Gedagte vir die dag | Maandag 29 Augustus 2022
Romeine 1:20. “Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ‘n mens nie met die oog kan sien nie.”
God is oral teenwoordig. Ons voel soms asof die Here vêr van ons af is, asof God iewers daar bo is en buite ons bereik is. Hierdie vers herinner ons dat God oral teenwoordig is en in alles rondom ons is, hoewel dit dinge is wat ons nie met die oog kan sien nie. Die koninkryk van God is naby, maar dit is maklik om God mis te kyk.
Romeine 1:20 vra van ons om bewustelik te lewe, om op te let na die wêreld rondom ons en die onsigbare teenwoordigheid van God raak te sien.
Daar is ’n eenvoudige oefening wat ons hiermee help. Word stil en identifiseer vyf dinge wat jy kan hoor, vyf wat jy kan sien en vyf dinge wat jy kan voel, of waaraan jy kan vat. Wanneer jy bewus geword het van die wêreld rondom jou, vra dan vir jouself, waar sien ek vir God raak in hierdie dinge?
Mag ons elkeen leer om God in ons en rondom ons raak te sien. Mag ons ook ander help om God in hulle lewens raak te sien.
Gebed
Here, ons bely dat ons so maklik onbewustelik deur die lewe gaan, dat ons u teenwoordigheid in ons en rondom ons miskyk. Help ons om bewus te word van u teenwoordigheid. Maak u koninkryk sigbaar vir ons. Sodat ons ook u koninkryk kan sigbaar maak vir ander.
Amen.
Gedagte vir die dag | Sondag 28 Augustus 2022
Matteus 5:16. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”
Franciscus van Assisi het ’n bekende aanhaling wat sê: “Al die donkerte in die wêreld is nie genoeg om die lig van ’n enkele kers uit te doof nie.”
Wanneer lig die meeste nodig is – in die nag en die donkerte. Ons steek nie kerse aan of sit ligte aan wanneer die son skyn nie, maar juis wanneer dit donker word. Daar is ’n klomp dinge wat ons nie in die donkerte kan doen nie, waarvoor ons lig nodig het. Hierdie vers en die aanhaling van van Franciscus moedig ons aan om nie oorweldig te voel deur die donkerte in die wêreld nie, maar om dit juis as ’n geleentheid te sien om God se lig te laat skyn.
Met die eerste oogopslag kan ’n mens dink dat hierdie versie ons aanmoedig om goeie voorbeelde te wees, dat ander sal raaksien watter goeie mense ons is en sal sien dat ons goeie Christene is. As jy bietjie dieper daarna kyk en dink oor die aard van lig, dan lyk die prentjie ’n bietjie anders. Lig help ander mense om te sien. Om lig te wees beteken nie dat ander jou sal raaksien nie, maar dat jy ander sal help om beter te sien en hulle lewenspad sal verhelder. Om lig te wees beteken om weg van jouself te wys, sodat ander beter kan sien.
Gebed
Here, help my om vandag ’n lig te wees, wat ander help om beter te sien. Mag my lewe al hoe meer weg van myself wys en al hoe meer na U toe wys. Laat u lig deur my skyn.
Amen
Gedagte vir die dag | Saterdag 27 Augustus 2022
1 Samuel 16:7. Maar Hy sê vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.”
’n Ander manier om hierdie te sê, is om te: Die mens kyk na die oppervlak, maar die Here kyk dieper, na die dinge onder die oppervlak. Ons leef dikwels ons lewens op die oppervlak. As iemand vir jou vra, “Hoe gaan dit?”, antwoord ons vinnig, “goed en self?” of “besig, maar ons gaan aan”. Ons deel gewoonlik nie hoe dit werklik met ons gaan nie en ons sien net die oppervlak van wat in ander se lewens aangaan. Daar is dikwels in ons eie en in ander se lewens, ’n realiteit onder die oppervlak wat ons nie raaksien nie.
Deur hierdie verhaal in Samuel, nooi die Here ons ook uit om dieper te kyk, om nie te vinnig te oordeel nie. Om te besef dat dit wat op die oppervlak gebeur, dikwels ’n groter verhaal het. Mag ons leer om met die oë van die Here na onsself en ander te kyk.
Dit nooi ons ook uit om in ons daaglikse lewens ons harte met mekaar te deel. Om nie net op die oppervlak te leef nie, maar om die dinge wat in ons hart leef met mekaar en met die Here te deel. Die teksgedeelte gee ons ook die versekering dat die Here ons raaksien. Nie wie ons voorgee om te wees op die oppervlak nie, maar die brose realiteit wat onder die oppervlak leef. Daarom kan ons ook ons harte met vrymoedigheid met die Here deel.
Gebed
Here, ons is so dikwels nie eers bewus van die dinge wat in ons eie harte leef nie, maar oordeel so vinnig oor wat ons op die oppervlak van ander mense se lewens sien. Maak ons bewus van die dinge wat in ons eie harte leef. Help ons om raak te sien wat in ander se harte leef. Mag ons leer om met u oë te kyk na onsself en na ander, sodat ons harte, een kan wees met u hart.
Amen
Gedagte vir die dag | Vrydag 26 Augustus 2022
Johannes 15:9. “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly.”
Ons kan net gee wat ons ontvang het. In sy eerste brief, skryf Johannes “ons het lief, omdat God ons eerste liefgehad het.” Die liefde wat Christus by die Vader ontvang het, gee Hy weer aan sy dissipels en aan ons. En dan kom die opdrag: julle moet in my liefde bly.
Geloof word dikwels gedefinieer deur te sê waarin ons glo en waarin ons nie glo nie. Jesus gee vir ons in Johannes ’n ander definisie van geloof. Geloof is om verbind te wees aan die bron van liefde. Bly in my. Wat beteken dit vir jou om in Jesus se liefde te bly?
Jesus nooi ons uit om die liefde wat Hy vir ons gee, ook met ander te deel. Hoe kan jy vandag Christus se liefde vir iemand anders uitdeel?
Gebed
Here, daar is soveel dinge in ons wêreld, selfs in die kerk, wat verdeeldheid meebring. Help ons om in u liefde te bly, sodat ons een kan wees met U. Mag ek u liefde ook met ander deel, sodat hulle ook een kan wees met U.
Amen
Gedagte vir die dag | Donderdag 25 Augustus 2022
Psalm 139:23-24. “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. 24Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nieen lei my op die beproefde pad!”
Refleksie
Psalm 139 is ’n besonderse Psalm waar die skrywer sy hart oopmaak voor die Here. Dit begin met die woorde: “Here U sien dwarsdeur my, U ken my.” Daar is niks wat ons vir die Here kan wegsteek nie. Hy ken ons beter as wat ons onsself ken. Selfs die dinge wat ons eintlik nie teenoor onsself wil erken nie. Die Here sien deur daardie diepste dele van ons hart waar ons twyfel en onrustigheid leef.
Daarom het die Psalmskrywer ook die vrymoedigheid om die onrustigheid van sy hart te erken. Dit is ook ’n uitnodiging vir ons om dieselfde te doen. Waaroor is jy vandag onrustig? Wat dra jy in jou hart?
Die Psalmdigter besef ook dat die dinge wat in ons harte leef, die dinge waarvan ons oortuig is in ons diepste wese, nie altyd van die Here afkom nie. Vers 24 is ’n opregte gebed, een wat ons eintlik daagliks kan bid. Dit is ’n gebed wat sê dat ek gaan aanhou stap, ek gaan aanhou doen wat ek glo reg is, maar ook aanhou vra of ek op die regte pad is. Ek gaan nie stilsit en niks doen tot die Here vir my sê om te loop nie. Ek gaan in die geloof aanhou stap in die vertroue dat die Here sal kyk of ek nie dalk op verkeerde pad loop nie en dat Hy my op die beproefde pad sal lei.
Gebed
“Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. 24Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!”
Amen.
Gedagte vir die dag | Woensdag 24 Augustus 2022
Spreuke 3:6. 6″Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.”
Refleksie
In die vroeë 1900s het Charles Sheldon ’n boek geskryf wat ’n eenvoudige vraag gevra het: What would Jesus do? Om in Jesus se voetstappe te leef beteken om vir onsself voortdurend hierdie eenvoudige vraag te vra: Wat sou Jesus doen?
Ken die Here in alles wat jy doen. Vra jouself voortdurend, is hierdie wat ek nou wil doen, wat Jesus sou doen? Dit vra vir ’n lewe van gebed, ’n lewende verhouding met die God waar ons besef dat elke keuse wat ons maak belangrik is en betekenis het. Dit is ’n erkenning van ons afhanklikheid van God, ’n erkenning dat ons eie insigte beperk is. Hoe sal jou keuses lyk as jy hierdie vraag, wat sou Jesus doen, ’n daaglikse ritme maak?
Die woord alles in hierdie versie is uitdagend. Ons bid maklik oor die groot keuses in ons lewe, om die Here se leiding en raad te vra. Die woord alles vra egter vir ons om op te let na die klein dingetjies ook in ons lewens, die dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar. Die laaste gedagte wat hierdie versie losmaak, is die gedagte dat die Here ons op die regte pad sal laat loop. Ons kan so maklik die woord regte in ons gedagtes vervang met ander woorde. Woorde soos suksesvolle, voorspoedige, maklike. Die regte pad sluit nie noodwendig hierdie dinge in nie. Inteendeel, die regte pad, sê Jesus Christus, is om ons kruis op te tel en Hom te volg. Hoe dink jy lyk die prentjie van die regte pad volgens die wysheid van die wêreld? Hoe dink jy lyk die regte pad volgens die Here?
Gebed
Here, mag U, deur ons, U wil laat geskied. Mag ons voortdurend onsself vra wat U sou doen, Here Jesus. Help ons om in U voetstappe te volg in die groot en die klein keuses in ons lewe. Lei ons op die regte pad.
Amen
Gedagte vir die dag | Dinsdag 23 Augustus 2022
Matteus 5:43. Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand haat. Maar ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en julle moet bid vir die wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel.
Hierdie teks bly maar oor alle tye heen vir ons een van die moeilikste dinge om te doen. Hoe kry ’n mens dit reg om die diep gewortelde gevoelens en emosies teenoor ander mense te verander. Om nie eens te praat daarvan om boonop nog liefde aan ‘n mens se vyande te betoon nie. Daarvoor is ons eie wil te swak. Dit is juis miskien hier waar die woord bekering opnuut vir ons betekenis kry. Om radikaal weg te keer van hoe ons vandag oor mense voel, of dink en dan deur God se oë na dieselfde mense te kyk en toe te laat dat God ons gedagtes en gevoelens verander. Neem tyd met die volgende vrae: Wie is vandag die mense na wie jy op hierdie manier moet kyk. Watter gesigte kom by jou op? Wat is die Here se wil wat Hy vandag hierdeur vir jou kom wys? Nou die moeilikste vraag – is jy bereid om toe te laat dat dit jou gevoelens en emosies verander? Hierdie verandering is wel moeilik, maar een van die kragtigste veranderings wat die Here in jou lewe kan meebring.
Gebed
Here, dit is nie vir my moontlik om vanuit my eie krag en perspektief die verandering te bring wat U vandag van my vra nie. Daarom is dit vir my wat U al soveel jare my Vader noem nodig om my te bekeer. Weg van my sterk opinies en gevoelens wat daarmee saamloop na U toe. Help my daardeur om vandag skielik anders te kyk na mense wat ek my vyande noem. Gee my vandag insig in die mense wie se name op my vyandlys is. Gee my die wysheid hoe om teenoor hulle op te tree. Help my om so nuwe gestalte te gee aan die ou ge-eikte woord wat ons liefde noem.
AMEN
Gedagte vir die dag | Maandag 22 Augustus 2022
Gal 5:1. Christus het ons vrygemaak om werklik vry te kan wees. Staan dan vas in hierdie Vryheid en moet julle nie weer onder die slawejuk laat indwing nie.
Ons lewe gelukkig nie meer vandag in die realiteit van slawerny soos in die tyd van die Bybel en selfs vroeë Suid-Afrikaanse geskiedenis nie, maar die effek daarvan op ons godsdiens en geloof is nog net so aktueel as voorheen. Waarvan Paulus praat was Ou Testamentiese godsdienstige gebruike waarvan die fokus op God geval het, maar wat haat en vyandskap tussen mense laat onstaan het. Dieselfde liefde wat ’n mens godsdienstig uitleef moet ook teenoor jou naaste uitgeleef word. Daarsonder beteken dit niks. Lees weer 1 Korintiërs 13 waar Paulus dit klokhelder stel. Is gelowiges werklik so vry as wat hulle sterk godsdienstigheid wil voorgee? Dit is ’n uitdaging wat voor ons almal gelê word.
Gebed
Here, deesdae word ’n mens in die kerk oorweldig deur stemme wat verskil en baklei oor wat reg en verkeerd is. En godsdiens word gebruik om antwoorde te motiveer. Maar wat dan skynbaar dan by albei standpunte gebeur is dat dit die eenheid tussen mense breek en tot ’n toestand van wantroue, frustrasie en suspisie lei. Here, ek wil reg lewe. Help my vandag om die vryheid te kan beleef waarvan Paulus in vandag se teksgedeeltes met my praat. Help my met die wysheid en insig wat dieper strek as die godsdienstige gebruike waarmee ek grootgeword het. Help my die genade vind van ’n liefde vir my naaste wat nie minder is as my liefde vir U nie.
AMEN.
Gedagte vir die dag | Sondag 21 Augustus 2022
Job 22:21 “Onderwerp jou aan God, dan sal jy in vrede leef, en so sal jy voorspoed hê.”
Ons ken Job se storie. ’n Opregte en regverdige man wat swaarkry beleef en dan deur sy vriende aangekla word dat dié lyding die gevolg is van ‘n onbelyde sonde. Job verdedig dan homself en bely dat hy ’n opregte mens is wat beter behoort te verdien. Een van sy vriende, Elifas reageer dan met die teksgedeelte: “Onderwerp jou aan God, dan sal jy in vrede leef, en so sal jy voorspoed hê”. Daar is net soveel wat ons nie in die lewe verstaan nie. Ten spyte dat geloof ons help om in die donker en onbekende van die hede en toekoms te leef, is daar soveel wat ons nie weet nie. Dit is die situasie waarin Job as gelowige en ons vandag vasgevang sit. Daar is ’n groot teologiese woord wat dit mooi saamvat – God is soewerein. Dit beteken dat Hy in sy almag en liefde vir die skepping nie toestemming van mense moet kry om God te wees nie. As ons God se grootheid bely, moet ons ook reg wees om die implikasies daarvan te aanvaar. Dit is dat God se gedagtes veel groter as ons eie is. Daarom die troos: Onderwerp jou aan God, dan sal jy in vrede leef en voorspoed hê. En dit is presies wat toe met Job gebeur het. Hy het nie die antwoorde wat hy gesoek het ontvang nie, maar wel uiteindelik God se vrede.
GEBED
Here, help my om vandag weer met soveel dinge saam te leef wat ek nie kan begryp, of verklaar nie. My aard is om alles in die lewe haarfyn uit te werk en te beplan. Dikwels in ’n poging om my en ander die seerkry en swaarkry van die lewe te spaar. Maar seerkry en swaarkry is deel van die lewe. Dit het U ons reguit kom leer. Daarom vind my siel weer in hierdie dag vrede in U. Ek kom onderwerp my lewe aan U en wag geduldig dat U op U eie tyd my stukkie vir stukkie kom lei. Dankie dat ek nie in dit alles aan willekeur oorgelaat is nie, maar aan U grootheid.
AMEN
Gedagte vir die dag | Saterdag 20 Augustus 2022
1 Tim 6:11 “Maar jy moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding en minsaamheid.”
Waarvan vra die teks moet ons vlug? As ’n mens die hele teksgedeeltes lees lyk dit of die kwessie wat Timoteus aanspreek gierigheid is. In sy eie woorde: “soos wat ons met niks in hierdie wêreld ingekom het, kan ons niks ook daaruit wegneem nie”. Alhoewel ons miskien nie dink dat ons gierig is nie, praat vandag se teks met ons oor ’n ontevredenheid wat ons dikwels in die lewe beetpak en min of meer dieselfde uitwerking op ons het. Dit gebeur maklik dat ons ons eie behoeftes en welstand voortdurend op die voorgrond plaas. Dit staan dan in ons pad om opreg te wees; om op ’n eenvoudige leefwyse aan God toegewyd te leef; om onseker omstandighede met geloof in te gaan; om liefde te kan betoon en onder moeilike omstandighede te volhard omdat ons net fokus op ons eie welstand en behoeftes. Die geïrriteerdheid wat by ons ontstaan staan dan in ons pad om minsaam of aangenaam op te tree. Moenie toelaat dat die gevoel van hierdie gedagtes vandag jou lewe oorheers nie.
Gebed
Here, die wolke van geïrriteerdheid en ontevredenheid pak so maklik om ons saam. Ontevredenheid met hoe dinge om ons agteruitgaan en die pessimisme wat daarmee saam gaan belemmer ons uitsig. Help my om te midde van die mistigheid wat hierdie gedagtes en gevoelens bring, koers te kry. Help my om vandag te kies om met opregtheid, en toewyding aan U, met geloof en volharding te leef. Maak my bewus van die onaangenaamheid van my kortaf, haastige en gee-nie-om-houding nie. Dankie dat U in die koue winters van sulke fases in my lewe weer lewe en kleur na my bring.