GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Vrydag 19 Augustus 2022

Klaaglied 3:18-22. “Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here. Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my. Maar dit sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop. Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie.” 

Hoeveel keer het jy al in jou lewe by hierdie punt uitgekom – tye en plekke waar jy voel jy is besig om te verdrink en dat die lewe vir jou op daardie punt gaan eindig. Ons is mos van kleins af mooi geleer dat jy nie as gelowige moet kla nie, maar eerder uit dankbaarheid moet leef. Dit is miskien die rede hoekom jy nooit van nature na die boek Klaagliedere sal blaai vir inspirasie nie. Tog, leer die Bybel ons in Klaagliedere, Job en die Psalms dat ons klagtes ‘n baie belangrike deel van ons geestelike lewens is. Ek wil jou daarom op hierdie dag vra om eerlik die dinge wat jou in die lewe oorweldig voor die Here te bely. Om sonder enige voorgee en spontaan jou hartseer, angs en spanning aan die Here oor te gee in die woorde van die volgende gebed

Gebed

Here, beïndig hierdie winter waarin my siel vasgevang sit. Laat my weet dat die lente op pad is. Here, ek kan myself nie opgewek kry uit die doodsheid wat ek nou beleef nie. Maar ek weet dat U kan – soos wat U al vele kere mense laat opstaan het uit die dood. Die feit dat ek nou al my klagtes voor U kan kom lê is ‘n bewys dat hierdie oomblik vandag nie die einde is nie. Dankie dat wanneer ek nou na hierdie gebed my oë oopmaak ek enige iets wat in hierdie dag vir my voorlê sal kan hanteer.

AMEN.

Gedagte vir die dag | Donderdag 18 Augustus 2022

Luk 2:14. “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het”

Ons almal herken hierdie bekende woorde. Ons sing die teks elke jaar met Kersfees. Dit vertel van die goeie nuus wat engele aan die skaapwagters gebring het: Dat God vir die wêreld lig en mens kom word het. Dit is in eenvoud waaroor die goeie nuus van die Evangelie eintlik gaan. Of eerder wat dit in ons wil kom doen. God se verskyning kom maak nie net ‘n gedagte in ons los nie. Op ‘n geheimsinninge wyse bring God se verskyning ons by ‘n plek van verwondering uit. Dit is vir my opmerklik hoe ons as gelowiges dikwels op soek raak na God en ons verwondering skielik verdwyn. Dan probeer ons die Lig weer aanskakel deur kursusse wat handel oor stappe wat jy kan volg om naby aan God te kom.

Mag jy in vandag se teks die verwondering beleef van die goeie nuus dat God skyn – ook in tye waar ons anders voel en nie die lig sien nie. “Ere aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde” is nie net ‘n Kerslied nie. Dit is die lied waarmee ons elke dag van die jaar ingaan. Laat toe dat die koue van die wintersoggend, die mooi van die dag, die gesigte van mense om jou en die donker van vanaand jou verwonder.

Gebed

Here, u goedheid is groter as die grootste boosheid, u liefde sterker as al die haat in ons land, u lig skyn helderder as die donker in ons harte. Here, help ons om te besef dat u lig die dood en vrees in ons kom oorwin. Daarom is ons vandag meer as oorwinnaars deur U wat ons lief het. Dankie dat ek eenvoudig in hierdie verwondering kan leef.

AMEN

Gedagte vir die dag | Woensdag 17 Augustus 2022

 

Jesaja 26:3. “En die wat op Hom vertrou. Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here, want hulle het hulle vertroue op U gestel. Vertrou altyd op die Here, want die Here is ’n veilige toevlug”

Hierdie teks, wat deel is van ’n lied, was gesing deur gelowiges wat in Jerusalem gewoon het en gevrees vir hulle lewens en toekoms. Hulle was oorweldig deur internasionale politieke gebeure en ’n dreigende oorlog en geweld waaroor hulle geen beheer gehad het nie. Dit vertel hoe hulle dan hulle toevlug in die stad Jerusalem wat deur hoë mure omring is, vind. Hier sal God ons veilig hou. Maar dan vertel die teks hoe God die situasie verander deur die stad se mure af te breek, sodat die nasies van buite in die stad kan ingaan om ook daar God se vrede te beleef. Daarop volg ons teksgedeelte . . . “dat die Here in hierdie situasie aan ons vrede en voorspoed sal gee”.

Ons geloof en kerk kan soos die stad Jerusalem vir ons ’n wegkruipplek raak waarbinne ons die nodige veiligheid en troos soek, maar waarbinne vrees en frustrasie ook oorheers. Vandag se teks herinner ons aan ’n vertroue en vrede wat veel groter is en waarvoor mure nie nodig is nie. Hoe help hierdie teks jou vandag om in die realiteite wat jou as gelowige bang maak en ontstel, te leef? Moenie toelaat dat hierdie vrees en frustrasie jou vandag gevange hou en jou ontneem van die geloof waaroor die gedeelte in Jesaja met ons praat nie.

Gebed

Here, help my vandag met ’n nuwe perspektief oor die dinge wat in die wêreld om my gebeur en waaroor ek geen beheer het nie. Ek is geneig om as gelowige altyd maar op dieselfde manier te reageer. Ek sien die gevaar en bou mure en so raak my eie wêreld al kleiner en die gevaar daar buite al groter. Help my daarom vandag met die perspektief dat U groter is as my kerk en godsdiens en dat U my vandag kan help om ook daarbuite vrede te bring. Help my vandag om ’n wêreld, waarvoor U lief, is raak te sien.

Gedagte vir die dag | Dinsdag 16 Augustus 2022

 

Matteus 9:9  9 “Terwyl Jesus daarvandaan verder gaan, het Hy ‘n man met die naam Matteus by die tolhuis sien sit en vir hom gesê: “Volg My!” Hy het toe opgestaan en Hom gevolg.”

“Volg my,” het Jesus  vir Matteus gesê. Hy het nie eers voorwaardes aan Matteus gestel nie. Hy het net gesê: “Volg My!” Jesus het vir die ryk jong man ook gesê: “Kom dan terug en volg my!”

Volg se definisie is: “Om iemand te vergesel, of agterna te loop wie die voortou neem in die bepaling van koers, roete en momentum.”

Die oproep wat ons ontvang, is keer op keer volg My! Matteus 8: 22 “Volg My en laat die dooies hulle eie dooies begrawe.”  10:38 “hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort  nie.” Vir Fillipus … volg My!  En in Johannes 10 ken sy skape sy stem en hulle volg Hom.

Daar is baie ander voorbeelde ook, maar ek dink die boodskap is baie duidelik: Volg Jesus.

Jy laat Jesus jou koers en spoed bepaal. Laat Hom toe om in jou skoene te kom staan en jou deur jou lewe te lei op maniere wat God se wil laat geskied en vir jou vreugde gee.

Volg my kan ook vertok word in jy vergesel My. Vergesel Jesus elke dag. En ek hoop dat  jy sal hoor dat Hy orals by jou is. En ek bid dat jy dit ook so sal beleef.

“To follow Jesus means that we can’t separate what Jesus is saying from what Jesus is doing.”  (Eugene Peterson).

GEBED

Hemelse God en Vader, ek plaas my hoop in U. Stap saam met my deur 2022.

Amen

Gedagte vir die dag | Maandag 15 Augustus 2022

Filippense 4:13  13″Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”

Kan ’n mens regtig álles doen as Christus by jou is en jou help – net wat jy wil? Kan jy byvoorbeeld al jou persoonlike ideale en doelwitte bereik met die krag wat Hy vir jou gee? Gaan mislukking dáárin dus vir jou ’n bewys wees dat die Here jou om een of ander rede nie (genoeg) krag gegee het nie? Nee, dis nie wat in hierdie vers staan nie. Maar hier is ’n ander waarheid in wat ons moet hoor.

Dit is dat Christus ons krag gee om alles wat Hy op ons pad laat kom, te kan deurstaan. Christus gee ons krag om alle omstandighede te kan deurstaan.

Ek is tot alles in staat . . . mense wat van hierdie ’n uitspraak maak dat ons as Christene met behulp van die Here nou enige iets kan regkry, dat ons sulke super-suksesvolle wesens kan word, misbruik hierdie teks. Hierdie woordjie “alles” beteken nie al my persoonlike ambisies en ideale en doelwitte nie, maar dat dit hier verwys na al die verskillende omstandighede waarin ek in my lewe kan beland. Met die Here se genade sal ek daardeur kan kom.

Daarom, as Paulus oor sy lewe terugkyk, kom hy met hierdie kragtige standpunt: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” Met die Here se hulp sal ek in goeie en in slegte tye kan volhard. Ek sal kan doen dit waarvoor die Here my gemaak het. Ek sal die doel van my lewe kan bereik, want Hy gee my krag. Ek is tot soveel meer in staat as wat ek met my twyfel kan dink. Want, Hy het die goeie werk in my begin, wat Hy gaan klaarmaak. Ek is altyd in goeie hande. Onder enige omstandighede. Ek lewe in sy lig, en in sy liefde, met sy hoop.

GEBED

Hemelse God en Vader ek plaas my hoop in U. Stap saam met my. Help my asseblief in alle omstandighede. Amen

Gedagte vir die dag | Sondag 14 Augustus 2022

 

Psalm 118:24  24 “Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.”

GEDAGTE

Die lewe is dikwels so ’n gejaag. Dit maak dat ons aandag net op doendinge of take is en dit hou ons weg van die oomblikke wat God vir ons gee. Oomblikke om in vrede en in Sy genade te leef. Een ding lei tot ’n ander en die dringende dinge verg ons aandag sodat ons nie eers meer uitkom daarby om die dae te geniet wat God ons geskenk het nie.
Ons eindig in ’n soort van oorlewings-bestaan waar ons net deur die dag probeer kom en soms die tyd om wens. Ons kan selfs by so ‘n punt kom waar ons sê dat wanneer ons hiermee klaar is, dan sal ons die lewe begin geniet.

Tog moet ons ook besef dat die lewe nie net oor môre gaan nie, maar dat dit meer oor vandag gaan en wat God wil hê ons vandag moet doen. Dat Hy juis die dag vir ons gee waaroor ons moet juig en bly wees. Om een dag op ’n slag te leef is nie altyd maklik nie, maar dit is wat God gesê het ons tog moet doen.

– Dit herinner my aan die volgende ou liedjie.
‘Moment by moment, I’m kept in His love,
Moment by moment I have life from above;
Looking to Jesus till glory doth shine;
Moment by moment, O Lord, I am Thine.’

Ons word geroep om voluit te lewe. Elke dag te waardeer wat die Here vir ons gee.

 

GEBED

Here, dankie vir elke dag wat U uit genade aan my skenk. Help my om dit voluit te leef tot U eer.  Amen

Gedagte vir die dag | Saterdag 13 Augustus 2022

 

1 Konings 2:3  3″Hou jou aan wat die Here jou God jou voorskryf en lewe daarvolgens. Gehoorsaam sy voorskrifte, sy gebooie, sy bepalings en sy verordenings soos dit opgeskryf is in die wet van Moses. Dan sal jy voorspoedig wees in alles wat jy doen en oral waar jy gaan.

Die algemene konsep van gehoorsaamheid, beide in die Ou en Nuwe Testament, hou verband met om te hoor of luister na ‘n hoër gesag. Een van die Griekse terme vir gehoorsaamheid vertolk die idee om jou onder iemand te posisioneer deur jouself aan hulle gesag en opdragte te onderwerp. Volgens Holman se Geïllustreerde Bybelwoordeboek is ‘ n bondige definisie van Bybelse gehoorsaamheid “om God se Woord te hoor en dienooreenkomstig op te tree.”

So, Bybelse gehoorsaamheid aan God beteken eenvoudig om te hoor, te vertrou, te dien en aan God en sy Woord oor te gee. Ek wil graag met jou ag redes deel waarom gehoorsaamheid aan God belangrik is:

  1. Jesus roep ons tot gehoorsaamheid 

In Jesus Christus vind ons die perfekte model van gehoorsaamheid. As sy dissipels volg ons Christus se voorbeeld sowel as sy opdragte. Ons motivering vir gehoorsaamheid is die liefde.

  1. Gehoorsaamheid is ‘n daad van aanbidding

Terwyl die Bybel sterk klem lê op gehoorsaamheid, is dit belangrik om te onthou dat gelowiges nie geregverdig word deur ons gehoorsaamheid nie. Redding is ‘n gratis gawe van God, en ons kan niks doen om dit te verdien nie. Ware Christelike gehoorsaamheid vloei uit ‘n hart van dankbaarheid vir die genade wat ons van die Here ontvang het.

  1. God beloon gehoorsaamheid.

Oor en oor lees ons in die Bybel dat God die gehoorsaamheid seën en beloon.

  1. Gehoorsaamheid aan God bewys ons liefde.
  2. Gehoorsaamheid aan God demonstreer ons geloof.
  3. Gehoorsaamheid is beter as offers.
  4. Ongehoorsaamheid lei tot sonde en dood.

Die ongehoorsaamheid van Adam het sonde en die dood in die wêreld gebring. Maar Christus se volmaakte gehoorsaamheid herstel ons gemeenskap met God, vir elkeen wat in Hom glo.

  1. Deur gehoorsaamheid ervaar ons die seëninge van die heilige lewe.

GEBED

Hemelse God en Vader Help my om aan U gehoorsaam te wees.  Amen

Gedagte vir die dag | Vrydag 12 Augustus 2022

Spreuke 3:6  Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie.

Daar is min mense wat gedissiplineerd genoeg is om te bid en dan op ‘n antwoord van die Here te wag.  Ons bid gewoonlik en dan neem ons ‘n besluit sodra ons dink ons het God nou gehoor, maar was dit regtig die stem van God.

God praat natuurlik op verskeie maniere met ons.  Partykeer gebruik hy mense om ons pad te kruis met ‘n antwoord, ander kere laat Hy die Heilige Gees toe om die antwoord in ons harte te plaas.  Dan is daar weer die kere waar jy jou antwoord in die Woord sal vind of d.m.v. ‘n boodskap wat iemand met jou deel.

Ons kan God egter met ons hele hart vertrou. Om die waarheid te sê, Hy is die enigste Persoon wat ons 100% kan vertrou. Hy sal ons nooit in die steek laat nie. Hy kan nie jok nie en maak nooit ’n belofte wat Hy nie nakom nie.

Moenie net op jou eie insigte staatmaak nie, maar ken God in alles wat jy doen. Ken God weer opnuut vanoggend deur Jesus Christus. Christus het vir my die regte pad vooruit gestap. God ken die groter prentjie en daarom kan ek hom volkome vertrou! Hy lei my op die regte pad, nie die maklikste pad nie, maar die pad waar ek moet wees. Leef daarom naby aan die Here, want Hy is by ons met sy Heilige Gees.

GEBED

Leer my, HEER, u regte weë, wys die regte pad my aan;
maak my hart daartoe geneë om met lus daarop te gaan.
Wil my deur u waarheid leer, lei my dwalende gedagte;
want U is my heil, o HEER!
U is ek altyd te wagte. (Psalm 25:2).

 

Gedagte vir die dag | Donderdag 11 Augustus 2022

Filippense 2:5. 5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was.  

Jesus het homself nie so belangrik geag dat Hy nie ander kon dien nie. Hy het die gestalte van ’n dienskneg of slaaf aangeneem. En vir ’n groot deel van sy lewe het Jesus aan ons kom wys wat dit beteken om ander te dien. Hy leer ons dat as ’n mens belangrik wil wees, dan moet jy ander dien. Die voorbeeld daarvan wat ons seker die beste ken was toe Jesus soos ‘n slaaf die voete van sy dissipels gewas het – met die opdrag: “Maak julle ook aan mekaar so”. In Sy diensbaarheid was Jesus ook aan God diensbaar. Hy het geleef wat die Vader van Hom verwag het. Jesus demonstreer wat die volmaakte dienskneg van die Here se gesindheid moet wees. Jesus se gehoorsaamheid en dienbsaarheid het hom ook die vreeslike dood aan die kruis gekos. Maar Hy was bereid om tot hier by die kruis en die aardse dood gehoorsaam te wees.

En nou kom vers 5: “dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was. . .”

Hoe sou ons die gesindheid kon beskryf? Miskien moet ons sê dat hierdie gesindheid gegrond is in die feit dat ek myself moet leegmaak van alles wat ek is, sodat ek alles kan wees wat God vir my beplan.

  • Ek moet dus my eie wil prysgee – en die wil van God soek.
  • Ek moet my belangrikheid prysgee – sodat God deur my belangrik kan word.
  • Ek moet my sin vir posisie prysgee – sodat God die ere posisie kan inneem.
  • Ons moet die baie tyd en aandag wat ons bloot vir onsself gebruik prysgee – sodat ons tyd het om ander te dien.
  • Ons moet die fokus op onsself prysgee – sodat ons op God en ander kan fokus.
  • Ons moet leer om nie vas te klem aan onsself en ons dinge en wat vir ons belangrik is nie, sodat ons tyd en energie het om aan God se dinge en ons medemens se dinge aandag te gee.

GEBED

Here, ek wil graag die mooi gesindheid van Jesus Christus navolg.

Amen

Gedagte vir die dag | Woensdag 10 Augustus 2022

 

Psalm 40:2 Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor.

Die Psalmis is in die nood, en bely in die Psala dat hy homself nie kan help nie. Sy enigste hoop is dat die Here aan hom sal dink en hom sal red.  En sy versugting is dat die Here nie sal talm nie (vers 18).

Dit is waarom hy drie goed doen, waarmee ’n mens ook die boodskap van die Psalm kan opsom:

  • ONTHOU | vers 2-6: Hy dink terug aan sy vorige ervarings van redding en getuig daarvan. Hy gebruik die pragtige beeld van sy ervaring dat die Here hom uit die modder getrek het en op ’n vaste rots geplaas het. Dink ook vir ’n oomblik terug aan hoe God jou al gehelp het.
  • TOEWY | vers 7-11: Hy dink na oor wat Hy van God weet – dat die Here gehoorsaamheid van hom wil hê. Die Psalmskrywer wy homself opnuut aan die Here toe. Ons lees in vers 9  “Om u wil te doen, o God, is my een begeerte, u woord is my hele lewe”.  Gebruik ’n oomblik om jouself ook weer aan die Here toe te wy.  Besluit om waarlik volgens Sy wil te leef.
  • SMEEK | vers 12-18: Hy spel sy vasgevalde omstandighede voor die Here uit, en beroep hom op God se ontferming, liefde, trou, grootheid, hulp en redding. Praat ook met die Here oor jou uitdagings en gee dit aan Hom oor.

GEBED

Here, ek dank U dat U nog my lewe lank by my is, en vir my sorg. Ek wy myself opnuut weer aan U toe. Wees my asseblief genadig.

Amen

1 58 59 60 128