GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Dinsdag 27 September 2022

Spreuke 20:25 “Jy stel vir jouself ’n strik as jy oorhaastig iets aan die Here wy en agterna eers besef wat jy belowe het.”

Wat belowe ons aan die Here? Dink aan die indrukke en insigte wat ons kry as ons Sondae saam in die kerk is, Bybelstudie doen, of met mense oor godsdiens en geloof praat. Die indruk is dat ons glo en die geloof ons dan uitdaag om op sekere maniere op te tree. Tog verlaat die gedagtes van Sondag se kerk en ons gesprekke oor godsdiens en geloof ons dikwels vinnig. Vandag se gedeelte herinner ons aan die belangrikheid van ’n toegewyde lewe aan God en die wyse waarop dit ons oproep om ook ander verantwoordelikhede op te neem. Die Covid-19-pandemie en langdurige beurtkrag het ons ’n klomp nuwe dinge gewys wat waarde tot ons lewens toevoeg, maar dit het ook baie mense se lewens ontwrig en ons in ongesonde roetines laat beland. Wat beteken ’n toegewyde lewe aan die Here vir jou in hierdie tyd?

Gebed

Leer ons Here, om U te dien soos U verdien: sodat ons sal gee sonder om die prys te bereken; sal stry sonder om seerkry te vrees, sal werk en dien sonder ’n gedagte aan rus of beloning – behalwe die wete dat ons U wil doen.

 

Gedagte vir die dag | Maandag 26 September 2022

Spreuke 11:12. ’n Onverstandige mens praat met minagting van ander; ’n verstandige mens swyg.

Wat sou dit beteken om iemand te minag? Ons minag mense as ons hulle oppervlakkig en impulsief beoordeel en dan daarna nie ons perspektief van hulle kan verander nie. Die gedagtes maal dan onbeperk in ons gedagtes en bepaal uiteindelik ons gedrag. In Romeine 3:23 kom Paulus tot die insig dat almal gesondig het en ver van God is, maar sonder dat hulle dit verdien op grond van God se genade vrygespreek sal word. Om verstandig te wees is om hiermee rekening te hou wanneer ons oor mense praat of dan eerder te oorweeg om te swyg.

Gebed

God met die liefdevolle hart, maak ook vandag myne so. God met die sagte hande, maak myne ook teer. God van die gewillige voete, laat my op u pad volg. En mag ek só nader aan U groei in alles wat ek sê en doen. AMEN.

 

 

Gedagte vir die dag | Sondag 25 September 2022

Spreuke 10:13 “Daar is wysheid in die woorde van die een wat insig het; slae is vir die een wat nie sy verstand gebruik nie.”

Wysheidsboeke in die Bybel soos Spreuke, Prediker, Job en Psalms wys daarop dat die regte ding om te doen nie altyd so eksplisiet in die nakom van geskrewe wette, of reëls lê nie. DieBybel is vol voorbeelde van mense wat hulle op ’n wet of reël beroep, net om op die einde verkeerd op te tree. Om ’n wet of reël toe te pas verg geen ’n ander breinvermoë as om die wet of reël te onthou nie. Maar wysheid en insig vra van ons dieper nadenke waarin ons die Here toelaat om ons ’n sensitiwiteit te gee om die wet of reël anders toe te pas. Hoe is die Here vandag op hierdie wyse met jou besig? Wat wil sy Gees jou moontlik iets kom wys wat jy nie andersins raaksien nie.

Gebed

Heilige Gees, Transformeerder van die wêreld, laat die helende krag van God se liefde my vandag so omvorm, nee, so geheel herskep dat ek ’n instrument sal word wat U kan gebruik. Wys my watter rol ek kan speel om die wêreld vandag ’n beter plek te maak. Nie net deur reëls en wette nie, maar in die besonder ook deur ’n insig en wysheid wat liefde, vergifnis en versoening bring.

AMEN

Gedagte vir die dag | Saterdag 24 September 2022

Spreuke 18: 21 “Die tong het die mag oor dood en lewe; die wat lief is om te praat sal die gevolg dra.”

Blykbaar spreek die gemiddelde mense tussen 5000 – 7000 woorde per dag. Dis wraggies ’n mondvol woorde!  Ek dink altyd aan die beeld dat die woorde wat ons spreek soos die vere van ’n kussing is wat ’n mens uitskud en dan deur die wind gedra word. As dit eers gespreek is kry jy dit nie sommer terug nie en waar die wind dit dra beïnvloed dit ander mense se lewens. Die spreuk is in die kol, want ons woorde dra gevolge. Ons teks herinner ons daaraan dat dit wat ons vandag sê lewe of dood kan bring. Wat is die woorde wat die Here vandag op jou hart lê wat lewe bring. Laat dit vandag spontaan uit jou vloei. Watter woorde lê op die punt van jou tong wat eerder nie gespreek moet word nie? Jy kan vandag ’n lewe daardeur red.

Gebed

Here, help my verstaan dat my woorde vandag lewe kan bring. Gee my vandag die moed om deur my woorde mense aan te moedig en te bemoedig, mense te vergewe en te help. Help my met my woorde sodat ek nie die kompleksiteite wat in my leef so rou teenoor ander verwoord nie. Ek is so bewus hoe frustrasie, woede en geïrriteerdheid so maklik by my mond uitglip. Dankie dat my woorde wat aan U lof bring vandag vrylik uit my kan vloei en dat die dankbaarheid daarvan genoeg is om my deur die hele dag te dra.

AMEN.

Gedagte vir die dag | Vrydag 23 September 2022

Spreuke 18:19. “’n Verontregte broer is ontoegankliker as ’n vestingstad, rusie is soos die sluitbalk van ’n fort.”

Dié spreuk is soos baie van die ander spreuke, die gevolg van lewenservaring. As jy iemand te nagekom het kry jy nie maklik weer toegang tot daardie persoon nie. En om dan nog te probeer deurbreek deur argumente en standpunte lei net tot nog verdere rusie, verwydering en geslotenheid. Dink vir ’n oomblik na aan hoe rusie al in die verlede verwydering tussen jou en ander gebring het. Hoe is dit dat ons nie die ritme daarvan kan breek nie? Ons dink waarskynlik nog dat die enigste manier om na iemand toe deur te breek is om aan te hou om met ’n stormram die stadpoorte te stamp totdat dit meegee. As dit dus by rusie kom bly ons dus dink aan argumente wat tot iemand kan deurbreek. Rusie rig skade aan. Wat is die rusie wat in jou lewe moet stop. Wie gaan dit stop? Moenie langer wag nie, jy mag nog betyds wees om iemand te bereik voordat hulle hul lewe heeltemal vir jou toesluit.

 

Gebed

Here, gee my vandag perspektief op die konflik in my wêreld en lewe. Bedaar die emosies wat in hierdie tyd so sterk in my leef en my inspireer om keer op keer net op dieselfde afbrekende manier te reageer. Gee my die vrede om op te hou baklei en die wysheid en sensitiwiteit om te weet hoe om die moeilike situasies wat in hierdie dag vir my voorlê, te hanteer. Help my verstaan dat u vrede my vandag help om mense se lewens oop te sluit en dat ek daardeur veel meer kan bereik as met my eie argumente.

AMEN

Gedagte vir die dag | Donderdag 22 September 2022

 

Spreuke 10:2. Goed wat deur onreg bekom is, bring geen voordeel nie; om te lewe volgens die wil van God, red ‘n mens van die dood.

Ons dink dikwels nie daaroor na dat ons in die normale gang van die lewe waar ons op sig self niks verkeerd doen nie, besig is om onreg te pleeg nie. Ons verdien, deur harde werk,  bloedsweet en selfs trane, ’n inkomste. Ons sit alles in om doelwitte te behaal en om ’n wins te maak. Dit is alles deel van ons strewe om doelgerigte en betekenisvolle lewens te lei. Maar in die proses maak ons baie foute wat onsself, ander mense en ons omgewing groot skade aanrig en ’n mens laat wonder  . . . was dit alles die moeite werd gewees? Alhoewel ons niks op sig self verkeerd gedoen het nie kan ons met onreg besig wees omdat ons te veel druk op onsself, ander en God se skepping plaas. Alhoewel so ’n lewe doelgerig en winsgewend is, is dit nie volhoubaar nie. Iewers moet iets, of iemand ingee. Hoe raak hierdie gedagte vandag jou lewe? Hoe lank kan ons nog die pas volhou? Is dit waarmee jy besig is nie net goed vir jouself nie, maar ook vir ander en die skepping? Wat is die voorhandliggende dinge wat die Here jou in hierdie tyd uitwys. Moenie wag nie, begin daarmee.

Gebed

Here, help my om vandag my doel in u te vind, eerder as in rykdom, sukses of eer. Op die oog af gaan alles om my lewe goed, maar ek kry die aanvoeling dat ek nie veel langer so sal kan aanhou nie. En ten spyte daarvan storm ek net vorentoe. Wys my wat ek vandag moet doen om hierdie ’n plek te maak van vrede en geluk en nie van druk wat mense en u skepping versmoor nie.

AMEN

 

Gedagte vir die dag | Woensdag 21 September 2022

Ek het dit goed gedink om in die volgende paar dae se dagstukkies ’n paar kort spreuke met julle te deel. Vandag se teksgedeelte kom uit Spreuke 12:10 en praat met ons oor die “seisoen van die skepping” wat ons in September wêreldwyd saam met gelowiges vier. Hoe wyd en omvangryk God se sorg is en hoe dit ons aanspoor om vir alle vorme van lewe om te gee.

Spreuke 12:10. “Die regverdige sorg goed vir sy diere, maar die goddelose is wreed.”

Ons is baie lief vir ons huisdiere. Ons gee hulle name en hulle word deel van ons gesinne. Dit is daarom nie vreemd om vandag te hoor dat ons goed na hulle moet omsien nie. Maar die teksgedeelte praat nie primêr oor huisdiere nie. Dit gaan waarskynlik in die teks oor die massas diere wat in die Bybelse tyd aangehou is wat hulle op een of ander manier van kos moes voorsien. Die teks praat dus met ons oor ’n respek en bedagsaamheid teenoor alles in God se skepping. Ons kan dus nie net wreed teenoor mense optree nie, maar tree ook wreed op wanneer ons onbedagsaam in God se skepping leef. Neem vandag tyd en dink oor God se seën wat ons in sy skepping beleef en hoe dit ons aanspoor om vir alle vorme van lewe om te gee.

Gebed

Here, help ons om vandag te begryp hoe ver, hoog, wyd en diep u liefde en sorg strek. Alhoewel dit ’n liefde is wat ons verstand te bowe gaan kan ons die seën daarvan op eenvoudige maniere in u skepping beleef. Help my vandag om dit raak te sien en nie te verdwaal in die vrese, kommer en frustrasies wat my in hierdie dag kom oorweldig nie.

AMEN.

 

Gedagte vir die dag | Donderdag 29 September 2022

Jakobus 2:18 Maar iemand kan miskien sê: “Die een het die geloof en die ander het die dade.” Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade.”

Refleksie

Jakobus praat hier reguit met ons as gelowiges. Dit is ’n uitdagende teksgedeelte wat van ons vra om ons geloof ernstig op te neem. In die gereformeerde tradisie bely ons dat ons deur geloof alleen gered word – ons kan nie ons redding verdien deur ons dade nie. Dit is iets wat ek met my hele hart bely. Jakobus herinner ons egter dat dít wat ons bely, nie net woorde moet bly nie, maar soos iets moet lyk.

Heidi Baker stel dit soos volg: “Love looks like something”. Liefde is ’n werkwoord, wat geleef moet word, nie net gesê moet word nie.

Mag ons liefde vandag soos iets lyk. Mag jy vandag, God se liefde sigbaar vir die mense rondom jou.

Gebed

Here, help my dat my geloof in U nie net woorde sal bly nie, maar dat ek U liefde sal tasbaar maak, sodat U koninkryk kan sigbaar word in die wêreld.

Amen.

Gedagte vir die dag | Dinsdag 20 September 2022

Kolossense 3:13 Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.

So wat beteken die woord vergewe? Dit beteken letterlik om die rekord skoon te vee, om vry te stel, om skuld af te los. Wanneer ons iemand te na kom, soek ons hulle vergifnis sodat die verhouding herstel kan word. Niemand word vergewe omdat hy, of sy dit verdien nie. Niemand verdien om vergewe te word nie. Vergifnis is ’n daad van liefde en genade. Vergifnis is ’n besluit om iemand nie verantwoordelik te hou vir ’n daad nie, ongeag wat daardie persoon aan jou gedoen het.

Mens hoor so baie van mense wat sê dat hulle vergewe, maar dat hulle nie sal vergeet nie,  of dat die wond sal genees, maar die litteken sal bly… Dit is so verkeerd, want die menslike brein is ’n kragtige orgaan. Deur te vergewe en nie te vergeet nie, veroorsaak emosionele bagasie wat vir jare saam met jou gedra word en jou uiteindelik ’n swaarmoedige en verbitterde persoon maak. Dis waarom die Here so klem lê daarop dat ons mekaar moet vergewe en vergeet, want Hy weet wat die gevolge van hierdie tipe denke vir ons as mens is!

Jesus is ons leidsman en as Christene behoort ons in sy voetstappe te volg. In Psalm 103:12 lees ons hoe God ons sonde vergewe: “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.” In Hebreërs 10:17 lees ons meer oor Jesus se vergewensgesindheid: “…en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie.” Ons behoort hierdie maatstaf te gebruik ongeag hoe moeilik dit ook al vir ons kan wees om te volg. Wie is daar wat jy moet vergewe?

GEBED

Here, dankie dat U al my sondes vergewe het. Ek wil ook vandag vir …………. vergewe.

Amen

Gedagte vir die dag | Maandag 19 September 2022

Kolossense 4:2. “Volhard in die gebed.”

Wat is gebed? Gebed is om persoonlik en direk met God in gesprek te tree, net soos wat ons met ons aardse vaders in gesprek sou tree. Dit is ook dan elke gelowige se voorreg om ter enige tyd met sy Hemelse Vader in gesprek te tree.

Die gebed is die asemtog van die siel. Iemand het tereg hierop gereageer met die opmerking: Wat is goedkoper as ‘n asemteug en wat is duurder as ‘n gebed? Wat is makliker as om asem te haal en wat is moeiliker as om te bid?

Dikwels word die klag gehoor: Dit help nie om te bid nie. Jy vra, maar ontvang nooit ‘n antwoord nie. Jy smeek om hulp, maar niks verander nie. Jy soek lig, maar dit bly donker. Jy roep tot God, en jou situasie word net moeiliker.

In die boek: Bidden wordt moeilijker, wys die skrywer lesers op ‘n veranderde bidkultuur. Vroeër is in gereformeerde huise drie keer per dag by elke maaltyd twee keer gebid. Dan was daar in baie gevalle ‘n oggend- en ‘n aandgebed. Vergaderings is met gebed geopen en met gebed afgesluit. Daar was ‘n bepaalde bidkultuur wat soms gemaak het dat die gebed slegs ‘n formaliteit was.

Ons wêreld het verander. Al die groot veranderings op byna alle terreine van die lewe het ‘n invloed op gebed. Dit het vir baie mense moeiliker geword om te bid

Die gebed is ‘n gesprek, ‘n gesprek met die almagtige God. Wie bid, tree binne in God se heilige teenwoordigheid en mag met God praat. Gebed is ‘n kommunikasiemiddel. ‘n Nietige mens beoefen op die wyse gemeensaamheid met die almagtige God. So is die gebed ‘n skakel tussen die aarde en die hemel. Hoe gaan dit met jou gebedslewe?

GEBED VAN KOOS DU PLESSIS

Laat my nooit die grond verlaat nie.
Laat my in U skadu bly.
Gee dat elke aardse vreugde en vrees,
eindelik nietig word vir my.
Elke afdraai paadjie ken ek.
Elke keer het ek verdwaal.
Elke keer het u my iewers kom haal.
Maak dit Heer, die laaste maal.
Elke dag is n gedagte.
Elke kamer net gehuur.
Elke aardse droom van rykdom en roem,
net n skadu teen die muur.
Wat ek is, is net genade.
Wat ek het, is net geleen.
Eintlik smag ek na U waters van rus.
Lei my Heer vanaand daarheen.
Wat ek is, is net genade.
Wat ek het, is net geleen.
Eintlik smag ek na U waters van rus.
Lei my Heer vanaand daarheen.
Amen

1 54 55 56 128