Gedagte vir die dag | Dinsdag 9 Augustus 2022
Vandag is Dinsdag 9 Augustus en ons is besig om na te dink oor gedagtes wat jou in jou verhouding met God wil laat groei. Ons kry regdeur die Bybel verskeie werklikhede hoe God ervaar kan word. Hierdie realiteite identifiseer maniere hoe God werk om mense deel te maak van sy aktiwiteite. Henry Blackaby skryf in sy boek, Experiencing God, dat jy God leer ken deur ervaringe terwyl jy hom gehoorsaam en Hy sy werk deur jou doen.
Johannes 14:23 Jesus antwoord hom toe: “As iemand My liefhet, sal hy my boodskap gehoorsaam uitvoer; en my Vader sal hom ook liefhê en ons sal na hom toe kom en by hom tuisgaan”.
Wanneer ons uiteindelik besluit het om God in geloof te volg, en ons die nodige aanpassings gemaak het, moet ons Hom gehoorsaam. Wanneer ons doen wat God van ons vra, maak nie saak hoe onmoontlik, of verwarrend dit mag wees nie, wil hy sy plan en sy wil deur ons uitvoer. Nie net sal ons dan die krag van God se teenwoordigheid ervaar nie, maar ander rondom ons sal dit ook ervaar.
As jy God se mag en krag in en deur jou wil ervaar, moet jy in geloof loop en lewe, meer aanpassings maak en heeltyd gehoorsaam wees aan dié Een wat jou vra om deel van sy koninkryk te wees. God sal deurentyd sy karakter aan jou openbaar. Jy sal meer en meer van hom en sy wil leer ken wanneer jy gehoorsaam is aan sy stem. Wanneer jy hartseer is, sal Hy na jou toe kom as trooster. Wanneer jy iets nodig het, sal Hy vir jou sorg. Wanneer jy ‘n ernstige uitdaging in die gesig staar, sal Hy as Almagtige Vader intree en jou help. Jou verstaan van God se karakter en wie Hy is, moet die heeltyd groei.
Hoe beïnvloed God se liefde jou gedagtes, besluite en optrede?
Hoe beïnvloed jou liefde vir God jou gedagtes, besluite en optrede?
Gebed: Here, help my om in gehoorsaamheid die pad saam U te stap. Amen.
Gedagte vir die dag | Maandag 8 Augustus 2022
Vandag is Maandag 8 Augustus en ons is besig om na te dink oor gedagtes wat jou in jou verhouding met God wil laat groei. Ons kry regdeur die Bybel verskeie werklikhede hoe God ervaar kan word. Hierdie realiteite identifiseer maniere hoe God werk om mense deel van sy aktiwiteite te maak. Henry Blackaby skryf in sy boek, Experiencing God, dat om God te beleef en deel van sy werk te word, vra ingrypende aanpassings.
Jesaja 54:2 “Maak jou woning groter. Span jou tent wyer, en moenie huiwer nie. Maak die tentlyne langer en slaan die penne dieper in”.
Wanneer God ’n menslike lewe aanraak, is dit tyd vir vreugde en is daar ’n verwagting vir die toekoms. In ons vers wat hierbo aangehaal word sê Jesaja jy moet plek maak vir God in jou lewe. “Maak jou woning groter”, want God se teenwoordigheid bring nuwe dimensies in jou lewe, jou familie en jou kerk. Jy kan nie slegs vir Christus byvoeg tot ’n besige skedule en dan gaan jy net gewoonweg met jou lewe voort nie. Wanneer Christus jou Here raak, verander alles. Jy kan verwag dat jou lewe ryker en voller gaan raak. Jy kan verwag dat God ander deur jou wil seën. Jy kan verwag dat God sy krag in en deur jou lewe wil laat vloei op ’n toenemende wyse.
Hoe sal jy op grond van jou lewensreis en ervarings dit beskryf om ’n lewende offer te wees? Watter aanpassings sal vir jou nodig wees ten einde jou lewe van heelhartige dankbaarheid in lyn te bring met Jesus se uiterste opoffering? Vgl Romeine 12:1-2.
Gebed: Here, wys my waar ek nodige aanpassings in my lewe moet maak en leer my wat dit beteken om myself as lewende offer vir U te gee. Amen.
Gedagte vir die dag | Sondag 7 Augustus 2022
Vandag is Sondag 7 Augustus en hierdie week is ons besig om na te dink oor gedagtes wat jou wil in jou verhouding met God laat groei. Ons kry regdeur die Bybel verskeie werklikhede hoe God ervaar kan word. Hierdie realiteite identifiseer maniere hoe God werk om mense van sy aktiwiteite deel te maak. Henry Blackaby skryf in sy boek, Experiencing God, dat ’n geloofskrisis dikwels deel is van die pad wat ons saam met God loop.
Hebreërs 11:6 “As mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat hy dié wat Hom soek, beloon”.
Wanneer God jou vra om iets te doen wat jy nie self kan doen nie, is dit ’n geloofskrisis? Dit is in hierdie oomblikke waar God jou roep waar jy moet kies wat jy werklik oor hom glo. God sal jou nooit na iets toe roep, of iets van jou vra sonder om saam met jou en deur jou dit te doen nie. Die manier hoe jy op sy uitnodiging reageer, sal wat dit wat jy oor hom glo, openbaar. Jou lewe is die som van hoe jy antwoord en op God se roepstem reageer. Wanneer God homself aan jou openbaar, is die volgende stap wat jy neem jou besluit. Elke keer wanneer jy God se roepstem hoor of voel, het jy ’n keuse wat om te doen. En hierdie keuse kan die rigting van jou lewe beïnvloed. Elke keer wanneer jy bid, dan moet jy besef dat wanneer God jou gebed beantwoord en sy wil aan jou bekend maak, hy van jou vra om jou lewe te heroriënteer.
Is daar iets in jou lewe wat jy sukkel om aan God oor te gee en hoe is God tans besig om jou geloof in Hom te laat groei?
Gebed: Here, help my om my oë gevestig en gefokus te hou op U binne tye van onsekerheid en twyfel. Amen.
Gedagte vir die dag | Saterdag 6 Augustus 2022
Vandag is Saterdag 6 Augustus en hierdie week is ons besig om na te dink oor gedagtes wat jou in jou verhouding met God wil laat groei. Ons kry regdeur die Bybel verskeie werklikhede hoe God ervaar kan word. Hierdie realiteite identifiseer maniere hoe God werk om mense van sy aktiwiteite deel te maak. Henry Blackaby skryf in sy boek, Experiencing God, dat God op ’n verskeidenheid van maniere met ons praat om Homself, sy planne en sy weë aan ons te openbaar.
Hebreërs 1:1-2 “In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun”.
Ons kan nie God beperk tot sekere maniere en optredes nie. God is baie meer as ons persepsie van Hom. God kan op baie meer maniere as wat ons verwag met ons praat. Ons sien in die Bybel hoe God deur drome en visioene met mense praat. Hy gebruik die natuur, wondertekens, profete, ’n sagte fluistering (1 Konings 19:12), vuur, die werp van die lot en engele. Hy praat in die middel van die nag, gedurende aanbiddingsdienste, by maaltye, wanneer mense oppad is, deur preke, in die middel van ’n storm en deur sy Seun. Die belangrike is nie hoe God gepraat het nie, maar dat Hy gepraat het. Is jy nog verwonderd oor die feit dat die Here steeds kies om met jou te praat? Maak jouself ook oop vir ander maniere om God se stem te hoor, want hy wil met jou praat.
Gebed: Spreek Heer. Spreek Heer. U dienaar luister. Amen.
Gedagte vir die dag | Vrydag 5 Augustus 2022
Vandag is Vrydag 5 Augustus en hierdie week is ons besig om na te dink oor gedagtes wat jou in jou verhouding met God laat groei. Ons kry regdeur die Bybel verskeie werklikhede hoe God ervaar kan word. Hierdie realiteite identifiseer maniere hoe God werk om mense deel van sy aktiwiteite te maak. Henry Blackaby skryf in sy boek, Experiencing God, dat God jou nooi om by sy werk betrokke te raak.
Filippense 2:13: “Want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer”.
God heers oor die heelal. Hy is al van die begin van geskiedenis af besig om sy doel en wil te bereik. Hy vra ons nie om sy drome vir hom te droom nie. Hy vra ons ook nie om ons beste vir hom te doen of ons hardste vir hom te werk nie. Hy nooi ons nie uit om ongelooflike en onbereikbare doelwitte te stel en dan te bid dat hy sal help om dit uit te voer nie. Hy het alreeds ’n plan, sy eie plan en agenda wanneer hy jou nader na hom toe roep. Laat hierdie waarheid in jou hart kom woon. God, oneindig wys en heerser oor die skepping, het alreeds ’n plan. En hierdie almagtige Koning van alle konings roep jou nader na Hom toe. Hy nooi jou uit om deel van sy koninkryksplan te wees in hierdie Koninkrykstyd. Wanneer Hy jou persoonlik uitnooi, dan is dit jou beurt om te reageer.
Gebed: Reflekteer vir ’n oomblik op dit wat rondom jou gebeur. Probeer om die dinge rondom jou te identifiseer wat God op die oomblik gebruik om jou na Hom toe uit te nooi. Bid oor elkeen en laat die Heilige Gees toe om vir jou verdere duidelikheid te gee oor dit waarna Hy jou uitnooi.
Gedagte vir die dag | Donderdag 4 Augustus 2022
Vandag is Donderdag 4 Augustus en hierdie week is ons besig om na te dink oor gedagtes wat jou in jou verhouding met God laat groei. Ons kry regdeur die Bybel verskeie werklikhede hoe God ervaar kan word. Hierdie realiteite identifiseer maniere hoe God werk om mense deel van sy aktiwiteite te maak. Henry Blackaby skryf in sy boek, Experiencing God, dat God graag met in ’n persoonlike verhouding wat diep en eg is, betrokke wil wees.
In Matteus 22:37 antwoord Jesus met woorde waar Hy sê dat jy die Here jou God moet liefhê met alles wat jy is en het. Met ander woorde, niks in jou lewe mag vir jou so belangrik soos God wees nie. Hierdie opdrag staan boaan die lys. Ware Christenskap is nie maar net ’n godsdiens nie; dit is ’n verhouding. God het die mens gemaak om ’n liefdesverhouding met Hom te hê. Meer as enige iets anders wil God hê dat ons Hom met ons hele wese moet lief hê. Hy is die een wat daarna smag en verlang om ’n liefdesverhouding met ons te hê wat standvastig en ewig is. Ons soek nie uit ons eie uit na God nie. Alles wat ons van God ervaar, vloei vanuit sy uitnodiging om Hom te leer ken en in verhouding met Hom te wees.
Hierdie intieme liefdesverhouding met God is terselfdertyd uiters persoonlik en prakties. Dit is ook die belangrikste faktor in ons verhouding met hom om hom te leer ken en om sy wil te doen. Die grootste waarheid in die hele Bybel is dit: GOD IS LIEFDE. Om hierdie waarheid te verstaan in al sy dimensies sal jou vrymaak om hierdie verhouding met God ten volle te ervaar.
Op watter maniere het jy God die afgelope tyd ervaar? En hoe is jy deur jou persoonlike verhouding met hom aangemoedig?
Gebed: Here, ek soek na U. Here, ek smag na U. Here, ek ken u Naam. Amen.
Gedagte vir die dag | Woensdag 3 Augustus 2022
Vandag is Woensdag 3 Augustus en hierdie week reis ons saam deur na te dink oor gedagtes wat jou in jou verhouding met God laat groei. Ons kry regdeur die Bybel verskeie werklikhede hoe God ervaar kan word. Hierdie realiteite identifiseer maniere hoe God werk om mense deel van sy aktiwiteite te maak. Henry Blackaby skryf in sy boek, Experiencing God, dat God altyd aan die werk is rondom jou. Sjoe is dit nie mooi nie? Ons aanbid ’n God wat aktief besig is, rondom jou en tussen ons.
Handelinge 26:16 sê: “Ek het aan jou verskyn om jou as my dienaar aan te stel. Jy moet getuie wees van wat jy van My gesien het en van wat Ek jou nog sal laat sien”.
God het nie die wêreld geskep en dit toe aan sy eie lot oorgelaat nie. Regdeur die geskiedenis sien ons dat God aktief betrokke is in hierdie wêreld. Deur Jesus wil God hierdie wêreld herstel en mense in ’n lewende verhouding met Hom verbind. En hy wil mense deelmaak hiervan. Hierdie waarheid geld ook vir jou lewe. God werk aktief in die lewe van mense rondom jou, selfs al sien jy dit nie raak nie. Hy laat alles ten goede meewerk sodat hy jou kan gebruik. Mag God jou geestelike oë oop maak, sodat jy kan raaksien waarmee hy besig is en sy teenwoordigheid kan ervaar.
Hoe het God ander mense gebruik om jou lewe te verander? Hoe gebruik Hy jou om ander se lewens te verander?
Gebed: Here, dankie dat U rondom my aan die werk is. U het my nie nodig nie, maar U wil my hê.
Amen.
Gedagte vir die dag | Dinsdag 2 Augustus 2022
Gedagte vir die dag | Maandag 1 Augustus 2022
Ek wil graag vir ons ‘n vertaalde seëngebed lees van Teresa of Avila. Ek gaan die gebed stadig deurlees en dalk wil jy na elke pouse, dit ook in jou gedagtes herhaal. Mag vandag vir jou ‘n mooi en ‘n goeie en ‘n gesonde dag wees
Mag daar vandag vrede in jou wees.
Mag jy God vertrou dat jy is presies waar jy bedoel is om te wees.
Mag jy nie die oneindige moontlikhede vergeet wat gebore word uit geloof nie.
Mag jy die gawes wat jy ontvang, gebruik, en die liefde wat aan jou gegee word, uitgiet.
Mag jy vrede vind in die wete dat jy ‘n kind van God is.
Laat hierdie teenwoordigheid ‘n tuiste vind in jou beendere, en gee jou siel die vryheid om te sing, te dans, te loof en lief te hê.
Dit is daar vir elkeen van ons.
Amen
Gedagte vir die dag | Sondag 31 Julie 2022
Numeri 6:24-26. “Die Here sal jou seën en jou behoed; die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.”
Gelowiges het mekaar nog altyd herinner aan die krag van die klein wonderwerke. Wanneer eenvoudige opmerkings of alledaagse gebeure ons verander en ons help om die lewe anders te sien. En ons help om onder die donker wolk waaronder ons soms leef, uit te skuif.
Iewers tussen die gewone, vind ons weer nuwe hoop en ‘n nuwe begin. Ek dink as ons oor ons eie lewe gaan nadink, sal ons ook stories kan vertel waar die alledaagse, die gewone wat ons lewens verander het. Waar iemand se opmerking of vriendelike woorde, ons gehelp het om verder te kyk as wat ons sien.
Mag hierdie vlietende oomblikke wat ons soms so maklik afmaak as gewoon, ons inspireer om nie hoop te verloor nie. Mag ons op die uitkyk bly vir daardie klein, maar kragtige wonders wat ons lewe omring en kan verander.
Want hulle is altyd daar. Hulle wag net om gesien, omhels en ook gedeel te word.
Ek lees graag ‘n gebed van Carel Antonisse:
Here, ons God, u Woord verseker ons dat U elke dag by ons is om ons te verras en te troos met die wonder van lewe soos dit in die natuur, maar ook deur mense na ons kom. Help ons om dit vandag weer raak te sien en toe te laat dat dit ons verander.
Amen