Gedagte vir die dag | Vrydag 7 Oktober 2022
Ek lees graag aan die einde van hierdie week ‘n gebed van Piet Naude. Miskien wil jy jou oe toemaak terwyl ek dit lees en dalk teen die einde van die gebed ‘n paar oomblikke neem en ook jou eie gebed na die Here toe bring:
Ek weet nie hoe lank “ewig” is nie, Here.
Maar ek bring lof aan U wat van altyd af net daar is,
En tot in die verre toekoms – anderkant die tyd –
Steeds daar sal wees.
Miskien werk tyd nie vir U in die sin van verlede en toekoms nie:
U is teenwoordig in alle tyd.
Dankie dat U my stukkie tyd – wie weet hoe lank?
Binnetree en vir my sorg
Met oneindige liefde,
Sagte hande,
En ‘n warm omhelsing.
U liefde duur inderdaad tot in ewigheid.
Amen
Gedagte vir die dag | Donderdag 6 Oktober 2022
Lukas 10: 38-42. Op hulle reis het Jesus in ‘n dorp gekom waar ‘n vrou, Marta, Hom as gas ontvang het. 39Sy het ‘n suster gehad, Maria, wat aan die voete van die Here gaan sit en na sy woorde geluister het. 40Maar Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: “Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!” 41Maar die Here antwoord haar: “Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, 42maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie.” Dis interessant dat Jesus nie kommentaar gelewer het op Marta se gasvryheid nie. Dit was nie haar skoonmaak, en kosmaak wat Jesus gepla het nie. Hy reageer en se: Marta, Marta jy is besorg en bekommerd oor baie dinge.”
Besorg en bekommerd. Dis woorde wat Marta se innerlike gemoed beskryf. Verdeeld, onsamehangend, gefragmenteerd. Vanuit so ’n plek is dit moeilik om bloot Jesus se teenwoordigheid te geniet en om lief te wees. In plaas daarvan bevraagteken sy Jesus se liefde en draai die fokus na haarself.
Ek dink vir baie van ons klink dit bekend. Ons innerlike lewens is soms so gefragmenteerd of so onsamehangend dat dit vir baie van ons moeilik is om liefde te ontvang en liefde te gee. Ons besigwees is soms juis dit wat ons weerhou om met mense kontak te maak. Ons bekommernisse weerhou ons soms om teenwoordig te wees in die oomblikke van die dag. Ons verloor soms die vermoë om bloot te wees.
Ek kan myself hiermee vereenselwig. Die goeie nuus in hierdie storie is dat Jesus, Marta nie beskaam nie. Sy reaksie is nie een van kritiek en veroordeling nie maar eerder ’n uitnodiging aan haar. Jesus verstaan van waar Marta se opmerking kom, dat die wrok wat sy dra, soos met meeste van ons, gebore word uit ’n plek van jaloesie. Marta wou ook sit waar Maria gesit het. Sy wou ook haar swaar las neersit en toegelaat word om Jesus se gasvrou te wees. Die goeie nuus is, soos Jesus se uitnodiging, slegs een ding is nodig. En as ons dit kies, kan niemand dit van ons wegneem nie. Mag dit ons vrymaak daarvan om nie alles te hoef te doen nie. Mag ons die een ding kies wat vir ons vrede sal bring en ons heelmaak.
Gedagte vir die dag | Woensdag 5 Oktober
Lukas 17:11-19. “Op sy reis na Jerusalem toe het Jesus al met die grens tussen Samaria en Galilea langs gegaan. 12Net toe Hy ‘n sekere dorpie wou binnegaan, kom tien melaatse mans Hom tegemoet, maar hulle bly op ‘n afstand staan 13en roep hard: “Jesus, Here, ontferm U oor ons!”14Toe Hy hulle sien, sê Hy: “Gaan wys julle vir die priesters.” Op pad daarheen het hulle gesond geword. 15En een van hulle het, toe hy sien dat hy genees is, omgedraai en God hardop geprys. 16Hy het voor die voete van Jesus neergeval en Hom gedank. Hierdie man was ‘n Samaritaan. 17Toe sê Jesus: “Was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege dan? 18Is daar niemand anders wat omgedraai het om God die eer te gee behalwe hierdie man wat nie eers ‘n Jood is nie?” 19En vir hom sê Hy: “Staan op en gaan huis toe. Jou geloof het jou gered.”
Die melaatse mans in hierdie storie het geweet hoe dit is om in die skaduwee te lewe. In ’n niemands-land en ’n tussen-in spasie. Want soos dit die gebruik was, moes hulle hulle afstand hou van mense. Hulle moes in isolasie leef en oral waar hulle sou gaan aankondig dat hulle onrein is, sodat almal weet, wie en wat hulle is. So wanneer Jesus hulle genees, genees Hy nie net hulle liggame nie, Hy herstel ook hulle identiteit, en neem hulle terug na dit wat dit beteken om werklik ’n mens te wees. Om deel te wees van ’n familie, ’n gemeenskap en nabyheid en intimiteit te ervaar.
Die genesing van hulle liggame stel hulle instaat om weer te voel, om te omarm en self omarm te word. Jesus tree toe tot hierdie niemands-land toe, ’n land van geen tuiste en nooi hulle terug huis toe. As ons vanuit hierdie hoek na die storie kyk is die tiende man se reaksie meer as net dankbaarheid vir genesing. Dis ook ’n dieper uitdrukking van behoort. Lukas vertel dat die tiende melaatse man, ’n Samaritaan was. Iemand wat nie net gemarginaliseerd was omdat hy siek was nie, maar boonop ook omdat hy deel was van ’n groep mense wat deur die Jode verafsku en uitgestoot is. Sy andersheid help hom om dit te sien wat die ander nie kon nie. Hy kon sien dat sy identiteit, sy ware plek van tuiste, aan die voete van Jesus lê. Hy kon sien dat Jesus se arms wyd genoeg is om alles rakende hom te omarm: melaatsheid, vreemdeling, verstoteling, maar uiteindelik ook geliefde kind van God.
Mag jy ook tuis kom in die wye arms van Jesus.
Gedagte vir die dag | Dinsdag 4 Oktober 2022
Filemon 1:6 “My bede is dat die gemeenskap wat jy deur die geloof met ons het, jou ‘n dieper insig sal gee in al die goeie dinge wat ons vir Christus kan doen.”
Paulus se gebed vir Filemon in hierdie teks herinner ons aan die belangrikheid van gemeenskap. Daar is sekere dinge wat ons net as deel van ’n gemeenskap kan leer. Sekere insigte wat ons nie op ons eie kan ontdek nie. Om ’n Christen te wees beteken ten diepste om deel te wees van ’n alternatiewe gemeenskap, ’n liggaam wat leef om meer soos Christus te word.
Die Westerse wêreldbeeld, veral na die Verligting in die 18de eeu, het geloof in ’n individualistiese rigting gedryf. Vir ons wat in Afrika leef, herinner Paulus ons hier aan die waarde van Ubuntu. Ubuntu beteken: Ek is, omdat ons is.
Richard Rohr stel dit sterk deur te sê: “If you think you are privately “saved” or enlightened, then you are neither saved nor enlightened, it seems to me!”
Ons geloof verbind ons almal en alles om ons anders. Om vir Christus te volg beteken om al hoe dieper ingenooi te word in gemeenskap met Hom, mekaar en die wêreld. Mag ons al hoe meer leer wat dit beteken om as gemeenskap van gelowiges as deel van die liggaam van Christus te leef.
Gebed
Here, dankie dat U ons innooi as deel van die gemeenskap van liefde van God-Drie-Enig. Mag hierdie gemeenskap wat ons met U het, ons al hoe dieper innooi in gemeenskap met mekaar en met die wêreld. Help ons om so te leef dat ander hierdie gemeenskap van liefde sal sien, sodat hulle ook deel mag kry aan die gemeenskap met U.
Amen.
Gedagte vir die dag | Maandag 3 Oktober 2022
1 Joh. 5:14. “Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister.”
Een van emosies wat die grootste negatiewe impak op mense het, is die gevoel van alleenheid – om niemand te hê om jou hart mee te deel nie. Johannes herinner ons dat gelowiges nooit alleen hoef te voel nie. Hy verseker ons dat die Here na ons luister, dat ons die diepste begeertes van ons hart met Hom kan deel. Dalk het jy vandag iets op jou hart wat jy met niemand anders kan deel nie. Neem dan vandag ’n oomblik tydens gebed om dit met God te deel.
Johannes herinner ons ook dat wat ons vra, in lyn met God se wil moet wees. Dit is nie altyd duidelik of die dinge wat in ons harte leef, God se wil is nie. Daarom behoort ons onsself voortdurend te herinner dat my wil nie noodwendig God se wil is nie. Mag ons aanhou vra na wat God se wil is.
Daar is verskeie Psalms waar die digter dit so mooi stel, onder andere aan die einde van Psalm 19: “Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser.”
Mag ons aanhou vra of ons gedagtes en ons begeertes vir die Here aanneemlik is, mag ons weet dat ons nooit alleen hoef te voel nie en mag ons die vrymoedigheid hê om ons harte met die Here in gebed te deel.
Gebed
Here, U ken my. U weet wat my onrustig en opgewonde maak. Help my om die begeertes van my hart in ritme met U wil te kry. Dankie, dat ek mag weet dat U na my luister en dat ek U kan vertrou om my op die regte pad te hou.
Amen.
Gedagte vir die dag | Sondag 2 Oktober 2022
Romeine 6:23 “Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.”
Ludwig Wittgenstein skryf: “Die dood is nie ‘n gebeurtenis in die lewe nie: ons leef nie om die dood te ervaar nie. As ons die ewigheid nie definieer om oneindige tydsduur te beteken nie, maar tydloosheid, dan behoort die ewige lewe aan diegene wat in die hede leef.”
Romeine 6:23 herinner ons dat die ewige lewe ’n geskenk is waarvan ons nou al deel word in Christus. Dit is nie iets wat ons ontvang die dag wanneer ons doodgaan nie, maar iets waarvan ons deel word die dag toe Christus ons aan die kruis verlos het. Die ewige lewe, lewe in volheid, is iets waaraan ons nou reeds deel het.
Wat beteken dit vir jou dat jy nou reeds deel is van die genadegeskenk van die ewige lewe in Christus? Wat beteken dit vir jou dat ons dood is vir sonde? Hoe dink jy lyk dit wanneer ons leef soos mense wat dood is vir sonde en die ewige lewe ontvang het?
Gebed
Here, U het gekom sodat ons mag lewe hê en dít in oorvloed. Dankie, vir die genadegawe van die ewige lewe wat ons in Christus het. Dankie, dat ons mag weet dat ons dood is vir die sonde en vry is om vir Christus te leef. Help ons om te gaan leef as mense van die ewige lewe.
Amen
Gedagte vir die dag | Saterdag 1 Oktober
Matteus 19:25-26. Toe hulle dit hoor, was die dissipels totaal verbysterd. “As dit so is, wie kan dan hoegenaamd verlos word?” het hulle gevra. 26Daarop het Jesus hulle aandagtig aangekyk en gesê: “Menslik gesproke is dit onmoontlik. Maar by God is alles moontlik!”
Daar is ’n bekende toneel uit Alice & Wonderland wat iets van hierdie teksgedeelte verwoord:
Alice laughed. “There’s no use trying,’ she said. ‘One can’t believe impossible things.’
I daresay you haven’t had much practice,’ said the Queen. ‘When I was your age, I always did it for half-an-hour a day. Why, sometimes I’ve believed as many as six impossible things before breakfast.”
Ons geloof is geloof in die onmoontlike. Dat, in God, die onmoontlike moontlik kan word. Die gesprek waaroor die dissipels verbysterd is, is oor hoe moeilik dit is vir die ryk jong man om in die koninkryk van God te kom, met die ryk jong man wat nie van sy besittings kon afstand doen en vir Jesus volg nie. Die verhaal vra van ons om ook bewus te word van die dinge waaraan ons vashou, wat vir ons sekuriteit en mag gee, wat ons soms terughou om ten volle vir Jesus te volg. Of selfs die dinge wat ons in ons hart dra waarvan ons nie kan laat gaan nie. Die mense wat ons nie kan of wil vergewe nie, die skuldgevoel wat ons nie wil agter los nie. Dit voel amper onmoontlik om hierdie dinge wat ons gevange hou, te los.
Maar wat by mense onmoontlik is, is by God moontlik, herinner Jesus ons. Daarom is dit altyd ’n wonderwerk wanneer iemand vergewe of vergewe word, wanneer iemand besluit om vir Jesus te volg, wanneer iemand met onvoorwaardelike liefde teenoor iemand anders optree.
Mag ons nie ophou om te glo in die onmoontlike nie. Mag ons vertrou op die God wat die onmoontlike, moontlik maak.
Gebed
Here, dit lyk vir ons soms asof die wêreld hopeloos is, asof dit onmoontlik is vir mense om te verander. Soms voel ek dit is onmoontlik vir my om te verander. Skenk aan ons die geloof wat glo in die onmoontlike en in die God wat die onmoontlike, moontlik maak.
Amen
Gedagte vir die dag | Vrydag 30 September 2022
Efesiers 2:8. “Dit is mos dié genade wat julle verlos het deurdat julle tot geloof gekom het. En julle verlossing kom nie uit julleself nie, maar is ’n gawe van God.”
Genade is die grootste geskenk wat ons kan ontvang. Ons kan die woord gawe in die teks ook vertaal met die woord geskenk. Ons maak dikwels van geskenke ’n ekonomie. Dikwels, as iemand vir jou ’n geskenk gee, moet jy weer ’n geskenk van min of meer dieselfde waarde vir daardie persoon terug gee. Maar ’n ware geskenk is iets wat gegee word sonder ’n verwagting om iets terug te kry. ’n Ware geskenk het ook die vermoë om iemand se lewe te transformeer.
Ons kan nooit hoop om die geskenk van God se genade terug te betaal nie. Die Here verwag ook nie dat ons dit moet probeer doen nie. Maar wanneer ons die geskenk van God se genade ontvang, transformeer dit ons lewens. Ons kan nie anders as om in dankbaarheid te lewe nie. Ons kan nie anders as om ander dieselfde genade te skenk wat aan ons gegee is nie.
Toe ek ’n tiener was, het ek die eenvoudige beginsel geleer by ’n predikant van die gemeente waar ek grootgeword het. Hy het dit die OS beginsel genoem: Ek lewe anders omdat ek gered is, nie sodat ek gered kan word nie.
Mag die geskenk van God se genade aanhou om jou te transformeer om meer soos Christus te word. Mag ons elkeen gaan leef in en as die geskenk van God se genade.
Gebed
Nog voordat ek kon kies of kon vra, het U, Here, my skuld gedra. Daar is nie ’n groter geskenk as die genade wat U vir ons gee nie. Help ons om hierdie geskenk al hoe meer te aanvaar, dat ons genadig met onsself en met ander sal wees.
Amen
Gedagte vir die dag | Donderdag 29 September 2022
Jakobus 2:18. Maar iemand kan miskien sê: “Die een het die geloof en die ander het die dade.” Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade.
Refleksie
Jakobus praat hier reguit met ons as gelowiges. Dit is ’n uitdagende teksgedeelte wat van ons vra om ons geloof ernstig op te neem. In die gereformeerde tradisie bely ons dat ons deur geloof alleen gered word – ons kan nie ons redding verdien deur ons dade nie. Dit is iets wat ek met my hele hart bely. Jakobus herinner ons egter dat dít wat ons bely, nie net woorde moet bly nie, maar soos iets moet lyk.
Heidi Baker stel dit soos volg: “Love looks like something”. Liefde is ’n werkwoord, wat geleef moet word, nie net gesê moet word nie.
Mag ons liefde vandag soos iets lyk. Mag jy vandag, God se liefde sigbaar vir die mense rondom jou.
Gebed
Here, help my dat my geloof in U nie net woorde sal bly nie, maar dat ek U liefde sal tasbaar maak, sodat U koninkryk kan sigbaar word in die wêreld.
Amen.
Gedagte vir die dag | Woensdag 28 September 2022
Psalm 16:11. U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is.
Refleksie
Psalm 16 is ’n besondere Psalm van vertroue. Vroeër in die Psalm getuig die digter dat die afgode in die land aantreklik is vir baie, maar dat die digter van die Psalm niks met hulle te doen wil hê nie. Is dit nie dikwels hoe dit ook lyk in ons lewens nie? Dat die dinge wat so aantreklik lyk, ons dikwels op verkeerde paaie lei en dat die pad wat na die lewe lei, soms nie so aantreklik lyk nie. Waar sien jy rondom jou, of in jou eie lewe raak dat iets wat aanvanklik aantreklik lyk, mense op ’n verkeerde pad lei?
In vers 11 getuig die digter: “Uit u hand kom net wat mooi is.” Dit is maklik om hierdie Psalm te bely wanneer dinge met ons goed gaan, maar ons weet dat daar ook dinge oor ons pad kom wat nie mooi is nie. Die lewe is vol moeilike en swaar tye. Tog is dit juis in sulke tye wat ons saam met Psalm 16 kan bely, “uit u hand kom net wat mooi is.” Om dit te bely, is nie om die realiteit van die gebrokenheid van die lewe te ontken nie, maar om vas te hou aan die geloof dat die Here selfs in die donkerste tye, iets mooi kan laat uitspruit.
Dalk is jy in ’n tyd waar jy net die mooi van die lewe ervaar. Dank die Here vandag daarvoor. Dalk is jy in ’n tyd waar dit voel of alles wat mooi is uit jou lewe verdwyn. Vra die Here om jou die moed te gee om aan te hou vertrou en dat Hy jou sal help om die mooi raak te sien, selfs in die donkerste tye.
Gebed
Here, leer my hoe om te lewe. Leer my om in alle omstandighede bly te wees. Leer my om die mooi wat uit U hand kom raak te sien. Help my dan om die mooi van die lewe ook vir ander uit te wys.
Amen