Gedagte vir die dag | Maandag 17 Oktober 2022
Kom tuis in Psalm 84
“2 Hoe lief het ek u woning, Here, Almagtige! 3 Ek versmag van verlange na die tempel van die Here; met alles wat ek is, wil ek jubel oor die lewende God. 4 Selfs ‘n mossie het ’n nes en ‘n swaeltjie ‘n plek vir haar kleintjies daar by u altare, Here, Almagtige, my Koning en my God! 5 Dit gaan goed met mense vir wie u huis ‘n tuiste is: hulle hou nie op om U te prys nie. Sela 6 Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind en graag na u tempel toe gaan. 7 Vir hulle gaan daar fonteine oop wanneer hulle deur ‘n dorre laagte trek en die vroeë reëns sy seëninge bring. 8 Keer op keer ontvang hulle nuwe krag totdat hulle voor God in Sion verskyn. 9 Here, almagtige God, hoor my gebed, luister tog, God van Jakob! Sela 10 Sien tog om na die koning, ons beskermer, o God; hou u gesalfde onder u sorg. 11 Waarlik, één dag in u tempel is beter as duisend daarbuite. Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God as om te woon in huise sonder God. 12 Die Here God is ons krag en ons beskerming, die Here gee genade en eer, Hy weerhou die goeie nie van dié wat reg lewe nie. 13 Here, Almagtige, dit gaan goed met die mens wat op U vertrou!”
Psalm 84 is ’n spesiale psalm wat ons uitnooi om in Hom tuis te kom. Dit praat van ’n drie-maal welgeluksalige mens. ’n Welgeluksalige is volgens hierdie Psalm iemand wat in God se geselskap tuis is (vers 5). ’n Welgeluksalige is iemand wat in die geloof weet dat daar by God skuilplek is waar niemand jou kan bedreig nie (vers 6). ’n Welgeluksalige is iemand wat God se pad vertrou (vers 13).
Mag jy vandag tuiskom in die Here se teenwoordigheid, want één dag in Sy teenwoordigheid is beter as ’n duisend sonder Hom (Vers 11).
Gebed
Here, dankie dat ek tuis kan kom in U teenwoordigheid. Amen
Gedagte vir die dag | Sondag 16 Oktober 2022
’n Skuilplek by Psalm 91. “1 Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, 2 hy sê vir die Here: “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.”
Wanneer laas het jy veilig gevoel? Of dalk onveilig? Daar is verskillende soorte vrese wat ons kan oorweldig. Vrees vir gevaar en geweld, vrees vir vreemdelinge, vrees vir finasiële onsekerheid, vrees vir verwerping en mislukking, vrees vir eensaamheid en verlies, vrees vir lyding en dood. Toe Rooseveldt verkies is as die nuwe Amerikaanse President tydens die groot Depressie jare, het hy by sy bevestiging ’n toespraak gelewer met die bekende woorde: “The only thing we have to fear is fear itself”. Ja, vrees kan ons somtyds oorweldig, maar wat ’n gerustheid om te weet dat ons elkeen ’n skuilplek het in die teenwoordigheid van die Here. Hy is ons veilige vesting, die EEN op wie ons kan vertrou.
Gebed
Here, dankie dat my worsteling nooit vir U te veel is nie en my uitgestrekte hande nooit vir U te kort is om vas te hou nie. Amen
Gedagte vir die dag | Saterdag 15 Oktober 2022
Vrygemaak deur Psalm 116
“16 Ek is u dienaar, Here, van my geboorte af is ek al u dienaar: U het my vrygemaak. 17 Ek wil U loof met ‘n dankoffer, ek wil die Naam van die Here aanroep. 18 My geloftes aan die Here sal ek betaal in die teenwoordigheid van sy hele volk, 19 in die voorhowe van die huis van die Here, binne-in jou, Jerusalem! Prys die Here!”
Psalm 116 word gebruiklik deur die Jode gesing by die Pasgamaaltyd. Jesus het dus ook hierdie psalm saam met sy dissipels gesing die aand waar hulle brood saam gebreek het, net voordat hy gevange geneem is om gekruisig te word. Weet vandag dat die Here jou lief het, dat Hy jou vrygemaak het. Mag jy Hom vandag loof met ’n dankoffer, terwyl jy Sy Naam aanroep.
Gebed
Here, die lewe van elke mens is vir U kosbaar. Dankie dat U ons deur en deur ken. Gee ons die passie om U ook tenvolle te leer ken. Amen
Gedagte vir die dag | Vrydag 14 Oktober 2022
Blydskap in Psalm 100. “1 Juig tot eer van die Here, almal op aarde! 2 Dien die Here met blydskap! Kom voor Hom met gejubel! 3 Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak en ons is Syne, ons is sy volk, sy eie kudde. 4 Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange, dank Hom, prys sy Naam, 5 want die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag.”
Psalm 100 het vyf werkwoorde vir ons vanoggend: juig, dien, kom, erken, gaan, dank, prys.
Lofprysing en aanbidding is nie net ’n na binnegerigte aktiwiteit nie. Dit moet na buite gerig wees sodat ander dit so onweerstaanbaar kan vind dat hulle ingenooi voel om ook te wil deelneem. Dit is vanselfsprekend nie asof God ons lof nodig het nie; alle lof behoort in elk geval aan God. Deur ons lofprysing getuig ons oor wie God is, juis sodat ander dit ook moet hoor en glo en kan deel neem in die massakoor van lof.
Gebed
Here, mag ek getuig van die Blydskap wat in my leef.
Amen
Gedagte vir die dag | Donderdag 13 Oktober 2022
Nadenkend oor Psalm 139
“1 Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. 2 Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. 3 Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend. 4 Daar is nog nie ‘n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees. 5 U omsluit my van alle kante, U neem my in besit. 6 Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.”
Psalm 139 laat ons nadink, soos al die Psalms, nie oor wie God is nie, maar oor wie God vir ons is. Miskien moet jy mooi en lank oor die voorafgaande sin nadink, en seker maak dat jy dit goed verstaan en ook oor die implikasies daarvan vir jou geloof in God nadink. Psalm 139 konfronteer ons nie met ’n rasionele en wetenskaplike geleerdheidsgeloof nie, maar met ’n geloof-uit-en-in-en-van-die-lewe. Psalm 139 is ’n baie persoonlike getuienis van hoe één mens sy klein aardse tydjie interpreteer binne die groter ewigheidstyd. Hy sien sy klein lewe as iets wat hy bestuur binne ’n groter bestuur. Sy plannetjies funksioneer binne ’n groter plan. Alles wat met hom gebeur verstaan hy binne ’n groter Goddelike geheel.
Hierdie geloof word nie in ’n klaskamer gebore nie, maar in ’n binnekamer waar ’n mens oop is vir ’n verbasende ontmoeting met God en die goddelike. Dit gebeur eenvoudig onverwags en onbepland, en na die tyd is al wat jy weet, dat dit gebeur het. Só werk geloof. En dan vertel jy nie meer vir mense wie God is nie, maar vertel jy vir mense wie God vir jou is! Ek hoop jy is oop om mettertyd jou eie Psalm 139 te skryf.
Amen
Gedagte vir die dag | Woensdag 12 Oktober 2022
Singend saam Psalm 103
1 “Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof. 2 Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie. 20 Loof die Here, magtige engele wat sy opdragte uitvoer, sy bevele gehoorsaam. 21 Loof die Here, alle hemelwesens wat Hom dien en sy wil doen! 22 Almal wat deur Hom geskep is, loof die Here op al die plekke waar Hy heers! Ek wil die Here loof!”
Psalm 103 help ‘n mens om te verstaan hoekom mense, wanneer hulle bid, ‘n sekere liggaamshouding inneem. Om jou knieë te buig, jou nek te buig, jou kop te laat sak, jou oë te maak en jou handpalms teen mekaar te sit hoef nie ‘n leë gebaar te wees nie.
Dit is nie ‘n valse vooraf beslote liggaamsgebaar nie, maar dit is ‘n liggaamsgebaar wat diep van binne-af gebore word. Dit is jou “hart” wat jou knieë laat buig, dit is jou “hart” wat jou nek laat buig en jou kop laat sak, dit is jou “hart” wat jou oë laat toegaan en dit is jou “hart” wat jou handpalms teen mekaar laat rus.
En dan buig my knieë, my nek buig, my kop sak, my oë gaan toe, my handpalms rus teen mekaar en so sit ek vir lang minute aaneen …. In stilte, in verwondering, sprakeloos, stil … uiteindelik is ek in gebed!
Amen
Gedagte vir die dag | Dinsdag 11 Oktober 2022
Jesaja 55:3. “Gee aandag en kom na My toe, luister, en julle sal lewe.” (Jesaja 55:3)
Ek dink dis baie maklik om so vasgevang te raak, so oorweldig te word deur ons angste en bekommernisse dat ons perspektief verloor vir die groter prentjie van ons lewens. En dit is dat ons lewens in God se hande is en dat daar ‘n plan vir elkeen van ons is. Dat God deur die eeue heen steeds die geskiedenis beheer en in sy hande hou ten spyte van ons insette.
Dit is in die terugkyk op ons lewens dat ons ontdek dat die Here nie van ons vergeet het nie, en dat God mooi en goeie dinge, nuwe dinge in ons lewe laat gebeur. Die profeet se woorde is ‘n uitnodiging om soms tyd te neem, op te kyk en te ontdek dat God nogsteeds ons geskiedenis lei en bepaal. Ons word elke dag uitgenooi om nie op die kantlyn van ons lewens te staan nie, maar die geskenk van lewe te omarm .
Gedagte vir die dag | Maandag 10 Oktober 2022
Psalm 103
Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie,
11want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien.
12So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.
13Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.
14Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is.
15Die mens, sy lewensduur is soos dié van gras, soos dié van ‘n veldblom wat oopgaan:
16as die woestynwind daaroor waai, is dit weg en sy plek vir altyd leeg.
17Maar onverganklik is die liefde van die Here vir dié wat Hom dien,
sy trou vir opeenvolgende geslagte,
18vir dié wat getrou bly aan sy verbonden sy voorskrifte nakom.
Ek lees graag ’n ou Belgiese gebed: Dankie, goeie Vader, vir doodgewone dinge, iemand se onverwagse glimlag, ’n ander se verrassende hulp, ’n woord wat ek lees en wat my lewe verlig, mense se vergifnis vir my simpele foute.
Dankie, Vader vir u nog groter vergifnis in Christus teenoor my dwase dade. U roep my om radikaal anders te wees as die wêreld. Dankie dat U ook die krag voorsien om dit te doen. Hiervoor en vir baie, baie meer dank ek U ten diepste.
Amen
Gedagte vir die dag | Sondag 9 Oktober 2022
Psalm 16
Neem my in beskerming, o God;
ek soek skuiling by U.
2Ek het vir die Here gesê:
“Ek behoort aan U,
daar is vir my niks goeds nie behalwe by U.
3Die afgode in die land, so aantreklik vir baie –
met hulle wil ek niks te doen hê nie.
4Mag elkeen wat ‘n ander god vereer, baie smart beleef.
Vir afgode sal ek nie bloedoffers uitgiet nie,
hulle name sal ek nie op my lippe neem nie.”
5Here, U is my lewe, U sorg vir my.
Wat ek ontvang, kom alles van U af.
6‘n Pragtige deel is vir my afgemeet,
ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.
7Ek sal die Here loof wat my tot die regte insig gebring het;
selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer.
8Ek het die Here altyd by my:
omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie.
9Daarom is ek bly en juig ek
en voel ek my veilig.
10U gee my nie oor aan die dood nie.
U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie.
11U leer my hoe om te lewe.
By U is daar oorvloedige blydskap.
Uit u hand kom net wat mooi is.
Gee my, o Heer ’n stil hart
Sodat ek op U kan fokus,
‘n ruim hart sodat ek vir ander mag sorg,
‘n toegewyde hart sodat ek altyd naby U mag leef,
‘n sagte hart sodat ek U en ander mag liefhe.
Dankie, Here, al kan ek U nooit ten volle ken nie,
Kan ek vir seker weet:
Ek is U s’n.
Amen.
Gedagte vir die dag | Saterdag 8 Oktober 2022
Ek lees graag vandag uit Filippense 1:9-11. “Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, 10sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, 11en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.”
Reinhold Niebuhr het ’n gebed oor hierdie teksgedeelte geskryf wat ek graag vir julle wil lees:
Here, ons God in wie daar geen duisternis is nie,
Ons dank U dat, al is ons weg dikwels donker,
U ons altyd genoeg lig gee om ons weg te vind.
Soos die son elke oggend
Die skadu’s van die nag verdryf,
So verjaag u eindelose genade altyd weer die donker van ons sonde –
Sodat ons sin in die lewe kan raaksien.
U weet hoe maklik ons drange en impulse
Vir ons ’n strik word.
Here, gee ons die selfbeheer om nie onnadenkend daaraan toe te gee nie,
Maar eerder te wandel op die weg
Wat U wysheid vir ons aanwys.
Skenk ons helderheid van insig,
Wanneer die goeie en die bose feitlik onherkenbaar ineengestrengel is,
En wanneer ons sukkel om te onderskei
Tussen ons eie begeertes en voorkeure,
En wat werklik u wil is.
Here help ons om vandag , en elke dag in u lig te lewe.
Amen