GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Donderdag 8 September 2022

Vandag is Donderdag 8 September en hierdie week reis ons saam deur na te dink oor God se beloftes. Die teks vir hierdie week is Romeine 8:26-39. Die teks bevat talle beloftes van God vir God se kinders. Hierdie reeks ontgin ’n paar van hierdie beloftes. Die beloftes spreek baie van ons vrese aan en gee vir ons die vrede sodat ons voluit en met waagmoed kan leef.

Die eerste belofte waarna ons vandag kyk is: God se Gees staan ons in ons swakheid by (verse 26-27).

26 Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. 27 En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. 

Het jou woorde al ooit opgedroog? Het jy dalk al net nie meer geweet wat om te sê, of hoe om te bid nie. Hierdie bogenoemde belofte gee ons soveel gemoedsrus met die wete dat God jou hartsgebede hoor. Selfs die woorde wat ons nie bid nie. Dit is immers hoe die Gees ons elkeen bystaan in ons swakhede. Die Heilige Gees wat in en by jou is, hoor jou gesug. Trouens, Hy hoor nie net nie, maar pleit saam met jou, en vir jou, by die Vader. En raai hoe? Met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie! God ken die mens deur en deur. Mag jy vandag vashou aan hierdie waarheid, selfs in tye van onsekerheid of magteloosheid.

Gebed: Here, dankie dat U my altyd in my swakheid, my foute en my onsekerheid bystaan.

Amen.

 

 

 

 

 

 

Gedagte vir die dag | Woensdag 7 September 2022

 

 

Vandag is Woensdag 7 September.  Hierdie week reis ons saam deur om na te dink oor God se beloftes. Die teks vir hierdie week is Romeine 8:26-39.

Kom ons lees saam:

26 Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. 27 En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. 

28 Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. 29 Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. 30 Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.

31 Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? 32 Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?

33 Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34 Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.

35 Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36 Daar staan immers geskrywe:

“Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.”

37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39 of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

 

Hierdie bogenoemde skriflesing is vir die meeste van ons ’n baie bekende teksgedeelte. Die teks bevat talle beloftes van God vir God se kinders. Hierdie reeks ontgin ’n paar van hierdie beloftes van God en die beloftes spreek baie van ons vrese aan en gee vir ons die vrede sodat ons voluit en met waagmoed kan leef. Kom reis môre saam met ons voort waar ons van hierdie beloftes in die teks uitlig.

Gebed: Here, help my om aan U waarhede en beloftes vir my lewe vas te hou. Amen.

Gedagte vir die dag | Dinsdag 6 September 2022

Ek wil graag vandag vir ons ‘n u Psalm lees.  Jy is welkom om jou oë toe te maak en die woord so te ontvang.  Miskien wil jy graag teen die einde ‘n oomblik neem en ook jou eie gebed met die Here deel.

Psalm 66

2God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming;

Hy was nog altyd bereid om te help in nood.

3Daarom is ons nie bang nie,

al gee die aarde pad,

al skuif die berge tot in die dieptes van die see,

4al druis en skuim die waters van die see,

al skud die berge deur sy onstuimigheid. Sela

5Oor die strome van die rivier is daar blydskap in die Godstad,

in die heilige woning van die Allerhoogste.

6God is daar; die stad sal nie wankel nie.

God sal hom help nog voor die môre kom.

7Nasies kan raas en koninkryke wankel,

maar as God sy stem laat hoor,

smelt die aarde weg.

8Die Here, die Almagtige, is by ons,

die God van Jakob is vir ons ‘n beskutting. Sela

9Kom kyk wat die Here gedoen het,

watter ontsettende dinge Hy op die aarde tot stand bring:

10die oorloë oor die hele aarde laat Hy ophou,

pyle en boë verbreek Hy, spiese slaan Hy stukkend,

oorlogswaens verbrand Hy met vuur.

11Bedaar en erken dat Ek God is,

hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.

12Die Here, die Almagtige, is by ons,

die God van Jakob is vir ons ‘n beskutting.

 

Gedagte vir die dag | Maandag 5 September 2022

Ek wil graag aan die begin van hierdie week vir ons ‘n seengebed lees. Meer as ooit word ons in hierdie onseker tyd geroep om ons nie oor te gee aan wanhoop of depressie nie, maar fyner te let op die dinge wat ons wel vreugde kan gee. Mag die woorde van hierdie gebed ons inspireer en aanmoedig om binne God se Groot Storie van Liefde te lewe.

Blessing

The world now is too dangerous and too beautiful for anything but love. May your eyes be so blessed you see God in everyone. Your ears, so you hear the cry of the poor. May your hands be so blessed that everything you touch is a sacrament. Your lips, so you speak nothing but the truth with love. May your feet be so blessed you run to those who need you. And may your heart be so opened, so set on fire, that your love, your love, changes everything. And may the blessing of the God who created you, loves you, and sustains you, be with you now and always.

May it be so.

Gedagte vir die dag | Sondag 4 September 2022

 

Markus 1: 12-13.  “Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in, waar Hy veertig dae lank gebly het en deur die Satan versoek is.”

Die gedeelte vertel die storie oor Jesus se versoeking in die woestyn. Dis ‘n kort gedeelte, maar ek dink tog baie troosvol. Want wat hier met Jesus gebeur, is ook wat met baie van ons gebeur. Dit is dat ons skielik in die woestyn gestoot kan word, dit wil sê onverwags en onbepland in situasies van groot pyn, ontwrigting en eensaamheid kan beland – soos wanneer ‘n siekte jou tref of ‘n verhouding skeef loop. Dat die Gees Jesus die woestyn binnegevat het om versoek te word, beteken nie dat God, Jesus en mense soos ons, doelbewus pyn wou aandoen nie. Wat ek dink waaraan die storie ons wil herinner is wanneer ons wel in ‘n woestyn is, dit ook soms ‘n geleentheid vir nuwe insig is, groter bevryding en selfs ‘n vars ontmoeting met God en ander kan word.

Die woestyn in die Bybel was nog altyd die plek waarheen God sy volk tot nuwe inkeer gelei het en om daar tot nuwe insigte te kom oor God se nabyheid. 

Debie Thomas skryf: “In the startling economy of God, even a dangerous desert can become holy. Even our wilderness wanderings can reveal the divine. This is not because God takes pleasure in our pain, but because we live in a chaotic, fragile and broken world that includes deserts, and because God’s modus operandi is to take the things of shadow and death, and wring from them resurrection, new life.”

Gedagte vir die dag | Saterdag 3 September 2022

 

‘n Gebed van Ronell Bezuidenhout

Lewegewende God- U wat elke nuwe seisoen se kom en gaan bepaal;

Wat die winter tot ‘n einde laat kom en ‘n lente laat aanbreek;

Wat die tyd vir die boom aankondig om ‘n knop te stoot;

Die dag bepaal vir die bloeisel om oop te beur.

Dankie dat ek hierdie dag as die mooiste dag kan kroon.

Soos gister die mooiste dag was.

En môre dit ook sal wees.

Omdat dit U dag is.

Al weet ons dat die skielike verrassing van koue fronte weer gaan opdaag,

En wintersklere steeds voor in die hangkas kan bly hang,

Sing ek my lentelied vir U.

Hierdie is vir ons die seisoen van lewe en vernuwing.

Soos U gekom het om vir ons die lewe te bring, en dit in oorvloed.

So staan dit nie net geskryf in die blaaie van die Bybel nie ;

Maar is die belofte daarvan ook geskryf in elke nuwe blaar.

Gewer van lewe en Versorger, ook van my lewe –

Dankie dat ek die ontvanger van U genadegawes mag wees;

Ook die genade van nuutheid in die natuur.

Gedagte vir die dag | Vrydag 2 September 2022

Aan die einde van ’n werksweek en so aan die begin van die naweek lees ek graag ’n oorvertaalde gebed van Ignatius van Loyola. Jy is welkom om jou oë toe te maak en die woorde te ontvang. Miskien wil jy teen die einde van die gebed ook jou eie gebedswoorde bid.

Vat Heer, en ontvang al my vryheid,

My verhaal en my verstaan

My hele wil

My besit en my bestaan

U het alles vir my gegee

En aan u, Heer gee ek dit nou weer

Vat dit terug, ek lê dit neer

Want als is U s’n, maak daarmee wat U wil.

Gee my net U liefde en genade in ruil,

Dis genoeg vir my

Dis genoeg vir my.

Neem Here en ontvang my beheer,

Wat ek dink en doen

Wat ek probeer beskerm

Wat ek het en my eie noem

 

 

Gedagte vir die dag | Donderdag 1 September 2022

Markus 10:46. “Daarna kom hulle in Jerigo aan. Toe Jesus en sy dissipels en ‘n aansienlike menigte weer daarvandaan verder gaan, sit daar ‘n blinde bedelaar, Bartimeus, seun van Timeus, langs die pad. 47Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, het hy begin uitroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!” 48Baie mense het met hom geraas en gesê hy moet stilbly. Maar hy het al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!” 49Jesus het gaan staan en gesê: “Roep hom nader.” Hulle roep toe die blinde man en sê vir hom: “Hou moed! Staan op! Hy roep jou.”50Hy het sy bokleed net daar gelos en opgespring en na Jesus toe gegaan. 51Jesus vra vir hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” “Rabboeni,” sê die blinde man vir Hom, “dat ek kan sien.” 52Jesus sê daarop vir hom: “Jy kan maar gaan. Jou geloof het jou gered.” Dadelik kon hy sien en het hy op die pad agter Jesus aan gegaan.”

Wat vir my uitstaan in hierdie gedeelte is die vraag wat Jesus vir Bartimeus vra. “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen?” Jesus vra vir hom om sy diepste behoefte te verwoord. Aanvanklik sou mens dink dat dit voor die handliggend is wat hy wil hê Jesus vir hom moet doen. Hy is tog ’n blinde bedelaar, so natuurlik weet ons wat hy wil hê. Maar Jesus maak nie aannames nie, Hy vra hom in elk geval die vraag. Hy reduseer nie vir Bartimeus tot sy blindheid nie. Jesus gee gewig aan die kompleksiteit en volheid van sy menswees en is sensitief vir die feit dat hy verskeie behoeftes en begeertes mag hê.

As Jesus vir Bartimeus die vraag vra, nooi hy hom na eerlike selfondersoek. Jesus nooi Bartimeus op die reis van groei en heling. Wat is in jou hart? Wat is dit wat jy wil hê? Wat is jou diepste behoeftes?

Dit is ’n vraag wat jou nooi om eerlik en weerloos te wees en om te  vertrou. Dit is ’n vraag wat Jesus elke dag vir ons ook vra – mag ons dit waag om hierop te antwoord?

 

 

Gedagte vir die dag | Woensdag 31 Augustus 2022

Johannes 15:1-8 “Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. 2Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. 3Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. 4Julle moet in My bly en Ek in julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie. 5“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. 6As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos ‘n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. 7As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. 8My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.”

As God die wingerdboer is, Jesus die wingerdstok en ons die lote, wat vra die metafoor dan van ons – om te bly in hom. Om te vertoef, om vas te hou, om te kleef, om afhanklik te wees, om te aanvaar, om uit hou en vas te byt. Om ’n tuiste te vind.

Bly in my – dis ’n vreemde konsep. Aan die een kant passief en tog ook aktief. Om te bly is om te vertoef op een plek. Maar dis ook om te groei en te verander en om weerloos te wees. Want as ons bly gaan ons ook gesnoei word, ons gaan vrugte dra wat ander kan sien. Om te bly gaan ons ook nederig maak want ons welwees hang dan nie van onsself af nie. Om te bly, vra ook van ons om te bly saam met ander en ons gedeelde menslikheid te ontvang. Die metafoor nooi ons uit om ’n lewe saam met ander te leef.

Dis ’n moeilike metafoor om toe te pas in ons lewens veral in ’n verdeelte samelewing. Maar mag ons, ons onafhanklikheid opgee en ontdek dat ons onlosmaaklik deel is van God en ander mense se lewens. Dit is dan binne hierdie verhoudings  – uitdagend, morsig en mooi – wat ons vrugte dra wat ons met die wêreld kan deel.

 

Gedagte vir die dag | Dinsdag 30 Augustus 2022

 

Filippense 4:4. “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!”

Hierdie bekende versie herinner ons dat vreugde nie net ’n emosie of gevoel is nie. Dit is ’n keuse. Vreugde is ’n lewenstyl wat ons kweek. Ons dink dikwels dat emosies met ons gebeur, dat dit iets buite ons beheer is, maar emosies is ’n interne reaksie op die eksterne wêreld wat ons beleef. Tussen die eksterne belewenis van die wêreld en die interne reaksie is daar ’n klomp keuses wat ons onbewustelik maak – keuses wat bepaal hoe ons reageer op wat ons beleef. Paulus gee ons die opdrag om te kies om met vreugde te lewe.

Dink vir ’n oomblik na oor jou gemoed, hoe jy op hierdie stadium voel en watter emosies nou in jou hart leef?
Paulus sê dit ook nie net ligtelik nie, in maklike omstandighede nie. Paulus skryf die brief aan die Filippense terwyl hy in die tronk is en nie weet of hy lewendig daar uit gaan kom nie. Paulus se opdrag is nie maklik nie. Daarom sê hy ’n paar oomblikke later: “En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”

Ons het die Heilige Gees nodig om wag te hou oor ons harte en ons gedagtes om te keer dat die wêreld nie ons vreugde by ons steel nie. Mag ons elkeen vandag kies om bly te wees, in alle omstandighede. Mag ons kies om die goeie nuus in ons wêreld raak te sien en te verkondig. En mag die vrede van God wag hou oor ons harte en gedagtes in Christus Jesus.

Gebed
Here, mag die goeie nuus van die evangelie werklik vir ons goeie nuus wees in alle omstandighede. Help ons om bly te wees en om met vreugde te lewe. Mag die vreugde in ons ook aan ander verkondig dat U werklik leef en dat u vrede en vreugde ook vir hulle is.

Amen.

1 56 57 58 128