag | Dinsdag 12 Julie 2022

Rut 4:13 13. Boas het toe met Rut getrou en hy het gemeenskap met haar gehad. Die Here het haar swanger laat word, en Rut het ’n seuntjie in die wêreld gebring.

Dink weer na oor hoe God deur die gewone goed van die lewe sy verandering bewerk – deur ’n oes (hoofstuk 1),  ’n ontmoeting (hoofstuk 2),  ’n dorsvloer (hoofstuk 3), ’n huwelik (hoofstuk 4). Dit maak alle dinge wat met ons gebeur belangrik, in der waarheid Goddelike oomblikke.

Die verhaal kry uiteindelik ‘n nog groter betekenis deurdat Rut en Boas ouma- en oupagrootjie word van koning Dawid wat uit hul seun Obed en kleinseun Isai gebore sou word. En Rut se seun Obed, by Boas, word die Oupa van groot koning Dawid. En so word Rut deel van die geslagslyn van Jesus self. Verstommend: ’n Moabiet se nageslag word deel van die gemeenskap van Israel.

Die boodskap van die verhaal van Rut is ten diepste ‘n bevestiging dat ons die pad van God met sy mense kan vertrou. Soos Rut, die vreemdeling, ‘n tuiste vind by Naomi, Boas en in die geloofsgemeenskap van Israel, só kan ons Hom ook vertrou om vir ons ’n plekkie in die son, ook hier in SA, te maak.

Die verhaal van Rut is egter nie net ‘n bevestiging van God se voorsiening vir ons self en ons situasie nie, maar ook van sy voorsiening vir die toekoms, selfs van die voorsiening van ‘n uitkoms vir die wêreld. Ons kleiner verhale word opgeneem in God se groter verhaal met die mensdom.

GEBED

Here, baie dankie dat my storie nie vir U onbelangrik is nie. Dat U ook help skryf aan my storie in die wêreld.

Amen

Gedagte vir die dag | Maandag 11 Julie 2022

Rut 3:18 18Naomi sê toe: “Wag maar en kyk wat nou gaan gebeur, my dogter. Die man sal beslis nie vandag rus voordat die saak afgehandel is nie.

Watter plesier is dié pragtige kortverhaal Rut nie. ‘n Mens kan dit eenvoudig lees – as ‘n liefdesverhaal – óf jy kan dit dieper lees – as ‘n verhaal oor immigrasie en grondbesit – of nog dieper as ‘n getuienis van God se getrouheid in hierdie wêreld.

  • In die verhaal is daar dinge wat jou tone wil laat krul van plesier. ‘n Rut by die voete van Boas (hfst 3). ‘n Boas in die poorte wat op sy voete kan dink (hfst 4)! Sy naam beteken nie verniet “vinnig” nie. Dit is daarom ‘n uitsonderlike liefdesverhaal.
  • In die verhaal is daar dinge wat jou bewus maak van die broosheid van die lewe. ‘n Naomi wat haarself Mara noem. Die naam Naomi beteken “lieflik”. Die naam Mara beteken “bitter”.
  • En dan daar is dinge wat jou asem wil laat wegslaan van ontsag vir God se werk. ‘n Kind wat gebore word vir Rut en Naomi en wat van baie groter betekenis is as wat hulle in hulle wildste drome kon droom. Obed, die dienskneg. Uit wie die Groot Dienskneg gebore sou word. Soos die geslagsregister aan die einde vir ons vertel. Obed se nageslag is Dawid, en Matteus 1 vertel ons dat Jesus weer Dawid se nageslag is. God weef ons verhale in sy groter verhaal met die wêreld in.

Wat leer Rut ons? Wel, God is aan die werk, al sien ons nie sy hand glashelder raak om elke hoek en draai nie. Tussen al die doen en late deur van die hoofkarakters in die verhaal, naamlik Rut, Naomi en Boas, sien ons hoe God sy eie planne bewaarheid. Dit is Hyself wat Rut onder sy vleuels geneem het, soos wat Boas sê (2:12). En dit is God wat uiteindelik sorg dat Naomi se planne slaag en dat sy ‘n nageslag het. Tussen al die slegte dinge deur wat in mense se lewe gebeur, bly God aan die werk. Hy omskep verleenthede in geleenthede en hartseer in vreugde. Op die ou end seëvier God se wil, nie die sonde nie. Daaraan kan ons tot vandag toe vashou.

GEBED

Here dankie dat ek deur die verhaal van Rut weer kan hoor dat U in beheer is en dat U plan altyd sal seëvier.

Amen

1 61 62 63 128