Gedagte vir die dag | Sondag 18 September 2022
Hebreërs 13:5. Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”
Ons hantering van geld en ons hele ingesteldheid teenoor geld is ’n belangrike faset van ons lewe as begenadigde kinders van God. Wat sê die Here hier vir ons oor geld? Twee opdragte: Hou julle lewe vry van geldgierigheid en wees tevrede met wat julle het.
Hou julle lewe vry van geldgierigheid. Iemand wat geldgierig is, is behep met geld.
So ’n mens se gedagtegang is die heeltyd op geld gefokus en die persoon praat dan ook kort-kort van geld. So ’n mens is gedurig besig met planne om geld te maak. Die term wat hier in vers 5 gebruik word, praat letterlik van om geld lief te hê. Ons moenie geldliefhebbers wees nie, is dus wat hier staan. Natuurlik kan ons geld nie vermy nie. Dis deel van die werklikheid waarbinne ons lewe. Maar die dag wanneer geld vir jou ’n kwessie begin word, wanneer dit jou begin pla, wanneer jy jouself nie kan keer om kort-kort sommetjies te maak en berekenings te doen nie en wanneer jy geld begin liefkry, dan het jy ’n grens oorgesteek wat nie pas by ’n Christen se lewenstyl nie.
Ons lewens moet vry van geldgierigheid wees. Ons hele manier van lewe moet wys dat geld nie die belangrikste ding in ons lewens is nie.
Die tweede deel van die vers sê: En wees tevrede met wat julle het. Ons het nie almal ewe veel geld nie. Ook in geld en besittings is daar onder die kinders van die Here ’n wye verskeidenheid. Daar’s kinders van die Here vir wie Hy baie gee waarmee hulle Hom en hulle naaste dan moet dien. Daar’s baie van sy kinders wat ’n gemiddelde inkomste het. En dan‘s daar ook van sy kinders vir wie Hy dit oplê om met minder te moet regkom. Maar ons moet almal tevrede wees met wat die Here vir ons uitdeel. Tevrede wees beteken dat jy dit wat jy het, as genoeg beskou.
Maar om ons te help om hierdie opdragte te gehoorsaam, gee die Here vir ons ’n belofte ook. Die Here belowe: Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie. Ons hoef dus nie angstig te word oor hoeveel ons moet hê nie. Ons hoef nie nagte wakker te lê oor wat op finansiële gebied van ons gaan word nie. Ons hoef nie, om watter rede ook al, geldbehep te raak nie. Die Here is ook in ons geldsake by ons!
GEBED
Here, ek wil vandag kom dankie sê dat ek genoeg het om van te lewe. Weerhou my daarvan om al meer en meer te wil hê.
Amen
Gedagte vir die dag | Saterdag 17 September 2022
Numeri 6:24-26. “Die Here sal julle seën en julle beskerm; 25die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; 26die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!
’n Erediens begin en eindig met ’n hoogtepunt. Dit begin en eindig met die seën van die Here. Die Here seën ons. Om die Here se seën te ontvang is elke keer ‘n hoogtepunt in ons lewens. Al God se beloftes – sy genade en liefde vir ons in Christus, word telkens weer met die uitspreek van die seën aan ons toegesê en bevestig. Dit is ‘n Goddelike geskenk wat net die Drie-enige-God aan ons kan gee. Net Hy kan ons werklik seën.
Die priesterlike seën van Numeri 6 het God self aan Aäron en die priesters gegee om die volk mee te seën. Tot vandag hou dit vir ons soveel betekenis in.
Die hele Bybel is vol gedagtes van God wat ons seën – van begin tot einde! Soos wat God se liefde ’n lyn regdeur die Bybel is, so is God se seën ook ’n lyn regdeur, ’n sentrale tema van die Bybel.
Heel aan die begin, by die skepping al, seën God die mens (Genesis 1:28). Dis ook die kern van die verbond: dat God vir Abraham seën om ’n seën te wees (Gen. 12:1-3). Jesus begin die bergpredikasie deur dieper betekenis aan seën te gee (Matteus 5). En Openbaring trek die seën deur tot heel aan die einde.
God se seën is deurslaggewend in die Bybel. Dit is ’n kern aspek van God se plan. God wil ons seën.
God belowe vir sy kinders seëning, maar wat beteken dit presies wanneer die Here jou self seën? Soms verwar mense hierdie seëninge van die Here met hulle eie wense en voorkeure wat waar moet word. Wanneer die Here jou seën, gebeur daar iets besonders met jou. As die Here jou seën, het jy ʼn heerlike belofte van die Here af ontvang, dat Hy mooi na jou sal kyk en jou sal oppas. Dat Hy altyd by jou teenwoordig is. Ontvang vandag ook hierdie seën oor jou lewe.
GEBED
“Die Here sal julle seën en julle beskerm; 25die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; 26die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!”
Amen
Gedagte vir die dag | Vrydag 16 September 2022
Psalm 62:2 “Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding. 3Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek vas en stewig staan.”
Ons almal ervaar die druk van die sogenaamde “rat race”. Net wanneer jy dink dat jy besig is om te wen, dan is daar net nog iets wat jy moet doen. Ons moet leer hoe om rus te ervaar. Dikwels gun ons nie onsself die luuksheid van rus nie. As ons fisieke rus nodig het, kan ons ’n uiltjie knip. As ons emosionele rus nodig het, kan ons met vakansie gaan. Waar vind ons egter geestelike rus? Hoe kan ons verligting kry vir die moeilikste lewenskwessies wat ons in die diepste deel van ons hart kwel?
Jy moet na God toe kom. God moedig ons herhaaldelik aan om na Hom toe te kom. “Kom,” is sekerlik een van die Here se gunstelingwoorde.
- “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here…” Jes 1:18
- “Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom koop en eet;” Jes 55:1
- “Kom julle alleen saam na ’n stil plek toe en rus ’n bietjie.” Mark 6:31
- “Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.” Joh 6:37
- “Die Gees en die bruid sê: “Kom!” En elkeen wat dit hoor, moet sê: “Kom!” En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” Op 22:17
God skep met rede die sewende dag as ‘n rusdag. Nie dat Hy noodwendig rus nodig gehad het nie, maar Hy het geweet ons het. Om gebalanseerd te lewe moet daar tye van rus wees. Rus van dit wat ons elke dag doen, wat dit ook al is, maar ook tye van refleksie oor ons lewens en oor God. Sonder hierdie tye word ons soos rotte op ’n wiel, ons hardloop al hoe vinniger maar kom nêrens nie. God het vir ons elke week so ’n dag gegee, kom ons gebruik dit vir die doel waarvoor dit gegee is en tot ons eie welsyn.
GEBED
Here, help my asseblief om oomblikke van rus in my lewe te skep. Oomblikke wat ek net by U voete kom rus en gevoed word deur U teenwoordigheid. Amen
Gedagte vir die dag | Donderdag 15 September 2022
1 Petrus 2:12. “Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.”
Jesus wys ons daarop dat sy navolgers se lewensstyl ’n getuienis is. Ons praat met ons lewe. Wanneer mense na ons lewens kyk moet hulle die Vader in die hemel verheerlik omdat hulle God se gees en liefde in ons beleef en ervaar.
Is jou lewesstyl anders as die wêreld s’n? Verheerlik ons God deur die lig wat ons uitstraal?
Daar’s baie mense wat sê dat dit wat ons as Christene sê en dit wat ons doen, twee verskillende dinge is. Dat ons nie lewe volgens die Bybel, wat ons, ons riglyn noem nie. Dat ons self nie lewe soos wat ons graag vir ander mense voorsê om hulle behoort te lewe nie. Moeder Teresa het eenkeer gesê: Ons as Christene is dikwels die grootste struikelblok vir hulle wat probeer om nader aan Christus te kom. Ons preek dikwels ’n evangelie wat ons nie self uitleef nie. Dit is die grootste rede hoekom mense van dié wêreld nie glo nie. Net nog ’n rede vir ons om weer groot erns te maak met ons roeping om reg te lewe, hier binne in die kring van Christene, maar ook daar buite, selfs teenoor vyandiges.
Die opdrag om altyd reg te lewe en ons te gedra, is maklik om te ignoreer in ‘n wêreld wat volgens ander standaarde leef. Ons vergelyk ons lewens dikwels met die van mense in ons gemeenskap en besluit dan dat ons darem nie so sleg is nie. Ons kan onsself maklik wysmaak dat ons sonde darem nie so erg is nie. Deur die Heilige Gees se stem wat ons roep om heilig te leef, te ignoreer of af te water, verwerp jy God.
God het ons nie geroep om onsedelik te leef nie, maar heilig, heilig soos Hy heilig is. En dit beteken dat ons elke liewe dag bewustelik daaraan moet werk om die sonde in ons lewens af te lê, maak nie saak hoe groot, of klein dit is nie.
Wat is dit wat jou vandag gaan pootjie wanneer jy probeer om meer en meer soos Jesus te wees? Watter versoekings is daar in jou lewe? Wees bewus van hierdie versoekings en vermy dit. Maak erns met jou roeping om heilig te lewe.
GEBED
Here help my asseblief my asseblief om mooi en reg te lewe.
Amen
Gedagte vir die dag | Woensdag 14 September 2022
Romeine 8:35 & 37-39 “Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”
Die enkelvoudige boodskap waarmee die Here jou vandag uit Romeine 8 wil bemoedig, is die volgende: “My liefde vir jou staan onwrikbaar vas.”
God weet dat ons uitgelewer voel aan die impak van ’n onveilige land, siektes, finansiële druk en vele ander uitdagings en dat die dinge ons magteloos en buite beheer laat voel. Ons is baie bewus van ons eie nietigheid en verganklikheid. Dit is waarom God ons wil oortuig dat sy liefde vir ons onwrikbaar vas staan. Ten spyte van al hierdie uitdagings.
Dit is vir ons baie moeilik om slegte omstandighede met liefde te assosieer. Ons vereenselwig liefde met ’n gevoel van genoegdoening, tevredenheid, vervuldheid. Slegte omstandighede gaan gepaard met pyn, onrustigheid en ontwrigting. Wat het dit met liefde te doen? Ons moet besef dat omstandighede nie God se liefde verander nie. Dis steeds die liefde van ’n versorgende Vader. Dit is soos die liefde van ’n ma wat haar huilende kind styf teen haar vasdruk. Dis die kosbare liefde van God. Niks in die hemel, of op die aarde kan ons van hierdie Goddelike liefde skei nie.
Sodra ons oor God se liefde praat, dink ons aan Jesus. Ons sien God se liefde in die persoon en werk van Jesus, tot daar waar Hy sy lewe vir ons, uit liefde, aflê.
Kom ons sê weer: Romeine 8 wil ons vry maak van vrees en bekommernis. Romeine 8 het ten doel om ons te troos en gerus te stel. Dit gaan oor ‘n troosvolle bevestiging van God se getrouheid, ongeag omstandighede.
GEBED
Wees stil en weet: Die Here God regeer.
Kom bring na Hom jou hartseer en jou pyn.
God sal voorsien; in donker tyd van seer
sal sy genade helder oor jou skyn.
Wees stil en weet: Die Here God regeer.
Net Hy genees ons hart se diepste seer. Amen
Gedagte vir die dag | Dinsdag 13 September 2022
Vandag is Dinsdag 13 September en hierdie week het ons saam gereis deur na te dink oor God se beloftes. Die teks vir hierdie week was Romeine 8:26-39 en hierdie teks bevat talle beloftes van God vir ons as Sy kinders. Die beloftes spreek baie van ons vrese aan en gee vir ons die vrede sodat ons voluit en met waagmoed kan leef. Wat is hierdie waarhede waaraan ons mekaar daagliks kan herinner:
- God se Gees staan ons in ons swakheid by.
- God laat alles ten goede meewerk.
- God bestem ons tot gelykvormigheid in Christus se beeld.
- God is aan ons kant.
- Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie.
God se Woord is vol beloftes soos met Romeine 8:26-39. Ons lees dit en ken sommige uit ons kop uit. Ons gee dit vir mense in nood, maar as ons self in die nood is, sukkel ons om dit toe te pas en twyfel ons dikwels daaraan. Mag jy bly ontdek aan hierdie waarhede. Dit versterk ons geloof. Ons hou daaraan vas en dit vertroos ons.
Gebed: Here, baie dankie vir die beloftes in U Woord en vir die Heilige Gees wat U gestuur het om ons te begelei in hierdie waarhede.
Amen.
Gedagte vir die dag | Maandag 12 September 2022
Vandag is Maandag 12 September en hierdie week reis ons saam deur na te dink oor God se beloftes. Die teks vir hierdie week is Romeine 8:26-39. Die teks bevat talle beloftes van God vir sy kinders. Hierdie reeks ontgin ’n paar van die beloftes wat baie van ons vrese aanspreek en vir ons vrede gee sodat ons voluit en met waagmoed kan leef.
Die vyfde belofte waarna ons kyk vandag is: Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie (verse 35-39).
35 Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36 Daar staan immers geskrywe: “Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.”37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39 of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
Hierdie gedeelte van die brief is in die vorm van ’n oorwinningslied geskryf. Die woord wat Paulus vir hierdie oorwinning gebruik, is ’n woord wat nêrens anders in die Nuwe Testament voorkom nie. Hy stel dit in die oortreffende trap – ons is méér as oorwinnaars! Hierdie oorwinning bestaan daarin, dat die band waarmee ons aan Christus gebind is, nie verbreek word deur die swaarkry in ons lewens nie. Hierdie band groei en triomfeer juis deur die ontberinge wat ons verduur. Mag jy vandag vashou aan hierdie enorme belofte met die wete dat te midde van lyding, benoudheid of vervolging bly die Here getrou en is daar niks wat jou van sy liefde kan skei nie.
Gebed: Here, help my om nie in die vrese in my lewe vas te kyk nie, maar eerder aan u beloftes vas te hou. Dankie dat U vir my lief is en dat niks my ooit van U liefde af kan weghou nie. Amen.
Gedagte vir die dag | Sondag 11 September 2022
Vandag is Sondag 11 September en hierdie week reis ons saam deur na te dink oor God se beloftes. Die teks vir hierdie week is Romeine 8:26-39. Die teks bevat talle beloftes van God vir God se kinders. Die reeks ontgin ’n paar van God se beloftes. Die beloftes spreek baie van ons vrese aan en gee vir ons die vrede sodat ons voluit en met waagmoed kan leef.
Die vierde belofte waarna ons vandag kyk, is: God is aan ons kant (verse 31-34).
31 Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? 32 Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?
33 Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34 Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.
Met hierdie gedeelte praat Paulus die Romeine moed in en spoor hulle aan om te volhard. Hy motiveer hulle met die klem op die inwonende Gees wat nie net hulle van binne af transformeer nie, maar die hoop op ’n volmaakte toekoms laat behou. Mag jy vandag hoopvol vashou aan God wat vir jou is.
Gebed: Here, help my om nie in die vrese in my lewe vas te kyk nie, maar eerder aan u beloftes vas te hou. Dankie dat U altyd aan my kant is en dat enige reuse, uitdagings of teenstand saam met U oorwin kan word. Amen.
Gedagte vir die dag | Saterdag 10 September 2022
Vandag is Saterdag 10 September en hierdie week reis ons saam deur na te dink oor God se beloftes. Die teks vir hierdie week is Romeine 8:26-39. Die teks bevat talle beloftes van God vir God se kinders en die reeks ontgin ’n paar van hierdie beloftes van God. Die beloftes spreek baie van ons vrese aan en gee vir ons die vrede sodat ons voluit en met waagmoed kan leef.
Die derde belofte waarna ons vandag kyk is: God bestem ons tot gelykvormigheid in Christus se beeld (verse 29-30).
29 Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. 30 Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.
Soos wat ons fisies verander, verander ons ook emosioneel en geestelik. Veral as ons Jesus lief het en vertrou. Ons word al hoe meer in die beeld van Christus gevorm. Ons word in Jesus se familie verwelkom en niemand word uitgesluit nie. Dit maak nie saak hoe jy lyk, waar jy woon, watter taal jy praat of hoe baie besittings jy het nie. Al wat saak maak, is dat jy ’n kind van God is.
Verandering vind heeltyd plaas, maar die een ding wat nie verander nie, is dat Jesus ons as gelowiges bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van die Seun. En niemand word hiervan uitgesluit nie.
Gebed: Here, help my om nie in die vrees van my lewe vas te kyk nie, maar eerder aan u beloftes vas te hou. Dankie dat U alle mense in u beeld geskep het en dat dit ons gelyk maak in u familie.
Amen.
Gedagte vir die dag | Vrydag 9 September 2022
Vandag is Vrydag 9 September en hierdie week reis ons saam deur na te dink oor God se beloftes. Die teks vir hierdie week is Romeine 8:26-39. Die teks bevat talle beloftes van God vir God se kinders. Hierdie reeks ontgin ‘n paar van hierdie beloftes van God. Hierdie beloftes spreek baie van ons vrese aan en gee vir ons die vrede sodat ons voluit en met waagmoed kan leef.
Die 2de belofte waarna ons kyk vandag is: God laat alles ten goede meewerk (vers 28).
28 Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.
Partykeer gebeur daar goed in ons lewens waarop ons nie antwoorde het nie en dan voel dit asof die vrae te moeilik raak. En baie keer voel dit dan of God ook nie vir ons die antwoord wil gee nie. Maar, God is by ons. Ons weet dat daar slegte dinge is wat met mense gebeur – maak nie saak of hulle self goed of sleg is nie. Baie keer leef ons in hierdie vrees van slegte situasies en onmoontlike antwoorde, maar God kan elke slegte situasie gebruik om ons te help groei en daarom kan ons weet dat God se belofte, om alles ten goede te laat meewerk, vir elkeen van ons waar is. Ja, slegte dinge gebeur, maar God gebruik dit ten goede – so gaan Jesus Christus kruis toe ten goede van mense. Onthou: God is agter die skerms aan die werk.
Gebed: Here, dankie vir die wete dat niks my uit u hand kan ruk nie. Amen.